Mar 17, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die tradisie leef voort, met ‘n nuwe dinamiek en ‘n nuwe dimensie. Ek en Tokkie plus kollega Herman le Roux en Rina was op 15 Maart 1998 saam in Tarlehoet se swembad om die Van Deventers se aanknoop van ‘n verbintenis met Sabiepark te vier. Op 15 Maart 2008 het ons in die swembad by wyse van spreke die eerste tien kersies doodgeblaas.
Woensdag 15 Maart 2023 was ons weer vrolik saam in die water om die kwarteeufees te vier – wel nie 25 minute lank nie, maar die eerste keer met twee knap fotograwe aan wal in die persone van Frans en Michelle Marais om die historiese ritueel uit elke hoek te dokumenteer.
‘n Nuwe dimensie is bygevoeg wat genoem kan word: wys my joune, dan wys ek jou myne. Herman en Tokkie was nie min breëbors nie oor hul onderskeie hartpasaangeërs by hul linkersleutelbene, Terloop in die swembd versamel ws 88, 82, 82 en 77 jaar se wysheid. Dis nou gravitas in die water.
Om in die bos te verjaar, is in sekere opsigte uitdagend. Hoeveel kere moes Tokkie en haar vriendinne nie al op 15 Maart tande kners weens kommunikasie-kwessies met gelukwensings nie. Woensdag was maar weer dieselle ou storie met seine wat lol en dies meer. Ruime kompensasie bly egter nie uit nie.
Vonkelwyn en southappies laatmiddag onder die tamaaie oewerbome op die uitgestrekte grasperke van die piekniekplek is nie te versmaai nie, veral nie as die bos so verruklik ruig is soos nou.
Teenwoordig om Tokkie met haar 77ste – die sogenaamde twee krukkies (“crutches”in bingotaal) – geluk te wens en boonop ‘n glasie te klink op ons 25 jaar in Sabiepark, was Herman en Rina van Centurion, hul kinders Frans en Michelle Marais (ook Centurion) en jarelange Sabieparkvriende, Frik en Martie Nel van Jakkalsbessie 127 wat feitlik net so lank soos ons Sabieparkers is. Saam met Frik en Martie is ook al vele verjaardae gevier.
Die Le Roux-besoek was nie net speletjies nie. Volgens afspraak het Herman sy ses bultende plakboeke oor ons koerant se laaste sewe dekades as gedrukte koerant saamgebring: ‘n goudmyn van inligting oor Die Volksblad / Volksblad en sy mense, met kosbare kykies, ook agter die skerms. Niks wat elders op skrif is, weerspieël met naastenby vergelykbare omvang of impak die vreugdes, hartseer, triomfe en nederlae van die Volksblad-gemeenskap soos Herman se bundels nie.
Wie’s dood? Wie het uitgestyg? Wie se kinders het presteer? Wie het vreemde dinge oorgekom? Dit is alles daar, onthullend en meesleurend, netjies verpak, ryklik met ‘n duisternis foto’s geïllustreer en in my kollega se beroemde lysies saamgevat: ‘n lys van outeurs, ‘n lys van seniors volgens ouderdomme gerangskik, ‘n lys van wie wat geword het en wat nog.
Daar is ook van sy eie geskrifte waarvan een van die pakkendste vir my sy huldeblyk aan sy oud-buurman die kleurryke Jan Scholtz is. Jy kan sommer aanvoel: hy ken die man. Oor kommentaartjies soos oor my redakteurskap wei ek nie uit nie. Kan maar net meld dat die deurblaai, die kyk en die pik-pik lees van Herman se boeke ‘n opperste Volksbladmens soos ek ‘n weldadige goedvoel-ervaring soos min besorg het.
Wie die boeke gaan erf, is nog onduidelik. Dalk Naln waar die Volksbladkamer pas geopen is? Dalk die ou Ineg? Dalk Johannes Froneman se Mediamense-museum? Wie ook al, bekom ‘n sieraad.
Ook uit Herman se kennis van gevleueldes kon ek weer eens put. Jare lank was ek oortuig ek hoor die swartkop-wielewaal roep. Dan was dit die rooikop-houtkapper. Wat jy hoor, is inderdaad dikwels ‘n duet van twee van di houtkapper-spesie wat mekaar oor ‘n afstand groet. Die vernuftige Kenneth Newman beskryf die geroep soos volg: “Dit begin met ‘n gedempte woerklank ‘skrrr, skrrr, skrrr’, Dan volg die ‘toe-poedelie, toe-poedelie, toe-poedelie’ wat sowat agt keer herhaal word. “ Rooikop-houtkapper natuurlik!
Net jammer die bloukuifloerie het nie gekom nie. Dalk volgende keer?
(Die flukse Frans en Michelle het ons ou mense wonderlik bederf. Vuur maak, braai, drankies aandra, koffie maak, skottelgoed was, foto’s neem – niks was vir die twee te veel om ons klein “reünie”vir ons vier oues gedenkwaardig te maak nie.
Feb 27, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

25 jaar afgetree, 25 jaar op Melkbos, 25 jaar in Sabiepark. Die eerste twee bakens is reeds bereik en paslik gevier. Op 15 Maart kom baken drie. Ons vertrek reeds op 6 Maart Mpumalanga toe om dinge te gaan regkry vir ‘n feestelikheid waarvan ek later meer gaan verklap.
In 2011 het ek ‘n boek geskryf: Duisend dae langs die Sabie. In 2023 sou dit seker al Tweeduisend Dae langs die Sabie wees. Waarskynlik meer. Dit is dae wat ek in welbehae in herinnering roep. Hoe lief het ek en Tokkie nie die plek nie!
Hoekom dan? Omdat mens en natuur kwalik intiemer skouer kan skuur as hier in ons bostoevlug aan die Sabie op die drumpel van die Krugerwildtuin – waar diere onbelemmerd tussen woonhuise rondloop en ‘n luiperd op jou stoep selfs nie vergesog is nie. Hier is die mense so vry soos die diere. Ons stap houtgerus (nie altyd só houtgerus nie!) in die strate met hul inheemse boomname. Saans sit ons om ons kampvuurtjies as’t ware in die oop veld.
Sabiepark se wildrykdom behels rofweg 17 groot soogdierspeseis, 25 kleiner spesies, sowat 320 soorte voëls en 34 soorte reptiele. Die mense-element bestaan uit 388 eienaars plus hul mede-eienaars en naastes. Die personeel-komplement is 45. Eienaars kom en gaan vir korter of langer vakansies en naweke. Wanneer die park regtig vol is, sit sowat 500 siele saans om hul vuurtjies.
Die private piekniekplek (net vir eienaars en hul gaste saam met hulle) is die hart van die park. Dit spog met ‘n onbelemmerde 180-grade-uitsig vir kilometers lank op wildtuingebied aan die S3-rivierpad. ‘n Mens kan maklik leeu, olifant en buffel een dag sien; luiperd en renoster die volgende. Al die “Vyf Grotes” – meesal darem op die oorkantste oewer. Soms van naderby aan die “verkeerde kant”, veral nuuskierige olifante. Van so ‘n saamwonery kom “insidente” – van konfrontasie tot koestering.
As ek die herinneringe van 25 jaar begin opstapel, is dit veels te veel vir een skrywe. Daar is die nagapies wat elke aand kom pret maak op die stoep, Witnek die duiker met wie ons lank in ‘n verhouding was, die olifante wat in troppe teen die grensdraad opduik, die hiënas in ons watergat, kameelperde by die swembad, sebras, vlakvarke, likkewane, stoute bobbejane … die lys is lank.
In die volgende dae gaan ek allerlei herinneringe deel. Maar kom ek begin met die luiperds. Op hierdie sierlike roofdiere drink ek graag vandag ‘n heildronk van Wild Africalikeur vir al die vreugdes van onverwagte ontmoetings wat ons al in Sabiepark met hulle had.
Van een hang ‘n groot foto agter dowwe glas prominent op ons stoep. Dis nie een van my eie foto’s nie. Wel ‘n foto deur ‘n mede-Sabieparker, Caroline Pols-Dijkstra van Heerhugowaarden in Nederland, geneem op 19 Maart 2015 terwyl ons 2 000 km ver op Melkbos sit. ‘n Foto soos geen ander in my albums nie: ons eie luiperd op ons eie stoep!
Caroline en haar man, wyle Gert, het soos die gebruik by vriende is, gaan kyk of alles pluis is by die Van Deventers se huis. Net toe sy by hul voertuig wil uitklim, sien hy die stertjie by die voordeur piets. Die volgende oomblik kom die luiperd orent. Sy staan voor die Polse in haar volle glorie, netjies geraam tussen die ingeboude braai en ‘n hoekpilaar van die grasdak.
“Ek is bewend van opgewondenheid, stomgeslaan, oorstelp – en dêm dankbaar dat jy op die regte oomblik op die regte plek was met ‘n stewige vinger op die sluiter,” het ek in antwoord op haar foto’s vir Caroline ge-e-pos. Vandag dink ek steeds dis dalk die Sabiepark-moment wat ten beste ons 25 jaar se verbintenis defniëer. Ek plaas dit graag weer.
Feb 14, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Afskeid van Wiets Beukes, maar ook afskeid aan sulke afskeide.
Soos ‘n mens ouer word, word onder al hoe meer aktiwiteite ‘n streep getrek. Óf jy trek dit self óf dit word vir jou getrek. So is dit nou een maal.
Omdat ek van mense hou en lief is om goeie eienskappe in ander raak te sien en uit te lig, was ‘n aktiwiteit wat tot my oudag vir my ‘n vreugde gebly het, om huldeblyke te lewer by die laaste groet van mense na aan my.
Tien dae gelede was dit my voorreg om by die huldigingsdiens van ‘n dierbare kollega en vriend, Wiets Beukes, oud-redakteur van Die Burger, oor hom te praat. Eers daarna het die besef deurgedring dat die tyd om nog ‘n streep te trek, vir my aangebreek het. Op 82 raak die staan ‘n probleem. Gelukkig kan my vingers darem nog tik.
Wiets was die eerste Volksblad-mens wat ek teengekom het toe ek in 1958 in Bloemfontein aankom vir my eerste vakansiewerk as beurshouer. Om 65 jaar later so van die mentor afskeid te kon neem, en ook van ‘n taak wat vir my nog altyd vervullend was, was ‘n voorreg.
By die trek van die streep het ek ‘n lysie gemaak van mense oor wie ek by hul dood in die geleentheid gestel is en bevooreg was om herinneringe te deel.
Dit sluit in naaste familie soos my ma, Baby, wat haar man, Seun, verloor het toe sy 26 en ek vyf jaar oud was. Sy wou nooit motor bestuur nie. Ons blou Hillman Minxie, ‘n 1942-model, is dadelik verkoop, en van my vroegste herinneringe van haar is op haar fiets Kimberley se sentrale toe waar sy danksy haar bekwaamheid gou ‘n “soeperwaaiser” geword het.

Pa Seun is dood. Klein Hennie en ma Baby wat in die sentrale moes gaan werk.
Ook joviale Pa Malan wat op 10 in my lewe gekom het en by wie se dood ek soos oor my eie trane gestort het, en my lewensblye swaer Fanie van Wyk, Tokkie se ouer broer, op sy dag SA kampioen in die 440 vir onder 19’s. Op Harrismith waar hy skoolhoof was, was Fanie baie geliefd. Trouens, waar was hy nie?
Ander kollegas, buiten Wiets, was nog twee Vrystaters, Piet Gouws wat van Verkeerdevlei gekom het en die “klein generaaltjie” Nancy Oosthuysen van Hoopstad: twee kranige Volksbladders. Piet – die liewe ou Piet – het ook by Beeld diep spore getrap.
Studentemaats was IB Badenhorst en Nic Boje, ‘n ware jintelman en puik losskakel met ‘n giftige skopskoen wat vir Noord-Transvaal en die Vrystaat ‘n wedstrydwenner was. IB se dood in ‘n motorongeluk was in my jaar as voorsitter van Kollegetehuis. Sy begrafnis was my vuurdoop.
Bure was Toy Vermeulen, benoemde LV en verbete ABO-versamelaar, wat in Bloemfontein in ‘n droogte vir my sy boorgat “geleen” het (danksy ‘n tuinslang oor die straat in die nagtelike ure) en Stokkies Stockenstrom van Welgemoed wat my bas moes red toe ek een oggend vroeg op ‘n vliegtuig Bloemfontein toe klim met my besproeiing volstoom aan – en dit in ‘n tyd van waterbeperkings.
Toy was een van twee politici op die lys. Die ander was dr. WD Kotze, LV vir Odendaalsrus en later ambassadeur in Bophuthatswana. Hy was ook die skrywer van ‘n rits boeke oor die Kalahari, onder andere Kalaharikind. Ná aftrede het hy ‘n bekende in Seepunt geword waar hy op die promenade gratis Bybels uitgedeel het.
Een van die vroue aan wie ek hulde kon betuig, was mev. Dalene Mouton, eggenote van prof. Wynand Mouton, wat rektor van die Vrystaatse Universiteit en voorsitter van die SAUK-raad was. Watter Afrikaner-adel was die twee nie. Met die dood van prof. Mouton enkele maande later was ek ongelukkig in Sabiepark. Anders sou hulle die eerste egpaar op my lysie gewees het.
‘n Egpaar het wel later gevolg: Hennie Jonker, afgetrede mynbestuurder, en sy vrou, Magriet. Ons paaie het op Melkbos gekruis. Hennie was die eerste voorsitter van die Probusklub – ‘n kameraadskaplike sosiale klub vir afgetredenes – waarvan ek nou al meer as 20 jaar lid is. Magriet was ‘n gasvrou soos min.
Ander Probuslede by wie se afskeid ek die rede kon voer, was die wellewende Sakkie Bruwer, op sy dag braaikoning van Melkbos en rugbyliefhebber soos ek nie voorheen raakgeloop het nie, en Johan Rossouw, veteraan-veiligheidspolisieman in verskeie ambassades, ‘n man so solied soos ’n klipmuur.
‘n Tweede eggenote van ‘n Probuslid, naas Magriet Jonker, was Esbé Krynauw, vrou van Danie en oud-skoolhoof. Hulle was lank burgemeesterspaar van Milnerton voordat hulle op Melkbos kom aftree het. Sy was oor taal so gesteld soos ekself.
‘n Melkbosser van faam was Jan Dreyer, broer van my eerste baas by Die Volksblad, Hugo Dreyer, en lid van die Dreyerdinastie waarvan jy oral in onder meer straatname spore op Melkbos aantref. Hy het op 90 nog tennis gespeel – het ‘n raket verkies bo ‘n kierie.
Vir ds. Ockie Raubenheimer, ‘n sieraad van ‘n mens, het ek in die kerk op Melkbos leer ken. Hy was elke Sondag op sy pos, al het hy in Parklands gewoon. Hy was veral bekend en geliefd as oud-leraar van die Londense gemeente van die NG kerk. By sy troosdiens – en ook in ‘n huldigingsartikel in Rapport – het ek hom die eretitel van Afrikaanse Paulus gegee op grond van sy baanbrekersreise in dosyne lande om die Woord te verkondig.
Al hierdie mense het tot my lewe waarde toegevoeg. Ek is dankbaar en eer hul almal se nalatenskap. Dit kry ek graag van die hart.
Feb 7, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
My wrewel oor die onbekookte borgskap-projek van SA Toerisme stort ek vanoggend in ‘n brief in Die Burger en Volksblad uit. Ek skryf:
Veronderstel vir een vlietende oomblik Temba Khumalo van SA Toerisme se beoogde borgskap van Tottenham Hotspur is nie ‘n lugkasteel nie.
Alles werk aanvanklik uit. Suid-Afrika se naam beland op die lippe van sokkerliefhebbers wêreldwyd. Die poorte gaan oop en oorsese toeriste stroom in hul derduisende na die nuut ontdekte mekka.
Nou kom hulle hier. Hulle kan hul oë nie glo oor al die verval wat hulle in die mooi land waarneem nie: strande gesluit weens die gereelde storting van rou riool, berge ontsierende rommel oral, besige paaie gepokmerk met gevaarlike slaggate, waterkrisisse, ens.
Hulle maak kennis met beurtkrag. Hul voorland: verkeersopdammings by af verkeersligte , donker restaurante met toe deure, allerlei bedrywighede wat op die mees ongeleë tye tot stilstand knars.
Hulle kyk rond vir openbare vervoer. Al wat op hul pad kom, is wisselvallige busdienste en oorlaaide taxi’s wat met fluitende bande verbysnel.
Van die nuwe generasie toeriste word slagoffers van die tierende geweld. Huurmotors word helderoordag in stedelike gebiede gekaap. Gastehuise word snags aangeval. By die Numbihek van die Krugerwildtuin word ongelukkiges voorgekeer en beroof. Koeëls fluit om party se koppe. Die ongelukkigstes word gewond, of erger.
Ontnugterdes se stories kom in oorsese koerante of word van mond tot mond oorgedra. Die boodskap gaan uit: Pas op vir Suid-Afrika – daar gaan dit woes.
SA toerisme sit met ‘n hand vol vere. Die borgskap verkry berugtheid as ‘n peperduur misoes. Meer nog: die mislukking word die teen-produktiefste reklameveldtog wat nog aangepak is.
Kom laat ons lang trane huil oor sulke roekelose drome.
Feb 5, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Jaco Marais van Die Burger se foto toe ek Wiets vir oulaas groet. Vir my is dit ‘n treffende foto. Dankie, Jaco.
Dat sy alma mater, die Vrystaatse Universiteit, hom nie raakgesien het vir ‘n eredoktorsgraad nie, was ‘n oorsig. So het ek vandag by my kollega en vriend sedert 1958, Wiets Beukes, se huldigingsdiens op Franskraal betoog. Wiets, oud-redakteur van Die Burger, is op 16 Januarie op 95 oorlede.
Oor die kranige koerantman het ek o.m. ook die volgende van die hart gekry:
Vir ‘n groot gros waarderende kollegas in Bloemfontein en Kaapstad was hy ‘n waardige rolmodel; ‘n klassieke voorbeeld van die volledige joernalis wat as verslaggewer, redigeerder, nuushanteerder en kommentator uitgeblink het. Sy joernalistieke waardes en sy swaargewig-bydraes tot die koerantwese was vir ons jongeres altyd bewonderenswaardig; ‘n ideaal om na te strewe.
Wiets was ryklik geseën met die eienskappe en talente wat die uitblinker-joernalis onderskei: hy was skrander, skerpsinnig en skeppend; hy kon kalm bly onder die kwaaiste druk, en sy oordeel was oorwoë en kerngesond. Hy was nie een wat blindelings met sy horings in ‘n braambos ingestorm het nie, maar het hom deur nugter besinning laat lei.
As jong verslaggewer het hy keurberigte geskep; nooit oordrewe woordryk nie, maar treffend en beeldryk. Sy beskrywings van derduisende Basoeto’s wat in kleurryke komberse uit die berge peul vir ’n volksfees of Londense pendelaars wat by ‘n brandende moltreinstasie deur die roltrappe as’t ware in die vlamme uitgespoeg word, was soos prentjies.
Geregtigheid was ‘n rigsnoer in sy hoofartikels by Die Burger en Dawierubrieke uit sy pen. Dat sy skrywes ‘n betekenisvolle bydrae gelewer het in die soeke na ‘n politieke bedeling is onbetwisbaar.
In ‘n omgewing waar konflik gedy, het die flegmatiese Wiets konflik merkwaardig vermy. Sy menseverhoudinge was hoflik, warm en wellewend. Kollegas koester hul herinneringe aan die beskeie plat-op-die-aarde senior kollega wat ook saam jolig kon raak. By almal was hy gerespekteer. By almal was hy ook geliefd: die ”liewe Wiets”. Met vroue was hy die ware jintelman, altyd hiper-galant. Hy was lief om blomme te gee. Sommige gades van Persmanne wens dalk soms hul van was liewer Beukes.
Om vandag hier op sy geliefde Franskraal te kon staan en Wiets Daniel Beukes vir laas te groet, was ‘n eer en voorreg wat ‘n ou man se hart met dankbaarheid vervul en ‘n vogtigheid in die oë bring.