Jun 12, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Deel van Volkies se atliekspan. HvD is links in die vierde ry.
Nes Comradeskampioene Tete Dijana en “Goue Gerda “Steyn het ‘n jong Hennie van Deventer ‘n rekord “verpletter” – oor ‘n effense korter afstand.
Anders as hulle is hy nie met blomme bestrooi, deur Jan Rap en sy maat om die hals geval en boonop met ‘n hoop geld beloon nie. Die kordaatstuk was ook nie voorbladnuus nie.
Inteendeel, die stomme Hennie se brose kindergemoed moes die pyn verwerk dat sy rekord – sy enigste, enigste ooilam-rekord ooit top die atletiekbaan – wreed verbeurd verklaar is. ‘n Bruuske aakondiging is oor luidsprekers uitgedawer en die wedloop moes oorgehardloop word.
Dit het in 1957 gebeur, 66 jaar gelede by die skolesport op Volkies, Potchefstroom: ‘n tianiese stryd tussen die Atheners, Spartane en Trojane.
Hierdie trotse Athener met die geel strikkie op die bors wen toe die 150 tree onder sestien. ‘n Rekord word aangekondig. Almal juig. Daarna paradeer hy oral op die baan sodat geen meisie tog die breker moet miskyk nie.
Toe kom die ontnugtering. Ons het te kort gehardloop. Die aflosstrepe het die afsitter, Oom Stoney, verwar. Verpletterende nuus! Ek wen die regte 150 tree darem weer. (Die vinnige Fido Barnard het nie deelgeneem nie.) Die tyd is egter ver van ‘n rekord.
By nabaat, mymer ek vandag oor die regverdigheid van die ou lewe. As Tete en Gerda se rekords erken word, hoekom is Hennie s’n dan misken? Is daardie terugslag nie dalk sogenaamde “kinderbagasie” wat ek al my lewe lank met my moes saamdra nie?.
Moet ek dalk appelleer? Of moet ek op die rype ouderdom van 82 maar vrede daarmee maak dat dit is hoe die koekie vir my gekrummel het? Ek skat laasgenoemde.
Jun 11, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Volledige lysie van my boeke met ‘n koerantetema in chronologiese volgorde:
Scoops en skandes (Tafelberg, 1993)
Flaters en kraters (Tafelberg, 1996)
Kroniek van ‘n koerantman (Tarlehoet, 1998)
In kamera (Protea Boekhuis, 2003)
Byl in my bos (Griffel Media, 2009)
Laatoes –kykweer van ‘n kanniedood-koerantman (Naledi,2017)
Koerant (De Novo, 2021)
Koerantkamerade (Naledi, 2021_
Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord (Naledi, 2023)
‘n Hoofstuk uit my pen, Die nuusredakteur – spil waarom alles draai, is opgeneem in Joernnalistiek vandag van AS de Beer (Tafelberg, 1982).
Vir Elke Dag ‘n mooi nooi en ‘n moord, Koerantkamerade en Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman besoek naledi.co.za of kontak Tertia Swart (078 648 8616 of tertia@naledi.co.za._ In Kamera is/was by Protea beskikbaar. Scoops en skandes
Flaters en kraters en Byl in my bos is uit druk. Kroniek van ‘n koerantman en Koerant is as e-boeke by De Novoboeke beskikbaar.
Jun 10, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Wit duif styg sierlik op. Op die oog af ‘n treffende nommerpas-voorbladfoto vir ‘n historiese dag: die inhuldiging van Nelson Rohlihahla Mandela as Suid-Afrika se eerste swart president. Iets skort egter met die foto op ie Burger se voorblad.
Drie raaiskote. As jy raai, dit het met Mandela te doen, is jy koud. As jy raai, die fout lê by die duif, raak jy lou. Raai jy dit het te make met die posisie van die duif. Is jy warm op die spoor. Op die oorspronklike foto – ‘n scoop vir Burger-fotograaf Henk Blom – was die duif naamlik al ‘n entjie verder weg.
Die hoofsubredakteur besluit toe om die foto te “dokter”. Wat maak ‘n meter tog saak, het sy geredeneer. Maar sy het haar misgis. Oor daardie meter het ‘n joernalistieke storm losgebars wat internasionaal weerklank gevind het.
In “Elke dag ‘n mooi nooi en n moord”’is ‘n afdeling oor fotograwe en fotografie. Die titel is In Fokus. Ook die storie van die duiwemoles – een van twee waarin ’n Suid-Afrikaanse staatshoof betrokke was – word vertel.
Die boek is by boekwinkels wat hul sout werd is. ‘n Maklike manier om hom te koop: besoek eenvoudig net die uitgewery Naledi se webblad by naledi.co.za en druk ‘n knoppie of twee. Andersins: bel Tertia Swart by 078 648 8616 of stuur ‘n e-pos na tertia@naledi.co.za. Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260 by jou voordeur afgelewer.
*********
litnet publiseer elke week ‘n digitale Nuusbrief. ‘n Verduideliking is seker onnodig hoekom Nuusbrief 953 van 9 Junie 2023 hierdie ou se gunsteling-litnet-Nuusbrief van alle tye is.
Jun 5, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Van 5 Maart tot 15 April was ek en Tokkie vyf weke lank by ons Sabieparkse bosplek, Tarlehoet, om ons heuglike verbintenis van 25 jaar saam met van ons bosvriende met vonkelwyn en braaivleis te deel.
Hiermee nou ‘n uitnoding aan een en almal: Kom vier saam fees! Ons bied GRATIS en VERNIET ‘n klein feesbundeltjie aan wat in woord en beeld die plesierigheid – wat Tokkie se 77ste in die swembad en langs die Sabierivier insluit – laat herleef.
Klik dan op die afbeelding van die boek se voorblad om die boek gratis aanlyn te lees. Op die taakbalk van die digitale weergawe is ‘n simbooltjie waarmee die pdf-weergawe van die boekie afgelaai en gestoor kan word.
‘
n Vreugde vir die Van Deventers sal wees as almal onder die son wat hierdie uitnodiging lees, die geskenkie / presentjie/ kado’tjie/ sal aanvaar en De Novo se drumpel sal deurtrap. Welkom aan julle almal by Tarlehoet!
De Novo noem dit ‘n onverwagse welkome geskenkie so in die middel van die jaar en ‘n “prettige” boekie. Hoop die vertoon van “prettigheid” deur gryses wat hul bejaarde lywe jonk hou, vind allerwee byval. Laat weet maar as die “dagboek van ‘n bosfees” sommer tydmors is.
Jun 5, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

In die Bosoorlog in die 80’s is mediamense gereeld grens toe gebring met die verhewe doel om hulle “eerstehands van die terrein, die gevegstoestande en heersende weermagdenke te vergewis”. Die herinneringe aan ligte oomblikke op sulke uitstappies is dalk talryker as die militêre insigte wat verkry is.
My eerste grensdas het ek verwerf in 1980, met gasheer genl. Marthinus du Plessis, bevelvoerder van die Kommandement OVS. Van hom lees ek vandag op bladsy drie van Die Burger dat hy Vrydag sy 91ste verjaardag in Bloemfontein gevier het. Die rateltaaie Doep – ”vergeet van die general, man” – het sy tentmaats nogal gewoel, onthou ek. Ons ander, o.a. akademici, stadsraadslede en die nuwe redakteur, almal “softies”, was saans pê as die menasie slapenstyd sluit met ‘n laaste loopdoppie nog in die hand.
Om die trapleer verby 90 te bestyg, is nie kinderspeletjies, kan ek op 82 getuig. Ek salueer die merkwaardige militaris – ook stigter van die Vrouekollege op George en energieke bevelvoerder van 1 Valskermbataljon in Bloem – graag uit Melkbos op die bereiking van die mooi ouderdom. Op die foto hurk hy voor. Langs hom is Colin Hickling, latere burgemeester. Ek staan regs agter hulle met die streephemp.
Ons avontuur is, soos al die ander, afgeskop met die “voorreg” om met die “Flossie” – ‘n enorme Hercules C-130BZ – van die lugmagbasis Waterkloof, by Pretoria, na Ondangwa karwei te word. Alle manlike passasiers – ongeag postitel – moes maar, as dit hoog bokant Afrika daarop aankom, teen wil en dank die dou van die lelie skud in daardie vreemde pypgedoente wat ingewydes lillies of the fields noem; ’n ontwerp wat volgens sanger en akteur Lochner de Kock die “oupa is van alle vuvuselas … net stiller.” Doep het gedemonstreer hoe maklik dit is om te korrel.
(Vir vroue – ‘n skaarser spesie op sulke uitstappies – is lyksakke verskaf vir privaatheid. Dit kon nie kamoefleer wat binne aan die gebeur is nie.)
In “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n Joernaal van scoops en skandes” (Naledi, 2023) vertel ek stories oor sulke grensbesoeke, onder meer van Beeld-kollega Twakkies Laubscher, al lank saliger, se nagtelike ekskursie om ’n skeppie Zambeziwater by sy Skotse watertjies te voeg.
’n Keer was Jane Raphaely van Fair Lady saam – die enigste vrou in die geselskap. Die vraag het ontstaan: by wie sou sy in ’n tent intrek? Sy het Ebbe Dommisse van Die Burger en Fritz Joubert van Sarie gekies. Vir haar het die twee kollegas seker die ordentlikste van die klomp gelyk; hopelik was dit ’n goeie keuse.
PG du Plessis, dramaturg, skrywer, storieverteller, redakteur van Hoofstad en televisiepersoonlikheid van formaat, was by geleentheid ‘n tentmaat. Hy was ‘n voorbok by die vuur. As laataand onder die Afrikasterre om ‘n vuurtjie in afgesonderde boskampe soos Omega met ‘n glasie of twee “hooligan juice” ter hand diep stories gesels is, was die naweekboer van die plaas Semoer in die distrik Rysmierbult in die ou Wes-Transvaal van die liefste om nog ‘n stomp kameeldoring op te gooi en van die traagste om hom van die gemoedelikheid los te skeur. (“Hooligan juice” is ‘n mengeldrankie bestaande uit roomys, melk, rum en coco-ricolikeur. Heerlik.)
Ek vertel ook hoekom ek agter my naam kan skryf OFD, die Orde van Fort Doppies. Maar dis nou vir jou ‘n ander storie.
* “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” kan sonder ekstra koste by jou voordeur afgelaai laat word deur op naledi.co.za te klik of Tertia Swart by 078 648 8616 / tertia@naledi.co.za te nader.