DUINE, DEININGS, FLAMINKE EN SOUT SAAM MET MATTEUS

Elke mense het sy eie voorkeure. Daarom ‘n rits ekskuries by elke bestemming op ‘n toer.
Vir my beteken Walvisbaai die Namib. Vir die dag wanneer jou boot in die hawe is, soek ek duine, duine, duine. Van die kuspad tussen Walvisbaai en Swakopmund kan ek kwalik genoeg kry: met die stuk merkwaardige teerpad wat as’t ware die oseaan op sy plek hou en die woestyn op syne. Lekker om te kameelsafari’s te sien en die profiele van vierwielfietsers bo die duine te sien uitsteek. Die klomp rykmansvakansiehuise by die modern Long Beach brei geweldig uit.
Ook op Swakop verrys paleise aan die strandfront, maar die bekoorlikste bly vir die besoeker die Duitse oudorp met sy Europese argitektuur soos ‘n skermgreep van ‘n verre verlede. Wat jy absoluut nie daar wil doen nie, is om 40 minute in ‘n verkeerde eetplek vir vriende te sit en wag weens verwarring by jou gids en gebrek aan selfoonverbinding weens verskeie redes.
Helaas, dit gebeur toe. Matteus, ons aangename gids met ‘n diep stem en ‘n mooi Afrikaanse uitspraak – hy is die ou saam met my op een foto  – het taamlik oes gevoel. Maar toe verged hy darem hy deur Walvisbaai vir ons te wys soos ons die hawedorp nie voorheen in al sy fasette gesien het nie. Duin Sewe, die kilometerslange vleilande met swerms elegante flaminke en spierwit southope by die myne op pad Sandwich Harbour toe was ’n belewenis.
Ons was net betyds by die MSC Splendida waar ons om 14:30 aan boord moes wees. Ongelukkig was almal nie so voorbeeldig stiptelik nie.
Foto’s: Sommer so ‘n kontrei-verskeidenheidjie.

DIE MONSTER IN (EN UIT) DIE MIS

Om by die einde van die storie te begin, moet ek meedeel dat passasiers op die eerste Kaapse vaart hierdie seisoen van die MSC Splendida (18 – 22 Maart na Walvisbaai) tot vier uur en langer later voet aan wal gesit het as geskeduleer. .
Een komplikasie was ‘n digte misbank wat die Kaap versluier het. Die hawe-owerheid het die hawe drie uur lank gesluit. Mense met voorkeur-pakkette wat gehoop het, hulle sou agtuur kon afklim, moes maar geduldig wag terwyl die groot skip anderkant Robbeneiland voor anker le. Toe die laaste skof kon voortgaan, was dit voetjie vir voetjie. Eers 11-uur was ons by terminaal.
Toe is daar skielik ‘n ander struikelblok. Klaring vir die skip om vas te meer, is normaalweg ‘n roetine-prosedure. Sommer tjoef-tjaf. Maar dit kom nie klaar nie, dit kom nie klaar nie. Later sien ons die swart lykwa langs die skip kom parkeer. Een van die passasiers is aan boord oorlede. ‘n Vrag papierwerk moet afgehandel word voordat die lyk verwyder kan word. Nog ‘n doellose uur verstryk.
Uiteindelik word die kis met groot waardigheid en dekorum uit die romp van die skip gestoot. Intussen daag die nuwe passasiers vir die volgende vaart – ook na Walvisbaai – al in strome op. Die verkeer raak al hoe meer chaoties.
Min dinge in die lewe het egter nie ‘n positiewe kant nie. Was dit nie vir die mis-hindernis nie, sou ek en Tokkie nie op dek 16 op die agterstewe ‘n rustige heenkome gaan soek het nie. Was ons nie op dek 16 nie, ou ek hierdie foto’s nie kon geneerm het nie.
Die hooffoto bied ‘n besonderse blik op Tafelberg en Tafelbaai met die Splendida se stuurboord in die voorgrond.
Foto twee is geneem net toe die mis genoeg lig dat Tafelberg volledig sigbaar raak.
Foto drie is van die monster in die mis: van die agterstewe oor die swembad-area van die MSC Splendida boeg se kant toe.

SKIELIK GONS KUBERRUIM TUSSEN VRIENDE VAN WELEER

As ek myself mag aanhaal; op my webblad (www.hennievandeventer.co.za of .com) het ek ses jaar gelede geskryf: “Die durendheid van studentevriendskappe is een van die vele onverdiende vreugdes wat in my 77 jaar oor my pad gekom…” Die 77 het nou 83 geword maar dit is nie soseer ter sake nie.
Ek wil net vinnig ‘n merkwaardige storie vertel van ‘n paar Kollegemanne wat in 1958 en 1959 in Kollege aangekom het.
Die betrokke 1958-modelle is die uwe (Potchefstroom), Cas Jacobs (Calvinia), Johan Bekker (Phillipolis) en Willem Paulsen (Harrismith).
Die 1959’s is Pierre le Roux (Calvinia) en Proppie Goosen (Kirkwood).
In 2018 was die ses van hulle – nou almal heelwat bo 80 – deel van ‘n Kollegegroep uit daardie era wat in die wildtuinkamp Orpen saamgetrek het saam met Vos Grey (Ermelo, 1958) en Manie Steyn (Krugersdorp, 1960) wat albei reeds oorlede is.
Die kontak tussen ons ses oorlewendes is sedertdien ongereeld en afwisselend.
In die week wat verby is, bel ek my goeie vriend Pierre le Roux (nou van Mosselbaai) om hieroor en daaroor te gesels. Daarna bel ek Cas Jacobs (nou van Centurion), met wie ek ook noue kontak behou, om na sy welstand te verneem. Hy ondergaan chemo-behandeling.
Die volgende oomblik lui my foon. Dit is Johan Bekker (nou van Jacobsdal). Hy is besig om met behulp van sy seun, Hennie, ‘n selfoonprobleem uit te sorteer. In die proses kom hy by my uit – sommer ook ‘n geleentheid om hom oor sy heupvervanging uit te vra.
Nie 12 uur later nie, lui my foon weer uit die Kollegekamp. Dis hierdie keer Willem Paulsen (nou van Bloemfontein). Heel onverwags. Hy wil net weet hoe dit gaan.
Ek kan dit nie glo nie: binne 24 uur het ek onbepland met Pierre, Cas, Johan en Willem gepraat.
Gisteraand lui my foon. Dis Proppie Goosen (nou van George). Werklik uit die bloute. Hy dink aan die goeie ou dae en goeie ou vriende met ‘n traan in die oog.
Is dit ‘n voorbode dat almal skielik aan almal dink, wil ek by Tokkie weet. Dis ‘n lawwe gedagte, meen sy. Maar dat dit ongewoon is, is ongetwyfeld. Niemand sal my van die teendeel oortuig nie.
Maar nou-ja: “Aan het oever van het Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam, zat een verie luid te wenen met een Matie vuur en vlam; zag het verie aan het Matie: Ziet je daar die Kollegeman? Ben de moord’naar van je vader ….”
FOTO: : Orpenspan en hul gades: (Proppie (Lettie), Willem (Joan), Johan (Antoinette), wyle Manie (wewenaar), Cas (Nella), wyle Vos (Magdaleen), HvD (Tokkie) en Pierre (Esther).

OUPA IN DIE LANGPAD

Party mense kan dink dis vervelig. Van my 83 jaar op aarde is ‘n kenmerk egter my lang verbintenisse. Ek en my kerk (amper 70 jaar), ek en my bank ( oor die 60 jaar), ek en vrou (amper 60 jaar ), ek en my rugbyspan (amper 60 jaar), ek en my werkgewer (amper 50 jaar) – ons kom ‘n la-a-a-a-a-ng pad saam. Ook my politieke party sou die lys kon haal – toe gaan hy tot niet.
Gister is nog ‘n verbintenis van 50 jaar verseël. ‘n Afvaardiging van die Afrikanerbond het my sertifikaat kom oorhandig vir ‘n halfeeu se lidmaatskap van die trotse organisasie. So welaangenaam en verrykend soos daardie verbintenis was /steeds is, so welaangenaam was die besoek. My sertifikaat is klaar geraam en vervang die een met die syfer 40 op my “gedenkmuur” in die woonkamer.
Op die foto is van links Nico Burger, sekretaris van die Kaapse gebiedsraad, die uwe met sy sertifikaat, Nico Stofberg, voorsitter van die gebiedsraad en lid van die nasionale raad, en Dirk Rossouw, sekretaris van die Melkbos-afdeling.
Van besonderse betekenis vir my is dat ek en Nico Stofberg – al is hy 10 jaar jonger as ek – in die 60’s in Bloemfontein saam in die tuig was, gebind deur dieselfde lojaliteite, strewes en ideale. Hy was later burgemeester van Pretoria. Hy het mooi geleer daardie tyd!