Apr 11, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Stil, broers, daar vaar ‘n skip verby / sy groet / en dis dalk vir lank …
Dié skip is die Queen Mary 2, vlagskip van die redery Cunard, wat weens die Midde-Oosterse krisis onverwags na Suid-Afrikaanse waters terugkeer. Die QM2 kom op 12 April in Kaapstad aan en vertrek die volgende dag na Southampton.
Aan boord is ‘n groot gros Suid-Afrikaners wat skielik die kans gebied word om met dié weergalose skip kennis te maak. Hulle is waarskynlik die laastes in ‘n lang tyd. Suid-Afrika is nie in 2025 op Cunard se rooster nie en oor herinsluiting by die wêreldvaart van 2026 bestaan onsekerheid. Die nuwe Queen Anne kan in elk geval die roete oorvat.
Vra jy Cunard oor die uitsluiting in 2025 word diplomaties geantwoord dat ander hawens ‘n beurt moet kry. Auckland en Tauranga in Nieu-Seeland word byvoorbeeld aangehaak. ‘n Mens wonder maar stilletjies. Ongelukkig bestaan redes tot verleentheid.
Misdaad kan ‘n belemmerende faktor wees. In Februarie is passasiers op die QM 2 skriftelik gewaarsku om hier ekstra op hul hoede te wees. Selfs die gevaar van burgerlike onrus in Durban is geopper.
Passasiers en bemanning is in daardie stad boonop in ‘n lomp operasie deur die department binnelandse sake van die skip af geboender om hul paspoorte in persoon te laat stempel. Mense het gemor oor die ongerief. Die kaptein moes ekskuus vra.
Oor sekere uitstappies was ook krapperigheid, bv. na straatmarkte tydens beurtkrag, na oninspirerende “townships” en na parke wat vir buitelanders bra doodgewoon is. Lastige vrae het ontstaan oor gesondheidsprotokolle veral nadat die Kaapse besoek gevolg is deur ‘n knaende maagvirus aan boord.
SA toerisme-owerhede sal moet wakker loop en sorg dat sy produk in elke opsig goed genoeg is om ook aan die bopunt van die mark mee te ding.
* ‘n Uittreksel uit my boek, “Na Verre Hawens” (Naledi, 2019) : In lugballonne en helikopters, op seiljagte en bootjies, te voet op die kaai tot doer in die verte – oral drom entoesiastiese toeskouers saam. Op vaartuigies wat avontuurlik naby die ontsaglike middernagblou romp van die groot skip kom, is dit net wuiwende arms en flitsende kameras. “Die Queen is hier! Die Queen is hier!”
Baniere wapper in die wind met die woorde: “Welcome QM2”. Blaasorkeste dawer ’n luide verwelkoming uit. Met aansteeklike bewondering en ontsag: dit is hoe Haar Majesteit telkens hartlik gegroet is op die been tussen Kaapstad en Sydney op haar Wêreldvaart van 2014. Seker so by elke ander hawe op die roete ook. Op ’n triomftog vaar die skip seëvierend van verowering tot verowering. (Die foto is van die afskeid in Melbourne. Op die skip speel ‘n orkes. Op die kaai drom mense saam. )
Apr 9, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Vreugde van die salige aftreejare, nou al 25, is ‘n skemerwyntjie op ‘n bankie langs die see met ‘n Privaat-plaatjie teen die rug en met ‘n uitsig op Tafelberg en Robbeneiland. So skryf ek in die tydskrif “WynLand” se Apriluitgawe in die rubriek “Cheers vir eers”.
En ja, daar sit ek en Tokkie breed in “WynLand” in Konrad Brand se mooi illustrasie waarvoor ek graag my hoed vir hom afhaal. Brand ken ons van geen Adamskant nie, het ons twee, trouens, nog nooit met ‘n oog gesien nie en was ook nog nie naby ons huis op Melkbos nie. Hy raai dus hoe ons twee van agter lyk, watter soort klere ons dra – kyk my pet! – en hoe die uitsig op Tafelberg daar uitsien. Hy vaar nie vrot, dink ek!
April se “WynLand” is nou op die rak. In my rubriek op die agterblad mymer ek oor my persoonlike wynreis wat in die 60’s op Tukkies met Lieberstein begin en allerlei koerse ingeslaan het totdat ek deesdae my glasie sauvignon blanc en Tokkie haar rooietjie taamlik gereeld geniet.
‘n Durende probleem word in die rubriek verklap. Dit is een wat ek reeds drie dekades gelede aan wynmaker Beyers Truter bely het op sy vraag hoe die Kaap die Vrystaatse inkommer geval.
In alle eerlikheid hef ek toe ‘n loflied aan aan wyn, maar meld tog ook ‘n kwelling: dat ek sukkel om ‘n glasie so lank te laat hou soos ek Kapenaars sien doen. Het hy vir my ‘n resep?
Alte seker, kom die antwoord. Die resep is doodeenvoudig; jy kan dit in een woord opsom.
En daardie woord?
Selfbeheersing, sê hy skalks.
Selfbeheersing nè: daardie resep vind ek in my grysheid, helaas, steeds maar taamlik ontwykend!
(Die Grunbergerstein-bottel in Brand se illustrasie is nie om dowe neute nie. Op my wynreis was daardie soetetjie ook ‘n baken,)
Apr 4, 2024 | Hennie van Deventer se Blog
Wat het Neethling Fouché, aspirant-Springbokstut, Dawie Theron, Springbokstut van die 80’s, en Piet Wessels, Springbokhaker van 1951/52, gemeen?
Wed jou jy weet nie. Ek kan drie dinge noem:
Al drie het regstreeks of onregstreeks drukkersink in hul are;
Al drie het regstreeks of onregstreeks ‘n Volksblad-verbintenis;
Al drie is of self of deur ‘’n bloedverwant aan die uwe bekend.
Laat ons by die oudste begin: Piet Wessels, haker (saam met Willem Delport) in Basil Kenyon /Hennie Muller se beroemde toerspan. Hy was ‘n lid van Die Volksblad se sportredaksie voordat hy nuusredakteur van The Friend geword en later naby Vanstadenrus voltyds gaan boer het. Ons was in die 80’s op voornaamvoet.
Dawie Theron, ook later ‘n gedugte afrigter, is die seun van my kollega Piet Theron. Ek en Piet was nie net kollegas nie, maar studentemaats en woonstelmaats. Ek was seremoniemeester op sy troue met top-atleet Petro du Plessis. Dit sal ‘n oordrywing wees, maar ek kan amper daarop aanspraak maak dat Dawie voor my grootgeword het. Hy noem my Oom Hennie.
Vir Neethling Fouché het ek nog nooit ontmoet nie. Sal seker ook nie. By kollega Herman le Roux verneem ek egter die interessante brokkie dat hy die kleinkind is van Johann Neethling, my voorganger as parlementêre verslaggewer van Die Volksblad in die 60’s.
Ons lessenare in die verslaggewerskantoor van Die Volksbkad in Voortrekkerstraat, Bloemfontein (later Nelson Mandelastraat) was direk langs mekaar. (Johan het later na die onderwys teruggekeer en hoof van die Hoërskool Philippolis geword).
Ek mag seker maar met die buitengewone verbintenis met die drie fris voorrymanne spog?
Apr 4, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Vriend stuur die skrikwekkende video van die olifant-tirade in Zambië – die noodlottige aanval op ‘n safarivoertuig waarin ‘n bejaarde Amerikaanse vrou dood is – met die vraag daarby: Wat was jou grootste diereskrik nog in die Wildtuin?
Die vriend is bewus daarvan dat ek in my 26 aftreejare letterlik al honderde keer deur die Paul Krugerhek die wildtuin binne is, al was dit net om in Skukuza kerk toe te gaan of ‘n koerant te gaan koop (in die goeie ou dae).
Hy maak nogal ‘n gewoonte daaraan om met sulke soort vrae half verlore herinneringe te herwin.
Ek kon hom dadelik antwoord. Ook ‘n olifant-insident gewees. Dag en datum is in my geheue gegrif: 24 Junie 2017.
Die Van Deventers, ek en Tokkie, was op pad terug Sabiepark toe na ‘n heerlike saamtrek van oud-Kollegemanne van so iets in die 60 jaar gelede in die boskamp Balule by Olifants.
Ons kom in ons Honda’tjie (so ‘n regop 1999-CR-V) via Onder-Sabie op die H4-1 Skukuza toe – ‘n doelbewuste draai. Ons het lanklaas die gewilde rivierpad verby die welige oewerbos langs die Sabierivier gery. Kort-kort kry ons olifante. By ‘n skerperige boog tussen die piekniekplek Nkuhlu en die hoogwaterbrug moet ek juis weer weens drukke olifant-teenwoordigheid aan weerskante stadiger ry.
Skielik, in n oogwenk, kom ‘n bewegende swart muur van voor op ons afmarsjeer. ‘n Teeltrop van dalk veertig (wie tel as jou hart in jou keel klop?) kom onheilspellend in die natterige teerpad na die weerlose Honda aangeslof. Alle groottes en ouderdomme.
Die voorhoede is minder as 20 meter – dalk nader – van ons af. Ondeurdringbaar, dreigend en onontwykbaar. Jy sien net ‘n see van skurwe lywe, tande en pote wat lyk of dit met elke afgemete tree al hoe groter en swaarder word.
So ‘n intimiderende olifant-optog het ek in my lewensdag nie aanskou nie. Wat nog van uit daardie ongemaklike hoek en op daardie uiters bedrywige stuk van die Wildtuin se “hoofweg” waar die motors vakansetye soms buffer teen buffer ry!
Ek trap haastig rem en swaai die neus veld se kant toe; vat-vat na die Canon langs my. “Los die kamera,” fluister Tokkie egter dringend. “Jou lewe is meer werd as ‘n foto.”
My vrou het ‘n punt beet, besef ek. Die situasie is uiters delikaat. Minstens ‘n halfdosyn babas van plus-minus-speenoud is in die groep. Die geringste prikkel – soos ‘n flits of die klik van die sluiter – kan humeure laat opvlam.
Magteloos sit ons toe daar in ons kleine silwer staalkokon, roerloos gespanne soos snare, terwyl die olifante te vinnig nader kom vir enige gemoedsrus – met wiegende lywe, asook koppe en slurpe wat heen en weer slinger.
Die leier en haar geleide beweeg gelukkig ietwat na links om ‘n botsing te vermy. Die ander volg gedienstig in haar spore, vatafstand van die gryse bestuurder agter die stuurwiel verby. Jy ruik net olifant.
In die agterhoede is ‘n kalfie wat in die skerp westeson ekstra donserig lyk, haar ma en ‘n spelerige jong bul met nog kort, reguit tande. Die kleinding – Tokkie wil hulle altyd net optel! – steek skielik vas en soek-soek met haar slurpie vir ‘n paar slukkies melk. Dit bring die mamma tot ‘n halt. Daarna maak baba doek, soos my vrou dit stel, net voor die snoet van die kar.
Die jong bulletjie vertoef ook en lyk min lus om hom van koers te laat dwing. Eers mik my kant toe met die tandjies skuins bokant my kop. Beweeg toe effens links tot voor die motor en betrag die spulletjie iesegrimmig deur sy skrefiesogies. Dit lyk of die jongeling op twee gedagtes hink.
Op daardie oomblik kom die ma in beweging. Sy en baba onskadelik verby. Bulletjie gee ons ‘n laaste kyk en volg. Die laaste swart lywe wat ek sien, genadiglik, is in my tru- en syspieëltjie.
Die Honda skiet uit sy spore, verby die motors wat van die Skukuzakant opgedam het. Van die insittendes lag breed. Party wys duim in die lug. Ek skat van hulle was ook maar doodbenoud dat ‘n treurspel hom daar voor hul oë gaan afspeel. Maar toe nou nie. (Die foto is deur ‘n Hollander, presies die toneel wat ons gesien het.)
Mar 29, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Tokkie is ‘n afkorting vir Tokkelossie: my vrou se vroeggestorwe pa, Kotie, se naam vir haar omdat sy so ‘n klein kortetjie was dat sy onder ‘n bed sou kon deurstap – of nou dit op bakstene staangemaak is of nie.
Vir my is dit nogal ‘n oulike naam, amper 60 jaar al. Dié dat ‘n Nederlander my wind uit my seile vat toe hy met Rotterdamse brutaalheid vir my sê: In Nederland is dit ‘n naam wat niemand wil hê nie.
Ek kon net skaapagtig glimlag. Navrae by ‘n Nederlandse vriendin werp lig op die aweregse opmerking. As jy in Nederlands ‘n Tokkie / tokkie genoem word, is dit geen kompliment nie, lig sy my in. Trouens, jy is ‘n taamlike “gaggamens”. Sy stuur ewe hulpvaardig insiggewende leesstof oor die onderwerp.
Daaruit blyk dat die woord Tokkie / tokkie vir ‘n jafel, ghwar, lunsriem, gomtor, plotrot, bokslagter of wat ook al jy so ‘n onplesierige karakter in Afrikaans wil noem, van die Nederlandse van (“achternaam”) Tokkie afgelei is. Die negatiewe konnotasie het sy oorsprong in 2004 in ‘n sogenaamde werklikheidsprogram op Nederlandse TV met die titel Familietrots.
‘n Amsterdamse gesin met die van Ruijmgaart-Tokkie (bekend as die Tokkies) tree in die program na vore as die onaangenaamste van onaangename bure of EPH’s: “Extreem Problematische Huurders”; mense wat so ‘n oorlas van hulleself maak dat niemand kans sien om langs hulle te woon nie.
Van die ongure TV-gesin heet in werklikheid slegs die moeder, Hanna, Tokkie. Die ander bloedverwante gebruik pa Gerrie se van Ruijmgaart. Maar – snood onregverdig of nie – is dit die moeder se van wat die gelag moet betaal.
Deur die doen en late van die Ruijmgaarts op die skerm word Tokkie/ tokkie ‘n sinonieme selfstandige naamwoord vir anti-sosiale gedrag. (Die Engelse woord hooligan het glo voorheen dieselfde pad van onskuldige van tot ‘n beledigende stukkie skeldtaal geloop, maar dit net terloops.)
In Nederland beur die onvleiende gebruik van Tokkie / tokkie mettertyd vir hom ‘n pad as gangbare begrip oop nie net tot in die algemene spreektaal nie, maar later tot in die gesaghebbende woordeboek Van Dale en in 2016 tot in die woordeskat van die destydse premier Mark Rutte. Albei laasgenoemde ontwikkelinge maak, soos verwag kon word, opslae.
In 2019 eis die veronregte Ruijmgaart-Tokkies van Van Dale Uitgevers 50 000 euros vir die besmetting van hul trotse familienaam. Wat van die eis geword het, weet ek ongelukkig nie. Die internetspoor loop dood.
Die Mark Rutte-geskiedenis is wel deeglik opgeteken. Die premier word deur ‘n amateurhistorikus Lion Tokkie (onverwant aan Hanna) voor die bors gegryp nadat hy die begrip meermale gebruik om mense wat rassistiese beledigings rondgeslinger het, te veroordeel.
Hy voel ernstig gekwets en diep beswaard, skryf Lion Tokkie aan Rutte, en sy kritiek val nie op dowe ore nie.
“Laat ik vooropstellen dat ik uw gevoelens heel goed begrijp. Het is gewoon niet leuk of prettig als je achternaam in een negatieve context wordt gebruikt,“ antwoord die premier boetvaardig. “Het is absoluut niet mijn bedoeling u verdriet te doen. Ik zal uw achternaam niet meer gebruiken als typering voor mensen die in mijn ogen geen positieve bijdrage aan de samenleving leveren.”
Lion Tokkie was verheug oor die reaksie. “Hij zegt impliciet dat hij spijt heeft. Excuses hoef ik niet te hebben, ik vraag vooral begrip. Niemand realiseert zich dat er een familie achter de term ‘tokkie’ zit. Ik was als de dood dat het als oneliner in de campagne voor de verkiezingen gebruikt zou gaan worden.”
Dit sal seker niemand verbaas nie dat die uwe se simpatie in onderhawige saak vierkant by de Ruijmgaarts en Lion Tokkie is. ‘n Tokkie / tokkie kan mos nooit iets sleg wees nie, buiten dalk in die oorspronklike inheemse vorm van ‘n tokkelossie, daardie harige, kwaadwillige, kabouteragtige, skepseltjies wat met sangomas, of toordokters, geassosieer word en teen wie met soveel bakstene (of verfblikke) onder soveel Suid-Afrikaanse beddens beskerming gesoek word.