Jul 27, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Gek na ‘n groen blaartjie.
Die blinkblaar-wag-‘n–bietjie het nie verniet in Engels buffalo thorn nie. Daardie dorinkies kan iou gaffel.
Tokkie vertel graag haar storie oor hoe sy die tweeling, Jacob en Thomas, kleintyd van die boom se geniepsigheid geleer het. By ‘n kleinerige blinkblaar-wag-‘n-bietjie by die ingang het sy altyd in toegelaat dat die dorings haar mou beetkry. Dan spreek sy die boom vermanend aan: “Nee, wag-’n-bietjie, ek kan nie nou wag nie. Ek gaan nou saam met Jacob en Thomas stap.” Dan kraai die twee.
Woensdag loop sy toe self ‘n potjie met ‘n klein wag-‘n-bietjie by die watergat. Sy werfskaf daar met die swembad se skepnet. Effens onversigtig, laat sy die fyn net in kontak met die dorings kom. Dadelik raak dit verstrik.

Braaihout was sis en hap.
Toe sy dit probeer loswikkel, raak sy nog onversigtiger. Die dorings gryp eers haar een hand; toe die ander. Daar staan sy toe: ‘n gevangene van die boom. Sy roep om hulp, maar ek kan nie dadelik reageer nie, want ek sit kaalvoet op die stoep.
Ongeduldig – nogal ‘n streep van haar en dalk van die meeste vroue – pluk sy haar hande en die net met een ruk los. Toe moet jy die bloed sien. My maag draai behoorlik toe ek haar bereik.
Gelukkig darem ‘n erger-as-wat-dit-lyk-insident. Maar albei van ons gaan die blinkblaar van nou af met groter respek behandel, dis nou maar wors.
(Dis hoekom Jakob die naam blinkblaar-wag-’n-bietjie borg by die WAT. Thomas borg jakkalsbessie en Christopher wildevy, )
Likkie, die likkewaan, het weer kom tong wys. (Wonder of dit die een is wat Jacob onlangs met die braaitang verwyder het.) Elke keer leer ons meer van die plat skubbedier met sy lang tong.

Toeskouer op veilige afstand.
Hy wag ons op die stoepmuurtjie in. Lekker plek om in die son te bank. Ook lekker naby aan die aartappelbos. Toe ons weer sien, lig meneer homself op en begin aan die enkele blaartjies wat oor is, te knibbel. Klaarblyklik lief vir ‘n groen blaar.
‘n Ander hebbelikheid ontdek ons ook. Hy skuifel na die hoop braaihout in die lapa toe en kamoefleer hom soos ‘n stomp knoppiesdoring. Mooi kyk om hom raak te sien. Onthou om volgende keer versigtig te vat, Kan ‘n ontnugtering wees as die hout begin blaas en na jou toe hap.
Hiënas was tot dusver skaars. Ons het hulle net gehoor. Uiteindelik het ons, ná amper drie weke, weer gesien ook. Dinsdag net so skrams-skrams en gisteraand drie (‘n ma en twee welpies) in Wildevylaan die Honda se lig. (Nagapies kom in getalle.)
Aan mensefront: weer lekker gekuier saam met Frik en Martie Nel en met die Le Roux’s van Centurion: Herman, Rina en Frans en Michelle Marais. Herman het, soos altyd, met ‘n sak vol boeiende plakboeke opgedaag. Sulke kuiertjies raak al hoe kosbaarder soos die lys rek van Sabiepark-vuurgenote wie se name op grafstene uitgekerf raak. Gustav Hoexter, Leonora Mouton en Winnie Dreyer het ons in kort rukkie ontval. Lukas van der Merwe (Mnr. Hardekool) is baie siek.
Jul 14, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Soos Israel se eerste vors, koning Saul, kop en skouers bo sy volk uitgetroon het, verdwerg Stormers-rugbyster Neethling Fouché die uwe op die foto wat Saterdag by Skukuza se golfklub geneem is. By ons is sy vrou, Janca, en hul oulike meisiekind, Lente.
Agter die foto is ‘n storie: my verbintenis Neethling se twee oupas. Die naam Neethling kom van ‘n kollega by Die Volksblad in die 60’s. Die van Fouché kom van ‘n bevriende Bloemfonteinse motorhandelaar met wie ek meer as een keer sake gedoen het.
Die kollega was Johan Neethling, my voorganger as parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. Ek het hom in 1964 opgevolg.
Ons lessenare in die verslaggewerskantoor van Die Volksblad in Voortrekkerstraat, Bloemfontein (later Nelson Mandelastraat) was direk langs mekaar. (Johan het later na die onderwys teruggekeer en hoof van die Hoërskool Philippolis geword).
Die motorhandelaar was Buks, ‘n man wat veral Volkswagens verkoop het soos niemand anders nie. By hom het ek in 1980 met my aanstelling as redakteur van die koerant ‘n sjampanjekleurige Audi 200 gekoop. Die motor het my groot behae verskaf; altyd vir my gelyk soos ‘n slanke roofdier, gereed om grommend sy prooi plat te trek.
Vir gade Tokkie (die fotograaf) het ons by die nimlike Buks ‘n silwer Renault 5 gekoop, haar tweede. Haar vorige was geel en swart met ’n sondak – motortjies wat hul tyd vooruit was.
In April het ek op hierdie blad ‘n Volksblad-voorrry gekies “met drukkersink in hul are”: Neethling Fouché, Springbokstut, Dawie Theron, Springbokstut van die 80’s, en Piet Wessels, Springbokhaker van 1951/52.
Piet Wessels, haker (saam met Willem Delport) in Basil Kenyon /Hennie Muller se beroemde toerspan van 1951/52. Hy was ‘n lid van Die Volksblad se sportredaksie voordat hy nuusredakteur van The Friend geword en later naby Vanstadenrus voltyds gaan boer het.
Dawie Theron, later ‘n gedugte afrigter, is die seun van my kollega Piet Theron. Ek en Piet was nie net kollegas nie, maar studentemaats en woonstelmaats. Ek was seremoniemeester op sy troue met top-atleet Petro du Plessis. Dit sal ‘n oordrywing wees, maar ek kan amper daarop aanspraak maak dat Dawie voor my grootgeword het. Hy noem my Oom Hennie.
Vir Neethling Fouché het ek nog nooit ontmoet nie en sal ek seker ook nie, het ek toe geskryf. Toe net geweet dat hy die kleinkind is van oupa Johan. Saterdag, skaarsdrie maande later, kruis ons paaie egter toe in Skukuza. Verneem toe eers van die Buks-konneksie.
Via die Buks-konneksie kom ook ‘n Sabiepark-konneksie. Ry met Apiesdoringlaan suidwaarts rivier toe. By die laaaste uitdraai na links is die bordjie Umvunti. Wel, dis die Fouché’s se boshuis daardie, net om die draai van die Van Deventers se Tarlehoet in Wildevy.
“It’s a small world after all.”
Jul 9, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ons klink ‘n glasie Nuy by die piekniekplek.
‘n Rede vir ‘n heildronk langs die Sabie ontbreek nooit. Basiese rede: net die vreugde van daar wees. Twee uitmuntende redes het hulleself pas aangebied. Vir eers is dogter Marisa Claassens se 50ste op Vrydag 5 Julie heeldag lank gevier. Ten tweede is ‘n glasie vonkelwyn geklink op die tydskrif Sarie wat op 6 Julie 75 jaar gelede as Sarie Marais haar elegante buiging gemaak het.
Wat “Sarie” relevant maak, is dat “Maanlig op die Sabie’’ deur Tryna du Toit van die liefdesverhale was in die heel eerste Sarie Marais, moeder van die vrouetydskrif Sarie, wat op 6 Julie 1949 verskyn het. Die liefde bloei in Tryna se storie in die Skukuza-ruskamp van die Kruger-Wildtuin na allerlei teenspoed en misverstand – soos dit dikwels maar met storieliefdes gesteld is.
Selfs op ouderdom 83 en op meer as 50 besoeke aan Sabiepark lewer die bos nog nuwe ervarings op. Soos hierdie een:
Iets om te verklaar? vra die hekwag by die Krugerhek van die wildtuin
“Net die twee apies agterin,” antwoord skoonseun, Brent. Die “apies” het hulle maar die grappie ten koste van hulle laat welgeval.
Ma en dogter, Tokkie en Marisa, het daerem self verkies om daar te ry. Dit was nie manlike chauvinisme in aksie nie. En die Honda het nou maar eenmaal net gemakliker sitplek vir vyf. Ons was sewe vir die toggie Skukuza toe vir middagete.

Om op die stoep te sit en rugbytoets kyk terwyl die son eers die lug agter die rekenaarskerm rooi verkleur voordat die donkerte toesak, was ook ‘n eerste. Ons het ons “losie”genoem die Loftus-anneks. Gelukkig wen die Springbokke toe oortuigend. Die agternabraai sou niks lekker gewees het as die Iere bobaas was nie.
Nog ‘n eerste was kleinseun Jacob se netjiese Operasie Likkewaan met ‘n leertjie en ‘n braaitang. Die dierasie was briesend met sy lang tong flitsend toe toegang tot die grasdak hom ontneem word. Waar hy in die veld losgelaat is om ‘n nuwe tuiste te vind, het dit hom seker berou dat sy naels sy teenwoordigheid op die Harveyteels bo-op die gras aan die wakker seuns verraai het.
Om die tradisionele spanfoto b
y die Tarlehoet-naambord neem, moes ‘n vernuftige plan prakseer word. In die afwesigheid van iemand anders om die knoppie te druk, is ‘n kombuisstoel en ‘n koffer met die motorpad afgepiekel. Daarmee is ‘n heel doeltreffende “driepoot” vervaardig.
Wat die eerste keer saamgekom het bos toe, is kleinseun Christopher se indrukwekkende bergfiets. Daarmee is la-a-ang oefenritte voor ontbyt op die Hazyview-Krugerhek onderneem. Om die aftakeling van die fiets te aanskou voordat dit in ‘n enorme spesiale sak geprop is vir die vlug terug Kaap toe het hierdie ou man se oë laat rek.
‘n Troppie van 20 of meer njala-ooitjies het ons op ‘n wildrit saam met die driemanskap Jacob, Thomas en Christopher naby Lake Panic by Skukuza begroet. Nog nooit soveel van die oulike bokkies op ‘n hoop gesien nie.
En ons 2024-wintervakansie is vandag eers ‘n week oud.
Naskrif: Die nagapies kom soos vanouds en die bloukuiloeries is bedrywig in die rosyntjiebosse.
Jun 20, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Een brokkie Volksblad wat geen onsimpatieke direksiebesluit in die verre Kaapstad tot niet kan maak nie, is die waardige Volksblad-kamer by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) se sierlike sandsteengebou in Pres. Brandstraat, Bloemfontein, waar waardevolle Volksblad-stukke van historiese belang ‘n tuiste gevind het.
Hoe onmeetlik bevoorreg is my geliefde koerant nie dat so ‘n heenkome vir hom bestaan: ‘n plek waar ‘n mens kan instap en alles om jou heen herinner jou aan die omgewing waar jy jare van jou loopbaan geslyt het, of waar die produk vervaardig is wat jy elke liewe dag (buiten Sondae) in jou huis verwelkom het; ‘n vaste deel van jou lewenservaring.
In 2023 was die voorreg van so ‘n besoek hierdie veteraan uit die vorige eeu beskore. In die die geselskap van gewaardeerde kollegas kon ek ‘n uur of wat doerie dae se goue tye by die koerant in die nimlike Volksbladkamer gaan herleef.
Hoe heuglik en sentimenteel was dit nie om op my ou stoel agter die lessenaar in te skuif waar ek 12 jaar lank gearbei het nie, omring deur boekrakke, banke en ander meubels uit my kantoor, asook allerlei gedenkwaardighede soos spesiale uitgawes, kosbare foto’s (onder meer van alle oud-redakteurs) en spotprente.
Die statige lessenaar van Birmaanse kiaat het ‘n lang geskiedenis. Dit was ook die lessenaar van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948). Hy was aan die stuur toe ek as sesjarige in ‘n skakelhuisie in Kimberley aan my oupa se voete Die Volksblad begin “lees” het. Min kon ek toe dink dat ek in sy spore sou volg. In my era as redakteur (1980 – 1992) is die lessenaar tot sy huidige glorie vernuwe. Dit is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad.
Die ander meubels in die vertrek is swaar, donker sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout. Die boekrakke het loodglasdeure. Die meeste stukke is onder toesig van Jan met sy hartstog vir hout of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die ou gebou in 1986. Dié is verkoop en lyk bra bedremmeld.
Wat ook by NALN staanplek gekry het, is die oorpronklike Volksblad-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig, ‘n onvervangbare meesterstuk.
Die gashere daardie dag was Wyno Simes en Annelien Diedericks van NALN. Die Volksblad-span het bestaan uit ekself, twee van my hoofredaksielede, Piet Theron en Sarel Venter, die laaste redakteur van die gedrukte koerant, Gert Coetzee, en die huidige man in die saal, Dirk Kok wat die redakteur sal wees wat einde September de deure finaal toesluit. Mevv. Van Deventer, Theron en Venter was ook teenwoordig.
Kameras het natuurlik aanhoudend geklik soos die verskillende konfigurasies – HvD en hoofredaksielede , drie redakteurs, ens. ens – agter die lessenaar stelling ingeneem het. Die foto’s hierby is van my agter ”my” lessenaar met die Hennie van Deventer-trofee vir algemene redaksionele voortreflikheid in my hand. (Piet Theron was, terloops, in 1980 die eerste wenner daarvan), die drie redakteurs, Van Deventer, Coetzee en Kok, en die deur.
‘n Lewenservaring van enorme betekenis was dit vir hierdie 83-jarige koerant-verknogte. Ek is diep-diep dankbaar teenoor almal wat die herbesoek aan my wonderlike koerantdae – wonderlike Volksblad-dae veral – help moontlik maak het.
Ek is diep dankbaar teenoort NALN wat die historiese waarde van die koerant gesnap en vir hom die tuiste gegee het en vir kollegas Gert Coetzee en Constant Steyn wat met die afronding hande uit die mou gesteek het. Ek is ook dankbaar teenoor daardie gedugte boekeman prof, Petrus Nienaber vir sy versiendheid om ‘n museum soos NALN tot stand te help bring.
Van hom gepraat: by die toekenning van die Taalfeeskomitee se goue medalje aan Die Volksblad in 1974 het hy gesê: “Blaai jy deur Die Volksblad (soos sy naam toe was) se lêer oor die afgelope 70 jaar kan jy die Afrikaner se taal- en kultuurgeskiedenis hieruit opstel. Die Volksblad is ’n bron nie net vir die politieke geskiedenis nie, maar veral ook vir ons kultuurgeskiedenis. Dit is ’n goudmyn.”
’n Goudmyn – hoe verstom sou Prof. Petrus nie gewees het noe as hy moes weet dat hierdie goudmyn van die gees, soos sovele gewone goudmyne in die Vrystaatse aarde, in die jaar van ons Heer 2024 – presies ‘n halfeeu later – by die einde van sy pad sou kom en dat net die kamer by NALN sal oorbly?
Jun 20, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In vanoggend (20 Junie) se Volksblad kyk ek in ‘n lesersbrief terug en vorentoe:
Afskeid is nooit maklik nie. Om afskeid te neem van die handelsmerk (Die) Volksblad -‘n eeu lank ingegrawe in die volksiel van die Vrystaat en die sentrale hartland – is buitengewoon pynlik.
Die verlies is so omvangryk dat die instinktiewe reaksie is om in diepe ontsteltenis daarteen in opstand te kom, sondebokke te soek, te verwyt en blameer. Dit sou egter wees om die versene teen die prikkels te slaan, om ‘n ou Afrikaanse idioom af te stof.
Wat nou gebeur, is die voltrekking van ‘n lot wat onvermydelik in die lug was ná die skokbesluit in 2020 om die geliefde papierkoerant te sluit en vir solank as moontik op die syspoor van ‘n eie digitale platform voort te beur. Die skrif was by daardie voorlaaste kruispad al aan die muur.
Die uitdaging by die finale kruispad is om die donker dag met waardigheid te benader, nie instinkte te kaat botvier nie en nie net in bewoëndheid terug te kyk nie, maar ook doelgerig vorentoe, meen ek ná grondige nadenke oor die pakket ingrypende besluite wat deur Media24 aangekondig is .
Terugkyk op sy meer as ‘n eeu van diens aan ‘n gemeenskap waarmee hy soos geen ander koerant met geen ander gemeenskap nie verstrengel was, kan ons koerant met onverbloemde trots. In elke geskiedenis in elke sfeer is sy rol onuitwisbaar, van die kultuur tot sport. In sy verskillende formate het hy in opeenvolgende geslagte ‘n ingeligte openbare mening in stand help hou, as waghond gedien vir behoud van waardes, by kruispaaie koers help soek, in triomfe saamgejuig en in hartseer saamgetreur. Hy was ook ‘n broodnodige bastion vir Afrikaans. Sy lesers – in ‘n stadium oor 30 000 per dag – eer hom daarvoor.
Oor my eie verbintenis met die koerant in twee skofte van 12 jaar elk is ek innig dankbaar. Die ervaring was vervullend en verrykend. So beleef almal dit wat kon deel in die voorreg om as Volksbladders oor sy drumpels te stap, glo ek. Uit ons dankbaarheid kry ons versterking wanneer die tentakels van ‘n skouspelagtige nuwe tegnologie, die sweepklap van ekonomiese werklikhede en nuwe bestuursinsigte ons sanctum so revolusionêr binnedring soos nou.
Dankbaarheid moet ook betuig word dat Volksblad-lesers darem nie vir die wolwe gegooi word nie. Netwerk24 is immers sterk ingegrawe en glad geolie om, ten minste wat harde nuus betref, die groter vakuum wat ontstaan, te vul. Alle oë is op Netwerk24 gerig om die aflosstok met mening vorentoe te dra en die Afrikaanse joernalistiek in sy volle omvang met toewyding en kundigheid te bly dien soos die Volksblad-gemeenskap gewoond was om gedien te word.