OORTJIES, STOEPIES, ROSYNTJIES EN BOKDROLLETJIES

Nee, allemagtig, wat te erg is, is te erg. So kan ‘n mens Sakkie van Zyl, oud-advertensieman van Die Burger, se verontwaardigde brief in vanoggend se koerant parafraseer oor die uitsonderlike hamburger-advertensie Vrydag wat deel van die mashoof vorm. Kyk foto 1.
As ’n oud-redaksieman moet ek my emosionele gewig by Sakkie inwerp. Nuus se plek in die koerant is immers met sorg afgebaken en moet eerbiedig word. Sela.
Twee aspekte wil ek egter noem om die afwyking dalk effe rustiger te beoordeel as kollega Sakkie – en die uwe en seker baie ander koerantmense – se instinktiewe afgryse.
Een is dat advertensies die rekeninge betaal en dat daardie prominente advertensie die adverteerders seker ‘n arm en ‘n been moet gekos het. As koerante so sukkel om te oorleef dat gerespekteerde titels soos Rapport, Beeld en Die Volksblad nie meer in druk verskyn nie, is dit laat in die dag. Om Die Burger – en sy lojale lesers – daardie lot te spaar, moet ons ons dalk maar klaarmaak vir meer sulke avontuurlike geldmaak-pogings – of ons daarvan hou of nie.
‘n Tweede is dat oor die plek van advertensies en die volume daarvan nog maar altyd ‘n toutrekkery was. Een opskudding wat ek veral onthou, was in die 90’s toe wyle Naas du Preez, ironies genoeg ‘n oud-redaksieman, uit die nasionale advertensiekantoor die nuutjie van “eiland- advertensies” aan redaksies wou verkoop. Dit is advertensies wat rond en bont tussen die nuus sou staan, baie soos die hamburger-advertensie in Die Burger. Naas se idee is verwerp. Hy sou gister breed geglimlag het.
Laat ons ook nie vergeet nie dat tot in 1932 (meen ek) geen nuus op die voorblad van Die Burger verskyn het nie. Dit was eksklusief advertensies se plek. Kyk foto 2 van Die Burger se eerste voorblad in 1915.
Toe ek koerante van binne leer ken het, in die laat 50’s, was die voorblad gelaai met nuus. Advertensies se plek was vasgemessel. Langs die mashoof was twee “oortjie”- advertensies aan weerskante en regs onder op die blad ‘n dubbelkolomadvertensie. Die eerste pogings om daardie dubbelkolom ‘n driekolom te maak, is deur ons redaksiemense met hand en tand beveg. Die advertensiemense het uiteindelik gewen. Later het advertensies in die ongewoonste groottes daar begin opduik.
Wanneer presies die “oortjies” gesneuwel het , kan ek nie onthou nie. Met die verskyning van Beeld in September 1974 staan die mashoof egter skoon en trots alleen – geen “oortjies”nie. Kyk foto 3. Teken dit aan as ‘n veldslag wat deur redaksie gewen is.
Eras kom en gaan dus – en dit geld ook nuushantering. My kennismaking met koerante was toe die strewe sterk was om as sg. “newspaper of record” gereken te word. Jy moes enigiets maar enigiets in ‘n bepaalde uitgawe kon gaan naslaan. Ook die voorblad was die ene opskrifte. Vyf of ses meerkolommige stories was aan die orde. Daarby ‘n rits enkelkolom-“toppies”.
My voorganger as redakteur. Oom Bart Zaaiman, was lief vir baie “toppies”. Vir hom was hulle “rosyntjies”. Hy hou na my wete die rekord vir ‘n hoofsubredakteur met iets in die 20 berigte op die voorblad. Kollegas wat nie sulke sterk “rosyntjie”-mense was nie, het dit agter sy rug “bokdrolletjies” genoem.
Die voorblad was min of meer volgens ‘n vaste struktuur; ‘n hoofberig, tweede d/k, driekolom onder die blok en “stoepie” was vaste spyse. D/k staan vir dubbelkolom. ‘n “Stoepie” was oor vier kolom of meer onderaan die blad, hoofsaaklik ‘n ligte (dalk humoristiese) storie. Later het die klem meer op tipografie begin val. Inhoud is opgeoffer vir voorkoms , meen ek.
Deesdae kry ons – wat nog bevoorreg is om ‘n papieroerkoerant te lees – soms ‘n voorblad met net twee stories en ‘n klompie verwysings na binne, die sogenaamde ”lusmakers” of “aptytwekkers”. Ons het sulke goeters in my
dae “plugs” genoem.
Wat is my punt? In Engels: “The times they are a-changin”, soos Bpb Dylan sing. In Afrikaans: “Niks is so seker soos verandering nie.”
Het die era van Naas du Preez se “eiland- advertensies”dalk nou ‘n dekade of meer na sy dood aangebreek? As dit het. dan het dit, al stuit dit tradisionaliste teen die bors. (Lees Sakkie se brief by https://www.netwerk24.com/…/hamburger-burger-is…

“KISS THE BOXER, KISS THE CHAMP”

Ekstra energie vir sy boksgeveg om die ligswaargewigtitel van die wereld teen die SA uitdager Pierre Fourie in 1975 het die kampioen, Victor Galindez (die “Dier”) gekry uit twee vitamiene-inspuitings elke dag.
Dit lees ek vandag in my gunsteling Burger-rubriek, “50 Jaar gelede”.
Die geveg was op Saterdagaand 5 April 1975 in Johannesburg. Vanoggend se mededeling hieroor herinner aan ‘n Galindez-moles in die week voor die geveg waaraan die uwe, tot sy spyt en met die nodige nederige betuigings van apologie aan dese en gene, skuld moet beken.
In die (eerlike) strewe tot ‘n bietjie lewendigheid op ‘n stil dag stuur ek die oggend verslaggeefster Petra Pieterse om die woeste Argentyn te gaan soen. Daardie soen haal in kleur die voorblad haal. Watter uitwerking Petra se meer as net ‘n pikkie op de “Dier” se energievlakke gehad het, sal ek nie weet nie. Op kantoor is egter ‘n klomp negatiewe energie losgelaat.
Verslaggeefsters het nie net onder mekaar gemor nie, maar ‘n gorganiseerde deputasie na die nuusredakteur gestuur om hom te waarsku dat die tyd vir sulke demonstrases van manlike chauvinisme (tipies Vrystaats!) verby is.
Die arme Petra het ook deurgeloop. Sy is kwalik geneem omdat sy ingewillig het – al het sy nie veel ruimte vir ‘n ander keuse gehad nie.
Agterna had ek so ietwat berou. Maar dit was darem ‘n blerrie goeie foto!
‘n Ander keer daardie tyd dat ek reikhalsend na die rustiger Bloemfontein verlang het, was met die opening van ‘n winkelkompleks. ‘n Duisternis pryse is uitgeloof, onder meer vir die kleinste bikini. ‘n Jong, maer rooikop daag op met net twee titseltjies lap. Ook die foto haal die voorblad. Weer moes ek dit ontgeld van ontevrede kollegas en die eer ook van verontwaardigde lesers,
Maar njannies, die waaghalsige besluit om die wenner so prominent in ons koerant te laat paradeer, was nie myne . Wie s’n dit was? Nee daardie kollega was stom.
Vandag kan mens glimlag (al is dit effens suurderig!) oor sulke insidente. Toe dit gebeur het, was ek egter maar taamlik verleë.
(Daantjie Badenhorst laat weet op Facebook Fourie en Galindez is vier maande na mekaar in motorongelukke oorlede. Dit het ek nie geweet nie, of al vergeet. )

KOEK EN TEE BY ‘N MOORD

Die Niggiemoord in Januarie 1966 op Odendaalsrus lok enorme belangstelling uit, op TV, in koerante en tydskrifte, op, sosiale media, in private gesprekke, oral. Vanaand gaan derduisende – nee, der-tienduisende of der-honderdduisende – om 20:00 op Kyknet ingeskakel wees vir episode twee.
Vir my as koerantman uit daardie era is een redelik algemene reaksie verbysterend. Dit is die wye onkunde oor hierdie moord en andere. Mense wat oud genoeg is om op ‘n manier daarvan kennis behoort te dra, is stomgeslaan.
“Ons het nie van die moorde geweet nie,” hoor ‘n mens uit een oord. “Ons was nie bewus van sulke moorde toe ons jonger was nie,” kom dit uit ‘n ander. Op Facebook lees ek selfs dat misdaad destyds maar onder die bed ingevee of weggesteek is.
Dan dink ek hoeveel kere ek as koerantman gekapittel is juis oor te veel moord en doodslag in die koerant. Dis net bloed, bloed, bloed op die voorblad, is ek meermale verwyt. En ek skud maar net die kop.
Dadelik kom ‘n klomp bekende moorde uit daardie era by my op: die Niggiemoord (of Murasiemoord, soos dit ook genoem is), die Verwoerdmoord natuurlik, die Tasmoord (afkop-vrou in Boksburgmeer), die Groesbeekmoord, die Vontsteenmoord, die Wahl-moord, die Clack-gesinsmoord, die Robert Smit-moorde …. Dis maar enkeles uit my koerantloopbaan.
Ek onthou egter moorde van lank voor my koerantloopbaan. In Kimberley is, nog in my laerskooljare, twee oujongnooi-tantes in hul huis vermoor. Ons kinders het nuuskierig die “moordhuis” gaan opsoek en was verras dat dit so doodgewoon lyk.
My wetenskap-onderwyser op Volkies, mnr, Stompie Steyn, is deur sy tuinman (desyds anders genoem) vermoor. Dit was nogal ‘n opskudding.
Maar waarvan ek einlik wil vertel, is van die moord waarmee my koeranteloopbaan as’t ware ingewy is. My eerste plakkaat as waarnemende Goudveldse verteenwoordiger. Dit was in die universiteitsvakansie van 1961/ 62. Ek as beurshouer sou vir die vakansie in Bloemfontein gaan werk. Aan die vooraand kry ek ‘n oproep: nee, ek moet Goudveld toe. Die Goudveldse verteenwoordiger, Willie Coetzee, gaan met langverlof.
Die eerste dag gaan wys kollega Willie my toe rond. Hier’s die hof, hier’s die brandweer en so aan. By die polisiehoof (Jeff Greeff) gekom om my voor te stel, lig hy ons vriendelik in oor die ou wat op Kroonstad in sy ouers se voordeur as’t ware in woede sy broer doodgeskiet het. Ons is voet in die hoek soontoe.
Die feite van die saak is dat albei broers op die Spoorwee gewerk het. Broer A was ‘n stoker. Hy had geruime tyd n spesmaas dat broer B vir sy vrou gaan kuier wanneer hy saans vir ‘n nagskof padgee, Die ongetroude Broer B was tuis by sy ouers, enkele huise van broer A se tuiste af in dieselfde straat naby die stasie. Een aand stel broer A vir broer B ‘n strik. Hy verras hom in ‘n oomblik van passie met sy vrou in sy eie slaapkamer.
Toe hy sy rewolwer uitpluk, kies broer B hasepad na sy ouerhuis toe. Die veronregte broer A hardloop agter hom aan en skiet ‘n skoot of twee in die lug. Net toe broer B die voordeur van sy ouerhuis ooppluk, val nog ‘n skoot. Dis ‘n dodelike rugwond. Hy syg sterwende in die voordeur neer.
Willie besluit toe om die jong student vir sy vuurdoop alleen in te stuur om by die bedroefde ma te gaan foto’s vra, wat dikwels maar ‘n taai toffie is. Hy sit in die Volksie en wag terwyl ek senuweeagtig gaan aanklop.
Die jong abjater kom egter nie uit nie. Hy bly weg en bly weg. Later kan Willie dit nie meer hou nie. Hy kom klop ook aan die voordeur om sy kollega te kom “red” as daar moeilikheid sou wees.
Maar waar tref die verbaasde Willie die jeugdige Van Deventer (toe nog net 20) aan? Hy kry hom plat op die vloer in die sitkamer omring deur foto-albums sodat hy kan kies en kleur. Die bedroefde ma is byderhand om name en konteks te verstrek, wat sy hoegenaamd nie onwillig is om te doen nie.
Langs Van Deventer op die vloer is selfs n koppie tee en ‘n fris stuk sjokoladekoek wat aangebied is om hom tuis te laat voel. Willie Coetzee was totaal uit die veld geslaan oor die prentjie voor hom.
Daarna was ek vier dekades by koerante. Nooit weer by enige moord is ek so met ope arms verwelkom en getrakteer nie. Nooit weer was daar ‘n moeder van ‘n slagoffer en/of beskuldigde wat soveel behae uit publisiteit geskep het nie.
Seker ook maar gevoel dat sy nou “famous” gemaak is soos Joshlin se ma, Kelly. En laat ek maar erken: ek het selwers taamlik “famous” gevoel toe ek daardie uitgawe met my handwerk oopslaan.

PLESIER VAN PADKOS

‘n Kostelike stukkie humor in die Bybel is hoe die Israeliete op hul Groot Trek na die “land van melk en heuning” holderstebolder met hul onklaar “padkos” uit die land van die farao vort is.

In Eksodus 12 lees ons hulle het in die pad geval met hul brooddeeeg, sonder suurdeeg, in skottels wat in klere toegedraai is, op hul skouers. Daarmee het hulle langs die pad ongesuurde roosterkoeke gebak.

Ek noem dit humor, nie omdat ek nie ‘n padkos-man is nie – ek is dit inderdaad! – maar oor die ontnugtering wat ek my in my geestesoog kan verbeel oor die reis wat eenvoudig aanhou en aanhou en aanhou… veertig jaar lank. Hoe ‘n erbarmlike kort stukkie van die reis kon hul padkos gehou het?

As selfverklaarde padkos-verslaafde moet ek dalk nie lag nie, maar trane stort. Watter ramp as ‘n ou se padkos opraak terwyl die bestemming nog ver, ver voor jou lê!

Padkos-storie kom na vore toe ek die meegaande foto (onbekende mense, onbekende bron) op Facebook raakloop.

My eerste ervaring van padkos was toe ek en my weduweema. Baby, in die jare 40 per trein van Kimberley vir Oom Danie en Tant Susie op hul plaas in die distrik Paul Roux gaan kuier het. Ons het dan tot op Kaallaagte trein gery, waar Oom Danie ons met sy treppie kom haal het.

Deel van ons bagasie was ‘n kosmandjie en opgerolde beddegoed. Ons kon nie die treinkos in die eetsaal met al sy sliwerware en die netjiese, silwerskoon treinbeddegoed bekostig nie. Ons kos was baie basies – broodjies en frikkadelle en hardgekookte eiers. Vir my was dit koningskos.

Trouens, elke vakansie by Oom Danie-hulle had twee hoogtepunte: die padkos en die spogperde wat hul koppe so gooi in die tuig voor die treppie.

Die mandjies van ryker mense – so het ek gehoor – het o.m. ook ingesluit: koue hoender, skaapboud en heel biltong wat met die knipmes gekerf word. Ek was nie eens jaloers nie.

In n stadium – toe ek student was en daarna – is met “padkos” bedoel die paar biere wat saamgery is om langs die pad die dors in toom te hou. Ek het niks teen bier nie – maar met die wyser insig wat later gekom het, besef ek nou om bier padkos te noem, is ‘n belediging vir laasgenoemde!

Gelukkig trou ek toe met Tokkie. Sy is ‘n padkos-kampioen. Ons eerste reise is aangepak met eierbroodjies, botterbroodjies, biltongbroodjies, frikkadelle, worsies, pruime in spek toegedraai en minstens een lekker soetdingetjie soos ‘n ystervarkie of konfyttertjie saam met die koffiekan in ‘n mandjie aan haar voete.

Later het die koffiekan een van die moderne flesse geword wat jy net bo kon druk om die koffie te laat uitspuit.

Tokkie se padkos het my so bederf dat ek nie kan wag om my tande daarin te slaan nie. Ons is nog nie n blok weg van die huis af nie, dan verneem ek al: “Wat van ‘n eierbroodjie” ? Daarna is my kake vir die res van die reis omtrent nooit stil nie.

Met die koms van die kleinkinders het die padkos se karakter nie juis verander nie, net die volume. Nuwe elemente het darem ook bygekom, soos vrugtesappies en jogurt. Die tweeling, Jacob en Thomas  Claassens, was klein so versot op padkos soos hul Oupa. Daar was amper in kompetisie in die motor oor wie eerste die groot vraag gaan opper.

Vir “groot etes” is by Ultra-Cities en daardie klas geriewe stilgehou. Ons soek dan ‘n tafeltjie onder ‘n koelteboom op. Die kos kom uit ons eie mandjie aan Tokkie se voete – nie uit die kitskoskombuise nie. Vir versnaperinge wat ry-ry geniet word, word lappies en plastiekbakkies ingepak. My vrou hou nie van krummels in ‘n kar nie!

Ek verwonder my nou nog oor wat alles iemand soos Tokkie in die beperkte voetspasie aan die passasierskant van die motor kan huisves. Tot die kindertjies se strandemmers is soms daar ingedruk.

By geleentheid, jare der jare gelede,  het die omvang van die uitdyende “voet-bagasie” ‘n ligte irritasie by haar veroorsaak. Ek onthou ‘n keer toe ons ons met n motor wat kreun onder al ons vakansie-bagasie by ‘n rylopende weermag-outjie in uniform verby is.

“Stop en laai hom op,” gebied mev. Van D.

“Waar moet hy sit?”

“Sommer ook nog hier by my voete!”

‘n Padkos-kultuur wat ek in my later jare eers leer ken het, behels dat jy by jou bestemming moet aankom met ‘n voldoende voorraad om jou gashere te laat verstaan jy is nie sommer ‘n elkedagse hierjy nie.

Lydia, ‘n Sotho wat in lewe by ons gewerk het, was ook van Paul Roux, soos Tokkie se ma, Marietjie, en my Oom Danie-hulle. Elke tuisbesoek per “Shosoloza Meyl” was ‘n uittog waarvoor dae voor die tyd hoenders gaargemaak is: twee vir die reis en twee vir die uitklim.

Lydia se padkos het vir my heerlik gelyk. Ek is net bevrees: as ek sou saamry, sou vir die uitklim niks oorgebly het nie!

 

SCOOP VAN NIGGIEMOORDE: PAD NA DIE VOORBLAD


Aan een ontslape kollega het ek toenemend gedink terwyl die promosie van die nuwe Kyktnet-TV-reeks oor die raaiselagtige niggiemoorde van 1966 op Odendaalsrus stoom opgetel het.

Chris (Molie) Moolman (foto), destyds Goudveldse verteenwoordiger van Die Volksblad, sou beslis die reeks met ‘n arendsoog gevolg het. Die storie oor die moorde was destyds sy scoop.

Wanneer die reeks “Niggies” vanaand afskop, sal die kranige oud-redakteur van Rapport en Oosterlig, oud-assistent-redakteur van Die Volksblad en Die Burger en Londense verteenwoordiger van die koerante van die Nasionale Pers in die 70’s egter nie een van die kykers wees nie. Hy is reeds in Oktober 2020 op 79-jarige leeftyd heen.

Ek was hoofsubredakteur van Die Volksblad toe die 12-jarige Petro Nel en Issy Fourie se lykies destyds in ‘n verlate gebou op Odendaalsrus gekry is. Hulle het spoorloos verdwyn nadat hulle by die munisipale swembad gaan lyf natmaak het. Albei was verkrag en wreed vermoor.

Molie het die storie op sy gewone oggendrondes by die speurhoof in Welkom opgetel, Binne ‘n uur was ‘n deeglike verslag op die nuusredakteur, Oom Gert Terblanche, se lessenaar. Ek was gewaarsku om op die voorblad voorsiening te maak.

Soos die grusame moorde oor die weerlose meisies skokgolwe deur die gemeenskap gestuur het, was dit ook by koerant iets groots. Die Goudveldse oplaag is verdubbel. Bestuurder-redakteur Hugo Dreyer het in een van sy seldsame besoeke skielik langs my lessenaar opgedoem om  ‘n onnodige opdrag in een woord oor te dra: Baniertjie. ‘n Banier sou die storie inderdaad wees – dws onder ‘n opskrif wat oor die hele blad strek.

Die etiket “niggie-moorde” is daardie dag aan ons subtafel gebore. By geleentheid is dit ook die “murasiemoorde”genoem, Die gebou waar hul lykies gekry is, was maar bouvallig.

Hope berigte het oor die moorde verskyn. Vir 18 jaar is egter geen leidraad gevind nie. Uiteindelik, in 1984 – 19 jaar later – het een van die die verkragters ‘n selmaat in die tronk in sy vertroue geneem. Johan Theron en Diederick Steenkamp verskyn toe op 27 Maart 1984 op aanklagte van moord en verkragting in die hof op Odendaalsrus.

Weer was ek by die hantering betrokke. Ek was toe redakteur. Die opdrag oor aanbieding onder ‘n banier het die keer van my na hoofsubredakteur Nols Nieman gekom.

Theron het skuld beken op die verkragting van een van die niggies, maar het gesê dat hy hulle nie vermoor het nie. Steenkamp het ‘n alibi gehad en is later vrygespreek.

Theron se ouer broer, Barend, was die eintlike belhamel agter die treurspel. Hy was ‘n man met ‘n reuse- selfbeeldprobleem. Sy een hand was gebreklik en hy het dit altyd met ‘n kous bedek. Almal was bang vir dié gewelddadige bullebak wat drank en dagga misbruik het.

Hy was egter reeds oorlede. In 1976 het hy uit die derde verdieping van die Cecil Hotel in Bloemfontein gespring, kop eerste. Hy het seker gedink hy vat sy geheim saam graf toe. Toe nie. 

Sien minder