HULDE AAN “NANCY O”

IMGMy hulde vandag by die viering van kollega Nancy Oosthuysen se lewe by die Durbanville-gedenkpark:

“Nancy was Jan se vrou Nance, sy was Marina en Elsabe se ma Nancy, sy was Fred se skoonma Nancy, sy was Lexi en Christian se ouma Nancy. Sy was ook die Volksblad-familie se kollega Nancy.  So deel van die koerant, soos ink en papier, soos Nissa Vosloo dit sekuur stel. Opregte waardering dus vir die uitnodiging om haar vandag ook uit hierdie perspektief – die pers-perspektief – met ‘n laaste eresaluut te vereer.

“Hoekom heg ons koerantgarde aan Nancy Oosthuysen soveel waarde? Natuurlik oor ‘n marathon-loopbaan vol onderskeidings.  Sy het net bly inploeg en inploeg, al doer uit die jare 50. Ons eer haar ook vir iets anders: haar magnetiese manier om in almal se harte te kruip. Sy was ons kameraad. ‘n Rotsvaste steunpilaar. ‘n Warm uitreik-mens wat jou altyd sommer net laat voel het: die ondermaanse is darem ‘n gawe plek om te vertoef!

“Nà ‘n skof van meer as 30 jaar se uitblinker-diens onder die Volksblad-sambreel het Nancy in 1996 afgetree. Op 2 Mei 1996 het ek uit die Kaap vir haar in ‘n brief geskryf: “Die Volksblad sal nooit weer dieselfde wees sonder sy sakformaat-generaaltjie in ‘n warm stoel in die subkantoor nie.” Ek het bygevoeg, en ek haal net twee of drie paragrawe aan (want Nancy was nooit lief vir lang gedermtes en lastige oorlope nie!):

“ ‘Mense soos jy is die Pers se sout van die aarde wat hom help bring het tot sy hoogtes vandag. ‘n Mens wens jy kon jou loopbaan statisties in perspektief plaas deur byvoorbeeld te weet hoeveel trefferkoppe (vir die oningewydes: dis opskrifte) oor die jare uit jou vrugbare pen gevloei het; hoeveel voorblaaie met impak uit jou skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld jy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel kollegas jy  …  (hierdie is belangrik) … ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het.

“‘Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld van jou diens bied. Ons groet ‘n kollega soos min –  klein van gestalte maar groot van formaat.’

“Amper ‘n kwarteeu het verloop. As ek vandag vir Nancy weer ‘n tot-siens-brief moes skryf, sou ek vrymoedig alles in daardie skrywe van Mei 1996 kon herhaal.   ‘n Sterk naskrif sal egter moet bykom.

“Ja, inderdaad,  Nancy O – my kodenaam vir haar – was knap, dinamies, lojaal, propvol idees, deurgaans hardwerkend, pligsgetrou, kordaat, ferm en verbind tot kwaliteit – “alles wat ‘n mens van ‘n joernalis kan verwag”, soos ek in Media24 aan haar hulde gebring het.  Maar Nancy was meer as net die somtotaal van hierdie lys voortreflikhede.

“Sy was ook ‘n uiters meelewende mens. Al was sy amper al 25 jaar uit die tuig en volgens woordeboek-definisie ‘n veteraan, het haar belangstelling in die koerant en sy mense – háár ander familie  – nooit verflou nie. Die wel en wee van ‘n tros waarderende oud-kollegas – jonk en oud – het sy tot die einde met deernis op die hart gedra. Selfs kinders en kleinkinders van kollegas het sy gekoester.

“n Tydgenoot, die letterkundige Jaap Steyn, ‘n verbete vrygesel, het haar in sy boek “Sonkyker” beskryf as “beeldskoon” en “immergroen”.  Die liewe Jaap kon, terloops,  gerus eienskappe soos “sprankelend”, “stralend”, “pikant” en “sjarmant” bygevoeg het, maar uit die lierwe kollega se mond kom, bygesệ, nie dikwels romantiese vleitaal nie.

“Ek leen by hom die beskrywing “immergroen” Nancy was een van daardie immergroen-mense met soveel energie, lewensdrif en hartlikheid (soms ook ‘n tikkie ondeundheid en parmantigheid!)  dat jy vermoed het sy het die geheim ontrafel om vir altyd jonk en fleurig te bly.  Helaas bly daardie geheim onontrafel en ‘n ewige jeug ‘n onbereikbare droom. Die sware dag het onvermydelik aangebreek. Op ouderdom 84 moet ons ons swaargewig-buks vir oulaas groet.

“Verskeie generasies is by hierdie gelentheid verenig daarin dat die vlag in hul harte uit liefde en respek halfstok hang. Dit sal vir lank nie weer vrolik kan wapper nie”.

 

 

 

 

“OORLOG” OP MELODY SE DEK

Kaptein Pinto

Kaptein Pinto

“Hennie van Deventer volg die spoor van die Melody deur gevaarlike waters  langs die Oos-Afrikaanse kus.” So word vanoggend op Media24 se boekeblaaie berig in ‘n kort bekendstelling van my boek “Na verre hawens”. Ek wonder hoeveel mense onthou die seerower-aanval op die Melody in 2009.

Die huidige gesagvoerder van die Musica, kaptein Ciro Pinto, was destyds in beheer van die Melody. Hy het laataand – toevallig juis oor die onwaarskynlikheid van seerowery in die geweste – met Suid- Afrikaners by ’n kroeg sit en ginnegaap toe twee verskrikte passasiers aangehardloop kom met die skoknuus: “Ons word deur seerowers aangeval!”

Die ongeloof was groot. Die verrassingsaanval was ’n verbluffende 1 000 seemyl (sowat 1 850 kilometers) van die Somalilandse kus af. Die twee het voet by stuk gehou. Hulle het hortend vertel van ’n snelboot by die boeg, en van dapper passasiers se stryd om die vasberade aanvallers af te weer.

Kaptein Pinto het toe alarm gemaak. Hyself het na die brug gehardloop waar hy die kluis oopgesluit en pistole aan die Israelse veiligheidsmanne aan boord oorhandig het. Die seerowers het blindelings met hul handgranate en AK 47’s op die skip losgebrand. Die Israelse veiligheidsmanne het teruggeskiet.

Dit het soos “oorlog gevoel”, vertel kaptein Pinto. ’n “Honderd koeëls” het om die koppe van die veiligheidsmanne gefluit. ’n Veiligheidsman het ’n ligte kopwond opgedoen en ’n passasier is in die been getref. ’n Reddingsboot asook talle patryspoorte is stukkend geskiet. Die kort, hewige skermutseling is deur die veiligheidsmanne en passasiers gewen. Die aanvallers is verdryf en later aangekeer.

Een van die passasiers op die MSC Melody tydens die aanval was mev. Ria Schutte van Danabaai, by Mosselbaai. Haar vertelling laat jou hare rys. Die tumult het losgebars terwyl die meeste passasiers op ’n binnedek na operasangers sit en luister het, vertel sy. Eensklaps het geweerskote met die applous gemeng. Die gehoor het net vuurvonke gesien soos die aanvallers met handgranate en AK 47’s op die skip lostrek.

Haar man, Koos, het dadelik gesnap wat aan die gang is. Hy skree toe vir die gehoor: “Val plat, down, down.”

Passasiers moes dringend na hul kajuite terugkeer en is beveel om geen ligte aan te sit nie. Hulle trek toe maar sweetpakke en hul oranje reddingsbaadjies aan en wag … Sy gryp net haar pêrels, ID-boekie, ’n bottel water en jamaikagemmer vir naarheid as vlug in die reddingsbote hul voorland sou wees.

Die nag het verder rustig verloop. Die oggend loer Koos versigtig by die deur uit. “Meneer kan maar gaan ontbyt eet,” stel een van die kajuitpersoneel hom toe gerus. Die volgende middag het ’n Spaanse oorlogskip en ’n helikopter hulle verder tot by die Suez kom begelei. Daarna is saam met ’n vliegdekskip gevaar. Die ervaring was nogal “skrikwekkend”. Sy sal nietemin graag weer daarheen gaan. Dit verstaan ek maar te goed. Dis ‘n opwindende vaart.

Dat die bedreiging aan die bemannning van die Musica vat en vir hulle spanning inhou, kon ’n mens egter agterkom, veral aan die senior offisiere. My eie direkte ervaring was as lid van die sogenaamde “MSC Voyagers Club” (passasiers wat voorheen al op ’n MSC-skip gevaar het). Ons is deur kaptein Ponti genooi vir ’n formele welkom-terug-skemerkelkpartytjie op Donderdag 9 Mei in die deftige Crystal Lounge.

Ons gasheer daag toe nie op nie, omdat ons in ’n “sensitiewe area” is en “belangrike sake” op die brug sy aandag vereis. So is ons meegedeel. Die waarheid is natuurlik dat hy op waak was oor moontlike verdagte bewegings in die gevaarlike waters.

ONS GROET ONS GENERAALTJIE

‘n Mens wens jy kon haar loopbaan statisties in perspektief plaas: deur byvoorbeeld hoeveel voorblaaie met impak uit haar skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld sy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel jonger kollegas sy ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het. Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld bied van haar diens aan Volksblad.  Terwyl van sulke dinge nie boekgehou word nie, moet jy egter maar op aanvoeling staatmaak. Myne sê vir my ons groet ‘n kollega soos min, klein van gestalte maar groot van statuur.

Van Nancy – wat  vandag  op 84 oorlede is  – het oud-kollega Jaap Steyn in sy biografiese werk “Sonkyker” geskryf dat die koerant-cliches van “immergroen” en “beeldskoon” haar tot aan die einde van haar loopbaan sou pas.  Jaap was nie verkeerd nie. Hy het net die tydsduur onderskat.

Al was sy amper al 25 jaar uit die tuig en volgens woordeboek-definisie ‘n veteraan, was sy een van daardie immergroen-mense met soveel energie, lewensdrif en hartlikheid dat jy vermoed het sy het die geheim ontrafel om jonk te bly. Haar belangstelling in die koerant en sy mense – haar mense –  het nooit verflou nie. Die wel en wee van ‘n tros waarderende oud-kollegas – selfs enkeles wat nou nog in diens is – het sy tot die einde met deernis op die hart gedra.

Dit was vir die Van Deventers ‘n vreugde om die laaste klompie jare hier in die Kaap die Bloemfonteinse konneksie voort te sit. Ons het altyd in ‘n gees van kollegialiteit lekker saam met die Oosthuysens gekuier en herinneringe oor die goeie ou dae opgediep. Die leemte sal lank ‘n diep seer wees.

WERKLIKE JAAGDUIWELS

Oor jaagduiwels in die Krugerwildruin het ek nog ‘n woord op die hart.

Dit is opvallend waar die snelstrikke opgestel word. Meesal laatmiddag op pad uit naby die groot hekke. Lekker inkomstetjie uit toeriste wat aanstoot om betyds by die hek te wees. Ek praat hul vinniger ry nie goed nie, maar hierdie mense is nie die primere jaagduiwels wat kameelperde, jagluiperds, hienas, koedoes, impalas en ‘n rits kleiner diertjies doodry nie.

Stel ondersoek in waar word die meeste gejaag, wie jaag die meeste, hoe vinnig jaag hulle werklik, en waar kom die meeste diere-ongevalle voor. Dan hoort die snelstrikke op ander tye op ander plekke as op diie oomblik om by die wortel van die kwaad te kom.

DOOD OP DIE WILDTUIN SE PAAIE

IMG_2109-001 (1)Altyd hartseer as ‘n dier in die wildtuin deur ‘n roekelose bestuurder doodgery word,. Gewoonlik is dit die kleintjies – patrysies, skilpaaie, dwergmuishondjies en die – wat platgetrap word. Ook groter diere bly in die slag – soos die kameelperd nou.

‘n Keer in 2012 het ‘n afleweringswa teen hoe spoed ‘n motor verbygesteek en by Skukuza in ‘n troppie impalas ingeploeg. Sewe is dood. In dieselfde tyd het besoekers op ‘n luiperd in ‘n plas bloed in die middel van ‘n teerpad afgekom. Ook doodgery. Gerugte het sterk geloop dit was die een of ander hoe besoeker se voertuig. Hy het nie eens stilgehou nie. Die insident is doodgeswyg.

Op 7 Mei 2014 was ons op pad om in Onder-Sabie te gaan stem (minder besige stembusse as Skukuza s’n) toe ons skielik die flenters polisiebakkie op die foto voor ons sien. Haastige diender gewees. Blykbaar soos ‘n besetene van Krokodilbrug se kant gejaag om “orde by die stembus te handhaaf”. Toe tref hy ‘n olifant.

Die bestuurder van die voertuig wat die sewe impalas doodgery het, is lewenslank uit de wildtuin geskors. In die algemeen word oortreders na my oordeel egter veels te sagkens behandel – veral die verduiwelse taxi’s wat met soveel minagting vir die natuur en natuurliefhebbers doodsveragtend van bestemming tot bestemming jaag.

AS “WANDERLUST” PAK

na_verre-hawens‘n Gesellige lekkerleesboek gekenmerk deur ‘n vloeiende skryfstyl, fyn waarnemings en beskrywings, soos verwag kan word van ’n joernalis met ’n leeftyd van skryf agter hom. So beskryf my jarelange kollega met ‘n “verbete wanderlust” in sy bloed, Sarel Venter, my nuwe boek “Na verre hawens”  (Naledi, 2019)  in ‘n heerlike saamgesels op Litnet.  Geniet ook die humor, voeg hy by.

Sarel skryf:

“Beskrywings van reise na verre lande en hawens het my van my kinderdae af bekoor. Ek was nog in die laerskool toe ek Daar ver oor die see deur “Tannie” op my moeder se boekrak ontdek en byna verslind het danksy ’n verbete nuuskierigheid en ’n honger wanderlust. “Tannie” was die skuilnaam van H van Heerden. Sy vertel van ’n reis per skip, byna ’n eeu gelede, van Kaapstad na Europa. Dié kosbare boek met foto’s is in 1929 deur Nasionale Pers uitgegee en word as Africana gereken.

“My wanderlust is verder aangewakker deur vertellings van my oom wat as soldaat in die Tweede Wêreldoorlog per skip van Durban af deur die Suezkanaal na Egipte en later Italië gevaar het … en na die oorlog veilig teruggekom het.

“Sulke reisbeskrywings, veral per skip, is gewilde leesstof by hierdie leunstoelreisiger, en laat by my die ou kinderliedjie opduik: “Eine Seefahrt die ist lustig, eine Seefahrt, die ist schön, denn da kann man fremde Länder und noch manches andere sehn. Hol-la-hi, hol-la-ho…”

“Hennie van Deventer se hoogs leesbare blogs oor verskeie reise wat oor sowat vyf dekades per skip onderneem is, het nou ’n boek geword; ’n boek wat geroep het om “te water gelaat” te word. Na verre hawens – sy jongste (en negentiende) boek – het pas by Naledi verskyn.

“Toe seereise op luukse skepe langs die Suider-Afrikaanse kus alledaags begin word het, het ek ook vir my en my vrou op so ’n vaart van Durban na Maputo en verder met die Sinfonia bespreek, maar ons skip het nie gekom nie weens onvoorsiene siekte. My belangstelling in hierdie reise het nie afgeneem nie en ek het ontdek dat ’n mens op die internet kan gaan kyk waar die skepe hulle bevind. Probeer dit gerus. Tik byvoorbeeld “Where is the Sinfonia now?” op Google in en jy kry ’n blik op die wye oseaan en byvoorbeeld die skip se swembad uit ’n kamera hoog op die skip, of sien self hoe lyk die omgewing van so ’n skip waar dit in ’n hawe vasgemeer is.

“Met die tik hiervan was die Sinfonia by Santorini in Griekeland en op die punt om na Split in Kroasië te vertrek.

“Met nostalgie, en ook met humor, vertel Van Deventer van byna elke reis – met vaartuie oor die spektrum: van die klassieke en weelderige Queen Mary 2, van gesellige vakansieskepe, plesierbote, veerbote, rivierbote, jagte, skeertuie, motorbote; ook van doodgewone skuitjies. Maar kom ek deel ’n paar lusmakertjies met voornemende lesers:

  • Die Pendennis Castle, die kroonjuweel van die Union-Castle-vloot: Hierdie reis van Kaapstad na Durban in 1970 was die Van Deventers se nooiensvaart. Hy vertel met nostalgie en ook met humor van hierdie vaart. Maar tien jaar later is “ons skip” in ’n Taiwannese hawe afgetakel. Seker die lot van byna elke skip wat nie onder die golwe verdwyn nie. Gereduseer tot ’n hoop afvalmetaal. Stof tot stof, swierigheid tot skroot.
  • Die Sinfonia klink na die Van Deventers se gewildste skip waarmee ’n hele paar reise onderneem is – voordat die weelde-vaartuig middeldeur gesny is om ’n stuk skip so groot soos ’n woonstelgebou in te las! En weer die oseane aan te durf … Met hierdie skip het hulle ’n byna sentimentele verhouding opgebou.
  • Die Sinfonia-vaart met hul tweeling-kleinseuns, wat toe 5 jaar oud was, staan uit, en gee soveel plesier. Van Deventer skryf: “Die sorgvrye ure saam met die kinders op die dek sal dié oupa vir niks verruil nie”. En verder: “Die driemanskap Jacob, Thomas en die Sinfonia was ’n Dit het ons elke oomblik laat voel dat die ondermaanse ’n salige plek is om op te vertoef.”
  • Die reis van 22 dae op die Queen Mary 2 – van Kaapstad oor Durban, Mauritius, Fremantle en Melbourne na Sydney – was onvergeetlik en ’n groot deel van die boek handel oor wat op so ’n droomvaart op jou wag. ’n Pluspunt van hierdie boek is dat die skrywer nie net van al die voortreflike dinge op die skip vertel nie, maar waar moontlik ook uitbrei oor die besienswaardighede van die “verre hawens” waar die skip aandoen. ’n Reis op die ontsagwekkende Queen Mary 2 word ’n voyage en nie ’n cruise nie genoem. Mindere skepe, selfs groter as die Queen Mary 2, is vakansieskepe, nie ocean liners nie.
  • Twee ander lang reise waarvan Van Deventer vertel is dié met die Opera langs die weskus van Afrika, deur die Straat van Gibraltar en die Middellandse See na Malta (’n besondere ervaring wat gelees moet word) en toe verby Griekeland na hawens langs die mooie Adriatiese See tot by Venesië. Later volg die vaart wat hy hul laaste seereis noem met die Musica van Durban na Venesië oor Reunion, Mauritius, die Seychelle, Aqaba (deur waters met die risiko van seerowery), Katakolo in Griekeland, Montenegro en Split in Kroasië. Die vaart deur die Suezkanaal met woestyn aan weerskante was dalk die aanloklikste hoogtepunt. Die hoofstuk oor die vaart deur die Suezkanaal is self ’n uiters insiggewende deel van die boek.
  • Waardevolle raad en wenke aan toekomstige seevaarders word in hierdie boek gegee. Onthou, dit is ’n gesoute seereisiger wat aan die woord is. Na al die seereise en ervarings kan Van Deventer met gesag praat oor die vereistes wat aan liggaam en gees gestel word, fiksheid, gesondheid, gerief, vasbyt in versoekings van oorvloedige kos en lekkernye, privaatheid, versterking van gesinsbande, begroting vir ’n reis, ens.

“Hierdie gesellige lekkerleesboek word gekenmerk deur Van Deventer se vloeiende skryfstyl, fyn waarnemings en beskrywings, soos verwag kan word van ’n joernalis met ’n leeftyd van skryf agter hom. Geniet ook die humor, soms op homself gerig. Net jammer dat die boek nie meer foto’s bevat nie.”

Dankie, Sarel.

(‘n Vinnige, maklike  manier om ‘n boek te bekom, is by www.naledi.online. Die kontakpersoon is Tertia Swart (tertiaswart@naledi.online, selno. 078 648 8616. Die boek kos R200. )