MNR. AFRIKANER IN WAGKAMER BY PATOLOGIE

Die pasiënt lyk vaag bekend toe hulle hom, taamlik verwese en met ‘n stapel papiere vasgeklem in sy be-aarde hand, in ‘n rolstoel by die hospitaal se afdeling patologie instoot.
Ek knoop ‘n geselsie aan en hy bevestig my vermoede: Hy is “Die Afrikaner”.
Sy tong hang behoorlik uit, deel hy my mee. Elke spesialis van elke dissipline was die laaste ruk oor hom (soos ‘n vorige generasie mos gepraat het). Brein, hart, longe, niere, dikderm, spiermassa – niks ontsnap die intense aandag van die deskundiges nie
Hy was al in die teater vir ‘n reeks biopsies, by die X-strale, by elke denkbare skandeermasjien – selfs by die gastroloog en dieetkundige. Nou is hy met die spul papiere hierheen gestuur. Kyk, oral is net regmerkies. Daar is geen bloedafwyking aan die wetenskap bekend nie of hy moet daarvoor getoets word.
Dat iets met hom skort – dit het hy nou al uit vele monde met groot erns verneem. Maar wat presies? Elke dokter het sy of haar eie teorie en verkondig dit met breedsprakerige vertroue as die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie. Soveel ghoeroes, soveel diagnoses. Ai tog.
Op daardie oomblik verskyn ‘n suster met ‘n spuitnaald en wink dat hy nader gebring word met die oog op die verdere ontledings wat wag. Arme ou. Ek voel die deernis in my opwel toe hy kopskuddend agter die gordyn verdwyn.
Om darem dag vir dag so van kop tot tone onder die vergrootglas te kom, moet die liggaam en die gees uitermate vermoei. Om uit soveel oorde soveel oordele te moet verneem oor wat alles aan jou onwel is, moet elke sterfling diep beproef.
Raai, vir my lyk hy toe nie eens so verskriklik siek soos hulle maak nie. Duidelik ge-stres is hy oor al die “uitdagings” (moderne kodewoord vir hengse probleme) op sy pad), maar darem nie so vol bose kwale dat dit hom so ‘n uniek jammerlike wese maak, soos sommige verkondig nie.
Dis nou maar my beskeie straaltjie. Maar nou-ja, laat ek bieg dat ek geen ekspert van enige aard is nie, en dat die kort geselsie daar in die wagkamer boonop by my nogal ‘n affiniteit vir die ou bokker gekweek het. Ek is dus nie onbevooroordeeld nie.
Sterkte, mnr. Afrikaner, vir die spul bloedtoetse. Hoop hulle kry genoeg are om bloed uit te tap. Maar moet nou darem ook nie te veel “worry” oor die uitslae nie, wat.

‘n JONG TWEELING SNEUWEL SAAM


Dalk die hartseerste van vele verwante hartseerstories. Dit was die dood vroeg in Januarie 1982 van die identiese Kruger–tweeling van Universitas,  Bloemfontein, Ockert en Pieter (19), wat saam in ‘n operasie in die Grensoorlog in Angola gesneuwel het.

Ockert is op slag dood. Pieter het hom in die vliegtuig doodgebloei. Die twee, die laatlammetjies van hul ouers, was die vorige jaar in matriek aan die Greykollege. Op die Netwerk24-foto is hulle in hul skoolkleurbaadjies.
Ná die tragedie is militere beleid verander sodat tweelinge nie daarna weer in een voertuig ontplooi is nie.
Hul ouer suster Piekie Halgryn het gister in ‘n roerende plegtigheid by die gedenkmuur by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein ‘n krans vir haar boeties gelê, lees ek op die Volksblad-landingsblad van Netwerk24 in ‘n berig deur Charles Smith.

Ek was in die 80’s by Die Volksblad. Charles se berig wek herinneringe aan die talle berigte oor slagoffers van die bosloorlog destyds in die koerant – altyd op die voorblad, dikwels hoofberig, meesal op die plakkaat. Die Kruger-ongeval het geweldige skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, onthou ek.


‘n Probleem wat ons by die koerant nogal meermale gehad het, was dat die dood van ‘n slagoffer via hul naastes al in die gemeenskap bekend was, maar nog nie deur die weermag aangekondig is nie omdat alle prosedures nog nie afgehandel was nie. Ingevolge veiligheidswetgewing was ons hande gebind; ons moes wag vir die aankondiging voordat ons kon publiseer. Van ons lesers kon nie verstaan hoekom die koerant in hul oë sy voete so sleep nie. Die beperkende wetgewing was vir ons ‘n irritasie, om dit sag te stel.

Die dood van die Krugerseuns vind ook by my weerklank as oupa van ‘n tweeling (nou 21). Ek weet goed dat my lewe nooit weer dieselfde sou wees as hulle op brose ouderdom 19 uit my lewe weggeruk sou word nie. Sou ek ooit ophou huil het? 

STORIE AGTER DIE LIED

Die interessante voorgeskiedenis van die trefferliedjie “Ek verlang na jou” is gister op Facebook ontrafel n.a.v. ‘n plasing deur my oor ‘n onderhoud wat ek in die 70’s met die bekoorlike sangeres Sonja Herholdt gevoer het.

Daarin het ek vertel hoe Sonja die lied by studente op ‘n KJV-kamp gehoor het, dit vir haar geliefde, FC Hamman (haar latere eerste man), gesing het, en hulle twee dit toe in ‘n selfgeskepte ateljee in sy woonstel in Aucklandpark verwerk het. Later het sy daarmee haar eerste Sarie van ‘n handvol verwerf.
Die voorgeskiedenis van die lied wat sy by die studentegroepie gehoor het en wat dadelik op haar indruk gemaak het, is nie wyd bekend nie. Danksy veral die Facebook-bydraes deur die sanger Nelia Frans Briel, Carl Pistor en Johan Bezuidenhout kan ek nou die chronologiese verloop, redelik waarheidsgetrou dink ek, hier weergee. Hopelik bereik die inligting iemand by Wikipedia, waar ‘n bywerking klaarblyklik nodig is.
Om voor te begin: “Ek verlang na jou” is geskryf deur Jan de Wet, waarskynlik terwyl hy  na sy meisie in Suidwes verlang het. Dit word opgeneem deur Nelia Frans Briel en Anita Briel, seun en dogter van die legendariese singende egpaar Frans en Sannie Briel, op die album “Hello-A” onder die name Boet en Sus. Luister: https://www.youtube.com/watch?v=3XM_phVy3OA
Terwyl FC Hamman vroeg in die 70’s vir vyf of ses weke saam met Gordon Vorster in die Kalahari is om die rolprent “Sarah” te verfilm, hoor sy op ‘n KJV-kamp ‘n groepie studente “Ek verlang na jou” sing. Sy gaan sit toe en skryf vir FC ‘n minnebrief – niks anders nie as net die woorde van die liedjie. Toe FC terugkom, sing sy die liedjie vir hom. Hy dink dit is “baie mooi” en verwerk dit toe vir die rolprent in ‘n saamgeflansde ateljee in sy woonstel wat hy en Sonja met elerdosles uitgeplak het en met klanktoerustinq wat hulle op “vreeslike skuld”” gekoop het. In Januarie 1975 word “Sarah” uitgereik.
Sonja wat pas begin skoolhou het, laat haar teensinnig ompraat om op Potchefstrom in die voorprogram vir
Gwynneth Ashley Robin – wat later in ‘n vliegongeluk dood is – ‘n paar liedjies te sing. Een is “Ek verlang na jou”. Die gehoor is gaande.
Die volgende stap is om “Ek verlang na jou”” op plaat te sit. Toe sy en FC by die platemaatskappy kom, hoor hulle vir die eerste keer die liedjie is reeds drie jaar tevore deur Boet en Sus opgeneem. Hare klink darem toe darem heelwat anders – veral die koorgedeelte is geheel verander – en die maatskappy willig in. Dit word opgeneem op ‘n enkelsnitplaat (“seven single”) saam met “Waar gaan jy heen?”.
Die plaat verkoop soos soetkoek en die oorstelpte Sonja wen ‘n Sarie daarvoor in 1975. In 1976 verskyn dit op die vollengte-album ”Sonja”.Daarvan word 60 000 verkoop. Dit is dan die hele storie.
Naskrif: Ek beklemtoon graag dat Sonja nooit te kenne wou gee dat sy en FC Hamman die lied geskep het nie. Die feit dat dit tevore deur Boet en Sus opgeneem is, het sy uitdruklik in die onderhoud genoem.

SPRANKELENDSTE SONJA

So is die rubriek aangebied, met my en Sonja se foto’s; hare darem groter as myne.

Nou moet ek versigtig trap, ek weet, maar ek wil tog waag om dit op skrif te stel: dat Sonja Herholdt die borrelendste, opgewekste, sprankelendste en ongekunsteldste mens is met wie ek ooit ‘n onderhoud gevoer het.

Sonja word vandag in “Die Burger” se lekker rubriek ”50 Jaar gelede” vermeld vir die Sarie wat sy in 1975 – toe ‘n bloedjong Oos-Randse onderwyseres  – met haar eerste treffer “Ek verlang na jou” verwerf het. Die weghol-sukses van die lied het die einde van haar onderwysloopbaan beteken, en sy het een van die voorste Afrikaanse sangers van ligte liedjies geword met ‘n loopbaan vol hoogtepunte. Dink maar aan “Jantjie”.

Ek het vir die “Beeld”-rubriek “Onder Vier Oë” met Sonja gaan gesels – vernaamlik oor haar sangloopbaan. Die gesprek het wye draaie geloop,  tot by haar hare, haar klerekas, haar liefdeslewe, sommer baie ander dinge . Oor elke onderwerp het sy openhartig en entoesiastiers geborrel.

Kroeskop-krullebol: drie dae trane gestort hieroor.

Oor die hare het sy vertel hoe sy drie dae lank gehuil het nadat ‘n haarkapster dit tot ‘n krullebol-kroesies konfoes het.  Lank was dit ‘n hele petalje (tot twee ure soms) om voor elke vertoning die hare reg te dokter sodat Sonja soos die ou Sonja lyk: die vars plaasmeisiebeeld waarop sy gesteld was.

Ook met haar klere was daar ‘n beeldprobleem. Ontwerpers wou haar na haar sin te sexy laat lyk. Sy het soberder, sagte vloeiende lyne verkies.

Met “Ek verlang na jou” het sy kennis gemaak by ‘n groepie studente wat dit op ‘n KJV-kamp gesing het.  Dit het haar “nou eers vreeslik” laat verlang na haar studentekêrel (en eerste man), FC Hamman, op wie sy baie verlief was.  Hy was toe in die Kalahari besig om aan die rolprent “Sarah” te werk,

Sy gaan sit toe en skryf vir FC ‘n briefie – niks anders nie as net die woorde van die liedjie: “Ek verlang na jou / Na die winde wat sy arms om my vou / So verlang ek as die son en die maan en die wind en die wolke oor my gaan / Verlang jy ook na my? / Daar waar jy nou in die verre lande bly / En verlang jy as die son en die maan en die wind en die wolke oor jou gaan?”

By sy terugkeer het sv die liedjie vir hom gesing. Hy het gedink dit is “baie mooi” en het dit toe vir “Sarah” verwerk. FC se woonstel in Aucklandpark het hulle “onwettig” in ‘n ateljeetjie omgeskep. Die hele plek het hulle met elerdosles uitgeplak. In een muur het hulle ‘n gat geslaan en’n venster ingesit, Daarna het hulle “op vreeslike skuld” hul eie klanktoerustinq gekoop en aan die werk gespring. En daar is die uiteindelike “Ek verlang na jou”, soos ons hom ken, eintlik gebore.

Sober, sag en vloeiend – dis sy, glo Sonja.

Die mense se reaksie op haar debuutlied was net ongelooflik. Van die plaat is 60 000 verkoop.  Toe sy vir die Sarie benoem word, was dit vir haar ‘n yslike verrassing. “Ek het dan net begin sing.” Toe haar naam die aand uitgelees word, was sy so oorstelp dat sy in trane uitgevars het. Maar ‘n naam is gevestig wat 50 jaar later steeds wyd bekend is. Nou ook op my blog.

Oor baie ander dinge het ek en Sonja gesels.  Uiteindelik in twee onderhoude oor twee dae. Dit was ’n uitvoerige rubriek. Net een ding wil ek egter nog graag noem: van die plesier wat sy geput het uit hope briefies van jong bewonderaars oor watter inspirasie sy vir hulle was.  Die een briefie wat haar behoorlik laat borrel het, was van die premier, John Vorster, en sy vrou, Tini.  Hulle het haar bedank dat sy vir hul kleindogter Martelize Kolver ‘n inspirasie was.

Martelize Kolver?  Ja, die einste wat ons later oor die radio, die  verhoog en die TV-skerm leer ken het as ‘n ster uit eie reg. Ek wonder of sy van oupa en ouma se briefie weet.

 

TARZAN EN JANE

Soos Facebook se algoritmes nou maar werk, word by jou ‘n belangstelling bespeur en dan word jy toegegooi met verbandhoudende materiaal. ‘n Navraag oor ou flieks het ‘n vloegolf foto’s van aktrises op my losgelaat: Marilyn Monroe, Brigitte Bardot, Gina Lollobrigida, Sophia Loren, Elizabeth Taylor, Claudia Cardinale … Ek kla nie. Dis almal mooie meisiekinders gewees in my jeug. Welbehaaglik om hulle weer so in hul fleur te sien en so ses dekades gelede teruggevat te word toe ons almal nog jonk was.
Tussen die nooiens maak ‘n foto van ‘n bekende toentertydse paartjie ook op die onthoupad sy opwagting: Johnny Weissmuller en Maureen O’Sullivan as Tarzan en Jane in “Tarzan Escapes”. (1936). “Me Tarzan, you Jane.”Onthou julle die bekendstelling, diegene wat oud genoeg is?
Tarzan: watter opwindende herinneringe skep die beroemde oerwoudman in sy lendekleed nie by my nie? Nie net was verskeie van die eerste flieks wat ek in Kimberley se ou Plazateater in Transvaalweg gesien het, Tarzans nie, maar ook een van my eerste boeke was oor hom: Edgar Rice Burroughs se ”Tarzan, die aapman”. Dit was my beloning vir vlytigheid in een van die laer standerds aan Diamantveld in Kimberley. Nou’s dit skoonveld. Tokkie beweer dit het nie 59 jaar gelede saam met my in die huwelik gekom nie. Sluk maar moeilik daaraan.
Burroughs, ‘n Amerikaner, het sy eerste Tarzanboek half tong in die kies geskryf. Toe word sy karakter oornag ‘n fiksie-ikoon – een van die suksesvolste tot vandag. Uiteindelik het sy avonture 24 boeke in beslag geneem en in ‘n rits rolprente sy spiere gebult. Hy het ook ‘n strokiesheld geword in ‘n reeks wat wêreldwyd in koerante verskyn het. Die Tarzan-handelsmerk het talle produkte versier. Burroughs se “ranch” in Kalifornië is nou die buurt Tarzana in Los Angeles. So kan ‘n mens aangaan.
Burroughs het sy held as peuter-skipbreukeling aan die Afrikakus laat beland. Toe hy 18 was, ontmoet hy die Amerikaanse meisie Jane Porter wat saam met haar verdwaalde pa en ander in dieselfde stuk ongerepte oerwoud as Tarzan se ouers rondswerf. Die liefde vlam op daar in die wildernis. Toe sy terugkeer na die VSA verlaat hy (tydelik) sy tuiste om haar – sy enigste liefde – te gaan soek. Saam beleef hulle die wonderlikste avonture.
Met sy boeke en wat daaruit gespruit het, het Burroughs vir hom ewige roem en ook eretitels soos “die mensdom se invloedrykste skrywer” verwerf.
Ongetwyfeld die bekendste Tarzan was Johnny Weissmuller, ‘n Hongaars-gebore Duitser wat ‘n briljante swimmer en waterpolospeler was en met vyf Olimpiese medaljes, waaronder goues, in die swembad kon spog. Na sy uittrede as swemmer was hy tussen 1932 en 1948 in 12 Tarzanrolprente die man agter die beroemde lang Tarzankreet wat in al die Tarzanflieks voorkom.
Die sexy Maureen O’Sullivan was ‘n Iers-Amerikaanse aktrise wat ses keer teenoor Weismuller die rol van Jane vertolk het.

FUNICULI, FUNICULAAA!

Jamme, jamme ‘ncoppa, jamme jà /Jamme, jamme ‘ncoppa, jamme jà/ funiculì, funiculà! funiculi funiculà!/ ‘ncoppa, jamme jà /funiculì, funiculà!

So sing Mario Lanza gisteraand in U Eie Keuse op die radio.  Soos altyd wonder ek oor die herkoms en betekenis van die ou Napolitaanse gunsteling.  Hierdie keer gaan soek ek op Google. Waarlik ‘n lied met ‘n “pedigree”, ontdek ek toe.

Funiculì, Funiculà is in 1880 deur ene Luigi Denza gekomponeer. Die guitige lirieke in ‘n Italiaanse dialek is geskep deur ‘n joernalis, Peppino Turco. Die lied gedenk die opening van die eerste kabelspoor  (funiculare) op die berg Vesuvius in Italië.

Die Duitse komponis Richard Strauss is op ‘n Italiaanse reis ses jare na die ontstaan deur die lied bekoor Hy dag dis ‘n tradisionele Napolitaanse liedjie en sluit dit in by ‘n eie komposisie, Aus Italien. Denza het dit te hore gekom en Strauss oor skending van sy kopiereg gedagvaar. Strauss het die saak verloor en was verplig om Denza ‘n fris tantieme te betaal.

Van die top-sangers wat die lied deur die jare opgeneem het, sluit in Joseph Schmidt, Erna Sack, Beniamino Gigli, Luciano Pavarotti, Andrea Bocelli, Connie Francis en die groep The Chipmunks. Nogal ‘n indrukwekkend lys.

Ander Napolitaanse gunstelinge is klasieke treffers soos O Sole Mio, Santa Lucia en  Torna a Surriento wat veral deur Dean Martin bekend gemaak is.  O Sole Mio het ‘n Elvis Presley-weergawe: It’s now or never. Die verwantskap  het ek nie besef voordat ek vandag op Google daarvan gelees het nie. Maar natuurlik … neurie dit net.