Oct 19, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Arme redakteurs en ander bekleders van warm stoele in die media word van vele onheilighede verdink. Een is dat hulle daar in hul verhewe ivoortorings sit en hulleself telkens aanmatig om beslissings te vel oor watter wetsoortreders se name geplaas moet word en watter nie.
Hou die redakteur van iemand, beskerm hy hom / haar en verswyg die naam geredelik. Kan hy iemand nie verdra nie, boeta, dan is die naam voorbladnuus. By ‘n plasing van my oor die moord op die Overbergse skoolmeisie Deveney Nel en die naamloosheid van haar moordenaar weens sy jeugdigheid dui verskeie kommentare op die bestaan van hierdie wanpersepsie.
Synde iemand wat al in die vorige eeu sy kantoordeur finaal agter hom toegetrek het, sal die uwe hom nie uitgee as kenner van die heersende mediareg nie. Hy weet darem dat hedendaagse kollegas o.m. met wette soos die Strafproseswet, die Kinderwet en die Skeiwet rekening moet hou. Allerlei moets en moenies bestaan ook rakende plegers en slagoffers van seksuele misdrywe.
Uit eie ervaring kan hy met die kollegas simpatie betuig. Mense wat my ken, weet ek is nie onder die voorstes wat gister se dinge eenvoudig voor die voet afkraak nie. Maar dat daar hope wetsvoorskrifte – en ook allerlei koddighede – was, daarvan kan ek nie wegskram nie.
Vat nou maar die slagysters wat die uitgebreide arsenaal veiligheidswette van destyds vir koerante gestel het – van die Wet op Amptelike Geheime tot die Verdedigingswet. Dit was ‘n klas mynveld waarin ‘n koerant volgens bestaande veiligheidswetgewing byvoorbeeld ‘n foto van Oliver Tambo kon publiseer (omdat hy nie in die tronk was nie), maar hom nie kon aanhaal nie (omdat hy gelys was), terwyl hy van Nelson Mandela nie ‘n foto kon publiseer nie (omdat hy in die tronk was), maar hom kon aanhaal (omdat hy nie gelys was nie). Sulke kompleksiteite het die arme joernalis se verstand laat duisel!
Dave Dalling, Prog-LV vir Sandton, het in ‘n stadium in die Volksraad beweer dat daar agt redakteurs met vonnisse of aanklagte teen hulle is (HvD was een). “Die moeras van wetgewing wat die publikasie van koerante aan bande lê , maak misdadigers van Suid-Afrika se redakteurs!” het hy uitgeroep. Daardie telling kon maklik hoër gewees het. Trouens, dat nie meer en erger “misdrywe” gereeld deur verwarde redakteurs gepleeg is nie, is nogal ‘n wonder.
‘n Geval wat ek in my boek Wag-‘n-bietjie (Naledi, 2025) noem raak die Boererebel Jopie Fourie en my kollega Ton Vosloo (foto’s).
Op die voorblad van Albert Blake se biografie oor Fourie pryk ‘n mooi foto van hom. Ek wonder of Blake weet van die tyd toe dit onwettig sou wees en vir hom ‘n boete op die hals kon haal, soos Ton aan sy bas moes voel. .
Rondom 1980 is hy in die Johannesburgse landdroshof met R1 000 beboet omdat Beeld in die bylae BY ‘n foto geplaas het van Fourie wat in 1914 tereggestel is deur Louis Botha se regering. Die foto is sonder Vosloo se medewete geplaas. Hy is egter as redakteur van Beeld gedagvaar – dalk was Jimmy Kruger nog minister van justisie wat sy mes ingehad het teen koerante !
Ton het nie R1000 kontant by hom gehad nie en kredietkaarte was nie aanvaarbaar nie. Hy is selle toe geneem en vingerafdrukke is geneem, maar hy kon darem Beeld se bestuurder, Eric Wiese bel wat duisend rand dringend van Doornfontein stad toe oorgestuur het om hom by die selle af te los.
Die boete van R1000 was die drumpel – indien dit meer was, sou my kollega ‘n permanente misdaadrekord gehad het wat hom dalk in sy latere loopbaan as direkteur van maatskappye kon benadeel het!
Ekself moes in 1983 – 17 jaar ná die moord op dr. HF Verwoerd – by Die Volksblad ‘n boete van R100 opdok oor ‘n foto wat die nimlike By, ook sonder my medewete, van Dmetrio Tsafendas, sy moordenaar, geplaas het. Dit mag nie gebeur het nie, omdat hy in die tronk was, en ek is beboet, al het ek geen regstreekse rol in die oortreding gespeel nie.
Gelukkig het tye darem in die opsig verander. Blake hoef nie ‘n boete – of, erger, die tronk – te vrees nie!
Oct 18, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In Die Burger, op Netwerk24 en ander media in die formele sektor lees ons ‘n naamlose 18-jarige is 25 jaar tronk toe gestuur vir die moord op die skoolmeisie Deveney Nel (16) in die Overberg.
Sy naamloosheid is te wyte aan die feit dat hy minderjarig was toe hy haar vermoor het en ingevolge die Kinderwet as minderjarige vervolg is.
Op sosiale media word sy naam egter links en regs genoem. Selfs ‘n foto word gepubliseer. Die meeste mense steur hulle nie op Facebook of Instagram aan die Kinderwet nie. Voorspelbaar gaan geeneen ook oor oortreding vervolg word nie, want wie gaan die skuldiges opspoor? Waar begin jy toeslaan?
Toenemend kom dit voor dat formele media se monde deur wetgewing gesnoer word terwyl gebruikers van sosiale media straffeloos hul eie kop volg. Toe die vermoorde ds. Liezel de Jager se man, Werner, byvoorbeeld destyds as verdagte in hegtenis geneem is, het die hele land dit geraai of danksy die sosiale media vinnig geweet. In die formele media is sy naam meesal verleë verswyg. Hy was net “’n man”.
‘n Interessante uitsondering was die Sondagblad Rapport wat toe nog in koerantformaat verskyn het. Hy het pront die verdagte se identiteit openbaar. Wat my betref, was Rapport se waagstuk geregverdig. Tegnies het die koerant wel die wet oortree, maar dit was groot nuus wat elders sonder voorbehoud uitgeblaker is. En per slot van sake: Watter skade het hy daardeur aangerig?
Voorts het die koerant ‘n belangrike punt bewys: Dat jy nie in ‘n saak met soveel nuuswaarde ‘n stel wette kan hê wat net vir een seksie van die media geld en ‘n ander stel – of geen wette – vir ‘n ander seksie nie. Dit het Rapport gedoen sonder om selfs net ‘n skrobbering van ‘n vies landdros uit te lok.
Klaarblyklik het in die mediareg ‘n kopkrap-situasie ontstaan wat veral waar die Kinderwet ter sprake is, lastige dorings het. Dat wetgewers en wetstoepassers hier met ‘n neteligheid te doen kry waarvoor hulle nie maar net anderpad kan kyk nie, is egter gewis. Anders kom chaos.
Oct 14, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In my vorige blog en ander plasings verwys ek na Naledi se 20ste verjaardagviering as ‘n okkasie. Dadelik word ek uit die Suid-Kaap gekapittel dat ek kwansuis ‘n Anglisisme inspan terwyl die Afrikaanse woord geleentheid homself aanbied.
Nou kyk, ek is in die algemeen geduldig met katkiseerders – maar nie oor my taal nie. Daaroor is my vel dun. Ek wys toe dadelik, die beterweter op die woord se Latynse oorsprong: occassio. Ek meld ook dat ek dit gebruik as rymwoord: ek lig ‘n glasie op die okkasie. Verder haal ek Breyten Breytenbach aan uit die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal: “Die troue van die burgemeester was ‘n hele okkasie. Daar staan ek …. / angelier in die baadjie / nuwe Italiaanse skoene vir die okkasie.” Maar die kêrel hou voet by stuk.
My knap kollega wyle Ollie Olwagen had ook op sy dag ‘n stryd met ‘n briefskrywer wat oral anglisismes in sy suiwer Afrikaanse taalgebruik in blokraaie bespeur het. Hy skryf toe vir Die Burger ‘n brief oor die onderwerp waaruit ek graag ruim wil aanhaal.
Ollie skryf: Baie mense besef nie dat talle Afrikaanse woorde wat hulle as “Engels” beskou eintlik internasionale leenwoorde is wat Engels en ander tale uit bv. Frans gekry het nie. Die stemme gaan gedurig op oor die hordes “Anglisismes” wat ons taal sou binnedring, terwyl die ware Anglisismes, bv. idiome soos perd van ‘n ander kleur, ons taal heimlik binnegesluip en reeds feitlik oorgeneem het.
Van die woorde wat die beswaarde briefskrywer so hinder, is miskien nie Germaanse erfenisse nie, maar Romaanse of Latynse, wat nogtans nuttige sinonieme bied wat die taal verryk. Ek sal miskien vyf keer geestesvervoering in ‘n geskrif gebruik, maar dan bly wees vir ‘n sinoniem soos eksaltasie waarmee ek die styl kan opkikker en die geskrif minder eentonig kan maak. Eksaltasie kry ons, net soos die Engelse hul exaltation, immers uit Latyn, ex sulto, wat opspring beteken. Dit is dus geen “Engelse woord” nie.
Of daardie sosys (gekruide worsie), wat eenmaal miskien veel bekender was as tans, maar nietemin. Dit kom nie van die Engelse sausage af nie, maar van Frans saucisse, uit Latyn solsicium.
Of renegaat, wat ‘n goeie, mooi sinoniem vir verraaier is. Ook dié woord asook die Engelse renegade kom van Latyn, renegare, wat ontken beteken.
Hoef ‘n mens voort te gaan? Daar is vandag heeltemal te veel “kenners” wat nie die nodige kennis het om grondige uitsprake oor taalsake te maak nie, maar die forum gegun word om hul menings as “beoordelaars” te verkondig. Die probleem is dat hul uitsprake deur ander onkundiges geglo word en onkunde oor die “Anglisisme” al hoe breër uitkring. Daarmee word Afrikaans die reg ontsê om, soos ander Europese tale, met ‘n sinoniemryke woordeskat te spog.
Want alles wat “Engels klink” se herkoms lê doodeenvoudig nie in Engeland nie. Dankie, Ollie. Ek sekondeer. Mag sulke verbete Anglismejagters krampe op onnoembare plekke kry elke keer as hulle so mistas.
Oct 13, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Viering vandeesweek by die Woordfees wat ek ongraag misloop, is die uitgewery Naledi se 20ste verjaardag. Met Naledi is my bande van so ‘n aard dat ek werklik wens my omstandighede was anders. Naledi is naamlik die uitgewer van vyf van my laaste sewe boeke in die afgelope agt jaar: naas die jongste, Wag-‘n-bietjie , ook Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman in 2017, Na verre hawens in 2019, Koerantkamerade in 2021 en Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord in 2023 (foto).

Aan hoofman Johan Coetzee en al sy kollegas met wie ek in die publikasie van die vyf boeke kon saamwerk, my dank vir ’n verrykende ervaring. Veral aan Eugenie Wiggins (boekredakteur) en Karen Cronje (ontwerper) ’n spesiale buiging vir hul bydrae tot produkte wat danksy hul kundige insette in die proses steeds beter en beter as die oorspronklike geword het.
Ek klink graag – en met die grootstste respekte vir die plek en aansien wat hy in 20 jaar in die SA boekebedryf verwerf het – op Naledi en sy mense ’n feesglasie. Ek doen dit met ‘n Beeld-glasie nie om dowe neute nie, maar ter ere van Naledi en Barnard Beukman se welslae met die Beeldboek: Die (vreemde) einde van ‘n koerant.
Oct 8, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dis seker so plus-minus die ergste ding wat op ‘n bruilof kan gebeur.
Ek praat nie van daardie bruilof in Kanaän waarvan ons in die Bybel lees nie, maar van ‘n bruilof op Queenstown van heelwat meer resente oorsprong. Ek lees daarvan in die rubriek 50 Jaar gelede in vanoggend se Burger.
Die bruidegom (darem al 52 en twee keer voorheen getroud) staan op om sy toespraak te lewer. Skielik val hy vooroor. Morsdood. Hartaanval.
Ek stel my voor sy maters was oorgehaal om te begin sing: Hy lyk vir my so baie soos Tant Koek se hoenderhaan. Dalk het die eerste note al opgeklink. Die woorde moes in hul kele vasgesteek het.
In Wag-‘n-bietjie (Naledi 2025) is ook ‘n storie oor ‘n bruidegom wat swaar getref is. Ek het dit oorspronklik by studentemaat Pierre le Roux gehoor en moet bely dat ek dit al vooirheen vertel het. Maar ‘n goeie storie het mos ‘n lang lewe.
Kom saam met my na die swierige tweede huwelik van oom Wessie, ’n ryk Swartlandse boer, met ’n jong weduwee. Die twee se hartewens was baie gaste, ’n blommefees in die kerk en ’n feestelike onthaal om oor huis toe te skryf.
In die kerk val veral die enorme blommerangskikking voor die kansel die bruilofsgaste op. Dit skep ’n indruk-wekkende fokuspunt. Aan die einde van die seremonie moet die bruidspaar op twee satynkussinkies kniel. Die bruidjie in haar nousluitende wit tabberd sak elegant op haar knieë. Die gryse bruidegom in sy swaelstert en streepbroek is volgende aan die beurt.
Hy verloor sy balans, struikel-struikel en val vooroor asof ’n kwaai bul hom van agter af gestamp het. In sy vooroor-neerstorting tref hy die rangskikking met minstens ’n dosyn brandende kersies wat tussen die vrag blomme en droë takkies flikker.
’n Enorme vaas met lelies, plus-minus in die middel van die struktuur, tuimel eerste. ’n Domino-effek ontstaan. Stuk vir stuk stort die hele blomme-en-kerse-tafereel met opeenvolgende knalle flenters op die vloer. Die momentum is onstuitbaar.
In die vol kerk heers ’n geskokte stilte. Toe klink die bruidegom se luide stem op: “Moes die d***e knie nou gaan staan en ‘lock’ het!?”
* Wag-‘n-bietjie is reeeds wyd in boekwinkels beskikbaar. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by https:
naledi.co.za/product/wag-n-bietjie of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.Dis seker so plus-minus die ergste ding wat op ‘n bruilof kan gebeur.
Ek praat nie van daardie bruilof in Kanaän waarvan ons in die Bybel lees nie, maar van ‘n bruilof op Queenstown van heelwat meer resente oorsprong. Ek lees daarvan in die rubriek 50 Jaar gelede in vanoggend se Burger.
Die bruidegom (darem al 52 en twee keer voorheen getroud) staan op om sy toespraak te lewer. Skielik val hy vooroor. Morsdood. Hartaanval.
Ek stel my voor sy maters was oorgehaal om te begin sing: Hy lyk vir my so baie soos Tant Koek se hoenderhaan. Dalk het die eerste note al opgeklink. Die woorde moes in hul kele vasgesteek het.
In Wag-‘n-bietjie (Naledi 2025) is ook ‘n storie oor ‘n bruidegom wat swaar getref is. Ek het dit oorspronklik by studentemaat Pierre le Roux gehoor en moet bely dat ek dit al vooirheen vertel het. Maar ‘n goeie storie het mos ‘n lang lewe.
Kom saam met my na die swierige tweede huwelik van oom Wessie, ’n ryk Swartlandse boer, met ’n jong weduwee. Die twee se hartewens was baie gaste, ’n blommefees in die kerk en ’n feestelike onthaal om oor huis toe te skryf.
In die kerk val veral die enorme blommerangskikking voor die kansel die bruilofsgaste op. Dit skep ’n indruk-wekkende fokuspunt. Aan die einde van die seremonie moet die bruidspaar op twee satynkussinkies kniel. Die bruidjie in haar nousluitende wit tabberd sak elegant op haar knieë. Die gryse bruidegom in sy swaelstert en streepbroek is volgende aan die beurt.
Hy verloor sy balans, struikel-struikel en val vooroor asof ’n kwaai bul hom van agter af gestamp het. In sy vooroor-neerstorting tref hy die rangskikking met minstens ’n dosyn brandende kersies wat tussen die vrag blomme en droë takkies flikker.
’n Enorme vaas met lelies, plus-minus in die middel van die struktuur, tuimel eerste. ’n Domino-effek ontstaan. Stuk vir stuk stort die hele blomme-en-kerse-tafereel met opeenvolgende knalle flenters op die vloer. Die momentum is onstuitbaar.
In die vol kerk heers ’n geskokte stilte. Toe klink die bruidegom se luide stem op: “Moes die d***e knie nou gaan staan en ‘lock’ het!?”
* Wag-‘n-bietjie is reeeds wyd in boekwinkels beskikbaar. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by https:
naledi.co.za/product/wag-n-bietjie of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.
Oct 6, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Modderbad 1958. Ek is die ene met die snorretjie.
Toe ek in Januarie 1958 uit Potchefstroom by Kollegetehuis op die Tukkiekampus opdaag, het ‘n paar ontnugterings gewag. Net ‘n paar: Die klapperhaarmatrassies was maar dun, aan warm water was ‘n gedurige tekort, die kos was middelmatig en die seniors was ongetwyfeld die kwaaiste op die kampus.
Ontgroening was nog springlewendig. Eerstejaars (ienks) is oral behoorlik gedril. Daar was modderbaddens, die pil (deurdrenk met bitter duiwelsdrek), nagligte (as jy waag om oor die tou te trap), gatpaarties, p-paarties en wat nog.
Ons spannetjie van 1958 moes tot vervelens voor die eetsaal in gelid aantree. Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.
Ja, ’n ienk kon maar weet: vir ‘n jaar lank is hy ‘n lyfeiene vir veeleisende seniors (hoeveel honderde sokkies het ek nie gewas nie!), Hy sou ‘n paar keer moes inpak en “trek” (met al sy klere, al sy boeke, al sy koffers). Hy sou moet “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot by die ontheffing.
Die ontheffing was in Oktober as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom. Die tyd het dan aangebreek vir die modderbad en die pil. Op daardie welaangename dag het die geel knopie met die K (vir Kollege) finaal gewaai – een wat terwyl dit nog op die bors vertoon is, nogal vir komieklike situasies kon sorg. Byvoorbeeld wanneer Kollege en Asterhof ‘n “inter-sleep” het en die ienks dan so man-aster-man-aster langs mekaar sit: “K, A, K, A, K, A …!”
‘n Jaar van groot nederigheid was dit. Maar as dit verby was, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton. Jou hart was in jou borskas soos ‘n uitgeswelde adamsvy, omdat jy geweet het jy is getoets en is nie te lig bevind nie.
Daardie liefde vir ‘n plek van baksteen en beton is in 1960 met die Groot Trek van die kampus af Proefplaas toe wonderbaarlik na die nuwe tehuis oorgedra, natuurlik danksy die saambring van Kollege-rituele, -tradisies en –gees wat in die eerste amper vyf dekades deeglik ingewortel het.
Die jaarlikse ienksport was daardie jare ‘n vername okkasie. Sommer dadelik, in 1960 al, het die nuwe Kollege in sy groter formaat sy stem dik gemaak en loshande die beker gewen. My val die eer te beurt om in die finale wedlooop van die dag, die HK-aflos, die lint te breek. In 1961 word aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Ons verskyn op die baan in enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is – en ons wen ver. Met ‘n wapperende bloemer breek ek weer die lint – die tweede jaar in ‘n ry.
Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Jan Tromp, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels. In huiswedstryde was ons haas onstuitbaar.
Kollege was van sy ontstaan op elke gebied ‘n sterk faktor. Die uitbreiding van getalle het ons egter die spierkrag gegee om van sport tot op sosiale gebied nog sterker op die voorgrond te tree en ons te vestig as die gedugste manskoshuis aan elke front, buiten dalk die akademie. Goue jare het aangebreek. Selfs ‘n borsbeeld van die eerste staatspresident, CR Swart, het ons weens ons politieke ywer verower. Wonder wat daarvan geword het.
Vriendskappe wat in Kollege gesmee is, duur tot vandag. Kollegemanne van destyds doen moeite om by mekaar te kuier. ‘n Groepie van ses – later agt – het jare lank in die winter genoeglike klein reünies in die Krugerwildtuin gehou. Ons het Kollege se eeufees in die kampie Balule gevier. Die diere het in ontsag stil geword as ons die Kollegelied aanhef.
Ons eerste huisvoorsitter van die nuwe Kollege was Heystek van Rooyen van Roedtan. Toe volg Vossie Grey Van Ermelo. Albei is reeds oorlede. In 1962 het die voorreg my, die oudste lewende bekleder van daardie pos, te beurt geval. Op die huisvoorsitterskap, asook op Kollegetehuis self, is ek tot vandag innig trots. Aan Kollege bly ek lojaal. Vir Kollege is ek steeds intens lief, al heet hy nou College House. .
Ek salueer Kollege / College op sy 110de verjaardag.