LITNET-GESPREK OOR KRONIEK (II)

Skrywersonderhoud: Hennie van Deventer oor Kroniek van ’n koerantman

  • 0

Hennie van Deventer praat met Naomi Meyer oor Hennie se boek Kroniek van ’n koerantman wat in 1998 verskyn en nou as e-boek beskikbaar is.

Foto van Hennie van Deventer: verskaf

Kroniek van ’n koerantman
Hennie van Deventer
Uitgewer: De Novo Boeke

Hennie, in 1998 verskyn jou boek Kroniek van ’n koerantman. Nou, in 2020, verskyn die e-weergawe daarvan. Baie van pas, so met die uitbreek van die virus saam, dat dit digitaal beskikbaar is. Het jy in al jou jare as redakteur van Volksblad en as joernalis ’n storie gehad wat so allesomvattend was soos hierdie COVID-19? Wil jy dalk ’n paar stories (of narratiewe) noem wat sake so oorheers het?

COVID-19 is ’n monster met baie koppe en ’n duisternis krioelende tentakels wat wêreldwyd in die kleinste hoekies indring. Jou beskrywing is raak. Dis allesomvattend in die ware sin van die woord. Dis ook uniek. Op die wieke van die moderne media woed die storm homself as ’t ware daagliks uit in elke huis. Wuhan het vir Suid-Afrikaners (amper) ’n bekender stad geword as byvoorbeeld Germiston.

Elke generasie se redakteurs het natuurlik hul eie oorheersende uitdagings in die konteks van heersende omstandighede, lesers se ingesteldheid, tydsgees en hul persoonlike lig op die brandende vraagstukke van hul tyd. Blaai maar net deur die geskiedenisboeke van die laaste eeu.

Soos dit op die oomblik COVID-19 is wat die media oorheers, was dit in ons era etnisiteit. In Suid-Afrikaanse konteks: apartheid. Ek het die hoogbloei daarvan beleef, die morele ontwaking by voordinkers en ook die aftakeling, waaroor harde woorde ná al die jare tot vandag toe steeds in die Afrikaner-binnekamer val. Soms nogal venynig, bitter en fel.

Die titel Kroniek van ’n koerantman het my geval weens die lekker k-alliterasie. Die klein subtiteltjie het waarskynlik ’n prominenter plek op die te besige voorblad verdien. Die boek is inderdaad ’n persoonlike perspektief op die jare ná ‘80. Ek kyk uit my klein hoekie na daardie turbulente dekade en die geweldige weerstand teen hervorming waarmee my koerant gekonfronteer was. Ek kyk deur ’n bevooroordeelde ek-bril. Dis my storie soos ek my 12 jaar as redakteur in ’n konserwatiewe gemeenskap beleef het.

Was apartheid dalk daardie jare se koronavirusstorie? Iets wat jare en jare lank aangehou het. En wat artikel na artikel sou beïnvloed. Wat is vir jou, uit joernalistieke oogpunt, eenders en anders as jy apartheid en die koronavirus as stories met mekaar sou vergelyk? Hoe baie het die wêreld werklik verander …?

Apartheid, die koerant se rol om sy hoofsaaklik bra onwillige leserskorps vir verandering ryp te maak, en die druk (ook op politici) om nie aan ’n onmoontlike droom te bly vasklou nie, is kerntemas van Kroniek. Die apartheidstorie was seker en gewis die swaargewig van die vorige era. Dinge leef voort en nuwe dinge gebeur wat ons gereeld aan daardie stekelrige turksvy herinner.

Dat ontstellende ongelykhede oor die wêreld heen wat deur COVID-19 opnuut oopgeruk is, kan niemand ontken nie. Dat mag weer eens misbruik word, sien ons elke dag in ons koerante en op TV-skerms. Situasies is dalk nuut. Maar menslike gedrag vertoon ’n merkwaardige eenselwigheid.

Afgryslike wreedhede kom voor, soos dié wat jy noem. Menselewens word deur maghebbers geminag. Opgekropte weerstand bars uit in verwoestende betogings. Oor aspekte van veral die George Floyd-drama bestaan meningsverskil. Tot daardie debat wil ek nie hier toetree nie, want misverstande ontstaan maklik waar jy – dalk uit voeling met hedendaagse werklikhede, dalk weens gebrekkige kennis – te oppervlakkig oor ’n hoogs ontvlambare onderwerp heen skeer.

Wat wel waar is, is dat hand-in-eie-boesem-situasies bly opduik. Jy word gereeld gekonfronteer met kwessies wat tegelyk uiters prakties en hoogs filosofies is, soos geregtigheid teenoor onreg, onderdrukking en rampspoedige ongelykheid. So lank jy kan onthou, was om jou wenners en verloorders, magsvrate en slagoffers, begenadigdes en vertraptes. Van die ontstaan van die mensdom kry niemand, geen ideologie of geen politieke stelsel nie, dit eens naastenby reg om redelike billikheid teenoor almal te laat geskied. Hoe baie het die wêreld werklik verander …? Jy kan dit wel vra.

Vertel my van jou tyd as koerantman. Kan mens dit opsom? Kan mens hoogtepunte deur die jare uitlig, soos opskrifte en voorbladnuus?

Watter stimulerende, verrykende loopbaan het die dinamiese omgewing van die koerant my nie gebied nie! Waar begin jy opsom?

Die sluipmoord op Kennedy in 1963 was ’n eerste kennismaking met ’n koerant in skielike, koorsagtige, snelrat. Met die moord op Verwoerd was ek ’n jong hoofsubredakteur – self totaal oorstelp. Maar ’n spesiale uitgawe moes dringend uit.

Wêreldskuddende eerstes is beleef, soos die maanlanding en die eerste hartoorplanting.

’n Verdere (onvolledige) lysie van groot nuus wat voorblaaie oorheers het: die  Laingsburg-vloedramp; die sprokiestroue van prins Charles en lady Diana; die raaiselagtige neerstorting van die Helderberg; die Challenger-ruimteramp; die Westdene-busramp; kol Mike Hoare se staatsgreep in die Seychelle; André Stander se rooftogte en skietdood in Florida, VSA; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein; die Kerkstraatbom; die Oceanos; die pedofiel Gert van Rooyen; die Bosoorlog; die val van die Berlynse Muur; en, les bes, die ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela in 1992.

Vertel my waarom besluit is om Kroniek van ’n koerantman weer uit te gee? Wat is die soort stories wat lesers hierin kan lees?

Die uitgewer, Coenie Nolte van De Novoboeke, stel dit so: “Ons glo dat boeke soos Kroniek stories/inligting/geskiedenis bevat wat ons kan help om Suid-Afrika beter te verstaan. In e-boek-formaat kan dit ook nie ‘uit druk’ raak nie.” Ek verwelkom die rein gedagte.

Watter soort stories? Die voorwoordskrywer, politieke beriggewer par excellence Alf Ries, skryf: “Dit is in vele opsigte kontemporêre geskiedenis ‒ ’n kommentaarboek oor een van die interessantste en opwindendste tydperke in Suid-Afrika se veelbewoë politieke geskiedenis.” Hy verwys na “kostelike staaltjies, hegte vriendskappe, maar ook heftige en bitter rusies met politici en openbare figure.” Bitter rusies met politici en openbare figure was nogal volop. Ek kies om self liewer twee anekdotes by die naam te noem: die dag toe ek uit PW Botha se hand geëet het, en hoe dit gekom het dat ek nou nog met Thabo Mbeki se sigaretaansteker vuurtjies aansteek.

Is die e-weergawe dieselfde as die oorspronklike boek? Is enigiets hier verander?

Dis presies die 1998-model. Net die woordjie “wyle” is voor Alf Ries se naam ingesit en ’n paar foto’s is bygevoeg.

Ek vra of iets van die boek verander het. Dalk moet ek ook vra: Het enige van jou standpunte, as mens, verander sedert die verskyning van die boek in 1998?

Wat vir my reg of verkeerd was, is steeds vir my reg en verkeerd. My waardes het nie verander nie. Die oordeel is ryper, hoop ek. Kollegas het my ’n kompulsiewe koerantman genoem. Gewag is ook meermale gemaak van my entoesiasme.

Die twee kan ’n giftige kombinasie maak. By my afskeid in 1999 het ek die volgende woorde kwytgeraak: “Ek kies die uitweg van die lafaard, met een enkele kollektiewe apologie, hetsy vir ongevoeligheid, onnadenkendheid, ongedurigheid of onreg wat gepleeg is. Daar was ongelukkig te veel van elk hiervan.” Di boetvaardigheid geld steeds.

Hoe sien jy die verlede van die media, en hoe sien jy die toekoms?

Mag ek my antwoord tot die gedrukte koerant beperk? Dis my forté en my eerste liefde, al het ek ook verknog geraak aan Netwerk24. Ek was bevoorreg om uit te tree met koerante op die kruin van die golf: met rekordsirkulasies, rekordwinste en bekers vir prestasies binne die Naspers-stal.

Almal weet egter op watter glybaan die gedrukte media toenemend verkeer. Op die lange duur is die proses, helaas, seker onstuitbaar. Maar Bob van Dyk kan seker sy tong afbyt oor die kort leeftyd wat hy (dalk in ’n onbewaakte oomblik) vir gedrukte koerante voorspel het. Hulle is (nog) nie op ventilators nie.

Die vakuum wat hul verdwyning sal laat, is vir my absoluut ondenkbaar. Niks stel jou in staat om so sinryk in ’n bepaalde omgewing te funksioneer soos ’n goeie koerant nie. Dit sal ek glo tot my laaste asemteug.

En vertel my van jou lewe vandag. Hoe maak mens as daar nog steeds stories bestaan, jy is joernalis, maar jy is nou “afgetree”?

Ek is lief vir Melkbos en is gek na my bosplek by die Krugerwildtuin. Ek skryf blogs, briewe aan koerante, af en toe ’n artikel. Ek is aktief (te aktief!) op Facebook. Ek hoop om my 80ste te vier met ’n nuwe boek – my 20ste en laaste.

Aan my ses stuks briewe oor die gewraakte Bird Island-boek heg ek groot waarde. Dat Rapport sy onomwonde apologie aan die ministers en hul naastes direk aan een van my briewe gekoppel het, was ’n riem onder die hart. Beeld het my die eer aangedoen met die plasing van ’n verwysing na een van die briewe bo langs sy mashoof: “5 Spykers in ’Bird Island’ se doodkis”. In my 79 jaar het ek nogal ’n aardige klompie koerantbriewe geskryf. Geeneen is voorheen so aangebied nie.

Waar kan lesers jou boek bestel?

Klik net op die skakel http://www.denovowebs.co.za/product/kroniek-van-n-koerantman.

UIT DIE HAND VAN GROOT KROKODIL

In die jagveld

Een keer in my lewe het ek uit ‘n president se hand geëet. Nogal die hand van die “Groot Krokodil”, PW Botha.  Nie figuurlik uit sy hand nie maar letterlik. Wel net ‘n skyfie lemoen, maar darem.

Dit was die dag toe’n  jagvoertuig, ‘n omgeboude V8  van die wellewende Pieter Jacobs van die plaas Zuurfontein, Fauresmith  ‘met sy oes van die dag tot by sy aste in die modder wegsak.

Agter die wiel van die “ampsmotor”

Die voertuig, bekend as die “ampsmotor”, het dapper gebrul, maar kon niks vermag nie. Om hom uit te kry, het gevat aan die klein geselskappie wat saam met die president die veld ingekoers het.

Terwyl ons gewone burgers so swoeg (en stilletjie swets) skil  die president rustig ‘n lemoen. Toe ons die gevaarte met besmeerde hande uiteindelik uit die amperse moddergraf het, kry elkeen ‘n skyfie in die mond.

Myne kry ek met die spitsvondigheid: “Ons maak nou geskiedenis. Dis die eerste keer dat ‘n koerantman uit my hand eet!” Figuurlik uit sy hand geeet, het ek darem nooit.

Op sy mees ontspanne was Botha waarskynlik op die gereelde jagtogte van sy boesemvriend Boet Troskie elke winter in die Suid-Vrystaat, waar hy met dodelike skietvernuf altyd self ‘n paar bokkies kom plat trek het. Daar in die Vrystaatse winterveld, alleen agter ‘n miershoop of langs ‘n knetterende kampvuur, omring deur kollegas soos Chris Heunis, Pik Botha, Barend du Plessis, Kobie Coetsee, Pietie du Plessis en Gene Louw, kon hy volkome afskakel.

Dit is ook waarheen Troskie hom na sy beroerte teruggebring het om selfvertroue te herwin. Daaraan was daar geruime tyd ‘n geweldige tekort. Hierdie uithalerskut het aanvanklik gesukkel om met dom vingers te laai, onthou Troskie.

Maar sy vriende het hom alleen in die veld gelos. En toe hy die eerste keer die sneller trek, was dit ‘n kopskoot!

Verwysing: “Kroniek van ‘n koerantman” deur Hennie van Deventer. Koop die herpublikasie as e- boek by http://www.denovowebs.co.za/produk/kroniek-van-n-koerantman/ Prys: R70.

KIEKIE VAN PW EN MADIBA (PLUS KOBIE)

Foto met stukkie van Kobie Coetsee.

Op die ingewing van die oomblik, en met instemming van die twee hooffigure, het kapt. Ters Ehlers, knap gewese private sekretaris van Botha, met sommer ‘n doodgewone mik-n-druk-kamaratjie die enigste foto’s geneem van die eerste ontmoeting tussen P.W. Botha en Nelson Mandela op 5 Julie 1989 in Tuynhuys.  Eintlik net ‘n paar kiekies met ander woorde.

Ná ‘n hartlike gesprek, wat op die impromptu foto’s deur die breë glimlagte op almal se gesigte weerspieël word, het Ters skielik van die kameratjie in sy lessenaar se laai onthou. Genadiglik. Anders het die historiese oombik fotogewys ongedokumenteerd gebly.

Hoekom juis Die Volksblad?  Ek kan aan twee redes dink.  Een is dat tussen Die Volksblad en Tuynhuys – ook bekend as Kruithuis!  – se baas met sy berugte kort lont, ondanks periodieke skermutselinkies, ‘n gesonde verhouding bestaan het, Hy was immers self ‘n Vrystater, ‘n seun van Paul Roux. Meer nog, in sy jong dae het hy vir die koerant vryskutwerk gedoen – selfs in die stormagtige Smeltersdae ‘n hoofberig op die voorblad oor ‘n ontwrigte politieke vergadering gelewer.

Die tweede rede is dat die uwe een van die min mense was wat van die bestaan van die foto’s geweet het. Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie,  het dit in ‘n private gesprek laat glip.

Vanselfsprekend het ek nie ophou torring om die foto’s vir my koerant as ’n “scoop” los te wikkel nie.  Aan die begin van Februarie 1990 het ek, al half moedeloos, die kwessie weer oor die telefoon aangeroer. Dit was al nadat Botha sy beroerte gehad het en heelwat troebel water in die see geloop het – troebel water  wat ook later my en Die Volksblad se verhouding met hom sou versuur.

Verrassend genoeg, het hy die oggend die eerste keer sy gewilligheid laat deurskemer. Ná intensiewe onderhandelinge, onder meer ook deur ‘n bemiddelaar met Mandela, wat toe in sy laaste dae in die Victor Verster-gevangenis was, is tot publikasie ingestem.   Wie daardie bemiddelaar was? Niemand minder nie as die oud-minister van justisie, Kobie Coetsee ‒ “my vriend Kôbie”, soos Mandela hom waarderend bly noem het.

Met die ooreenkoms beklink, is ‘n verslaggewer per motor na Pretoria om die kosbare pakkie  te gaan haal. Nog twee foto’s is per koerier na Bloemfontein gestuur. En op Donderdag 15 Februarie, verskyn die koerant toe met sy “foto’s waarvan die wêreld nie geweet het nie”.  Ongetwyfeld een van sy lekkerste scoops van die jare negentig.

Sonder komplikasie was Operasie Foto nie, want Botha wou niks daarvan weet nie dat die joernalistieke kleinode, soos die gebruik is, ook aan die susterkoerante beskikbaar gestel word. Sy vereiste was dat regstreeks met hom daaroor onderhandel word, en toe Die Burger waag om te vra, was sy antwoord ‘n ferme nee.  Hy was te kwaad oor wat oor hom en sy ongesteldheid geskryf is.

Verskeie ander binne- en buitelandse publikasies en nuusdienste moes ook voor dooiemansdeur omdraai.

Beeld, altyd vol planne, het wel ‘n foto gepubliseer, maar vindingryk omraam deur ‘n stuk van Die Volksblad se voorblad sodat die hele aanbieding soos ‘n skeurvel moet lyk!

Op die oorspronklike foto verskyn ook genl. W.H. Willemse, hoof van die gevangenisdiens (links) en Coetsee (regs).  Vir die omslag van die eerste “Kroniek” is die twee here afgesny ten einde groter fokus op die twee hooffigure te plaas. Barnard kon nie afgesny word nie, Hy het strategies in die middel gestaan.

Coetsee was in n grimmige luim toe hy dit die aand met die boek se bekendstelling in Bloemfontein ontdek. Nou ná al die jare sou ek hom, as ek kon, graag gelyk gee.  Hy het sekerlik rede gehad om afgehaal te voel dat sy welwillende  rol om die foto vir Die Volksblad te bekom met die knip van ‘n skêr tot die snippermandjie gereduseer is. Hiermee ‘n vertraagde ekskuus – helaas te laat. .

Die foto’sby die blog  is van (i) die omslagfoto van die eerste uitgawe met die stukkie van Kobie Coetzee wat regs uitsteek en (ii) die volledige eerste omslag. Koop die e boek by http://www.denovowebs.co.za/produk/kroniek-van-n-koerantman/ Prys: R70.

 

 

 

 

FAMILIERUSIE: DIE BINNESTORIE

Min Afrikaners wat die turbulente jare 80’s meegemaak het, sal die intensiteit van daardie familierusie  in die aanloop van die politieke oorgang van 1994 ooit vergeet.

So venynig is die hervormingsgesindes deur weerstandiges toegetakel dat ‘n spitsvondige Engelse persman die “oorlog” beskryf het as ‘n “second Boer war – with Boers on both sides’”.

In hierdie “oorlog” was die Afrikaanse koerant in die spervuur. In  vyandige oë is hy gesien as simbool van Afrikaner-oorgawe, en getakel met ‘n venyn wat nie tot woorde beperk was  nie.  Bloed het letterlike gevloei.

In Bloemfontein, Afrikaner-hartland, was dit eens so erg … of dalk erger.  My perspektief op daardie veelbewoë jare het ek in 1998 op skrif gestel in “Kroniek van  koerantman” – die eerste boek oor daardie era uit die pen van een van die redakteurs en ook een van die weinige tot dusver.

Uit  ‘n tweede vername luisterpos lig ek in “Kroniek” openhartig die sluier oor die gisting en intense toekomsdebat binne die Afrikaner-Broederbond in daardie tyd, wat ek as lid van die uitvoerende raad intens meegemaak het.

De Novo Boeke   het besluit op herpublikasie as e-boek in die geloof dat Kroniek  22 jaar na eerste verskyning nog relevant is vir die politieke narratief. Bestel by http://www.denovowebs.co.za/product/kroniek-van-n-koerantman/ Prys: R70

Uitgewer se kommentaaar: Hennie van Deventer se Kroniek van ‘n Koerantman is in vele opsigte kontemporêre geskiedenis ‒ ‘n kommentaarboek oor een van die interessantste en opwindendste tydperke in Suid-Afrika se veelbewoë politieke geskiedenis. Die Volksblad, met Van Deventer as redakteur, was in die turbulente jare 80 en 90 sterk verbind tot hervorming, geregtigheid en ‘n inklusiewe demokrasie. In die Vrystaat, konserwatiewe hartland van Suid-Afrika, het dit hom, en sy redakteur  persoonlik, in die spervuur geplaas van akute regse venyn.

Die skrywer se interessante en onderhoudende staaltjies lig die sluier oor die dramas wat hulle oor nuusgebeure in koerantkantore afspeel, interessante vertellinge oor sy ervarings as lid van die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond en die hegte vriendskappe, maar ook heftige en bitter rusies met politici en openbare figure, dra by om Kroniek van ‘n Koerantman in alle opsigte ‘n baie lesenswaardige boek te maak.

In hierdie tyd van inperking en hofdramas oor regeringsregulasies en gewaande magsmisbruik deur die regering, word hewige diskussies en debatte op sosiale media en die Internet uitgespeel. Dit is daarom interessant om te lees hoe koerante soos Die Volksblad in die jare tagtig en negentig die kommunikasiekanaal was wat hierdie rol vervul het. !n sy huidige e-baadjie, is Kroniek van ’n Koerantman ’n egte winskopie teen net R70 per kopie.

TJEK SE LAASTE HOP

Wuif totsiens vir die tjek. Die gerespekteerde betaalmiddel sedert die 9de eeu al loop nou die pad van ander gister-goed wat nie teen moderne plaasvervangers die pas kon volhou nie. Soos die betroubare telegram, die Kerskaart en die minnebrief met langhand op papier gesit – boonop met ‘n vulpen.

As jy ‘n koerantmens was, soos die uwe, kan jy die teleksberig bysit. Daarvan het rieme elke dag elke koerantkantoor binnegestroom op rye teleksmasjiene wat onverpoosd soos masjiengewere knetter. Moenie die landlyn vergeet nie. Elke foto van elders het jou koerant dotjie vir dotjie via ‘n verre poskantoor bereik.

Op my eerste tjekboek aan die begin van die 60’s was ek, jong koerantman, trots soos ‘n pou. Het altyd gehoop om iemand te imponeer wanneer ek daardie kenmerkende plat boekie spoggerig uitpluk en met ‘n swierige “JH van Deventer” – die ene krulletjies en draaitjies, aldus my vrou – ‘n aankoop met vers en kapittel op die reghoekige stukkie papier beklink.

Myne was ‘n Volkskas-model met “arbeidsaamheid” as leuse en die hand op die ploeg as logo. Absa, my latere modern bank, is nou onder die voorlopers om die tjekboek goedsmoeds in die snippermandjie te gooi.

Ai tog. Maar dis soos hulle sệ: Omnia mutantur nos et mutamur in illis (“alle dinge verander en ons verander saam met hulle.”)

Nog ‘n nuttige papierproduk van ‘n vergange era was die telegram. Telegramme is al geruime tyd uitgedien. Al waar jy nog daarvan kry, is in netjiese pakkies met lintjies vasgebind, gewoonlik in ‘n embuia-“trousseau”-kis met bal-en-klou pote en koperbeslag. Saam met allerlei ander sentimentele kleinighede word dit daar as soewenier van bruide van toeka se groot dag bewaar.

Hoeveel telegramme jy gekry het – en van wie almal – was nogal ‘n statussimbool. Party was kort en kragtig: “seën op huwelik”. Ander kon nog al woordryke sedepreke bevat. Moes afsender ‘n fortuin gekos het.

Op die onthaal – dikwels in die kerksaal – het die seremoniemeester of een die telegramme voorgelees. Dit was deel van die bruilof ritueel, soos die sny van die koek en die werp van die kousband in die gehoor.

Grapjaste – gewoonlik die raseriges wat voor in die koor was wanneer “Ta Koek se hoenderhaan” vir die bedremmelde bruidegom aangehef word, het dikwels kamma-telegramme ingesmokkel. Een voorbeeld: ‘n fiktiewe vorige kệrel wat met doelbewuste dubbelsinnighede op vorige soete oomblikke saam met die verleë bruid sinspeel.

‘n Gewilde stoutetjie wat ek onthou, was sogenaamd van die bestuurder van die wittebroodhotel: “Spyt my om julle in te lig die spesiale bruid-suite het weens omstandighede buite ons beheer op die laaste oomblik onbeskikbaar geraak. Ek gee julle sommer julle ou kamer van vorige besoeke, as dit sal reg is met julle.”

Ou kamer? Vorige besoeke? Onthou, ek praat van ander tye. Die huweliksnag was veronderstel om werklik ‘n eerste te wees; nie sommer soos al vele nagte voor hom nie. Menige bruid het beetrooi gebloos.

Voorspel tot die huwelik was o.m. hartstogtelike briewe waarin die ontluikende liefde met toenemende vrymoedigheid verklaar is. “Liewe Bettie”, het in sulke briefies eers “liefste Bettie” en dan later “My enigste liefling” geword.

Op skool het spesiale “koeriers” sulke briefies ongemerk voor jou op jou bank kom neersit of pouse vinnig in jou sak gedruk. Party was op pienk papier met ‘n diskrete parfuumreuk. Jy kon dit nie gou genoeg oopskeur om elke soete woord van liefde en verlange in jou hart te vertroetel nie.

Party romantiese Romeos kon monumentale liefdesbriewe skryf. Een skrywer van ‘n gedenkwaardige brief was n passievolle jong Tukkie, Pikkewyn (Pik) Botha, rasieleier en latere minister van buitelandse sake. Sy rekord was ‘n brief van 90 foliovelle.

Die ontvanger van daardie gewigtige brief, netjies in ‘n pakkie opgemaak, was Helena Bosman, ‘n Matiestudent.   Tere minnegediggies uit dieselfde oord was ook gereeld in haar posbus. Sy het in 1953 mev. Helena Botha geword.

Deesdae kommunikeer geliefdes dalk meer met haastige teksboodskappies en emoji’s, dalk nog in kodetaal. So raai ek maar.

Kerskaarte was toeka se tyd ook ‘n groot ding. Vroeg in November het jy al begin lysies maak wie almal moet kry, en by skryfbehoeftewinkels begin rondkyk. In nederiger prysklasse was die meeste in pakkies van ses met onvanpaste sneeutonele op die voorblad en swak vertaalde Kersboodskappies binne.

Later het die prentjies meer gesifostikeerd en gevariëerd geword. Op party van die nuwer soort was plek om ‘n persoonlike boodskappie te skryf. Deftige mense het hul kaartjies laat druk: in goue of silwer letters met hul name en adresse in die een hoek soos op ‘n visitekaartjie.

Ingenome ontvangers het hul Kerskaarte graag op kaggelrakke en ander plat oppervlakke uitgepak. Ander ornamente, ook op die buffet, is vir die “Kersgety” na laaie geskuif om vir die verskeienheid Kerskaarte plek te maak. Sommige ondernemendes het tou of ‘n draad van hoek tot hoek in die sitkamer gespan. Hul Kerskaarte is dan wydsbeen daaroor gedrapeer om met die res van die kleurryke Kersversiersels saam te smelt.

Boontoe het ek verwys na vanmelewe se teleksmasjiene wat stil geraak het. Koerante word in doodse stilte in die soort steriliteit geproduseer wat ‘n mens gewoonlik met hospitaalteaters vereenselwig. Foto’s se pad is as’t ware van die kamera na die blad.

Nog iets wat ongetwyfeld vir altyd verlore is, was iets waaroor ek nogal ‘n sterk nostaklgie in my voel opwel. Uit afvalpapier in die drukkery is klein blokkies papier geknip waarop haastige boodskappies per bode vir kollegas gestuur is: “Mev. O. Kom gesels asb. HvD”

‘n Keer was by Die Volksblad ‘n kompetisie tussen redaksielede oor wat ek in my haas op so ‘n blokkie papier in my partikuliere soort snelskrif neergepen het.   Die drie finaliste is vir my gebring om die wenner aan te wys. Ná ‘n ruk moes ek tou opgooi. Die drie moes die eerste prys deel. Ek het vergeet wat ek daar geskryf het en kon dit om die dood nie ontsyfer nie.