Jul 15, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Volksblad in volkleur gretig ingewag.
Oor ‘n rolpers kan ‘n woordkunstenaar ‘n gedig skryf. Oor hoe massief hy is, hoe vinnig hy loop, hoe hoor en sien vergaan terwyl hy duisende klaar koerante in ‘n kits netjies voor jou uitspoeg.
By Volksblad is ons bevoorreg om fabriek en redaksie onder een dak te hệ. By koerante soos Die Burger en Beeld is hulle in geboue ver van mekaar.
Die afronding van ons produk kon ek en ander redaksielede dus telkemale in verwondering aanskou. Ons het ook graag vir gaste gaan wys. Om hul meevoering te beleef, was deel van die bekoring. Om vir hulle ‘n kraakvars koerant in die hand te stop, was soos om ‘n kleuter te bederf.

Eerste oggend-Volksblad
Ek het self graag die koerant by spesiale geleenthede onder die by die rolpers gaan inwag. Te veel keer om op te noem.
Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap, Ek het stil staan en luister na die luide musiek van ‘n dreunende rolpers op volle vaart, en my aan die skouspel vergaap: die gevlegde papier wat in ingewikkelde patrone seepglad hul bane deur die ingewande van die metaalreus vind om wonderbaarlik koerant te word.

Scoop wat nie ‘n scoop was nie.
Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, is elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure is perfek ingestel. Die koerant is gereed vir die lesers wat wag.
Dit is swaar om daaraan te dink dat Volksblad – die koerant waarvoor die massiewe litografiese Goss in beter dae spesiaal gekoop is – op 7 Augustus die laaste keer van die pers sal kom. Van Maandag 8 Augustus af gaan lesers met toegang tot rekenaars, tablette, slimfone en dies meer hul nuus net op ‘n digitale skerm kan kry. Ander – hoofsaaklik ouer mense – gaan eenvoudig sonder hom moet bly.

Vars koerante bly net kom. By my is Willem Odendaal.
Herinneringe oor die rolpers by die nadering van hierdie hartseer-geleentheid is talryk. Dalk die opwindendste dag – beslis die dag met die meeste toeskouers op elke moontlike staanplek – was die verskyning van die eerste volkleurkoerant – op 24 Maart 1983. Soos die koms van ‘n nuwe baba was dit. Ai, hoe trots en ingenome was ons Volksbladders nie.
Ons profetiese opskrif was: “Swart verpleegsters in wit hospitale”. Nie almal was ingenome met die vooruitsig nie!
4 Maart 1991 was nog ‘n dag vir die geskienisboek. Ons koerant het die dag van gleuwe verwissel. Hy was nou, soos sy susters, ‘n oggendkoerant. Ek het ‘n foto waar ek, Phllip van Rensburg, nuusredakteur, en Nols Nieman, hoodsubredakteur, gretig die eerste oggend-Volkblad by die rolpers opraap. Ou Nols – ‘n ware pionier met elke modernisering – is helaas al dood.
Sal ek die dag vergeet toe ek en Naas du Preez, nuusredakteur, by die rolpers afgeneem is – breëbors oor ons “scoop”: “Zola bly”. Maar toe ons ons oë uitvee, het sy al weer skoon vergeet van haar besluit. Toe hôl sy weer in Londen. La donna e mobilè…

Rocco Krijns by sy yslike setmasjien.
My hele eerste skof van 20 jaar in Bloemfontein en ‘n hele paar jaar van die tweede skof was die settery net onder die redaksie: ‘n see van yslike linotipe-setmasjiene met hul onhoudelik klik-klik-klik-geluid, soos die setters die berigte wat op die boonste verdieping op tikmasjiene geskep is met vuurwarm lood in kolomwydte stafies herskep. Wanneer jy by die voordeur instap, was die besige settery jou eerste visuele indruk.
Opskrifte is uit ‘n kas vol verskillende letters van elke grootte in stawe gepak en in loodvorm gegiet. Vir werklik groot stories – soos die moord op dr. Verwoerd – is houtletters gebruik – die heel grootste in ons besit.
Saam met die berigte is die opskrifte op die sogenaamde “steen” – ‘n soliede sementblad – volgens die subredakteur se bladplanne ingepak. By die vernaamste laaste bladsye het subs bygestaan om hier en daar te verstel. By die voorblad was dit die hoofsub se taak. Ek het die takie in my hoofsubdae baie geniet, buiten die dag toe my trui in ‘n roller beland wat dit toe halfpad van my lyf af in ‘n drom swart ink intrek. Dit was permanent onbruikbaar,
‘n Gawe Volksbladgrappie deur die jare is van die eienaardige opskrif: “Erg skitter Dicky Brob.” Dit was die gevolg van twee dele van ‘n opskrif wat in die verkeerde volgorde langs mekaar ingepak is. Die opskrif moes eintlik gelui het: “Dicky Broberg (bekende atleet) skitter.” Iets wat grimmiger reaksie uitgelok het, is ‘n moedswillige setter wat onderaan ‘n berig oor hoogspring-kampioen Esther Brand bygevoeg het: “En sy is nog ‘n ‘virgin'”. ‘n Kar vol base is oop en toe Kimberley toe om vir haar en haar man te gaan ekskuus vra.
Wanneer die blad van die steen af gaan, was hy uit die redaksie se hande. Nadat dit geproeflees is (span spesiale proeflesers met arendsoë) is dit na die stereo-afdfeling. Hier is eers ‘n karton-flong of -matrys van die blad gemaak. Die matrys/flong wat hittebestand was, is in ‘n silindervormige gietmasjien geplaas. Gesmelte lood is dan daarop gegiet.
Die silindriese lood-“bladsy” wat so gemaak is, se volgende stasie was die sogenaamde “router” waar die hoër oppervlakke weggesny is voordat dit rolpers toe gaan …. waar die drukkers ongeduldig wag en op hul horlosies loer. .
Die proses is die “direkte drukproses” genoem deurdat direk op die papier gedruk is.
Ai, waar is daardie dae en daardie wonderlike tegniese kollegas. Baie is natuurlik voor die papierkoerant op 7 Augustus langboompies toe gaan, al vooruit.
Jul 13, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Tokkie met haar rooi baadjie – die geskenk van ‘n koerantverkoper.
Die tot siens vir Volksblad as papierkoerant beteken ook tot siens vir die knape wat vroeg opstaan om die nuus vroegdag by intekenare se hekkie of op die voorstoep te besorg.
Koerantverkopers verdwyn terselfdertyd by verkeersligte in stede soos Bloemfontein en Kimberley. Nuusplakkate, so lankal ‘n permanente faset van die stedelike landskap, word museumstukke.
Die rol van die koerantverkoper lyk dalk beskeie, maar dit sal ‘n sonde wees as dit onbesonge in vergetelheid verdwyn.
Die geldjies wat ‘n koerantseun huis toe bring, het al in sy huis die kos op die tafel moes sit. Of dit nog so gesteld is, weet ek nie. In my tyd was dit wel die geval. As verslaggewer het ek ‘n keer oor Die Volksblad se kortbroek-verkoopspannetjie ‘n storie geskryf. Sulke hartroerende stories het ‘n vogtigheid in die jong koerantman se oë gebring.
Toe was nie net die naam van die koerant anders nie (nog met die “Die” voor) maar ook sy tydgleuf. ‘n Skare seuntjies – in ’n stadium iets soos 180 – het met die varsgedrukte koerante die stad ingevaar om hul gebiede te bedien en hul hoeke te beman. Oom Blikkies Bilgnaut van die sirkulasie-afdeling moes hulle beheer. Dit het hare op die tande geverg.
Oom Blikkies was self egter ‘n Blik-skottel wat jy nie sonder handskoene moes aandurf nie!
Hoe meer koerante op ‘n bepaalde hoek verkoop is, hoe gesogter was die staanplek vanselfsprekend. Een hoek met status was op die hoek by die skoenwinkel Cuthberts in Maitlandstraat. Twee uitskieters wat daardie hoek in hul jeug hul eie kon noem, was wyle prof. Wynand Mouton van die UV en SAUK, en later ook Frans Stroebel wat lank ‘n sleutelman in die Rembrandtstal was. Frans was ook ‘n kranige Kovsie-rasieleier.
Onder Mouton-bewind in die 40’s was dit bekend as “Nantiie se hoek”. Geen indringer sou dit naby waag nie. Hy het laggend vertel hoe ‘n beskonke omie hom as onskuldige 12-jarige seun rondgejaag het as die nuus hom nie geval nie. Maar hy het goed geld gemaak: 12 sjielings en ‘n sikspens kommissie op ‘n dag. Eendag op ‘n reëndag het ‘n barmhartige samaritaan sommer 40 koerante by hom gekoop!
Ek het prof. Mouton skertsend “kollega” genoem weens die verbintenis. Hy het die “status” hom glimlaggend laat welgeval.
Die rekord vir ‘n lang “dienstermyn” is iets soos sewe jaar. Dit word gehou deur ene Louis Slump. Hy het alles mooi opgeteken en sy “loopbaansyfers” is indrukwekkend: in die sewe jaar het hy 15 288 km (sic) op sy fiets agter 82 intekenare aangery.
‘n Mooi storie oor jeugdige entrepreneurskap kom uit die dae toe dr. DF Malan pas in 1948 premier geword het. Op ‘n VP-kermis in Windhoek is op ‘n plakkaat met sy foto op skyfgeskiet. Die storie was op die voorblad en op die plakkaat:
“Sappe skiet op dr, Malan se foto”. Toe sny van die verkopertjies die onderste lyn weg: “Sappe skiet op dr. Malan”. Heeltemal iets anders! Koerante het soos soetkoek verkoop.
Verkopertjies is dikwels ingespan om as ‘n gunsie ander takies ook vir mense te verrig. “Ag boetie, help die ou tante tog die swaar boks kombuis toe dra!” Dan is die foets en koerante maar eers eenkant gelos em kruideniersware help dra.
Een moes selfs as “para-medikus” uithelp. Op sy oggendrondes kom hy op ‘n drawwer af wat plat in die straat lệ. Dit was ‘n diabeet wat deur lae bloedsuiker neergevel is. Nogal ‘n redaksielid van Die Volksblad. Nadat die seun vasgestel het, die oom lewe nog, het hy ‘n motor voorgekeer, wat hulp ontbied het. Darem ‘n blok sjokolade vir sy moeite gekry!
My en Tokkie se seun, Johan, was as hoërskoolseun ook ‘n trotse koeranteverkoper. Met sy eerste tjekkie het hy by Repubiekbmeubels vir sy pa ‘n swarthoutkierie laat maak. Ek gebruik dit ná 30 jaar elke dag, al is dit al vol hondehappe en ander letsels.
Vir homself het het ‘n rooi baadjie van sulke gladde plastiekerige materiaal aangeskaf vir beskerming teen wind en weer. Met sy aftrede het sy ma die baadjie geërf.
Tokkie en daardie baadjie kom ’n lang pad. Vir elke reis wat ons onderneerm het, is dit altyd eerste ingepak. Ook vir elke skeepsreis. Dis ’n veteraan van ver paaie. Sy spore lê wyd op hierdie aardbol.
In die bittere koue wat die Kaap nou teister, wend sy haar gister tot “Johan se baadjie” vir ‘n ekstra hittetjie. Toe die uwe dit gewaar, spoel die herinneringe deur my: hoe lank dit in ons besit is en waarheen dit ons oral vergesel het. Sou ‘n bewoë nattigheidjie nie skielik in my oë opwel nie? Oor ‘n baadjie!
Maar ‘n dubbele bewoëndheid was dit darem kan ‘n mens ter versagting sệ. Die trane lệ maar vlak oor al die verbygaande simbole van my koerant wat so lank so ‘n spesiale plekkie in my hart beklee het.
- Van die inligting is met dankbaarheid bekom uit “’n Lewe van sy eie – die biografie van Volksblad” deur Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet.
Jul 10, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
BEGIN Januarie 1963 – amper sestig jaar gelede – het ek as groentjie-verslaggewer by Die Volksblad se ou gebou in Voortrekkerstraat 79, Bloemfontein, ingestap. ‘n Leeftyd by en naby koerante is daardie dag ingelui.
My formele loopbaan by die Nasionale Pers – van indiensneming tot by aftrede – het darem nie sestig jaar geduur nie; net 36 jaar. My verbintenis met koerante strek egter veel langer, omdat ek as beurshouer al van 1958 af ‘n Naspers-jas dra, en omdat ek in my aftrede, sedert einde 1997, steeds aktief tot Nasperspublikasies bygedra het.
As studentewerker het ek aan die einde van 1961 as Goudveldse verteenwoordiger van Die Volksblad waargeneem – die 20-jarige moes aan die diep kant leer swem. Begin 1963 het ek in Bloemfontein ingeval en uit die staanspoor net beroepsvreugde ervaar. Die koerant was dadelik in my bloed.
As Parlementêre verslaggewer in 1964 en 1965 (ongelukkig net twee jaar) het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef. As jong hoofsubredakteur (‘n pos wat te gou gekom het), moes ek die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ‘n Groter nuus-“storie” het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.
As nuusredakteur (Die Volksblad en Beeld) kon ek my amper ‘n dekade lank as joernalis ten volle uitleef en bestuursvaardighede begin slyp.
Tussen 1974 en 1980 is ek na Beeld as eerste nuusredakteur van die nuwe koerant, Later het ek assistent-redakteur geword. Beeld se stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar. Die joernalistieke omgewing was dinamies, energiek en opwindend. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd. Die Beeld-tyd het vir my nuwe vergesigte geopen.Met my terugkeer na Bloemfontein in 1980 het ek eers ten volle besef wat dit vir my beteken het.
‘n Jaar as Nieman Fellow aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, het sy eie eise gebring, ook vir my gesin. Onthou dit was in 1976/77 – Soweto het uitgebars. Dit was ook uiters vervullend en leersaam.
Met my aanstelling as redakteur van Die Volksblad in 1980 is ‘n droom vervul. Op ouderdom 39 was ek weer redakteur soos ek op skool was in 1957 (eerste leerlingredakteur van die Volkie-jaarblad) en op Tukkies in 1961 (redakteur van die studenteweekblad Die Perdeby). Die keer was egter die ware Jakob: ‘n dagblad.
Die Volksblad was tot einde Februarie 1991 ‘n middagkoerant. In ‘n stal van oggendkoerante was dit ongerieflik en duur – ‘n komplikasie in ‘n tyd van ekonomiese druk. Ná ernstige besinning is met verrassend goeie gevolge na die oggendmark geskuif. Sirkulasie het lewendig reageer. Die koerant se geldsake het ietwat verbeter.
Dat gemeenskapsdiens ‘n goeie koerant onderskei, was nog altyd een van my credo‘s. Voor my tyd, ná my tyd, maar bepaald ook in my tyd is vele mooi tradisies in Die Volksblad se lesersgebied uit daardie geloof gebore. Meer so as elke ander koerant het D.V. se vaderskap van sulke tradisies hom diep in sy lesers se harte laat inkruip, glo ek.
Op ander plekke is voorbeelde van D.V. se formidabele gemeenskapsbetrokkenheid volledig opgeteken. Ek beperk my hier tot net twee witbroodjie-“kinders” van my era: die Matrieknooiwedstryd en die Kunsmark. Eersgenoemde het in sy nuwe gedaante van Matrikulant-van-die-Jaar-kompetisie in 2010 sy 30ste bestaansjaar gevier. ‘n Boompie wat ons in 1980 geplant het, het geil gegroei.
Een van die koerant se beste geskenke aan die gemeenskap in daardie jare was Die Volksblad-Kunsmark wat in 1982 gestig is. Mense het in groter getalle as rugbyskares op Kunsmark-Saterdag na Koningspark gestroom om te kyk, geniet en te koop. In ‘n stadium was iets soos 1 600 uitstallers geregistreer. Nasionaal is ons kunsmark as een van die beste, kleurrykste en florerendste gereken.
Anders as die Matrieknooiwedstryd is hierdie boompie wat in die jare 80 geplant is, ongelukkig nie goed versorg nie. Van verwaarlosing het dit gekwyn …
In die tyd het Die Volksblad al hoe meer op die nasionale toneel na vore begin tree. Van die koerant se menings is oral kennis geneem, ook op TV en in Engelstalige koerante.
Toe Ton Vosloo teen die einde van 1982 moes Kaap toe as kroonprins vir Lang David de Villiers, is ek aangekeer om in sy plek terug te kom Johannesburg toe. Aan die een kant was by my ingenomendheid, selfs opgewondenheid. Tog het twyfel geknaag. Nadat ek reeds voorlopig ‘n huis aan die Rand gaan uitsoek het (in Victorypark langs Linden), het die gesinsomstandighede die deurslag gegee. My besluit om in Bloemfontein te bly, is nie oral toegejuig nie. “Die Advokaat” het sy wrewel nie verbloem nie.
Later het die geleentheid twee keer gekom om Rapport se leisels oor te neem. Ek was nooit vreeslik lus vir ‘n terugkeer na Doornfontein nie, hoewel dieselfde tweestryd as destyds met die Beeld-toenadering tog teenwoordig was. Maar ek het bly ekskuse uitdink en koes. Uiteindelik het ek formeel “nee dankie” gesê
Van buite die mediakring het twee toenaderings gekom. Geeneen is ooit ernstig oorweeg nie. Albei was hoogstens vir my interessant.
Eers het ‘n afvaardiging van Bultfontein (Tokkie se tuisdorp) gekom met die versoek dat ek my as die Nasionale Party se kandidaat vir die Volksraad in die kiesafdeling Winburg beskikbaar stel. Die vooruitsig om in die agterbanke te gaan sit en koukus-dissipline te handhaaf, was nie aantreklik nie. Ek het my besoekers ingelig ek verkies die onafhanklikheid van ‘n redakteur. .
Louis Botha, Administrateur, met wie ek ‘n vriendskapsverhouding gehad het, het my daarop vertroulik ‘n pos as L.U.K (lid van die Uitvoerende Komitee) aangebied. Weer wou ek nie byt nie.Ek was 12 jaar lank redakteur. Die dag toe ek, einde Maart 1992, die deur van Die Volksblad se deftige redakteurskantoor met sy swaar ou meubels (stinkhout en Birmaanse kiaat) en donker houtpanele teen die mure vir laas agter my toetrek, was ek diep dankbaar oor die onuitspreeklike voorreg wat my gegun was om by daardie baie spesiale koerant die leisels te hou
Om die redakteur van ‘n dagblad te wees, is om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis dag vir dag op ‘n reuse-skerm voor jou verbyrol. In die jare 80 het die tempo en intensiteit van daardie geskiedskrywing ongekende vlakke bereik! Met probleme, teleurstellings, foute en al was dit vir my ‘n fassinerende era.
Al die herinneringe flits helder voor my verby terwyl ek die nuus moeisaam verteer dat Volksblad (wat ná my tyd die voorsetsel “Die” in sy naam afgegooi het) net as digitale produk gaan voorbestaan. Sy d ae as papierkoerant is getel. Sy tenk is leeg, soos sy huidige redakteur dit stel.
Van my oud-kollegas beleef die nuus positiewer as ekself. Van hulle begin al drome droom oor ‘n nuwe toekoms sonder papier. Oor hul gesindheid van doodkry is min, is ek bly en dankbaar. Wat my persoonlik betref, is ek stukkend. Ek probeer dit nie verbloem nie. Die wond sal nie gou genees nie.
Vir my bly papier koning.
Jul 9, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
My hart is nog te stukkend oor die lot van my geliefde Volksblad – wat nou deur die magte en owerhede van die teenswoordige Naspers (of Media24 as u dan wil) op ‘n digitale syspoor gerangeer word – om ‘n blog oor my gewaarwordinge aan te durf. Ek beperk my tot ‘n kort teruglik.
Vier, vyf jaar gelede was daar ‘n soortgelyke inisiatief, gedryf deur dieselfde mnr. Ishmet Davidson wat nou uitvoerende hoof van Media24 is. Koerantmense in murg en been soos Ton Vosloo en Salie de Swardt was toe nog in direksies. Hulle en ander nugterdenkendes kon stem dik maak en walgooi. Dit het egter toenemend duidelik geword dat die gedrukte koeran top geleende tyd leef.
Bob van Dyk, Nederlander wat Naspersbaas geword het, het trouens al gewaag om te voorpel dat koerante dalk vinniger op pad uit is as wat deurtrapte koerantmense soos ekself verwag het. Wat Die Volksblad betref, was mnr. Van Dyk helaas toe reg. My eie insigte is as wensdenkery ontmasker.
Maar die kort terugblik:
Op 18 Oktober 2012, net agt jaar gelede, het ek ‘n taamlik uitvoerige dokument opgestel waarin ek my lewenslange verbintenis met die Pers, soos ons geslag ons maatskappy gemeensaam genoem het, deur ‘n sogenaamde ek-bril in oënskou neem.
By koerante was in daardie stadium opnuut ‘n verkleining van redaksies op die agenda, wat onder meer behels dat veral 60-plussers in die gedrang kom – al hul opgepotte ervaring ten spyt.
My gevolgtrekking het ek toe so geformuleer: “Dit tref hierdie waarnemer dat koerante se hande kwalik gesterk word vir hul uitdagende stryd in ‘n uiters medingende omgewing, waarin die sogenaamde nuwe media, sosiale media en watse media nie nog nie steeds al hoe dieper inkeep. Hul hande word, soos dit vir my lyk, eerder agter die rug vasgeknoop. Dit word ‘n uitmergelende, ongelyke stryd. “
Dit bring my nog ‘n stappie terug: tot ‘n versugting aan die einde van my afskeidstoespraak by my aftrede begin 1998 oor die “bewaring van ‘n goue ewewig, asseblief tog, tussen die nuwe tegnologie en kernpublikasies wat al geslag ná geslag hul gemeenskappe getrou dien, immer waaksaam die sosiale orde in stand help hou en lank die ruggraat van die maatskappy was.” Daardie goue ewewig is helaas nie bewaar nie.
In intrinsieke waarde was dit in 2018 al ‘n geheel ander Pers as wat ek gegroet het. Naspers was toe al ‘n internasionale sakereus. Wyd gereken, op elke terrein op die voorpunt, skitterend suksesvol.
“Vir die geweldige internasionale deurbrake, astronomiese omsette, reuse-winste en vuurpylaangedrewe aandeleprys kan ‘n mens net bewondering uitspreek. Entrepreneurskap, waagmoed, inisiatief en visie is lewendig en gesond in die Heerengracht,” het ek geskryf. “Hoede af vir ‘n nuwe leiersgeslag!”
Maar, het ek gevra, en dit is my eintlike punt, is Naspers dan nie juis nou ryk genoeg om sy so belangrike gedrukte media sommer uit sy agtersak te fortifiseer om hul rol as “moedersmelk” vir die volk te bly speel nie?
Vandag is Naspers selfs nog ryker en daardie agtersak nog dieper. Om ‘n gerekende, eerbare titel in die hoofstroom van koerante soos Volksblad in stand te hou ter erkenning van waar sy eie wortels vandaan kom, behoort vir Naspers ‘n geleentheid te gewees het om aan te gryp. As hy maar net die lewe deur ‘n ander bril as ‘n geldbril wou beskou.
Jul 4, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dit was n skok om Cicely Wahl, senior lektor in Engels aan die Vrystaatse Universiteit, op uitnodiging van buurman Hekkie Aucamp, ‘n polisiereservis, op ‘n Sondagmiddag bebloed en vol skietwonde in haar bed in die Wahls se netjiese huis in Harry Smithstraat, Bloemfontein, aan te tref.
Die skok was groter toe dit aan die lig kom dat prof.Robert Wahl, eerbiedwaardige hoogeleraar in dieselfde vak, met sy eie 6.35 mm pistool op ‘n kort afstand ses koeëls in sy slapende vrou se kop en nek gepomp het.
Die derde skok was dat die besadigde en uiters beskaafde akademikus ná die daad met sy Mercedes die 23 kilometer Maselspoort toe gejaag het – voor die oë van verbaasde vistermanne met brullende enjin tot binne-in die water. Later is ontdek hy het homself in die knie gewond om seker te maak dat hy in die sinkende motor vasgepen bly.
Hierdie hartverskeurende gebeure, vroeg op Sondagoggend 5 April 1970, het Bloemfonteiners – veral die akademiese gemeenskap aan die U.V. – verbyster. Die Wahls was gerespekteerde en gekultiveerde mense : dit was amper ondenkbaar dat so ‘n treurspel hom in hul huis sou afspeel.
Eers toe die legkaart verder voltooi word, het begrip gedaag – en deernis. Die 42-jarige Cicely was terminaal siek aan kanker. Haar lyding het eenvoudig te veel geword vir haar man wat dit in eensame wanhoop alleen moes aanskou en verwerk. Die egpaar was kinderloos, en die ondersteuningbasis van intieme vriende was yl.
‘n Vinnige dood moes uiteindelik die enigste uitweg gelyk het. Sommige het gefluister oor ’n selfmoord-pakt. Of een inderdaad bestaan het en of iets net skielik in die skraal 49-jarige professor geknak het, sal niemand ooit weet nie. Geen twyfel het egter bestaan dat hy sy geliefde Cicely ‘n genadedood toegedien het nie – ‘n liefdesdaad uit en uit.
Dit blyk ook uit die brokkie oor die geregtelike ondersoek en die bevinding in die Die Burger se rubriek “50 jaar gelede” vanoggend – my gunstelingstukkie in die koerant omdat dit dikwels oor dinge handel wat ek beleef het en goed onthou. Met die Wahlmoord was ek nuusredakteur van Die Volksblad. Ons huise was skaars ‘n blok uit mekaar.
“Die kanker begin Cicely se keel aantas. Ek het haar lief, ek het haar lief, ek het baie lief,” lui ‘n brief waarop die polisie beslag gelê het. Daar was geen naam of datum onderaan nie. Die brief word vanoggend in Die Burger-brokkie aangehaal. Van daardie brief het ek al vergeet. Maar die motief word daardeur bo alle twyfel bevestig.
Die besef dat dit ‘n liefdesdaad was, het gemaak dat in Bloemfontein min, indien enige veroordeling gehoor is. Die algemene reaksie was: “die arme, arme mense.” Ek was in daardie stadium net 29 jaar oud, met beperkte lewenservaring. Dit was ook my gevoel.. Seker dié dat die Wahl-moord my so geruk het soos min ander moorde in my koeranteloopbaan van 36 jaar.
Jul 2, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die UR (en amptenare) van die laat 80’s op ‘n bosberaad.
Waar die Regering se onderhandelingspan oor ‘n nuwe bedeling in Kempton Park “maar dun” was, kon van die lede van die staatkundige komitee van die Afrikaner-Broederbond daar ‘n verskil gemaak het.
Die mening spreek ek uit n my terugblikboek op die turbulente 80’s, “Kroniek van ‘n koerantman”, wat deur De Novo Boeke as e-boek geherpubliseer is. De Novo glo dat “Kroniek” 22 jaar na eerste verskyning (in 1998) nog relevant is vir die politieke narratief van die dag.
In my boek word, soos dit destyds op die agterflap gestel is, “die sluier – soos nog nie tevore nie – gelig oor die gisting en intense toekomsdebat in die geledere van die AB”. Dié was natuurlik toe nog ‘n vertroulike organisasie.
‘n Berig oor die herpublikasie verskyn in die jongste nuusbrief van die Afrikanerbond, VOLUME 20, NOMMER 7. Verdere aanhalings kom uit die berig in die nuusbrief:
“Oud-president Thabo Mbeki het (terwyl hy adjunk-president was) met waardering gepraat oor die rol wat die AB in die transformasie van die land gespeel het. Die AB verdien daarvoor egter nog groter krediet. ,
“Ekself het het 47 jaar gelede, in 1973, lid van die AB geword (lid 12951).. Tydens my redakteurskap in die jare 80 en daarna was ek van 1985 tot 1991 twee termyne lid van die destydse UR (uitvoerende raad) – wat vir my soos ‘n ‘hegte bergklimspan’ was. ‘Party klim sterker; sommige bly ‘n bietjie agter. Die sterker klimmers wag egter altyd en help die agterosse waar dit nodig is sodat almal die kruin plus-minus gelyk bereik.’
“Die ‘voorklimmers’ van daardie tyd wat na my oordeel ‘n erepenning verdien, was die staatkundige komitee, wat ‘n bloudruk vir die toekoms moes soek. Die lede het hul groot taak met ywer en bekwaamheid verrig.
“Die komitee het nie net die res van die UR aangesteek om skeppend te help saamdink oor fundamentele staatkundige kwessies nie, maar was instrumenteel in die sleutelrol wat die organisasie in die tweede helfte van die jare tagtig gespeel het om sy lede vir ‘n magsprysgawe aan ‘n demokratiese meerderheidsregering voor te berei.“
“Die staatkundige komitee se eerste insiggewende beleidsdokument, Basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner, is in 1987 voltooi. ‘n Tweede waarin nader aan die konkrete beweeg is, Konsep-riglyne vir die staatkundige gesprek, het in 1989 gevolg. Jaap Marais van die HNP het glo tussen 60 000 en 80 000 afdrukke van die eerste laat maak om “die blanke volk die gevaar te laat besef”. Volgens hom was die dokument die bewys van ‘n Afrikanergeknoei agter die skerms “om Suid-Afrika onder ‘n swart regering met ‘n swart President te stel”.
“Die tweede dokument was waarskynlik die eerste AB-stuk wat amptelik vertaal en ook deur die nuusagent-skap Sapa aan Engelse koerante versprei is. Die vertaling is in Die Volksblad se kantore gedoen deur Paul Marais, wat later die redakteur was. Hy het ‘n M.A. in Engels.
“Met sy insiatiewe het die AB, volgens my, nie net ver voor die Regering geloop nie, maar was hy ook ente voor elke ander organisasie, insluitende die NG Kerk, om sy lede tot verstandige aanvaarding van nuwe werklikhede te bring.
“Die waarde om so naby die AB-vuur te sit, was nie net van persoonlike aard nie. Die koerant had die voordeel van ‘n skitterende klankbord. Daar was ook ‘n direkte praktiese nut. Vir talle rubrieke en hoofartikels, selfs nuusberigte, is die saadjies in AB-diskussies, AB-dinkskrums en ander AB-byeenkomste gesaai.
“Openhartige gesprekke in die hoofkantoor, Die Eike in Aucklandpark, Johannesburg, met politieke, kerk-, sake-, weermag- en polisieleiers was aan die orde van die dag. ‘n Besoek aan UR was ‘n moet op elke sleutel-mens se program, en ‘n uitnodiging ‘n hoë eer.
“Pres. F.W. de Klerk het kom kuier kort nadat hy die hoofleier geword het, en het die UR-lede in sy vertroue geneem oor doelwitte soos die terugkeer vir Suid-Afrika tot die internasionale gemeenskap met behoud van sy waardigheid. ‘Daarmee het hy nie gras onder sy voete laat groei nie.’
“Kyk ek terug op my jare van AB-skap sedert het ek min twyfel oor die waarde wat dit vir my as mens, as joernalis en uiteindelik as redakteur gehad het. In geen ander forum ‒ buiten in my eie leefwêreld van die koerant, en in die wisselwerking tussen koerant en gemeenskap ‒ kon ek so ingesuig geraak het by die Afrikaner se uitspook van ‘n nuwe lotsbestemming nie.
“Nêrens anders kon uitdagender, prikkelender en stimulerender gedink, gepraat en geredeneer gewees het oor watter bestemming Afrikaners moet najaag en hoe hulle daar moet uitkom nie as binne die Afrikaner-Broederbond nie. “
Bestel “Kroniek van ‘n koerantman” by http://www.denovowebs.co.za/product/kroniek-van-n-koerantman Prys R70.
Naskrif: “Kroniek” was die eerste boek uit die pen van ‘n Afrikaanse redakteur oor die intense “familierusie” van daardie jare in die aantog tot ‘n nuwe bedeling. So venynig is hervormingsgesindes – wat natuurlik die Afrikaanse koerante ingesluit het – deur weerspanniges toegetakel dat ‘n spitsvondige Engelse persman die “oorlog” selfs beskryf het as ‘n “second Boer war – with Boers on both sides’”.