DOMINEE, KYK NET DIE EINA!

Dominees wat die kansel vir ‘n redakteurskap verruil het, tref reuseverskille in hul nuwe nerings aan – ook ‘n klompie ooreenkomste. Hulle skryf o.a. steeds preke – heelwat korter maar elke dag pleks van een of twee per week.
Dit was die wysheid van Gerrit Velthuysen wat aan die einde van die 80’s ‘n ruk lank redakteur by Die Transvaler (toe ‘n Pretoriase koerant) was. Hy is later na ‘n bemarkingspos geskuif. Voor sy skof by Die Transvaler was hy ‘n Hervormde leraar in Centurion en hoogleraar in Teologie by Tukkies.
Sy naam ontbreek op Die Transvaler se Wikipedia. Wonder hoekom? Dat my geheue my nie in die steek laat nie, het ek egter by twee gesaghebbende bronne bevestig.
Trouens, hoe sou ek Gerrit kon vergeet? Geen ander redakteur wat ek geken het, het so ‘n melodieuse stem gehad nie. Kon my verluister aan die man. Geen ander een het ook sulke klonte aan sy ringvingers gedra nie.
Onvergeetlikste rede? Hy het in Oktober 1989 op ‘n uitstappie na die ou Suidwes aan die vooraand van die Namibiese onafhanklikheidwording Glenfiddich-enkelmout, 12 jaar oud, aan my bekend gestel. Suiwer engeltjiepiepie, klas goud.
Drie Gerrit-stories steek in my kop vas: een uit sy koerantdae, een uit sy domineedae en die ander ‘n lekker grappie wat hy ‘n keer in ‘n rubriek vertel het. Die het ek so geniet dat ek dit in een van my humorboekies van die 90’s opgeneem het.
Die koerantstorie kom aan die begindae van sy redakteurskap – voordat hy gewoond geraak het aan die bokkerops wat om elke hoek skuil. Ek loop hom by ‘n redakteursbyeenkoms raak, en hy is stomend. ‘n Senior kollega het in ‘n hoofartikel van die “Kaiingsmerk” geskryf pleks van die “Kainsmerk”. ‘n Ander senior kollega het die glipsie misgelees. Dit staan toe in die koerant. En die redakteur is veronderstel om sy Bybel te ken. 
Hy  wou hulle braai. Ek kon hom gerus stel dat erger dinge vorentoe met hom sal gebeur.
Die storie uit sy leraarsdae was oor ‘n jongerige gemeentesuster wat geopereer is. Soos die gebruik is, gaan besoek hy haar waar sy tuis aansterk. Hulle gesels nog so oor koeitjies en kalfies toe sy skielik verbete aankondig: “Ek wil vir dominee my wond wys.”
Gerrit keer die kant toe en daardie kant toe maar die suster – jongerig en aantreklik – laat haar nie van stryk bring nie. Toe die dominee hom weer kom kry, lig sy die laken tot doer bo. Daar sien hy toe nie net die nare wond volledig nie, maar ook die res van haar ongeskonde lyf in al sy naakte glorie onthul. Hy moes sluk om teenwoordigheid van gees te behou.
Wat sệ jy toe vir haar?” por ek nuuskierig.
“Net:’Sjoe dis ‘n kwaai wond.’ Tou vou ek die laken netjies toe, maak keel skoon en onthou skielik van ‘n belangrike ander afspraak.”
Die grappie:
Iemand – sệ maar Gerrit self – ry boontoe in ’n propvol hysbak. Op die eerste verdieping gaan die deur oop – en ’n sekuriteitswag, uniform en al, wurm hom in. Met skouers en elmboë beur hy ’n staanplekkie oop.
Die bak sit sy opwaartse reis voort met die vername kêrel breed voor die deure, bene wyd geplant, keps op die kop en “walkie-talkie” in die hand. Hy kyk elke medereisiger vas in die oë. Toe bring hy die “walkie-talkie” na sy lippe, druk ’n knoppie en sê gewigtig: “Kom in, Bravo Drie. Bravo Drie kom in. Oor!”
Almal in die hysbak wag saam met hom. Niks gebeur nie. Hy vroetel weer aan sy praat-apparaat. “Bravo Drie, kan jy my hoor, Bravo Drie? Kom in, Bravo Drie. Oor.” Steeds doodse stilte.
Hy druk daai knoppie dat dit sou traan as dit kon, byt op sy tande en sis dit behoorlik uit: “Waar is jy, Bravo Drie? Het jy moeilikheid, Bravo Drie? Hoekom kom jy nie in nie, Bravo Drie? Oor.”
Stadig en afgemete kom ’n diep stem oor die luidsprekertjie: “Jy is Bravo Drie, jou dom dônner!”
FOTO: SWA, 1989. Links: Gerrit saam met Piet Steyn, LV vir Winburg, en Ritsema de la Bat van die KWV. Regs: Gerrit by een van ons twee klein vliegtuigies.

MYLPAAL IN DIE JOERNALISTIEK

Vrymoedigheid by koerante om vorige taboe-woorde stelselmatig in hul kolomme bestaansreg te gee, het as’t ware ‘n hupstoot gekry met die dure verlies van ene John Wayne Bobbitt in 1993. ‘n Mens sou dit ook ‘n mylpaal in joernalistieke openhartigheid kon noem.
Wat gebeur het, is genoeg om elke man koue rillings te gee. John se gade, Lorena, het naamlik in Manassas, Virginia, terwyl hy slaap, ‘n vleismes gegryp en op zijn goeie Engels die “unkindest cut” toegedien. Morsaf. Die voorwerp van haar wrewel is daarna minagtend by haar motor se venster uitgewerp.
Haar woede is ontketen deur ‘n beweerde seksuele aanranding vroeër die aand – iets wat in hul stormagtige huwelik van vier jaar glo meermale die vonke laat spat het. (Later darem weer aangewerk nadat sy in ‘n bedagsame oomblik 911 gebel het. Die nooddienste het die afgesnyde orgaan met die nodige sorgsaamheid uit die veld herwin.)
Oor die sage het koerante wệreldwyd letterlik miljoene woorde geskryf. Die woord “penis” het oornag woerts van diskrete vermeldings in mediese rubrieke tot voorblad-respektabelheid gevorder. Die ontwikkelingsgang sluit woorde in soos “skaamdeel”, “stuk van die onderlyf” en “deel van die anatomie”.
Wat een bloeddorstige Eva darem nie met ‘n skerp mes kan vermag nie!
Vir die hofsaak – met Lorena in die beskuldigdebank weens die diepe leed haar stomme eggenoot aangedoen – het meer as 30 media-organisasies, ook uit die buiteland, die “plattelandse hofsaak van die eeu” in Manassas bygewoon. “The case of the unkindest cut” was voorbladnuus.
Ná ‘n daelange ontboeseming van die intiemste slaapkamersake is Lorena deur ‘n jurie onskuldig bevind op grond van tydelike kranksinnigheid wat gelei het tot ‘n onweerstaanbare impuls om haar man ‘n seksuele bloedneus te gee, by wyse van spreke. Hy is in ‘n ander verhoor op sy beurt onskuldig bevind aan verkragting.
Die twee – wat eers ‘n stuk of vier jaar later finaal geskei is – is afsonderlik derduisende dollars aangebied deur TV-stasies, poniekoerante en tydskrifte wat tou gestaan het om hul kleurryke kooistories op te dis.
Die gesaghebbende New York Times het ‘n volblad afgestaan aan die sensitiewe hegting, kompleet met diagramme. Die Washington Times het ‘n spesiale bylae van 24 bladsye gepubliseer met die opskrif “The Bobbitts across America”. Die kollig is laat val op al die Amerikaanse mans wat aan die hand van hul vroue of jaloerse minnaars sulke gewelddadige amputasies te beurt geval het.
Op een TV-kanaal kon kykers sien hoe ‘n ingenome John die gehoor inlig dat sy aangewerkte bate hom nog beter bedeeld sou maak. Hy het gespog dat hy reeds ‘n nuwe vriendin het, en foto’s uit sy binnesak gehaal – nie van die vriendin nie. Meisies in die gehoor het geskreeu soos hulle lag.
Op ‘n ander kanaal het die eksentrieke aanbieder verklap dat hy John byna $5 000 dollar aangebied het om uit te haal en te wys. John, ‘n fris nagklub-uitsmyter met ‘n seunsgesig, het ná oorweging die gulle aanbod van die hand gewys.
Die opspraakwekkende verhoor het tot ‘n hele nuwe bedryf gelei. T-hempies is verkoop met bewoordings soos “A cut above the rest”, “Love hurts” and “Slice of life”. Daarby was afbeeldings van ‘n bebloede vleismes.
‘n Restaurant naby die hof, The Courthouse Deli” het ‘n spesiale middagete aangebied: ‘n worsbroodjie van agt duim – die lengte van die lem! Bykomende kelners en kokke was nodig.
John, wat lank ‘n soort sterstatus geniet het, het intussen in die tronk beland weens aanranding op ‘n ander vrou. Ná sy vrylating het hy voortgegaan om geld uit sy ontbering te maak. Hy het o.m. in minstens twee pornoflieks gespeel. Hy het hom ook as ‘n spreker van faam ontpop.
In New York was hy seremoniemeester by die bekendstelling van ‘n sogenaamde “Bobbit penis protector”. Dit is ‘n kombuismesbestande toestel gemaak van ‘n akrielmateriaal en sou, volgens aanspraak, die draer van ‘n goeie nagrus verseker.
O ja, een van die pornoprente het heet gepas geheet “John Wayne Bobbitt: Uncut”.
FOTO: Lorena, John en daai mes.

TE VINNIG MET DIE NUUS

Christine Keeler in 1963

Hoe varser des te beter.  Dit geld nie net vir vrugte, groente, melk, brood en eiers nie; gewis ook vir nuus.

‘n Koerant wat skitter met sprankelvars nuus – dit is die ideaal.

Pas egter op vir “te vars”. Die enigste goeie “te” is die “te” in “tevrede”, soos my ouma Elsie altyd vermaan het.

‘n Minsame kollega het ‘n slag ‘n stel afgetrap met nuus wat “te vars” was. Dit was die tyd van die mooi Britse foonsnol Christine Keeler (foto) en ‘n rondslaap-minister, lord John Profumo. Profumo en ‘n Russiese vlootattaché het albei by die skone Christine gekuier. Toe dit uitlek, het vrae ontstaan oor die gevaar wat die indiskrete oorvleueling vir Britse veiligheid inhou.

‘n Osteopaat, dr. Stephen Ward, wat me. Keeler  as’t ware ontdek, die verhewe sosiale lewe ingelei en later “bestuur” het, het midde-in die skandaal ‘n oordosis pille gedrink. Dit was kort nadat nadat hy in Londen in die hof verskyn het op aanklag dat hy uit die opbrengs van onsedelikheid leef.

Ook in Suid-Afrika was ‘n lewendige belangstelling in die stoutighede in hoë kringe. Toe die kollega die oggend van Saterdag 3 Augustus 1963 in Bloemfontein in die hoofsub se inmandjie ‘n flitsberig optel dat dr. Ward gesterf het, het verligting oor hom gespoel. Daar had hy sy vars plakkaatstorie vir die dag, iets wat Saterdae soms hoofbrekens gegee het.

Later, toe die eerste uitgawe al uit was, begin dit hom hinder dat, anders as gewoonlik, net die kort middernagtelike flitsberiggie opgedaag het, niks meer nie. HY gaan deel sy ongemak oor die vreemde toedrag van sake met die nuusredakteur.  Dié bel bekommerd die Londense verteenwoordiger. Nee, hy weet van niks. Kyk juis nou na die BBC se oggendbulletin.

Die ontredderende werklikheid daal skielik op almal wat die oggend in Voortrekkerstraat 79 werk: dr. Ward is nie dood nie.  Dit was daardie wrede oomblik wat elke koerant vrees: dat hy ‘n bogstorie prominent op sy voorblad – en op die plakkaat op elke tweede lamppaal – die wệreld ingestuur het. Berge bedek jou.

 

Maar waar kom die geheimsinnige flitsberig dan vandaan? Indringende navrae bring aan die lig dat die vorige nag by Die Burger ‘n “natsteen” gehou is; ‘n tradisionele feestelikheid van die nagpersoneel nadat die laaste uitgawe van die week gesak het.

‘n Platjie wou die ontspanne hoofsubredakteur ‘n poets bak.  Hy gaan tik toe die vals flitsberig op die teleksmasjien.

Wat hy nie besef het nie, is dat die beriggie ( “fopnuus” van die eerste water) ook by Die Volksblad ontvang sou word. Hoe sou daardie Burgerman in elk geval ooit kon raai dat ‘n onervare man die oggend by die Vrystaatse suster in die hoofsubstoel sou waarneem, en makliker as ‘n gesoute hand in so ‘n strik sou trap?

Gedane sake het geen keer. Al wat gedoen kon word, is om die voorblad vir die volgende uitgawe ingrypend te verander. Die uitgawe verskyn met die nuus dat dr. Ward steeds sterwende is. Uit iets anders word ‘n  plakkaat opgetower.

Die poetsbakker het natuurlik ‘n kwaai skrobbering gekry, en goed so, maar – soos dinge nou soms maar onverklaarbaar gebeur – had die storie ‘n byna verbluffende kinkel in die stert.

Want terwyl die vragmotors die koerant met die verraderlike poets op die voorblad nog oop en toe na die verre platteland toe dra, blaas dr. Ward ewe bedagsaam in sy Londense hospitaalbed sy laaste asem uit.

So al of die poetsbakker, en die waarnemende hoofsub van daardie oggend, ‘n voorbode gehad het – ‘n “premonisie” soos ouma Elsie dit genoem het.

Heimlik was die waarnemende hoofsub dalk agterna ietwat spyt dat hy die nuusredakteur oor die situasie gaan inlig het.

Anders was ‘n wệreldrekord vir die vinnigste publikasie van ‘n regte, egte scoop-berig dalk agter sy naam!

 

LIEFLINGSEUN KOM TOT ‘N VAL

Met Amerika nou weer so sterk in die nuus weens Donald Trump se manewales, dwing my gedagtes terug na 18 Julie 1969. ’n Insident op die eiland Chappaquiddick in Cape Cod, Massachussets, het die VSA se geskiedenis waarskynlik oornag op ’n ander koers gestuur.
’n Lieflingseun, senator Edward (Ted) Kennedy, het in skande tot ’n val gekom.
Hy was die broer van onder andere die charismatiese JFK (pres. John F. Kennedy) en die jonger Bobby wat skynbaar ook onstuitbaar op pad Withuis toe was voordat hy op 6 Junie 1968, soos sy oudste broer, deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet is.
Die jong senator (37) het met ’n mooi verpleegster van New Jersey, Mary Jo Kopechne (28), van ’n jolige huisparty op Chappaquiddick weggery en met sy spogmotor, ’n deftige 1967-model Oldsmobile Delmont 88, van ’n bruggie af in ’n getypoel geplons.
Hy het uitgeswem; sy het in die Olds verdrink (net agt dae voor haar 29ste verjaardag). Die Kennedy-dinastie van Boston was in sy hart gewond.
Die Kennedy-storie was sensasioneel. Die hantering het aansienlike uitdagings aan koerante se goeie oordeel en kreatiwiteit gestel. Die politieke skandaal met sy sappige detail het naamlik saamgeval met die lansering van Apollo 11 op 16 Julie 1969 van Cape Kennedy af met kommandeur Neil Armstrong, Michael Collins en Edwin “Buzz” Aldrin aan boord.
Die Apollo-driemanskap se taak was die voorheen ondenkbare: ’n bemande maanlanding; ’n epogmakende wêreldstorie. Maar so ’n super-“sepie” met ’n voorste senator in die skurkerol beland darem ook nie aldag in ’n joernalis se skoot nie!
Suid-Afrikaanse dagblaaie het, tot hul eer, deurgaans Apollo 11 prominenter hanteer. Selfs die respektabele Boston Sunday Globe van Kennedy se tuisstad in Massachusetts het egter – seker ná pynlike kopkrap – op 20 Julie Kennedy hoofberig gemaak en Apollo 11 onder die voulyn op die onderste helfte van die blad aangebied. Sy opskrif was: “Ted Kennedy escapes, woman dies as car plunges into Vineyard pond”.
Die populêre Amerikaanse ponieblad Sunday News het niks teruggehou nie. Kennedy was sy voorblad vol onder die groot opskrif: “Teddy escapes, blonde drowns”.
Die Maandag was die New York Times se aardskuddende banier, tereg, anders gefokus: “Men walk on moon”.
Kan nie vinnig dink aan twee ander gelyktydige nuusstories van soveel omvang en betekenis wat koerante, veral in Amerika, voor sulke uiters moeilike keuses gestel het nie.
 Foto: ‘n Studie in kontraste. Drie Amerikaanse voorblaaie uit 1969.

‘N BRUID SOOS ‘N BOKS

’n Bedeesde. konserwatiewe redaksielid van Die Volksblad het leseresse verbaas en geskok met haar advies vir ’n ontwerpwedstryd vir trourokke: “hou by die A-lyn; vermy regaf lyne – dit laat die arme bruid soos ’n boks lyk!”

Sy het nie die woord “boks” nie, maar die suiwerder Afrikaanse ekwivalent gebruik. Boonop het sy nagelaat om die aard van die voorwerp duidelik te maak, bv. deur die woord “karton” daaraan te koppel.

‘n Groentjie was al lewende wese in Beeld se nuuskantoor toe ‘n bom in die middaguur in Johannesburg ontplof.  Die nuusredakteur had geen keuse nie. Hy moes haar opkommandeer. Sy is in aller yl na die toneel. Ná ‘n rukkie bel sy uitasem: “Meneer, ek kan nie naby kom nie. Die polisie het ‘n kondoom om die hele blok gespan.”

‘n Nuusleser by ‘n Weskus-radiostasie het luisteraars laat regop sit oor ‘n berig waar ‘n “Rooi gety”  vandaan kom. Dit word veroorsaak deur ‘n “giftige orgasme” in die water, het sy doodernstig meegedeel, en rustig voortgegaan met die res van die bulletin.

Lyk dalk of ek my mes in het vir die meisies. Glad nie so nie. Die res van die mistykies is deur lede van die manlike geslag gepleeg, en word gekroon met een of twee op my eie rekening.

Ontmoet die kreatiewe jong man wat vir die lesers wou verduidelik hoe ‘n tapier lyk. Ná heelwat wik en weeg het hy by die volgende beskrywing uitgekom: “Die dierasie lyk baie soos ‘n donkie, net heelwat anders.”

‘n Ander nuweling het die volgende juweeltjie gepleeg:  “Met behulp van die dokter het die drenkeling vinnig sy bewusteloosheid teruggekry.”

‘n Opvoering op Vanrhynsdorp is ‘n keer deur net vyf mense bygewoon.  ‘n Onervare Burgerman het berig: “Die finansiële sukses was ‘n totale mislukking.”

Lank-lank gelede het Die Volksblad ‘n ou die grammadoelas ingestuur om ‘n politieke vergadering te dek. Dit was die tyd voor selfone en met telefoonverbindings op die platteland in die algemeen wisselvallig. Toe hy nie van hom laat hoor nie, was al uitweg om maar op sy terugkeer te wag.

Toe hy opdaag, is die eerste vraag: “Waar’s die berig?”  Nee, antwoord hy toe. Daar’s geen berig nie. Die spreker het net “dames en here” gesê en toe op die verhoog dood neergesyg.

Op my eie rekening is ‘n foutjie met die naam van ‘n man wat dood is toe ‘n brug kort voor saktyd ineenstort. In die dolle gejaag om die berig betyds te lewer, tik ek een oorledene was mnr. Johan de Wet. Hy was nie. Johan de Wet was my kollega.  Die uwe is verwar toe die nuusredakteur my kollega se naam op die kritieke oomblik noem terwyl ek die tikmasjien laat kletter. Tyd vir oorlees was daar nie. Velletjie vir velletjie is van my tikmasjien na die subs.

Toe die eerste klompie koerante op die redaksie se lessenaars kom, bemerk ek dadelik die fout. Al die senior manne was op middagete. Ek hol toe fabriek toe, stop die rolpers en herstel my fout.

In my skik, wag ek om geprys te word. Wel, ‘n bietjie lof was daar wel vir my ondernemingsgees.  Die skrobbering omdat ek die koerant laat gemaak het, was aansienlik omvangryker.  Hoe noodlottig vir verkope op die platteland ‘n laat koerant is, het ek tot daardie dag nie besef nie.

‘n Nog groter blaps was met die dood van een van die hooffigure in ‘n bekende SA hofsaak, Preller vs. Jordaan. Dit behandel oor “onbehoorlike beïnvloeding”. ‘n Dr. Jordaan sou ‘n boer, ene Jordaan, terwyl hy ernstig siek was, oortuig het om sy drie plase aan die arts te bemaak. Wat hy toe doen. Daarna skenk dr. Jordaan twee van die plase aan sy kinders.

Preller het uit sy siekbed opgestaan en wou sy plase terughê. ‘n Lang hofstryd volg en ‘n gekompliseerde uitspraak word gelewer. Die kern was dat Preller slegs op die een plaas in dr. Jordaan se besit kon aanspraak maak.

Toe Preller sterf, stuur die korrespondent (Bothaville? Viljoenskroon?) ‘n kort  beriggie. Dit laat dadelik ’n klokkie lui, en ek is daarmee nuusredakteur toe om my storie te vertel. Natuurlik was hy opgewonde. Ek moet skryf. Om seker te maak van my “feite” ry ek gou Kovsiekampus toe en gaan leen by ‘n regstudent wat ek ken, sy notas.

 

O wee. Of sy notas was verkeerd of HvD het dit verkeerd vertolk.  In my berig word toe verkeerdelik ook blaam op die twee kinders gewerp.   Dit kom op die voorblad.

Die volgende dag hier marsjeer ‘n span prokureurs in. Hulle beraadslaag met die assistant-redakteur met geslote deure. Later word kiepie ingeroep om stamelend te verduidelik. Gevolg was ‘n korreksie ewe groot as die oorspronklik berig op die voorblad.  Dit was nie my glorierykste dag in die joernalistiek nie.

LIEWE HEUNIS EN ANDER MISTYKIES

‘n Vergissing waaroor ‘n ruk gelede op die blad Nagkantoor  geglimlag is, was dié van ‘n jong verslaggewer wat in Pretoria se Mootgebied ‘n foto van ‘n slagoffer van die bosoorlog by sy ouers moes gaan haal. ‘n Familielid keer hom toe voor en beduie hy moenie nou pla nie, want “the minister is praying with the family”.
“The minister from the defence force?”
“Yes”.
Hy het natuurlik bedoel die kapelaan. Die volgende oggend staan egter in Beeld: “Die Minister van Verdediging, mnr. PW Botha, het twee uur saam met die bedroefde ouers gebid.”
.
Hiermee enkele ander vergissings in  nuuskantore: 
Rex Gibson, oud-redakteur van die Rand Daily Mail, het ook ‘n juweeltjie oor ‘n mistasting met ‘n minister vertel.
’n Groentjie-verslaggewer het opdrag gekry het om Chris Heunis, die minister, te bel vir sy kommentaar op die een of ander verwikkeling. Die jong man raadpleeg toe die telefoongids, kry daar C.J. Heunis en skakel.
“Nee,” antwoord dié, “van daardie saak weet hy bokkerol” (hy’t ’n sterker woord gebruik). Vir impak voeg hy sommer ’n paar ander minagtende kragwoorde by wat almal hul weg tot in die RDM se kolomme vind.
Toe die minister boos bel en kla dat hy nooit sulke dinge kwytgeraak het nie, bring ’n vinnige ondersoek aan die lig daar was inderdaad ’n “ligte mistykie”. Die verslaggewer het C.J. Heunis die loodgieter gebel!
‘n Berig in Die Burger oor ‘n vlieënde kondoom wat met ‘n sierlike boog in ‘n swembad op Stellenbosch beland het, het die Cape Times waarskynlik laat wens Simonsberg wil hom bedek.
Die kondoom, gebruik en daarna gevul met water, het uit die bure se erf tot in prof. BH en mev. Eva Marie Koeppen se swemad getrek. Vir die egpaar was dit die laaste strooi in ‘n jarelange buretwis. Hulle is hof toe.
Die volgende dag berig die Times toe ook oor die insident. Onder die opskrif “Prof is mad over condom” haal hy ‘n vies prof. Koeppen self aan. Dié vertel in kleur n geur.
Ongelukkig vir die Engelse mededinger verskyn in Die Burger die volgende opvolgberig : “Mev. Eva Maria Koeppen, die klaer, het daarop gewys dat haar huidige man nie prof. BH van Koepen is soos n.a.v. die telefoongids berig is nie. Pof. Koepen is 10 jaar gelede oorlede. Mev. Koeppen is weer getroud maar het haar vorige van behou. Die stomme Times het sleg in ‘n slaggat getrap.
Sout is in die wonde gevryf toe ‘n Burgerman die Times bel en doodonskuldig vra wat prof. Koeppen se telefoonnommer dan is. Hy soek hom al tien jaar lank.
‘n Keer wat Die Burger bloedrooi moes bloos, was in 1958 toe die jong Jurie Gryffenberg, latere ambassadeur, opdrag kry om verslag te gaan doen oor ‘n rugbywedstryd: Bellville teen die toerspan van die Tukkies.
Hy (wat nie ‘n rugbyskrywer) is die enigste siel in die persbank. Hy vra sommer gou vir ‘n toeskouer watter span is watter een. Die volgende dag verskyn sy verslag, onderteken deur JG, op die sportblad. Die opskrif lui: “Bellville wen; heelagter kry 15 punte.” O wee, dit was die Tukkies wat 24-6 gewen het. Dit was die Tukkie-heelagter, Charlie Meyer, wat 15 punte aangeteken het.
Dit blyk dat JG die volle 70 minute lank die spanne met mekaar verwar het. Sy verslag was ‘n presiese spieëlbeeld van die werklikheid.
Dieselfde berig, in verkorte vorm, verskyn ingevolge ‘n ruilooreenkoms ook in die Times. Die korreksies in albei gevalle was heelwat langer as JG se oorspronklike agterstevoor-berig!