VETGESMEERDE BLITSKOERANT

n Sportskrywer se kopie is in ‘n blik aan ‘n tou uit die hoofpaviljoen van die stadion na ‘n wagtende verslaggewer laat sak. Hy is ore in die nek per motorfiets daarmee kantoor toe. Films is per bode met ‘n bromponie van die veld af kantoor toe gestuur.

Die laaste berigte is regstreeks oor ‘n telefoon uit die persbank aan die vinnigste tikster op kantoor gedikteer. Langs haar het ‘n senior redaksielid gestaan en dit velletjie vir velletjie persklaar gemaak. Oomblikke later was dit in die drukbuis op pad settery toe.

Metodes soos hierdie moet vir die moderne joernalis primitief klink. Slegs die druk van ‘n knoppie laat dinge mos deesdae met die spoed van weerlig gebeur.

Met sulke “primitiewe” metodes het Die Volksblad egter in die jare 70 roem verwerf met sy blitsuitgawes ná rugbytoetse in die Vrystaatstadion. Terwyl rugbygangers nog sukkel om uit die verkeer tuis te kom, kon hulle al tot hul verbasing die spesiale koerant met die vuurwarm nuus oor die middag se groot wedstryd by ‘n swerm koerantverkopertjies koop.

Presies wie se idee dit was, kan ek nie onthou nie. Maar voor die toets tussen die Springbokke en die Franse op 12 Junie 1971 was ons almal skielik vuur en vlam vir so ‘n projek: die sportredaksie wat die spilpunt van die operasie was, die nuusredaksie wat belangrike ondersteu-ningsdienste moes verskaf – die vinnigste tikster was nie ‘n tikster nie maar ‘n redaksielid met towervingers (Georjane Oberholzer) – en die fabriek, van die settery af tot by die rolpers, wat soos ‘n geoliede Rolls Roycemasjien moes loop.

Dit was ‘n onberispelike spanpoging sonder weerga; een van die “aangenaamste en opwindendste dae in sy tyd by Die Volksblad” vir sportredakteur Herman le Roux op wie seker die kwaaiste druk was om met die blaas van die eindfluitjie sy hoofberig af te rond.

Iemand het die horlosie dopgehou en aangeteken dat die koerant presies 22 minute ná die einde van die wedstryd op straat was – net soveel minute soos die punte wat die Springbokke aangeteken het in hul wentelling van 22-9. Van die uitgawe met die opskrif “Bokke sit hul segetog voort” is 9 176 eksemplare verkoop.

In vaktydskrifte is dit beskryf as “‘n ongelooflike prestasie in die perswese”. Die maandblad van die druk-kersbedryf, South African Printer, het sy artikel aangebied onder die opskrif: “The match winner”.

Vier jaar daarna het Die Volksblad sy wedloop teen die horlosie in nog ‘n vinniger tyd afgelệ. Op 21 Julie 1975, weer ná ‘n toets teen die Hane, het die koerant ná ‘n verstommende 16 minute van die rolpers gekom. Die banieropskrif was: “Pragsege vir SA”. Die koerant het ‘n omvattende beeld van die wedtryd in woorde en talryke foto’s gebied.

Vir die publiek was veral die fotobeeld (foto’s: Lappies Labuschagne, Kas Dreyer, en andere) net te wonderlik. Onthou daar was nog nie televisie nie; net Gerhard (Spiekeries) Viviers oor die radio en dan die koerant. Van die klein haakplekkies van 1971 is in 1975 uitge-skakel. Soms slaan die weerlig egter waar ‘n mens dit die minste verwag. ‘n Fotograaf moes op ‘n spesifieke tyd kantoor toe vertrek met film. Daar is die hek toe gedurende die tweede helfte gesluit. ‘n Bode met ‘n bromponie moes tot die redding kom.

Met die spesiale uitgawe van 16 Augustus 1976 oor die tweede toets tussen die Springbokke en die All Blacks het 17 minute verloop voor die verskyning van die koerant. Die opskrif was “N.S. maak dit 1 – 1”. Vooraf is drie verskillende baniere en plakkate gereed gemaak: een vir ‘n Springboksege, een vir ‘n All Black-oorwinning en een vir ‘n gelykop-uitslag.

Die Volksblad se spesiale uitgawes was nie tot rugby-toetse beperk nie. Ná die Curriebekereindstryd tussen die Vrystaat en Noord-Transvaal op 27 September 1975 was die oogmerk nie om ‘n rekord te verbeter nie, maar wel om ‘n nog deegliker koerant sowat ‘n halfuur ná die wedstryd te koop aan te bied.

Toe breek die vleuel Pierre Spies die Vrystaters se harte met ‘n drie in die doodsnikke. Die arme Herman le Roux moes kophou en wikkel om in die persbank sy storie ingrypend te herskryf.

Ná ‘n halfuur was die koerant uit met die opskrif: “Bloues is weer bo”. Ek wat as toeskouer uit Johannes-burg gekom het vir die wedstryd, het vir my een gekoop en my verwonder aan my kollegas se koelkop-professionaliteit. Ek het besef hoe verslae hulle moet voel.

LIEWE OU PIET

 Liewe ou Piet ….. Dit was die opskrif van die hoofartikeltjie in ‘n spesiale Piet Gouws-uitgawe van Beeld se personeelkoerant, Beeld-Intro, met die ou  vriend se vroeë aftrede in September 1998 weens swak gesondheid.  Liewe ou Piet  – só sal sy kollegs hierdie kleurryke joernalis van die ou garde in deernis onthou.

Hy was  Piet ……

* Die skynbaar sorgelose ou met die skewe, goedige en lakonieke glimlag en ‘n hart van goud;

* Die “bok vir sports”, die lekker kuierkameraad, die geesvanger en spanbouer;

* Die “vrek gawe ou” wat jou om sy pinkie kon draai – een van sy redakteurs se woorde;

* Die vasbyter wat met Job se geduld die soms harde slae van die lewe verduur het;

* Die ou op die speldedieet wat letterlik duisende van dié skerp stukkies staal opgekou of tussen sy vingers verfrommel het;

Hy was ook die Piet wat agter sy kasuele, amperse laisez faire-fasade geseënd was met ‘n vlymskerpe verstand, ‘n werksetiek soos min en hope, hope kreatiwiteit – eienskappe wat in die joernalistiek vir hom interessante, uitdagende deure laat oopgaan het, en in sy latere lewe van hom ‘n waardevolle steunpilaar van Patricia de Lille gemaak het toe sy nog die OD gelei het.

Hy was die ou wat by sy afsterwe van base, sy portuurgoep en mense wat onder hom gewerk het, gloeiende getuigskrifte soos die volgende gekry het:

* Hy was die beste nuusredakteur waarvoor jy kon vra; wat ‘n wonderlike verhouding met sy redaksie en ‘n goeie nuussin gehad het, en altyd kalm,  ordentlik en regverdig was.

* Sy manier van menswees het jou laat voel dat die wêreld n vriendelike plek is met goeie mense op wie jy sal kan staatmaak as jy oor n klip struikel.

* Hard werk of hard speel, PG was altyd in die voorste geledere;

‘* Hy het die aarde verlaat sonder een vyand.

Veral van ‘n nuusredakteur is dit merkwaardig, het een van die huidige generasie opgemerk. Sprekende as ‘n nuusredakteur van die oudste ou garde kan ek haar woorde beaam.

Ironies genoeg, het ook goeie ou Piet – soos baie ander goeie ouens voor hom – periodiek deur diep waters gegaan. Dink maar aan Job. Hoeveel keer Piet in en uit klinieke en die hospitaal was, het niemand seker van boek gehou nie. Hy sou ongetwyfeld kwalifiseer vir ‘n pensioen as Hospitaal-veteraan.  As jy besorg navraag doen, is jy deur sy gelatenheid getref.

In 1974 met Beeld se stigting is hy saam met ‘n stuk of ses ander Volksbladkollegas oor die Vaalrivier nuwe koerant toe. By Beeld was hy aanvanklik die nuusredakteur se “linker- en regterhand” met as primêre taak om opgemorste stories “reg te dokter”. Hy was gou een van die “manne”, ‘n bouer van spangees sonder weerga.  Hy was ‘n organiseerder van die beroemde/berugte “natstene” van destyds.

Later was hy o.m. nuusredakteur van ‘n wenspan in Pretoria, nuusredakteur in Johannesburg, lid van die hoofredaksie, administratiewe redakteur, bylaeredakteur, promosieredakteur, brieweredakteur, selfs sakeredakteur  – ‘n pos wat hom nie soos ‘n handskoen gepas het nie, raai ek.  Nietemin: By Beeld het hy diep, onuitwisbare spore getrap.

Ná aftrede het hy en Esta Kaap toe gekom en in Muizenberg ‘n gastehuis begin.  Hier het Piet trek begin kry vir die politiek.  Hy het hom by die OD aangesluit en was, soos ek verstaan, ‘n eerbiedwaardige, hardwerkende stadsraadslid. Toe die OD met die DA saamsmelt, het dit die einde van sy politieke loopbaan beteken. ‘n Hoofstuk het in Piet se lewe aangebreek waaraan hy, om weer ‘n Bybelwoord te gebruik, nie veel behae kon gehad het nie.  Ek glo hy het in hierdie tyd nostalgies teruggedink aan sy Beeldjare wat hoogtepuntjare was.

Dis my storie. As die indruk kon ontstaan het dat ek Piet as ‘n engeltjie skilder wat nog net vlerkies moes kry, het ek dalk so ietwat oordryf. Joernaliste doen dit mos maar, glo die publiek. Piet, regskape joernalis wat hy was, sou self die eerste wees wat keer: Hokaai, nou begrawe julle die verkeerde man!  Maar niks, niks kan iets daarvan wegneem nie dat ons hom almal met ‘n eie skewe, goedige en lakonieke glimlaggie sal onthou as liewe ou Piet.

EINDELIK: ARNOLD SIEN SY LEEU!

As padingenieur het my vriend Arnold de Goede vele paaie in die Krugerwildtuin  gebou. In al die jare nooit ‘n leeu gesien nie. Die laaste dag van sy wildtuin-skof  laai die ouens hom in ‘n helikopter vir ‘n laaste, desperate soektog. Vuilbaard kruip steeds weg.

Arnold is Donderdag in die aftree-oord Serenitas, Bloemfontein, in sy middel 80’s oorlede. Hy het geruime tyd met sy gesondheid gesukkel. ‘n Paar jaar voor sy dood het Arnold uiteindelik toe sy eerste Wildtuinleeu gesien.

Hy en Grace het vir my en Tokkie in Sabiepark kom kuier. Die Sondagoggend gaan ons kerk toe in Skukuza.  Net by die hek ingekom, stop die gids in ‘n groen safarivoertuig ons: “Wil julle leeus sien?”

Gelukkig was ons vroeg. “Graag,” koor ons almal.  “Draai net regs hier in die Doispanepad. In die eerste lopie lệ ‘n mooi trop.”

Opgewonde draai ons regs in die rigting van die Phabenihek. By die eerste lopie daar lệ die leeus in die wintersonnetjie en bak. Verrassend min ander voertuie – en dit op hierdie besige toevoerroete – maak dit moontlik om hulle deeglik te bekyk.

Arnold se gelukkige dag. My en Tokkie se gelukkige dag dat ons half instrumenteel kon wees by hierdie baken. Het almal met ‘n lekker harte na ds. Carl Louwrens geluister.

Laaste keer met Arnold gesels op 31 Desember op sy verjaardag. Hy was nie die gewone Arnold de Goede nie. Maar hy het ‘n goeie lewe gehad, hierdie waardige, soliede ou vriend; was, terwyl hy as padingenieur op Lydenburg gestasioneer was, onder meer burgemeester van daardie mooi Laeveldse dorp aan die voet van die Long Tompas.

In Bloemfontein was hy later hoof van die provinsiale paaiedepartement in ‘n tyd dat die paaienetwerk in die Vrystaat op groot skaal opgegradeer is. Het lank in Kmdt. Senekalstraat ‘n blok van ons af gewoon. Ons was saam in die NGK Berg-en-Dal se kerkraad.

Het altyd aan sy lippe gehang as hy vertel van sy avontuurlike skof in die wildtuin: hoe hulle vuurtjies gemaak het en dan agter die rook agter ‘n verre bultjie aan paaie belyn het.  Wonder of padingenieurs vandag nog so te werk gaan.

O GITS, MENEER MOTORREDAKTEUR

Die Volksblad het gedugte motorredakteurs soos Ben van Rensburg en Fred Schnetler gehad. Voor Ben het so ‘n pos nie bestaan nie. Tussen Ben en Fred was die pos vakant. Vir bekendstelling van nuwe modelle – gewoonlik ‘n luisterryke en luukse bederf-okkasie – het die nuusredakteur in sulke tye sy span deurgekyk. As jy lyk of jy kan doen met ‘n blaaskans is die mantel jou tydelik omgehang.
So kry die jong Van Deventer in 1967 (dalk 68) sy eerste vername kans as “motorredakteur” met die bekendstelling van die Volkswagen Variant, die bekende “seekoeineus”-model wat daardie dekade in sedan- en stasiewavorm sy buiging in Suid-Afrika gemaak het. Ek koop selfs vir die uitstappie ‘n nuwe elegante safaripak en bypassende langkouse (foto). Aitsa, jong man!
Die spannetjie motorskrywers het Nelspruit toe gevlieg en die eerste nag in die aangename Sabie River Bungalows (nou die Sabie River Sun) net buite Hazyview met spanbou deurgebring. Lekker gebraai en tot laat in die gesellige kroeg slimstories uitgeruil. Een ding was gou duidelik: die manne ken hul karre. Ek het tjoepstil geluister.
Die volgende oggend is ons by die Numbihek in Krugerwildtuin toe, twee-twee per motor. (Die Krugerhek was toe nog net ‘n toekomsdroom). Ek en die noukeurige Andrew Marais van Die Burger was spanmaats, hy (op sy aandrang) agter die wiel en ek met die voorvinger op die padkaart.
Van Numbi is ons na Skukuza. Daarna is die reis voortgesit via Onder-Sabie tot by die Krokodilbrughek. Olifante oweral.
Via die Lebombogrenspos by Komatipoort is die
stoet Variants na die kontinentale Lourenco Marques (vandag Maputo), waar die groep in die Hotel Cardozo tuisgegaan het. Nou nie heeltemal so spiekeries soos die beroemde Polana nie, maar ook glad nie te beteuterd nie.
Ek onthou ‘n flambojante seekos-dinee met die
beste Suid-Afrikaanse wyne. Die y

 

slike Mosambiekse garnale het goed afgegaan. Op die spyskaart was ook ‘n krap met ‘n wilde smaak. Die lelike affệre met die kraalogies het ek net eenkant toe gekrap.
Die Saterdagmiddag sou almal terugvlieg Johannesburg toe. Almal minus die uwe. Ek sou die terugtog per motor aandurf. Reëlings is getref dat ek ‘n kar by Ben van Rensburg, toe by die nuwe Sondagkoerant Die Beeld, in Linden gaan aflewer. Hy en sy gesin sou die volgende dag daarmee met vakansie vertrek.
Middagete was skaars verby toe ek groet, dapper die Variant se sleutels vat en my koffertjie in die Cardozo se parkeergebied in die kattebak gooi. Toe ek die sleutel draai, gebeur niks. Twee, drie keer probeer ek met stygende paniek. Absoluut niks.
Ek suiker terug eetsaal toe, kry ‘n man van Volkswagen en verduidelik die onverwagte komplikasie met die splinternuwe voertuig. Verbaas, vergesel hy my na die onwillige Variant. Hy wikkel aan die ratkierie en skakel die kar aan. Die enjin vat dadelik en dreun egalig.
Nou wat de drommel? Die verduideliking was nogal ‘n verleentheid. Dit was die waarnemende motorredakteur van Die Volksblad se heel eerste kennismaking met ‘n outomatiese ratkas. Die stomme man was salig onbewus van die feit dat die motor in “park” moet wees om die enjin te kan aktiveer. O gits.

ROMEINSE BACCHUSFEES

Stel jou voor: ‘n Uitbundige klomp koerantmense net in lakens geklee, gevlegde blarekrone op die kop, lywe uitgestrek op rolle rooi fluweel, en met yslike goudgeverfde erdebekers vol wyn in die hand.

‘n Romeinse Bacchusfees so uit die boek.

Dit was die toneel met die inwyding van SA se eerste Holiday Inn in die laat 60’s/begin 70’s op Mtubatuba  naby St. Lucia aan die Natalse noordkus.

Holiday Inn het persmense vanoor die land na die okkasie genooi.  Ons is per SAL na Johannesburg gevlieg en van daar af met ‘n verslete Dakota na Mtubatuba.  Op pad met die jolige vrag, het die Rand Daily Mail se man, ‘n oud-vlieënier, die mikrofoon gegryp en gemaak-ernstig aangekondig: “Ladies and gentlemen, in the case of any extra oxygen being needed … we are all buggered.”

Die lagbui wat deur die Dakota gespoel het, had tog ‘n ‘n element van senuweeagtigheid as onderbou.

Na bewering het die grapjas later agter die stuurstang ingeskuif. Daar was selfs ‘n bewering dat hy die ou rammelkas op Mtutatuba neergesit het. Glo dit darem nie. IN elk geval, op die lughawe was nie trapstelle op wiele soos in moderner tye nie. ‘n Leer moes op ‘n vragmotor se bak staangemaak word om die passasiers op die grond te kry.

In ‘n skielike windvlagie het rokkies hoog gewapper. Die helpers wat aan die onderpunt van die leer gestasioneer was om ‘n helpende hand te verleen, het vir hul moeite allerlei bonus-waarnemings te beurt geval.

Die aand se verrigtinge is ná ‘n halfeeu steeds in die ou man se geheue ingegrif. Die kleredrag was eenvormig: net ‘n laken en ‘n gordel.  Vir groter posture en posture wat ruim met kurwes bedeeld was, was dit nogal ‘n uitdaging om te bedek wat ter wille van die goeie sedes alles bedek behoort te wees.

So sonder sakke was bykomende toerusting soos pakkies sigarette en lipstiffies ‘n oorlas waarvan net op een manier ontslae geraak kon word. Dit is in onderbroeke, amperbroekies en bra’s ingeprop (ek meen ons het destyds nog van buustelyfies of vormdrag gepraat). Die uithaal was meermale ietwat onelegant. Veral as dit ‘n pakkie 30’s was, soos my Rembrandt Van Rijns.

Die wyn het nie opgeraak nie. Die yslike goudgeverfde glase was nooit leeg nie. Die ontspanne gees wat die verrigtinge gekenmerk het, het al hoe meer ontspanne geraak. Dames, meesal darem getroudes, het later op hul metgeselle se skote beland. en al hoe meer been het verleidelik onder die lakens uitgesteek.

Oor die komplikasies by die geriewe vir mans sal ek nie uitwei nie.   OOr die komplikasies by die geriewe vir vroue kan ek natuurlik nie uit eerstehandse kennis uitwei nie. Tokkie het wel in my oor gefluister dat dit ’n “gedoente” was.

Die volgende oggend is ons op wildritte die pragreservaat Hluhluwe binne, waar die vrolikheid van die vorige aand ondanks ‘n suwwe gevoel in die kranium onverpoosd voortgesit is. Gelukkig was ons nie in lakens geklee nie, maar in ‘n verskeidenheid velddrag volgens eie smaak.

Te laat was ons almal terug in die Dakota vir die terugvlug. Nog op pad Goudstad toe het die donkerte toegesak. Ons was nog nie naby Grand Central-lughawe nie toe die laaste SAL-vlug van die dag Bloemfontein toe opstyg. SAL was toe nog die enigste opsie. G’n Kululas, Mango’s, Safairs en die klas ding nie.

Wat nou? Ek en Roland Solomon van The Friend was taamlik gespanne omdat ons teenwoordigheid op kantoor die volgende dag nie onderhandelbaar was nie. Holiday Inn bied toe soos goeie gashere gul aan om ons in ‘n klein Piper Vrystaat toe te vlieg.

Die ongetroude Roland se reaksie was ‘n gilletjie. Hy het Tokkie – wat hy Klokkie genoem het – aan die arm gegryp en gepleit dat hulle twee ‘n verenigde drukgroep vorm om die onheil af te weer. Haar eggenoot was egter onversetlik.

Uiteindelik is ons in die kleine Piper: die vlieënier en die forsgeboude Claude Cawood (fotgraaf) voor; ek, “Klokkie” en Roland agter ingeprop. Toe ons by die huis in die bad klim, sien ek hoe het Roland haar op onbehoorlike plekke pimpel en pers geknyp.  Siestog, hy was baie bang.

Laat my bely dat ekself in stadiums bra benoud was as die klein goggatjie met die woerende skroef bokant die donker Vrystaatse vlaktes so heen en weer kantel.  Maar ‘n uitstappie om te onthou, was dit gewis.

Van toe af ‘n stoere Holiday Inn-man gewees.

 

RYK GEUR VAN MARLBORO

“Come to where the flavour is”, het die cowboy met sy diep stem verleidelik genooi terwyl hy behaaglik aan sy Marlboro teug. Het die mense dan nie gekom nie! Of dit nog so is, weet ek nie, maar in ‘n stadium toe rook nog die inding was, was Marlboro met sy “ryk Virginiese tabak” die beste verkoper ter wereld.
In Rusland was die wit en rooi van ’n pakkie Marlboro as’t ware die paspoort wat vir jou allerlei toe deure oopgemaak het. ‘n Hardekwas Rus se gesindheid kon darmee maklik positief geswaai word. Die wenk het kollega Tertius Myburgh van die Sunday Times my gegee toe ek in 1990 – nog die Gorbatsjof-era – ‘n besoek agter die Ystergordyn sou bring.
Ek vertrek toe uit Bloem met ‘n karton Marlboros in my koffer op die eerste skof van die reis na Londen waar ‘n visum vir die destyds nog seldsame, selfs misterieuse, besoek op my sou wag.
My “gasheer” was die Sowjet-nuusagentskap “Nowosti”. Naspers moes egter vir als opdok. Igor, my gids en beskermheer, het my darem na sy en sy vrou, Anna, se woonstel genooi vir middagete in ‘n knapperige kombuisie in ‘n siellose, grou woonstelgebou. Ek onthou die blokkiespatroon van die tafeldoek en die koolsop soos gister. Ook al die ander identiese blokke woonstelle voor, agter en aan alle kante. En die verwarrende netwerk van treinspore by die voorstedelike stasie.
Ek was in een van my periodieke ophou-rook-fases. Tydens my oorslaap in Londen gaan kuier ek egter ‘n aand by ds. Henno Cronje in Wimbledon. Hy was leraar by die groot Afrikaanse gemeente in die stad. Henno haal ‘n vergete pakkie Rembrandt Van Rijn uit ‘n laai en ons steek oor ‘n Engelse bier of wat ‘n paar entjies aan.
Volgende oggend staan ek op met daardie hond-in-die-mond-gevoel. Net ‘n sigaret kan red. Wel in my koffer onder die kooi is ‘n hele karton. ‘n Sielestryd soos min ontvlam. Sal ek toegee of sal ek verbete my belofte aan gade Tokkie probeer gestand doen?
Seker ‘n halfuur lank staan ek verskeurd. Toe borsel ek my tande ‘n tweede keer en gaan eet ‘n stywe Engelse brekfis. Die Marlboros is saam op Aeroflot (Aerovrot?) se Toepolef Moskou toe. En Tertius se wenk het gewerk soos ‘n bom. Veral etenstye wanneer die Russe aanvanklik nie gretig was om die verlore siel in hul vol restaurants te verwelkom nie. Hoekom nie? Slaan my dood. Koppigheid was net ‘n Russiese ding doerie tyd.
Van rook gepraat. In Bloemfontein was in die 80’s ‘n dr. Ann Hiemstra wat oor die stad se gesondheid moes waak. ‘n Belangrike gesagsamp by die munisipaliteit beklee.
Dr. Hiemstra was nie lief vir sigarette nie. Sy skryf toe aan Die Volksblad ‘n brief waarin sy drie van die stad se grootste rook-rampokkers by die naam noem: Louis Botha, administrateur, Barnie Human, motormagnaat, en Hennie van Deventer, redakteur van Die Volksblad.
My kollega by die brieweblad het gewonder of hy so ‘n sensitiewe briefie moet plaas of liewer nie,
Ek het nie lank gedink nie. Net vir my ‘n Van Rijntjie opgesteek. Toe ek die eerste wolkie rook behaaglik in die lug blaas, spreek ek die oorwoë oordeel uit: sit hom in.
Dr. Ann is uit vele oorde gelukgewens. Ook uit my eie huis. Ek het my egter nie deur die “misipaal” (kollega Johan van Wyk, ‘n kwarteeu lank die skrywer van die rubriek “Stop van myne”, se woord) laat voorskryf nie! Ook nie Louis nie. Ook nie Oom Barnie nie  Oom Barnie het hoeka verkondig om op te hou rook, is die maklikste ding. Hy het dit al 12 keer reggekry!