OM OP DIE VOORBLAD TE STERF … OF NIE

Wie se dood is voorbladnuus? Wie haal die koerant se plakkaat? Wie kry banieropskrifte of selfs ‘n gedenkvoorblad soos deesdae mode word (kyk Die Burger se voorblad ná die dood van kerkman Desmond Tutu).

Sulke oordele oor die nuuswaarde van sterfgevalle word gereeld  in koerantredaksies geneem.  Soms kry hulle dit doodreg (as ek die woord in die sin mag gebruik).  Soms struikel hulle maar.

Een sterfgeval wat wyd misgevat is, was die van NP van Wyk Louw, voorste letterkundige, op 18 Junie 1970, klink dit vir my uit prof. JC (Jaap) Seyn se formidabele tweeband-biografie van meer as 1 000 bladsye oor die groot man.

Die nuus het taamlik laat op 18 Junie bekend geword. Die Volksblad  – toe nog ‘n gerekende middagblad met ‘n sterk klem op “vandag se nuus vandag”  – het ‘n  groot berig op voorblad ingekry.  Hy het die nuus die prominentste van alle middagblaaie gehanteer.

Sy hoofberig was egter oor ‘n lank vergete griepepidemie wat die land geteister het.  Hoekom was Louw nie hoofberig nie soos met die dood van die digter Totius op 2 Julie 1953?  Dit is nogal ‘n vraag. “Totius ontval Afrikanervolk” was die opskrif van daardie dag se hoofberig.

In Junie 1970 was ek nuusredakteur. Ek onthou eerlik egter niks van Louw se dood nie.  Was ek dalk in die wildtuin? In elk geval is nuuskeuring nie die nuusredakteur se verantwoordelikheid nie.  Gelukkig hoef ek nie te probeer verduidelik nie.

Die oggendblaaie van 19 Junie het voorbladberigte bevat maar dit was ook nie hoofberigte nie.  Is die nuuswaarde van Louw se dood deur Die Burger dus laer aangeslaan as dié van Langenhoven op 16 Julie 1932?  Dié is onder ‘n banier aangekondig:  “Suid-Afrika verloor as Langenhoven”.

Volgens Steyn is die nuus dat die Afrikaanse taalgemeenskap Louw verloor het, ‘n “bietjie verdring” deur ‘n hoofberig oor ‘n Tory-oorwinning oor die regerende Arbeidersparty in die Britse verkiesing op 18 Junie. Was dit werklik vir Suid-Afrika gewigtiger nuus?

Natuurlik het ná Louw se dood talryke hoofartikels en huldigingsartikels verskyn.  Die koerante het vinnig die aanvanklike agterstand ingehaal.  Uitwis, kon hulle dit nie.

Interessant (eerder verrassend) is die feit dat Louw se roudiens op Maandag 22 Junie in die NG kerk Linden ook kleiner was as wat ‘n mens sou verwag het.  Dit was “informeel en sonder hoogwaardigheidstedoe”, het Rykie van Reenene berig.  Geen lede van die kabinet was teenwoordig nie en die  kerk was nie vol nie. Die diens is deur 600 mense bygewoon het Die Transvaler berig; 350 aldus The Star en 300 aldus die Rand Daily Mail.  (Beeld sou natuurlik die syfer korrek gehad het. Oogknip, oogknip. Die koerant het egter eers in September 1974 sy buiging gemaak. )

Die grootste ironie met Louw se dood sou nog volg.

Die plan was om sy as te strooi by Verlatenkloof naby sy geboortedorp Sutherland (Sutterland). ‘n Gedenkplaat sou teen ‘n rots aangebring word, soos in die geval van Leipoldt in die Hantam. Sy broer Gladstone (die digter WEG Louw) sou sorg.

Niks gebeur egter nie. In 1976 besluit Louw se weduwee, Truida (Pohl), en dogter Nakkie (Human), om self die werk te laat doen.  “Anders raak dit nooit gedoen nie!”) Sutherland sê dit is reg.  Joernalis Franz Kemp (eggenoot van Louw se dogter Reinet) word gestuur om die kissie met as by die ondernemer te gaan haal.

Maar as? Watter as? Die begrafnisondernemer was verbaas. Niemand het gevra dat dit in bewaring gehou word nie. Lank tevore is dit reeds in die tuin van herinnering by die krematorium in Braamfontein gestrooi.

Truida het toe maar ‘n plaat, soos al die ander, teen die muur van herinnering laat aanbring.  Daarop staan eenvoudig net: NP van Wyk Louw, digter, 1906 -1970.

“So was hy uiteindelik finaal “naamloos onder die naamloses”, soos hy een maal in 1950 wou wees, skryf Steyn.  “Dit is ‘n einde wat byna so aandoenlik is as die Van Mozart, wie se liggaam saam met vreemdes in ‘n massagraf gestort is.”

En dan die aangrypende slotsinne van Louw se lewensverhaal: “Wie die as gestrooi het, weet niemand meer nie; wanneer dit gebeur het, dit onthou niemand.   Nieman kan kan sệ waar presies die stoflike oorskot van een van SA se grootste manne rus nie .”

 

OZ-KARIKATURE OP TV-SKERM

Die groteske, verwronge, karikatuur-agtige gesigte van allerlei politci en ander leidsliede waarmee die Zoom-kamera TV-nuuskykers elke dag peper (hoekom dan so?), herinner my aan ‘n TV-nuusprogram wat op Sondagaand 19 Augustus 1990 op SABC uitgesaai is.

Nelson Mandela, vars uit die Victor Verster-gevangenis, was in gesprek met drie joernaliste, Tertius Myburgh van die Sunday Times, Thami Mazwai van die Sowetan en Van Deventer van Die Volksblad.

‘n Komplikasie was dat die ander in ‘n ateljee in Johannesburg was; ek het op my eentjie in Bloemfontein gesit en stip in die oog van ‘n kamera op ‘n driepoot gestaar. ‘n Tweede komplikasie was dat die aanbieder, Clarence Keyter, en die  welsprekende Myburgh daardie aand spraaksamer was as ooit. Mazwai kon nog hier en daar ‘n woord inkry; Van Deventer in Bloemfontein is eenvoudig doodgepraat, wat nogal ongewoon is!

Later het die Vrye Weekblad Keyter onder skoot gekry oor die “uiters stief” behandeling wat my te beurt geval het.  Charlotte Bauer het in haar TV-rubriek in die Weekend Mail geskryf my “bulk was beamed up from Bloemfontein and projected onto a large screen where it hovered, Oz-like, above chairman Keyter’s head.”

Gelukkig het ek die dag na die opname oorsee vertrek. Ek was verneder genoeg – wie wou nou nog ‘n tweede marteling verduur om na daardie swygende “Oz-like” beeld te sit en kyk!

Me. Bauer het darem ‘n bietjie salf aan die wonde gesmeer: “The most important question of the night was asked by the telvision-image-within-an-image of Van Deventer.” Volgens haar “Mandela had given out all sorts of hopeful messages for the future, but Die Volksblad’s editor was not to be consoled: ‘Mr. Mandela, does the ANC possess the communication channels and the discipline to get all these messages through to the people on the ground?'”

Sy skryf sy kan nie die antwoord onthou nie, omdat die vraag ‘n rilling langs haar ruggraat afgestuur het.

Ek onthou wel hy het bra korte mette van die vragie gemaak: Voldoende kommunikasiekanale en dissipline, ag kom nou, mnr. Van Deventer!

Ek sê maar niks.

NUWE JAAR, NUWE EEU

OM MIDDERNAG, 31 Desember 1999, het die 20ste eeu tot ’n einde gekom.. Wereldwyd is asem opgehou oor potensiële chaos in die rekenaarbedryf wat alles van lugvaart tot die bankwese ernstig kon belemmer, indien nie in duie laat stort nie.
Die Y2K-probleem is dit genoem, of die Y2K-virus, of die Y2K-fout.Wat ook al die naam, swartgalliges het net rampspoed voorsien.
Ek en myne het ons gewone gang gegaan, oortuig dat die slim mense wat van bemande maanreise tot selfone kan uitdink en maak werk, ook die oorgang tot die nuwe eeu, en die komplikasies daarvan, sal kan uitsorteer.
Op ons gras op Melkbos het ons die aand ‘n klompie vuurtjies aangesteek en allerlei potjies gestook: beesstert, hoender, pasta en wat nog. Sowat 20 gaste het die jaar 2000 saam met ons ingewag: kinders, kollegas en vriende.
Kollega Andrew Marais het ‘n enorme bottel vonkelwyn uit Stellenbosch saamgebring – aansienlik groter as die gewone magnum. Ek is onseker hoe groot is ‘n rehobeam, balthasar of nebukadneser. Glo wel dit was een van daardie drie groot menere.
Teen 23:00 is die potjies na binne gebring, in die binnetuinetjie in ‘n ry gepak en die seen gevra, Toe lê ons weg.
Ná ete het ons op afwesige buurman Kosie Olivier se stoep gaan bondel – my muur was nog nie gebou nie – en nekke gerek vir die indrukwekkende vuurwerk-skouspel oorkant Tafelbaai by die Waterfront.
Presies om 24:00 het die proppe geskiet: Andrew se grote en die gewones van 750 mm wat ook op die ys gewag het. Ons het glasies geklink; ons het ook mekaar – sonder vrese vir allerlei variante van onbeteuelbare virsusse – om die nek geval en ‘n voorspoedige nuwe eeu toegewens.
Toe die gaste teen 01:00 op 1 Januarie 2001 begin aanstaltes maak, was die wêreld na ons wete nog soos hy teen 23:59 op 31 Desember was. Niks het tot stilstand geknars, uit die lug getuimel of in die see verdwyn nie.
Gelukkig was dit steeds die geval toe ons die volgende oggend wakker word. Het ons verlig gevoel? Nie eintlik nie, want ons was nie juis onder die bekommerdes nie. Oral ter wêreld moet egter baie verligte mense van vreugde rondgedans het.
Maar dit is nie hieroor wat ek wil skryf nie. My storie is dat hierdie geskiedkundige een werklik die enigste 1 Januarie is wat ek in my 81 jaar wawyd-wakker om middernag verwelkom het, so ver ek kan onthou Al ander 80 was ek in die bed, meesal diep
in die arms van Morpheus.
Ook met 1 Januarie 2022 het ek eers kennis gemaak toe Tokkie vanoggend my oggendkoffie bring – helaas sonder my koerant. Op Nuwejaarsdag verskyn ie Burger mos nie. Ewenwel, ek het haar toe ‘n gelukkige nuwe jaar toegewens. Dit doen ek nou ook vir lesers van hierdie stukkie op De Wet Potgieter se lekker Nagkantoorblad.
(Ek knoop aan by gewilde Westerse beskouings aangaande die nuwe millennium. Tegnies gesproke het die nuwe millennium glo eers op 1 Januarie 2001 begin.)

PAPPA DRA SWAAR OP OUJAAR

Op Oujaarsdag 1976 was die Van Deventers se kennismaking met Disneyworld in Orlando, Florida: die “Magic Kingdom” van Micky Mouse, Goofy, Winny the Pooh en diesulkes. Die dag was nie sonder sy uitdagings nie.
Kenners van Disneyworld het gewaarsku: “Gaan vroeg, gaan ry heel eerste ‘duikboot’, anders staan julle die hele dag in ‘n tou.” Toe die hekke oopswaai, was ons in die voorhoede. Op ‘n drafstap is ons deur die Disney-kammawệreld reguit “Fantasyland” toe. (Daar was ook nog ‘n Adventureland, Frontierland, Tomorrowland en Liberty Square.)
Heel gou was ons in ons eie “Nautilus” onder die waters, omring deur visse, skeepswrakke, koraalriwwe en anderlike ondersese wondere: ‘n welaangename begin van die laaste dag van 1976 en ons 10de huweliksherdenking (ons trek vandag by 55).
By die “20 000 Leagues Under The Sea” is kleinsus se opvoustootwaentjie by ‘n paar ander geparkeer. Na die vaart het ellende gewag: die stootkar was spoorloos. Vir ‘n kort rukkie het dit kleinsus op haar beentjies geplaas. Die res van die dag was sy op haar pa arm, boonop nie in ‘n lekker bui weens haar verlies.
Nou-ja, die “koninkryk” is 11 000 hektaar groot; groot genoeg vir ‘n stewige beesboerdery. Die plek had ‘n eie “vloot”: ‘n armada van 200 skepe. Net Amerika, Rusland, Brittanje en Frankryk kon met meer duikbote spog. Om dinge te kompliseer, het Mickey se domein die dag ‘n rekord-getal van 80 000 besoekers gelok.
Om die kroos by Mickey af te neem, was een van die dag se prioriteite, maar weens die malende mensemassa een van die logisties beproewendste uitdagings van ons besoek. Vasbeslote moeders het geveg soos tierkatte om hul afstammelinge met geweld bo-oor en dwarsdeur ander kleingoed te stamp vir ‘n eksklusiewe foto.
Ma Tokkie, Johan en Marisa was net mooi in pa Hennie se korrel, toe Marisa skielik kamerakoors – of dalk muiskoors – ontwikkel. Nietemin, die foto is uiteindelik geneem en hang nog altyd hier op Melkbos. Vanaand sal ons ‘n glasie lig op die vriendelike muis met die groot ore, 45 jaar na daarde gedenkwaardige dag.
So minus Marisa wiele was dit natuurlik veral vir vader ‘n vermoeiende 12 uur. Glo my vry. Maar eind goed, alles goed. Op pad hek toe herken Tokkie in ‘n geskenkewinkel die vermiste waentjie aan ‘n vuilkol aan die rugkant en ‘n slingerwiel links voor. In hom was ‘n blas Suid-Amerikanertjie vasgegord.
Die konfrontasie met die ouers was kort maar intens. Eers het hulle die gemene diefstal heftig ontken. Toe sis ek deur my tande die een woord “Police”. Die uitwerking was dramaties. Mamma het die kleintjie gegryp en laat vat. Pappa is agterna met sy kuif wat in die wind flap.
Marisa het gespin soos ‘n katjie toe sy die bekende stukkie blou seil onder haar boudjies voel.
Een van ons aangename herinneringe vroeër die dag was ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums.
Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world” in vyf tale. Jy kry inderdaad die gevoel hoe klein die wêreld is terwyl die bootjie rustig as ‘t ware oor grense heen en verby kontinente kronkel.
Niks kon my meer oortuig van die beperkte omvang van die wêreld nie as die vind van die spreekwoordelike naald in ‘n hooimied – ons ou piepklein waentjie in die enorme Disneyworld. Tot by ons motel en nog later die aand het ek daardie wysie bly neurie en oor die wesenlike waarheid van die woorde gemymer. “I’ts a small world after all”, is dit nie?

VERWOERD GESKIET: SPESIALE UITGAWE

Terwyl koerante vandag moet kopkrap hoe om na hul sluimerslaap van die Kersnaweek hul agterstand met die dekking van Desmond Tutu se dood te probeer inhaal, dink ek onwillekeurig aan die dae van spesiale uitgawes om groot nuus so gou moontlik by die lesers te besorg.
Een voorbeeld: Saterdagmiddag 9 April 1960 toe dr. Hendrik Verwoerd op die Johannesburgse Paasskou deur David Pratt in die gesig geskiet is. Die SAUK het ‘n flitsberig uitgesaai. Koerantmense van Die Volksblad in Bloemfontein – redaksie, fabriek, bemarking, almal – het dit gehoor en hulle instinktief kantoor toe gehaas. Een het van Dewetsdorp gekom; party was in die klere waarmee hulle in die tuin gewerk het.
Die twee gewone Saterdag-uitgawes was lank voor die skietery op straat. Hulle is toe gevolg met twee spesiale uitgawes van vier bladsy elk. Die verskyning van die koerante met die vuurwarm nuus is met luidsprekers deur Bloemfontein se strate aangekondig.
In ‘n ommesientjie het ‘n geskokte skare by Die Volksblad in Voortrekkerstraat saamgedrom. Angstige koerantlesers het die uitgawes opgeraap.
Dit is sulke geleenthede wat adranalien deur die are met drukkersink laat pomp het. Moeg maar hoogs tevrede dat hulle hul werk goed gedoen het, het die Volksbladders later die aand by die Fontein-hotel op uitnodiging van die redakteur-bestuurder Hugo Dreyer ‘n drankie gaan drink.
Weer eens was het koerant sy plig gedoen om sy gemeenskap op die hoogte te hou – ook in sulke uitdagende omstandighede. Dit was ander tye. Hoe dankbaar is ek nie dat sulke opwinding kon beleef het.

WELKOM O STILLE NAG VAN VREDE


Vir almal wat vandag of more “Somerkersfees” van Koos Doep gaan sing of net daarna gaan luister, plaas ek graag ‘n stukkie uit my boek Koerantkamerade (Naledi, 2021). Daarmee sommer my Kerswense aan almal.  Vrede vir julle.
Skenk ons ’n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.
Toe ons gemeente die laaste Sondag voor Kersfees uit volle bors Koos du Plessis se geliefde Kerslied “Welkom, o stille nag van vrede” aanhef, is dit of die betekenis daarvan vir Afrikaans en vir ons land se Kerskultuur my die eerste keer werklik tref.
In hoeveel ander tale bestaan so ʼn unieke, eksklusiewe Kerslied in eie idioom? In Duits (“O Tannenbaum”)? In Portugees (“Natal no meu lar”)? Maar wag, op musiekterrein is ek ʼn leek. Dalk raak ek te meegevoer. Dalk kan kenners ʼn heel ander perspektief gee. In my belewenis – gun my dit maar op ouderdom 80 – het die jong koerantman Koos du Plessis egter met sy lied vir Afrikaans ʼn braak veld oopgebreek en ʼn kosbare nuwe staanplek verower.
Elkeen wat Afrikaans praat en lief het, kan die stemmingsvolle “Welkom, o stille nag van vrede” met trots omarm en jubelend saamsing – nie net oor die suiwerheid van die eeueoue Kersboodskap wat in eenvoudige, onopgesmukte woorde daarin vervat is nie, maar ook die salige bekendheid van die taalmedium. Dis ons eie. Dis ʼn hartsaak. Meer nog omdat Afrikaans in die Suid-Afrika van 2021 so onder druk is.
Koos Doep se viering van ʼn somer-Kersfees is nie net volbloed-Afrikaans nie; dis sommer ook trots Suid-Afrikaans. Die lied uit eie bodem bring ʼn treffende eie simbool na vore: Die Suiderkruis waarna amper elke besoeker altyd vra. Te lank is onnadenkend met Bing Crosby en andere na ʼn “wit Kersfees” saamgehunker; te lank het ons onsself met Eurosentriese simbole – ʼn sneeuslee met klokkies, takbokke en ʼn koulike sinterklaas toegewikkel in ʼn knus rooi wolpak – vereenselwig. Te lank is in woord en lied, op plate-omslae, tydskrifte se voorblaaie en op al wat Kerskaartjie is, uitgestrekte sneeulandskappe, sneeumanne met bont serpe en oordadig versierde Kersbome by kaggelvure in ons kele afgedwing.
Toe bring “Welkom, o stille nag van vrede” ʼn bevrydende boodskap: Dat Kersfeesklokke ook in helder sonskyn kan beier en die “Betlehemster” in ʼn wolklose, ster-gespikkelde hemelgewelf saam met die Suiderkruis plek kan inneem. In ʼn land waar sneeu op Kersfees ʼn koorsdroom is, is dit heelpad wins.
Saluut, Koos Doep, wat in 1971 verse een en twee van die juweel geskep het. Saluut ook aan Jannie du Toit wat die verheffende vers drie – “voel jy ook nou sy warm liefde/as ons die dag gedenk/toe hy sy Seun aan ons gegee het/ons grootste Kersgeskenk” – in 2001 bygevoeg het om die lied af te rond.