ELKE DAG ‘N MOOI NOOI EN ‘N MOORD

Gee elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord. Dit is die digter DJ Opperman se resep vir ‘n koerant om sy sirkulasie ‘n stoot te gee. Die aanhaling kom uit sy bundel Joernaal van Jorik.
Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord. is ook die titel van my nuwe koeranteboek wat binne weke by Naledi verskyn. Dankie daarvoor, DJ Opperman.
Die storie agter die voorbladskildery vertel ek later.
So stel Naledi vandag my boek bekend:
Uit polemieke en petaljes; rusies en romanses; herries en hofsake en wat nog put gesoute koerantman Hennie van Deventer ‘n ryk oes vir sy boeiende boek oor koerante en die nuus wat hul lewensbloed is.
Die veteraan van die perswese staan bekend as ‘n gebore en geesdriftige nuusmens. Hierdie is sy sesde boek met ‘n binneblik op die koerantwêreld.
In ‘n onderhoudende keuse van stories met ongewone kinkels roer hy allerlei omstredenhede aan: Charlize Theron se “net 44 wat nog Afrikaans praat”, Amanda Gouws se verweer vir vroue wat vloek, Ton Vosloo se ontdekking van “’n ander Suid-Afrika”, die slagspreuk “Kill the Boer …
Sy temas is talryk. Hy ryg die staaltjies en anekdotes in en verklap geheimpies uit redakteurskantore en raadsale.
Wie humor soek, sal heelwat daarvan kry – ook heelwat politiek of lig op persoonlikhede: nie net huishoudelike name in die media nie, maar groot letterkunde-geeste soos die korrelkop Langenhoven, NP van Wyk Louw en Opperman, politici soos Verwoerd en Vorster, skoonhede soos prinses Diana en Anneline Kriel en, les bes, selfs ontkleedanseres Glenda Kemp.
Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste). Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260.

SALIGE SAAMKUIERS MET SKUKUZANERS 

Van die aangename elemente van ons eienaarskap van Tarlehoet vir 25 jaar is die verbintenis wat dit meegebring het met die kerk in Skukuza, met ds. Carl en Sarah Louwrens en met die Skukuzaners (gemeenskap van Skukuza).

Dis ‘n vreugde om Sondae spesiaal vroeg op te staan en Skukuza toe te ry vir die diens om 08:30. Die atmosfeer in daardie kerkie is behaaglik intiem, en die boskarakter is treffend. Dit spreek jou aan.  Soms kry jy as bonus op die pad soontoe luiperds of leeus.

Ons het ook kennis gemaak met die gemeente se unieke Paasdienste op die indrukwekkende Mathekenyane-Granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop, langs die H1-1 suide toe. Treffend is dit om op kampstoeltjies hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig toesak, en om die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk.

Aand-geleenthede op die Granokoppie eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente bring opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier. Ook die Kers-sangdiens en die tradisionele agterna-kuier om die kospotte onthou ons met behae.

Die tradisionele half-marathon met sy kermis-atmosfeer die eerste Saterdag van Augustus is ‘n lekker okkasie.  Die gemeente verkoop kerrie en rys op ‘n groot skaal.  Tokkie het al gehelp om op Tarlehoet se beskeie gasstofie vleis en rys gaar te maak.  ‘n Keer is die rys in ‘n yslike “ryskoffer” Skukuza toe vervoer.

Die gemeenskap word deur Tokkie as ‘n “uitgebreide familie” beskryf. Soos hulle kan saamstaan en saamwerk, is ‘n openbaring.  Die voorreg om aanhaaklede van daardie “uitgebreide gesin” te wees, kon ons op opwekking-Sondag op 9 April opnuut intens beleef toe ds. Carl, nou emeritus, soos vanouds die erediens gelei het. Sy boodskap oor die Emmaus-gangers was, soos al sy boodskappe, vars en prikkelend.

Sondagaand kon ons die saamkuier met die Louwrense voortsit danksy ‘n uitnodiging van Jimmy en Lida Pressly van Skukuza vir ‘n laatmiddag-geselligheidjie op die Granokoppie. Dit is ook deur Fritz en Esmarie Rohr bygewoon.  (Fritz, ‘n wapensmid, se verbintenis met Tarlehoet is die “elektriese leeslamp” op die soldervlak.)

‘n Saliger skemertyd kan ek my skaars bedink met die Krugerwildtuin aan jou voete en die son wat rooi bal maak in die verre weste. Natuurlik het ons ook ‘n glasie geklink op die Van Deventers se verbintenis van 25 jaar met Sabiepark en Skukuza. Die fees duur voort!

Oor die stylvolle piekniekkos uit die Presslykombuis kan ‘n mens net ‘n loflied aanhef. Absoluut heerlik.

Later vanmiddag verwag ons die Louwrense in Sabiepark. Hulle kom twee nagte oorslaap.  Gaan ons kuier!

‘N VRIEND OOR VER PAAIE EN VELE VURE

‘n Hand op die skouer dui gewoonlik op hegte vriendskap. Wat ‘n voorreg was dit nie om in ‘n verbintenis van 60 jaar plus sovele kere hand om die skouer saam met Manie Steyn afgeneem te word: op Tukkies, in die  Wildtuin, in Sabiepark, by hul mooi klinkerhuis in Roodepoort, as kollegas by Naspers, waar ook al.

Manie, ‘n joviale, kleurryke en spitsvondige vriend met ‘n eiesoortige humor en taalgebruik, is gisteraand op Krugersdorp oorlede. Hy het in  Desember 83 geword.  Die laaste ruk van sy lewe was hy aan sy bed vasgekluister weens rugprobleme en ander komplikasies. Hy het swaar gekry, maar sy vegtersgees het hom tot die einde toe nie verlaat nie.  ‘n Blymoedige laggie het steeds opgeklink toe ek hom twee dae gelede vir oulaas gebel het.

Ons vriendskap het begin in Kollege-tehuis op Tukkies in 1960.  Dit was net die begin. Ons twee studentemaats het huisvriende, wildtuinvriende en kollegas geword. Ek was seremoniemeester by sy huwelik met Sannie Graaff in 1964 op Reitz en weer by die huwelik van Manie Junior en Claudie in 1994  op Krugersdorp. Toe Manie 70 word, het ek uit die Kaap gevlieg vir ‘n heildronk. Op 80 weer.  Hy het my ”Div” en  “tjom” genoem en ek vir hom “Mac” – eretitels.

Manie had ‘n eiesoortige taal, deurspek met humor. Almal het geweet wat dit beteken as hy en Sannie op “smoke signals” was.  ‘n Gereelde vermaning aan vriende was dat “ons net nie slordig moet drink nie”.

‘n Simbool van die Van Deventer-Steyn-verbintenis is die soliede driepoot-ystermeneer in my lapa in Sabiepark. ‘n Fris vrag tjoppies en wors is in 20 jaar op die geskenk van Manie op die kole gesit het.  Almal ken die “Manie-braaier” wat ‘n neef met sy Nissan Sani uit Johannesburg moes saamry.  In Sabiepark is ook ‘n “Manie-suite”. Dit is die beknopte buitekamertjie wat syne geword het toe die trappe vir hom te veel geword het.

In Randburg het ons saam ‘n afdak opgesit – die enigste keer dat ek, onhandige Hennie, so iets gewaag het, al was dit net as trae handlanger.  Dit was nie ons enigste buitengewone onderneming nie.

By Tukkies se Merensybiblioteek het ek een laataand in my derde jaar (1960) noodgedwonge gaan inbreek. Manie Steyn is saam vir morele en fisieke steun.  Ons het ons lywe klein gemaak en by ‘n klein luikvenster ingewurm. Toe is ons, gewapen met flitse, die donker gange in.  Die inbraak was nie  met kwade bedoelinge nie.  Dit was agter ‘n boek aan wat skielik kritiek dringend benodig is om ‘n taak in Afrikaans III te voltooi. Die volgende oggend was die spertyd.  Ek is Manie tot vandag dankbaar vir sy morele en fisieke steun.  ‘n Goeie punt vir daardie taak was onontbeerlik om vir die eksamen te kwalifiseer.

Nêrens lê ons gesamentlike spore dieper as in die Wildtuin nie. Totdat Sannie in 2009 aan nierversaking oorlede is, het ons talryke heerlike gesinservarings gedeel – onder meer onvergeetlike kombi-ekspedisies na al wat ‘n kamp is, van Berg-en-Dal tot by Pafuri.  Watter stories het sulke kuiers nie als opgelewer nie en hoe dikwels en het ons nie uit die maag saamgelag nie – ook as die onvoorsiene gebeur en draadstoele se pote onder ons gewig in die nat grond wegsak terwyl ons salig onbewus aan ons wyntjies bly teug!

Na Sannie se dood het ons nie opgehou om by groot kampvure saam te sit nie. By Balule was vyf Kollege-reünies, in Orpen twee en in Sabiepark sommer ‘n hele paar. Manie, die lojaalste van lojale Kollegemanne, was oral ‘n voorbok, al het hy teen die laastes al swaar geloop.

Manie was ‘n MBA-man – ‘n voorslag-bestuurder. In sy vroeë loopbaan by Ster-Kinekor was hy gereeld in Hollywood om kontrakte te sluit. Toe stamp hy en Sol Kerzner koppe.  So het hy hoofbestuurder van Naspers se Nasionale Kolleges geword: ‘n gewaardeerde kollega. Een kollegiale vreugde was ‘n bestuurskonferensie in die Namib, by Swakopmund.  En daar wen die twee tafelmaats elk ‘n gesogte beker!

.Min dinge is kosbaarder as ou vriendskappe. Soos iemand opgemerk het, is drie vreugdes van die ouderdom ou vriendskappe, ou boeke en ou wyn. Hoe waar is dit nie! Ek onthou skielik helder een oggend toe Manie uit Sabiepark huis toe ry.  Op daardie oomblik swiep ‘n visarend laag en roep sy hart uit – ‘n stylvolle Sabieparkse totsiens. Soos daardie visarend s’n is my groet gelaai met ‘n diepe melancholie: Totsiens, my maat Manie.

Ai, as ons net net nog een keer  saam om ‘n vuurtjie kon sit.

Foto’s: Uit my Manie-album: Manie, ekke en studentemaats Pierre le Roux, Cas Jacobs en Piet Lategan.

.

EDEL DIERE, EDEL BURE, PRYK IN NUWE BOEK 

 

Pas op die rakke in boekwinkels is ‘n nuwe Proteatitel, “Hierdie land”, waarin meer as 50 skrywers vertel wat vir hulle uniek en kosbaar is aan hierdie land; wat hulle trots maak, laat verlang en laat lag.

Dat ek vir my bydrae ‘n bosstorie vertel, sal niemand wat my ken seker uitermate verras nie. Trouens, my storie kom uit Sabiepark, hier waar ek en Tokkie nou uitspan om die kwarteeufees van ons verbintenis met hierdie  aardse paradys neffens die Krugerhek van die Wildtuin te vier.

Ek skryf oor kameelperde – nie net oor die opstapelende vreugdes wat daardie edeldiere (edelbure) ons in 25 jaar besorg het en steeds besorg nie, maar ook oor die heengaan van enetjie wat vir my diep treurig was.

So verwoord ek my emosies oor daardie verlies: “Jy, mensekind, was vreemd ontroer deur die toneel, asof een van jou eie naastes jou ontval het. Waarom? Wilde diere word immers gebore, leef ’n ruk; word dan doodgemaak of opgevreet. Dit is die wet van die natuur. Maar die aristokratiese kameelperd se heengaan is iets anders.”

Protea is ook die uitgewer van my jongste Sabieparkboek, “Bure van nature”, wat in 2021 sy buiging gemaak het. Dankie, Protea, en die redakteur van  “Hierdie land”, Joan-Mari  Barendse, vir die geleentheid om nou weer saam met al die ander medewerkers in “Hierdie land” iets van die hart te kry oor wat vir my baie spesiaal van ons eie stukkie aarde is: sy onvergelyklike diereweelde.

Op die foto is ‘n Sabieparkse mamma-langnek en dae-oud-langnekkie wat selwers ook in die pragboek figureer.  Kyk net hoe fier kyk die trotse moeder vir die kamera.

 

 

 

 

 

VAN ‘N SIEK BOKKIE TOT OORLE MTN

Iets skort. Dit kon jy dadelik aan sy houding en optrede sien, maar veral in die oë van  die bosbokrammetjie wat al om die huis, al om die huis lusteloos aan die groen blaartjies peusel. In daardie oë was ‘n smeking: help my asseblief!  Hulle het stip op die twee mense op ons stoep vasgenael gebly.

Aan die bokkie was n vreémde rustigheid.  Aan geselsklanke en selfs ‘n keer toe die water spat met die induik in die swembadjie het hy hom klaarblyklik nie gesteur nie. Dalk die ongewoonste was sy trae bewegings.  Rukkies het hy gaan sit, sommer in die oopte op die plaveisel. Dan staan hy op en begin sy lyf oral krap terwyl die oë joune soek.

Tokkie het die verkyker op hom gerig. Bosluise, was haar bevinding. Sy lyf was vol swere.  Tussen sy spoggerige horings was ‘n opgehewe seerplek soos ‘n man se vuis. Ek wou nie kyk nie. Hy moet net nie hier by die stoep doodgaan nie, was my vrees.

By die kantoor hoor ons die bokkie is al lank siek. Dis nie bosluise nie, maar ‘n aansteeklike siekte wat ook na ander diere, byvoorbeeld kameelperde, kan versprei.  Daar is lank na hom gesoek. Hy het egter soos ‘n groot speld verdwyn.  Daar is toe aanvaar dat hy dood is.

Bel ons as hy weer opduik. Ons sal hom ongelukkig moet “uithaal” was die versoek.  Daaroor voel ek half aardig.  Maar die siek bosbokkie was nog nie weer hier rond nie.

LAASTE OOMBLIKKE

Waarskynlik ‘n bokkie wat die slagoffer van ‘n luislang geword het, raai ek.  Dat die slagoffer ‘n bokkie was, is in elk geval seker te oordeel aan die uitgerekte angsgeluide. Na die geluide het ek en Tokkie gisteraand in die skemer op die agterstoep lank sit en luister; die eerste keer in 25 jaar dat ons ‘n vangs so net met die gehoorsintuig waarneem.

Dalk was die aanvaller ‘n luiperd of ‘n hiëna. Verbeel my juis ek het so tussen die al hoe sagter wordende geblêr die ingenome kekkellaggie van ‘n skuinsrug opgetel.   So lank het dit egter geduur om die laaste asem uit die slagoffer te wurg dat die luislang-opsie die waarskynlikste is.

Hoop maar dit was die siek bosbokkie waarvoor die dood – hoewel stadig en pynlik – tog wel ook ‘n verlossing sou gewees het.

EERWAARDE LIKKEWAAN ?

As ‘n bondeltjie dun “takkies”skielik in beweging kom, weet jy:  stokinsek se kind daardie.

As ‘n stuk “braaihout” kop optel en begin vorentoe waggel, is dit …. ‘n likkewaan (nommer drie die vakansie). Dit gebeur by die ontbyttafel op die agterstoep.

Lyk of die ou die nag onder die braaier skuiling gevind het.  Nou sorg hy vir ‘n kostelike brekfiskabaret soos hy dan hier, dan daar uitloer. Die sonnetjie lok hom uiteindelik onder die braaier uit. Hy gaan lê met sy kop op ’n halwe baksteen  – lyk kompleet of hy ‘n kansel of kateter bestyg het.

Dalk wil hy vir ons ‘n tafelgebed doen, waag iemand. Vir die res van die ete was hy egter net ’n stille toeskouer by die dis.

ANDER DIEREPETALJES

Amper het slim sy baas gevang met ‘n alleenloper-bobbejaan.  Omdat bobbejane wegbly, raak ek lui om die swembadseil op en af te rol.  Die eerste dag toe ek dit waag om die bad oop te los, kom die bewys dat Murphy se wet ook in die bos geld.  Die bobbejaan slaan toe.

Gelukkig het  die ou die versoeking weerstaan om in te duik. Nat spore op die stoep en stukkende Charka-sakke het egter geen twyfel gelaat wie in ons afwesigheid hier opgeduik het nie.  Nou rol ek maar weer … of ‘n boggom in die lug is of nie.

Op die motorpad moes ek twee hindernisse oorwin.

Een was ‘n skilpadjie wat van die huis tot in Wildevy manhaftig voor die Honda uitgestap het.  Die tweede was ‘n amoreuse sebrahings. Hy het die motor een kyk gegee en voortgegaan met sy ontdekking van die merrie se aanloklikheid.

Die nagapies kom weer in groter getalle en klopm redelik gereeld die ou grote wat ook ‘n gereelde besoeker is om die eerste sarsie piesang.

OORLE MTN

Vir die selfoondiensverskaffer MTN vleg ek ‘n kransie van stinkblaar.  Lyk of hy stil ontslaap het hier in Sabiepark. Ons is amper vier weke hier. Met enkele kortstondig onderbrekings was dit die hele tyd: “No service”.

Sondag toe ons uit die kerk in Skukuza kom, wag ‘n rits boodskappe wat weens ‘n skynbare stuiptrekking van rigor mortis afgelewer word.

Een is van Jacob: “Kan ek oupa gou bel?”  Bo- aan word aangedui dat dit 41 minute gelede ontvang is.

Ek bel dadelik en begin met ‘n verskoning oor die 41 minute se wag. Hy reageer verbaas.  Sy boodskap is nie 41 minute oud nie; wel ‘n week en 41 minute.

Laat ek nie sleg praat van die dooies nie. Ek vind dit tog wel vermeldenswaardig dat Tokkie se Vodacomfoon  konstante diens liewer.

(Boodskap: As ek nie op iemand se boodskap gereageer het nie, was dit dus nie uit onbeskoftheid nie.)

 

 

KAMERADE, NOSTALGIE, PREDIKER 3

Ich hatt’ einen Kameraden, einen besser’n find’st du nicht. As ek aan my Tukkiestudentemaats van ses dekades gelede dink, hoor ek in my verbeelding die tromme roffel soos in hierdie treffende Duitse oorlogslied van Ludwig Uhland.

Van my mede-Kollegemanne was tien in die 25 jaar besoekers in Sabiepark: Johan Bekker, Giel de Swardt, Cas Jacobs, Proppie Goosen, Vos Grey, Piet Henning, Pierre le  Roux, Flip Nel, Manie Steyn en Piet Theron (in alfabetiese volgorde volgens vanne).  Vos Grey en Piet Henning het ons reeds ontval.

Nieman was meer kere hier nie as Cas Jacobs van Eldoraigne in Centurion, ‘n soliede Karooseun van Carnarvon. Ons is maats van 1958 af. In die 25 jaar dat Sabiepark in ons besit is, was Cas en Nella, onoortreflik by die kospotte, 17 keer op besoek.

Vrydagaand 22 Maart het ons by Tarlehoet se stoep skouer aan skouer ‘n rooster met tjops en een met wors op die gloeiende kole gesit. Die tjops was, soos altyd, haarfyn volgens Cas se vereistes gesny: presies 2 cm dik. Dit was ‘n belewenis om weer die perfeksionistiese baasbraaier in aksie te sien en te kon assisteer.

Cas is 84 en ek 82. Buiten ouderdomkwessies in ons lewens is daar gesondheidskwessies. Om in die ruie somerbos weer so kameraadskaplik langs die vuur te verkeer, was vir ons albei ‘n emosionele  okkasie, gelaai met sentiment, nostalgie en herinneringe uit ‘n lang lewenskof met paaie wat deurgaans heuglik bly kruis het.  Tokkie en Nella was byderhand met die kameras.

Wat die braai vir ons des te meer uitsonderlik gemaak het, was die hoë driebeen-skottelrooster, soos in ‘n  vorige wildtuin-era, wat vir die doel ingespan is.  Sy naam is die Manie-braai. Die Manie in die naam verwys na ons maat Manie Steyn (83) van Krugersdorp wat al geruime tyd nie gesond is nie. Die staatmaker-rooster was ruim twee dekades gelede sy geskenk aan Tarlehoet.

Fisiek was Manie afwesig. In ons gedagtes was hy die hele tyd teenwoordig.  Ek wens Manie kon ook hier gewees het om ‘n deernisvolle Kollege-arm om hom te slaan en ‘n goeie rooie met hom te deel. Ek gaan lees toe maar weer Prediker 3: Elke ding het sy vaste tyd.

‘N SPESIALE DANKIE AAN TWEE SABIEPARK-SIERADE

Dankie, Lucy!

Toe ons 25 jaar gelede in Sabiepark aankom, het ons kennis gemaak met twee flukse en blymoedige arbeiders van Sjangaanse afkoms, Lucy Khosa (57) en Patson Ndlovu (60). Hul bydrae om ons lewe tydens Sabiepark-kuiers te vergemaklik, was/is enorm.

Die gulle Lucy met die breë glimlag en onoortreflike hartlikheid sorg dat alles in ons huis eksie-perfeksie is as ons hier aankom – spinnerakke, goggas, mis opgeruim en elke meubelstukkie op sy plek asof ons nooit weg was nie. Sy is ook die een  wat moet kom help om van tyd tot tyd  orde te herstel terwyl ons en gaste kommervry kuier en die skottelgoed opstapel.   Hoeveel keer sy al sedert Maart 1998 ‘n deurmekaar Tarlehoet moes regruk? Gewis ver-ver meer as ‘n honderd keer.

Die betroubare Patson – wat op 3 Maart 60 was en op aftree staan  – was 23 jaar lank buitenshuis die Van Deventers se steunpilaar met sy panga, hark en besem.   Hy het vir ons op lere geklouter, swembadseile help opvou, takke gesaag, die Honda gewas en wat nog totdat hy twee jaar gelede bevorder is.

Vir hulle twee was daar op hierdie spesiale besoek ter viering van ons verbintenis van ‘n kwarteeu met Sabiepark spesiale verrassingspakkies om ons dank te betuig.  Van die lekkernytjies kon hulle deel. Party was eksklusief vir die ontvangers.  So het Tokkie hulle vermanend ingelig.

Ook hier wil ek  dit onomwonde stel: Lucy en Patson is Sabiepark-sierade. Hulle is nie die enigste sierade nie – Sabiepark is gelukkig met om ’n span te hê soos hy het –  maar albei het oor baie jare op ‘n besonderse wyse tot ons lewens waarde toegevoeg wat ons nooit sal vergeet nie.