May 5, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In 1988 met die Riaan Eksteen-debakel by die SAUK is ek uit meer as een oord vertroulik ingelig dat ek ‘n kandidaat vir die direkteur-generaalskap is. PW Botha wou my glo in daardie pos hê. Koerante (o.a. eers Max du Preez se Vrye Weekblad en toe ook die Sunday Times, nogal op sy voorblad) ) het bespiegel die SAUK se nuwe baas gaan uit Bloemfontein kom.
Ek was toe 47 en reeds amper agt jaar in die redakteurstoel van Die Volksblad. Laat my maar bely dat my ego nie verhewe was bo vatbaarheid vir streling nie. Was nie onaangenaam vir die in-murg-en-been-koerantman om self die onderwerp van koerantstories te word nie. Die Sunday Times, onthou ek, het my op ‘n Saterdag by my huis in die woonbuurt Dan Pienaar gebel om kommentaar. Ek het dit geniet om in my beste Engels jakkalsdraaie te gooi: “Nee, ek het nog geen formele werksaanbod ontvang nie. Ja, ek sal dit oorweeg, maar ek is gelukkig as koerantredakteur en sal nie goedsmoeds so ‘n sprong waag nie.”
Een middag het ek en my vrou, Tokkie, op besoek aan die Rand in my nuwe donkergrys Mercedes 230E – ‘n 1988-model met die registrasienommer OB 7725 – om en om die Uitsaaisentrum in Aucklandpark gery – dis ‘n enorme plek. My keel wou-wou toetrek by die gedagte dat ek oor daardie omvangryke koninkryk die septer sou moes swaai
De M-Net-era was in die weer. Toenadering tussen die Nasionale Pers en die SAUK op daardie tydstip sou nie vir die Pers ongeleë wees nie. Met die goedkeurende medewete van Ton Vosloo is ek na Pretoria om by sy huis in Pretoria-Oos ‘n vertroulike onderhoud met die voorsitter van die SAUK, Brand Fourie, direkteur-generaal van buitelandse sake, te gaan voer.
Dit was lannk voor die era van GPS, Google Maps en sulke nuttige hulpmiddels en die Vrystater het reddeloos tussen die Garsfonteins, Faerie Glens, Waterkloofs, Menloparks en Lynnwood Rifs met hul herehuise verdwaal. Toe ek – heelwat laat vir die afspraak –by die Fouriewoning opdaag, was ek taamlik ontsenu en gespanne.
Aan Fourie se sy was ‘n mede-raadslid, JA (Koos) van Zyl, oud-kapelaan-generaal van die SA Weermag. Fourie het die sessie gelei en Van Zyl het net af en toe instemmend sy kop geknik. Die onderhoud was geen triomf vir die kandidaat vir die hoë pos nie. Op ‘n vraag oor die toekoms van die SAUK-nuuskantoor het ek, na ek later verneem het, my voet in ‘n ding gesit deur onwyslik te volhard dat ek Sakkie Burger met die taak sou toevertrou. My vriend Sakkie, ‘n senior in die nuusafdeling, was toe erg omstrede, veral by PW Botha! Was glo te danig met die KP in ‘n TV-onderhoud.
Miskien was Fourie en Van Zyl nie oortuig dat ek nie in die doolgange van Uitsaaisentrum sou verdwaal soos ek in Pretoria-Oos verdwaal het nie, maar die aanbod het nooit gekom nie. Wynand Harmse is intern tot die direkteur-generaalskap bevorder. Ook maar goed so. Ek dink ek sou maar gesukkel het.
Van Deventer is wel – ná die eerste raadsvergadering met Harmse in die stoel – die pos van nuushoof aangebied. Weer met Ton Vosloo se medewete is ek vir ‘n tweede onderhoud – hierdie keer openlik in Aucklandpark.
Die onderhoud was ten minste nie vervelig nie. Die groot vraag: Het die hoof van die nuus die finale seggenskap oor wat uitgesaai word of nie? Hieroor wou ek absolute duidelikheid hê. Die antwoord was nee, daardie diskresie berus by die direkteur-generaal. Met ander woorde, het ek teruggekap, as dié hom laat manipuleer, is die arme nuushoof aan wie ook al uitgelewer.
My ferme afwysing van so ‘n hiërargie is met verbasing begroet – asook my mededeling dat die Nasionale Pers se redakteurs wel daardie soort outonomie geniet waarop ek aandring.
“Bedoel jy Ton Vosloo gee nie vir julle opdragte nie?”
“Ja, dit is presies wat ek bedoel.”
Die onderhoud is weer nie met welslae bekroon nie. Later is ek, waarskynlik op aandrang van ‘n vriend, Colin Hickling van Bloemfontein, wat ook ‘n raadslid was, tog genooi om weer te kom praat. Die antwoord was oombliklik: Dankie, maar nee dankie. Liewer nie. Ek was nooit spyt nie.
In 1992 het ek toe wel die redakteursmantel afgewerp toe ek op uitnodiging van Ton Vosloo Kaap toe gekom het in die nuwe pos: uitvoerende hoof van koerante van die Nasionale Pers. Dit is die pos wat ek tot met my aftrede in 1997 beklee het.
Kort ná aanvaarding in 1992 het Roelf Meyer, Minister van Inligting, Vosloo kom besoek. Hy was op soek na ‘n direkteur-generaal vir die departement. Die man wat hy teiken, is Hennie van Deventer. Ek was skepties. Terwyl die bal rondgeskop is, was ek en Meyer een aand saam in die kantoor van Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie, in Pretoria waar hy my probeer oortuig het welke geleentheid tot diens aan volk en vaderland dit behels.
Gelukkig het Vosloo die besluit uit my hande geneem. Hy is jammer, het hy aan Meyer geskryf, maar Van Deventer het pas ‘n nuwe pos in die maatskappy opgeneem, en dit is nie geleë om sy hande los te maak nie. In die lig van latere politieke gebeure was dit ‘n redding. Ek is Vosloo tot vandag toe dankbaar.
Naskrif: Hoekom ek die storie nou vertel? Eenvoudig omdat dit nog nooit volledig vertel is nie, ook nie in my nuwe boek, Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n Joernaal van scoops en skandes, wat oor ‘n week of wat, ook met ‘n hele afdeling vol radiostories, by Naledi verskyn nie. En nog ‘n boek sal daar nie wees nie.
May 3, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
By Melkbos se NG kerk word gewoel om die toring te herbou en die ou asbesdak te vervang nadat ‘n stuk van die toring afgebreek en deur die kerk se dak na benede gestort het. Enkele Sondae moes die erediens in die saal plaasvind. ‘n Bedrag van R2 miljoen is ter sprake.
‘n Vorige gemeente, Potchefstroom se Moedergemeente, was drie jaar sonder sy kerk nadat ‘n brand die geskiedkundige gebou in 2007 so te sê in puin gelê. Restourasiewerk het meer as drie jaar geduur. Restourasiekoste was meer as R7 miljoen.
In die gemeente het ek op 27 April 1957, drie maande na my sestiende verjaardag, belydenis van geloof afgelê by die befaamde ds. Beyers Naudé, by ons bekend as Oom Bey. Die medeleraar was ds. Nico Smith, die latere prof. Nico Smith. Die twee sou in later jare op die voorpunt van die stryd wees vir groter geregtigheid vir Suid-Afrika se geknelde swart bevolking. (Die jaar 1957 was ‘n bedrywige een in my lewe: eers deur “boerematriek” en later deur die ware Jakob.)
My eerste jare op Volkies was ds. GD Worst, die leraar. Van ds. Worst word die storie vertel, dalk apokrief, dat hy hom by geleentheid in ‘n ongemaklike situasie bekend gestel het as “Worst van Potchefstroom”. Die weerwoord was glo iets soos: “Ek gee nie om of jy Polonie van Benoni is nie!”
Die kerksaal is na ds. Worst genoem. Daar het die Christen-Studentevereniging (CSV), waarvan feitlik al ons kinders van die twee koshuise, Jack Pauw (seuns) en Ons Hoop (meisies), lid was, by geleentheid op Sondagmiddae saamtrekke gehou waar die pragtige CSV-lied weergalm het: “Komaan, Suid-Afrika’s skaar van studente, maak Jesus koning in woord en in lied….”
Dit was ‘n besonderse gemeente wat Sondae vroeg vol was – mans in donker pakke en vroue met hoed op die kop en sykouse, soos die klerekode daardie tyd was. Natuurlik was die leraars uitgedos in hul deftige donker togas, en die liturgie was in ‘n vaste vorm verpak: votum, lofsang, wet, geloofsbelydenis, Skriflesing, preek, kollekte, slotsang en seën. Vir laasgenoemde het die leraar sy arms dramaties na bo uitgestrek, die enigste keer in die erediens van daardie tyd dat so iets gebeur het.
Soms is buitengewoon treffende preke van ds. Bey of ds. Nico op spesiale versoek herhaal. Vir sulke geleenthede is stoele uitgepak, ook buite die kerk, en luidsprekers aangebring. Nagmaalnaweke is ook die voorbereidingsdiens die Saterdagaand en die nabetragting Sondagaand goed bygewoon.
Nou het ons nie meer, soos op laerskool, Hallelujas gesing nie, maar Psalms en Gesange uit die ou Psalmboek. Groot persoonlike gunstelinge was Gesang 12: “O goedheid Gods, hier nooit volprese!”, Psalm 146: “”Prys die Heer met blye galme” en Psalm 33: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”.
In al drie was uitdrukkings wat vandag, in die lig van toegankliker berymings van T.T. Cloete en andere, nogal vreemd op die oor val, maar wat destyds deur niemand bevraagteken is nie. Nee, “snood ondankbaar” het ons gesing sonder ‘n tweede gedagte oor wat “snode” ondankbaarheid presies beteken. Insgelyks het die “blye galme” nie gepla nie en het niemand gevra nie: wat op aarde beteken daardie “uit aandrif van die skoonste kuns”?
Ons seuns was sonder uitsondering in pakke klere uitgevat. Myne was tot in st. agt ‘n kortbroekpak – iets wat weldra uitgesterf het. In standerd nege het ek ‘n spoggerige ligblou dubbelbors pak gekry en die eerste eie Sondagdas wat nie uit my pa se klerekas kom nie. Dit was ‘n trotse oomblik toe ek dié.nuwe das spoggerig knoop volgens die swierige styl wat toe in die mode was. Met daardie pak het ek ook op Sondagmiddag gaan kuier die een keer in ‘n kwartaal dat Ons Hoop se meisies vriende mag ontvang het.
Die meisies moes in gelid kerk toe marsjeer in hul verruklike wit rokkies, soveel mooier as die fyn blommetjiemateriaal (somer) of die swart tuniek (winter) van die skooldrag.
Sondagoggend het ons verspreid in die kerk in klasgroepies gesit en swoeg met die Heidelbergse kategismus en Dordtse leerreëls. Ons moes hele hoofstukke uit die Bybel uit die kop ken, onder meer Jesaja 55: “ O almal wat dors het, kom na die water … “ en Jakobus 3: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders….” (albei ou vertaling). Die Bybelboeke moes ons in snelvuur kon opnoem van Genesis tot Openbaring. Dit het nogal konsentrasie geverg.
Aanddienste was verpligtend vir alle koshuiskinders, ongeag kerkverband. Ons is om die beurt na die moederkerk en die Mooirivierkerk. Vanweë die twis en tweedrag tydens die Rebellie van 1914 en daarna het die gemeente in 1917 afgestig. Die bestaande kerkgebou het toe die naam “Rebellesie”-gebou gekry. Tydens en nog lank ná die Tweede Wêreldoorlog het Mooirivier as die Barrish-kerk of die Sap-kerk bekend gestaan terwyl die moedergemeente die Worst-kerk was. Eersgenoemde het al die Sappe (lede van die Suid-Afrikaanse Party) gehuisves omdat laasgenoemde net Natte (lede van die Nasionale Party) toegelaat het.
Dan en wan het ons ‘n Sondagaand stokkies gedraai en met onwaardige bymotiewe die Apostoliese kerkie in Nieuwestraat besoek. Die handeklappery, ophef van arms en vrolike sang en musiek was vir ons ‘n aardigheid.
Ek onthou ook dat een van my Sondagskoolonderwysers, Daan Alberts, in Johannesburg, ek vermoed in die onvoltooide Eskomgebou, oor die kop geslaan en van ‘n hoogte afgewerp is. Dié moord het vanselfsprekend onder ons vir ‘n groot opskudding gesorg. Wat het hy daar gaan soek? Ek het nooit agter die kap van daardie byl gekom nie.
May 1, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

As om te krabbel of skribbel (Engels “doodle”) een van jou gewoontetjies is en skilder jou na aan die hart lê, kan ‘n kombinasie van die twee verrassende resultate lewer. Kyk maar die foto hierby.
Die hand aan die pen was die van niemand minder nie as prof. Piet Cillié, eerbiedwaardige redakteur van Die Burger voordat hy Joernalistiek-professor aan die Universiteit van Stellenbosch en voorsitter van die direksie van die Nasionale Pers (later Naspers) geword het. Dit is sorgvuldig bewaar deur Andrew Marais, skakelhoof wat notule by direksievergaderings gehou het. Ek kry dit by Andrew se vrou, Pietie.
Volgens Wikipedia word die produk van skribbel ‘n skrabbel genoem. Baie mense gebruik sommer doedel (soos die Engels) as werkwoord en selfstandige naamwoord. Hoe ook al, is dit ‘n tekening wat gemaak word terwyl ‘n persoon se aandag elders is – in hierdie geval seker by ‘n meer of minder boeiende betoog van ‘n ander direkteur.
Gewoonlik is die die prentjie bra eenvoudig: dikwels net lukrake, abstrakte lyne of ‘n stokmannetjies sonder om die pen/potlood van die papier te lig. Nie Piet Cillie s’n nie. Kyk byvoorbeeld die detail van medaljes en knope op die offisier se uniform of golwende berge en netjiese pad.
Die hooftema is die yslike sampioen (paddastoel) en die grootbek-padda daar onder. Volgens Marais was Cillie lief om sampioene en paddas te teken. Maar wat sou dit beduie? Trouens, wat sou die simboliek van die geheelbeeld tog kan wees? Dalk wil iemand bespiegel?
Cillie was ‘n “genie met die groot hart”, aldus adv. DP de Villiers wat voor Ton Vosloo besturende direkteur was. Skilder was die “genie” se ander dalk verrassende stokperdjie naas musiek. In die middel 1950’s het spotprent-tekenaar TO Honiball die toerusting vir hom geskenk: kryt, kwassie, ’n eseltjie, die lot. Waar die Cillié’s uitgespan het, het die skildergereedskap uitgekom: op Montagu en Prins Albert, in die Swartberge, op Florabaai, by Houtbaai, in die Karbonkelberge en uiteindelik op Bloubergstrand. Toe hulle daar intrek, is Tafelberg uit elke moontlike hoek verewig.
Daardie talent skemer hier deeglik deur, meen ek. Dit is die kuns van ‘n doedelmeester.
As hy nie aan’t teken was nie, het Cillié graag speel-speel-versies opgetower. In sy parodie op die parodie van AG Visser op Jan F. Celliers se bekende gedig Die Ossewa bemerk ek nogal fyn selfspot. (Kyk foto)
Die versie kom ook via Pietie Marais by my uit. Albei word vandag hier die eerste keer gepubliseer. Ek is haar dankbaar.
Apr 30, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Voorsmaak van my nuwe koeranteboek, “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n joernaal van scoops en skandes”, nou by die drukkers, kry lesers van “Rapport” vandag in ‘n dubbelblad-artikel in die bylae “Weekliks”. Dit handel oor ‘n voortsnellende rooi Mustang se kritieke rol in die dekking van die vermoorde dr. HF Verwoerd se staatsbegrafnis in September 1966.
Kollega Tobie Wiese noem die storie ‘n voorbeeld van ” hoe tientalle ratte vir ‘n Sondagkoerant perfek moes draai om die begrafnis behoorlik te dek. Ter sprake is drie bedrewe motorfietsryers, ‘n helikopter, ‘n verslaggewer wat inderhaas ‘n gebou moes uitklouter, nog een wat deur die Veiligheidspolisie gegryp word, ‘n rooi Mustang wat met sy kosbare buit oor die Vrystaatse vlaktes skeer en ten slotte ‘n SAL-vliegtuig wat hom in digte mis by die lughawe DF Malan vasloop. Dit het al die bestanddele vir ‘n ramp … of ‘n triomf.”
Dit storie van die Mustang is een van 55 hoofstukke in ‘n “koekstruif” – ook Tobie se woord – van koerantestories in die boek met sy 55 hoofstukke ien 280 bladsye.
“Mooi nooi” kan enige dag verskyn. Die keurig versorgde boek kan direk bestel,word by die uitgewer, naledi.co.za , of by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za. Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos dit net R260 (aflewering ingesluit).
Apr 29, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Superman het sy buiging in 1938 gemaak – in die jaar van die simboliese Ossewatrek, eers net as strokiesprentheld. In 1941 vlieg hy egter al die wêreld vol in kort animasiefklieks. In 1948 en 1950 volg twee vervolgreekse op die silwerskerm – “serials”, het ons hulle genoem. In 1951 verskyn die eerste vollengte Superman-rolprent, Superman and the Mole Men met George Reeves.
Die geskiedenislessie is aan die adres van Dana Snyman wat in die rubriek Van Alle Kante in Die Burger van 29 April vir die 70’s se Bruce Lee (Brucelee) ‘n chronologiese staanplek voor Superman wil gee, en almal van latere generasies wat oor die magiese Clark Kent en sy Lois se herkoms in die gryse verlede dalk soortgelyke wanpersepsies het.
Hoe sal ek nou nie weet nie? Ek was in 1948 in standerd een (graad drie) aan die Laerskool Diamantveld in Kimberley toe ek in die Plaza in Transvaalweg in ‘n eerste kennismaking met die immergroen held so meegevoer raak dat ek nog dierelfde middag myself van die tuinmuurtjie by Diagonalstraat 10 ten hemele probeer lanseer.
Anders as die regte Superman het die jong nabootser nie blitsvinnig asemrowende hoogtes bereik nie, maar bedremmeld tussen die leeubekkies asters en sonneblomme in ‘n naasliggende bedding neergeplons. Sy regterarm moes gips kry weens ‘n polsbreuk.
Sy juffrou, ‘n dierbare mej. Muller, het die stomme seuntjie so innig jammer gekry dat hy taamlik lank meer tyd op haar skoot deurgebring het as in sy skoolbank.
Apr 28, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Stellenbosch die roep my en ek moet gaan. Vreemde woorde uit die mond van ‘’n geswore Tukkie?
Nou-ja, dis darem nie heeltemal waar nie. Nie Stellenbosch wat geroep het nie, maar die Matie-kleinseuns, Jacob en Thomas, se 19de verjaardag.
Ek en Tokkie is op geleide toere deur hul koshuise, Eendrag en Helshoogte. Sy het onder meer kennis gemaak met naamgenoot Tokkie, laasgenoemde se gelukbringer-hoender. Oupa moes erken dat die koshuiskultuur – veral die respek vir tradisie – hom imponeer. En wil jy glo: in Eendrag se binnehof staan twee groot jakarandas wat wil begin blom!

Moet ook erken dat Stellenbosch se Victoriastraat met sy erewag van akkerbome in hersfkleed ‘n skouspel is, die US met sierlike geboue kan spog en die skolebuurt langs die Eersterivier buitengewoon indrukwekkend is. Moet goed vir die siel wees om aan Gimmies, Bloemhof of Rhenish skool te gaan.
Dan die Fat Butcher in Van Riebeeckstraat – ‘n -biefrestaurant soos ek laas in Boston en Cambridge in Massachustts mee kennis gemaak het. Voortreflik verby met ‘n wonderlike atmosfeer. Net twee dinge: jy moet lank vooruit bespreek en nie sensitief wees vir pryse nie! (Gelukkig was skoonseun, Brent, die gasheer.)

Die mooi foto van die gesin Claassens is deur my in ons hoekie in die Fat Butcher geneem. Links sit kleinboet Christopher (14). Voor hom is sy melktert-nagereg nadat hy ‘n steak van 600 gram weggesit het. Die man is ‘n kranige flank.
Dat Jacob nou kitaar speel, was ‘n verrassing. Dis aan sy kamermaat te danke. Wat die foto saam met sy ouma, volgens sy ma, Marisa, des te meer merkwaardig maak, is die twee bossiekoppe so saam. Moet iets in die gene wees. Hulle glimlag ook ewe breed. Ouma was boonop in haar jeug ook ‘n musiekmens met ritse diplomas vir klavier