ROMANTIEK VAN DIE 20’S AS JY HIER AANSIT

Tot sesuur is slenterdrag in die haak. Ná ses is “smart attire” die vereiste in formele sit- en eetkamers. Op gala-aande, plus-minus elke derde aand, is dit wanneer die deftige tabberds en die strikdasse te voorskyn kom. Aanddrag is selfs te huur.
Nêrens elders op die Queen Mary 2 het ek die sesuur-metamorfose opnuut sterker beleef as in sy grootste restaurant, die Brittania, nie. Die ou wat jy netnou op dek sewe met oop sandale gesien het, daag op in ‘n Skotse rokkie met tossels en die streng dame met die ronde brilletjie met wie jy in die biblioteek skouer geskuur het, spog nou met avontuurlike veterbandjies en ‘n goue klont om die nek.
Ook nerens elders voel ‘n mens die romantiek van die glansryke jare 20 so tasbaar aan as in die yslike praalpaleis met sy 1 200 sitplekke en sy oorheersende art deco-styl wat doelbewus beklemtoon word nie. Van die reuse-materiaalafbeelding van die skip oor twee verdiepings as jy die Brittania betree, tot die koepeldak van gerookte glas, die swiepende mezzanine-balkon en die grasieuse dubbelstel “Gone-with-the-wind”- trappe verplaas jou vinnig in ‘n vergange era.
Tussen die keurig-gedekte tafels met linnetafeldoeke en –servette en silwer messegoed swerm die charismatiese kelners in swart formele drag en wit handskoene. Die bedrywige swartspan plus al die maitre d’s en sommeliers dra by tot die energie wat die ikoniese plek uitstraal. Die atmosfeer is prikkelend en opwindend. Jy vou die spyskaart met afwagting oop.
Van die 16 000 borde koningskos wat daagliks uit die QM2 se kombuise van vlekvrye staal kom, is die meeste vir die Brittania bestem. In die restaurant word ontbyt, middagete en aandete in twee sessies bedien.
Party tafels het plek vir tien. Die meeste vat vier. My en Tokkie se 487 was ‘n begeerlike tweemanstafel met ‘n onbelemmerde see-uitsig deur ekstra groot vensters. (Op ons Sydneyvaart 10 jaar gelede was dit 114, nader aan ‘n venster maar met twee tafelmaats.)
Die ontbyt-spyskaart is tradisioneel met varsgebak, elke denkbare eiergereg, drie soorte spek, worsies, southaring (kipper), skelvis, gerookte Noorweegse salm en wafels. Die ou man se kennismaking met ‘n “smoothie” was aangenaam.
Tipiese middagetegeregte was spaghetti carbonara, geroosterde swaardvismootjies, salm en Indonesiese rys.
Aandete is om oor huis toe te skryf. Dis ‘n vyfgangmaal met ‘n keuse uit iets soos ses voor-, tussen- en hoofgeregte (alles pure gourmet volgens my standaarde). Die beste biefstuk, skaap, eend en tongvis word opgedis. Een aand selfs springbokmedaljons. Garnale raak nie op nie.
Nageregte het eksotiese name soos dulche de leches. Jy kan darem Italiaanse roomys ook kies, of kaas en beskuitjies (‘n kleinerige porsie). Dan kom die koffie en petit fours.
Glutenvrye en vegetariese kos is elke ete beskikbaar, Vir skaalbeheptes word selfs die bose kalorie- en vetinhoud van bepaalde geregte brutaal uitgespel. En ‘n sterretjie by ‘n gereg bring ‘n onheilspellende boodskap dat dit dalk die draer van iets onheiligs kan wees (selfs vis en pluimvee).
Die eerste gala-aand van elke skof word glasies sjampanje met komplimente van die kaptein uitgedeel.
Na raakvatter-hoofkelner Petros en sy vroulike assistent Sai, albei vriendelike Filippyne, maak ek graag hier ‘n buiging. Hulle het hartlik, hulpvaardig en professioneel gebly al blink die sweet naderhand op die voorkop. ‘n Mens is spyt dat die treurige randwaarde ‘n rol moes speel in die paar-dollar-fooitjies wat na hulle kant toe is.

NA VERRE HAWENS IN ‘N BOEKEPARADYS 

In ‘n keurposisie op dek agt, in die boeg met groot, diep vensters op die waters wat voor die statige skip oopkloof, is die Queen Mary 2 se beroemde biblioteek – ‘n karaktervolle boekeparadys met iets soos 10 000 titels in ses tale.

Moderne vakansieskepe spog graag met hul waterparke en nuwerwetse sentrums van verbeeldingryke vermaaklikheiden tydverdwrywe.  Die ernstiger QM 2 maak geen geheim nie van sy trots op sy grootste biblioteek ter see.

Ook oor sy voorkeur-dienste aan sy passasiers draai hy nie doekies om nie.  Toe hy in 2016 opgegradeer is – of ge-“remaster” is in die Cunard-idioom – is die casino met die helfte verklein, Net die Amerikaners sal daaroor spyt wees, is geredeneer.

Die biblioteek met sy rye blink gepoleerde okkerneuthoutkaste met glasdeure in ‘n sobere ruimte van 65 vierkante meter het onaangeraak gebly – soos die planetarium.   (Die deure van die kaste is nie net vir dekorasie nie, maar om die boeke teen turbulensie en water te beskerm, is ons meegedeel.)

Tokkie is versot op wêreldkaarte.  Met ons eerste kennismaking met die biblioteek tien jaar gelede is sy veral getref deur die grootste atlas wat ek nog gesien het. Dit het sy eie stewige tafel van hoek tot kant gevul. Vir Tokkie was min dinge so boeiend as om daarin te blaai.

Toe ons nou die eerste dag aan boord op die bilioteek afpyl, was daardie atlas voorop in haar visier. Gelukkig is sy nie deur ‘n ander “wereldreisiger” voorgespring nie.  Sy het gestraal.

By die groot vensters met hul praguitsig is ’n ry smaakvolle gemakstoele. Genoeglik is dit om daar nes te skop met jou boek, net af en toe op te kyk oor die groot oseaan heen en waar te neem hoe die reuseboeg die waters klief.

Nog te meer as in die geval van die atlas is my vrou soms deur ander boekliefhebbers by haar gunstelingstoel voorgespring. Al raad is om tienuur saam met die bibliotekaresse by die deur op te daag.

‘n Boek is op hierdie skip ’n statussimbool.  Trouens, soos woorde verslind word, is ’n openbaring. In die teaters voor vertonings, in dekstoele, langs swembaddens, in sitkamers en natuurlik in die biblioteek – oral is mense verdiep in hul boeke of met boeke onder die arm. Meermale is dit allemintige dik boeke. As daar ook Kindles en daardie klas digitale ding was, het hierdie waarnemer dit nie eintlik agtergekom nie.

Miskien het hierdie leeslus iets te make met die spyse wat Cunard vir die grysstof bied. Op sy skepe is dit nie net baldadigheid, bingo, blackjack en bordspeletjies nie. Op elke dag se program is ook ’n stewige intellektuele komponent, met voorlesings deur kenners, seminare en werkwinkels.

Verskeie boeke-okkasies is gehou.  So was daar op die skof na Mauritius Zelda la Grange se bekendstelling van haar boek oor Nelson Mandela. Die stapeltjie in die boekwinkel naas die biblioteek het elke dag ’n ent gesak.

Jammer my eie “Na verre hawens” (Naledi, 2019) is nie in een van die ses voorkeurtale nie.  Ek kon dalk in besigheid gewees het.

KILOMETERS OP DIE DEK

As jy met die skuifelstappie van ‘n onfikse 80-plusser loop, is verkenning van die Queen Mary 2 se dekke nie kinderspeletjies nie. Wat tien jaar gelede tjoef-tjaf kafgedraf is, vereis nou gereelde verposings.
Gelukkig is veral op die Promenadedek, dek 7, vir die doel honderde net-reg-houtstoele in simmetriese rye met deftige donkerblou kussings waarop die embleem van Cunard-redery met goue draad geborduur is.
Van die boeg tot die agterstewe is die Queen se lengte 365 meter – so lank soos 41 Londense dubbeldekker-busse snoet aan snoet geparkeer. Die Eiffeltoring in Parys is 45 meter korter. Jy moet jou bene rek.
Ander syfers: Die vloere is 16 kilometer (10 myl) onder mat, die afstand van Melkbos tot in die hartjie van Bloubergstrand. In die binnegoed is 2 500 kilometer se elektriese kabel. Dis drie dae se stywe ritte per motor.
Meneer, mevrou, as jy dus gedink het die QE2, legendariese voorganger, was enorm – hier is vir jou ’n verrassing. Dié makroskip sou die QE2 twee keer volledig kon insluk. Drie van die veelgeroemde Titanic sou in haar pas. Glo dit maar. Dis die reine waarheid.
In los uurtjies het ons die ontsagwekkende skip verken. Dek vir dek waar die fikses streef om nog fikser te word, die swemmers swem, die speleriges speletjies speel en die luies net hul dae omsit.
Ons tog van herontdekking het ons nie net saam met ‘n falanks onvermoeide stappers rondom die skip op dek sewe geneem nie, maar ook op en af met ‘n verskeidenheid trappe tot daar waar die energiekes dekspeletjies speel en troeteldiere gehuisves word in ’n spoggerige dierehawe wat selfs ’n eie lamppaal en brandkraan het vir bedorwe honde om die been teen te lig!
Soos tevore was ‘n lekker selfbederfie die sogenaamde “scenic elevator”, ’n glaskas buite die skip wat jou van dek sewe tot by die observasiedek langs die brug op dek 12 bring. Passasiers is welkom, maar kan die komplekse kontroles en die bedrywige korps offisiere net deur ’n glasafskorting waarneem
Ons het dit in 2014 “ons hysbak” genoem. Tien jaar later was dit steeds “ons hysbak”.
Soos knoppie-versotte stout kinders is ons van vroeg tot laat daarin op en af. Dikwels was ons alleen. Min van die ander 2 600 passasiers het skynbaar vergelykbare erg gehad aan die panoramiese uitsigte wat die observasiedek bied.
Op dek elf het ons weer die gesellige buitekroeg die Terrace Pool Bar gaan opsoek waar jolige vertrekpartytjies aangebied word, kompleet met polsende orkesmusiek en kelners wat nie kan voorbly om sjampanje (die regte soort) aan te dra nie.
Oral is foto’s geneem, onder meer by die fiere rooi-en-swart skoorsteen met die naam Queen Mary 2 in sterk letters daaronder.
Op die dekke kon mev. TvD na hartelus haar stokperdjie beoefen – om mense dop te hou. Sy het my aandag op allerlei gevestig, onder meer op ‘n gryse dame – krom soos ’n boom wat skeefgegroei het –wat telkens op flinke pas by ons op dek sewe verby is. Hoeveel rondes? het ek gevra. Ses, was haar antwoord. Dit is op die kop twee myl of 3,2 km.
Ek hoop die foto’s is selfverklarend.

QM 2 EN SA KONNEKSIE

Alle paaie lei na die Royal Court-teater op dekke drie en vier van die Queen Mary 2 wanneer Zelda la Grange die intieme sluier lig oor haar werksverhouding met die Suid-Afrikaanse staatsman-ikoon Nelson Mandela. Haar boek word opgeraap. Sy moet net teken, teken, teken.
In die Clarendon-teater, vlakby die Queen’s Room op dek drie, haal die skilderye oor die Suid-Afrikaanse natuurlewe van Darryn Eggleton maklik R200 000 stuk. Sy lewensgetroue leeus, luiperds, sebras en wat nog verraai waar hy vandaan kom. Hy is in 1981 as ‘n seun van die Krugerwildtuin gebore en het tussen die wilde diere grootgeword.
In die imposante Brittania-eetsaal op dek twee en drie is een aand Weskus-kingklip op die spyskaart; die volgende aand springbok. Laasgenoemde klink veral indrukwekkend in die Engelse kos-idioom: “Roasted cranberry and walnut crusted South African springbok loin”. Die bykosse is William potato, creamed Savoy cabbage, roast thyme carrots en blackberry sauce.
Pure Suid-Afrika, en dit op ‘n skip wat drup van Britse tradisie en styl. Maar so maak hierdie grootste en duurste vlagskip van Cunard telkens ‘n buiging na die gasheerlande wat hy op sy jaarlikse sogenaamde Wêreldtoer besoek. Vanjaar is Port Elizabeth, Kaapstad en Durban in daardie volgorde aangedoen.
Zelda, Darryn en die Suid-Afrikaanse geregte uit die vlekvrye staalkombuis is ook nie al wat aan Suid-Afrika herinner nie.
In die sogenaamde “Ïnsights”- (praatjies deur kenners) hoor die passasiers van olifante, krokodille, die Zoeloekultuur en die Kaapse-Hollandse boukuns op wynplase. Oral maak hulle kennis met Suid-Afrikaanse (en Zimbabwiese) kelners, kamerbedieners en ander lede van die bemanning.
By ‘n middagete ontmoet ek byvoorbeeld vir Michael, ‘n flink, jong Kôsakelner van Brackenfell. Hy en die Melkbosser kliek dadelik en gesels land en sand oor bendegeweld wat van die Kaapse Vlakte na sy tuisomgewing oorspoel. Hy vertel ook hy het die kombuis shakalaka leer maak.
Ons groot SA kontingent wat saam vaar op die nuwe segment van Kaapstad na Mauritius – agt bekoorlike aande op die “hin skeep”, soos ‘n vriend die QM 2 noem – kan bors uitstoot oor ons land. Ongelukkig bestaan ook rede tot verleentheid,
Voor elke Suid-Afrikaanse besoekpunt word passasiers gewaarsku: wees op jul hoede; misdaad is op ‘n ongekende vlak. Wat Durban betref, word – seker gedagtig aan die onlangse uitbarsting van wetteloosheid – selfs die moontlikheid van burgerlike onrus genoem.
In Durban word almal boonop deur die department binnelandse in ‘n lomp operasie van die skip af geboender om op die grond hul paspoorte gestempel te kry. Mense mor oor die ongerief. Die kaptein vra diplomaties om verskoning.
Mense mor ook oor sekere duur uitstappies wat min oplewer, bv. na armoedige “townships”, straatmarkte wat weens beurtkrag skaars aan die gang is, en parke wat vir buitelanders bra doodgewoon is.
Jy neem kennis dat Suid-Afrika nie by die reisplanne vir 2025 se Wêreldvaart ingesluit is nie en dat oor herinsluiting in 2026 nog onsekerheid bestaan. Jy wonder stilletjies watter faktore alles vir die situasie verantwoordelik is.
Jy gun dit vir soveel mede-Suid-Afrikaners as moontlik om die skip te leer ken en al sy wonderlike elemente te geniet. Met die toekoms so in onsekerheid gehul, lyk die onverwagte herbesoek in April weens die Midde-Oosterse krisis al hoe meer na die kans van ‘n leeftyd.
As nog ‘n kajuit beskikbaar is op die vaarte na Lissabon en/of Southampton van 13 tot 28 April, raap dit op. Pryse is onherhaalbaar. Jy sal betower word. Dit kan ek hand en mond belowe

EENVOUDIG NET BETER

Ons en ons Fillipynse hoofkelner Petros by ‘n gala-aandete in die Brittania-restaurant.

Dis nie dat die lewe aan land vir hom onsmaaklik is nie. Die lewe ter see is net beter. Ek wil dié woorde van sir Francis Drake so verbuig: Dis nie dat lewe op ander skepe vir my onsmaaklik is nie. Die lewe op die Queen Mary 2 is net beter.

‘n Hardnekkige maaggogga het die lewe vir talle passasiers ‘n dag tot drie lank versuur. Die geluid van toilette wat spoel was in ‘n stadium in ons kontrei op dek 4 soos ‘n simfonie van saam-swaarkry. Selfs dit kon die vreugde van die herbesoek nie demp nie.
Ná die vaart van agt nagte na Mauritius bly die bewondering, lof en respek vir die klassieke skip op dieselfde hoë vlak as met die kennismaking tien jaar gelede op ‘n vaart na Sydney. Die QM 2 is enig. Vir styl, deftigheid, diens en die veelsydige vreugdes van sy aanbod aan die gaste in sy sowat 2 000 “staterooms” gee ek Cunard se weelderige vlagskip so aan volpunte as dêmmit aan vloek is.

Ons goue kentekens.

Oorheersend dalk was die vreugde van hierdie jongste en laaste vaart die hertontdekking van al die goue gunstelingplekke op die 14 dekke: van ons ou kajuit op dek 6 en “ons” glaskas-hysbak na die uitkykplek langs die brug tot al die manjifieke sitkamers, eetkamers, teaters, balsale – ook die reuse-biblioteek en planetarium – wat die QM2 in ‘n klas van haar eie plaas.

Gala-etes van uitvoerige watertand-spyskaarte in die swierige, dubbelvlak Brittania-restaurant, “high teas” in die Queen’s Room, konserte in die Royal Theatre, skemerdrankies in intieme sitkamers of die immer gewilde Golden Lion Pub, rustige rondsit op die netjiese dekstoele met hul geborduurde blou kussings – daarmee het ons ons dae deurgebring.

Die herskepte Carinthia Lounge.

Uit ‘n vol program met “insights” (kennerslesings) oor Mandela, krokodille , argitektuur, duikbote, ‘n verskeidenheid kulture, asook hope musiekuitvoerings – harp, strykers, flamenco-kitaar, klavier – kon ons kies en keur. Opnuut ‘n aardigheid gewees om in een middag in te pas: ‘n konsert deur ‘n flamenco-virtuoos, ‘n strelende harpuitvoering en die energieke snarespel van ‘n trio jong strykers uit Oekraïene.

Wat tegelyk effens treurig en opwindend nuut was, is die herskepping sedert ons vorige reis van ons geliefkoosde rustige Winter Garden met sy voëlgekwetter tot die dinamiese byenes van ‘n Carinthia Lounge waar gedurig dinge soos vasvrakompetisies en klavieruitvoerings aan die gang is. Smaaklike ligte happies word vir ‘n alternatiewe ontbyt of middagete aangebied en die mense staan stroom soontoe.

‘n Kajuit soos 4186.

‘n Ander sterk element van nuutheid is in die kunswerke teen die mure. Die art deco-karakter van die goue era van die 20’s en talle historiese foto’s uit die lewe van die skip en sy passasiers – vele glansrykes! – is grootliks behou. Treffende moderne werke is bygevoeg. Nuwe kleur en ure se kykplesier word so verleen.

Vir my en Tokkie was nie net die tradisionele bottel yskoue Franse vonkelwyn in kajuit – “stateroom”! – 4186 se yskassie uit ‘n persoonlike hoek spesiaal nie, maar ook die oorhandiging van twee diepblou fluweelsakkies met ons goue kenketekens vir die bereiking van senior lidmaatskap van Cunard se gesogte Word Club.
Op die QM2 klink ek graag in my gedagtes weer die glasie komplimentêre sjampanje waarmee die kaptein gaste aan boord verwelkom en beleef ek weer die een goue oomblik op die ander. Daarvan sal ek in die volgende dae (weke?) meer vertel – en wys!

TUKKIE SKAAR HOM BY WILGENHOF

Oor studentekoshuise en hul tradisies, gewoontes en geite voel ek as oud-_Kollegeman van Tukkies sterk. Toe die Wilgenhof-bom bars, was in die Kollegehart dadelik ‘n spontane opwelling van simpatie – al lyk aspekte van die Wilgenhof-kultuur ietwat rof, veral in die nuwe tydvak van menseregte en ander sensitiwiteite.

Die gevolg was vanoggend se brief in Die Burger (hier onder ) – een waarmee die ou man maar moes fyntrap. Met een kleinseun in Eendrag en ‘n ander in Helshoogte wil jy nie op tone trap nie.

Ek glo darem my pleidooi vir respek vir andersheid, behoud van identiteiteit en weerstand teen die nastrewing van ‘n kleurlose kampus waar elke koshuis maar net ‘n bloudruk van al die ander is, sal niemand aanstoot gee nie, buiten dalk die “owerheid”.

Terloops, terwyl ander hul locus standi’s nou so aanhaal, meld ek in die verbygaan graag dat my skrywe kom van die oudste lewende voorsitter van Kollegetehuis (1962). Hoop dit gee my standpunt meer relevansie en gesag.

Hennie van Deventer, Melkbosstrand

Wilgenhof is ongetwyfeld mans genoeg om sy sy eie stryde te stry. ‘n Tikkie solidariteit uit Tukkiegeledere sal hopelik tog nie deur Wilgenhoffers “onwelvoeglik” geag word nie.

Ligsinnigheid kan immers net tot op ‘n punt geduld word.  Wat darem hemeltergend te erg is, is om in alle erns die gedagte uit te spreek dat hierdie Matie-ikoon  gesluit of ‘n vrouekoshuis moet word. Dit is heiligskennis verby.

Ek was ‘n lojale Kollegeman – inwoner van die U.P. se Kollege-tehuis  – so ses dekades gelede. ‘n Geurtjie van berugtheid het ook om die koshuis gehang.  Nagligte was gevrees . Modderbaddens, duiwelsdrek-pille, “gatpaarties” en “p-paarties” was ‘n eerstejaar se voorland. Motorfietse het by geleentheid in sy gange gebrul.

Soos Wilgenhof het Kollege nogtans voortgegaan om mense aan die samelewing  te lewer wat weens hul agtergrond, karakter en waardes eerbiedwaardige burgers geword het.

Van die foto’s uit Wilgenhof se geheime binnekamers lyk vreemd, om dit sag te stel.  Dalk is dinge te ver gedryf en is dit nodig om in die nuwe tydvak hokaai te sê. Maak dan reg wat verkeerd is, goed en wel, stel perke, handhaaf ‘n sekere orde, maar wees asseblief tog ook maar versigtig wees om nie onnodig op hol te gaan, allerhande spoke op te jaag en voor die voet te wil “regruk” nie.

Om alle andersheid op ‘n kampus as uit die bose te sien en blindelings ‘n identiteitlose kleurloosheid na te jaag, is werklik ‘n klassieke geval van om die baba saam met die badwater uit te gooi.