Feb 24, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
My brief in vandag se Burger (en op Netwerk24) is ene wat ek nooit gedink het ek sal skryf nie.
Iemand wat nie Saterdag By van hoek tot kant gelees het nie, kan dalk sukkel om dit te verstaan.
Vir hulle: Ek lieg elke woord. Ek gaan ‘n old fashioned knol bly. En ek gaan wye draaie loop om daardie Slypskool van Kommadagga. So skerp wil ek darem ook nie word nie!
Feb 12, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Wanneer 1 Valskermbataljon by Tempe, Bloemfontein, se “parabats” in die 80’s een van hul skouspelagtige massa-spronge uitvoer, het tien teen een die klein postuur van hul kloeke kapelaan tussen hulle geswewe.
Ds. Jan Venter was wel nie groot van gestalte nie, maar ‘n man uit een stuk wat in elke opsig saam met sy mense geleef het, hetsy met die Bybel of met ‘n valskerm.
Dr. Jan is gister in die Kaap oorlede weens komplikasies ná ‘n val en ‘n heupoperasie. Hy was in sy laat 80’s / vroeë 90’s.
Hy het die aarde verlaat met die diepe respek en geneentheid van talle gemeenskappe, van Bloemfontein tot Melkbosstrand waar hy kom aftree het.
In die NGK Melkbostrand het hy ‘n geliefde en geëerde aflosleraar geword en in die aftree-oord Sea Park waar hy en sy vrou, Martie, hul laaste jare geslyt het, was hy ‘n geestelike toring van krag. Ook van buite Sea Park het mense graag na sy verrykende dienste en Pinksterreekse gekom.
Waarvoor die wellewende Jan Venter in die wyke lank onthou sal word, is sy buitengewone toewyding en lojaliteit aan Martie nadat akute Alzheimers by haar toegeslaan het. Sy was al in ‘n gevorderde stadium toe haar man elke dag, sonder uirsondering, ure by haar gaan deurbring het. Hy het onder meer haar naels tot met haar dood nougeset versorg, al het hy vir haar ‘n “vreemdeling” geword.
Ons innigste meelewing met die seuns en hul gesinne wat hul pa tot sy oudag in ‘n kokon van liefde versorg en ‘n lewendige familieband in stand gehou het.
Die vrolike foto van Jan en Martie is geneem by die uwe se 70ste in 2011, 15 jaar gelede.
Feb 8, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Onverklaarbaar begin die lank vergete woorde van ‘n ou-ou Skotse gediggie / liedjie deur die newels dring terwyl ek met ‘n koue sauvignon blanc in die hand die skemer inwag.
My love is like a red, red rose, onthou ek die begin. Met ‘n bietjie konsentrasie kom by: That’s newly sprung in June. Nog ‘n paar oomblikke se diep dink. A, natuurlik: My love is like the melody that’s sweetly played in tune.
Keats, verduidelik ek vir Tokkie. Agterna blyk die raaiskoot verkeerd te wees. Die eer kom Robert Burns toe. Doer in 1794 het hy dit al opgeteken.
Nou wil die woorde my nie los nie. Ook nie die gewonder oor waarom skielik die herinnering uit die niet opduik nie – ‘n herinnering aan mnr. Blackie Swart se Engelsklas in 1957 aan Volkies, Potchefstroom, verbeel ek my, maar dit kan dalk ook onjuis wees.
In elk geval, ek meld graag dat die woorde vir my opnuut mooi is . Die gediggie het ‘n aangename ritme. Ek hoef nie my kop te breek oor die boodskap nie.
Dankie, Robert Burns.
Hier is die ou weergawe: O my Luve is like a red, red rose / That’s newly sprung in June; / O my Luve is like the melody / That’s sweetly played in tune.
So fair art thou, my bonnie lass, / So deep in luve am I;/ And I will luve thee still, my dear, / Till a’ the seas gang dry.
Till a’ the seas gang dry, my dear, / And the rocks melt wi’ the sun; /I will love thee still, my dear, / While the sands o’ life shall run.
And fare thee weel, my only luve! / And fare thee weel awhile! / And I will come again, my luve, / Though it were ten thousand mile.
Jan 29, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Sweef soos ‘n arend, sing minnesanger Bles Bridges in een van die liedjies wat hom beroemd gemaak het. Die toenmalige treffer (uit die stal van Mynie Grove) maal in my kop terwyl ek nadink hoe om my avontuurlike arend-storie te vertel.
Kom ek begin by die tradisievaste Stellenbosse manskoshuis Eendrag waarvan die koshuiswapen ‘n arend met uitgestrekte vlerke is – op ‘n haar na soos die arend op die ou Volkiewapen (Volkies, Potchefstroom).
Kleinseun Thomas Claassens (21), ‘n student in die Regte in sy vierde jaar, is vanjaar Eendrag se primarius. Verlede Saterdag trek hy toe sy dagdrag aan – kleurbaadjie met sakwapen, Chinolangbroek, das, die lot – en spring so gestewel en gespoor op 10 000 voet uit ‘n ligte vliegtuig met ‘n valskerm; sy eerste sprong, maar darem saam met ‘n ervare instruktrise.
Soos ‘n arend sweef Thomas met wapperende kuif op die video van sy avontuurlike daad waarmee hy sy koshuis se arend-wapen op ‘n unieke manier gestalte gee.
Die valskermsprong is deel van ‘n Eendragprojek om HK-lede op sonderlinge wyse aan die nuwe eerstejaars bekend te stel. Een is glo al op ski’s agter ‘n bakkie in die straat af, ‘n ander = ewe deftig aangetrek – onder die stort.
Natuurlik is hierdie oupa nie min trots op sy vindingryke, kreatiewe, avontuurlustige en dapper kleinseun nie. Hy is net dankbaar in sy dae is soortgelyke dade nie van HK-lede geverg nie. Oupa was in 1962 huisvoorsitter van Kollegetehuis aan Tukkies , en het sowat skotvry afgekom. Die ergste uitdagings van daardie studente-era was omtrent ‘n modderbad en ‘n pil deurdrenk van duiwelsdrek aan die einde van die eerste jaar.
Was Thomas nie bietjie bang nie? Nee, oupa, lag hy, dit was heerlik – ‘n onvergeetlike ervaring. Trouens, ‘n reksprong van ‘n brug oor ‘n ravyn het vir hom tevore ‘n groter verskrikking ingehou.
Foto: Verskaf.
Jan 29, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vuurtjies brand in Balule.
Oor my geliefde boskampie Balule teenaan die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier naby Olifantskamp in die Krugerwildtuin bekommer ek my morsdood. Wat het van hom oorgebly nadat die siedende rivier oor hom gespoel het?
Tonele wat ek in my verbeelding sien, sluit in net die spitse van die ses primitiewe rondaweltjies se grasdakke en die toppe van die grootste bome – die tamaaie ou kremetart in die hoek en dalk ‘n huilboerboon of twee – wat bo ‘n malende bruin watermassa uitsteek. Die res begrawe in ‘n watergraf.
Van al die kampe het Sanparke darem al iets laat weet, selfs die onbegaanbaarste op die oomblik. Oor Balule word onheilspellend geswyg. Niemand weet blykbaar iets nie.

Balule se halfmaan-rondawels.
Vir geen ander kamp in die Wildtuin het ek so ‘n hartsgevoel nie. Die band is diep en innig.
Op 20 Julie 2011 het ek en Tokkie die eerste keer in die klein ruskampie, 11 kilometer van Olifantskamp, oornag – ‘n droom bewaarheid. Ons was in rondawel 5. Ons het vroeg vuur gemaak en tot laat gekuier.
‘n Liefde het dadelik posgevat wat ons telkens teruggelok het, ook vyf jaar lank saam met Tukkievriende van die koshuis Kollege en in Augustus 2025 weer om te gaan afskeid neem. Dit was ons tiende besoek, en weer in randawel 5.
Een van die foto’s hierby is van die Augustuskuier waar Tokkie vir laas die ou bekslanerhek agter haar toetrek. Dis dalk ‘n simboliese foto.
.Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is /was ‘n uiters basiese, amper primitiewe kampie. Sanparke gebruik woorde soos “rudimentary”, “rugged” en “authentic” om dit in sy Engelse reklame te beskryf. Balule is /was al daardie dinge. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is /was egter ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.

Eerste besoek in 2011.
Die ses rondawels staan /het gestaan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi / gegooi het. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by /het bygedra tot ‘n blaredak.

En die laaste in 2025.
Teenaan die kamp druis die Olifantsrivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep. Dit gaan nie verander nie.
Ander herinneringe is van die hiënas wat saans kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek patrolleer. Van leeus wat genoeglik by hul prooi brul. Van sterre wat soos diamante skitter. Van die maan wat ‘n sprokiesland skep saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier.
Ai, ek onthou so helder. Mag dit so wees dat Balule sal opstaan en vir nuwe generasies besoekers steeds dieselfde herinerringe sal skep. Ek vra dan so mooi.
Jan 28, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dalk is dit onwys om die saak aan te roer terwyl ek in ‘n toutrekkery met Incredible Connection gewikkel is oor die snelle ineenstorting van die letters op my drarekenaar se sleutelbord.
My Acertjie is skaars ses maande oud. Sy e, r, i en n is egter al klaar koebaai wrede wêreld. Ander letters loop meedoënloos dieselfde pad, net ietwat stadiger. Incredible noem dit “normal wear and tear”, ofskoon die spoed waarteen die agteruitgang geskied darem ook daar wenkbroue laat wip.
Onse ridders van die tikmasjien uit ‘n vorige era dra hiermee blykbaar ‘n spesiale kruis. So kom ek agter toe ek iewers iets lees – op sosiale media by oud-joernalis Albe Grobbelaar dalk? – van ene se onvermoë om die ou gewoonte af te te skud om die klawers so hardhandig by te kom soos vanouds.
Ja-nee, ons kon. Ons kon ‘n masjientjie laat rittel en beef soos ‘n hond wat gif gevreet het, soos kollega Johan van Wyk ‘n keer in ‘n seldsame kompliment aan die uwe opgemerk het– ‘n pluimpie waarin hy, kloeke man wat hy is, moes erken het dat van aanslae hom vreesbevange gelaat het.
Daardie getroue ou werkesels kon dit vat. Hedendaagse toerusting soek egter om geliefkoos te word. Hoe teerder die streling, des te langer die gewilligheid om diens te lewer. Die komplikasie is net: Al weet ‘n mens dit, kan jy absoluut niks daaraan doen nie. Jou styl is jou styl. Finis en klaar.
Immers: As jy ‘n “aanrander van ‘n tikmasjien” was, is jy soos ‘n gewoontemisdadiger of ‘n drankverslaafde. Jy kan jouself nie help nie ondanks die reinste voornemens. Helaas.
Die makers van rekenaars weet natuurlik van ‘n tikmasjien niks, ook niks van die weerstand wat in sy toerusting ingebou moes word teen ‘n outydse joernalis wat vaart optel met ‘n storie. Die vervaardigers, verskaffers en almal in die rekenaarbedryf sal moet terug tekenbord toe, soos sommige rugbyspanne telkens.
Hiermee dan ‘n noodoproep aan hulle. Vind tog asseblief ‘n manier om daardie letters te pantser dat dit nie so vinnig verweer nie. Gee vir ons ‘n keuse as ons ‘n rekenaar koop soos motorvervaardigers al lankal leer doen het. Gee ons ‘n tipe stadsbuks of ‘n robuuste veldvoertuig, asseblief.