BUFFELSBAAI, JY IS NOG JY!

Die vuurtjie begin flikker vir die eerste aand se braai.

Die vuurtjie begin flikker vir die eerste aand se braai.

Die dierbare Buffelsbaai is nog dieselfde plek as die een wat die Van Deventers in jare her liefgekry het. Hy is ook anders.

Van Vrydag tot Dinsdag was ons hele gesin – nou versprei oor drie geslagte – in dié bekoorlike Lilliput aan die Suid-Kaapse kus saamgetrek rondom die matriarg, Tokkie, se 63ste verjaardag. Die nostalgie was hewig Om dieselfde plekkies, paadjies en poeletjies saam met die kleinkinders te verken as wat meer as 30 jaar gelede met ons eie kinders verken is, was een groot hartsvreugde.

Een andersheid wat dadelik getref het, is die teenwoordigheid van Trellidors voor die skuifdeure van die vakansiehuis Kammarus, met die hand uitgesoek vir dié sentimentele herbesoek. As jy by sy voordeur instap, begin die herinneringe immers opstapel. In Kammarus en die buurhuis Kop-bo-Water het feitlik al ons vorige Buffelsbaaivakansies hulle afgespeel.

Rede nommer twee is ligging. Geen ander huis op Buffelsbaai staan so teenaan die immer woelende oseaan nie. Die naam Kop-bo-water spreek vanself. Maar die heerlike dek van Kammarus is nog nader aan die water. As jy by sy voordeur instap, wil jy koes vir die dreunende branders wat jy deur die sitkamertjie se venster ritmies aangerol sien kom.

Nog ‘n andersheid tref jou soos ‘n hamerhou. Buffelsbaai het die speelplek van rykes geword, boetie. ‘n Oulikrige huis kos ‘n plaas se prys – van R6 miljoen tot ver oor die R8 miljoen. ‘n Huis in holte met die naam No View (nie sonder goeie rede nie) is aan die onderent van die leer teen R4,5 miljoen – maar die “eienaar sal waarskynlik R4.4 miljoen vat”! Wat die nuwe paleise kos wat intusen kol-kol soos paddastoele verrys het, wil ek liewer nie weet nie.

Ons raai oor Kammarus se waarde. Die raaiskote begin in die lig van bogenoemde kennis by ‘n “beskeie” R7 miljoen en druk aan die bokant deur die R9 miljoen-plafon. “Position, position, position” … julle weet mos.

In die afgelope dekade het sy nuwe eienaar vir hom net R600 000 betaal. En hier in die middel 70’s kon oupa Malan hom koop vir R28 000, meubels die lot. Oupa wou nie – die ou dorpie met sy baie opslaanhuisies het vir hom bra gomtorrerig gelyk. Toe gaan koop hy as belegging ‘n ordinêre Capitolpark-huis in Pretoria vir dieselfde prys. Ai, ai, ai.

Dit tref nietemin dat die Te Koop-bordjies volopper is as wat jy ooit op Buffelsbaai gesien het. En in meer vensters as tevore pryk hoopvolle Te Huur-kennisgewings. Die tentakels van die vrot ekonomie – nes misdaad – wurg klaarblyklik ook hier nes daardie die kwaai seekat met die vele arms in die poel voor Kammarus toe die kinders hom met hul visnetjies versteur.

Die element van bekendheid is tog groter as die effense vreemdheid wat jy aanvanklik ervaar. Want terwyl strandoorde oral onherkenbaar verander het, het Buffelsbaai Buffelsbaai gebly. Hy is nog hy, soos Lafras Verwey.

Hope nuwe huise het oor die jare bygekom, nog meer huise is gerestoureer en opgegradeer. Oral tussen die ou bekende name by die voordeure pryk nuwes wat verklap dat ander eienaars nou daar die leisels hou. Die houthuisie Die Anker anderkant langs Kop-bo-Water heet byvoorbeeld nou Vol Sand.

Omdat die dorpie nêrens grense hierdie kant toe of daardie kant toe versit het nie (kon versit het nie), het sy voetspoor egter dieselfde gebly. Ook sy karakter.

As jy gaan stap, is dit in dieselfde steil straatjies as 30 jaar gelede. As jy gaan swem, nooi die wye strand jou steeds ewe gul. As jy brood, ys of ‘n koerant wil gaan koop, bestaan nog altyd net die een plek: die halfmaan-winkel-cum-restaurant aan die soom van die swemstrand. Dit lyk of die tyd stilgestaan het – en dis as een reuse-kompliment bedoel.

Op die preekstoelrots voor Kammarus sit selfs ‘n ewe groot seemeeu op presies dieselfde kolletjie as drie dekades gelede!

En toe ‘n storm die voorlaaste aand losbars, skep die krag van die wind en die wrywing van onstuimige water teen die rye op ry soliede rotsbanke wat bo die water uitrys, weer ‘n reuse-“melkskommel” van wiegende bruin skuim, identies aan die een wat ek 20 jaar gelede op dieselfde patroon hier voor my sien vorm aanneem het.

Die sonsondergang skilder die lug presies soos jy dit onthou, met dieselfde intense diep kleure en meesleurende spel tussen donker en lig. Kan enigiets ander ewigheid so treffend uitspel?

Glo my, toe ons Kammarus en Buffelsbaai Woensdagoggend groet, was dit met ‘n amperse bewoëndheid van hart. Was dit dalk die laaste keer dat jy, 68-jarige, met daardie verspoelde stuk pad by Goukamma verby koers kies N2 toe?

Gelukkig het ons pakke en pakke foto’s om op terug te val, en ook die wete dat die liefde vir ‘n stukkie wonderlike skeppingswerk van die Goeie Vader diep in die hartjies van ‘n nuwe generasie Buffelsbaai-liefhebbers voortgeplant is. Dat dit stewig vasgeanker is, twyfel ek nie. (HvD)

‘HEMEL’, HIER KOM ONS!

Vrydagmiddag aanstaande val die Van Deventers Buffelsbaai binne – die skilderagtigste, heerlikste strandoord wat ek ken, die geliefde plekkie naby Knysna waar ons van 1971 af tot in die 90’s seker 25 keer vakansie gehou het. Elk keer is die gees en liggaam verkwik.

Marisa was nog nie gebore nie toe ons die eerste jare Buffelsbaai toe is. Johan was in doeke. Dit was voor enige vorm van elektrisiteit op daardie idilliese kusdorpie. Die enigste liggies op Buffelsbaai was lampe (gas of lampolie) en flikkerende kerse.

Ons pak albums uit daardie era vertel ‘n storie van die kinders se grootword. Op letterlike honderde foto’s van luilekker uurtjies op die strand, vuurtjies, sonsondergange, wandelinge, stormsee en wat nog kan jy die babatjies sien uitrank tot jong mense… en die jong paar, Hennie en Tokkie, eers bloedjonk, stelselmatig sien ouer en ouer word.

Tokkie wat 25 jaar oud was toe ons Buffelsbaai ontdek het, vier Sondag daar haar 63ste verjaardag. Marisa, ons jongste, is getroud met Brent Claassens en is die ma van drie seuntjies, die tweeling Jacob en Thomas (amper 5) en Christopher (5 weke). Ouboet Johan is diep in die dertig, getroud met Mariza en die pleegpa van ‘n vierde seuntjie in die familie, Michael ( halfpad tussen 2 en 3).

Die foto hierbo is van die seekant af – d.w.s. seker van ‘n bootjie af geneem. Heel links onder steek ‘n piepklein stukkie uit van Kop-bo-Water, prof. Bethel Muller van Stellenbosch se wit huis met die blou dak, wat die wondere van Buffelsbaai vir ons ontsluit het. Net regs van hom, die donkergeel huis, is Kammarus waarheen ons later weens logistieke redes uitgewyk het. Dit het behoort aan prof. Vaatjie du Toit, in lewe ginekoloog van Bloemfontein en later dekaan van Maties se mediese fakulteit, en sy vrou, Lida. Die huidige eienaars is McSeveny’s van die Rand.

By daardie twee strandhuise, wat ons soos ons eie gekoester het, het ons dikwels ook saam met ons ouers gekuier. Toe Pa Malan sterwende was aan kanker, was Buffelsbaai die bestemming van sy heel laaste vakansie. Hy was broos en Ma het om hom gekloek. Die laaste dag het hy haar ontglip. die skuifdeur stilletjies soos ‘n stout kind oopgestoot, op Kammarus se dek gaan staan en behaaglik die vars, sout seelug ingeadem. Sy oë het geblink – vir oulaas. Daardie toneeltjie het my met ‘n diepe weemoed vervul. Ek het tussen die rotse my hart gaan uithuil.

Dit is na Kammarus waarheen ons nou na al die jare terugkeer. Vrydagmiddag sal die vuurtjie vroeg-vroeg aan die seekant voor die huis aangesteek word vir ‘n braai soos seker meer as 100 keer tevore. Laat ek egter maar erken dat skoonma Marietjie van Wyk (amper 95 en nou in ‘n versorgingsoord) meer as een aand ‘n papierbord moes staan en waai om ‘n trae Van Deventervuurtjie ‘n bietjie aan te wakker!

Die onhandige gesukkel om soms in die seebriesie ‘n vleisie gebraai te kry, is deel van ons skat van Buffelsbaai-herinneringe. (Tokkie beweer dit was nie onhandigheid nie, maar eenhandigheid. In die een hand was konstant ‘n glasie!)

Ons brand om herinneringe met die kinders te deel en hulle die wonderlike plek te wys; die yslike preekstoelrots reg voor die huis wat jou nooi om te klouter, die poeletjies met seekatte, seesterre en klein vissies, die eksklusiewe “private” strandjie ‘n klipgooi van jou voordeur waar jy kan bak en brou soos jy wil, die strandkafee waarheen kindertjies alleen kan stap…

Vergeet egter nie van die middag van die Groot Skrik nie toe ‘n reuse-fratsbrander skielik bo-oor daardie rots breek en opdrifsels tot teenaan Kop-bo-Water se voordeur aanspoel. Tokkie sien ‘n swart plastieksak in die skuimende water dobber en dink dis Johan se baadjie. Sy storm onstuitbaar die see in…. Gelukkig kon die bure vinnig gerus stel: die kinders is veilig. Hulle is skaars ‘n minuut voor die fratsbrander in ‘n ander rigting.

Vergewe tog: oor Buffelsbaai kan ek raak soos ‘n grammofoonplaat wat vasgehaak het. Ek sal my maar inhou en net nog vertel van die “afspraak” tussen ‘n Bloemfonteinse leraar en sy vrou oor waar die eerssterwende vir die langslewende sal wag – op Buffelsbaai se strand natuurlik!

Ja, Buffelsbaai het iets van ‘n hemelse kwaliteit aan hom wat sulke denke stimuleer. Vir my het dit tot die volgende versie met die titel Hemel geïnspireer:

Die trein stoom in /by die stasie Hemel/dis berg, see en sand/’n mensegewemel/‘n engel knik skalks – “Oom’t reg geraai/die hemel is wel/nes Buffelsbaai.” (HvD)

NASKRIF: Ons is altyd in die somer Buffelsbaai toe. Volgens my kollega van baie jare Johan van Wyk kan jy ook ‘n perfekte wintervakansie op Buffelsbaai deurbring. Jy het net drie dinge nodig: ‘n blondine, ‘n bottel Old Brown-sjerrie en ‘n “baaisiekel”. Vra jy hom: “En die baaisiekel dan?” was sy antwoord: “Om die blondine te stuur om nog Old Brown-sjerrie te gaan haal as dit opraak!”

More uit Melkbos

Die kroeg is nie oop nie omdat hy toe is. Dieselfde geld HvD se Blog vir die volgende week of wat.

Hiermee word die vensters en deure gegrendel en die luike laat sak terwyl die familie Van Deventer – die hele boksemdaais – in Kammarus op Buffelsbaai gaan kuier,speel, braai en rus (HvD).

Watwou, ‘n AREND – DIS ‘N wou!

Die leerkurwe duur voort. Gister moes ek bely ek het ‘n lalreier vir ‘n wouadpie aangesien. Vandag se korreksie geld ‘n swartwou (Engels: yellowbilled kite) wat ek ‘n ruk gelede hier as ‘n bruinslangarend uitgeken het.

Ekskuus vir die wals. Maar dit gee my darem kans om weer die foto te wys waaroor ek myself nogal op die skouer klop. Ek moes vinnig my Canon in gereedheid bring toe ons die waardige meneer met sy murgbeen op die teerpad van die Krugerhek af Skukuza toe raakloop.

Die verkeer was redelik druk en hy het nie lank bly sit nie. (HvD)

‘N SAALBEK, GEDORIEWAAR!

Terwyl dit op HvD se blog die seisoen vir gevleueldes is, hier is ene wat ek reggekry het na die kleitrappery met die lalreier en die swartwou.

Ja, dis ‘n saalbekooievaar wat hier luiters in die teerpad afstap. Met die sierlike saalbek kan niemand egter eintlik ‘n fout maak nie – tensy hy ‘n aap (woudapie?) is.

Die saalbek het ons raakgeloop op die Doispane-teerpad tussen die Phabenihek en die Krugerhek. Trouens, daar was twee in die pad, maar nooit na genoeg aan mekaar vir ‘n groepfoto nie.

Daarmee dan eers oor en uit. Ons maak die die Van Deventer-voelgids toe vir ‘n ruk. (HvD)

NASKRIF: Wie stem nie saam nie dat die saalbek uitgeknip lyk vir die taak om vir die reenboognasie se mammas babas te bring?

Dis ‘n lalreier, jou (woud-)apIE!

Voëlkyk is nie vir sissies nie. Dit verg konsentrasie en vinnige koördinasie om die verkyker te gryp, die onderwerp van kop tot toon te bestudeer en deur ‘n proses van eliminasie blitsig by ‘n diagnostiese bevinding uit te kom.

As jy boonop aan ‘n kleurswakte ly soos die uwe – skakerings van rooi-groen is waar dinge vir my kwaai begin lol – bevind jy jou gou in tamatiestraat. Is die snawel geel of rooierig? Is die pote swart of bruin? Het die vlerk wit strepe of kolle? Later is jy so verward dat jy vir jouself lieg.

Om dan nog die duisternis name ook te probeer memoriseer — party onlogies, ander die vrug van ‘n ryke verbeelding – is ‘n reusetaak. Tussen al die bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, klopkloppies, lewerikke, lysters, reiers, sterretjies, valke en vinke raak ‘n gewone sterfling maklik verdwaald.

Vergewe dus dat ek ‘n ruk gelede ‘n foto (die nimlike hierbo) op hierdie blog gesit het met die selfversekerde bevinding dat dit ‘n woudapie (‘n soort rietduikertjie) is wat ek by Lake Panic naby Skukuza gekiek het.

Dit is nie ‘n woudapie nie, maar ‘n lalreier – ‘n soort reier waarvan ek totaal onbewus was totdat Herman en Rina le Roux van Johannesburg die foto mooi bekyk en tentatief die korrekte identifisering gewaag het.

Hulle had gelyk. Aan hulle, en al die ander wat ernstig voel oor hul voëls, hiermee ‘n vertraagde verskoning vir ‘n bona fide misleiding.

Ek het dit nou op die hoogste gesag gesag, nog hoër as Herman en Rina, dat my “woudapie” inderdaad ‘n lalreier was.

Gelukkig skryf Tokkie in haar Newmans ons voëlwaarnemings in potlood en het sy altyd ‘n uitveër byderhand om foute reg te stel.

Nou soek ek ‘n woudapie, die ware Jakob, met ‘n seer hart! (HvD)