“BALOONS, BALOONS BY ‘N TOETS!”

'n Bulls Babe in 'n kuise kostuumpie

'n Bulls Babe in 'n kuise kostuumpie

Die sirkus langs die veld by gisteraand se Twintig20-krieketwedstryd op die Wanderers was waarskynlik nie erger as die stuitighede wat maar altyd by sulke okkasies opgedis word nie. Dalk was dié ou grysaard maar net buitengewoon broos en weerloos na ‘n hewige sinus-aanval. Al wat ek weet, is dat dit ‘n naarheid in my laat opstu het wat my na ‘n paar stywe doppe kasterolie laat smag het.

Van die danseressies met hul swaaiboudjies in hul satyn-sjoebroekies, tot die hipermoderne kommentators met hul kontorsies wat eerder soos gesimuleerde seks in ‘n Soho-nagklub lyk as sport-uitsaai, was so onuitstaanbaar dat ek sou gaan slaap het. Ek wou egter graag vir Albie Morkel sien kolf. Dit was die opoffering werd.

Oor die Babelse gedawer van musiek wat vermoedelik uit die een of ander Johannesburgse hool na die Wanderers oogeplaas is, swyg ek liewer. Oor die uitasem-onderhoudvoerdertjies met hul gebrekkige elokusie is ek eweneens stom.

Wat het dan skeefgeloop in groot sport dat dit, veral in Suid-Afrika, so hartverskeurend vervlak het – met Shark Flashers in hul sexy swempakkies, Bulls Babes in oprygsteweltjies en hul ander stoute sustertjies by Super 14-rugby tot by die studentikose kaperjolle van sogenaamde Fanatical Fans by toetskrieket?

Hier rondom die 80’s, toe die Britse Leeus (dink ek ) in Suid-Afrika getoer het. het die dekadensie al begin intree met Simbaleeutjies wat op die veld bly kaperjol het nadat die spelers al opgedraf het, trosse balonne wat losgelaat word en later enorme vuurwerkvertonings wat die Chinese vervaardigers moes uitgelate laat bokspring het, soos hul Regering nou oor die ANC se dwase hardvogtigheid teenoor die Dalai Lama.

My vriend Pierre le Roux van Mosselbaai was daardie jaar by die toets op Loftus as gas van die vermaarde Springbok-agtsteman van die 50’s Daan Retief, toe markmeester in Pretoria. Na die eindfluitjie is die tradisionele post mortem oor ‘n drankie by Retief se motor op Loftus se B-veld gehou.

Pierre onthou terwyl ander die wedstryd ontleed, het Retief net kopskuddend staan en prewel: “Baloons, baloons by ‘n toets!” Hy het dit verskeie kere herhaal asof hy die rare verskynsel nie kon glo nie.

Arme Daan Retief! Min het hy toe kon raai hoe die klem nog al hoe meer weg van die sport en al hoe meer in die rigting van vermaak sou skuif.

Ag, ‘n mens wil nie altyd ‘n suur ou klakous wees oor alles wat so anders geword het as waaraan jy gewoond was nie, maar ek wonder darem …

Ek wonder of al hierdie opgesmukte vertoon werklik is wat deesdae se sportskares en TV-kykers verlang.

Ek wonder hoeveel ware sportliefhebbers nie al so vervreem is deur al die tedoe buite-om die sportkragmetings self dat hulle liewer ver wegbly nie.

Ek wonder of ons sportbase nie tot hul eie skade op die lange duur ‘n generasie sportkykers kweek vir wie dit nie regtig om die sport gaan nie, maar om die vibe, om in te wees, om deel te wees van die jol.

Ek wonder, ten slotte….. en moenie skiet nie,meisies! … waar is al die feministe (as daardie term nog politiek korrek is) wat so dawerend swyg oor die sportbemarkers wat jong vroulike lywe so uitbuit om mense deur hekke van stadions te laat stroom of voor die TV-skerm vasgenael te hou.

Moenie vir my sê die huidige bewakers van die vrou se reg om nie net as sekssimbool uitgeveil te word, kriewel nie as hulle jong meisietjies so gretiglik sien saamspeel om juis presies daardie beeld uit te dra nie.

Of is die oormag eenvoudig te groot? (HvD)

“LIEFDESKINDERS” EN SEEKOEIE

Nou het die sanger Theuns Jordaan ook ‘n “liefdeskind” verwek. By ‘n bloedjong loskop-dollatjie van Namibië wat ‘n flirtasie in ‘n biertent by ‘n kunstefees woeps laat oorgaan het tot ‘n seksuele avontuurtjie met ‘n jagter op soek na prooi.

Die blonde poppietjie is blatant “opgetel”, sonder ‘n kondoom vir die sanger se plesiertjie misbruik (romodel, o rolmodel!) en daarna gerieflik van vergeet – totdat haar ma Jordaan telefonies gekonfronteer het met die pynlike nuus dat ‘n broodjie in die oond is.

“Liefdeskind”? Ek kry elke keer ‘n rilling van weersin as taal so verwring word om iets te beteken wat dit klaarblyklik nie in die gewone sin hoegenaamd nie beteken nie. Waar is die “liefde” tog in so ‘n blits-sekskapade?

As liefde so vinnig uitwoed – tussen middernag dalk en sonsopkoms! – is dit immers maar ‘n bra vlak en ligsinnige gevoel, en verwonder n mens jou oor die musiek, gedigte, romans en wat nog wat deur deur die eeue deur diepe, onsterflike liefdes geïnspireer is.

Ek kan aan ander woorde dink wat dalk meer ter sake is vir sulke kattekwaad. Wellus gee bepaald ‘n beter beskrywing van die aktiwiteite in mnr.Jordaan se bed, sou ek dink.

Ik heb gezegd, en ek wil nie onnodig hieraan bly karring nie. Ek sal egter bly wees as kopskrywers in koerante en andere wat so maklik die woord “liefdeskind” rondstrooi, my wil help om te verstaan wat hulle bedoel.

As die produk van wildvreemdes wat na ‘n paar drankies drankies hul inhibisies verloor en mekaar gryp, ‘n “liefdeskind” is, watter soort kind is dit dan wat in ware wedersyds liefde in ‘n vaste, hegte verbintenis van diepe geneentheid ontstaan? Is dit nie verreweg eerder ‘n “liefdeskind” nie, tensy ‘n mens nie ‘n benul het wat liefde beteken nie?

‘n Kreatiewe vriendin noem sulke onlogiese, sinnelose woorde soos “liefdeskind” seekoei-woorde. Daardie groot, vet, logge diere (hippopotamus amphibius) woon immers nie in die see nie, maar in vars water. Baie is geen koeie nie, maar bulle. ‘n Seekoeibul! Aardetjie tog, iemand het met die Afrikaanse naamgewing darem liederlik gestruikel.

Die seekoei was bekend aan die Grieke en Romeine as die “Gedierte van die Nyl” Dis tog klaarblyklik ‘n beter poging.

‘n Mens sou n lang lysie sulke seekoeiwoorde kon saamstel en selfs ‘n intellektueel uitdagende speletjie daarvan kon maak. Ek wil egter nog net ene byvoeg wat vir my amper ewe aanstootlik is as “liefdeskind”. Dis “gemorskos”.

Ek het pas die rolprent Slumdog Millionaire gesien. Dalk het daardie skrikwekkende tonele uit die krotbuurte van Moembaai my opnuut ‘n hekel in daardie woord gegee. Hoe ‘n mens egter die woord”gemors”met die woord ”kos” kan koppel, bly vir my n raaisel – en dit in ‘n wêreld waarin hongersnood hoogty vier. Selfs predikante praat soms so.

Sit vir miljoene mense gerus ‘n porsie “gemorskos” voor. Hulle sal dit opslobber soos “koningskos”.

Van seekoeie gepraat, gaan lees gerus weer Job 40: 10-19 in die Ou Testament, wat waarskynlik verwys na ‘n beskrywing van daardie dier uit ongeveer 1400 v..C. Dit is van die mooiste dierebeskrywings wat ek ken.

‘n Tweede seekoeistorie wat ek graag deel, is oor die seekoei se mis. Selfs ‘n oningewyde herken die mis maklik weens die tekstuur wat kwalik verraai watter tamaaie “fabriek” dit produseer. Geen ander dier waaier ook sy uitwerpsel oor so ‘n wye gebied nie.

Nie sonder rede nie, volgens ‘n mooi boslegende wat ons by Annatjie Strydom van Sabiepark gehoor het. Sy vertel: “Koning Leeu trap seekoei uit omdat hy die heeldag in die water lê. ‘Jy vreet al ons visse op!’ ‘Nee, Koning Leeu,’ antwoord Seekoei bedeesd , ‘ek eet nie vis nie. Ek lê maar so in die water om my vel teen die son te beskerm. As ek wil eet, kom ek uit. My kos is plante en gras.’ Koning Leeu bly egter skepties. ‘Dit wil ek sien’ bulder hy. ‘Jy sal my net op een manier kan oortuig. Sê jou wat, as jy buite die water kom mis, moet jy jou stert swaai. Die mis moet oop agter jou val. So sal ek kan sien of daar grate in is of nie’. Seekoei is ‘n gehoorsame onderdaan. Soms, net soms raak hy egter ‘n bietjie lui. As Koning Leeu nie naby is nie, sal hy sommer gou-gou in die water sy besigheid doen. Die visse moet ook eet. En die waterplante groei lekker van die natuurlike bemesting.”

Nou-ja, Seekoei het nie vir Koning Leeu gejok oor sy voorliefde vir die water nie. Dit is inderdaad, soos hy verduidelik het, vir beskerming.

Ten slotte: seekoeie ken die kuns om lui te lyk. Dis ‘n feit soos ‘n (see)-koei. Tienstuks van die luiste lui lummels in ‘n kuil naby Onder-Sabie in die Kruger-wildtuin (foto bo) het die inspirasie vir die volgende bosversie verskaf:

Een oefen kliphard om wydbek te gaap,
sy dikvriend lê heeldag en skommel en slaap
waaraan ly daai luie donders?
Wrintiewaar…..dis hippo-konders! (HvD)

VERKEER VOOR ONS HUIS

Seiljagte sien ons soms in die verte op die Atlantiese Oseaan dobber, maar normaalweg is seiljagverkeer by ons Melkbos-huis verby aansienlik skaarser as byvoorbeeld sebraverkeer voor ons boshuis op Sabiepark. Hierdie foto’s is Vrydag van ons huis in Penguin Place af geneem – die boonste een van die bo-dek en die onderste een, met die heining ook sigbaar, van die stoep af. Watter wedvaart dit was, weet ek nie. Al wat ek weet, is dat dit heel aanskoulik was toe die kleurryke seile so al bollende in ‘n noordelike rigting verby vaar, waarheen ook al. So naby was hulle nog nie in die twaalf jaar dat ons op Melkbos nesgeskrop het nie. Ek deel dit graag. (HvD)

KYKIE IN ANDER SE OU KIEKIES

Ander mense se foto’s kan nogal pynlik raak as hulle jou die slag beetkry en vriendelik verplig om te kyk, kyk en nogmaals te kyk totdat jou gô uit is.

Veral uit die gloriedae van die skyfie – deur sekere taalbewustes ‘n skuifie genoem, omdat jy die skyfie moes in- en uitskuif in jou projektor, sien – onthou ek ‘n paar martelaande terwyl allerlei private versamelings eindeloos teen ‘n skerm of sommer ‘n wit muur geflits is. ‘n Sinkende magteloosheid het jou gepak terwyl jy deur stywe lippe oe en aa.

Ietwat verleërig onthou ek een aand in Randburg in 1977 toe ek nie aan die ontvangkant was nie, maar arme bure oorkant ons in Maroelastraat, Randparkrif 3, nogal in hul eie huis, onderwerp het aan ‘n skyfiesessie wat eers die gasheer Neil McLeod snorkend in sy leunstoel gehad het en later die gasvrou, Estelle, na ‘n dapper stryd uiteindelik ook voor Klaas Vakie laat swig het.

Die Van Deventers was pas terug na ‘n jaar in Amerika, tot barstens toe entoesiasties oor al die wonderlike dinge wat ons gesien en beleef het, en met letterlik sulke bliktrommeltjies vol skyfies. Die McLeods het seker nie besef waarvoor hulle hulle inlaat nie toe hulle ons in ‘n onbewaakte oomblik vir aandete oorvra en ons nooi om sommer ‘n klompie skyfies saam te bring.

By my vrou, Tokkie, is my aandele t.o.v. bedagsaamheid hoeka nie hoog nie. Daardie aand het my reputasie in daardie verband ‘n dramatiese duik gemaak. Sy ril nou nog as sy aan my demonstrasie van dikvelligheid dink. Ek het my nie laat afskrik nie en meedoënloos elke liewe skyfie wat ek saamgebring het, tot die laaste ene op die sitkamermuur geprojekteer. Dit was laat in die nag toe ons afskeid neem.

Jy kry natuurlik twee soorte mense: die foto-mense en die nie-foto-mense. Eersgenoemdes raak maklik aan die klik van ‘n kamera verslaaf. Hul pakke foto-albums reik naderhand hemelhoog en oral in laaie en bokse is nog foto’s, foto’s, foto’s. Of negatiewe wat al total onidentifiseerbaar geraak het, maar as te waardevol geag word om snippermandjie toe te gaan.

Ek moet bely dat ek van daardie spesie is. En die digitale era maak vir ons soort nogal allerlei deure oop. Koerante en tydskrifte se webwerwe en foto-parkeerplekke soos by Flickr en Picasa skep nuwe geleenthede vir opberging en uitstalling.

Op Die Burger se webwerf is byvoorbeeld ‘n rubriek met die naam Leserlense met ‘n rits galerye waarheen jy na hartelus foto’s van enige onderwerp onder die son kan stuur. Een van die nuwe afdelings heet Vergange tyd. Stuur foto’s wat jou ver-ver laat terugdink, lui die uitnodiging.

Wel, die uwe het hom nie twee maal laat nooi nie. Die foto hierbo van ons plaashuis in die distrik Babanango in Noord-Kwazulu-Natal is een wat ek gestuur het. Dit is ongeveer 1940/1941 geneem, net voor of na klein Hennie se geboorte. Kyk net daardie karre!

Ek sou nog hope tydgenootlike foto’s kon stuur, maar ek wil nie ‘n oorlas van myself maak, soos daardie aand by die McLeods nie. Vir die halwe kans dat daar dalk mede-verslaafdes is wat tog omvattender insae in ou Van Deventer-kiekies sal verwelkom, meld ek egter graag dat veral twee Picasa-albums nogal ver terugdelf in sowel my as Tokkie se lewens.

Wie hulle wil besoek, is welkom. Gaan net net www.hennievandeventer.com en gaan soek ‘n entjie onder die besoekersboek die skakel na my Picasa-albums. Die twee wat ek veral hier wil uitveil, is album 1, HvD: Eerste 40 jaar, en album 2, Goeie ou dae (tot 1980).

BLAAI, BLAAI DEUR BUFFELSBAAI

Op die saamgestelde foto hierbo word aangesit vir aandete op Kammarus se asemrowende dek op Buffelsbaai. Die branders rol as’ t ware onder jou voete in!

Meer foto’s van die Van Deventers se nostalgiese herbesoek aan ‘n geliefde ou kuierplek hier van 1971 af tot 1995 verskyn in ‘n Picasa-albumpie wat vinnig saamgeflans is. Om daarby uit te kom, is die maklikste roete:

1. Gaan na www.hennievandeventer.com ;

2. Beweeg af, af, af op die tuisblad en klik op Picasa-albums;

3.Klik op die albumtitel Buffelsbaai, Maart 2009 .

Dis maar ‘n beskeie albumpie met iets soos 35 foto’s. Ek wed egter dit sal veral liefhebbers van Buffelsbaai se monde laat water…

In die blog hieronder vertel ek meer van die kuier – hierdie keer nie net meer met ons eie kinders nie, maar ook saam met ons kinders se kinders. (HvD)

BOEMELAARS EN BROOD OP DIE WATER

Herman en Rina le Roux in Maart 2008 in Sabiepark

Herman en Rina le Roux in Maart 2008 in Sabiepark

Boemelaar-stories gryp mense dikwels aan, waarskynlik weens die wete: was dit nie vir die genade van die Vader nie, kon dit ek gewees het daardie – “for the grace of God there goes I.”

In matriek in 1957 het ek trouens tot die jaarblad ‘n stuk bygedra oor ‘n denkbeeldige reünie jare later. Advokate, dokters, suksesvolle sakelui, Springbokrugbyspelers en sulke snare staan, drankie in die hand, en ginnegaap. Skielik daal ‘n stilte. ‘n Versukkelde ou boemelaar skuifel met neergeslane oë by die deur in. Dis ekke … Hennie van Deventer.

Nou-ja, gelukkig het ek toe darem nie ‘n boemelaar geword nie. So ver ek weet, het daardie lot ook geeneen van my destydse klasmaats getref nie. Die “dice” kan egter maklik vir iemand verkeerd val. Die broer van ‘n prominente senior student uit ‘n goeie plaashuis uit wat nou Limpopoprovinsie is, het byvoorbeeld in my Tukkiedae op ‘n dag net die pad gevat. Hy het nooit weer tot sy ou lewenswyse teruggekeer nie.

Wat my op hierdie mooi sonskyndag op Melkbos aan boemelaars laat dink, is my vriend en oud-kollega Herman le Roux se stuk wat, terwyl ek op Buffelsbaai was, in Die Volksblad en in die rubriek My Storie op www.beeld.com verskyn het. As u dit gemis het, gaan lees dit gerus by bogemelde skakel. Die titel is: Jy het iets mooi oor my geskryf.

In kort is dit die storie van die boemelaar “Andries” met ‘n welige grys baard en verslonsde klere wat ‘n verbaasde Herman in Sedgefield bydam met die woorde: “Jy is mos Herman? Jy het jare gelede iets mooi oor my in Die Volksblad geskryf…”

“Andries” deel toe mee: “Ek wil net vir jou sê ek het vir die Vrystaat se onder 19-span rugby gespeel en jy het geskryf die ‘lang, lenige losskakel was die uitblinker.’ ”

Dit was 45 jaar gelede, maar daardie pluimpie het vasgesteek!

Herman, ‘n oud-sportredakteur van Die Volksblad en later Beeld, se storie maak nog verskeie verrassende kinkels en draaie. Ter wille van lesers wat dit al elders onder oë gehad het, gaan ek nie voor die versoeking swig om die hele sak patats weer hier uit te skud nie.

Ek het egter twee kommentare, die eerste oor boemelaarstories en die tweede oor Herman le Roux.

Veral een boemelaarstorie het my tot nou toe diep getref. Dit is deur Madeleine van Biljon, die boekevrou, self op skrif gestel. Ek noem dus vrymoedig haar naam en die feit dat dit haar verlore seun was wat een winteraand bel en haar vra om hom iewers te ontmoet.

Sy haal ‘n taxi, kry hom op die afgespreekte plek en verneem deur hoesbuie sy hortende storie van waar in die ooptes hy die uiters onplesierige Kaapse winter deurbring.

Sy pleit hy moet saam huis toe, maar hy skop vas. Sy “huis” is nou een van Nuweland se paviljoene (as ek reg onthou). Later trek sy haar warm baadjie uit en oorhandig dit aan hom. Hy wil eers teenstribbel, maar aanvaar die baadjie tog dankbaar, en verdwyn in die nag.

Die volgende dag kom die nuus: hy is daardie nag oorlede.

Dis ‘n storie wat sterk manne sal roer. Herman se storie, wat darem ‘n gelukkiger einde het, sal ek voortaan egter ook by my onthoustories oor boemelaars voeg.

Oor Herman is my kommentaar dat hy seker die grootste mens-mens is wat ek ken. Soos hy (en sy vrou Rina) vriendskappe vertroetel, is ‘n openbaring. Om van die Rand Kaap toe te ry vat vir hulle soos in die tyd van kar-en-perde dae en dae, want oral is vriende om by aan te ry

Geen wonder nie dat sy “Andries”-storie wyd reaksie uitgelok het. Vriende en kennisse van selfs oorsee (Kiev in die Oekraïne, die VSA, Duitsland en Nieu-Seeland) het van hulle laat hoor. ‘n Ou wat beweer dat hy byna 50 jaar gelede op Herman en Rina se troue gesing het, het ook gereageer, hoor ek maar so deur my kanale.

Die predikant wat hulle in 1959 op Frankfort getrou het, het glo die sanger (‘n familielid van hom) aanbeveel. Herman het gedink dit is Willem van Tonder, maar die ou sê hy is Wim Bosman. “Wie is ek om te stry?” was Herman se lakonieke kommentaar.

Ten slotte: Herman gedy daarop om mooi dinge van mense te sê. As joernalis was dalk sy grootste kenmerk ‘n sagte, wellewende pen – anders as my eie wat kon gesel en wond, en wat vir die goeie Herman dikwels tot pyn was, weet ek.

Dat “Andries” 45 jaar lank Herman se woorde in sy hart bewaar, sê dus iets van albei. Ek is bly oor daardie joernalistieke brood op die waters wat op so ‘n mooi manier na my ou vriend teruggekeer het. Hy verdien dit. (HvD)