Apr 10, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Mense – ek ook – raak maklik stellings kwyt soos dat hulle asseblief tog nie te oud wil word nie.
Wel, Ouma Marietjie van Wyk (eggenote Tokkie se ma) was op 7 April 2004 90 jaar oud. Toe was sy nog nie ‘n oumagrootjie nie.
Op Dinsdag 7 April 2009 was sy 95. Sy is in ‘n rolstoel en soms gaan dit maar kreun en steun. Sy straal egter weens die vreugde van vyf agterkleinkinders.
Al vyf was op haar verjaardagete hier in Penguin Place 11, Melkbosstrand. Dit was vir haar ‘n fees om hulle so rondom haar te he.
Op haar skoot is die jongste aanwinsie, Christopher Claassens.
Aan weerskante is die tweeling Jacob Claassens (links) en Thomas Claassens. Agter links is Alesandro Brochetto en regs Michael van Deventer.
Christopher is twee maande. Sy ouboete, Jacob en Thomas, word op 26 April vyf. Hulle is die kinders van Brent en Marisa (ons dogter) Claassens.
Alesandro is 8 maande oud. Hy is die seuntjie van Lorenzo en Corlie (dogter van Ouma se seun, Fanie) Brochetto.
Michael is twee jaar en 8 maande oud. Hy is die pleeg-seuntjie van Johan (ons seun) en Mariza van Deventer.
Produktiewe jare gewees van 90 tot 95, en Ouma hoef nie ‘n vinger te verroer het nie! (HvD)
Apr 7, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Hoe verduidelik ‘n mens as jy duikers en impalas so deurmekaarklits asof dit een soort bok is, soos die uwe in sy vorige blog?
Die ergste van alles: niks en niemand kan blameer word nie buiten die gebrek aan konsentrasie en oorhaastigheid aan my eie kant. Mea culpa, kort en klaar.
Jammer, lesers. vir so ‘n liederlike blaps – met Gekkedag al iets van die verlede!
Ek was salig onbewus van hoe ek kleigetrap het, totdat Jeanette Coetzee uit Amerika vra: “Hoe dan nou?”
Die waarheid is natuurlik dat die luislang by Cullinan ‘n impala ingesluk het. My luislang-stories uit Sabiepark gaan almal oor duikers.
My ore tuit as ek vriend en vyand galmend hoor lag oor die grote verleentheid.
Geen ridderorde vir HvD nie, hetsy die Ridderorde van die Impala,die Ridderorde van die Duiker…of selfs die Ridderorde van die Luislang! (HvD)
Apr 5, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

‘n Luislang-lummel het verlede week naby Cullinan n impala gevang en selfs die koerant gehaal oor sy kortdaatstuk. Nou misgun ek die ou grote nie sy ete of sy publisiteit nie, maar in Sabiepark het ons al geleer dat luislange nogal lief is vir impalavleis.
Geen toejuiging wag egter daar op die aggressor nie. Ons Sabieparkers is deur die bank aan die impalas se kant. Trouens, in die algemeen bestaan ‘n natuurlike aangetrokkenheid tot hierdie alleenloper-bokkies. Hegte verhoudings kom tot stand. Van die mooiste Sabieparkstories spruit uit sulke mens-bokkie-verhoudings.
Een is die storie van Bok-Bok. Dit begin toe Annatjie Strydom van Rustig (erf 333 uit Apiesdoringlaan) so tien jaar gelede een dag in haar tuintjie werskaf. Sy hoor ‘n vreemde geluid.Dit klink soos ‘n gekerm van iets wat in groot nood verkeer. Voetjie vir voetjie begin sy agter die klank aan beweeg. Sy is egter skrikkerig. Sê nou ‘n luiperd spring iewers uit! Maar dis of ‘n magneet haar trek.
Met gespitste ore beweeg sy stadig deur die droë lopie agter hul lapa. Die gekerm raak sagter, kom sy nou agter. Terselfdertyd raak sy bewus van geluide wat soos ‘n stoeiery klink. Toe bemerk sy ‘n duikerooitjie wat teen ‘n wal op en af hardloop. Haar oog val ook op ‘n opgekrulde jong luislang in ‘n sloot. Die ooitjie is skynbaar met die slang in ‘n hewige stryd gewikkel. Die dapper bokkie hardloop teen die wal af en gee hom ‘n skop. Dan weer bult-op. Dan weer af teen die wal. Sy skop en sy skop.
Annatjie staan versteend. Sy sien nou die luislang het ‘n duiker-lammertjie in sy dodelike greep. Elk keer as die lammertjie in doodsangs blêr, versterk die greep. Die slang knyp sy prooi al hoe vaster en vaster totdat die koppie skynbaar leweloos grond toe sak. Die agterpote gee ‘n laaste swakkerige skoppie.
Die ongelykheid van die stryd maak Annatjie kwaad. Sy weet net sy wil daardie duikertjie uit die slang se kloue kry – ook ter wille van die ooitjie wat so onverskrokke bly storm en skop om haar kleintjie te probeer red. Op daardie oomblik kom haar man, Dawie, en hul dogter, Lientjie, aangery. “Ouboet, kom help my!” skreeu sy vir hom.
Dawie aarsel. Die natuur moet sy gang gaan, is sy eerste reaksie. Die Strydoms staan egter vasgenael. Na ‘n rukkie gaan haal Lientjie die kamera. Dawie neem ‘n foto van die slang om die bokkie waaruit die laaste asem skynbaar nou gepers is. Sy tongetjie hang slap uit sy mond.
“Ouboet, ons moet help,” hou Annatjie vol. En asof hy haar hoor, blêr die bokkie ‘n laaste wanhoopsblêr. Dawie neem ‘n vinnige besluit. Hy gryp ‘n vingerdikte stok en druk dit in by die hoek van die slang se bek wat styf om die lammertjie se nek sluit. Hy woel die stok in sy keel af. Toe gebeur ‘n snaakse ding: die slang laat sy prooi skielik los. Hy rol weg en seil na sy gat agter ‘n klip ‘n entjie verder.
Die duikerooitjie het op kort afstand staan en kyk. Ook toe Dawie haar kind optel en hom na die lapa dra, staan sy steeds asof gehipnotiseer. Dawie onthou op daardie oomblik sy ma se resep as iemand groot geskrik het. Bring gou suikerwater, vra hy. Annatjie roer vinnig ‘n paar lepels suiker in ‘n beker water en bring dit vir haar man. Dié het intussen voel-voel vasgestel geen bene is blykbaar gebreek nie. Die duikertjie wat net sy twee hande vol lê, het dalk tog ‘n kans. Dawie dwing die mondjie oop en laat stadig ‘n paar druppels suikerwater inloop. Hy herhaal die proses ‘n paar maal. Toe gooi hy ‘n bietjie water oor die lyfie. Hy voel hoe sy in sy hande begin beweeg.
Toe hy haar neersit, is sy egter te swak om te staan. Haar bene vou onder haar in. Uit die hoek van sy oog gewaar Dawie die ma het intussen stadig nader gekom. Sy staan by die punt van die lapa en kyk pleitend na haar kind se weldoeners. Dawie tel weer die kleinding op en sit haar versigtig op haar voete neer. Wonder bo wonder bly sy regop. Val-val begin sy na haar ma toe waggel. Dadelik soek sy ‘n speen. Steeds onvas op haar voete, begin sy gretig drink. Die ooitjie knip geen oog nie. Sy staan net daar, doodstil, en laat haar kind drink totdat sy genoeg het. Toe stap sy weg, steeds ewe bedaard, met haar kind wat amper dood was, agterna. ‘n Oomblik van groot vreugde vir die Strydoms. Hul ervaring laat hulle besef hoe groot die veggees van ‘n dier is.
Die volgende oggend is Annatjie weer by die lapa doenig. Hier kom die ma en haar kind aangestap. Asof hulle wil kom sê: baie dankie julle wonderlike mense. Hulle staan ‘n bietjie daar rond en gee toe heel rustig pad. Trane van aandoening het in die Strydomhuis gerol.
Die Strydoms is huis toe op Outeniekwastrand in die Suid-Kaap. Toe hulle ‘n jaar later in Sabiepark kom, stap ‘n volgroeide ooitjie uit die bos nader. Glad nie wild nie. Annatjie twyfel g’n oomblik nie. In haar hart is sy seker dit is die outjie wat sy en Dawie gered het. Voorheen het sy nooit vir diere kos gegee nie Nou is sy egter so opgewonde dat sy dadelik ‘n bietjie pap uitgooi. Sy roep: “Bok-bok”. Die ooitjie kom dadelik nader.
Twee jaar hou dit so aan. Sodra die Strydoms uitgepak het, hier kom Bok-Bok. Sy gaan lê onder ‘n jakkalsbessie en hou hulle dop. As hulle roep “Bok-Bok,” wikkel die oortjies en kom sy vinnig nader. Veral as aartappelskille op die spyskaart is. Sy kom ook vir koolblare of ander kos. Die derde jaar kom Bob-Bok nie. Soos dit maar in die natuur gaan, was sy spoorloos. Dalk het ‘n luiperd haar gevang. Of ‘n luislang… Dawie en Annatjie se trane het weer gerol.
Bok-Bok se aanvaller is nie die enigste luislang wat oor ‘n duiker sy moses in Sabiepark teëgekom het nie. ‘n Veel groter en gedugter uitgawe het vir sy gesondheid ook te naby aan ‘n duikerooitjie gekom. Nog dragtig boonop. Die eienaar wat daardie duikertjie as sy eie aangeneem het, Piet Möhr, het nie ‘n oomblik geaarsel nie. Hy storm met ‘n sambok op die bedreiging af en moker die monsterslang links en regs. Dié koes en sis van woede. Die houe bly egter reën totdat die slang die aftog blaas.
‘n Paar jaar was ons seun, Johan, en sy vrou, Mariza, in Sabiepark. So ‘n week voor Kersfees vertrek hulle vroeg die oggend om te gaan gholf speel. Op die motorpad sien hulle ‘n lang dik sleepspoor. Hulle bespiegel dat dit ‘n luislang kon wees. Hulle was nie verkeerd nie.
By die kantoor hoor hulle later die luislang was besig om ‘n duikertjie in te sluk. Toe val ‘n luiperd hom aan. Die luislang was in ‘n krisis. Al wat hy kon doen, was om sy prooi uit te spoeg ten einde te ontsnap of terug te veg. Maar dit was te laat. In ‘n japtrap was hy ‘n luiperdmaal. Die duikerkarkas het onaangeraak eenkant bly lê.
Johan en Mariza het dadelik die dooie duikertjie gaan soek. Hulle kry die kadawertjie toe op die toneel van die aanval net langs ons motorpad en neem ‘n foto – ook een van die luislang se sleep.
Daardie luiperd verdien die Ridderorde van die Impala! (HvD)
Apr 3, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Die kredietkaart – seën of vloek? Ek weet nie of skole nog debatsaande hou nie, (te “boring”?) maar bogenoemde sou ‘n gawe debatsonderwerp kon wees. Stapels argumente ten gunste albei standpunte is beskikbaar en met die internet net ‘n klik ver, hoef jy nie ver te gaan soek nie.
As ek doodeerlik is, sou ek stem die kredietkaart is ‘n seën – al was ek ‘n laat beginner wat eers as ‘n man van dertig, veertig genoeg selfvertroue kon monster om my geheime “pin” in te tik en met ingehoue asem te kyk hoe die transaksie voltrek word.
Persoonlike wantroue is aangevuur toe ‘n kitsbank in Bloemfontein ‘n slag net begin note spoeg. Die verslae kliënt was skoon verswelg in die geld, maar dit het in strome bly kom. Hy moes natuurlik elke sent opdok en was glad nie gewild by die betrokke bank nie – al was hy doodonskuldig.
Kredietkaarte het in die laaste 50 jaar werklik algemeen begin word. Deesdae is dit een van die moderne mens se onontbeerlikste geriewe. Iewers lees ek die tipiese Amerikaanse gesin dra tien van die goed rond. Kredietkaarte vir kinders is niks snaaks meer nie. Selfs troeteldiere kry toenemend aanbiedings.
Nietemin, wonderlik is dit om net jou kredietkaart te kan uitpluk en die kredietdeure voor jou te sien oopgaan. In die geval van skielike nood kan daardie stukkie plastiek ‘n lewensredder wees. “Wie ken my gat in ‘n vreemde stad?” het ‘n studentemaat graag opgemerk. Nou’s jou Visa of Mastercard jou paspoort – al is jou sitvlak in die betrokke kontrei volslae vreemd.
Maar ‘n vloek is ‘n kaart bepaald vir koop-oliste sonder self-dissipline of as ‘n bedrieër jou beetkry en jou rot en kaal besteel voordat jy snuf in die neus kry. Dis erg om te dink: selfs daardie oulike kelnerinnetjie wat flussies so stout vir jou geknipoog het, versteek dalk ‘n kloonmasjientjie in haar Wonderbra. En trap tog in jou spoor by ‘n kitsbank. Die rampokkers lê daar op loer soos monnik-aasvoëls.
My grootste kaartverleentheid was weens vrot wiskunde. Die liewe mev. D. het op ‘n ongemaklike tyd van die maand op ‘n linne-kopietog gegaan en haar man nie gewaarsku dat daar ‘n dag of twee kredietkomplikasies kon wees nie. Toe leen ek niksvermoedend my seun se bakkie en ry Paarl toe vir my jaarlikse groot drankaankope.
Nodeloos om te sê, met die kartonne vyf-jaar-oud en Roodeberg hoog gelaai op die laaiplank, weier die transaksie om deur te gaan .. en hy weier .. en weier.
Ek kon Tokkie moor, en ek kry nou nog koue rillings as ek aan die verkoopsjuffrou se hovaardige trooswoord dink:”Toe maar, meneer, ons kan die kartonne weer terugpak.”
My antwoord was ferm: “Juffrou, ek het ‘n bakkie geleen vir die okkasie en julle pak nie ‘n enkele karton terug nie!”
Hoe ek uit daardie verleentheid ontsnap het, is nie nou ter sake nie. Detyds had ‘n mens egter nog ‘n bankbestuurder, en myne, Jurie Blom, was ‘n engel in ‘n swart pak. Die insident lê egter vlak in die geheue.
Ewenwel, nou kom ek by my tema van die dag. Dit is hoe die kaartkultuur kleintjies gekry het. Vandag is daar Wildkaarte, Voyagerkaarte, Clickskaarte en watse soort kaarte nog.
In my pensioentrekkers-portefeulje is ook nog ‘n fliek-afslagkaart vir seniors, my siekefonds-kaart, ‘n AA-kaart (darem Automobiel-assosiasie, nie Alkoholiste-anoniem nie!) en dies meer. As dit by die betaalslag kom, moet jy kophou soos ‘n dronk weeluis op ‘n warm sinkplaat.
Jy moet as ‘t ware jou kaarte ken!
Op Kroonstad gooi ek brandstof in en bied my “garagekaart” aan. Die joggie bly lank weg. Hy kom kop onderstebo terug: “Haau, oubasie, die masjien wil nie daardie kaart vat nie.”
“Laat ek sien” – dadelik op my perdjie. Maar toe is dit die Ster-Kinekorkaart wat per ongeluk uit die beursie gehaal is.
Gister, eergister laat ek foto’s afdruk en presenteer ewe in my skik my splinternuwe “Kodak Express”-kaart, dag ek. Toe is dit weer my kaart van Naspers se Mediese Fonds.
Tokkie sê onsimpastiek: “Konsentreer, konsentreer.” Sy’s seker reg. Maar mag ek darem hierdie versugtingkie hier slaak dat iemand vir senior burgers bo 65 met ‘n alles-in-een-kaart vorendag kom. Hoe lekker sal dit nie wees nie as ek vir my ete by die Spur, my bloedtoetse, my periodieke fliek en my besoeke aan die Wildtuin nie elke keer vir ‘n ander kaart hoef rond te tas nie?
Die heel beste: as die ouman vergeet het waar hy sy beursie neergesit het, hoef hy dan net een kaart te kanselleer; nie ‘n dosyn nie. (HvD)
Mar 31, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Mooie Clara - sy moet kies
Die Engelse wat, te oordeel na hul letterkunde, baie van die liefde weet, het ‘n gesegde dat “all’s fair in love and war”. Of daardie “alles” sulke agterbaksheid insluit soos ons nou in ons eie “trots Suid-Afrikaans” sepie Sewende Laan beleef, het ek egter bedenkinge oor.
Die arme Marko, al weer aan’t aftjop in ‘n romantiese driehoek, wend hom nou tot bedenklike taktiek om sy teenstander se hand in die as te probeer slaan. Om Clara met lieg en bedrieg teen Lucas op te maak, en Lucas in die verleentheid te stel deur ‘n agterbakse knoeiery met sy kredietkaart is baie lelik, ja, soos die fraaie Clara sou sê.
Sonder om prekerig te wees, hoe moreel geregverdig is dit om ooit, ooit in ‘n ander se beursie te peuter?
Die Engelse kan hóé slim wees, maar als kan waaragtig nie “fair” wees as dit by die liefde kom nie. Van ons Maleise vadere kom ‘n Afrikaanse spreekwoord waarin ek nogal glo. Dit is dat dat iemand se kierang sal braai . Al is die betekenis van kierang onseker en hoekom dit nou juis sal braai ‘n raaisel, staan die betekenis vas: die kwaad wat jy doen, gaan jou terughap.
Dus, Marko, ou maat, luister maar na die oom hier op Melkbos en smeer jou vet: jy gaan nog riemspring, kêrel!
Blogbesoekers met lang geheues sal onthou dat twee maande gelede in hierdie ruimte ‘n woordjie meegespreek is oor ‘n vorige driehoek waarin die stomme Marko ook aan die kortste ent getrek het. Dit was die driehoek Marko/Diederik/San-Marie (die oulike rooikoppie).
My advies was dat net een manier bestaan om so ‘n tameletjie volwasse te hanteer, en dit is soos my Amerikaanse vriend John Painter jr. van Portland, Oregon, dit so ondubbelsinnig stel: “Swift, brutal and without mercy” – bedoelende sonder genade teenoor die self en die eie ego. Net een se wense tel immers aan die ou einde van die dag (soos Naas Botha sê), en dit is die meisie s’n.
Vir kykers het ek egter gewaarsku: moenie verwag dit sal vinnig oor en uit wees nie, want soos Wikipedia op die web hoogdrawend verklaar: “In television shows, a love triangle is often prolonged for a lengthy amount of time, delaying any final declarations of love between the pursued character and his or her suitors that may prematurely end this dynamic or displease fans.”
Klaarblyklik het Marko dadelik besef dat hierdie oom, soos Churchill verklaar het, ”have not always been wrong”. Hy het my goeie advies nie in die wind geslaan nie, die bitter pil vinnig gesluk en die aftog geblaas. ‘n Wen-wen-situasie.
Van my vrese dat daardie intrige deur die draaiboekskrywers soos ‘n stuk gomlastiek uitgerek sou word, het genadiglik nie veel gekom nie.
Hierdie keer wonder ek egter. My suspisie is dat Sewende Laan se draaiboekskrywers by Hollywood gaan kers opsteek het. Van Marko en Lukas se vurige mededinging om Clara se hand gaan ons vorentoe derhalwe sommer nog heelwat sien, raai ek.
Dan ontvou boonop terselfdertyd die smeulende liefde van die stoïsynse Neville en die Felicity-bokkie in sulke kompliserende omstandighede dat selfs die uwe met al sy rype lewenservaring nie herwaarts of derwaarts weet nie. Oral gaap net afgronde.
Kykers, so maklik soos destyds met San-Mari-tjie gaan julle nie weer loskom nie. Maak maar julle gordels vas en byt op julle tande! (HvD)
Mar 29, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Basies is die beste. So ek glo aan menige front, en baie bepaald as dit by skeer kom. In 1956 het ek met ‘n heel basiese Minoralemmetjie – hulle was in sulke geel pakkies – die eerste donsbaardjies van my ken gekrap. Die seep is per kwas aangewend. Een oggend het ek in die koshuis op Potchefstroom die kwas onder die kraan gewas met die skeermes nog in dieselfde hand. Oral was bloed. toe ek per ongeluk so oor die lemmetjie “streel”.
Nietemin, nou in die herfs van 2009 – tussen 19 000 en 20 000 skere later (as my sommetjies reg is) – is dit nog (amper) elke oggend tyd vir lem-plesier. Deesdae ‘n Gillette-dubbellem, maaindjoe, en jy koop hom nie meer in ‘n plak pakkie nie, maar in n deursigtige plastiekhouer. Maar dit bly ‘n lemmetjie. Dis nie die een of ander fênsie masjien met dartelende, roterende koppe en ander asemrowende ekstras nie.
Twee keer in my lewe het ek amper vergeet dat basies die beste is. Albei kere was verjaardaggeskenke in die prentjie.
Vir my 21ste was my geskenk van my ouers ‘n “elektriese skeermes”. Ons het hom so genoem al het hy met batterye gewerk. Ek het hom soms gebruik, woer-woer-woer, maar al hoe minder en minder. Een skeer per dag was kennelik te min vir ‘n swartbaard soos ek. Hy is in goeie kondisie vir ‘n waarderende nuwe skeerder present gee.
So twee dekades later was op TV ‘n verleidelike advertensie vir ‘n dubbeldoor – ‘n skeermes wat nat en droog kon skeer. Op my herhaalde versugtings het mev. Tokkie van D. gereageer deur vir my een vir my verjaardag te koop. Ek het een keer probeer, toe sit ek hom neer. Misnoegd.
Tokkie, nogal oulik met daardie klas ding, het hom deeglik gereinig en terugverpak. Die winkel het sonder kwê die onsuksesvolle geskenk teruggevat.
Die laaste twintig jaar al is my skeermes ‘n Gillette Sensor. Maar selfs ‘n skeermes het sy leeftyd. Die laaste maande al verloor die lemmetjie. Ek skeer nog so, dan val hy kaplaks in die wasbak. Dan is dit groot moeite om die verlore stukkie toerusting uit die water te vis en terug te monteer. Later word die verloorslae so twee per skeer, toe drie…
“Hoekom koop jy nie n nuwe skeermes nie?” vra T.
“Gmf,” sê ek. ”Nuwe skeermes op my leeftyd! Dié ene sal maar moet hou tot die bittereinde.”
Een oggend verloor hy vyf keer voor ek rond en om glad is.
“Tokkie, gaan jy winkel toe?”
“Ja, hoekom?”
“Koop asseblief vir my ‘n nuwe skeermes.”
Sy bring die nuwe Sensor en dis ‘n mooi model, moet ek erken (kos ook ‘n mooi prys!) . Maar dis nie net sy lyne wat vir punte tel nie, hoor. Sy gewig is net reg. Dis salig as die lemmetjie so lekker stewig sit en net op die regte plekke en tye sy knakke knak. Die skeer is voortreflik.
Pure lem-plesier is terug – en ek glimlag so deur my skeerskuim (ook Gillette) van oor tot oor.
Trouens, die weelde van iets nuuts vir daaglikse eie gebruik is so verslawend dat ek, met ‘n halwe skuldige gewete, begin rondkyk om my. Vir ander moontlike vervangings wat die oudag kan opkikker.
Iets wat ek nie kan miskyk nie is die afgeleefde waterbeker op die bedkassie langs my kopkussing. Dis ‘n outydse erde-model, die kombuistipe, so romerig van kleur met die tradisionele dik riffie om die mond,
Einde 1997, net nadat ek my kantoordeur op 18de verdieping van die Nasperssentrum in Kaapstad finaal agter my toegetrek het na ‘n loopbaan van 35 jaar by koerante, is ons klomp 18de-vloerders per bus Weskus toe vir die jaarlikse einde-van-die-jaar-party. Elkeen kry toe so ‘n beker met “Geseënde Kersfees” daarop geplak present.
Myne is dalk die enigste wat nog in daaglikse gebruik is, maar in die 11 jaar was daar allerlei stampe en stote. Plek-plek is die erdewerk vol swart happe. Ook binne sodat die gebruiker nie altyd seker is of dit ‘n vlieg op die bodem is nie. Die “Geseënde Kersfees” is net onontsyferbare hierogliewe. Die ou se beste dae is agter die rug.
Wat van ‘n spoggerige nuwe beker, wonder ek, sommer dan ook ietwat groter vir ‘n groter volume water wat langer sal hou as my nagdorste my pak?
Vandag kyk ek my beker so. Biedêm, besluit ek toe. Hy’s oud maar hy het karakter en hy’t ‘n geskiedenis. Hy bly net waar hy is. Daar is mos plek vir sentiment ook in die lewe! (HvD)