Sep 26, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
As n ewemens van aansien en statuur ‘n nare ding oorkom, is daar maar altyd n lot Filistyne wat meewarig sal opmerk: “Ja, hoe sê hulle nou weer, hoogmoed kom voor die val!”
Die idioom wat diesulkes oprakel, het, soos ons almal weet, natuurlik ‘n simboliese betekenis. Die “val” dui nie noodwendig op n fisieke kennismaking met moederaarde nie, maar kan enige vorm van vernedering behels.
Hoogmoed kan egter ook letterlik hard val. Vra maar vir Oom Gielie, die gryse koster van n gemeentetjie doer in die Ou-Wes-Transvaal, nie ver van die Botswanagrens nie.
Oom Gielie was duidelik baie bewus van sy posisie, as hy elke Sondagoggend net voor die diens begin met groot gebaar uit die konsistorie die kerk ingestap kom. Voor die kansel neem hy dan stelling in, en laat dan ‘n kritiese oog oor die versamelde gemeente gaan.
Almal was al hartlik geïrriteerd deur hierdie gesagsvertoon. Toe leer hy nederigheid — daardie oggend voor die erediens toe hy op sy eie te blink gepolitoerde vloer gly. Sy bene swik en sy arms pomp wild, maar daar is niks wat sy val kan stuit nie, totdat hy sonder enige waardigheid oor onder die eerste bank tussen die sedige Tant Hester se bene inskuif.
Die tante, ‘n weduwee wat nooit ‘n hertroue oorweeg het nadat haar man haar op vroeë ouderdom treurig ontval het nie, was in stil gebed, onbedag op die gevaar dat ‘n skaatsende koster of enige ander geleide of ongeleide projektiel skielik tussen haar bene kon beland.
“Satan!” gil sy dat die kerk dreun toe die ongewone teenwoordigheid van ‘n manlike lyf op daardie onbehoorlike plek tot haar deurdring. Sy spring op haar voete en dam die prostate lyf met haar gesangeboek by. “Wat soek jy hier? Wat soek jy hier?”
Die koster is omtrent hande-viervoet by die konsistoriedeur in, terwyl ‘n proesende Tant Hester steeds protesteer oor die skandelike ding wat haar oorgekom het. Aan die koster se verskynings voor die kansel het daarmee ‘n summiere einde gekom.
Dis, helaas, nie net hoogmoed wat voor die val kom nie, maar ‘n hele reeks ander menslike swakheidjies ook, soos onbehoorlike nuuskierigheid. Hiervoor kan ek ‘n afgetrede Melkbosser tot getuie roep – ‘n eerbiedwaardige pilaar van die gemeenskap as daar ooit ene was.
Hy gaan stap een oggend Koeberg se kant toe met sy kierietjie toe hy vier gedaantes uit die mis tevoorskyn sien kom. Hy sien dadelik twee is jong mans en twee vroue. Dit lyk op ‘n afstand nie of die vroue baie klere aan het nie.
Die pensioentrekker versnel sy pas. Toe hy nader aan sy teiken kom, word sy vermoede bevestig. Albei se bolywe is kaal. Hy sien hoe twee mans en een vrou die water inplons. Die ander vrou bly staan geanker op die strand. Die ander wink: “Kom, kom”, maar sy laat haar nie ompraat nie.
Hy besluit om tog maar nog ‘n entjie nader te stap om beter te kan sien. Om sy hoek reg te kry, sit hy sy kierie onder die arm en stap ‘n tree of tien in die vlak watertjies in. So-ja, nou sien hy sommer altwee meisies tegelyk. So jonk en ferm!
Op hierdie sublieme oomblik stoot ‘n brander ‘n paar stukke seebamboes uit. Maar met dié dat onse held se oë nie op grondvlak gevestig is nie, sien hy nie die gevaar raak nie. Die eerste wat hy agterkom, is toe nat slierte om sy enkels krul en knoop. Ene ruk hom skoon onderstebo, plat op sy sitvlak in die water.
Hy hoor ‘n galmende lagbui uit die vier jong kele, en besef hoe deursigtig sy strategie vir hulle moet gewees het. Daarop tel hy sy kierietjie op en stap met sy nat klere doelgerig aan huis toe, waar sy vrou op die grasperk doenig is.
“Wat makeer jou? Het jy probeer swem?” wil sy weet. Hy uiter net ‘n snork. “Jy sal my tog nie glo as ek vir jou vertel nie.”
Later bieg hy. Maar dis elke keer vir hom pynlik as sy met behae haar weergawe van sy verleentheid vertel: “Toe die een meisie wink ‘kom, kom’ toe kom hy!” (HvD)
Sep 25, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Op my Litnetblog (www.blogs.litnet.co.za/hvandeventer) het ons na aanleiding van my fliekblog nogal lekker gesels oor Sophia Loren – die vrou met “iets wat iets aan ‘n man doen,” soos een blogger – ‘n oud-leraar! – dit uitgedruk het.
Iemand anders het gese: “Ek weet nie hoe sy gelyk het toe sy julle Tukkies so bekoor het (in die jare 60) nie, maar sy is nou nog (op 74 – HvD) ‘n aantreklike vrou.”
Ek krap toe die foto hierbo uit van ‘n smeulende jong Sophia – en mooi is darem nie lelik nie ne! (HvD
Sep 23, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
Aan die begin van die “Swinging Sixties” – overgesetsynde die losbreek-dekade ná die stywe-boordjie 50’s– is my persoonlike “losbreek” gekenmerk deur ‘n jaar of drie van intense bioskoop-bedrywigheid.
Populêre flieks, soos Psycho, Breakfast at Tiffany’s, Spartacus, Lawrence of Arabia, Dr. No, West Side Story en Some Like It Hot, het hierdie chroniese fliekvlooi, tot nadeel van sy studies, in Pretoriase bioskope laat boer. Romantiese roomkoek-rolprente, soos Pillow Talk en Roman Holiday, was ook groot trekpleisters, waarheen “asters” graag “gesleep” is.
Ons Kollegemanne (inwoners van Tukkies se Kollege-tehuis) het altyd by die loket die goedkoopste kaartjies gekoop. In die donkerte het ons dan stilletjies na beter sitplekke agter probeer sluip. Met die wakker plekaanwysers, gewapen met priemende toortse, in die ornate Capitol was ons ná ‘n slepende kat-en-muis-speletjie hieroor ten einde laaste skaakmat.
Temamusiek uit rolprente, soos The Magnificent Seven, Moon River, Summer Place, en Never on a Sunday het treffers geword tot vandag toe.
Beeldskone sterre soos wyle Marilyn Monroe (1962), Grace Kelly (1982) en Audrey Hepburn (1993), Elizabeth Taylor (nou 77), Gina Lollobrigida – La Lollo (nou 81), Sophia Loren (nou 74) en Ursula Andress (nou 72) het ons studentebrigade om verskillende redes gaande gehad. Die oulike Doris Day (nou 84) en Debbie Reynolds (nou 76) was “rolmodelle” waarteen ek die Tukkie-asters heimlik (onregverdiglik) opgeweeg het.
Die Franse sekskat Brigitte Bardot (nou ‘n uitermate beplooide 74) het ons die Monte Carlo-bioskoop in Hatfield laat vol pak in die hoop op ‘n glimpsie geheime lyf. In And God Created Woman is ‘n kaal bolyf vlugtig uitdagend na die kamera gedraai. Ai, ai. ‘n Opgewonde fluistering het deur die teater getrek. “Liewe Here!” het iemand uitgeroep.
Later in die dekade moes ek teen wil en dank na Bloemfontein om uitgestelde beursverpligtinge te gaan nakom. Vir die jong verslaggewer was fliekkans skielik veel skaarser.
Die oes van die laat-60’s was steeds meesleurend. The Sound of Music; Doctor Zhivago, Butch Cassidy and the Sundance Kid; Cool Hand Luke; Midnight Cowboy; From Russia with Love, The Great Escape en Wait Until Dark móés eenvoudig gesien word.
Lara se tema (Somewhere My Love) uit Doctor Zhivago en Zorba se energieke dans uit Zorba The Greek is rolprentmusiek van die laat-60’s wat vasgesteek het.
Die rolprent Zulu is in die 60’s in die Drakensberg verfilm en Van Deventer is as verslaggewer daarheen gestuur om oor die fliekmakery berigte te skryf. Die kykie agter die skerms (en die paar dae weg van die kantoor!) was verfrissend. Uiteindelik onthou ek “Zulu” by uitstek oor ‘n skrobbering deur ‘n taal-sadis. My een berig het begin met: “Reuse bleekgeel vlamme …” Dit het gelei tot ‘n dissertasie op die swartbord in die subkantoor waarop simpel foute uitgewys en regte taalgebruik ingedril is. Die subs het my inlei verander na: “Bleekgeel reuse-vlamme … “
Die stelselmatige afkoeling ná my studentedae het, hoofsaaklik weens oplaaiende werkseise, in die 70’s eensklaps ‘n amperse volslae breuk met bioskope gebring. Vir rolprente soos Titanic, Superman, Jaws, The Godfather, Lord of the Rings , E.T., One Flew Over the Cuckoos Nest en The Exorcist, asook vir alle James Bonds, Alfred Hitchcock’s en Carry On’s sou ek nog uit my pad gaan, en Jamie Uys of Emil Nofal se Afrikaanse skeppings het ek nie sommer oorgeslaan nie. Ek was egter sterk op pad om die fliek-analfabeet te word wat ek in die 80’s en die 90’s bepaald was.
Ná aftrede in 1998 het die tyd nie meer ontbreek nie. Trouens, tyd is die een bateklas waarvan ‘n afgetredene volop besit. ‘n Afslagkaart vir seniors is selfs aangeskaf. Om sommer net op die stoep te sit en vir die see te kyk, of die periodieke bos-wegbreke op ons program, is egter op my voorkeurlys van lekker dinge ver bo fliek op die ranglys (Die onnodig harde musiek en alewige vloekery speel gewis ook ‘n rol.)
As iemand nou ‘n rewolwer uitpluk, in eg-Hollywoodse styl die loop teen my slaap druk en dreigend sou sis: “Noem die flieks wat jy na aftrede gesien het”, sou ek spartel. Wat spontaan opkom, is Lord of the Rings, The Pianist, Slumdog Millionare, Chicago, Casino Royale, The Departed, Schindler’s List en Earth.
O-ja, en dan enkele kunsflieks waarvoor ek van Melkbos na Claremont of die Waterkant moes ry, soos Edith Piaf en As It Is In Heaven.
Die besluitnemingsproses vat om die een of ander rede nogal tyd vandat ons die eerste keer van ‘n fliek gelees of gehoor het tot die konsensus bereik word: “Kom ons gaan.” Oor die hoog aangeskrewe District Nine van regisseur Neill Blomklamp het ons lank getob. Ondanks al die lofuitinge van resensente was daar ‘n knaende skeptisisme oor die buitensruimse “Prawns” se dinge hier te lande.
Daar trek ons toe uiteindelik op ‘n Woensdagoggend. Maar ons sit en ons sit. Niks gebeur nie. En dis klaarblyklik nie Eskom se skuld nie, want die ligte brand.
Later word ‘n verkenner uitgestuur. Hy keer met nogal verstommende nuus terug. Die kêrel wat die die projektors se knoppies moet druk, het nie opgedaag vir werk nie. Hy antwoord ook nie sy selfoon nie. Niemand anders by die Ster-Kinekorteaters in Bayside, Table View, het ‘n benul hoe die spulletjie aan die gang gesit moet word nie.
Ons moes mooitjies gaan tou staan vir kaartjiebewyse vir later. Selfs jou pak springmielies en jou “coke” kon jy vir geld omruil as jy wou.
Agterna dink ek: dis nogal iets, nie waar nie, om ‘n hele fliekkompleks – agt teaters – só tot stilstand te laat knars bloot deur jou selfoon af te skakel!
Iewers het ek gelees dat iemand se onvervangbaarheid gemeet moet word aan die gat wat oorbly as hy sy hand in ‘n emmer water druk. Wel, in die geval van die afwesige operateur was daardie gat aansienlik. Die besef van die mag in sy vingers moet hom mateloos opgekikker het. Ek gun hom sy oomblik van glorie.
En District Nine? Nee, ons het toe nooit gaan kyk nie. Vriende wie se oordeel ons vertrou, het ons afgeraai. (HvD)
Sep 22, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
‘n Tradisievaste Vrystater het geglo as jy nie jou kinders familiename gee nie, kan jy hulle gerus maar ook “Petunia of Gat” noem.
‘n Petunia of Gat het ek nooit raakgeloop nie. Met die opwelling van Afrikaner-Nasionalisme rondom herdenkings van die Groot Trek is ‘n generasie egter gebore waarin “Ossewania Kakebenia” ’s en ander kultuur-historiese vernoemings nie ongewoon was nie.
Liewer dan “Petunia” of “Gat” vir my, dankie.
Op universiteit was ‘n tydgenoot opgesaal met die name “Benito Hitler” – sodat niemand hoef te raai oor sy vader se verydelde simpatieë in die Tweede Wêreldoorlog nie. (‘n Leidraad vir wie nou kop krap, is “Mussolini”.)
Swart landgenote vind name vir hul kinders soms in ordinêre gebruiksartikels, soos “Television” en “Fridge”. Ek het al ‘n “Electricity” teengekom, maar dit was lank gelede. Eskom dra klaarblyklik nie by om die gewildheid van dié naam hoog te hou nie!
Vir hul dogters hou swartmense van romantiserende name, soos ”Beauty”, “Precious” of “Sweetness”, wat nogal komplikasies kan skep as hulle voor oningewydes aangespreek moet word.
Opgewonde oor wat hulle (uiteindelik?) reggekry het, het ‘n Engelse egpaar glo hul eersteling “ Koisha Kayn” gedoop.
Iemand sê toe vir hulle: “I’ll never remember that.”
“Of course you can, “kom die antwoord, “say it quickly”.
Dis veral met huise, bote en honde dat naamgewers dikwels oorspronklik wil raak, en dan dikwels in die gat van onoorsponklikheid trap. Op hoeveel kusplekkies kry jy nie ‘n boot met die uitdagende naam “Vatikaki” nie? Baie eienaars van prestigehuise noem hul statussimbole graag “Costa Plenti”. En honde met die naam “Intwa Dumaila” (“Hy wat met vuur groet”) kry jy in elke kultuur – dan is dit dikwels ‘n slaperige werfhond wat saam met die sonnetjie om die huis trek!
Verbeel jou egter jy het ‘n hond met die naam “Seks” en al die pret wat dit kan meebring, as dubbelsinnighede jou idee van pret is.
Die bekende Amerikaans-Kanadese rubriekskrywer Ann Landers het ‘n keer, op spesiale versoek van haar lesers, in die Toronto Star ‘n rubriek herhaal wat oor juis só ‘n hond handel. Die naam was “Sex” – natuurlik op Engels.
Die rubriek se opskrif was “A Dog Named Sex”, die oorspronklike skrywer was ene Monty Storm, en die rubriek was, volgens Landers, een van dié waarvoor sy in haar lang loopbaan die meeste versoeke ontvang het.
Storm skryf nie hoekom hy sy hond nie “Rover” of “Boy” genoem het nie, maar wel “Sex”. “Sex” is egter, volgens hom, ‘n lekker maat, maar een wat heelwat verleentheid vir hom veroorsaak het.
Toe hy munisipaliteit toe is om sy hondelisensie te hernuwe, sê hy vir die amptenaar hy soek ‘n lisensie vir “Sex”. Dié antwoord: “ Ek sou ook graag een wou hê.”
Storm verduidelik: “Maar dis ‘n hond”
Amptenaar: “Maak nie saak hoe sy lyk nie.”
Storm: “Maar jy verstaan nie. Ek het ‘Sex’ gehad vandat ek nege jaar oud is.”
Amptenaar (met ‘n knipoog): “Jy was duidelik ‘n buitengewone kind!”
Storm het sy hond op sy wittebroodsvakansie saamgebring. Hy lig die klerk by die ontvangstoonbank toe in hy soek ‘n kamer vir hom en sy vrou en ‘n spesiale kamer vir “Sex”.
Klerk: “U het nie ‘n spesiale kamer nodig nie. Solank u u rekening betaal, gaan dit ons nie aan wat u doen nie.”
Storm: “Die probleem is dat ‘Sex’ my snags wakker hou.”
Klerk: “Snaaks … ek het dieselfde probleem.”
Een dag het sy eienaar “Sex” vir ‘n hondekompetisie ingeskryf. “Sex” kies toe die hasepad.
Ander deelnemer: :Hoekom staan jy net so bedremmeld daar rond? “
Storm: “Ek wou graag ‘Sex’ in die kompetisie gehad het.”
Ander deelnemer: “Jy moes jou eie kaartjies verkoop het.”
Storm: “Maar jy verstaan nie. Ek het gehoop om ‘Sex’ op TV te kry.”
Ander deelnemer: “Seks op TV is nie meer snaaks nie.”
Toe Storm en sy vrou skei, is hulle hof toe oor wie toesig oor die hond moet kry.
Storm: “U Edele, ek het ‘Sex’ gehad voordat ek getroud is.”
Die regter: “ Hierdie is nie ‘n biegkamer nie. Bepaal u asseblief by die saak voor die hof.”
Storm deel die regter daarop mee dat, nadat hy getroud is, “Sex” hom verlaat het.
Die regter: “Vir my ook.”
Net ná die hofsaak het “Sex” weer weggeloop. Storm het die hele nag gesoek.
‘n Polisieman kom na hom en vra: “Wat soek jy in hierdie stegie om vieruur in die oggend?”
Storm: “Ek soek vir ‘Sex’”
Nou moet hy in die hof verskyn. (HvD)
Sep 19, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
“Byl In My Bos”, die jongste boekie uit hierdie oord, is nou vinnig op pad en behoort binnekort van die pers te kom. Phyllis Green van die tydskrif Sarie het my ‘n paar vrae gevra wat op Sarie se webwerf, www.Sarie.com, gepubliseer is.
Saam met die onderhoud is ‘n uittreksel uit die boek en ‘n wedstryd waarin drie eksemplare gewen kan word.
Belangstellendes kan op die Sariewerf klik op “My Lewe” en dan op “Boeke”.
Hier volg die onderhoud in vraag-en-antwoord-formaat:
5 Boekminute: Hennie van Deventer
1. Hoe het jy die titel vir jou boek gekies?
Ons ouer garde beleef intens hoe kwaai “in ons bos gekap” word. Die “ Byl” bied ten minste ‘n elegante idioom vir daardie (doodnatuurlike) werklikheid teenoor onelegante idiome soos “bokveld toe”.
2. Waarom die formaat van die boek?
Die formaat is eintlik ‘n ontsnaproete. “Byl” is my huldeblyk aan tydgenote van verskillende generasies – van die gedugstes tot doodgewones. Die stapel materiaal was oorweldigend. Ek moes uitdun sonder om verskeidenheid in te boet. Toe kry ek die idee om die “Byl” in te span … .
3. Hoe het jy besluit watter mense sluit jy in en watter nie?
Spontane seleksie. Party mense en hul stories het hulle eenvoudig self na vore gedring. Skitterende kandidate het ongelukkig deur my sif geval.
4. In jou koerantloopbaan het jy baie mense ontmoet oor wie jy ook geskryf het. Is daar een wat ‘n besondere indruk op jou gelaat het?
In ‘n loopbaan van 35 jaar ontmoet ‘n koerantmens geweldig baie mense wat korter of langer ‘n impak maak. Dis ‘n byvoordeel van die beroep. Jammer, ek koes liewer vir die waagstuk om name te noem.
5. Was daar al ooit iemand wat jy ontmoet het, wat jy gevoel het jy kan die mens se storie nie skryf nie?
In “Byl” slyp ek nie byltjies nie, maar draai ek ook nie doekies om nie oor karakters wat my lewe vergal het, soos die “Wit Terroris.” Nee wat, elkeen se storie kan geskryf word. Jy moet net bly grawe.
6. Die bos is jou wegbreekplek. Waarom?
Klink dit of ek met “bos” oor die kop geslaan is? Ek is lief vir die spreekwoordelike “bos” waarin ek oud geword het, asook vir die regte bos met sy diere, bome, kampvuurtjies, sterre en stiltes. Dié is waarlik in my bloed. Daar skop ek skoene uit en lewe voluit.
7. “Seun van Deventer – onbekende vader” is ‘n outobiografiese vertelling oor jou eie pa en jou herkoms. Jy sê daarin: ”Ek verwyt my dat ek nie meer uitgevra het toe ek nog kon nie – ‘n fout wat te veel mense maak en te laat agterkom.” Is familie en wortels belangrik vir jou?
Te laat, te laat het ek besef hoe belangrik. Toe ek in die stadjie Deventer ronddwaal waar my stamvader vandaan kom,en by my oupa Jacob Hendrik se graf in die distrik Babanango staan, toe voel ek: ek is nie sommer deur die wind hier aangewaai nie.
8. Vir vandag se jong joernaliste is die name Piet Cilliè, Schalk Pienaar en Willem Wepener legendaries, veral ook oor die staaltjies wat oor die groot name vertel word. Jy het in jou dae as joernalis met almal te make gehad. Was daar ‘n joernalis wat ‘n besondere rol in jou loopbaan gespeel het?
Die grotes het elkeen sy merk op Van Deventer gemaak. Maar die leerskool van die koerantwese is veel ruimer as ‘n enkele mentor of twee. Van die kollegas wat ek as leermeesters die hoogste aanslaan, tel nie onder die ikone nie.
9. Van die eksentrieke joernaliste waarmee jy te doene gehad het, wie was die vreemdste?
Allerlei geheimpies glip in die bladsye van “Byl” uit. Joernaliste is nie verniet al “salaried eccentrics” genoem nie. Dat die meeste ‘n klap van die windmeul weg het, is egter ‘n mite. Ek bring graag hulde aan al die goeie, beskaafde joernaliste met eersteklas waardes wat ek die voorreg gehad het om te leer ken.
10. In jou vertelling oor Willem Wepener sê Wepener dat die koerantman se taak “is of behoort te wees – ‘brandsiekinspekteur van die volk.’” Volgens jou mening, is dit steeds die taak van joernaliste vandag of het die fokus van joernalistiek verander? Of het joernaliste verander?
Style kan verander, substansie is onveranderlik. As koerante sou ophou om sere en swere aan die nasie uit te wys, sal hulle hul plig liederlik versaak. Koerante kry baie kritiek. Ook ek verstaan nie
al die nuwerwetsighede nie. Maar kom ons gee hulle ten minste dié lof: hulle spaar nie die roede nie.
11. Jy staan bekend as ‘n redakteur wat nie nonsens gevat het nie en van jou redaksielede was selfs bang vir jou. As jy nou terugkyk oor jou loopbaan as redakteur, sou daar dinge wees wat jy anders sou benader het?
Bang vir my? Met vele kollegas, ouer en jonger, deel ek steeds hul lief en leed. Die periodieke e-possies, oproepe, selfs kuiertjies om ‘n wyntjie of twee is hartverwarmend. My passie vir die koerant sou ek nooit minder entoesiasties kon uitleef nie, maar, nou-ja, miskien het ek my redaksie wel soms te geniepsig geboelie.
12. Dink jy jou aanslag en uitkyk oor mense het so met die aanstap van die jare meer genaakbaar geword?
Ek dink graag so, maar dan is ek natuurlik nie onbevooroordeeld nie, né! As jy my kleinkinders sou vra, glo ek hulle sal Oupa darem ook nie beskryf as hard of kwaai nie.
13. Wat gee hierdie tipe skryf aan jou in vergelyking met jou skrywe as beroepsjoernalis?
Die joernalis maak mense soms woedend. Dis onvermydelik. Ek mis nie daardie vurige kole op my hoof nie. Die ekstra vreugde van ‘n boekie is dat jy hom op jou boekrak kan sit. Wat jy op die web pleeg, lei soms tot verrassende wisselwerking met totaal onbekendes. Dit verskaf my ook baie plesier.
14. Het jy vir jouself ook so ‘n grafskrif geskryf vir eendag?
Nooit! Ek ken hierdie ou bokker te goed, met vratte en al. Maar ek is vrek nuuskierig oor wat ander gaan sê! (HvD)
Sep 16, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
‘n Kostelike stukkie humor in die Bybel is hoe die Israeliete op hul Groot Trek na die “land van melk en heuning” holderstebolder met hul onklaar “padkos” uit die land van die farao vort is.
In Eksodus 12 lees ons hulle het in die pad geval met hul brooddeeeg, sonder suurdeeg, in skottels wat in klere toegedraai is, op hul skouers. Daarmee het hulle langs die pad ongesuurde roosterkoeke gebak.
Ek noem dit humor, nie omdat ek nie ‘n padkos-man is nie – ek is dit inderdaad! – maar oor die ontnugtering wat ek my in my geestesoog kan verbeel oor die reis wat eenvoudig aanhou en aanhou en aanhou… veertig jaar lank. Hoe ‘n erbarmlike kort stukkie van die reis kon hul padkos gehou het?
As selfverklaarde padkos-verslaafde moet ek dalk nie lag nie, maar trane stort. Watter ramp as ‘n ou se padkos opraak terwyl die bestemming nog ver, ver voor jou lê!
My eerste ervaring van padkos was toe ek en my weduweema. Baby, in die jare 40 per trein van Kimberley vir Oom Danie en Tant Susie op hul plaas in die distrik Paul Roux gaan kuier het. Ons het dan tot op Kaallaagte trein gery, waar Oom Danie ons met sy treppie kom haal het.
Deel van ons bagasie was ‘n kosmandjie en opgerolde beddegoed. Ons kon nie die treinkos in die eetsaal met al sy sliwerware en die netjiese, silwerskoon treinbeddegoed bekostig nie. Ons kos was baie basies – broodjies en frikkadelle en hardgekookte eiers. Vir my was dit koningskos.
Trouens, elke vakansie by Oom Danie-hulle had twee hoogtepunte: die padkos en die spogperde wat hul koppe so gooi in die tuig voor die treppie.
Die mandjies van ryker mense – so het ek gehoor – het o.m. ook ingesluit: koue hoender, skaapboud en heel biltong wat met die knipmes gekerf word. Ek was nie eens jaloers nie.
In n stadium – toe ek student was en daarna – is met “padkos” bedoel die paar biere wat saamgery is om langs die pad die dors in toom te hou. Ek het niks teen bier nie – maar met die wyser insig wat later gekom het, besef ek nou om bier padkos te noem, is ‘n belediging vir laasgenoemde!
Gelukkig trou ek toe met Tokkie. Sy is ‘n padkos-kampioen. Ons eerste reise is aangepak met eierbroodjies, botterbroodjies, biltongbroodjies, frikkadelle, worsies, pruime in spek toegedraai en minstens een lekker soetdingetjie soos ‘n ystervarkie of konfyttertjie saam met die koffiekan in ‘n mandjie aan haar voete.
Later het die koffiekan een van die moderne flesse geword wat jy net bo kon druk om die koffie te laat uitspuit.
Tokkie se padkos het my so bederf dat ek nie kan wag om my tande daarin te slaan nie. Ons is nog nie n blok weg van die huis af nie, dan verneem ek al: “Wat van ‘n eierbroodjie” ? Daarna is my kake vir die res van die reis omtrent nooit stil nie.
Met die koms van die kleinkinders het die padkos se karakter nie juis verander nie, net die volume. Nuwe elemente het darem ook bygekom, soos vrugtesappies en jogurt. Die tweeling, Jacob en Thomas (5), is so versot op padkos soos hul Oupa. Daar’s amper n kompetisie in die motor oor wie eerste die groot vraag gaan opper.
Vir “groot etes” word by Ultra-Cities en daardie klas geriewe stilgehou. Ons soek ‘n tafeltjie onder ‘n koelteboom op. Die kos kom uit ons eie mandjie aan Tokkie se voete – nie uit die kitskoskombuise nie. Vir versnaperinge wat ry-ry geniet word, word lappies en plastiekbakkies ingepak. My vrou hou nie van krummels in ‘n kar nie!
Ek verwonder my altyd oor wat alles iemand soos Tokkie in die beperkte voetspasie aan die passasierskant van die motor kan huisves. Tot die kindertjies se strandemmers is soms daar ingedruk.
By geleentheid het die omvang van die uitdyende “voet-bagasie” al ‘n ligte irritasie by haar veroorsaak. Ek onthou ‘n keer toe ons ons met n motor wat kreun onder al ons vakansie-bagasie by ‘n rylopende weermag-outjie in uniform verby is.
“Stop en laai hom op,” gebied mev. Van D.
“Waar moet hy sit?”
“Sommer ook nog hier by my voete!”
‘n Nuwe padkos-kultuur wat ek nou eers leer ken het, behels dat jy by jou bestemming moet aankom met ‘n voldoende voorraad om jou gashere te laat verstaan jy is nie sommer ‘n elkedagse hierjy nie.
Lydia, ‘n Sotho wat by ons werk, is ook van Paul Roux, soos Tokkie se ma, Marietjie, en my Oom Danie-hulle. Elke tuisbesoek per “Shosoloza Meyl” is ‘n uittog waarvoor dae voor die tyd begin hoenders gaargemaak word: twee vir die reis en twee vir die uitklim.
Lydya se padkos lyk vir my heerlik. Ek is net bevrees: as ek sou saamry, sou vir die uitklim niks oorgebly het nie! (HvD)