PAMPOENE … EN PAMPOENE

BREYTEN KOOP ‘N PAMPOEN BY ‘N BOEREMARK IN NEW YORK

Middag uit Melkbos

In ‘n bekende kinderliedjie sing Doris Brasch van die “ou pampoen” wat op die ashoop lê saam met ‘n “stukkende skoen” en ‘n paar ander nikswerd-weggooigoed.

Toe ek jonk was, is dit plus-minus waar pampoen in my waardestelsel geklassifiseer was: as iets vir die ashoop. Die enigste pampoen wat in my kinderdae in my oë ‘n deugdelike funksie verrig het, was die ene wat tot Aspoestertjie se koets omgeskep was.

Trouens, my vooroordeel teen pampoen was so sterk dat ek in Standerd 5 amper daaroor slae gekry het. Ons het van Durban Potchefstroom toe getrek en ek moes die middag met die trekkery by ‘n losieshuis eet. ‘n Bord boerekos is voorgesit met ‘n ruim skep pampoen. Dié het ek in my broeksakke geprop – het nooit besef dat ek later sou moes verduidelik watse kolle op my broek uitslaan nie.

Eers toe ek na Tokkie begin vry het, en in Hertzogstraat 5, Bultfontein, haar ma, Marietjie, se voortreflike pampoen geproe het (ek het gedink ek eet heerlike patats!), het my gesindheid jeens dié nederige groente radikaal verander.

Ek eet deesdae graag pampoen, maar dat die pampoen so ‘n sentrale plek in Breyten Breytenbach se poësie beklee, wis ek nie. Dit lees ek Saterdag in die “Die Burger” in die naweekbylae BY.

Sedert hy in sy bundel “Katastrofes” die eerste keer oor die fascistiese pampoen geskryf het, het dit so ‘n deurlopende Breytenmotief geword dat van sy vriende op sy verjaardag pampoendag vier, en dit ook gedoen het toe hy in die tronk was, is van die nuwe nuwe kennis oor Breyten wat ek in BY verkry het. (Ek het verder o.m. ook gelees deesdae reken Breyten “om ‘n pampoen vas te hou, is seker die naaste wat ‘n man kan kom aan die ervaring van swangerskap”. Ek is dadelik kombuis toe …)

Dié stories herinner my aan die enigste ander pampoengedig wat ek ken. Dit kom uit die pen van Hans du Plessis en is in 1976 geskryf toe ons saam aan die Harvard-universiteit in Amerika was. Die tema van Hans se gediggie was “Halloween” – die dag wanneer Amerikaners volgens tradisie, pampoenspoke maak deur pampoene uit te hol. Oë en haketande word dan in die skil uitgekerf. In flikkerende kerslig kan dit nogal spookagtig lyk.

Na aanleiding van die Halloween-tradisie het Hans ons dogter, Marisa, toe ‘n tengere drie, “pampokie” begin noem. Die naam het nogal ‘n ruk geklou – amper soos pampoen aan ‘n wolkombers!

Die Amerikaners maak darem nie net spoke van hul pampoene nie. Hulle maak ook ‘n smaaklike “pumpkin pie”. Dis liplek-lekker. Hulle hou verder allerlei pampoenfeeste, kies pampoenkoninginne en ding vuriglik mee oor wie die grootste pampoen kan kweek.

In my “Volksblad”-dae, onthou ek, was plattelandsde korrespondente nogal lief daarvoor om mense se groot pampoene af te neem en vir publikasie in te stuur. Surigheid was algemeen as so ‘n pampoenfoto nie die koerant haal nie.

Uit nog vroeër tye onthou ek die gewoonte om pampoene op ‘n plat sinkdak
te pak – dalk om goed ryp te word, dalk om die dak te help anker. Ek weet nie.

Hier naby my op Melkbos het die gewoonte onlangs by ‘n mooi moderne huis in Charles Hoffestraat herleef, sien ek. Twee pampoene pryk op die afdakkie by die voordeur.

In die middel-80’s was die Van Deventers in Natal om die uwe se wortels te herontdek as ‘t ware. Ons besoek toe ‘n winkeltjie in die distrik Babanango, naby die poskantoortjie Silutshana, wat in jare her aan my Oom Martiens Maritz behoort het.

Die nuwe eienares is ‘n gul Zoeloevrou. Toe ek die naam Martiens Maritz noem, is sy skoon uit haar vel. Sy dring daarop aan dat ek ‘n geskenk moet aanvaar. Sy sleep toe ‘n leer nader, klim op die dak en kom met ‘n yslike kampioen-pampoen grond toe, wat sy in my hande prop.

“Hemel, vroumens, hoekom so groot?” wou ek nog keer. Nee, ek moet dit vat, omdat Martiens Maritz so ‘n goeie man was.

Hierdie storie is spesiaal bedoel vir Julius Malema. Ongelukkig sal dié … amper sê ek pampoen … dit nie lees nie. (HvD)

“TE HEL MET SPEL!”

More uit Melkbos

P.W. Botha en Koedoe Eksteen in gelukkiger dae. Op die foto hierbo is hulle gemoedelik saam op ‘n jagtog in 1987 op die plaas van Pieter Jacobs (links) in die Suid-Vrystaat. Ja, Koedoe, jy kry mense met lang geheues …

Nadat my oud-kollega Johan van Wyk, prof. Andries Brink, Niel van Stellenbosch en Pieter Meyer van Oudsthoorn netjiese kommentaar gelewer het op Eksteen se swymelende politiek-korrekte reeks van drie artikels in Die Burger sal ek maar die versoeking weerstaan om ook saam te praat.

Nie dat ek nie heelwat op die hart het oor sy skryfsels nie, want die nimlike Koedoe wat nou met so ‘n onwaardige drang tot selfverontskuldiging so onbehoorlik sy eie basuin in sy onbekookte artikelreeks geblaas het, was een van die voorste skeppers uit die pappotte van apartheid, onthou.

Ambassadeur by die V.N., direkteur-generaal van die SAUK, gewillige gas by gesellige jagtogte van mense uit die P.W. Botha-binnekring, gretige deelnemer aan berade van die Afrikaner-Broederbond oor die toekoms van die land – noem maar op.

Kom ons los dit daar. Vandag se klippie in my skoen is veral oor ‘n klein “onthullinkie” onderlangs in een van sy artikels: dat hy vir die Staatspresident ‘n brief met ‘n spelfout geskryf het en toe daaroor gekapittel is.

Eksteen glo klaarblyklik: Wat is ‘n ou spelfoutjie nou tusssen vriende? Hy spot selfs dat P.W. Botha tyd kon vind om oor so ‘n beuselagtigheid moer te trek.

Ai, ai – asof dit nou iets is om te roem dat die baas van die SAUK ‘n slordige brief aan die land se Staatspresident skryf! As ek Eksteen was, sou ek liewer ‘n sluier oor daardie insident wou trek as om op grond daarvan die ontvanger van die brief by te kom.

Neem my gerus maar daarvoor kwalik, maar ek is een van daardie outydse garde wat glo in alle hoflikheid teenoor mense vir wie jy skryf, en ook uit respekte vir jou taal, gee jy om oor die suiwere gebruik van Afrikaans, en is jy besorg oor die kwaliteit van geskrewe kommunikasies waaronder jy jou handtekening sit.

Ek is bevrees in my oë openbaar die storie van die “spelfoutjie” ‘n krakie in die mondering van die man wat dit gepleeg het. Vir die man wat daardeur gegrief is en dit onomwonde uitwys, lig ek egter die hoed.

As ek dit sê, is ek nie net agter Koedoe Eksteen se bloed aan nie. Te veel mense glo: “Ag, te hel met spel!” – veral as Afrikaans die lydende party is.
Gruwelike verminkings kom soms uit die penne van anderstaliges wat eenvoudig te laks, te sorgeloos en te minagtend is om op hul Afrikaans te let. “Anything goes”.

Dis al erg genoeg. Wat erger is, is Afrikaanssprekendes wat nie net in hul spreektaal goedsmoeds brou nie, maar toenemend ook in hul skryftaal.
Ek kry briewe van mense wat van beter behoort te weet, maar wat duidelik nie omgee nie, of doelbewus ongedissiplineerd skryf om “in” of “modern” te wees.

Selfs van ons gerekende publikasies is nie vry te spreek nie.

Iemand met gesag behoort, soos P.W. Botha, ‘n vermanende wysvinger vir hulle te swaai as hulle so met hul taal mors. (HvD)

GRENSLOSE OUERLIEFDE

PIET, PETRO EN PIETA THERON BY TOKKIE VAN DEVENTER

Die hartsbegeerte om werklik met gevoel oor ander mense se wonderlike moed, geloof, opoffering, en toewyding te skryf, stuit soms teen die onvermoë om die regte woorde te vind.

Die resultaat is stamelende hulde, soos dié wat ek vandag aan Piet en Petro Theron van Bloemfontein wil bring nadat hul jongste seun, Pieta (38), Saterdag ná ‘n lang stryd in ‘n hospitaalbed in die Rosestad oorlede is.

‘n Doodgewone blindedermoperasie op Pieta het 10 jaar gelede weens mediese onbeholpenheid skeefgeloop. Die skuldige dokters moes ruim skadevergoeding betaal. Niks kon Pieta en sy ouers, Piet en Petro, egter vergoed vir die dekade van hel wat daarna vir hulle aangebreek het nie.

Pieta het ‘n ernstige epilepsielyer geword wat later n valhelm moes dra om hom teen kopbeserings te beskerm wanneer hy val. Tot veertien keer op ‘n dag het die stuiptrekkings hom gepak.

Hy het sy werk verloor, sy huwelik, sy kinders, mettertyd al hoe meer ook sy spraak en uiteindelik ook sy onafhanklikheid. Hy kon nie meer motor bestuur of in enige opsig die normale lewe van n man van sy jare lei nie. Pieta was skielik Piet en Petro se “groot baba”.

Piet, ‘n oud-kollega van my by Die Volksblad, het uit sy aftrede tot ekonomiese aktiwiteit teruggekeer deur eers Pieta se sweisonderneming sonder ervaring oor te neem. Vir die oud-joernalis – self n hartlyer – was die gee van kwotasies en geklouter op steiers met ‘n sweismasjien in sy hande ‘n wildvreemde nuwe lewe. Maar nood leer bid. Piet het op sy bulhond-manier vasgebyt en ‘n sukses daarvan gemaak.

Later het hy ‘n onderneming begin wat ter wille van sy seun meel in swart woonbuurte verkoop. Hy was, amper onvermydelik, in sy nuwe rol die slagoffer van Suid-Afrika se misdaadgolf toe ‘n gewapende roof op hom uitgevoer word. Hy het opnuut vasgebyt, en ook op hierdie terrein sy staal getoon.

Petro, wat ‘n knap sportvrou was op haar dag – gewig en werpskyf was die jong Petro du Plessis van Bethulie se kos – sit die laaste jare met ‘n rug wat haar sleg opkeil. Soos sy Pieta versorg het, is egter ‘n toonbeeld van opofferende moederliefde soos jy ver sal gaan soek. Rugoperasies of te nie, was sy altyd getrou op haar pos om Pieta op te tel waar hy op die grond lê en krul, hom te voer of wat vereis word.

Piet en Petro het Pieta se kinders onder hul vleuels geneem en op hulle ongekende liefde uitgestort. Oupa en Ouma was onwrikbaar dat hulle ‘n vol lewe moet lei. Hulle het daarvoor hul harte en beursies oopgemaak. Hulle het die kinders op uitstappies en vakansies geneem. Hulle het vir hul die beste geleenthede geskep.

Wanneer die twee deelneem, is Oupa en Ouma altyd by. Die dag nadat Petro die laaste keer na ‘n rugoperasieuit die hospitaal ontslaan is, bel ons Bloemfontein toe om te verneem hoe dit gaan. Toe hoor ons: sy’s by die netbalbaan waar haar kleindogter ‘n wedstryd speel!

In Maart 2007 was die Therons twee maande lank met Pieta in die Kaap, waar hy in die Constantiaberg-kliniek drie breinoperasies ondergaan het. Brein-chirurgie was die enigste hoop.

Hoe Piet en Petro hul kind daardie twee veeleisende maande ondersteun het, was ‘n openbaring. Elke dag was hulle van vroeg tot laat langs sy bed, ware voorbeelde van die geloof, hoop en liefde waartoe die Bybel ons oproep.

Spanning, onsekerheid, bekommernis – dié was daar ongetwyfeld in daardie tyd konstant oorgenoeg. Maar die Theronne was rotsvas, twee onwankelbare ankers vir Pieta en ‘n bron van besieling vir hul vriende.

In hierdie ruimte het ek daarna geskryf:
“Die goeie in mense aanvaar ons dikwels as vanselfsprekend. Dit word die norm waarvolgens almal almal oordeel. Laat iemand net nie aan ons verwagtinge voldoen nie – dan is ons gou om klippe te gooi.

“ Vir ‘n hele paar vriende ………. wil ek vandag dankie sê dat hulle my opnuut die goeie in mense laat raaksien het: hoe blymoedig, moedig, gelowig en opofferend mense kan wees; hoe hulle kan vasbyt en hulle in die tergendste omstandighede nie laat onderkry nie.”

Ek het natuurlik Piet en Petro in gedagte gehad.

Die gesinnetjie is blymoedig terug Bloemfontein toe – drie opgewonde en dankbare mense, want dit het gelyk of die operasies ‘n sukses was en of vir Pieta ‘n beter lewe kon voorlê.

Uiteindelik was die pad nog maar lank en steil. Die rehabilitasie het nie heeltemal verloop soos verwag is nie. Pieta was maar steeds in en uit die hospitaal. Van die begin van die jaar was die agteruitgang merkbaar, maar soos Petro deur haar trane opmerk: “Ek wou dit nie erken nie.” Sy is met hom van die een dokter na die ander.

Enkele dae gelede is Pieta weer na die hospitaal gehaas. ‘n Nood-pasaangeër het vir n kort rukkie die hoop laat opvlam. Toe pak die ontsteking hom met ‘n frontaanval. Saterdag bel sy broer Jannie met die treurige boodskap: “Pieta rus nou.”

Piet en Petro vind berusting in die wete dat Pieta nooit weer deur n epileptiese aanval teen die grond geslinger gaan word nie. Dat sy spraak nie nog verder en verder gaan agteruitgaan nie ….

Die huis sonder Pieta gaan skielik leeg wees. Hulle gaan hom verskriklik mis. Maar die Theronne is goed toegerus om ook hierdie beproewing te bowe te kom – dit weet hul vriende wat hul hantering van hierdie groot pyn in hul lewens bewonder, en bevoorreg was om hul ongelooflike toewyding van die laaste ttien jaar van naderby te beleef.

* Piet en Petro het nog twee seuns, Jannie van Pretoria na wie hierbo verwys is, en Dawie, die oudste, van Kimberley. Hy is die afrigter van die Griekwas. (HvD)

RUGBY-BALDADIGHEID

Die Kaapse nooi sing tiengeliengelieng, hoera!

Die Kaapse nooi spring tiengeliengelieng, hoera!

Die Kaapse nooi skud tiengeliengelieng, hoera!

Gister op Nuweland het hulle heeltyd staan en skud, die oulike WP-“vodameisies” in hul knap matroospakkies. Baie energiek en so aan.

Geen beswaar nie, hoor – al is hierdie ou gryse eintlik ‘n Blou Bul en al dink hy Pretoria se rugbymeisies in hul cowboy-uitrustings is die begeerlikste, met die Sharks se avontuurlike “loer-gou-poppies” net-net in die tweede plek.

Wat ek wonder, is waarom die heer Tony Ehrenreich en sy Cosatu-comrades hierdie blatante diskriminasie nog so geduldig duld.

Meen, as Helen Zille nie net mans in haar Kabinet mag hê nie, newwermaaind hoe bekwaam hulle is, hoekom mag die rugby-unies dan net meisies by hul velde laat spring en skud, newwermaaind hoe oulik hulle is.

Sien juis ons trek al by vroulike assistant-skeidsregters (of dan vlagvroue, soos ons tot nou die dag nog gepraat het).

Dan raak die tyd seker ryp vir ‘n paar manlike dansers in hul tutu’s tussenin die baldadige rugbypoppies ter wille van ‘n bietjie geslagsgelykheid of hoe? (HvD)

(MO-) TATA BOERE SE REGTE!

REGTER MOTATA IN DIE BESKULDIGDEBANK

“ n Boer gaan my nie verneder nie. Dit was die wit man se land, maar nie meer nie.” Hierdie woorde van die besope regter Nkola Motata spook by my.

“Many a true word is spoken in jest,” sê die Engelse. “ Uit die mond van die suigeling hoor jy die waarheid,” se ons Afrikaanssprekendes. Uit die mond van die dronke borrel dikwels wat in sy hart aangaan, wil ek byvoeg.

Nou is die vraag: as dit die hartstaal van ‘n regter is, watter kans het ‘n arme witte oor wie die Motata’s van die lewe in die hof uitspraak moet lewer?

En vraag twee wat logies voortvloei: waarom die hele bohaai dan oor Brandon Huntley se uitsprake in Kanada? (HvD)

DIE BYLE HUIL IN ONS BOSSE

BOOMRYKE SABIEPARK

Middag uit Melkbos

Die doringboompies langs ons paaie word lank nie meer deur sware ossewaens platgetrap soos in Totius se bekende gedig uit die jare 30 nie. Hulle word deur stropers met byle en pangas afgehak. Hulle word in stukke opgesaag vir ‘n verskeidenheid soeweniers en beeldjies … of sommer vir vuurmaakhout.

Nie net doringbome word voor die voet afgemaai nie. In die Bosveld, waar hout en houtprodukte buitengewoon gewild is, word nie een van die plus-minus 400 soorte Bosveldbome gespaar nie. Maroelas, hardekole, rooiboswilge, jakkalsbessies, knoppiesdorings, blinkblaar-wag-‘n-bietjies, huilboerbone, noem maar op. Almal kom onder die byl.

Tot ver, ver – amper tot by die horison – raak die veld langs die paaie kaler en kaler, soos groeiende bevolkings vuurmaakhout versamel vir hul eie doeleindes of om vir braaivure te verkwansel, en entrepreneurs met skerp gereedskap mooi stompe uitsoek om tot enigiets van hoenders tot koedoebulle tot seekoeie tot luiperds en kameelperde met verwronge gesigte om te beitel.

Die koerantjie Kruger Times het ‘n keer ‘n span uitgestuur om die uitwissing van daardie geliefde kontrei se bome te ondersoek. Die verkenners het tot hul skok ontdek datvan die bome wat nog hier en daar die aanslag oorleef het, almal sogenaamd ge-“ring bark” is. Dit beteken die bas is net bo die grond reg rondom oopgekloof – die begin van die einde vir die betrokke boom.

Hardekool – voorheen die hart van elke kampvuur van elke ware bos-entoesias – is klaar ‘n reliek van die goeie ou dae. ‘n Soliede stuk wat ek in Sabiepark present gekry het, het ek Melkbos toe aangery dat Dick Turpin, die plaaslike houtliefhebber met die cowboynaam, vir my daarvan iets moois kan skep om uit te stal. Dis eenvoudig deesdae te eksklusief om tot gloeiende kole te brand.

Hierdie versugting is nie net om te verwyt en te beskuldig nie. ‘n Mens het begrip vir die houtbehoeftes van mense wat op die swaar manier aan die lewe moet bly, asook vir die noodsaaklike inkomstebron wat houtprodukte vir sowel die skeppers daarvan as die norring padsmouse op die vernaamste toeristeroetes is.

Dis net dat, by al die begrip wat jy het vir die noodsaak van ‘n lewenstog vir mense wat nie ‘n wye beroepskeuse het nie, die vermorsing jou tog teen die bors stuit. Hou gerus ‘n slag stil waar een so ‘n beeldhouer van die bos aan die werk is. Kyk hoe die splinters spat. Vra jouself af: moet die kameelperde se nekke dan nog langer en langer word en die seekoeie dikker en dikker.

Nogal ‘n sterk debatspunt onder Bosvelders is of dit hoegenaamd geregverdig is om hout by padsmouse te koop. Baie glo dat dit gewetenloses net aanmoedig om onbeheersd hul verwoestingswerk voort te sit.

Onervare houtkopers moet ook maar pas op. Dikwels word hulle om die bos gelei met stapels tambotie wat as “winskope” aangebied word. Later moet hulle peperduur tjoppies reguit asblik toe weens die giftige rook … en sit die slagoffers met hoofpyn of goormaag.

Aan die ander kant het ‘n vriend al ‘n goeie stuk Bosveldkiaat tussen sy brandhout gekry wat hy langs die pad tussen Hazyview en die Paul Krugerhek van die Wildtuin vir R12,00 gekoop het.

Sulke stories krap ‘n mens om. Dit is dan dat jy des te meer wanhopig wil uitroep: Doen tog iets om die verwoesting te keer!

Ek skryf hierdie stukkie nadat ek ‘n boeiende artikel gelees het oor die perlemoenstropery aan die Overbergse kus. Van daardie “wit goud” van Suid-Afrika is blykbaar maar bloedmin oor. Smokkelaars en stropers roei die bietjie wat oor is, ook nog in ontstellende tempo uit.

In ons wildtuine voer wildbewaarders weer ‘n ewige stryd teen die handelaars in renosterhoring of ivoor met hul jaggewere.

In die Wes-Kaap gaan diewe wat sonder permit in die blomtyd varkore (ook bekend as aronskelke of varkblom) links en regs pluk, voortaan beboet word.

Dit is natuurlik goed en reg dat ons perlemoen, ons renosters, ons olifante, ons veldblomme en dies meer hoog op die lys van bedreigde bates moet wees. Ons media moet eintlik nog meer daaroor skryf en praat.

Maar ons bome? Praat iemand daaroor? Of laat ons oogluikend die ekologiese verarming toe wat die uitwissing van ons boomweelde meebring?

In Totius se gedig word die geknakte doringboompie deur die “salf van eie gom” gered. Soos dinge nou aangaan, kan die “salf van eie gom” egter maar gaan slaap. Daadwerklike ingryping en beheer is noodsaaklik – anders wil ek die Suid-Afrikaanse bos nie oor tien, twintig jaar sien nie.

Gelukkig vat-vat ek aan 70. (HvD)