HELPENDE HANDE (MET BIELIE-TANDE)

More uit Melkbos

Om te wil help. Dis nogal ‘n vlakvark-eienskap. Jy begin net afpak daar in Sabiepark, waar ons bosplek is, dan weet hulle al van jou. Dadelik word nader gestaan en tussen die motor en die voordeur heen en weer gedraf.

Jy moet maar versigtig trap met jou arms vol blikke, bokse en bottels as jy nie oor een van die “verwelkomingskomitee” se lede wil val nie.

En haal nou net ‘n verfkwas uit. Wat ‘n vlakvark aan ‘n verwery so boei of bekoor, is enigiemand se raaiskoot. Toe Tokkie ‘n dennehoutkassie op die agterstoep vernis, het ‘n “inspekteur” haar geen oomblik in vrede gelaat nie. Sy moes net waak of die blik vernis beland op sy sy.

Kapous Mouton kon in soortgelyke omstandighede by sy boshuis, Vreklekker, nie sy natuurlike ondeundheid onderdruk nie. Toe ‘n vabond weer sy snoet omtrent binne-in die verfblik druk, gee Kapous hom ‘n wit blerts oor die ete en drinke. “Ek merk jou nou as my vlakvark,” kondig hy plegtig aan — en voltrek net daar en dan ‘n buitengewone bos-“doop”. Dae daarna het “Kapous se vlakvark” nog met die wit streep soos ‘n Kainsmerk op sy gevreet geloop.

Vlakvarke — Tarlehoet se mense (dis nou die Van D’s) noem hulle “tannemanne” na aanleiding van ‘n geliefde kierie met ‘n vlakvarktand as handvatsel — sien glo maar vrotterig. Dis dalk die rede dat hulle soms so erg lastig kan raak.

Hulle moet mos darem seker maak presies wat die dowwerige beeld is wat hulle vaagweg waarneem (deur ‘n spieël in ‘n raaisel!) en watter vreemde ding die gedaante aanvang. Soos met Tokkie en Kapous se gewerskaf.

Of as my vrou die oggend elke lantern en lamp in ‘n kring om haar pak om hulle met lampolie te vul. Of as jy ge-laken om jou nek vir ‘n haarsny in die bos onder ‘n boom gaan plaasneem. Selfs net as jy op die stoep sit en kuier. Meer as een Tarlehoetgas is al met blou kolle vort huis toe, soms op heel ongemaklike plekke. Hulle wou mos ‘n vlakvark te naby laat kom om te groet!

Maar ons is lief vir ons vlakvarke en het hulle gewelldig gemis toe, wat die kenners noem, “predatoredruk”, hulle in ‘n stadium totaal uitgeroei het. Gelukkig is onlangs begin om uit die Kruger-wildtuin aan ‘n nuwe vlakvarkbevolking te begin bou. Nou hardloop hulle darem weer stertjie-orent in Sabiepark rond.

Een rede vir geneentheid teenoor hierdie “alkant leliks” — ‘n betiteling deur ‘n dier-onvriendelike vriend — kan wees dat die uitdrukking “mooi van lelikgeid” die phacochoerus aethiopicus dalk meer as elke ander wilde spesie soos ‘n handskoen pas. Later kyk jy verby die ruwe uiterlike — dis tog maar net veldiep — en ontdek ‘n warm hart.

Die hegte band tussen mens en vlakvark het waarskynlik ook ‘n ander oorsprong. Dit is dat laasgenoemde so bedremmeld kan lyk; kompleet nes iemand of iets sy kos afgevat het. Die skrefiesoë wat so sonder ophou trane stort, is feitlik gewaarborg om menslike jammerhartigheid te wek.

Daarvan het ek uitgebreide ervaring Toe deernis vir diere uitgedeel is, was my vrou mos voor in die tou. Terwyl sy ‘n keer die swembad skoon suig, is ek in die lapa doenig.

‘n Lastige vlakvark foeter al tussenin totdat ek streng waarsku: “Blikskottel, as jy my Weber omsmyt, gaan ek baie gatvol wees.”

Tokkie, nie links nie, berispe my dadelik van die swembad se kant af: “Ag nee, Hennie man, kyk hoe nat van die trane is sy wange nou. Hy wou ook maar net help!”

Op die foto is ‘n ou met wegle-tande op Tarlehoet se stoep afgeneem waar hy by die skuifdeur inloer. Seker maar net kom “help” met iets! (HvD)

KOEDOE-KARNALLIES

Middag uit Melkbos

Koedoes lyk maar so statig. Hulle kan vrek onwaardig optree – soos wanneer hulle voëlsaad by ons boshuis Tarlehoet in Sabiepark uit die huisie kom gaps of die voëls se badwater kom suip.

Deur die jare het ek verskeie foto’s van albei aktiwiteite geneem. Die koedoes is skuldig, soos aangekla. Daaroor bestaan geen twyfel nie.

Kyk na die twee foto’s hierbo waar koedoe-kuiergaste by Tarlehoet op heter daad betrap is.
Dodeliker bewyse kan daar nie wees nie.

Die ongewone koedoegedrag kom al jare, en is deur my die eerste keer in my bosboek “Buurman van die Wildtuin” in 2004 opgeteken.

Die stuk oor die koedoe-karnallies in “Buurman” word hier herhaal:

‘n Gereelde ergernis by Tarlehoet is om die huisies met die voëlsaad in die swartklapperboom by die watergat telkens op die grond te moet optel. Draai net jou rug. Dan kan jy weet ‘n bobbejaan – altyd ‘n gerieflike sondebok — of iets ruk ‘n huisie af. Dikwels is die tou gebreek.

Op ‘n dag kondig Griet (ons huishulp in daardie stadium) aan die skuldige is nie “ ‘n bobbejaan of iets” nie. Sy het met haar “eige oge” gesien hoe kom ‘n koedoe-ooitjie die pitjies gaps. Dit klink ‘n bietjie vergesog, al het ‘n koedoe-ooi inderdaad al die gerief van die voëlbad as ‘n bron van gereelde skoon water ontdek. ‘n Koedoe is mos nie dommer as sebras, blouwildebeeste, duikers en vlakvarke nie.

In die kerk sing ons die Sondag van ‘n wildsbok wat smag na water. Ek stamp aan Tokkie en sy snap wat ek bedoel. Wildsbokke behoort na water te smag. Dis in hul aard. Maar tog nie na pitjies nie.

Nietemin, wawyd-wakker waak ons daarna op die stoep vir die volgende koedoebesoek. Dié kom net ‘n paar oggende later. ‘n Troppie drentel peusel-peusel oor ons werf ooswaarts, piekniekplek se kant toe. Veral een jong koei draal ‘n bietjie. Soek sy dalk die voëlbak met die pitjies wat in die nag op die grond beland het?

Tokkie prakseer gou ‘n nuwe tou uit ‘n ou velskoen se veter. Toe die bak weer hang, is daar dadelik sysies: bloues en rooibekke, maar geen koedoe nie. Ons bly egter op die uitkyk vir daardie koedoe-koei wat na bewering so ‘n bok is vir pitjies. Die kamera byderhand. Te lank laat sy ons nie wag nie. Skaars 24 uur later stap sy doelgerig pitjies se kant toe. Sy gaan staan doodstil tussen die bome. Soos ‘n standbeeld. Totdat sy gerus is dat haar liggrys vel genoeg kamoeflering verskaf, klaarblyklik onbewus van hoe die kenmerkende blerts “oorlogsverf” oor die neus — soos dié van ‘n Rooi Indiaan, sê Tokkie — haar teenwoordigheid telegrafeer. Dan kom die lang tong uit. Met twee vinnige hale vee sy die kosbak se bodem skoon.

Sommer so lê-lê van die swembadstoel af neem ek net foto’s. Me. Smulpaap konsentreer so op die smaaklike versnapering dat sy nie eens die klik-klik agterkom nie. Daarna rond sy haar etetjie af met ‘n paar slukkies vars water, en slenter ongeërgd weg om haar by die res van die trop aan te sluit. Nou weet ons — en het ons ook die getuienis om ongelowige Thomasse hul woorde te laat sluk.

Tot ons verbasing bly die pitjies taamlik lank daardie opportunistiese koei se eksklusiewe geheim. Toe kom Chris van Rensburg (buurman uit Bloemfontein se dae) se “voëlrestaurant” wat dit moontlik maak vir ‘n spul voëls — en ook vir twee koedoes — om saam “aan te sit”. Die “restaurant” word gou ‘n bykomende attraksie, al is ‘n koedoetong ‘n bietjie groot vir die klein spasietjies waarin die saadjies lê.

Maar moet ‘n lekkerbekkige koedoe se vindingrykheid nie onderskat nie! Een dame bemeester gou die kuns om haar tong feitlik dubbel te vou. Eureka, dit glip in! Weldra raak dit twee keer per dag tyd vir verversings.

Elke oggend en elke middag kom die koedoes nou aangesuiker of botter nie in hul mond kan smelt nie. Dan staan hulle nader kosbakke toe. Die tonge kom uit, plat gevou en die saadjies word gretig opgeslurp. Selfs die ou patriarg met sy spoghorings skuif later vir ‘n wyle sy waardigheid opsy en staan geduldig in die ry vir ‘n mondvol pitjies. Ons op die stoep word fyn dopgehou en die bakore staan op aandag vir enige verdagte geluid. Die smullende bokke is egter nie uitermate ongerus nie. Net as ek die kamera optel, staan hulle aanvanklik ‘n entjie tru. Later ook nie eintlik meer nie. Van my skuiling agter die stutpaal van die stoep kan ek maar kiek soos ek wil. Hulle is so tuis, kalm en gemaklik as kan kom.

Een aand om ‘n kampvuur is my storie oor die onwaarskynlike pitjiediewe by Tarlehoet se voëlbak, soos voorheen ook al, deur sommige met kwalik verborge skeptisisme begroet. Een van die teenwoordige vroue – ek onthou haar naam is Magdaleen – snel my toe te hulp met ‘n storie oor ‘n potjie wat sy met ‘n koedoe geloop het. Sy wou brood bak, en sit toe haar deeg in twee potte buite op ‘n warm plekkie neer om te rys. Later hoor sy die geklingel van ‘n deksel wat val. By die agterdeur betrap sy ‘n koedoe met wit slierte deeg aan sy snoet. Die vindingryke “broodwinner” het mooitjies die deksel afgestamp om by die watertand-lekkerny uit te kom. (HvD)

‘N GLASIE OP ONS OUES

MIddag uit Melkbos

In Kerkbode lees ek vandag (1.10.09) vier die wereld die Internasionale Dag vir Ouer Persone.

Die doel van die dag is om almal daaraan te herinner dat “ouer persone vir ons kosbaar is.”

Viva, “ouer persone”! Laat ons ten minste ‘n glasie op onsselwers klink as niemand anders wil nie.

HvD

HAAI, OOM OLIFANT!

Vanmiddag kom die Grootvoete aan die beurt in my kort, informele reeksie oor ongewone dierefoto’s uit my Sabieparkversameling.

Op die foto heelbo se een van die ou grotes vir Oom Paul Kruger: “aangename kennis” by die Krugerhek van die Wildtuin.

Op die middelste foto kry Wildtuinbesoekers ‘n verrassende verwelkoming by die einste hek.

Op die onderste foto is ‘n ou betrap terwyl hy op ‘n ontdekkingstog voetjie-vir-voetjie (dalk eerder grootvoet vir grootvoet!) oor die heininkie van Sabiepark se piekniekplek langs die Sabierivier klouter.

HvD

SOOS ‘N STANDBEELDJIE

VIr klipspringers bespied Wildtuin-besoekers gewoonlik die rotse op verre koppe intensief met hul verkykers. As jy enetjie raaksien, is dit groot opgewondenheid.

Die ou op die foto het ons verras toe ons hom op ‘n Sondagoggend soos
‘n standbeeldjie op ‘n padpredikant langs die besige rivierpad tussen Skukuza en Onder-Sabie sien staan.

Hy was ongestoord terwyl ons hom van alle kante afneem.

Net een vorige keer het ons klipspringers weg van hul gewone habitat op die klippe raakgeloop. Dit was middel in die pad op die teerpad tussen Onder-Sabie en Tshokwane – een van my persoonlike gunstelingpaaie in die Wildtuiin.

Let op die klipspringer se wollerige vel as jy hom van naderby sien. Ek verstaan as jy een wil laat opstop, moet daardie vel onmiddellik in ys kom. Anders is dit verby met dorisday. Wonder of iemand kan bevestig dat dit wel die geval is?

Die klipspringer-“standbeeldjie” is nommer twee in my beloofde informele reeksie oor ongewone dierefoto’s. (HvD)

WAT BRAAI ONS VANAAND?

More uit Melkbos

Die vuurtjie het net begin vlamvat, sommer nog vroegmiddag, toe die hiëna op die foto hierbo uit die bos stap en kom inspeksie doen, só al of hy wou vra: “Wat braai ons vanaand?”

Dié foto is al ‘n hele paar jaar gelede in Sabiepark geneem, soos mense wat die Van D’s se bosplek, Tarlehoet, ken, sal agterkom. Die paaltjieheining rondom my lapa’s het toe nog ontbreek.

Nietemin, ou foto of nie oud nie, die voor-op-die-wa hiëna het nou vir die uwe R1 000 se kruideniersware, of iets in daardie voege, in die sak gebring.

Sy snuiwery aan die braairooster vlakvoor ons voorstoep het ek destyds nog op film verewig (voor die dae van ‘n digitale nommertjie in my kamerasak). Nou was die foto een van die pryswennende foto’s in ‘n braaifotowedstryd van Pick ‘n Pay en Die Burger.

Dis aan Marisa te danke. Sy het die advertensie raakgesien en besluit Pa se hiënafoto is net die ware Jakob. Ek moes nog rondkrap om hom te vind, en was half ergerlik oor die moeite.

Maar R1 000 se kos is darem nie te versmaai nie, al sal my dogter kommissie moet kry vir haar wenk en aanmoediging.

Eintlik verdien die “model” seker ook ‘n happie van die prys, maar hoe sal ek nou ooit weet of hy nog een van die ses of wat van daardie dierasies is wat ons siele deesdae by Sabiepark versondig?

Ek wys dié foto hier nie omdat ek só trots is op die prys nie; wel omdat dit, wat my betref, ‘n nogal ongewone foto van ‘n hiëna is. Oor die jare het ek baie ongewone dierefoto’s in Sabiepark en die Kruger-wildtuin geneem. Dalk moet ek ‘n reeks van hulle op my blog sit:

Twee olifante in n “slurpgeselsie”;
‘n Klipspringer op’ n padpredikant;
‘n Sebra’tjie maak kennis met ‘n Weberbraaier;
‘n Vlakvark duik oor ‘n muurtjie agter n peuselkossie aan;
‘n Koedoe vreet die voëls se pitjies;
‘n Bospatrysie speel “spietkop-spietkop” …. en n leeu!

Aarde, daar is baie om uit te kies. Maar moet asseblief nie vir my sê ek is gelukkig nie. Onthou Gary Player se gevleuelde woorde: “Hoe meer ek oefen, des te gelukkiger word ek!” (HvD)