GOUE OUES VAN 50’S

Naand uit Melkbos

So naïef is ek nie dat ek nie die risiko’s besef van lysies maak nie. Jy stel jou eenvoudig op as teiken vir ander wat met goeie of minder goeie bedoelinge hul skietysters op jou wil korrel.

Ná nou anderdag se stuk oor die goue oues van die 50’s was daar reaksies, privaat en in die openbaar, wat my tog laat jeuk het om ‘n lysie te probeer maak.

Wat is werklik my, sê maar, top-20 populere liedjies van daardie era? Dalk tas ek verskriklik mis, want sekere liedjies wat toe treffers was, het vinnig hul glans verloor; ander wat in die bondel verdwyn het, is vandag nog immergroen. Nat King Cole se pragtige ‘When I Fall In Love’ was destyds byvoorbeeld nêrens; Pat Boone se “I almost lost my mind’ was op elke “hit parade”. Vandag is hul gewildheid net mooi omgekeerd.

Uiteindelik het ek probeer om ‘n ewewig na te streef tussen liedjies van die 50’s wat doerie tyd in my bloed was, en dié wat my ná al die jare steeds – of éérs – bekoor. Onder laasgenoemde tel drie orkeswerke, die bekroonde temamusiek uit die rolprente ‘The Third Man’, ‘Limelight’ en die obskure prentjie ‘Unchained’. Al drie is vandag veel hoër in my estimasie as in die 50’s.

Elvis Presley het my hoofbrekens besorg. Daardie musiek-fenomeen het in die 50’s begin blom. Baie van die eerste Presley-treffers val ietwat rof op die ouer oor. My oplossing was om een Presley-ballade, ‘Love Me Tender’ in te sluit, en een van sy beste meer tipiese liedjie, ‘Don’t be cruel’.

Elvis se ‘It’s Now Or Never’ (‘n verwerking van die Italiaanse lied ‘O Sole Mio’) sou bepaald hoog op my lys gewees het. Dit is egter ‘n 1960-model.
Van Perry Como was sy ‘Catch A Falling Star’ en ‘Magic Moments’ in die 50’s sy nommer-eens. Ek het ‘More” gekies, omdat ek daarmee ‘n romantiese assosiasie het. Ook Debbie Reynolds se ‘Tammy’ haal my lys weens ‘n jong liefde wat ek met die fliek en die liefjie in verband bring. Gun my dié plesiertjie, asseblief!

Nat King Cole se ‘Unforgettable’ en ‘Mona Lisa’ was amper-ampers, maar ‘When I Fall In Love’ is darem in ‘n klas van sy eie. The Platters het my ook laat kopkrap. My keuse is ‘Smoke Gets In Your Eyes’. ‘Great Pretender’ en ‘Twilight Time’ was egter ook sterk aanspraakmakers.

Van Patti Page wou-wou ek die vrolike ‘Mockin Bird Hill’ insluit. Maar dit sou beteken ek moet by haar ‘Tennesee Waltz’ verbygaan, want net vir die grote Elvis en Bing het ek twee plate elk op my lysie gegun.

Van Harry Belafonte het ‘Banana Boat Song’ net sy neus voor gekry voor ‘Island in the Sun’ en ‘Mary’s Boy Child’; en van Dean Martin ‘That’s Amore’ net voor ‘Memories Are Made Of This’.

Van Bing Crosby vat ek ‘White Christmas’, al is dit nie ‘n persoonlike sterk gunsteling nie en, na my oordeel, taamlik onvanpas in ‘n land soos Suid-Afrika met sy somerkersfees. Is enige lied van die 50’s egter ná sestig jaar wêreldwyd nog só geliefd? Ek twyfel.

Maar ek vat darem ook ‘True Love’ (Bing en die beeldskone Grace Kelly) – ‘n liefdesliedjie wat die hartsnare roer.

Hier’s my twintig, in alfabetiese volgorde (die uitweg van die lafaard!)¨

‘Banana Boat Song’ (Harry Belafonte)
‘Don’t be cruel’ ( Elvis Presley)
‘Harry Lime’s Theme’ uit The Third Man (Anton Karas)
‘High Noon’ – ‘Do Not Forsake Me’ (Tex Ritter)
‘I Believe’ (Frankie Laine)
Love Letters In The Sand’ (Pat Boone)
‘Love Me Tender’ (Elvis Presley)
‘More’ (Perry Como)
‘Oh Mein Papa’ (Eddie Calvert)
‘Que Sera Sera – ‘Whatever Will Be, Will Be’ (Doris Day)
‘Smoke Gets In Your Eyes’ (The Platters)
‘Terry’s Theme’ uit Limelight (Guy Lombardo)
‘Tammy’ (Debby Reynolds)
‘That’s Amore’ (Dean Martin)
‘Tennessee Waltz’ (Patti Page)
’The Three Bells’ (The Browns)
‘Tom Dooley’ (Kingston Trio)
‘True Love’ – Bing Crosby en Grace Kelly)
‘Unchained Melody – Eternally’ uit Unchained (Les Baxter)
‘White Chistmas’ (Bing Crosby)

(HvD)

GLANS-DIERASIES

More uit Melkbos

Sabiepark se hienas raak nou glanspersoonlikhede, of ‘celebrities’, in die moderne idioom.

Die foto’s hierbo kom uit November se Weg. Die luiperdmannetjie het ‘n vlakvarkie in Maroelalaan vasgetrek en in ‘n jakkalsbessieboom opgehys.
Die hiena regs het geduldig (!) op ‘n los gelukkie gewag.

Toe val ‘n sappige boudjie tussen die tak en die mond op die grond. Middagete op ‘n skinkbord vir die honger aasdier.

Op 28 September was ‘n ander Sabieparkse hiena in Die Burger – ene wat ek by my braaier afgeneem het toe hy kom snuffel het met die houding van: “Wat eet ons vanaand?”

Laasgenoemde het vir die fotograaf R1 000 se kruideniersware verdien as een van drie wenners in ‘n kompetisie vir braaifoto’s.

Spyt my waternat om te rapporteer dat eersgenoemde Weg se R1 000-prys misgeloop het. ‘n Witrenoster wat ‘n motor bydam om haar kalfie te beskerm, was die pryswenner. (HvD)

STOEPSTANERS

Middag uit Melkbos

Sabiepark se embleem is ‘n sebrakop. Die kop pryk lewensgroot by die grasdak-hoofingang van die private natuurreservaat langs die Krugerhek van die Wildtuin. Dit verskyn ook in swart op wit op elke stuk korrespondensie (en rekening!) uit daardie oord. Die park se sebras dink blykbaar die embleem verleen aan hulle ‘n spesiale status. Dalk beskou hulle die hoog-in-die-mode swart strepe op hul vet wit lywe as rangtekens wat hulle vir buitengewone regte laat kwalifiseer.

Tuiser as ‘n sebra sal jy immers nie sommer op jou werf aantref nie. Hulle palm dit behoorlik in. Groen graspolle en gerieflike drinkplekke is nie al wat hulle aanlok nie. Vir ‘n grasdak is hulle so lief soos ‘n skrophoender vir ‘n plaaswinkel se stoep. As die son steek, kom hulle graag onderdak koelte soek. As die reën neerswiep, annekseer hulle dieselfde ruimtes as skuiling.

Die stoepstanery kan nogal ontnugterende gevolge hê. Een eienaar was hoogs ontstoke toe sy met oorsese gaste opdaag. Haar stoep is, na ‘n deeglike skoonmaak deur Sabiepark-personeel, van hoek tot kant as ablusiegerief benut. Die hele wêreld het soos ‘n perdestal gelyk en geruik. Die gasvrou moes eers ‘n paar trae sebras verjaag en tuinslange uithaal voordat sy die koffiewater kon kook.

By Tarlehoet is strategiese kettings aangebring om sebras van die stoep af te hou. Nie dat ‘n mens die gawe diere met die kwik op bloedige somervlakke ‘n blaaskansie misgun nie. Maar jy mis tog liewer so ‘n huisbesoek. Anders weet jy wat jou voorland is. Jy sal jou rug moet buig om die bolle op te tel. Laat daaroor dus geen misverstand wees nie: Tarlehoet se kettings verrig ‘n noodsaaklike funksie.

‘n Afdak van groen skadunet is ‘n gewilde alternatief. Ons eie groen afdak is met groot persoonlike moeite en ongerief vir die Van Deventervoertuig opgerig. Sodra die motor verwyder word, kommandeer die sebras dit egter telkens vir ander doeleindes op. Die huislike toneeltjie van ‘n ma wat houtgerus haar vulletjie onder jou afdak staan en voed, is vir ons geen vreemde gesig nie. En moenie praat hoe teësinnig die “besetters” dan is om die “verowerde gebied” prys te gee nie!

Sebras het die gewoonte om jou boompies te kom buig terwyl hulle nog jonk is. Letterlik. Wanneer sebralywe jeuk, loop hulle sommer goedsmoeds bo-oor die eerste, beste boom, neem wydsbeen stelling in en skuur die pense tog te lekker teen die takke met ‘n salige uitdrukking op die gesig.

Vir die bome self en vir hul groen plastiek-naamplaatjies is die sebramanier van krap dikwels nie voordelig nie. In ‘n stadium was meer as 40 soorte Bosveldbome op Tarlehoet geïdentifiseer en by die 50 groen plastiek-naamplaatjies aangebring. Maar elke vakansie is nuwe skade te bespeur.

My enigste suurpruim is plaatjie en al uit die grond geloop. Dit het ek nie op prys gestel nie. Tokkie was ooggetuie toe ‘n halfdosyn sebras by ‘n jong appelblaar beurte maak om te trap en te krap. Na die mishandeling bestaan geen twyfel meer oor die oorsprong van my plaatjieverliese nie.

Wanneer Sabiepark se sebras jou met hul teenwoordigheid kom vereer, kan hulle egter ook in jou hart kruip. Die bedaarde diere kan ure lank rustig rondom die huis kuier. Van tyd tot tyd sou jy oor die voorstoep se lae muurtjie op ‘n drilvet boud kon klop. Andere kere kom hulle wei-wei tot byna op die oop agterstoep. In ‘n stadium het ons vermoed een troppie het Tarlehoet sy hoofkwartier gemaak. Die konstante teenwoordigheid was veel eerder ‘n bron van vreugde as van ergernis — al het een onverskillige blikskottel ‘n opgeskote blinkblaar-wag-‘n-bietjie platgetrap.

Dieregedrag is nie altyd maklik te verklaar nie. Twee Sabieparkse sebra-galoppe val in daardie kader. Die een het hom voor my afgespeel. In Wildevylaan wat voor ons huis verbyloop. ‘n Vreemde sebra-“hendikep” is in dié straat uitgespook.

Twee baldadige sebras, geslag onbekend, hardloop eers voluit van wes na oos verby piekniekplek se kant toe. Kort daarna dreun die hoewe terug weswaarts. Nog nie klaar gebaljaar nie, draai hulle weer in hul spore om vir ‘n derde naelloop. En ‘n vierde een. Later kom hulle op Tarlehoet se werf ‘n blaaskans vat. Maar na vrolikheid kom olikheid. Een ou was bra mankerig. Seker ‘n spierbesering of ‘n geskeurde ligament.

Al lekeverklaring wat ek kan aanbied, is lewensvreugde weens reën. Na ‘n dorre vroegsomer het die eerste welkome buie pas uitgesak. Eers was daar ‘n sagte bui: 7 mm. Toe kom ‘n harde stortbui: nog 15 mm. In die veld het oornag ‘n metamorfose gekom. In die diere se bewegings was eensklaps ‘n huppel. Die paddas het vir ‘n vale begin kwaak. Dik duisendpote het oral uitgepeul. En twee uitgelate sebras het blykbaar mekaar uitgedaag…

Galop nommer twee se slagoffer was ‘n splinternuwe bussie. Eddie en Marie Haumann van Bloemfontein het pas vir ‘n kort vakansie opgedaag. Naby hul huis sien hulle toe twee sebras oop en toe in ‘n motorpad aanstorm. Die egpaar hou stil om te kyk waarheen die twee só in aller yl op pad is.

Op die laaste nippertjie swaai die een weg. Hy mis die bussie net-net. Die ander een gooi ankers uit, maar dis te laat. Die verskrikte sebra skuif met ‘n luide slag teen die metaal vas en beland op die enjinkap van die voertuig (gelukkig een van die moderne snoetbussies met die skuins ruite). Hy tref die voorruit met voorspelbare gevolge. Daarna draf hy verleë weg.

Gelukkig is geen ‘derdeparty’-skade aangerig nie. Maar bedink Eddie se gesprek met sy versekeraar: “Ek wil ‘n eis indien na ‘n botsing. My voertuig het doodstil gestaan toe ‘n ongelisensiëerde sebra daarteen bots. Dit was alles sy skuld, want dit was nie op ‘n sebra-oorgang nie!”
Sekere sebragedrag is weer uiters voorspelbaar. Iris Coetzee is aan die woord:

“Ek en my man, Dirk, is nou in daardie goue jare dat ons vier maande aaneen in die salige Sabiepark kan bly en vier maande in die Kaap met die see aan ons voete. Die ander tyd ry ons rond. Eintlik is ons huis in ‘n aftree-oord in Johannesburg. In die Kaap maak ons vriende met ‘n Namakwalandse egpaar, so aards as kan kom. By hulle leer ons ‘n uitdrukking oor mense wat mekaar goed ken: Hulle p**p sommer voor mekaar.

“Terug in Sabiepark, spuit Dirk die grasstoppeltjies voor die huis ‘n bietjie nat. Net toe ‘n groenigheid begin deurslaan, ontdek die sebras die lekker kos. Dit maak Dirk vies. Hy wil nie hê hulle moet sy gras afvreet nie, en jaag hulle aanhoudend weg.

Na die soveelste probeerslag kom hy baie ontevrede, brom-brom die huis in: ‘Hulle dink blykbaar ons is vriende. As ek hulle wegjaag, dan p**p, p**p hulle net aanmekaar!’ ” (HvD)

TOT SIENS, KLEIN SEBRA’TJIE

More uit Melkbos

‘n Klein sebra’tjie is bra lomp. Hy loop aarselend nes ‘n baba wat sy eerste tree gee met ‘n te groot doek aan, sê my vrou Tokkie. Die kleintjie op die foto – nog wankelrig op sy knopknieë en met net bruin dons op sy kruis – het op die werf van ons bosplek, Tarlehoet in Sabiepark, nogal pikant met die groot nuwe wêreld daarbuite kennis gemaak.

Die snaakse tweebeen-wesens op die stoep is eers stip bekyk terwyl sy ma, duidelik ongemaklik en op haar hoede, haar stert ritmies heen en weer swaai. Elke keer kry die arme kleinding, styf teen haar, toe ‘n veeg deur die gesig!

Toe die vulletjie waag om effens af te dwaal, was die swart Weberbraaier en die plaveisel in die lapa ‘n heerlike ontdekking. Jy kon sien hoe uit die veld geslaan hy was as hy so kloppetie-klop op die harde steenoppervlak trap. Sy beeld in die braaier se blink deksel het hom, klaarblyklik, selfs nog meer behaag en verwonder. Hy het dit, skewekop, uit alle hoeke deurvorsend betrag.

Maar die braaier was nog nie die einde van daardie dag se ryk oes nuwe ervarings nie. ‘n Klompie tarentale wat kom pitjies soek het, het vervolgens sy aandag getrek. Hy jaag hulle toe kamma sulke klein entjies en hap-hap na hulle asof hy een wil vang – nes ‘n spelerige klein katjie.

‘n Paar dae later het dieselfde troppie sebras ons weer opgesoek – amper skoorvoetend, het ons later besluit. Donsruggie se afwesigheid het, soos ‘n seer duim, uitgestaan.

Skielik het ons onthou hoe ontsteld die sebras die vorige nag gebalk het. En in ons harte het ons geweet: ons outjie sou nooit weer sy beeld op ‘n Weber se deksel sien of ‘n tarentaal jaag nie. Hy was nou deel van die ontstellende Wildtuin-statistieke dat tussen 60 en 80 persent nie hul eerste jaar oorleef nie.

Luiperds moet ook eet … (HvD)

TREFFERS WAT BLY TINTEL

More uit Melkbos

Geen maar geen ander populêre musiek laat my vingers só trommel, my nek só saamwieg en my voete só jeuk soos die musiek van die jare 50 nie. In ‘n vlaag van nostalgie het ek pas weer my CD-rakke getakel en die een ná die ander treffer van die 50’s deur die woonkamer laat spoel – salig!

Daardie musiek het ‘n energie en entoesiasme wat jou bloed ses dekades later steeds laat tintel. Die lirieke is sinryk, nie sommer ‘n niksseggende opstapeling van klankgrepe nie. Ek was verras oor hoeveel liedjies ek, wat nie juis ‘n musiek-mens is nie darem nog op ‘n manier kon saamsing – al is dit net hier en daar ‘n stukkie.

Ek is bevooroordeeld oor die 50’s, laat ek maar erken. Vir eers het plate die eerste keer in ons huis gekom toe my weduweema, Baby, vroeg in 1950 met Pa Tony Malan van Durban getroud is. In sy bagasie was onder meer ‘n stapel Patti Page-plate met immergroen-wysies, soos ‘The Tennessee Waltz’, ‘Changing Partners’ en die vrolike ‘Mockin’ Bird Hill’:
“Tra la la, tweedle dee dee dee
It gives me a thrill,
To wake up in the morning
To the mockin’ bird’s trill.
Tra la la tweedle dee dee dee
There’s peace and good will;
You’re welcome as the flowers
On Mockin’ Bird Hill.”

Pa Malan het ook ‘n Nat King Cole-opname van ‘Mona Lisa’ in die huis gebring. Na aanleiding daarvan het ek in die biblioteek die beroemde skildery gaan soek. Ek was nie teleurgesteld met daardie ‘mystic smile’ waaroor Nat sing nie.
‘n Musiek-irritasie van daardie tyd was die Weavers se heruitgawe van die Amerikaanse volksliedjie ‘Goodnight Irene’ wat in 1950 tot nommer een op die treffersparade geklim het. Ons het naamlik ná die huwelik tydelik in die Private Hotel Albert, naby die Albertpark in Durban, tuisgegaan. Die eienaars het ‘Goodnight Irene’ nooit van die draaitafel gehaal nie. Die woorde en wysie het later by jou ore uitgeloop.

In die koshuis Jack Pauw by Potch-Volkies het ek LM Radio leer ken. Sondagaande was die ‘Hit Parade’ uit Lourenco Marques absolute luistergenot, wanneer dit moontlik was. Een tweestryd vir die top-posisie wat ek goed onthou was tussen Doris Day se ‘Que Sera Sera’ (‘Whatever Will Be, Will Be’) en Perry Como se ‘More’.

Al was Doris bitter oulik was ek ‘n ‘More’-man. Ek dink egter ‘Que Sera’ het daardie wedloop van die treffers net-net gewen.

In my matriekjaar, 1957, was Elvis Presley die man van die oomblik, met Pat Boone darem ook in die prentjie. Die voorste liedjies daardie jaar was ‘Jailhouse Rock’ (Elvis Presley), ‘I’m All Shook Up’ (Elvis Presley), ‘See You Later, Alligator’ (Bill Haley en sy Comets), ‘Sail along, silvery moon’ (Billy Vaughn), ‘True Love’ (Bing Crosby en Grace Kelly, later ook Elvis), ‘Banana Boat Song’ (Harry Belafonte),’ Love Letters In The Sand’ (Pat Boone), ‘When I Fall In Love’ (Nat King Cole).) – wat ‘n droom-oes!

In die matriekeksamen het ‘n paar van ons uit die koshuis ge-‘slip’ en gaan fliek: Bill Haley em sy Comets se ‘Rock Around The Clock’. Ons is uitgevang en het slae gekry. Die dag nadat die laaste vak, Geskiedenis, geskryf is, het van ons ons meisies vir oulaas saamgevat na Debby Reynolds se ‘Tammy And The Bachelor’. Ek het smoorverlief geraak op me. Reynolds (nou 77), en die liedjie ‘Tammy’ was lank diep in my hart.

Met my eerste twee jaar in Kollegetehuis op Tukkies, 1958 en 1959, is die 50’s afgesluit. Van die liedjies wat in daardie tyd oorheers het op die draaitafel in die “gesellie” was onder meer die Kingston Trio se ‘Tom Dooley’, die treurige verhaal van ‘n dodelike liefdesdriehoek, The Platters se ‘Smoke Gets In Your Eyes’, en The Browns se ’Three Bells’ (bekend gemaak deur Edith Piaff as ‘Les Trois Cloches’).

Ek vind dit amper ongelooflik dat die volgende gunstelinge van die 50’s tot dusver nog nêrens deur my vermeld is in hierdie stuk nie, en haas my om die afskeepwerk reg te stel:

‘April Love’ (Pat Boone), ‘Magic Moments’ (Perry Como), ‘Memories Are Made Of This’ (Dean Martin), ‘Young Love’ (Tab Hunter), ‘Oh Mein Papa’ (Eddie Calvert), Yellow Rose Of Texas’ (Mitch Miller), ‘I Believe’ (Frankie Laine), ‘The Green Door’ (Jim Lowe) en ‘High Noon’ of ‘Do Not Forsake Me’ (Tex Ritter).

O jinne, dan vergeet ek onvergeetlike rolprentmkusiek soos die ‘Harry Lime’-tema uit ‘The Third Man’ en ‘Unchained Melody” uit ‘Unchained’. Die aanbod van die jare 50 is eenvoudig te oorweldigend! (HvD)

KAMEELPERD-BABA

Onder “Geboortes en Sterfgevalle in die diereryk” kan die volgende inskrywing kom: Gebore in Sabiepark, Mpumalanga: fris kameelperdbulletjie. Moeder en baba albei wel.”

Elke geboorte in Sabiepark is ‘n okkasie, omdat ons Sabieparkers baie lief is vir ons diere, en besonderse mens-dier-verhouding dáár tot stand kom. Die geboorte van ‘n klein kameelpertdjie is egter des te meer ‘n spesiale okkasie. Weens die een en die ander is ons kameelperdbevolking veel kleiner as wat dit al was. Ten tweede: wel, ‘n klein kameelperdjie is ‘n klein kameelperdjie – ‘n skatlike diertjie.

Jare gelede was ‘n groepie Sabieparkers toeskouers by ‘n kameelperd-geboorte. Dit was vir hulle ‘n verruklike natuurervaring toe die kleinding doer uit die hoogte meters ver op die grond neerplons.

Die Van Deventers was nie só gelukkig om dit te sien nie. Ons glo egter een outjie is op ons werf verwek. Fotografiese getuienis bestaan van die daad. My seun, Johan, moes vinnig die knoppie druk. Kameelperde poer-poer nie!

‘n Derde enetjie (op die foto) is deur sy ma weggegooi – kameelperdmammas is glo maar berug vir hul argeloosheid oor hul kroos. Ek wonder hoeveel tietiebottels vol melk is deur daardie lang “strooitjie” maag toe vootdat dié “optelkindjie” groot genoeg was om op eie pote te staan.

In Julie/Augustus 1999 het ‘n trop leeus Sabiepark weke lank beset. Ons was op naalde en spelde, want in die park was ‘n pasgebore kameelperdjie. “Ek hoop tog net nie ons klein kameelperdjie het ook leeukos geword nie.” Só het ek kort ná ons wintervakansie van daardie jaar bekommerd uit Melkbos vir die destydse parkhoof, David Zeller, se vrou, Handa, gefaks.

Voor my was ‘n treffende foto wat my vrou, Tokkie, ‘n paar weke tevore van die klein knopknie-kêreltjie geneem het (met sy dun titteltjie van ‘n naelstring wat nog onder hom hang). My kommer was nie uit die lug gegryp nie. Ek het geweet die leeus was nog in die park. En dat hulle kliphard besig was om fees te vier onder die sagte teikens van ons “mak” wild.

“Dit is altyd die jonger, swakker diere wat eerste aangeval word,” het Handa laat weet. “Ek is bevrees die klein kameelperdjie was een van die slagoffers.”

‘n Maand tevore is ‘n effens ouer boetie of nefie deur daardie leeus opgevreet. Die nuus van die verlies van twee kameelperde het loodswaar op die hart kom lê. Dat een koedoe, ses wildebeeste, twee sebravullens (een met bruin donshaartjies op die kruis daarmee heen nog voordat die film ontwikkel is waarop Tokkie haar kort tevore verewig het), en talryke rooibokkies ook deur die onstuitbare leeutrop opgevreet is, was eweneens verskriklik. Hul lot het egter nie heeltemal dieselfde impak gehad nie.

Waarom nie? Omdat die ander slagoffers deel van die massa is, meen ek. Grotendeels identiteitloos. Maar die kameelperdjies ken jy as ’t ware by die naam. Dié dat ons ‘n vergroting van daardie ongelukkige klein kameelperdjie laat maak het. Dit hang nou in ons boshuis met die woord “Leeukos” in groot swart letters daarop geskryf.

Elke besoek sedertdien begin met ‘n vaste ritueel . Jy ry op en af in Sabiepark totdat jy op die nuwe aankomelinge in die kameelperd-geledere afkom. As jy hulle nie dadelik kry nie, is jy dwalend van bekommernis. As jy hulle wel opspoor, meet jy opgewonde met jou oog hoe hulle sedert die vorige siens gegroei het. Gewoonlik het hulle soos boontjieranke opgeskiet.

As ons op 26 Desember in Sabiepark aankom vir ons somerbesoek sal ons bepaald gou-gou ook die nuwe enetjie se spoor vat – verkieslik te voet.

Nadat ons in 1998 die weduwee Smythe se Ukuthula in Sabiepark gekoop het, het ons gou die beste manier ontdek om die park ten volle te geniet. Dit is inderdaad te voet. Hier loop jy hierdie verrassing raak, ‘n paar tree verder ‘n ander een. Kameelperde, veral, besorg stappers oomblikke van dankbare betowering.

In daardie stadium was die kameelperdbevolking drie keer groter as die huidige dosyn of wat. Op enige staptog, maak nie saak in watter rigting nie, kon jy daarop reken om ‘n klompie vorstelike nekke tussen die bome te sien uitsteek. Sommer elf op een slag was geen ongewone gesig nie.

Kuiergaste kon hul oë nie glo nie. Een middag hou ‘n Kapenaar stil om pad te vra by my en Tokkie waar ons omring deur kameelperde staan. “Is dit julle troeteldiere?” wil hy toe gemaak-ernstig by ons weet!

Danksy hierdie “troeteldiere” se instinktiewe nuuskierigheid — en hul geduld met tweebeen-lasposte en hul kameras – ontstaan geleenthede waar ‘n mens feitlik deel word van hul wêreld. En buitengewoon fotogenies is hulle inderdaad met hul slanke nekke en blokkiespatrone op die vel.

Veral die kordate kleintjies. Dié ken die kuns om hul oulike lyfies soos wafferse bakvissie-modelletjies te wikkel. Hul kapokkie-manier van staan sal enige fotograaf se hart laat vermurwe. Min diere is so ‘n roes op film.

En ‘n gewilder agtergrond vir ‘n aandenking van ‘n Sabiepark-kuier is moeilik te bedink. Ek sou graag wou weet in hoeveel foto-albums van vriende pryk hul foto’s met een of meer van Sabiepark se kameelperde wat strategies oor hul skouers loer! (HvD)