LEEUS OP DIE ROTSE

More uit Melkbos

Leeutyd op HvD se blog vanoggend.

Hoogtyd ook dat die groot katte aan die beurt kom in my reeksie oor ongewone dierefoto’s, meen ek.

Vir party mense is leeus mos alles – en is ‘n Wildtuinbesoek wat nie leeus oplewer nie, soos sop sonder sout.

Ek is nie een van daardie leeubeheptes nie, maar om op mooi leeus af te kom, is darem nie te versmaai nie.

Veral nie as hulle so netjies poseer asof ‘n choreograaf hulle vir die kamera reg laat le het nie.

Ook nie as hul “vertoning” ‘n verjaardaggeskenk vir jou vrou was nie. Ons het hulle 10 jaar gelede, op 15 Maart 1999, op die Nhlangulenipad (S36) raakgeloop.

Ek dink ek het nog ‘n mooier foto van die leeus op die rotse, maar kry dit nie nou raakgevat nie. Sal dit laai sodra ek my hand daarop kan sit. (HvD)

WP SE HUURSOLDATE

Middag uit Melbos

In vanoggend se Burger vat my oud-kollega Tom Ferreira WP-ondersteuners liggies aan oor wat hy noem hul “voortydige, hovaardige en neerbuigende opmerkings” oor rugby-aangeleenthede in die lig daarvan die die WP “nie juis die wêreld aan die brand gespeel het” die laaste paar jare nie.

Tom, jy’s nou Saterdag ‘n Cheetah; ek is in die eerste instansie ‘n Blou Bul, met die Cheetahs as my nommer-twee-span. Maar ek is dit met jou roerend eens dat dit darem “’n bietjie dik vir n daalder” is hoe wysneusig party van ons Kaapse vriende van die kantlyn af oor aanstaande Saterdag se groot rugby saampraat.

Ek het dit onder meer oor die uitbeelding in allerlei nare e-posse van alle Blou Bulle as boerse, ongekultiveerde agtertangers. Miskien is ons in die algemeen nie sulke fyn here soos sommige Bolanders nie – maar ek is liewer ‘n agterganger wat wen as ‘n fynbeskaafde verloorder.

Kom ons los dit maar daar. Sommer as ‘n vinnige vingeroefening het ek die volgende WP-span saamgestel, met een gemeenskaplikheid tussen al die spelers, van heelagter tot agtsteman. Dit is dat almal van buite die WP kom – huursoldate dus.

Ek wil nou nie lelik wees nie, maar dit is nogal insiggewend as ‘n mens die aanspraak onthou dat Matieland en die WP die “wieg van Suid-Afrikaanse rugby” sou wees!

Huursoldate XV

Heealagter: Joe Pietersen – (van Grey-skoolbanke af gekoop)

Vleuels: Twee uit: Sereli Naqelevuki – Fidji; Wylie Human – Cheetahs/Blou Bulle; Tonderai Chavanga – Cheetahs; Bryan Habana – Leeus/Blou Bulle

Senters: Twee uit: Jacques Fourie – Leeus; Frikkie Welsh – Blou Bulle; Gcobani Bobo – Leeus/KZN

Losskakel: Een uit: Willem de Waal – Cheetahs; Matt Toomua -Australië

Voorrry: Tiaan Liebenberg – Griekwas; Schalk Brits – Leeus; Brian Mujati – Leeus

Slotte: Adriaan Fondse – Blou Bulle; Chris Jack – Nieu-Seeland

Flanke: Duane Vermeulen – Cheetahs; Hilton Lobberts – Blou Bulle

Agtsteman en kaptein: Luke Watson– Olifante/KZN

(HvD)

SLURPGESELSIE (?)

More uit Melkbos

Die Krugerwildtuin se S3-rivierpad al langs die Sabie af, van die Krugerhek tot by Pretoriuskop, is olifantwêreld. Veral die eerste paar kilometers van die pad moet ‘n mens maar dophou vir ‘n glimpsie van ‘n slurp – of meer! – in die digte oewerbos.

Oor die olifant-ervarings op daardie pad kan ek heelwat vertel, want Sabiepark lê net aan die oorkant van die rivier – jy sien die groen oase van sy piekniekplek en verskeie Sabieparkhuise trouens van die S3 af – en dit is een van die paaie in die Wildtuin waarop ek ongetwyfeld die meeste ry.

Om 30, 40 minute of langer in ‘n stoet agter ‘n befoeterde olifantbul aan te tou, kan vir sommige frustrerend wees. Dit was egter een van my S3-ervarings.

Verskeie ouens het moed opgegee en met moeite op die smal paadjie omgedraai. Ons was egter op pad huis toe en moes maar geduldig wag vir ‘n kans om verby die humeurige ou grote te glip.

Toe was dit net “taaiers en gruis” (my vriend Jan Scholtz van Bloemfontein se uitdrukking) soos die “Bosbus” (my destydse kombi) grommend uit sy blokke vlieg. Al ander opsie was om die kombi in die bos te abandoneer en tussen die krokodille en seekoeie deur oor die Sabie te swem!

Een Sondag ná kerk was ons en Dawie en Annatjie Strydom van Outeniekwastrand met die Honda CR-V, wat die “Bosbus” intussen vervang het, op pad huis toe. Op die nimlike S3, net binne die Wildtuin, draf twee olifante vinnig voor ons verby.

‘n Ou met buitengewoon fris tande het ons ná verskeie besoeke aan Sabiepark “Langtand” gedoop. Sy handelsmerk het dadelik sy identiteit verraai. Omdat dit ‘n stillerige rit was, het ek stilgehou. Gelukkig. Die volgende oomblik begin die twee mekaar stamp-stamp. Hulle kry mekaar in ‘n kopklem beet en die slurpe knoop soos koesisters.

By my was min twyfel dat dit ‘n uitbarsting van olifant-aggressie is. Huismoles dalk? Ander teorieë is ook geopper.: “Dis sommer net ‘n slurp-geselsie”; “hulle speel net”; “is romanse nie dalk in die lug nie?” Wie sal ooit weet?

Met dié foto van die “slurpgeselsie” (?) tussen “Langtand” en sy maat sit ek vandag my stuk-stuk-reeksie van ongewone dierefoto’s voort. (HvD)

Piep-piep-piep, buurman!

More uit Melkbos

“Môre, buurman!”
“Môre, buurman!”
“Môre, buurman!”

Dit is oggend hier in ons klein hoekie van Melkbosstrand. Een ná die ander word die alarms in Penguin Place afgeskakel: piep-piep, piep-piep, piep-piep.

Ons “keep” nou “up with the Jones’s” deur te weet presies hoe laat hulle soggens opstaan. Die volgorde is in sement gegiet as ‘t ware. Dis eerste die Van Deventers, dan die ………………….., dan die ……… ….(wil nie op die laatslapers se tone trap nie!)

“Ecquid novi? ” het die ou Romeine mekaar doerie tyd op die markplein begroet: “ Wat’s nuut?”

Wat’s nuut inderdaad! Nee, ek weet elders in die land (nie net in Gauteng nie!) is hierdie oggendkoor van piep-piep-pieps lankal algemeen. By ons is dit nog nuut en vreemd.

Melkbos loop nog voor onder die hawes van misdaadvryheid, soos die jongste polisie-statistieke weer wys. Ons is dankbaar. Stadig maar seker slaan veral enkel-inbrekers egter, helaas, hul kloue ook in ons idilliese dorpie in.

Die huisalarms word meer; die diverse “armed responses” se klandisie neem toe, soos mense – onder wie minstens twee nabye bure – kragtige alarms ryker word. Die oggendkoor neem toe in omvang en volume.

Eintlik skryf ek nie om my oor dié verskynsel van ons tyd te verknies nie. Ek rapporteer graag dat vir my nogal iets geselligs in die oor-en-weer ”môre-sê-ery” opgesluit is. Met die piep-piep-pieps kommunikeer ons hier in ons straatjie aan mekaar: “Alles wel hier by ons, dankie.”

Dit kwel ietwat dat ‘n ondernemende aspirant-inbnreker ook die kodes sal kan ontsyfer, en kan uitwerk wie slaap nog en wie nie. Maar laat ons nou nie slapende honde wakker maak nie.

In wat ‘n jaar of drie gelede bestempel is as een van die beste nuwe versetgedigte in Afrikaans, Pirow Bekker se “Ek het ‘n huisie aan die Rand”, speel Bekker, n oud-kollega by Die Volksblad, in op Fagan se “Ek het ‘n huisie by die see”, wat deur Laurika Rauch gewild gemaak is.

Dié gedig sluit só: “Ek het ‘n huisie aan die Rand. Dis nag . Die alarm by die Trellidor hou knipoog wag”

Briljant, briljant!

Mag ek ‘n (minder briljante!) persoonlike “parodie” op Pirow se poging uit Melkbos aanbied? .

Ek het ‘n huisie by die see,
klipgooi van die Kaap.
Hier verklap die piep-piep-pieps
hoe laat die bure slaap. (HvD)

IN MY “STOUTSTE” DROME

More uit Melkbos

Laat my maar uit die staanspoor in alle eerlikheid erken dat ek ‘n aansienlike ongeskooldheid geniet t.o.v. Jungiaanse teorieë oor die ingewikkelde werkinge van die menslike psige.

Selfs t.o.v. “die toegankliker” Sigmund Freud kwalifiseer my kennisvlak my as ‘n “intellektueel agtergeblewene” , ondanks ‘n abortiewe aanslag op ‘n Honneursgraad in die Sielkunde net ná die draai van die 50’s aan Tukkies.

My oud-kollega Cas van Rensburg het ‘n boek of boeke geskryf wat waarskynlik nuttig kon gewees het om op hierdie terrein n ingeligter wese te word. Ek het skandelik nagelaat om dit te lees – soos ‘n hele paar ander boeke van ‘n hele paar ander kollegas ook. Hulle het my waarskynlik in eie munt terugbetaal, want nie al my boeke/boekies tot dusver het ewe goed verkoop nie!

Ewenwel, wat ek eintlik wil deel, is my magtelose frustrasie oor my onvermoë om tot die kern van op die oog af eenvoudige drome deur te dring. Die afgelope paar nagte ryg ek mallerige drome oor die koerantwese in, met my in die meeste gevalle as ‘n soort nar wat in die web van onbeholpenheid verstrik raak.

Laasnag was ek in ‘n koue sweet oor die eis om as ’t ware man-alleen ‘n koerant uit te bring – wel, darem met die hulp van wyle Johan Parreira. Maar Parreira was knapper met sy vuiste as op ‘n tikmasjien – ‘n verskuldigde eer wat ek hom ook laat toekom in my aanstaande boek, “Byl in my Bos”, wat eersdaags by Griffel verskyn.

Meen, een aand wou ‘n bladplakker by” Beeld” my, die nagredakteur, met sy skerp plakkersmes met alle geweld die ewigheid inhelp toe Parreira dringend ontbied word om sake te kom beredder. Sy intimiderende teenwoordigheid het die bladplakker vinnig gekalmeer en hy’t my later na die veiligheid van my motor vergesel. Sulke talente is ook ‘n bate in die emosioneel-gelade atmosfeer van ‘n koerant voor spertyd.

Maar ek loop “Byl in my Bos” vooruit. Koop liewer die blerrie boek, soos Nataniël sou sê.

Die droom dan: dis ek en Parreira en die horlosie, en ons sukkel om iets vir die voorblad te kry, want dit was voor die tyd toe jy elke dag iets oor ’n peperduur partytjie of buitensporige motor van die een of ander hoë tot voorbladnuus kon oppomp. Van Deventer, altyd só vol idees, sit met sy hande in sy hare. Paniek pak hom beet.

Die volgende oomblik: hier loer J.P. Nel (nou by “Son”) om die deur. Waar was hy toe ek hom broodnodig gehad het? Weet nie, maar hy kom in ieder geval nie in die rol van ridder op ‘n wit perd nie. Hy kom net as boodskapper: die vleis is op die kole!

Kyk, ek is lief vir braaivleis, maar elke ding het sy tyd. ‘n Paar minute voor saktyd is nie braaivleistyd nie. Ek stuur Nel na die hel. Maar toe is ek werklik alleen. Parreira het hom waaragtig die uitnodiging vleispotte toe laat welgeval.

Mense wat my ken, sal weet hoe ek in sulke omstandighede bloeddruk en desibels sou opjaag. Maar toe pomp vroulief Tokkie my in die ribbes. “Wat skreeu jy so?” Nou ken ek ongelukkig nie die einde van my droom nie.

Die vorige nag begin my droom stemmig met ‘n voorbeeldige kerkbyeenkoms wat uitloop op’ n “informele Nagmaal” waar gemeentelede onbegeleid ‘n broodjie breek en ‘n kelkie wyn wegsluk. Om ‘n ronde tafel sit so tien mense van wie ek net een gesig herken: dié van my gewaardeerde oud-kollega by “Die Volksblad” Sarel Venter wat in elk geval stoer gereformeerd is en dus kwalik by daardie informele ronde tafel verwag sou word. Ekskuus, Sarel.

Die storie kry ‘n nare kinkel toe dit blyk n jafel met ‘n gestreepte Tukkiebaadjie (die geliefde rooi, blou en goud) het te entoesiasties Nagmaal gevier. Hy kom uit die kerk geslinger. Tokkie kyk hom afkeurend aan, en die volgende oomblik pak sy vrou my vrou met mening. Dis ‘n geruk en ‘n gepluk.

Dit kon ek darem nie toelaat nie. Toe ek my kom kry, is ek midde-in die geveg, met swaaiende elmboë, iets waaaraan ek in my stoutste drome nie sou dink nie. Ek slaan nie aan vroue nie! Ek dink in elk geval die aggressor het in daardie stadium die aftog geblaas, maar ek is ook nie seker nie. Dis mos die frustrerende van drome.

Nou wonder ek of kennis van Jung sou kon help. Sou Cas van Rensburg dalk kon lig werp? Of is drome maar net soos dit soms lyk: gekke stories sonder enige boodskap of betekenis? (HvD)