Nov 5, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Op ‘n gevorderde ouderdom het Margot Asquith speels gelamenteer: “All I have to live on now is macaroni and memorial services.” Brood en begrafnisse, met ander woorde, in “plein” Afrikaans.
Dié dame het ‘n groot waarheid raakgevat. Trouens, omtrent al wat ook in my eie lewe in die laaste jaar of tien meer geword het, is die pyne, die sentimeters om my middel en die begrafrnisse wat ek bywoon.
Dit kap in ons bos, sê ons ou mense van die dood-natuurlike proses wat hom rondom ons voltrek. Dit is immers ‘n eleganter manier om die toenemende optog van tydgenote langboompies toe te beskryf as om die ding sommer op sy naam te noem.
Uit die gekap, -kap, -kap in die bos kom die titel van my boek “Byl in my Bos”, wat pas by Griffel Media verskyn het.
Wat bedoel ek met “my bos”? Ek definiëer hom ruim as die bos waarin ek klein was, en waarin ek nou ‘n ou boom geword het met baie jaarringe en ‘n skurwe bas. Dis as ‘t ware my lewensbos.
“Byl in my Bos” handel enersyds oor persoonlike herinneringe aan ‘n 130-stuks oorlede politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie in ‘n koerantloopbaan van 36 jaar saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats. vriende, selfs ‘n getroue tuinman, Daniël, wat vooruit gegaan het.
Die karakter van die boek is anekdoties. Tradisionele, volledige “grafskrifte” soos in koerante ontbreek grootliks. Humor ontbreek nie – anders kan so ‘n wandeling tussen die langboompies deur darem dodelik vervelig geraak het!
Oor die soort inligting wat lesers in “Byl” te wagte kan wees, word die sluier op die agterblad van die omslag só effens gelig. Vir wat dit werd is, sit ek graag vandag daardie blad volledig hier op my blog:
“Oor die ‘leiers en verleiers’ uit ‘sy bos’ gee Van Deventer kostelike glimpsies. Een staatshoof sou ‘n skaapkop met sy knipmes takel. ‘n Ander het die skrywer met die hand lemoenskyfies gevoer. ‘n Deftige mevrou van Libertas se delikate doilietjies is in tronk-kamerpotte uitgespoel!
“Lees hoekom ‘n topredakteur as ‘n ‘swaar vermomde engeltjie’ en sy kollega as ‘n ‘goeie bliksem’ beskryf is; oor ‘n koerantveteraan wat in rooi pajamas uit ‘n hospitaalbed Kabinetskuiwe reg voorspel het, en oor die skrywer wat ‘n koeël in sy kuiltjie gekry het – toe hy onskuldig was!
“Van Deventer kap heerlike anekdotes oop: oor ‘n indrukwekkende galery “bekendes, rykes, slimmes, skones en sommer doodgewones”. Hy onthou die sluipmoorde op Hendrik Verwoerd en Chris Hani – maar vergeet nie die getroue tuinman Daniël wat ‘sy lewe’ verloor, en teruggekry, het nie.
“Die leser word toeskouer by vuurwarm direksievergaderings en vername etenstafels; hy hoor geheimpies oor ‘n onwaarskynlike lid van die Afrikaner-Broederbond se lojaliteit; ‘n formidabele volksmoeder se guitigheid by boere-opskoppe; ‘n omstrede skilder se eskapades met naakte modelle…
“Van Deventer verklap watter vrou die ‘onuitwisbaarste indruk’ op hom gemaak het, wie hy onthou soos sy eerste soen en wie ‘n liefdesbrief van 114 bladsye gekry het. Hy verswyg ridderlik die naam van die mooi ouderling wat, kaal bolyf, knielend voor haar leraar gestaan het!”
Wel, dis dan dit. Hoop hierdie voorsmakie het ‘n paar mense lus gemaak om “Byl” te lees! (HvD)
Nov 4, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Ek wil nie graag dierbare, goeie mense in die gesig vat of seermaak nie, maar ek het nog nooit trek gehad in onthale met kontant-kroeë nie. Miskien is ek net ouderwets, maar ek glo as jy iemand nooi, is jy verantwoordelik vir die te ete en te drinke. Jy laat nie jou gaste opdok nie.
As jou begroting onder druk is, nooi jy eenvoudig minder mense of bied minder aan. Ek bedien liewer “bokswyn” of tuisgemaakte limonade as om gaste ten duurste te laat betaal vir hul whisky, brandewyn of jenewer.
Uitnodings met die mededeling in ‘n hoekie onder op die kaartjie of briefie dat ‘n kontantkroeg beskikbaar is, is redelik algemeen deesdae, ek weet. Nou-ja, dis moeilike tye, maar as ek enige sê het, sal my advies wees: liewer nie. Jy plaas jou gaste net onder onnodige druk.
Veral by bruilofte skep só ‘n “drink-en-betaal”-stelsel soms pynlike ongemak. Een gas het sy beursie vergeet en is dan van ander afhanklik. ‘n Ander is die gulheid vanself en koop vir almal drankies. Maar dan is dit eintlik sy broodgeld wat in sy vriende se kele verdwyn.
Die vreemdste van vreemde uitnodigings het ek pas ontvang, sal liewer nie sê van wie of wat nie, maar kan darem verklap dis geen armlastige instelling wat my nooi nie.
‘n Vriendelike keuse word tussen twee onthale gebied: ‘n middagete in ‘n spoghotel in Sandton of ‘n skemeronthaal in een van Kaapstad se deftigste vyf-ster- adresse.
Voor ‘n sekere datum moet jy “registreer” vir watter een jy wil bywoon (of dalk albei ook, as jy wil). Maar dan die vangplek: vir die middagete is die “registrasiegeld” $35 en vir die onthaal $20.
Dis gasvryheid teen ‘n prys, boeta (betaal nou en hou die wisselkoers dop!) Dan dink die gasheer blykbaar die eer om genooi te word, is só groot dat die gaste oor hul voete moet val om te “registreer”.
Wel, wat my en my huis betref, is die antwoord ‘n onmiddellike en abrupte “nee dankie”. Ek het só vinnig laat weet dat die gasheer besorgd (?) verneem het of my gesondheid na wense is!
As ek verkeerd of ‘n vreemdeling in Jerusalem (of sommer net suinig) is, is ek jammer, maar dis nou maar een maal hoe ek oor uitnodigings voel en basta.
Dis hoeka lekker kaalvoet hier by my eie huis.
Nov 3, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Daar is inderdaad meer as een manier om, spreekwoordelik, ‘n kat dood te maak – nie net met ‘n behendige kap of swaai van ‘n graaf soos die tuinman Daniël destyds in Bloemfontein om die bedreiging van die bure se “Snuffels” vir Tokkie se wit duiwe af te weer nie.
Nadat ek in ‘n vorige blog (28/10) my lot bekla het oor die grys kietsie wat luiters hier rondwals en snags op die onheiligste tye die alarm aktiveer, het welwillende bloglesers met ‘n verskeidenheid rate vorendag gekom.
‘n Blikkie tuna wat ‘n week in die son gestaan het, skyn redelik wyd beproef te wees, hoewel die verspreiders van sulke advies ‘n sekere beskroomdheid oor hul identiteit openbaar.
Ander raad behels die aanwending van sitronella-olie op strategiese punte. Katte verafsku glo die reuk. Wel, wel … met sitronella voer ons in die bos die stryd teen muskiete. Ons brand allerlei sitronella-kersies, -fakkels en dies meer, en was ons selfs met sitronella-sepies. Om te weet van die veeldoeligheid verbreed die kennis. Dankie.
Uit Nederland laat weet ‘n vriendin sy kan onthou dat haar ma in die ou dae in Pretoria “zoopoo” gebruik het om katte uit die tuin te verwilder.
Daardie “zoopoo” koop jy nie in ‘n spuitkannetjie nie. Die prinsipe was dat leeumis huiskatte verjaag, soos party mense hier te lande onwelkome honde met bottels water van hul grasperke probeer hou.
Een of ander slim Koos van der Merwe het die dieretuin-idee gekaap en dit bemark as “Zoopoo” ( lees “Zoepoe”).
Ongelukkig kan die vriendin nie onthou of dit gewerk het nie. ‘n Ander komplikasie is verkrygbaarheid. Ry ek Tygerberg-dieretuin toe met ‘n skopgrafie? En wat as die leeu nie genoeë neem met die versamel-aksie in sy/haar hok nie?
Nou die aand was daardie vriendin Amsterdam toe vir ‘n uitvoering van “Amandla Mandela, the musical”, wat sy terloops nie juis sterk aanbeveel nie.
Sy sien toe in die pouse by Carré hoe hulle duiwe van mure weghou –
Amsterdam ‘n groot duiweprobleem (soos sy probleem met die vragte “hondepoep” wat troetel-Wagters op sy sypaadjies deponeer).
Die ondernemende Hollanders weer die duiwe met duiwe- “spikes” –
só ‘n strook met gevaarlike lang penne. ‘n Mens kan dit met katte ook probeer, meen die vriendin (en dalk skrik dit boosdoeners terselfdertyd af!).
Moeilikheid is net die verdekselse kat wat hier so lastig is, is só ouderwets dat ek wonder of hy/sy nie sulke “Katspikes” (Nederlands) of “Katspykers” sal aansien as ‘n nuttige hulpmiddel om ‘n jeukmaag teen te krap nie.
Gelukkig is daar goeie nuus uit Melkbos. Dalk het die kat geskrik vir die raad wat instroom. Hy/sy loop die laaste paar nagte wye draaie. (HvD)
Nov 1, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Krieket is ‘n sport wat oningewydes nogal kan laat kleitrap met sy terminologie.
Ek het gedink die limiet is al bereik met misplaasde vertalings toe ek gister lees die Warrior-bouler Tsossobe het “figure” van soveel vir soveel gehad. Se net weer!
Weet nie of dit ‘n kreet van wanhoop of ‘n proesbui is wat uit my longe geskeur het nie.
“Figures”, my liewe vertaler, is niks ander nie as boulsyfers in Afrikaans.
Kom ons los die publikasie se naam maar daar. Hopelik is die vertaler met ‘n gestewelde voet hard op sy jis (haar jissie?) geskop.
Herinner my aan ‘n ontslape kollega wat in die jare 1960 n “slip fielder” as ‘n “glibberige veldwerker” vertaal het. ‘n Kollega van hom, ook reeds ontslape, het plus-minus dieselfde tyd “Durban City’s gaolkeeper” as “Durban se stadstronkbewaarder” vertaal!)
Dit het so in die koerant gestaan.
Wonder wat hierdie dierbare vertalers sou maak met ‘n bouler wat ‘n “maiden over” boul.
Moontlik iets wat soos seksuele teistering klink! (HvD)
Oct 31, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die gevleueldes is tot dusver afgeskeep in die reeksie oorm ongewone foto’s uit die natuur se dierelewe.
Die Vyf Grotes, ja, hulle figureer sterk. Die Ses Grotes (voëls) – waar’s hulle?
Maar eers: omtrent almal ken die Vyf Grotes (of Groot Vyf): leeu. olifant, renoster, buffel en luiperd.
Wie weet aan watter voëls kom die eer toe om die lys van Ses Grotes (of Groot Ses) te haal. Hiers hulle:
Witrugaaasvoël – Lappet faced Vulture
Jagarend – Martial Eagle;
Saalbekooievaar – Saddle billed Stork
Gompou – Kori Bustard
Bromvoël – Ground Hornbill.
Pel se Visuil – Pel’s Fishing Owl
Hande op almal wat al ses al gesien het. My en Tokkie se hande kan nie opgesteek word nie, want ons soek nog die visuil – ‘n skaars meneer wat veral snags aktief is, en ook in ‘n beperkte gebied van die Krugerwildtuin, hoër op in die noordeliker atreke.
Anders as die Vyf is die Ses ‘n Krugerpark-skepping.
Die Vyf spruit eintlik uit die jagwêreld – jagters se begeerlikste trofees. Daarvandaan het dit oorgespoel na die toeriste-omgewing toe, en word die Vyf ywerig deur besoekers aan wildtuine met hul kameras “gejag”.
Die Ses is ‘n ietwat willekeurige samestelling van gevleueldes wat vir groot opwinding sorg, en wat lekebesoekers aan die Kruger bittergraag wil aftik op hul boekies.
Die foto van die saalbekooievaar in die langpad is Kersfees 2008 op pad na die Kersdiens in Skukuza geneem. Twee het op die Doispanepad rustig op die teer heen-en-weer geloop. Dié foto was al in, maar ek het vermoed ek sal vergewe word as ek hom weer gebruik.
Die blertse kleur aan sy bek maak die saalbek ‘n buitengewone vreugde om te sien.
Naskrif: Die ou bromvoëls (“wilde kalkoene”) is vir die uwe ‘n verrassing op die lys. Die storie is egter dat die voëlkenner Newman een nag, toe hy buite die park geslaap het, so deur die bromvoël se roepe bekoor is, dat hy lewenslank as voëlliefhebber gewen is. Die vreugde wat sy gesaghebbende gids vir generasies van voelkykers besorg het, is dus tot die bromvoel se krediet, en verdien opsigself vir die ou lelik hoë eer. (HvD)
Oct 28, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Mense baklei soos katte en honde oor katte en honde.
Ek soek nie om in ‘n kattegeveg (of hondegeveg) oor die ou-ou strydpunt ingesleep te word oor watter een van die twee die beste/lojaalste/dierbaarste troeteldier is nie. Diegene wat hul katte lief het, bly gerus lief vir hulle. Diegene wat by honde sweer, sweer gerus by hulle.
Die sonde wat ek vandag het, kom egter van eersgenoemde. So ‘n donkergrys kolletjieskat versuur my lewe. Ek soek dringend raad, asseblief.
Die moeilikheid is dat hy ons erf hier op Melkbos duidelik as deel van sy domein ag. Hy kom en gaan soos hy wil – of dalk is dit ‘n sy, want dis ‘n kat met ‘n houding, hoor!
Goed en wel, bedags rig die katteverkeer oor die tuinmuurtjies en die voorstoep min skade aan. Dis snags dat dit lol.
Ons het n buite-alarm. Sulke oge wat vir mekaar loer. As die sein gebreek word, gee dit ‘n gekattemaai van die eerste water af.
Wakker is die Van Deventers . Wakker (en de ongeluk in) is die bure. Telefoon lui. Die gewapende reaksie-span wil weet of alles in orde is. Dan is dit: wagwoord asseblief. Soms is ek so deur die slaap dat ek twyfel oor die klinker – is dit ‘n “u” of ‘n “o”?
Laasnag was dit weer sulke tyd. Toe ek die gordyne ooppluk, sien ek hom (haar?) momenteel (en triomfantlik, lyk dit) op die muur poseer, stert pronkerig doer in die lug.
G’n twyfel meer dat ons probleem ‘n katprobleem is nie, al sê die alarm-mense wat. Dis immers nie ‘n kat op die grond wat die sein breek nie, maar een wat met diaboliese doelgerigtheid van die muur af direk voor die oog ‘n sierlike sprong kom uitvoer.
Taks om taks.
Vanoggend sê ek vir Tokkie: “Nee magtig, nou moet ons plan maak.”
Sy (altyd prakties): “Wat?”
Ek verlang skielik na Daniël, tuinman uit ons Bloemfontein-era, nou ook al saliger. Toe die bure se kat – Snuffels, meen ek – Tokkie se witduiwe beloer, toe slaan Daniel hom met ‘n graaf uit die boom.
Snuffels is in die agterplaas begrawe. Daniël kon trots rapporteer: “Hy sal nie weer vir ……… (politiek inkorrekte alternatief vir mevrou) se duiwe loer nie.”
Een of ander kattevanger?” waag ek hoopvol.
“Bestaan nie,” verpletter T. my hoop.
“Met die kat se baas gaan praat?”
“Wie’s die baas? Tien teen een is dit sommer ‘n rondloperkat.”
Só troef sy my.
Liewe blogvriende, wie het tog raad?
(Naskrif: Ja, ek is die skrywer van “’n Vriend vir altyd” (omslag hierbo) – kan dit nie ontken nie. My simpatie is dus by honde, wat by al hul ander deugde ook die voordeel het dat hulle nie snags op mure loop en alarms aktiveer nie. HvD)