Nov 18, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

‘n Inpromptu-stoeiwedtryd op die marmervloer voor die San Remo Casino se ingang.

Die tweeling ontspan op hul dekstoele langs die swembad van die Sinfonia.
More uit Melkbos
Genoeg glansende marmer, gloeiende okkerneuthout en spieëls vir die troonkamer van ‘n praalvors se paleis omskep die MSC Sinfonia (uitspraak Sin-fo-nié-a) in ‘n weelderige drywende hotel, soos hierdie Melkbosse vaalseun nog nie beleef het nie.
Julle ken seker die storie van die Koekemoertjie wat op sy huweliksnag onder die ouerlike dak so tekere gegaan het dat Vader kom vasstel het of alles pluis is. Die bruidegom se antwoord op die bekommerde klop aan wittebroodskamer se deur was: “”Ai, pa, ek het nooit geweet ‘n gewone Koekermoertjie kan só lekker kry nie.”
Ditto, ‘n gewone van Deventertjie as hy só met sy kierietjie verkennend van die een restaurant na die ander pendel – van die klassieke Il Galeone en Il Covo ( ja, dis alles ‘Taljaans op hierdie spogskip, al vaar hy onder ‘n Panamese vlag) tot die informele La Terrazza Buffet op die agterstewe met die verkwikkende seesproei in jou neus.
Die Teatro San Carlo (en sy fyn can-can-danseressies met hul swierige pluime en passies) bied kabaret soos ek laas in Parys aan die Seine beleef het. Oe-la-la!
Die deftige kroeë en kuierplekke op die nege verdiepings is só talryk dat ek twyfel of ek in almal was, ondanks ‘n doelgerigte poging. Was ek ooit in die Buddha Bar of die Café La Baroque? Kan eerlik nie onthou nie.
Maar dis vroegoggend as jy, agter ‘n eerste koppie koffie aan, by die deur van dek 11 uitstap, verby die ry verloklike swembaddens en borrelbaddens, en jy die rye en rye diepseeblou dekstoele waarneem, uitgepak in foutlose simmetrie, dat jy miskien die heel beste besef: dis nie ‘n hierjy-skippie dié nie!
Hierdie mense het styl, hulle is gedril en hul diens bly onbesproke al is hulle al 21 dae ter see gelaai met ryk Europese toeriste, wat in hul te klein bikini’s (Tokkie se hulle is verby hul rakleeftyd!) hul lywe op die dekke lé en verkaiing of by die eksklusiewe boetieks met die verleidelikste handelsmerke, of in die casino en ander plesierplekke, met dik beursies uithang.
Toe ons in die Kaap opklim Durban toe, was dit vir die laaste skof van die Europe seisoen. ‘n Uitgebreide Suid-Afrikaanse sisoen lé nou voor met Durban as die spilpunt. Een komplikasie was dat ons, soos die Europeërs, met Europryse gekonfronteer is – maklik R300 vir ‘n botteltjie wyn of R200 plus vir ‘n soewenierfoto. Vir die SA seisoen geld tegemoetkomender dollarpryse.
Daaroor was sekere reisigenote die viesste in. Van die ervare vaarders het ook gekla die kos steek af by wat hulle al beleef het – veral die informele “spreads”. Die tradisionele middernagfees was nietemin glo ‘n kulinêre fees, en ‘n fees vir die oog wat die kameras laat blits het. Word op enige ander plek op een dag per kamera soveel foto’s geneem as op n vakansievaart? Ek glo nie. Word op enige ander plek so aanhoudend in sulke kwantiteite ge-eet? Ek twyfel nog sterker.
Van middernag feeste en daardie klas ding wis die Van Deventers en die rweeling-kleinkinders Jacob en Thomas Claassens (5) egter niks. Ons was salig in droomland, moeg gekerjakker in die swembaddens en borrelbaddens, of gestoei op plekke wat seker nie juis vir uitgelate kinderstoeiery bestem is nie.
Maar die galakonsert in die gepakte Teatro San Carlo het ons bygewoon, en ons asems is weggeslaan. Thomas is veral deur die slanke danseresse en die towenaar meegevoer. Die vreugde in sy onmiddellike omgewing was as hy telkens met ‘n ernstige gesiggie en ‘n luide stem by sy Ouma verneem: “Dis goed hé, Ouma?”
Ek het gepraat oor die onvleiende lywe in die te klein bikini’s. Uiteindelik word dit een van die hoofindrukke van die drie dae ter see: die verbete (soms bra patetiese) gejaag na ‘n vervloeë jeug van al die ander gekamoefleerde oupatjies en oumatjies wat hulle om die dood nie sal wil ophou met kleinkinders om hul voete nie – terwyl dit juis ons groot plesier was.
Daardie sorgvrye ure op dek 11 sal ek vir niks ruil nie – met as spesiale bonus die vies trek op die gesig van ‘n beer van ‘n man wat een oomblik dag hy het ‘n borrelbad eksklusief vir sy omvangryke lyf; die volgende oomblik plons die twee jillende Suid-Afrikanertjies by hom in die borrelwater!
Waarom elke bootvaart met ‘n kultuur van ooreet moet gepaard gaan, gaan my verstand te bowe. Maar werklik, enkele ure ná ‘n oorvloedige maal word al weer vir komkommertoebroodjies tou gestaan. Saans word reuse-porsies “baked Alaska”: weggepak, wat selfs gedugte roomyseters soos Jacob en Thomas onderkry, Dit wil gedoen wees!
‘n Derde indruk is die pluspunt van ‘n geweldige klem op higiëne met handewas-stasies op elke strategiese plek. Oupa moes sy dissiplines vinnig opskroef. Suid-Afrikaners in die algemeen kan by hierdie strewe tot sindelikheid veel leer.
Klink ek dalk te veel soos n verkoopman vir die Sinfonia, wat met sy oor die 1 500 passasiers en 720 bemanningslede, terloops, die grootste passasierskip is wat nog ‘n Suid-Afrikaanse hawe aangedoen het? Dan haas ek my om lesers te verseker dat ek geen sent afslag gekry het om te help “bemark” nie – net vier Cokes op ‘n warm, windlose middag op dek 11 het Oupa R150 armer gemaak! (HvD)
Nov 15, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Ekke, Tokkie en die tweeling, Jacob en Thomas, is uit en tuis na ‘n genotvolle vaart op die manjifieke Sinfonia en ‘n “avontuurlike” terugreis van 36 uur van Durban af met die Shosoloza Meijl. Die tweeling se entoesiasme vir al die nuwe ervarings was aansteeklik.
Ek vertel later meer. Intussen die foto hierbo – wat voor ons vertrek geneem is -as voorsmakie.
Vir diegene wat die Van Deventers se storie ken, deel ek ook graag graag mee dat Michael (3) se aanneming beklink is. Ons kinders Johan en Mariza se status het verander van pleegouers tot ouers.
Ons het dus amptelik ‘n nuwe kleinkind, wat die getal op vier te staan bring – almal seuntjies.
(HvD)
Nov 10, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Vorstelik vaar die MSC Sinfonia Kaapstad se hawe vroeg vanoggend binne.
Ons klim om 18: 00 op.
Wanneer die drywende hotel – nege verdiepings, 2 000 passasiers – teen 23:00 verder vaar Durban toe, sal ons en die tweeling, Jacob en Thomas, onder die pasasiers wees.
Ons is in kajuit 8043 op die Bach-dek.
Ahooi!
(HvD)
Nov 10, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Koebaai, koeibaai, die witkopkraai,
Gaan per skip in Durban draai;
Kom dan huis toe met die trein,
Sal weer na 10 dae hier verskyn.
(HvD)
Nov 8, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Die Van Deventers gaan aan boord wees wanneer die pragskip die MSC Sinfonia Dinsdagaand uit Tafelbaai vaar Durban toe. Herinneringe sal amper vier dekades terugrol na ons eerste romantiese vaart tussen dié twee stede met die Pendennis Castle in 1970.
Op die foto hierbo op die dek van die Pendennis is ons bloedjonk. Ek was 29 en Tokkie vyf jaar jonger. Ons was sonder kind of kraai. Johan, ons oudste, is in 1971 gebore. Dinsdag vaar ons oudste kleinkinders, Jacob en Thomas Claassens (5), die kinders van ons jongste. Marisa, saam met Oupa en Ouma.
Dié twee tel die slapies al lank, en toe Ouma gister, eergister vir hulle vertel hoe opgewonde sy is, antwoord Jacob ewe ernstig: “Ek is ook opgewonde, Ouma.”
Ai, om so oor die dekreling te hang en dop te hou hoe Tafelberg al hoe kleiner en kleiner word…dis mos die lewe! ‘n Ekstra dimensie Dinsdag sal wees dat ons Kaapstad se liggies agter ons laat Die vorige keer het ons in helder sonlig uitgevaar.
Ons kwartiere in 1970 was, in ooreenstemming met ons beursie, maar taamlik beskeie. Ons was iewers in die boeg van die skip ingedruk. Hiertdie keer sal ons die see uit ons kajuit kan sien. Ons sal ook kan loop op die nege dekke waar ons wil.
Op die Pendennis het ‘n ketting daardie deel van die dek afgesper waar die ouens met die min pitte nie durf kom nie. Maar ag, ook aan ons kant was dit net ‘n plesier om smiddae saam met ons nuutgevonde bootvriende te sit en Pimms no. 1 drink terwyl die skaduwees langer rek.
Vyftien jaar later, in 1985, is die gesin met die Griekse lynboot die Constellation na Mauritius. Ons wellewende kelner se naam was Sotiris, onthou ek. Tot vandag bly dit my by hoe hy tot diep in die nag skottels vol Griekse kos bly aandra het.
‘n Politikus uit die vorige bedeling het op ‘n manier te wete gekom dat die boonste dek die plek is waar die slanke danseressies tussen hul kabaretvertonings bedags die son opsoek. Toe maak hy dit ook sy gereelde bestemming. Teen die vierde, vyfde keer is hierdie waarnemer hopelik onopsigtelik agterna.
Vir dié moeite kry hy toe nie net ‘n onbelemmerde blik op die gemelde dames se onbedekte wilgerlatlywe nie, maar ook op die indrukwekkende proporsies van ‘n fris vroulike kollega, wat, skynbaar onbewus van die turende medepassasier se identiteit, al hoe meer uit haar dop gekruip het.
Die see op daardie vaart was rof, bitter rof. Ons is amper 12 uur laat uit Durban weg. Toe vorder ons weens die reuse-deinings teen ‘n die gang van ‘n slak in stadige pas. In ‘n stadium is gevrees die beurende, krakende boot sal sommer nog voor Mauritius al in die oop see n U-draai moet maak en terugkeer. Darem nie, maar uiteindelik was ons minder as 24 uur op daardie eksotiese vakansie-eiland.
Dié ou vaartuig is ook al lank skrootwerf toe. Daardie reis het ongetwyfeld sy bydrae gelewer om die metaal te vermoei. Maar die lus was behoorlik geprikkel.
‘n Jaar later is ons met Oceanos (spreek uit Okeanos) van die Epirotiki-redery op ‘n vierdaagse vaart na die Griekse Eilande. Dit was die dae van die Tsjernobil-kernramp, met onvoorsiene gevolge vir die Van Deventers.
Toe ons in Athene se hawe, Piraeus, aan boord gaan, kry ek in ons kajuit ‘n program vir dag een met die volgende skoknuus: “11:00 – The MTS Oceanos sails for Istanbul (Turkey), a distance of 354 nautical miles.”
Istanboel! Turkye! Is ons dan op die verkeerde boot? Ek skrik my bloeddruk deur die dak. Toe ek uitasem by die betaalmeester kom, kon hy my gerus stel: “Nee, die verkeerde boot is dit nie. Weens Tsjernobil het baie passasiers kop uitgetrek. Twee vaarte moes toe saamgegooi word.”
Van Istanboel is ons na Mykonos, Santorini en daardie plekke. Dit was ‘n vakansie duisend – veral die ure op die dek met die stewige voorraad Suid-Afrikaanse wit wyn wat ons in ‘n yslike “toksak” saamgebring het om die buitensporige pryse van aan-boord-alkohol vry te spring. Deesdae mag jy dit nie meer doen nie. Hulle besnuffel glo jou koffers van hoek tot kant.
Tokkie onthou geamuseerd die gedoente met haar haardroër. Dié was minus die regte konneksie. In haar drasak wat altyd vir elke soort noodtoestand ingerig is, was egter wel ‘n muurprop van Europese model. Sy vra toe die kêrel in beheer van die kajuitwaardinne vir ‘n skroewedraaier. Hy was dadelik suspisieus. “Screw driver? What for?”
Toe sy verduidelik, kry hy ‘n spasma. “Wil u dan die Oceanos (onthou die “k”) die lug inblaas?” Nee, hy stuur die skeepselektrisiën. Dié daag toe op, nie met ‘n skroewedraaier nie, maar twee stukkies hegpleister. Sy raad was skokkend aards: plak die kaal drade sommer met die hegpleister aan die muurprop se gaatjies vas! Daardie haardroër is op daardie vaart nooit uit die tas gehaal nie.
Die Oceanos het so diep in ons harte gekruip dat ek skoon bewoë was toe hy, darem heelwat later, blinkpens bo in die dieptes van die Indiese oseaan aan die Suid-Afrikaanse Wildekus wegsink.
Mag die MSC Sinfonia voorspoediger vaar … (HvD)
Nov 7, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Elke oupa en ouma het seker pakke foto’s van hul kleinkinders, en is ook nie skaam om dit rond te wys aan almal wat wil kyk (of nie will kyk nie).
Hierdie ene van ons klein Jacob Claassens is in Sabiepark geneem. Die twee langnekke kon kwalik hul verbasing wegsteek toe die klein kortetejie skielik voor hulle opdoem.
Jacob (nou 5) was toe 15 maande oud. Hy en sy tweelingbroer, Thomas, was op hul eerste Sabieparkbesoek by oupa en ouma.
Ek het die foto gaan opgrawe n.a.v. die Huisgenoot-wedstryd vir foto’s van Mooi Oomblikke waarin kinders figureer.
Dis te laat vir trane – Huisgenoot het al die finaliste gepubliseer waaruit lesers hul “gunsteling-kleinding” moet kies – maar ek wonder of Jacob en die kameelperde wat hom so uit die hoogte betrag, nie dalk ook vir ‘n troosprysie in aanmerking sou kon kom nie. (HvD)