SWEET … EN SNEEU

More uit Melkbos

‘n Wandeling langs die see (deel van my “rehabilitasie” vir my rug en regterbeen se kwale) het my en Tokkie vanoggend nogal laat sweet. Die sonnetjie het vroeg-vroeg begin steek.

Tuis gekom, kry ek hierdie foto per e-pos van Caroline Pols, ons Nederlandse Sabiepark-vriendin, uit Heerhugowaarden.

Dit was op daardie oomblik die sprokiesmooi uitsig uit hul woonkamer.

Nou-ja, die helder blou lug is darem ook mooi. (HvD)

WIKS DAAI MOOI BOUDJIES!

More uit Melkbos

As daar nou een paar mooi sepieboudjie is wat verdien om behoorlik gewiks te word, is dit dié van San-Mari van Sewende Laan. Om uit haat, nyd en jaloesie Paula se spogrok vir haar groot aand te saboteer, is darem lelik verby.

Om die arme Clara vir dié onwaardige doel op “mamproe” dronk te maak en die boetiek se sleutels uit haar handsak te steel, maak dit nog leliker. Trouens, ‘n mens kan aan ‘n paar sterker woorde as lelik dink om die sexy San-Mari se optrede te veroordeel: laag, gemeen, onderduims, agterbaks, gewetenloos …

Die slim Engelse sê: “All’s fair in love and war.” Dié wraak oor Paula Altus sogenaamd van haar afgevry het, was egter werklik werklik buitensporig. In elk geval, hoe vry ‘n meisie ‘n man af as hy nie die inklinasie het om afgevry te word nie? Die nimlike Engelse sê ook: “It takes two to tango.”

Maar wag, eintlik is San-Mari, soos die ander karakters, tog maar net ‘n marionet. Dit is die draaiboekskrywers wat die toutjies trek. As hul verbeelding op hol raak, laat hulle mense, ter wille van sogenaamde “storielyne”, soms allerlei ongehoorde dinge aanvang.

Ag, dié ou simpel oom weet sepies is sommer lawwe storietjies, wat hy nie ernstig moet opneem nie. Tog pla dit as draaiboekskrywers sulke absurde spronge maak, soos om ‘n oulike meisietjie skielik in ‘n draak te verander. Dat ander “Laners” daaroor giggel of dit ‘n groot grap was, maak die krieweling net groter.

Verder: Moet sepie-intriges altyd só voorspelbaar ontwikkel? Elke keer stap iemand eenvoudig in op ‘n gesprek wat nie vir sy/haar ore bedoel was nie. Dan dans die poppe. Die werklike lewe is mos nie só nie.

Maar in die werklike lewe sou iemand wat nie ‘n opgeleide kleremaker is nie, onmoontlik ‘n ontwerpersrok se nate só kundig en presies kon verstel dat die rok net op die kritieke oomblik ontnugterend oopbars. Waar het sy in elk geval ‘n naaimasjien gekry?

Miskien die heel ergste van die hele Sewende Laan op die oomblik is die lawwe uitbeelding van die koerantjie die Hillside Times. Die stomme redakteur. Neville Meintjies, is ‘n papperd van die eerste water, en die bestuurder, Tim Jordaan, slaan absoluut die kitaar. Iemand wat sulke situasies uit die duim suig, ken nie die koerantwese soos ek hom 35 jaar lank geken het nie – of het dinge in 12 jaar só verander?

Om alles te kroon, is Mandla steeds die enigste joernalis, met Aggie in ‘n ondersteunende rol wat so ver van geloofwaardig is soos die Noordpool van die Suidpool.

Van my ou werkgewer, Naspers, kom van tyd tot tyd nuus van redaksionele personeelverminderings en wat nog. Wat waar is en wat nie, kan moeilik deur iemand beoordeel word wat só ver van die vuur af sit soos die uwe.

Tong in die kies, kan n mens egter wel wonder of die Hillside Times dalk ‘n rolmodel is. ‘n Koerant sonder ‘n redaksie – wonderlik vir die “bottom line”! (HvD)

BROEKVERLOOR SE VLAKTE

MIddag uit Melkbos

Kom ons speel ‘n identiteitspeletjie.

Die man aan wie ek dink, was ‘n skrumskakel. Hy het vir die Blou Bulle gespeel. ‘n Naakfoto bestaan van hom.

As ek verklap dat hy op Woensdag 27 Januarie 70 oud word, sal u besef hoe ver verkeerd u geraai het.

Nee, die ou in my speletjie is Proppie Goosen van Glentana, voorheen George, voorheen Kirkwoord. Hy was ‘n Tukkiemaat in Kollegetehuis van 1959 af.

Rondom my woed ‘n pandemie van 70 jaar oud word van matriek- en studentemaats. Daar was in die laaste paar maande Vos Grey op Ermelo, Johan Bekker op Jacobsdal, Manie Steyn op Krugersdorp, Willem Hartzenberg van Pretoria (op Hermanus), Giel de Swardt op Jeffreysbaai, Proppie… Dis verreweg nie almal nie. Vriendinne se name word om ridderlike redes verswyg.

Om die draai wag Piet Henning op Soutpansberg en Wiekie Moolman op Krugersdorp. Die uwe, altyd die baba in die klas, kom op 3 Januarie 2011 aan die beurt.

Vir Proppie het ek ‘n 70-kaartjie gemaak met die foto hierby op die agterblad. Geen seksuele konnotasie moet/kan daaraan geheg word nie.
Die oorsprong was ‘n sogenaamde “broekraid” in 1959. Die manne van Voortrekker het ons Kollegemanne een nag kom uitdaag. Kollege was toe nog op die kampus en die kragmeting was voor die Ou Letteregebou.

Wat vir n ding ‘n broekraid is, het ek in my boek In Kamera (Protea 2003 só verduidelik:

“Vir die jonger geslag: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade. “

“Agterna was die foto’s van ondernemende amateur-fotograwe glo buitengewoon gewild in plekke soos Asterhof en Klaradyn, waar met grote konsentrasie gesigte en ander verskuilde eienskappe met mekaar verbind is.”

Dit was só deel van die studentelewe van Tukkiemans soos modderbaddens, die “pil” (‘n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” — elkeen ‘n verskrikking op sy eie vir eerstejaars, veral as die doel was om ‘n element van weerbarstigheid te tem!

Wat ‘n “gatpaartie” of ‘n “p-paartie” behels (die “p” staan nie vir petrol nie!), behoort selfs ‘n oningewyde seker sonder veel moeite te ontsyfer. Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

Terloops, Proppie was ‘n kranige skrumskakel. Hy het vir Noord-Transvaal, Natal, OP en SWD gespeel. Sy skakelmaat in n stadum was Nic Bojé, ook ‘n Kollegeman.

Waar is die dae …..? (HvD)

OM TE JOL BY RONNEBOL

More uit Melkbos

Kom jol in Soweto, kom na ‘n township-opskop, kom kuier eet en drink in “tradisionele” restaurants, kroee en kafees … Met lusmakertjies in hierdie trant word Nederlandse toeriste vir die Wêreldbekersokker na Suid-Afrika gelok.

In ‘n publikasie van South African Tourism, spesiaal vir die WB- besoekers, word toeriste o.m. soos volg ingelig:

Johannesburg

“Uitgaansleven….

Van de funkybclubs en kroegen in Soweto, via de ontspannen jazzy geluiden in Newtown naar de stijlvolle uitgaansgelegenheden in de noordelijke buitenwijken: Joburg biedt voor elk wat wils”

Soweto…

“Een bezoek aan een van de vele restaurants en café’s van Soweto mag u niet missen.”

“Shoppen” word aanbeveel in Sandton, Nelson Mandela Square, Eastgate en Southgate en die Maponya Mall in Soweto.

Nelspruit

“Accommodatie

“Stadshotels, lodges , bed & breakfasts, country hotels, luxe game lodges of een verblijf in de townships….”

Van moontlike veiligheidsrisiko’s word geen woord gerep nie. en van waarskuwings teen gevare is geen sprake nie.

Ek vra met trane in my “navy blue” oë: Hoe op aarde wil hulle alles beveilig?

‘n Mens vrees ‘n klomp naiëwes kom hul koppe hard stamp hier te lande … en ek praat nie van die rondstamp van die ronnebôl in een van die superstadions nie! (HvD)

GESPOOK OOR ‘N SPOOK

More uit Melkbos

Spoke kan deksels moedswillig wees. Van daardie spesie openbaar glo die nare gewoonte om soos die spreekwoordelike dinges aan ‘n wolkombers aan sekere arme drommels te bly kleef, ondanks elke poging om uit hul kloue te ontsnap.

Almal ken tog seker die grappie van die spook wat só lekker gebly het. Hy (sy?) het die getraumaseerde gashere tot in hul sokkies geskok toe hy/sy ewe kontant onder die seil van hul treklorrie uitloer en aankondig: “Ek trek saam!”

Die moontlike alternatief van ‘n vroulike spook word hierbo gestel, omdat veral daardie geslag geeste glo knaend kan wees, soos dié vryerige ene van Uniondale wat al hoe lank fris manne tot jellie reduseer deur op alle moontlike en onmoontlike tye op donker Karoonagte by hulle in hul voortsnellende motors in te sweef – of skielik uit die niet op hul motorfietse saam te ry.

Die spook in my lewe was ook ‘n vrou, soos Uniondale se berugte teisteraar. Gelukkig kortstondiger. Anders as haar Karoo-suster had sy ook nie n lyflike teenwoordigheid nie. “My” spook had net ‘n stem; daarby ene met ‘n swaar Amerikaanse aksent.

Ek het van haar bewus geraak toe sy ‘n vriendin haar boeglam laat skrik. Die vriendin skakel my 021-nommer. Die telefoon lui en lui. Skielik sè die grafstem: “ Your call can not bet taken ….” Die oproeper word somber genooi om ‘n boodskap te laat.

Kyk, hierdie vriendin is betroubaar en sal nie sommer lieg nie. Maar van só ‘n stem wat skielik my inkomende oproepe “bestuur”, is ek salig onbewus. Van waar dan, en met watter bedoelinge? Ek lui my huisnommer met my selfoon net om doodseker re maak. Ja, waaragtig, hier praat die kultuurvreemde – teen my sin en wil.

Toe begin ‘n gespook van ure om van haar ontslae te raak. Ek bel om die beurt 10219 en 10217 en ek praat by Telkom se hulpdienste langs die hele alfabet af, beginnende by Abigail en eindigende by Zoë. Almal is hulpvaardig en probeer help. Party laat my allerlei vreemde kodes intik. Telkens is die stem egter terug.

Ene, Caroline, verstrek later selfs ‘n verwysingsnommer, só seker is sy van haar saak dat sy die stem uit my lewe verwyder het. Aikona. Eers by nommer agt (was dit Lisa of dalk Cindy?) hoor ek die verdoemende nuus ná n inspeksie ter plaatse/praatse: “Dis nie ‘n Telkom-boodskap nie.”

Nou wat de ongeluk dan? Kyk teen hierdie tyd is ek al omgekrap verby oor die eindelose gesukkel, en tel ek die koste van al die selfoonoproepe in my kop. Toe opper Tokkie ‘n teorie. En dalk gee ek my vrou te min krediet, want hierdie ene klink skielik nie ongeloofwaardig nie.

Net twee dae gelede het ons naamlik ‘n foontjie gekoop wat die ou man kan rond dra. Ene wat “als kan doen” wat ‘n selfoon doen. Dan hoef die uwe nie elke keer swaar uit sy bank op te beur as die telefoon lui nie. Het die koddige stem nie dalk met die nuwe instrument ongesiens die huis binnegesluip nie

Ek delf die boekie uit (“if all else fails read the instructions”), maar verstaan van goed soos ‘n “TAM menu” geen snars. Al manier wat ons kan bedink om Tokkie se teorie te toets, is om die ronddra-foon aan die muur te ontkoppel.

Dit werk! Die spook swyg.

Gisteraand daag hulp op in die vorm van iemand van ‘n jonger generasie, wat blykbaar instinktief weet watter knoppies om te druk om bepaalde funksies te aktiveer of de-aktiveer.

Daardie foon is weer op die lug. Maar tot siens, spookvrou! Wel te ruste! (HvD)

WAT VIR ‘N DING IS DIT?

More uit Melkbos

Ons, sprekers van Afrikaans, is die ouens wat maklik praat-praat in Tamatiestraat beland as ons met Nederlanders kommunikeer, het ek altyd gemeen.

Die slaggate in kommunikasie met die inwoners van daardie stamland is bepaald velerlei. Woorde wat in Afrikaans doodonskuldig kan wees, is soms in Nederlands tot aanstoot.

Een voorbeeld is die naam van ons spraaksame oud-minister van buitelandse sake, Pik Botha. In Nederland gebruik hulle daardie drieletterwoordjie vir ‘n stukkie van die manlike anatomie wat jy nie in gemengde geselskap op sy naam nie. Dit was waarom die Nederlandse koerante konsekwent na onse minister as min. Roelof Botha verwys het!

Pas hoor ek egter die mooi storie van ‘n Nederlandse besoeker wat hier te lande in die hospitaal beland vir ‘n operasie. Nadat al die voorbereidings afgehandel is, wil die streng suster weet: “Het jy al opelyf gehad?”

“Nog nooit in mijn lewe nie,” antwoord die Nederlandse pasiënt pront – natuurlik tot die totale verbystering van diegene om haar bed.
Sy, arme drommel, dag opelyf beteken of haar lyf al voorheen oopgesny is … en sy was nog nie tevore geopereer nie!

Maar terug na Nederland en hoe ons mense daar ons woorde moet tel. Wyle Marike de Klerk het dit agtergekom toe ‘n joernalis by haar wou weet wat haar stokperdjie is. Haar antwoord was om te stap. Top sou sy ontdek “stappen” beteken in Nederland onder meer ‘n kuiertjie van kroeg tot kroeg – wat die Engelse “pub crawling” noem.

Ene Gerrie de Waal van Kuilsrivier het weer in Amsterdam plesierigheid veroorsaak met haar beleefde navraag waar hulle op die bus moet “klim”. Die reaksie het haar verstom, maar die ander passasuers laat kraai. “Mevroutje, u mag oweral opklimmen. U mag zelfs op het dak klimmen. Bent u een aap? In Nederland stappen wij op de bus, hoor!”

Een van die lekkerste woordvergissings waarvan ek weet het egter niks met Afrikaans en Nederlands te make nie.

My storie is oor ‘n Amerikaanse meisie van New Hampshire, Anna, wat met ‘n Spanjaard, Jose Antonio Martinez D’Soler, getroud is. In haar nuwe tuisdorp in die land van kastanjette stap sy by ‘n plek in wat op ‘n haar soos ‘n Amerikaanse “drug store” lyk. Sy wil konfyt koop.

Sy vra toe vir ‘n “preservative” met ‘n aarbeigeur.

“‘n Aarbeigeur, mevrou?”

“Ja, maar as julle nie aarbei het nie, watter geure het julle?”

“Ek is bevrees, mevrou, niks met geure nie.”

“In Amerika kry ons dit in tien, twintig verskillende geure.”

“Haai, mevrou.”

Eers toe blyk dit sy bevind haar nie in ‘n “drug store” nie, maar in ‘n gewone Spaanse apteek. Rondom die woord “preservative” soos sy dit uitgespreek het) het verwarring gekom. Die verleë apteker dag sy soek kondome! (HvD)