TUKS SE MOOISTE?

Middag uit Melkbos

So van intervarsities, dirigente en joolkoninginne gepraat:

Hier klink die skone Anneline Kriel, joolkoningin van Tukkies, ‘n glasie met Nanti van Wyk, rasieleier, iewers in die 70’s.

Ek kry dit in ‘n bylae oor Tukkies se halfeeufees in 1980, wat op 7 Oktober in die ou Transvaler verskyn het.

Was sy die mooiste joolkoningin in die geskiedenis? (HvD)

Ns. Hier’s blykbaar die regte spelling vir Tukkies se ou strydkreet: A-ra-ra-rattio!

AA-RA-RA-RA-RAA-RATIO! ROERA!

INTERVARSITY 1961. TUKKIES SE DIRIGENT, JAN LOMBARD, IS REGS EN PRAGTIGE JOOLKONINGIN, MARGUERITE DEALE, NAASLINKS.

Middag uit Melkbos

Nog Vrystaat, nog Pukke, nog Wits sal die boenga-boesjiewa ooit laat swyg nie ….

Iets in hierdie trant het ons Tukkie-generasie van rondom 1960 uit volle bors gesing (volle borste, soos Oom Oubaas van Sewende Laan sou sê) as ons in ons gestreepte kleurbaadjies die hoofpaviljoen vol sit by intervarsity.

Ek spel boenga-boesjiewa feitlik honderd persent seker verkeerd. Ek het ook nie meer ‘n benul wat dit beduie het nie. Maar dit het ons Tukkies laat gloei van trots. Vir seker. Daarna het ons ge-Aa-ra-ra-ra-raa-ratio! Roera! dat die paviljoen dreun.

Die hoofpaviljoen was natuurlik nie normaalweg vir ons beskore nie. Watter student se sakgeld kon daardie dae sulke luukses bekostig? Maar intervarsities het die helfte van die hoofpaviljoen aan die Tukkie behoort en die ander helfte aan die Witsies.

Die Tukkieliedjies het ek (wat nie juis ‘n sanger is nie) almal van buite geken. Ons en die Witsies het mekaar entoesiasties probeer doodsing en met spitsvondighede gekoggel terwyl ons helde die stryd op die veld uitspook. Die dirgente was deftig uitgevat in satynpakke met pluiskeile op die kop.

Voor intervarsity het ons aand vir aand ons “sing-songs” op Loftus gehou wanneer ons neuse eerder in die boeke behoort te gewees het

Die heerlike herinneringe spoel terug as ek op Supersport Varsitybeker-rugby sit en kyk.

Wat lekker is: die Tukkies lyk nog soos Tukkies met hul wit truie, wit broekies en die bande van blou, rooi en goud op hul truie en sokkies.

Wat nie lekker is nie: waar is die ou Tukkieliedjies en Aa-ra-ra-ra-raa-ratio? Watse ge-“rock” is dit dan nou by deesdae se rugby?

Wat selfs nog minder lekker is: dis maar ‘n ou liggewig-spannetjie wat nou vir die Tukkies uitdraf. Wie skrik vir hulle?

Hoe anders was dit nie? Toe was dit nog ‘n nasionale skande as die Tukkies verloor – soos in 1961 wel gebeur het, ondanks ‘n Anton Prinsloo-breekslag wat so verbluffend was dat ek, wat toe al ietwat dof was van die baie bier, weke later in die fliek op “African Mirror” eers gesien het hoe hy deur die Witsies sny!

Later jare was die Tukkies en die Maties lank die bulle van studenterugby – dan wen die een, dan die ander.

Maar nou’s die Pukke die Tukkies oor. Die Maties, Ikeys en Shimlas wag …

Iets “too ghastly to contemplate” het met Tukkierugby gebeur. Hul skrum is soos ‘n ou vrou se dans, hulle tekkel maar effentjies, en iemand wat soos Anton Prinsloo kan breek, het ek nie onder daardie klompie gesien nie.

Dalk is dit ook maar goed dat die huidige geslag toekouers liewer hul gesigte be-verf en in verleidelike kort rokkies rondhuppel as om diep uit die keel Aa-ra-ra-ra-raa-ratio! aan te hef!

Dit was ‘n trotse kreet. (HvD)

TWEE GLASIES OP F. W. DE KLERK

More uit Melkbos

Vandag, 2 Februarie 2010, is die fokus op daardie onvergeetlike dag, 2 Februarie 1990, toe die Volksraad gemesmeriseerd geluister het hoe F.W. de Klerk stap vir stap die land onomkeerbaar sou verander.

Dit was natuurlik dag en datum presies ‘n jaar nadat De Klerk verrassend in die afgetakelde P.W. Botha se plek leier van die Nasionale Party geword het.

Ons vier dus vandag nie net ‘n 20-jarige herdenking nie, maar ook ‘n 21-jarige – vir diegene wat glo dat op eersgenoemde ‘n glasie geklink moet word, ‘n goeie rede vir twee glasies. Ekself klink twee.

Maar 2 Februarie 1990. Ek was in daardie stadium nog redakteur van Die Volksblad. Anders as gewoonlik, met die opening van die Volksraad, het ek in Bloemfontein op die openingstoespraak gewag, eers opdragte gegee oor die hantering daarvan – “maak die skouers oop!” –
en toe met ‘n tevrede hart op die Boeing Kaap toe geklim vir die tradisionele redakteursbesoek aan die begin van elke parlementsitting.

Die satisfaksie was enersyds weens die geloof dat De Klerk die regte dinge doen om die land van sekere rampspoed te red. Andersyds was sy aankondigings meer as net ‘n tikkie salf vir die eie joernalistieke ego.

F.W. het die Afrikaanse koerante reg bewys! Vir politieke opponente binne en buite die parlement, ons kollegas in die Engelse pers, selfs vir sekere NP-ondersteuners, sou ons lekker kon koggel: “Ons het julle mos geseª!”

Afrikaanse koerante het immers toe al lank betoog dat Suid-Afrika onder die NP-regering op ‘n opwindende nuwe koers is, en dat reeds onder P.W. Botha die fondamente gelê is vir een onverdeelde Suid-Afrika met een burgerskap vir almal, en met reg tot deelname vir almal aan politieke besluitneming op alle vlakke.

Skeptici wat volhard het dat dit alles net vae woorde is, dat dit kosmeties is, dat die “ou aparatheidsparadigma gekontinueer word”, se wind is vir eens en vir altyd uit hul seile geneem.

Laat my dadelik toegee dat daardie F.W.-pakkie hervormings waarskynlik ‘n groter kwantum-sprong verteenwoordig het as wat die meeste van ons in daardie stadium verwag het. Maar dat dit ons onverhoeds betrap het, is ook nie waar nie.

Vir redakteurs wat begin vrae vra het oor waarheen ons nou werklik op pad is, het De Klerk kort tevore in ‘n inligtingsessie in Tuynhuys liggies berispe: “Julle moenie nou begin skrik vir die goed wat julle al hoelank bepleit nie!”

Die val van die Berlynse muur in Oktober 1989 het klaarblyklik ook sy hande losser gemaak.

Ekself het ‘n maand later by ‘n beraad met die ANC in Parys vir die ANC-afgevaardigdes gesê: “Maak vas julle gordels; hier kom ‘n ding.”

Daardie beraad was 18 maande nadat ek Thabo Mbeki in Londen ontmoet het, en die chemie tussen ons dadelik begin werk het. Spruitende daaruit was Die Volksblad die eerste Afrikaanse koerant van betekenis wat in ‘n simpatieke profielberig op sy middelblad die pyprokende Mbei aan sy lesers bekend gestel het as “ n pragmatiese strateeg.” Later het Die Volksblad hom Bloemfontein toe genooi om met geslote deure vertroulik met gemeenskapsleiers te kom gesels.

Ondanks alles wat gebeur het, en die baie kritiek wat ekself op aspekte van die nuwe bedeling het, verklaar ek vandag sonder huiwering: ek glo dit was die enigste koers. Ek voel steeds ongekwalifiseerd positief oor my koerant se opbouende rol in ‘n kritieke tyd. Ek het ook een vurige wens. Dit is dat die baanbrekerswerk van die Vrystaatse koerant in aanloop tot 2 Februarie 1990 die een of ander tyd die groter erkenning sal kry wat hy daarvoor verdien. (HvD)

Oor die vrylating van Nelson Mandela vertel ek in ‘n volgende blog ‘n”vertroulike” storie.)

WWW.VOLKIES57.COM

More uit Melkbos

Die opskrif klink soos ‘n webwerf se adres.

Eintlkik gaan hierdie stukkie oor nog ‘n Volkie-matriekmaat van 1957 wat op Melkbos kom kuier het.

Nou staan in my gasteboek drie van hulle in ‘n ry – almal met ‘n W in die naam.

Carl Weeber van Klerksdorp is gevolg deur Wiekie Moolman van Krugersdorp-Noord en Wiekie deur Wol Steyn van Moreletapark, Pretoria.

Twee ander W’s van daardie klas se name staan ook vroeer in my gasteboek: Willem Hartzenberg van Pretoria en Wena de Kock (Louw) van die Strand.

Al die W’s is werklik, in die idioom van vandag se jong mense, “weird”, of is dit nie?

Op die voorlaaste twee bladsye van daardie gasteboek is nog twee name van matriekmaats (sonder W’s): Ferdie Preller en Anton Lombard, albei van Pretoria.

Vyf van die Klas van ’57 was sedert 20/3/09, in minder as ‘n jaar, in my poorte. Dis nie “weird” nie – dis wonderlik! (HvD)

Naskrif: Op die foto is die dartelende seilplanke waarna ek en Tokkie, en Wol en Marie kon sit en kyk terwyl ons, in Wol se woorde, “beelde uit die ou dae” oproep.

TOI-TOI VIR AFRIKAANS!

More uit Melkbos

Die Afrikaansdebat het opnuut opgevlam. Idees oor wat die toekoms van ons taal is, kan wees en behoort te wees, kom uit alle oorde, en is soms nogal sterk uiteenlopend. My bydrae vandag is in die vorm van enkele kantaantekeninge. Ek het dit o.m. oor hoe Afrikaanssprekendes soms self met hul taal mors.

Die joernalis Anastasia de Vries – spreker van die Kaapse variant van Afrikaans – het op n keer gevra: “Het dit nog sin om groot taalgevegte aan te pak as ‘n mens hoor wat die mense op voetsoolvlak dikwels daarvan maak?”

Dit is ‘n geldige vraag. Ons het só laks geword dat ons nie eens meer agterkom as mense met die taal mors nie. Ons aanvaar maar sy lot met gelatenheid. Daardie toleransie bereik gevaarlike vlakke as dit hom daarin manifesteer dat kerkrade nie meer hul dominees uitruk of hoofde hul onderwysers of redakteurs hul joernaliste wat Afrikaans verknoei nie. Almal wals maar saam in hierdie Hartseerwals van Afrikaans.

Koerante het in die jare 80, in my tyd, te midde van enorme politieke verskeurdheid rondom Afrikaans gekonsolideer. Ons taal kan ook nou ‘n magtige samesnoerende krag wees, glo ek. Maar dan sal ons ook by daardie mense op voetsoolvlak moet uitkom. Klaarblyklik is ‘n kopskuif is nodig wat hulle in ons ideale vir Afrikaans inbind. .

Afrikaanssprekendes oor die hele spektrum sal op ‘n manier weer trots gemaak word op Afrikaans en lus gemaak word om hom weer te troetel soos die taaltrotse Franse Frans troetel. Afrikaans moet – in die woorde van P.G. du Plessis – sy trots herwin. Sy sprekers moet, in die klinkende titel van Jaap Steyn se magnum opus, ‘n “tuiste in eie taal” vind.. Die bestaande toleransie vir mense wat die taal willens en wetens besoedel/verknoei/vermoor, moet wyk.

Waar om te begin?

Alle instansies wat Afrikaans wil bevorder, sal onderlinge aksentverskille, eie agendas en eie ego’s moet vergeet, glo ek. Hulle behoort ‘n ketting te vorm. Dan kan ons gekonsolideerd en gestruktureerd begin werk aan aksies, projekte en idees.

Een konstruktiewe aksie is die Vriende van Afrikaans se boekedag met die tema: Koop vandag ‘n Afrikaanse boek. Kan dit nie uitgebou worde tot ander terreine nie? Dr Matthews Phosa het ‘n keer laat val hy en baie van sy mede-strugglers “…sal toi-toi as Afrikaans verneder of benadeel word.” Laat ons dan toi-toi as dit moet!

Om ‘n kampvuur het ek die idee gehoor dat ons ophou om “please” en “thank you” te sê. Ons kap daardie Engelse woorde uit ons woordeskat. Ons sê net “asseblief” en “dankie”, soos die Franse “silvous plaiz” en “merci” sê – diegene wat nie weet wat dit beteken nie, sal gou agterkom, en sommer ook agterkom dat Afrikaans ‘n vriendelike taal is – nie net ‘n raas-taal of baklei-taal nie.

Een-een sal geen aksie egter die brug laat bewe nie.

Ons het ‘n span nodig wat op al sy silinders vuur – ‘n span met impakspelers wat ‘n verskil kan maak. Ons het ‘n vereniging of klub nodig in elke stad en dorp in die land. Een van daardie span se eerste uitdagings sal wees om, in die idioom van die dag, die persepsie te swaai dat dit die “bad guys” is wat besorg is oor Afrikaans.

Tong in die kies: Dalk moet ons die regte “bad bad guys” aan die kaak stel soos die modekenners jaarliks die tien swaksgekledes vroue aan die kaak stel en die besgekledes ‘n pluimpie gee.

Moet iemand met aansien nie die voortou neem om die tien vrotste Afrikaanspraters in Afrikaanse geledere en die tien beste jaarliks by die naam te noem nie?

Dalk is die idee nie só tong in die kies nie (HvD)

* Geneem uit ‘n toespraak voor die Afrikanerklub in Bloemfontein in 2007.

“RUITERS VAN DIE WINDJIE”

More uit Melkbos

Die Suidooster laat hom geld en die seilplank-seisoen is in volle swang (ek weet dit moet “volle gang” wees, maar die s’e allitereer sooo lekker!)

Dit was die toneel gistermiddag om 18:00 (toe die son nog redelik hoog was) voor my woonkamervenster op Melkbosstrand. Tokkie het in ‘n stadium iets soos 90 van die “ruiters van die windjie” getel.

Vergelyk dit nou met die vorige inskrywing van die sneeu voor Gert en Caroline Pols se venster in Nederland! (HvD)