OEPS, VERKEERDE NOMMER!

More uit Melkbos

In die middel van die nag weergalm die telefoon. Jy skrik jou oorhoeks, struikel oor ‘n stoel, vlek jou tone oop om die tafelpoot en gryp met beklemming die gehoorbuis : “Van Deventer”.

Oomblik se stilte. Dan: “Oeps, verkeerde nommer, jammer.”

“Oeps se gee, aa, tee, man,” wil ek dit nog uitsis. Maar die middernagtelike verpester het haastig opgehang.

Slaap is weg. Wawyd wakker lê ek en wonder: is sulke verkeerde-nommer-oproepe regtig per ongeluk? Is dit dalk die werk van ‘n sindikaat van perverte vir wie dit ‘n magsgevoel gee om onskuldiges snags in hul slapende broosheid uit die bed te jaag en hul tone teen tafelpote disnis te stamp?

Ongeluk of nie ongeluk nie, die harde waarheid van oproepe van die oeps-kategorie is dat hulle in velerlei opsigte ontwrigtend, verwarrend – selfs rampspoedig – kan wees.

‘n Halfeeu gelede het ‘n Bloemfonteinse kennis gebuk gegaan onder ‘n nommer wat so na aan die nommer van die ou Nasionale Hospitaal was as dêmmit aan vloek. In hul nood raak mense se vingers maklik dom. Dan skakel hulle die arme drommel pleks van die hospitaal.

Weens die een of ander verwronge sin vir dienslewering het hy lank geduldig die teistering verduur, en altyd paraat-hulpvaardig die regte nommer verskaf. Sy enigste werklike grief was romantiese oomblikke wat op daardie wyse bederf is. Uiteindelik was daardie inmenging die deurslaggewende rede waarom hy stotterend om ‘n nuwe nommer gaan aansoek doen het.

Van hospitale gepraat, een van die mooi stories oor ‘n verkeerde nommer is die ene van die aspirant-vader wat besorgd die kraaminrigting skakel om na sy swanger vroutjie navraag te doen. Hy bel die krieketveld. “Hoe gaan dit daar?” “Skitterend! Drie is al uit. Ons hoop om nog een of twee voor etenstyd uit te kry!”

Tokkie beland nou die dag voor ‘n onklaar veiligheidshek by ‘n kompleks, en bel gou die huis waar sy wil gaan kuier. “Jan, dis Tokkie. Ek is by die hek. Dit wil nie oop nie. Druk gou dat ek kan inkom.” Stilte. “Tokkie wie?” Sy ruik nog nie lont nie: “Dis Tokkie van Deventer .. ek wil net vinnig inloer.”

Toe antwoord die stem met buitengewone teenwoordigheid van gees: “Kyk, Tokkie, ek is nie Jan nie, en ek ken jou nie. Maar as jy regtig graag wil inkom, is jy welkom, hoor…”

Teenwoordigheid van gees was bepaald ook nodig in die volgende scenario:

Mnr. Sakeman, pas weer getroud, is op ‘n buitelandse reis wat sommer ook as tweede wittebroodreis geld. Een middag wil hy gou-gou sy kantoor in Pretoria bel. Uit gewoonte skakel hy per abuis sy vorige huisnommer waar eggenote nommer een antwoord gee, verras om die bekende stem te hoor.

Dit word toe ‘n taamlik ongemaklike gesprek met eggenote nommer twee nie net ‘n belangstellende luisteraar nie, maar ‘n deelnemer met allerlei siniese kommentare. Die wiitebroodspaar was geruime tyd, soos ‘n vriend dit stel, “op rookseine”.

Identiteitsverwarring kan erg skeefloop.

‘n Man bel sy huis. “ Hi, Poplap, dis Pappa … is Mamma naby die telefoon?”

“Nee Pappa, sy’s in die boonste slaapkamer saam met Oom Frans.”

”Oom Frans….? Wie is Oom Frans?|”

“Oom Frans van die gimnasium.”

In die slaapkamer, sê jy? Luister nou mooi. Sit neer die telefoon.
Gaan klop aan die deur en skree hard dat Pappa se motor nou net by die hek ingery het.”

’n Paar minute verloop. Die meisietjie tel weer die gehoorbuis op: “Ek het gedoen wat Pappa gesê het.”

“En wat het gebeur?”

”Oom Frans het groot geskrik, uit die bed gespring sonder klere aan en weggehardloop, by die hekkie uit. Mamma het nog groter geskrik. Sy het, ook sonder klere aan, by die venster uitgeduik. Sy’t seker vergeet Pappa het laas week die water van die swembad uitgetap. Ek dink sy het baie seergekry.”

L-a-a-a-a-ng stilte. Toe kom Pappa se stem: “Swembad???
Is dit 555-7039?”

“Nee, dis 555-7093.”

“O magtig! Jammer, verkeerde nommer!”

’n Ware storie oor gekruisde lyne is van die groentjie-verslaggewer by die destydse “Rand Daily Mail” wat opdrag gekry het om mnr. Chris Heunis, minister, te bel vir sy kommentaar op die een of ander verwikkeling.

Die jong man raadpleeg toe die telefoongids, kry daar C.J. Heunis en skakel. “Nee,” antwoord dié, “van daardie saak weet hy bokkerol” (hy’t ’n sterker woord gebruik). Vir impak voeg hy sommer ’n paar minagtende kragwoorde by wat almal hul weg tot in die “RDM” se kolomme vind.

Toe die minister boos bel en kla dat hy nooit sulke dinge kwytgeraak het nie, bring ’n vinnige ondersoek aan die lig daar was inderdaad ’n “ligte mistykie”.

Die verslaggewer het C.J. Heunis die loodgieter gebel!

Ander kommunikasiemetodes, soos die faks en die SMS, lewer hul eie komplikasies op as die sender se konsentrasie nie een honderd persent is nie.

Ekself het dit beleef rondom ‘n regsmening wat ek aangevra het oor onder meer ‘n jong kollega se ontwrigtende amoreuse aktiwiteite op kantoor. Die prokureur gee die groen lig vir summiere ontslag. Toe faks die prokureur se sekretaresse per abuis die bose dokument vir die oortreder pleks van vir my. Toeskouers vertel hy was byna deur die dak toe hy die verdoemende woorde begin lees.

My gunstelingstorie in hierdie kader is oor die SMS wat by die verkeerde adres aangekom het – by ‘n tante wat pas weduwee geword het. Boonop kondig die selfoon die aankoms van ‘n boodskap aan pas nadat sy by die huis aangekom het ná die teraardebestelling.

Skielik skeur ‘n angswekkende gil uit haar mond, gooi sy die selfoon dat dit doer trek en syg flou op die mat neer.

Nadat vriendinne die tante gelawe het, kyk een wat in die SMS haar dan nou só tot ‘n floute ontstel het. Die SMS was vreemd en van ‘n onbekende nommer. Hulle bel toe die nommer en kom by ‘n man uit wat groot om verskoning vra.

Hy wou eintlik sy eie geliefde vroutjie SMS, maar toe ruil hy per ongeluk twee syfertjies om, verduidelik die onbekende, ‘n argeoloog wat dié middag by ‘n klein halfster-hotelletjie iewers in die onherbergsame Transkeise platteland ingeboek het. Sy vrou sou die volgende week by hom kom aansluit om te help.

Toe’s dit ‘n oepsie. Die treurende weduwee lees tot haar ontreddering die volgende: “My liewe vrou, het veilig hier aangekom ná n lang reis. Hier is wraggies selfoon-opvangs Dit is vrek-warm. Die kamertjie en kos lyk oes, maar ons sal maar moet vasbyt. Kan nie wag totdat jy volgende Woensdag kom nie. Liefde. Jou man.” (HvD)

VERKEERDE PERD OPGESAAL!

Middag uit Melkbos

“Jippie-jippie jip, ou pêhert!”

Ek dag altyd Chris Blignaut se immergroen liedjie “Ou Ryperd” (deur Dozi nuwe lewe ingeblaas) is só Afrikaans soos koeksisters.

Een van die musikale ontnugterings van my amper 70 jaar op aarde was toe ek verneem dit dra eintlik die stempel “Made in the U.S.A.”

“Ou Ryperd” is inderdaad ʼn vrye vertaling/interpretasie van die VSA se “Old Faithful we roam the range together”.

Ja, ‘n perd nie net van ‘n ander kleur nie, maar ook van ‘n ander taal, land en kultuur.

Gaan luister maar – Amerika se “Old Faithful” en ons Boere se “”Ou Ryperd” is vinkel en koljander.

Wat opval uit die lirieke is dat die perd in die Amerikaanse weergawe ‘n naam het en die nooi nie. In Afrikaans is dit andersom. Is die Amerikaners liewer vir hul perde en ons vir ons meisies?

Só sing Chris Blignaut en Dozi:

Ou Ryperd, ons ry die pad tesame
Ou Ryperd, so deur die lewensbane
Wanneer jou rydag oor is,
Gaan jou ou lyf lekker rus
Jy, ou Ryperd van my.

Jaag maar aan ou maat
Die maan skyn helder (heller!) vanaand
Jaag maar aan ou maat
My nooientjie sy wag vir my vanaand
O hoor hoe tjank die jakkals op die rivier se brug
En dra my op jou lekker ou rug
Jaag maar aan ou maat,
want my nooientjie sy wag daar vanaand.

KOOR:

Jippie Jippie Jip (x2)
My ou perd
Daar is voer en rus
En jy doen jou bes my ou perd
Dra my oor die rivier se brug
Dra my op jou lekke ou rug
Na my nooi Sannie
Die dogter van Tant Annie op die plaas.

En hier is die lirieke van “Old Faithful”:

Old faithful, we roam the range together
Old Faithful in any kind of weather,
When the round up days are over,
And the boulevard’s white with clover,
For you old faithful pal of mine.
Giddy up old fella cos the moon is yellow tonight,
Giddy up old fella cos the moon is mellow & bright,
There’s a coyote crying at the moon above,
Carry me back to the one I love,
And you, old faithful pal of mine.

Nog iets wat ek nie geweet het nie (ek lees dit op die internet) is dat die Tukkies in ‘n stadium (wanneer?) daarvan ‘n patriotiese intervarsity-lied gemaak het:

“Stad van die noorde, O ek verlang na jouhou/ Stad van die noorde, die jakarandas is weer blou-ou/ Al my lief en leed het ek daar aanskou/ op jou wil ek my toekoms bou? Voortrekkerstad, ou Pretoria/ Elke ou Tukkie verlang na jou/ Ons Alma Mater sal ons nooit vergeet nie/ Ou Pretoria …”

Is ek dan ‘n vreemdeling in Jerusalem dat ek hierdie goeters nie geweet het nie? (HvD)

AGTER TRALIES

Middag uit Melkbos

Nogal boeiend, en nie sonder ‘n tikkie humor nie, is pastoor Philip Kruger se vertelling aan Hanlie Retief van sy kuddetjie agter die tralies van die Sentrale Gevangenis in vanoggend se Rapport.

Laat my dink aan die Kweekskool-proffie wat vir sy klas tokkelokke twee voorbeelde van opperste vrymoedigheid gegee het.

Een is juis so ‘n kudde soos pastoor Philip s’n wat op ‘n Sondag die gereelde erediens agter die tralies uit volle bors inlui met:

“Here Jesus, ons is saam
hier op U BEVEL vergader!”

Die tweede, terloops, is van die begrafnisondernemer wat elke oggend ernstig bid:

“Gee ons vandag ons DAAGLIKSE BROOD….” (HvD)

MAAND VAN VIERLINGE

More uit Melkbos

Vandag, Saterdag 6 Februarie 2010, is die eerste Saterdag van vier in dié maand. More, Sondag 7 Februarie, is ook die eerste Sondag van vier.

Volg hierdie leidraad, en ontdek Februarie 2010 is nie sommerso se maand nie Sy gelyke kom net een keer in 11 jaar verby. Dit maak hom heelwat uitsonderliker as die “blou maan” (twee volmane in een maand) waaroor ek Oujaarsdag opgewonde was. Dié duik elke twee tot drie jaar op.

Nog nie agtergekom wat Februarie 2010 onderskei nie?

Tel dan ook die Maandae, Dinsdae, Woensdae, Donderdae en Vrydae. Almal kom in ‘n identiese pakkie van vier – ‘n maand van vierlinge as ‘t ware !

Sewe maal vier is gelyk aan 28 dae. QED. (HvD)

Ns. Jammer, kon nie my hand lê op ‘n los Afrikaanse almanak om in te skandeer nie.

KROONJUWELE VAN DIE KAMPUS

Middag uit Melkbos

Van die joolkoninginne van my tyd op Tukkies (1958 – 62) onthou ek net drie, Johanna Cilliers (1959), Marguerite Deale (1961) en Tokkie van Staden (1962). Die Tukkie-argiefmense sit ook met die hande in die hare oor die ander. Hoop iemand kan help.

Johanna was ‘n lang, lenige blondine – so ‘n klassieke Skandinawiese soort skoonheid. Ek vermoed die meeste Tukkiemans was half lugtig vir haar, en sou nie sommer vir hulle enige vrypostigheid veroorloof nie. Sy is later met die rugbyspeler Stronkie Stronkhorst (‘n agsteman) getroud.

As die fraaie Anneline Kriel (1974) die mooiste joolnooi van almal was (HvD se blog van 02/02/10), was my tydgenoot Marguerite (1961) waarskynlik baie naby aan die elegantste.

Kyk mooi na die foto hierbo. Perdeby-fotograaf Dirk Cloete het die stralende Marguerite in haar ouerhuis afgeneem by die finale passing van haar droomrok twee dae voor haar kroning. Toe sy haar verskyning bo by die siertrappe maak, was sy vir my die toonbeeld van ‘n “Southern belle” uit die 1939-Hollwood-treffer “Gone with wind”. Dit kon net sowel Scarlett O’Hara (Vivien Leigh), ster van dié immergroen rolprent, gewees het wat soos ‘n standbeeld daar staan.

My teenwoordigheid by die geleentheid word verklaar deur my redakteurskap van die studentekoerant “Die Perdeby” in die jaar dat sy die joolsepter geswaai het. Ek was by om ‘n berig te maak vir die Vrydag se “Perdeby” oor die joolkongin wie se identiteit op daardie oomblik nog ‘n geheim was. “By” was by – ‘n “scoop” vir my koerant.

By? Wel, darem nou nie heeltemal by nie. Ek en Dirk was was nie toeskouers toe die dramatiese wit aandrok oor Marguerite se skouers glip nie, maar het bedeesd onder in die sitkamer sit en wag vir die “grand entréé”. Ons was nie min jaloers nie op die ontwerper se vrye toegang tot die binnekamer. Oningewy in sulke dinge, was só ‘n privilegie vir ons ongehoord!

Die Saterdag met die optog was Marguerite ‘n koninklike figuur hoog op die hoofsierwa saam met haar prinsesse, Gerda de Bruyn; Ivette Bauristhene; Florence Wiid en Dawn Coetzee (foto hierby). Gerda het later mev. Oupa du Piesanie geword. Die kookwater-flank was Tukkies en die Blou Bulle se rugbykaptein.

Tokkie en haar span prinsesse van 1962, Lilette du Plessis, Marianne van Oudtshoorn, Gerdia Neethling en Hazel Kaurill – ek onthou veral vir die pragtige Gerdia (wat jonk-jonk in ‘n motorongeluk dood is) en Marianne met bewondering en deernis – het een Sondag by Kollege-tehuis kom eet. Ons koshuis was in 1962 die bouers van die hoofsierwa omdat ons sierwa in 1961 as die beste bekroon was, en hulle het kom dankie sê.

Ek was huisvoorsitter en gasheer by die ete in my swart pak met die fyn wit strepies. Terwyl ons aansit, dra van die moedswillige Kollegemanne toe my Fiat 500-stasiewaentjie (om die beurt bekend as die “Grassnyer” of die “Skoolbus”) weg. My ego was bra afgeblaas toe ek ná ete my kosbare vrag (Gerdia en nog een van die prinsesse) wou Asterhof toe bring en my wiele is (minstens ‘n paar minute) skoonveld!

Ons Kollegemanne het nie ‘n slegte “job” gedoen met ons sierwabouery nie, al moet ek dit dan nou self sê. Dit was ‘n kleurryke “swanemeer”, getrek deur ‘n swaan, waarvan die nek dalk ietwat eleganter kon gewees het. Die skoonhede was op groot waterlelies, alles uit gevoude kreukelpapier vervaardig. Die raamwerk was van ogiesdraad.

Op die foto hierby beur Kollege se wa met die kroonjuwele van die kampus, Tokkie, Gerdia, Marianne, Lilette en Hazel, om Kerkplein tussen die skare waarderende jooltoeskouers deur.

Mintag, die huisvoorsitter was ingenome met sy manne se pragstuk, en die gekneusde ego weens die Fiat-episode sommer weer punt in die wind! (HvD)

‘BIETJIE STOUT’ OOR MANDELA

More uit Melkbos

Net ‘n week ná 2 Februarie 1990 maak die dinamiese nuwe leier F.W. de Klerk toe weer groot nuus – hierdie keer met die vrylating van Nelson Mandela. Daaromheen pleeg die uwe toe ‘n stoutigheidjie wat in bepaalde kringe nie met akklamasie ontvang is nie.

Maar laat ons chronologies die saak benader:

Saterdag 11 Februarie is koorsagtig agter die skerms gewerk om al die los drade vir die epogmakende aankondiging oor die dag en datum vas te knoop. Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond was toevallig in sessie op ‘n plaas buite Stellenbosch, ietwat afgehaal omdat De Klerk wat die hoofdis op die program sou wees, deur “ander, belangriker sake” weggehou word.

Maar terwyl die Broers die aand sesuur die aankondiging oor Mandela op die TV-skerm volg, wie stap skielik daar in? Die Man van die Oomblik self, Broer F.W.! Die atmosfeer was tintelend. KWV se Roodeberg en Chenin Blanc is uitgehaal om feesvierende glasies te klink.

Later bel pres. George Bush die De Klerk-woning en laat ‘n boodskap. De Klerk bel terug. Uit die sitkamer van die manjifieke plaasopstal met sy swaar geelhoutbalke. Hy word o.m. deur ‘n dankbare Bush na die Wit Huis genooi.

Die gesprek het presies 11 minute lank geduur, deel hy die huisbaas, Piet Carinus, later met ‘n breë glimlag mee, maar die moenie bekommerd wees nie; sy kantoor sal kom regmaak.

Nee, kap dié terug, die geld soek hy nie; net die tjek, asseblief – as ‘n aandenking van ‘n gedenkwaardige aand.

Sondag 12 Februarie, nadat ek lank gewik en geweeg het, besluit ek, terug in Bloemfontein, dit is ‘n storie wat te goed is om nie geskryf te word nie. Ek voeg die daad by die woord. Ek gaan egter uit my pad om vertroulikheid te eerbiedig; noem glad nie die AB of die plaas of die eienaar se naam nie, praat net van “vriende” by wie De Klerk was.

Maar klaarblyklik was ek nie versigtig genoeg nie. Vroeg die Maandag 13 Februarie vroeg is die vet in die vuur. Die AB is ontsteld. Ander UR-lede ook. Die President van die land is in die verleentheid gestel. Prof. Peter de Lange, Voorsitter van die AB, raai strammerig aan dat ek liewer self Tuynhuys toe bel.

Wat ek toe dadelik doen.

Maar nee wat, sê De Klerk, al was ek ‘n “bietjie stout”, is geen skade gely nie. Hy het nie slapelose nagte oor die berig nie; ek hoef ook nie te hê nie.

Dankie, sê ek, ek wou ‘n mooi rubriek oor hom skryf, nou sal ek dit nog mooier maak. Moenie, skerts hy terug, as hy dit lees, sal hy weet ek bedoel dit nie opreg nie; daar is ‘n bymotief.

Einde van daardie episode. Ai, as alle haakplekke met die pers maar so gemaklik en flink gehanteer kon word! (HvD)

(Uit: Kroniek van ‘n Koerantman, Tarlehoet-uitgewerr, 1998)