Feb 19, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
In die sogenaamde lotto-debakel rondom die stomme Philanders van Kaapstad staan twee feite uit:
(i) Die Philanders het ‘n lang kans gewaag, wat nie afgekom het nie;
(ii) Die media was slonsig en aan die slaap.
Al die verwarring by mense wat nie kan verstaan wat gebeur het nie, vrese oor bedrog, aandrang op onafhanklike ondersoeke en suggesties dat die ware wenners die prysgeld met die Philanders deel, is dus loutere onsin, omdat dit alles op wanpersepsies berus.
Ag, hierdie ou man wat 12 jaar gelede al sy kantoordeur by Naspers agter hom toegetrek het, het tog nie die strewe om ‘n tweede-linie-ombudsman te wees wat mediakwessies probeer uitpluis nie. Oor hierdie geval word egter só bontgepraat dat dit eenvoudig onmoontlik is om te bly swyg.
In die stukkie hierbo wat as illustrasie dien, kom ene Brigitte Ottermann die media sterk by oor vrot joernalistiek. Volgens haar “the media messed up big time”. Daaroor stem ek met haar van harte saam.
Kernfeite is nie voor publikasie gekontroleer nie – amper ‘n klassieke surreksie van die skertsende opmerking by koerante in my tyd: “Don’t let the facts interfere with a good story!”
Die enigste scenario is immers dat die Philanders se “wenkaartjie” gekoop is NADAT die uitslag van die betrokke trekking aangekondig is. Geen ander verklaring bestaan nie. Hoe maklik is dit dan nie om die (reeds aangekondigde) wennommers in te vul nie!
Daarna laat die poniekoerant “Son” toe dat hy met slap pap in ‘n
wip gevang word. Waarskynlik om die boereverneukery met die agterna-gekoopte kaartjie geloofwaardigheid te probeer gee, kry hy ‘n wenk dat die Philanders die R91 miljoen gewen het.
Sy verslaggewer en fotograaf val só oor hul voete om die “groot storie” in die koerant te kry dat hulle die mees basiese joernalistieke eis veronagsaam: om van hul feite seker te maak. Een kyk na die datum op die kaartjie sou die Philanders immers as kansvatters ontmasker het.
Maar nee, “Son” publiseer. Niemand op kantoor langs die linie af vra die klaarblyklike vrae nie.
Toe volg ander koerante en media holderstebolder. “Son” se storie word uitasem opgevolg. Maar steeds bly die kernvraag oor die geldigheid van die kaartjie onbeantwoord.
Watter onsin om dan daarna, welwetende wat die feite is, in die opskrif van ‘n hoofberig, nogal, vroom te verklaar: “n Droom lê aan skerwe”! Dis mos die opperste leser-misleiding. Al droom wat aan skerwe was, was klaarblyklik die Philanders se droom om R91 miljoen met ‘n slenter in te palm.
Ook me. Ottermann tas in hierdie opsig mis en kom ná al haar (ander) korrekte ontledings by die verstommende slotsom uit dat die Philanders onskuldige slagoffers van die bokkerop was, wat almal se simpatie verdien.
Sy wil selfs sien dat die ware wenners hul prysgeld met die Philanders deel. Goeie aarde, hoe maklik sal dit nie vir ander opportuniste wees om vorentoe dieselfde slenter uit te haal en dan te kom bakhand staan oor “n droom aan skerwe” nie?
Die Philanders se haglike omstandighede en klaarblyklike naïwiteit noop ‘n mens om instinktief met ‘n “ag siestog” te reageer. Maar die harde waarheid is: hulle het geweet wat hulle doen. Toe verbrand hulle hul vingers.
Dus “Droom aan skerwe” se voet. Die munt het egter ook ‘n keersy. Dit is dat die media ‘n dure plig teenoor hul lesers/kykers het om openhartig te wees oor hoe hulle kontroles op ‘n kritieke punt só klaaglik gefaal het. Ek het nog nêrens werklike boetedoening hieroor gesien nie – ook nie in vanoggend se Ombudsmanrubriek in “Die Burger” nie. (HvD)
Feb 17, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
In Kerkbode van 19 Februarie het ‘n gewaardeerde resensie van my jongste boek “”Byl in my bos” uit die pen van Frits Gaum verskyn onder die opskrif: “Ligloop in Van Deventer se bos”. Ek deel dit graag met nie-lesers van Kerkbode:
LIGLOOP IN VAN DEVENTER SE BOS
BYL IN MY BOS DEUR HENNIE VAN DEVENTER
UITGEWER: GRIFFEL MEDIA
BLADSYE: 213
PRYS: R165
RESENSENT: FRITS GAUM
Hennie van Deventer is ‘n deurwinterde koerantman wat diep spore in die Vrystaatse en Suid-Afrikaanse koerantwêreld getrap het, en op die hoogtepunt van sy loopbaan as uitvoerende hoof van Naspers se koerante (te vroeg?) afgetree het.In 14 boeiende boeke skryf hy dikwels oor persone en persoonlikhede wat sy koerantpad gekruis het.
In hierdie boek vertel hy met ‘n vonkel in die oog oor bekendes, minder bekendes en onbekendes met wie hy te doen gekry het en vir wie die Boskapper se byl reeds almal bygekom het. Soms is dit net ‘n klein kamee, ander kere ‘n langer en vollediger vertelling oor ‘n persoon vir wie Van Deventer goed geken het.Soms is dit met groot bewondering (Wynand Mouton), soms minder so (Andries Treurnicht). Soms is dit dalk ‘n bietjie skerp (Marieke de Klerk), soms met egte waadering (Tini Vorster). Soms is dit met naby-kennis (Tienie Zeeman), soms ‘n bietjie meer op ‘n afstand (Johan Heyns).
Van Deventer het op 39 redakteur van Die Volksblad geword in ‘n tyd toe Naspers goed gedink het voordat hy sy redakteurskappe aan jong Turke gegee het. Hy was voorheen 11 jaar lank lid van dié koerant se redaksie, en op die ou end12 jaar lank redakteur. Hy het in daardie tyd deel geword van die Vrystaatse kultuur en het die Vrystaters van binne-uit leer ken.En dit in die moeilike jare toe Afrikaners meestal nie langs dieselfde vuur gesit het nie. Baie van die vertellings gaan oor die woelinge van daardie dae – van vriendskappe (met byvoorbeeld PW Botha, oorspronklik ‘n Vrystater) en jagtogte (met byvoorbeeld PW Botha) en botsings (met byvoorbeeld PW Botha). Van Deventer was ‘n “verligte” redakteur toe verligtheid partykeer in die Vrystaat skeef aangekyk is, maar hy en sy koerant was tog wyd gewaardeer. En hy was as die redakteur van ‘n belangrike meningvormende koerant welkom in geselskappe wat nie vir almal beskore is nie.
Dit is goed om hier ook te boekstaaf dat Hennie van Deventer, kerkman wat hy is, later as Naspers se uitvoerende hoof van koerante ‘n belangrike rol gespeel het dat Algemene Kerkbode ‘n paar jaar lank gereeld as bylae in al die Afrikaanse dagblaaie ingevoeg is.
Van Deventer raak ‘n bietjie melankolies as hy besef dat die byl al hier en daar naby aan hom geflits het: “‘n Gevoel van verlies pak jou beet; spyt oor verhoudings wat afgekap is; belowende vriendskappe wat onvoldoende ontwikkel is … Verwyte knaag oor ‘n versoenende woord wat nie betyds gespreek is nie, of ‘n verskoning wat agterweë gebly het. Intussen bly die Byl onstuitbaar kap … en kap … en kap.” Maar humor ontbreek ook nie: “Te veel droefgeestigheid sou so ‘n wandeling op ou bospaadjies darem dodelik vervelig gemaak het, nie waar nie?”
Dis ‘n mooi boek, soms ‘n roerende boek, wat groot en klein mense weer ‘n oomblik lank lewensgroot voor jou laat staan voordat hulle die vergetelheid instap.
(HvD)
Feb 16, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Gisteraand, eergisteraand, ná twee glasies wyn, raak ek aangedaan oor my ontslape studentevriend Jaap de V. Neethling, wat in 1958 saam met my eerstejaar (ienk) in Kollegtehuis was.
Hy het as Japie op Tukkies aangekom. Gou het ons hom Jaap genoem, of partymaal Jaap de Vee. Later het hy “Moses se hond” geword weens ‘n beweerde ooreenkoms in gelaastrekke met die troeteldier van Moses, Griekse eienaar van ‘n kafee op die hoek naby die koshuis.
Die innemende Jaap had ‘n fyn humorsin wat hom geliefd gemaak het. Die naam “Moses se hond” het hy hom met ‘n vrolike laggie laat welgeval.
Japie (Jaap, Jaap de Vee, Moses se hond) was ‘n slim Vrystaatse seun (uit Boshof, meen ek) met ‘n paar matriekonderskeidings agter sy naam. Hy was ‘n meelewende koshuismaat wat, ook as ienk, gretig aan alles wou meedoen. Ongelukkig kon hy nie. Hy was gestremd, met ‘n boggel wat sy skraal lyf se balans erg versteur het. Loop was vir hom ‘n inspanning.
Dié las het Jaap blymoedig gedra. Na my wete het hy nooit gesug of gekla nie. Wel het dinge een laataand in sy eerste jaar (of dalk sy tweede) blykbaar vir hom baie swaar geword. Hy is alleen in die toring van die Ou Letteregebou op met bedoelinge waaroor ek my nie kan uitlaat nie, omdat die insident tussen ons nooit ter sprake was nie.
Fanie van Huysteen, Kollege se huisvoorsitter in 1959, het hom daar gekry en, vermoed ek, op sy rustige manier met Jaap gepraat. Die uiteinde was dat Jaap saam met hom af ondertoe is.
In die studentelewe het Jaap aktief aan nie-fisieke aktiwiteite soos fotografie en skaak deelgeneem. Hy was voorsitter of ondervoorsitter van die fotografie – en die skaakvereniging. Van sy treffende fotostudies het in die Tukkie-jaarblad, Trek, verskyn.
In 1960 is Kollege na die proefplaas verplant, met ‘n swetterjoel eerstejaars en die brandende ambisie by die HK om sommer met die intrap diep spore op die kampus te trap. Die eerste geleentheid was die ienksport. Dit was nie ‘n sommerso-geleentheid nie. Die atlete is intensief afgerig.
Gelukkig onthou ek toe dat Jaap op skool bestuurder van die atletiekspan was. Ons vra hom of hy die ienskport op sy skouers sou neem en hy willig dadelik in.
Sy entoesiasme was aansteeklik. Elke middag is hy skeef-skeef op sy fiets die iets oor die twee kilometer van die proefplaas kampus toe met sy atlete, stophorlosie, maatband en wat nog.
Hoe nader ienksport gekom het, hoe harder het Jaap gewerk, en des te sterker kon jy sy vasberadenheid en selfvertroue dag vir dag sien groei. Toe die Saterdag aanbreek, was Jaap se span gereed. Dit was ‘n triomf soos die atlete met ‘n K (vir Kollege) op die bors die wennerspodium in ‘n stroom bestyg. Kollege het loshande gewen.
Vir die eerste keer word ‘n HK-aflos toe by die program ingesluit. Ek moes die laaste been hardloop, ‘n 220. Só asof my lewe daarvan afhang het ek nog nooit ‘n 220 gehardloop nie. Toe my bors die lint tref, was ek net dankbaar dat ek Jaap en Kollege nie in die steek gelaat het nie.
Ek het Jaap die laaste keer gesien by die een of ander koshuis-reünie in die jare 80. Hy het ‘n lojale Kollegeman gebly, en het gereeld reünies bygewoon – in my boekie ‘n belangrike maatstaf van die stoffasie waarvan iemand gemaak is. Presies wanneer hy oorlede is, weet ek nie. Die afgetakelde lyf het eenvoudig mettertyd al hoe meer ingegee.
By nadenke, ná al die jare, twyfel ek of Jaap ooit naastenby die eer gekry het wat hom toegekom het vir die “nuwe” Kollege se eerste groot voetspoor as koshuis, en die tradisie van presteer op elke terrein wat dit ingelui het.
Wat ek nie kan glo nie nie, is hoe op deeske aarde ek daarin kon slaag om ‘n boek soos “Byl in my bos” te skryf sonder om só ‘n groot gees soos Jaap de Vee in te sluit. Ekskuus, ou maat, vir ‘n yslike blaps! (HvD)
Feb 15, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
‘n “Studentikose: gegiggel noem Dawie van Die Burger die stout laggie van Jacob Zuma wat gepaard gegaan het met die noem van die naam in sy staatsrede van sy hoge sokkervriend, Irvin Khoza, wie se dogter hy in die ander tyd gesit het.
“Studentikoos” – oulike beskrywing.
Daardie giggel was nie Zuma se enigste nie. Feitlik elke keer as hy na een van die ander ampstale oorslaan, was dit of iets die man kielie.
Vroeg in sy rede het hy in Afrikaans kwytgeraak: “Saam kan ons meer bereik”, of iets dergeliks. Dit is ook gevolg deur ‘n giggeltjie, wat die indruk wek dat sy tersyde opmerkings in die ander tale soortgelyk kon wees. Onskuldige slagspreuke dus.
Of was sy giggel-laggie in die ander gevalle dalk net ietwat skalkser? Was dit dalk stekies wat op onkundige ore verlore gegaan het?
Kan iemand nie vir hierdie nuuskierige ou die sluier lig nie? (HvD)
Naskrif: Met die woord “studentikoos” het ek in 1961 kennis gemaak. Die nasionale ASB-kongres op Strellenbosch is afgesluit met ‘n konsert in Bellville se stadskouburg. Die uwe was seremoniemeester.
W.E.G. Louw – niemand minder nie – het kom resensie skryf vir Die Burger. HvD se bydrae tipeer die gedugte Gladstone toe as “studentikose grapjastery”.
Dis amper 50 jaar later en ek is steeds onseker of dit ‘n pluimpie of n raps op die vingers was!
Feb 13, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Kan nie waar wees nie, hier’s ou HvD waaragtig terug by sy joolkoninginne! Raak die man nie moeg om só op dieselle snaar te tokkel nie?
Ja, ek hoor in my verbeelding dié versugting. Tokkie raak ook al ietwat nurks oor dié ge-tokkelry.
Maar hier’s my getuienis ter versagting. Ek sit voor my met ‘n (amper) volledige lys van Tukkies se joolkonginne en –prinsesse van 1955 af (met komplimente van Tukkies se argief). En dis ‘n boeiende oefening om só deur die name van die bekende en onbekende skones te werk, hoor.
Almal weet dat Anneline Kriel (1974) Mej. Wêreld was. Dié ongekunstelde meisie van Witbank het in dieselfde jaar ook die gesogte Mej. Wêreldkroon verower. Watter sensasie was dit nie!
Carike Keuzenkamp (1967) is ewe bekend. Sy is een van ons voorste sangeresse van ligte liedjies, wat steeds die treffers inryg.
Weet iemand egter hoeveel aktrises via die jool-koninklikes kom? Ek tel vyf. Drie was koninginne: Helga van Wyk (1966), Carike en Anneline, en twee was prinsesse: Suzanne van Oudsthoorn (1965) en Jana Cilliers (1969).
Helga was in “Hoor my lied”, Carike in “Professor en die prikkelpop” waarin sy in haar nagkabaai “Timothy gesing het, Anneline in die Amerikaanse film “Kill and Kill Again”, Suzanne in “Debbie” en Jana natuurlik in hope TV-stories (o.m. “Fees van die Ongenooides”) en verhoogstukke (o.m. “Opdrag: Ingrid Jonker”).
Dié talentvolle dogter van wyle Oom Bags Cilliers en die skilder Bettie-Cilliers-Barnard., is trouens een van die blinkste Afrikaanse sterre van die laaste dekades.
Nog ‘n bekende is Gaynor Downie (1972) wat vandag Johann Rupert, ‘n studenteliefde, se vrou is.
Dat skoonheid in families loop, bewys die twee Van Oudtshoorn-susters, Marianne en Suzanne, wat albei prinsesse was – Marianne in 1962 en Suzanne drie jaar later.
In 2002 was die koningin Arina Pistorius en in 2003 Amalie Pistorius. In 2004 was Annie Pistorius ‘n prinses. Weet nie of hulle dalk susters was nie, maar die name, Arina, Amalie en Anna, suggereer ‘n band.
Ten slotte deel ek graag mee dat ek drie Van Deventer-nooiens onder die name van die prinsesse raakloop: Marianne (1974), Anita (1981) en Retha (1993). ‘n Mens is dankbaar as die stamnaam ook op hierdie terrein hoog gehou word! (HvD)
.
.
Feb 12, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Lennit Max, gewese polisiekommissaris wat Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid geword het, is skielik met verlof na bewerings van indiskresie. ‘n Gewese polisieklerk, Belinda Petersen, loop en stories vertel oor wat o.m. in die geheim in sy kantoor, huis en ‘n plaaslike hotel tussen hulle sou gebeur het.
Vandag se voorbladnuus is episode drie van die Lennit Max-storie wat in 2003 begin het. Mense met lang geheues sal onthou dat in daardie jaar druk op Max uitgeoefen is om op ouderdom 41 jaar onverwags vroeg uit die polisiediens te tree.
Gerugte wou dat ‘n “oorlog” tussen Max en ‘n adjunk- kommissaris, Zelda Holtzman, ‘n rol gespeel het. Dié “oorlog” het, volgens koerante, begin toe sy uit sy kantoor gestorm en die deur toegeklap het. ‘n Klag van onder meer seksuele teistering teen Max het gevolg. Dit is ongegrond bevind.
Holtman het bedank en van die toneel verdwyn. Die troebelheid rondom Max se uittrede is nooit opgeklaar nie.
Max is daarna politiek toe. Sy politieke loopbaan het begin by die Onafhanklike Demokrate. Hy het tot Wes-Kaapse leier van die OD gevorder. ‘n Allemintige rusie het egter in 2005 tussen hom en die nasionale leier, Patricia de Lille, losgebars. Max is as Wes-Kaapse leier geskors, en De Lille het beweer hy is oneerlik deurdat hy by geleentheid van die party se geld misbruik het vir hotelverblyf en alkohol. Dit was episode twee.
Minder as ‘n jaar gelede het die D.A.-premier, Helen Zille, hom, desondanks, in haar omstrede net-vir-mans-kabinet aangestel.
In hierdie blog het die uwe op 27 April 2009, dae voor sy aanstelling, Max se geskiedenis opgehaal en gewaarsku dat Zille liefs rustig moet oorweeg of dit wys sal wees om iemand met soveel bagasie tot ‘n leiersrol in die “nuwe Wes-Kaap” te bevorder.
Hoe sleg die premier haar vingers verbrand het met Max se aanstelling sal die tyd leer. Laat ek billik wees: in hierdie stadium is mej. Petersen se stories nog net bewerings.
Maar skuldig of onskuldig, is dit ‘n feit dat ongemaklikheid oor sy doen en late Max nou al jare agtervolg.
Hierdie gryse waarnemer vind dit vreemd dat Zille só deurgedons het met sy bevordering tot in haar kabinet, maar nou-ja, sy lees nie hierdie blog nie, en die koerante het die Max-kwessie met sy herrysenis tot ministerskandidaat maar soetjies-soetjies gehanteer. Te soetjies, dink ek.
Dis slegte maniere om tong uit te steek. Maar mag ek darem net sê, soos Winston Churchill op ‘n keer: “I have not always been wrong!” (HvD)