DUIWE MET ROOI VLERKE

More uit Melkbos

In die Nasionale Wildernispark aan die Tuinroete is Knysnaloeries so algemeen dat die mense daar praat van die “duiwe met die rooi vlerke”.

Hierdie ene het ek in ‘n soort trosvyboom voor ons houthut, nommer 28, afgeneem te midde van ‘n vrugtefees.

In daardie boom het die loeries gekom gegegaan. In ‘n stadium was ses in die takke.

In die week in die Suid-Kaap het ek en Tokkie maklik 15 loeries gesien, en elke keer was ons opgewonde.

Dit bly ‘n besonderse verteenwoordiger van Suid-Afrika se gevleuelde reenboognasie. (HvD)

TAMATIESTRAAT

Middag uit Melkbos

Praat-praat in Tamatiestraat – dis die titel van ‘n nuwe HvD-humorboekie wat oor ‘n maand of wat by Griffel Media verskyn. Die uwe brand van opgewondenheid.

Die “honderde stories” in die boekie kom hoofsaaklik uit my eie twee bloggies, “hvd se blog” op Yahoo by www.hennievandeventer.com/hvdblog en “uit melkbos” op LitNet by http://letterdash.com/hvandeventer. Stukkies is herwin uit die dagblad Beeld se My-Storie-rubriek by www.beeld.com.

Griffel stel Tamatiestraat op sy webblad soos volg bekend – wat hier staan is dus op sy rekening:

“‘n Arme drommel wil ‘n einde maak aan alles – toe word sy ’sterfbed’ onder hom uit gekaap. Ouma se rooi nagrok verdwyn geheimsinnig uit die outehuis op romantiese uitstappies. ‘n Entoesiastiese dame sonder ‘n draad storm met ‘n oorlogskreet op haar lippe swembad toe – en ontdek, tot in haar siel geskok, ‘n onverwagte toeskouer.

“Hennie van Deventer se plesierige storiebundel weerspieël allerlei verleenthede, skades en skandes wat hy in sy kleurryke omswerwinge slagoffers sien en hoor oorkom het, of, helaas, self oorgekom het. Met die fyn oor van die joernalis het hy ‘n ryke storie-oes opgebou. In Praat-praat in Tamatiestraat is letterlik honderde stories met ‘n vaardige pen verewig – eg of apokrief, en plek-plek met meer as net ‘n knippie stout!

“Sy wye repertoire huppel ligvoets oor ‘n 70-stuks kostelike hoofstukke. ‘n Legio vrugbare temas word ontgin: die stuitighede by begrafnisse; die vuur en avontuur van opwindende laatliefdes; krom en skewe kommunikasie; dikvellige kuiergaste; mediese moleste, betjoinste boetebessies … noem maar op.

“In sy vyftiende boek keer Van Deventer met ‘n uitbundige knal terug tot sy oorspronklike forté: humor. Treffer-lagboeke soos Scoops en Skandes, Flaters en Kraters en Oos, Wes – Reismoles! vind in Tamatiestraat ‘n waardige stalmaat.

“Die grimmigste suurknol sal sukkel om nie plek-plek hardop te lag nie vir hierdie bundel – van die vermaaklikste wat Afrikaanse boekrakke in ‘n lang tyd tref. Tamatiestraat kan met vrymoedigheid in die hand gestop word van elkeen met die behoefte om ‘n paar sorgvrye ure aan die alledaagse sleur te ontsnap.”

Stilletjies hoop ek maar blogvriende sal dié papier-bloggies geniet – met of sonder ’n “bloggie eisj”! (HvD)

NET SULKE VARKE!

More uit Wildernis

Hiënas wat hulle soos varke gedra, ken die Van Deventers uit eie skande en skade. Hulle is een van die handelsmerke van Sabiepark in die bos.

Met varke wat hulle soos hiënas gedra, was ons onvertroud. Tot gisteroggend hier in die nasionale Wildernispark in die Tuinroete.

Toe ons wakker word, staan nie een vullisdrom regop nie. Die onbehaaglike inhoud lê verstrooi van hut tot hut.

Nou wat de drommel?

Die geheim is gou deur een van die park se manne opgeklaar. Die bosvarke was op een van hul periodieke strooptogte.

Bosvarke! As dit hiënas was, sou jy die verskil in die resultaat nie juis kon raaksien nie. (HvD)

KONINGIN VAN DIE LAG

MADELEINE VAN BILJON

More uit Melkbos

Jy kan jou ‘n papie lag of selfs ‘n boggel; jy kan stik soos jy lag, jou slap lag of jou selfs siek lag. Jy kan ook lag of jy betaal word.

Hoe jy ook al lag, is lekker lag hoogs aan te beveel. Lag is die beste medisyne, lui een spreekwoord. Lag is ‘n kitsvakansie, het die komediant Milton Berle verklaar. Wat seep vir die lyf is, is lag vir die siel, sê die Jode.

Ek wil vandag hulde bring aan die Koningin van die Lag, Madeleine van Biljon, wat op 81 oorlede is. Ongetwyfeld die gulste lag wat ooit oor die Suid-Afrikaanse eter gehoor is, het daarmee stil geword.

Madeleine was een van die staatmakers in vervloeë Suid-Afrikaanse radio- en TV-programme soos ‘Dis my geheim’ en ‘Skote Petoors!’ wat deur wyle Cobus Robinson, radioman met die glimlag in sy stem, aangebied is.

Madeleine het daardeur beroemdheid verwerf as die eksponent van die dawerende lag. Of berugtheid …

In my nuwe boek ‘Byl in my bos’ vertel Cobus vrolik watter verdeeldheid haar onmiskenbare lag onder luisteraars en kykers veroorsaak het. Omtrent 50% van briefskrywers het gepleit: ”Kan sy nie in elke program só lag nie?” Die ander 50% het gegriefd gereageer met: “As daardie vrou nog een keer lag, word ek gek!”

Vreemd genoeg dat juis ‘n vrou by uitstek vir hard en uitbundig lag, onthou moet word. Gewoonlik is dit mos mans wat kan lag dat die dak wil lig. Só glo ons. Of strokieskarakters … soos Woody Woodpecker uit die tekenverhaal-voorprente van my jeug.

Maar kom ons blaai in die Bybel na Genesis 18:10 e.v. Wie lag daar só lekker? Natuurlik is dit Sara, Abraham se vrou.

In hierdie Skrifgedeelte is dalk die heel eerste “stout grappie” opgeteken: die verhaal van Abraham se drie besoekers wat die ongelooflike nuus bring dat Sara, ‘n “senior burger”, ‘n seun gaan hê. Toe dink Sara by haarself: “Sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?” En sy lag te lekker!

(Volgens ‘Die Boodskap’, die Bybel in hedendaagse Afrikaans, het sy gelag toe sy vir haarself sê: “ My lyf is al veels te oud en te verrimpeld vir die genot van die liefde. En boonop is Abraham ook hopeloos te oud.”)

Sê wie! – soos Niekie van den Bergh sou sê voordat hy politikus geword het.

Kom ons los dit egter maar daar – om ‘n baba op só ‘n gevorderde ouderdom te kry, sal dalk nie vir alle vroue (of hul gryse mans) iets wees om oor te lag nie.

Wat wel soos ‘n paal bo water staan, is die sêding waarvoor Aldan Anla bekend is: “Wanneer mense lag, maak hulle gewoonliik nie mekaar dood nie.”

Daarom dat ‘n mens só dubbel dankbaar is vir diegene soos Madeleine van Biljon wat ook maar ‘n groot seer gedra het nadat haar seun, wyle Pierre-Jacques, die pad gevat het. Desondanks het sy nooit opgehou lag nie.

Selfs as daar niks is om oor te lag nie, lag op krediet, is die waardevolle les wat dié formidabele vrou ons geleer het. (HvD)

MARTIE SE BLIK OP MY ‘BYL

Martie Retief Meiring

Middag uit Melkbos

Hiermee Martie Meiring se resensie van “Byl in my bos”, wat vanoggend op Die Burger se Boekeblad verskyn het:

Teen die sakkende son sien ¬Hennie van Deventer daar is deeglik in sy bos gekap. Op pad na sy 70ste verjaardag en as voorlopige verjaardagpresent aan homself klee hy elke oopte in die bos in met ’n grafskrif. Dit word ’n omvattende in memoriam van mense wat eens tuiniers was tot mense wat presidente was.

Van Deventer, ’n gesoute koerantman en oudredakteur met 34 jaar se ondervinding, weet hoe om vernuftig die galery van mense wat deur sy leeftyd invloed op hom gehad het, staanplek in sy eie herinneringe te gee.

Nog voor die leser kan stuit teen herinneringe wat net ’n fraksie te yl of ander wat doodgewoon te oninteressant is, verweer die skrywer homself in sy inleiding dat die boek anekdoties is en ¬nêrens na ewewigtigheid en volledigheid gestreef word nie. ’n Jammerte.

Die leser mis die volledigheid plek-plek, want Van Deventer het in sy loopbaan in ’n geskiedkundige tyd wel met vele persoonlik¬hede in aan¬raking gekom om tog meer volledig en insigryk oor hulle te kon skryf. Hy is immers ’n bedrewe, gepubliseerde skrywer en het meestal sy eie sieninge en herinneringe al geboekstaaf. Die nuwe leser van sy werk sal wel geprikkel word deur byvoorbeeld sy mening dat hy De Villiers Graaff, destyds ’n anti-regeringsman, eerder as president sou wou sien as die tóé aangestelde Marais Viljoen. Met ’n onbedwonge eerlikheid beskryf hy karakters en insidente wat hy self in sy lewe as ’n gedugte apartheidsondersteuner ontmoet het. Hy verwys ook na sy ontnugtering en (wat in vorige skrywes meer uitdruklik meegedeel is) met apartheid en sy beweeg na meer liberale standpunte wat hom as redakteur van Die Volksblad ook heelwat kritiek ontlok het deur baie van sy lesers.

Die leser sal verstom wees, eerder as krities, oor Van Deventer se grafskrif vir Helen Suzman. Met watter eienaardige eerlikheid kon hy, só ’n bedrewe en stellig gesofistikeerde joernalis, skryf dat Suzman “die eerste vrou was wat ek teengekom het by wie geen onderdanigheid teenoor mans bestaan het (of geveins is) nie”.

Die indruk dat ’n mens met ’n heel verouderde manlike chauvinisme te doen het, word enigsins teengespreek met sy finale woorde: “Dit is die Helen Suzman vir wie ek ná haar afsterwe op die eerste dag van 2009 simbolies ook my eie vlag halfstok laat hang het.” Die feministe sal hom genadig wees. Dis immers bekend dat baie van die veral Nasionaliste-parlementariërs ook vir eers soos Van Deventer gedink het en later ook hul vlag halfstok vir so ’n vrou sou hang, by wyse van spreke.

Sy plesier aan humoristiese insidente helder die bundel geweldig op. Herinneringe aan Verwoerd, John Vorster en PW Botha lewer nie nuwe insigte nie. Wel die joernalis se oog vir die ironie wat soms in die geskiedenis opduik.

Sy braaivuurvriende, sy koerant¬kollegas, politici en mense wat hy as rykes, slimmes, skones en doodgewones tipeer, kry plek-plek, wel deur anekdotes, ’n innemende lewendigheid. Dit is veral onder sy kollegas dat hy die eksentrisiteite, onnutsigheid en selfs vindingrykheid onthou.

Hieronder tel die al dikwels oorvertelde, weergalose opskrif wat Ronnie King, uitmuntende taaladviseur van onder meer Die Burger in die uiters korrekte taaljare van die sestigs die wêreld ingestuur het: “Ouderling in gat beseer deur latrine”. (Die feite van die storie was korrek: Die ouderling het in die gat geval waarin ’n buitelatrine gebou sou word.) Die bundel is goed versorg. Die foto’s is soos kiekies geplaas. Of dit ’n belangrike bydrae is tot die herinnering aan soms baie bekende mense? Moontlik nie, maar oorwegend is dit leesbaar en gesellig.

 GRIFFEL MEDIA EN TARLEHOET, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 213 BLADSYE, ISBN 978-0-620-43653-3.)

 MARTIE RETIEF MEIRING IS ’N RUBRIEKSKRYWER EN JOERNALIS.

(HvD)

RESENSIE VAN ‘BYL’

Middag uit Melkbos

Op Die Burger se Boekeblad verskyn vanoggend ‘n resensie oor “Byl in my bos” uit die pen van Martie Meiring. Wel … Martie is Martie, en sy eet nie sommer als vir soetkoek op nie. Ter wille van ewewigtigheid wil ek graag haar resensie hier plaas. Ek sukkel nog net om ‘n digitale weergawe in die hande te kry. (HvD)