Jan 16, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Opperste misleiding, sal party mense dit waarskynlik noem, maar as jy diere wil dokter, deug eerlikheid en deursigtigheid nie altyd nie. Toe besluit word om Sabiepark se hiënabevolking teen hondsdolheid in te ent , is derhalwe ‘n spesiale lokaas uitgesit.
Nie net die vars geur van rooibok nie, maar ook die geluide van hiënas by hul prooi is ingespan om hulle ‘n sentrale plek te lok, waar ‘n span met pylgewere oorgehaal gesit en wag het.
Hiëna se kind het nie op hom laat wag nie. Een was vinnig op die toneel, toe twee, toe drie…. Uiteindelik het tien vir die “banket” opgedaag – die eerste keer dat soveel hiënas in Sabiepark op een kol saamgetrek gesien is.
Dit het gelyk nes ‘n skermutseling in Robin Hood se tyd soos die pyle op hul teikens afzoem. Al tien diere is daar en dan ingeënt. Drie maande later is die oefening herhaal. Die geure en klanke is weer gereproduseer, maar die trefkrag was dié keer minder. Slegs vier het vir die aanjaer-behandeling opgedaag.
Hiënas teen hondsdolheid inent? Dit klink nogal vreemd. In Sabiepark is dit egter wys geag nadat vier rondloperhonde die park in die vorige ses maande binnegedring het – almal met die dodelike siekte hondsdolheid onderlede, volgens toetse wat later in Skukuza gedoen is.
Wetende dat hiënas min fiemies het as dit by kos kom (soos vele eienaars weet!), en dat selfs die karkas van ‘n dooie hond waarskynlik daardie aasdiere se eetlus sal aanwakker, het die owerhede en magte op “Operasie Vaksinasie” besluit.
Hoekom tien in Sabiepark saamgehok was, word toegeskryf aan die energieke jag-aktiwiteite van ‘n trop leeus langs die Sabierivier, nie net om hul honger te stil nie, maar ook as oorlogsverklaring teen hul aartsvyande in daardie omgewing.
By twee geleenthede het twee jong leeus drie hiënas – een nogal die matriarg –
aangeval en doodgemaak. Die naasbestaandes het Sabiepark vinnig as toevlugsoord geïdentifiseer en daarheen uitgewyk.
Die feit dat twee luiperds in daardie tyd in Sabiepark doenig was, was ‘n verdere bonus wat die hiënas langer laat vertoef het om die luiperds se lerwe by hul prooi te vergal.
Nadat die leeus koers gekies het, was die grootste gevaar vir die hiënas afgeweer, en is die meeste gelukkig weer vort, terug Kruger-wildtuin toe. Maar nie almal nie, hoor, nie almal nie…
Hierdie ene op die foto het verlede Sondag (9 Januarie) om 16:00 by my watergat opgeduik. (HvD)
(Dankie aan die Sabiepark-nuusbrief vir inligting oor die massa-inenting. – HvD)
Jan 14, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

KYK VERBY DIE LELIKE OU BRAAIER, ASSEBLIEF. DIE BOS IN SY SOMERGLORIE IS DIE EINTLIKE ONDERWERP.
Middag uit Melkbos
Sulke gras-weelde het ek nog nie in Sabiepark gesien nie. Tot teenaan die paaie strek ‘n groen tapyt van soetgras. In die skaduwee van die welige bosveldbome wieg die pluime in die wind. Dis buffelsgras, bloubuffelsgras, vingergras, steekgras, Rhodesgras en wilde sorgum; veels te veel om, met jou neus in ‘n veldgids, eens naastenby te probeer eien.
‘n Namakwalande L.V. het in die jare 60 in die Volksraad ingenome verklaar dat die waaigras in sy kontrei daardie seisoen “broekbandhoog” staan. Daardie maatstaf is buite my ervaringsveld. Ek is ‘n kruisband- of sommer ‘n gewone rekkieman. Maar die eerste middag al is tien blouwildebeeste by Tarlehoet verby op galop. Net hul rûe het uitgesteek.
Die lang gras kielie ook die koedoes en sebras se pense. Die duikers, bosbokke, rooibokke, vlakvarke en ander kleinwild raak daarin weg. Op elke kronkelende motorpaadjie vee jou voertuig die halms plat.
Ja, die bos skitter. Die vlaktevlam gloei soos ‘n rooi muur. Die huilbome is oortrek met geel kelke. Die haak-en-steek se wit sambrele sprei oper en oper. Klimop gooi oral sy geel kombers.
Die oes van dié somer was groot, in die plante- en diererryk. Die groot num-nums dra nog swaar aan hul rooi “pruime”. Baba-rooibokkies huppel uitbundig. Vier-vier vlakvarkies draf stertjie-in-die-lug agter hul mammas aan. ‘n Kordate kameelperdjie staan sy staan ongejaagd in die pad. Klein geitjies skarrel oor die stoep.
Van die pragtige bloukuifkloeries met hul blou en rooi Josefsklede hoor jy net die “kok-kok-kok” in die hoë boomtakke. Ook die groenvlekduifie “doe-doe-doe” onsigbaar sonder ophou, en sy beurtsang met die wegkruiper piet-my-vrou is musiek op die oor.
Die bosveldvisvanger sien jy darem soms. Hy oortref homself met sy welluidende “trrp -trrrrr, trrp-trrrr”. Dié mooi voël en die vleiloerie roep saam die reën, glo party. Dalk besing hy net die natuur – ‘n lied van geluksaligheid oor die somer se oorvloed: die geil gras, ruie plantegroei, bome propvol vrugte en peule, die Sabierivier se musiek …
Wat sou die geheim wees vir só ‘n blomjaar? Klaarblyklik reën, reen, reën. Nie net genoeg reen nie, want November/Desember is tradisionele reënmaande en was tevore al natter. Die antwoord is eerder: konstante reën, reg versprei, met op die kop sewe reëndae elke maand. Op 14 November is 95 mm aangeteken en ‘n maand later, op 14 Desember, 75 mm.
En die “bloedige” hitte? Met ons aankoms op 26 Desember was dit drukkend, maar daardie nag het 8 mm geval. Daarna het die kwik net twee dae tot die hoë 30’s geklim. Dae lank was dit bewolk en een aand was die briesie selfs koel. Maar bewolk of nie, was die swembadjie verfrissend en het die sjoer-sjoer van die dakwaaiers verraai watter seisoen dit was.
Statistieke van Sabiepark wat ek noukeurig byhou, is hoeveel kollegas, skool- en studentemaats al kom kuier het. Hierdie keer het Tukkiemaat Piet Henning en sy vrou, Moraig, uit Louis Trichardt (ook met wortels in Chiredzi in Zimbabwe) die eerste keer gekom. Cas en Nella Jacobs van Centurion, ons ander kuiergaste, was al ‘n paar keer daar. Kollegas staan nou op tien, studentemaats op ses en skoolmaats op vyf.
Die duikers, nagapies, bosnagape, vlakvarke en dies meer het ons nog nooit in die steek gelaat nie. Ook nie hierdie keer nie. ‘n Duikertjie en bosbokrammetjie het om die beurt kom kuier. ‘n Grootoog-nagapie was in die stoep se nok. Hy en sy maats was ná skemer baie aktief. Drie bosnagape het vol afwagting opgedaag en oor stoele en tafels geklouter op soek na piesang. As jy maar sien, het ‘n vlakvark om die hoek geloer.
Woensdagaand 6 Januarie was die Van Deventers, Hennings en Jacobse saam om die vleisbraaivuur. Feestelik was dit om ou stories op te diep terwyl die Sabie op sy pad Mosambiek toe strelend oor die klippe druis, hiënas roep en leeus in die verte brul.
Donderdagoggend toe Cas en Nella ry, swiep ‘n visarend laag en roep sy melankoliese roep – ‘n “sense of occasion” soos min! (HvD)
Jan 13, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

PRIMITIEF MAAR SILWERSKOON. DIE UWE GENIET ‘N LAFENIS IN DIE BOS VOOR DIE KOMS VAN DIE STINKLYWE MET DIE STERK KAKE.
More uit Melkbos
Soos diewe in die nag het hulle gekom, die twee slinkse skuinsrug-gediertes met hul stink lywe, eers met hul kragtige hiëna-kake die vullisblik (nogal bobbejaan-bestand!) uit sy raamwerk geruk en die inhoud oral in die veld verstrooi, toe luidrugtig in die watergatjie neffens die huis geplons, en daarna, as onwelkome toegif, my vrou, Tokkie, se self-geprakseerde bos-kreepy-krauley aan flarde gekou.
Twee aande tevore het ons met vonkelwyn onder ‘n silwer volmaan idillies onder die bosveldsterre gekuier – eintlik ‘n sogenaamde “bloumaan”, of die tweede volmaan in een kalendermaand, wat net een keer elke twee tot drie jaar gebeur. ‘n Baie spesiale volmaan was dit, want dit was op 31 Desember, Oujaarsaand, wat boonop my en Tokkie se huweliksherdenking is.
Terselfdertyd was dit ons duisendste dag in die bos in die private natuurreservaat Sabiepark aan die Sabierivier, direk langsaan die Kruger-wildtuin – ‘n aand om oor te droom. Stemminge in die bos verander egter vinnig, en daarmee die gemoedstoestand van sy mensebewoners.
Oor die verlies van haar eie kreepy krauley, ‘n regte, egte een vir die bos waar elektrisiteit ontbreek, was Tokkie verslae. Langer as ‘n dekade was dit ‘n staatmaker. ‘n Stuk tuinslang wat in die pakkamer was, is, eenvoudig met draad aan ‘n stok vasgewoel. Tokkie (wat ook ‘n kraan se wasser uit ‘n skoenveter kan tower) blaas eers om voorsorg te tref vir die moontlikheid van ‘n gogga of slang in die tuinslang. Dan suig sy hard om hom “aan te skakel”.
Die kreepy het bekwaam sy werk verrig. Die bodem van ons swembadjie was vinnig pragtig skoon, selfs van die hardnekkige blare, takkies en wurmpies se swart uitskeidings uit die groot maroelaboom. Nou moet ‘n plaasvervanger vervaardig word. Veral om ‘n stuk stok te kry wat presies lank genoeg en dun genoeg is, is ‘n uitdaging. Kierieklappers het dalk in die ou dae bruikbare kieries gelewer, maar vir dié uitsonderlike doel sal ons maar moet rondkyk vir ‘n geskikte daklat op persele waar huise se dakke gedek word.
Hoe ook al, die einde van ‘n era is dit, soos hulle sê. Met komplimente van die hiënas waarvoor die Van Deventers hoeka nie baie lief is nie.
Dat hulle vir die wandaad die stoeptrappies gly-gly op is om die kreepy reg voor ons slaapkamertvenster weg te raap, is om sout in die wonde te vryf.
Tot verdere bewoenheid ontdek ons só saam-saam met die kreepy-skade die verlies van ons vuurklippe waarmee ons bosveldvure gestook word. Dié poreuse blokkies wat tussen gebruike in ‘n ou koffieblik in lampolie geweek is, is skynbaar in ‘n onbewaakte oomblik saam met die vorige aand se as weggesmyt. Nog ‘n lang Sabiepark-tradisie daarmee heen.
Ons “duisend dae” was, desondanks, ver van ‘n treurmare. Oor hoe sierlik die bos hom vir dié spesiale feesviering getooi het, kan ‘n mens liries raak. Ek vertel graag môre, oormôre meer oor nog ‘n onvergeetlike kuiertjie in ons stukkie hemel daar aan die skilderagtige Sabierivier. (HvD)
Jan 11, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
Terwyl die Van Deventers somervakansie in die bos gehou het, het die eerste resensie oor “Byl in my bos” verskyn – deur Stoffel Cilliers in Volksblad.
Cilliers vlei my en my boek, maar ek wil dit darem graag vir wyer kennisname op my blog sit. Verkwalik tog maar nie die ou man die plesiertjie nie! (HvD)
VAN DEVENTER KAP VLYMSKERP IN DIE HERINNERINGSBOS
BYL IN MY BOS deur Hennie van Deventer. Griffel Media. Sagteband. R165.
SÓ ’n oorspronklik gekonsipieerde bundel tref ’n mens selde aan, omdat min skrywers in staat is om dit te kan skryf. Hennie van Deventer kón.
Dié oudredakteur van Die Volksblad, wat in 1998 op 57-jarige ouderdom as uitvoerende hoof: koerante van Naspers uitgetree het, het vele vooraanstaande meningsvormers en politici goed geken: “almal marsjeer in 34 jaar in die perswese voor jou verby”.
In hierdie anekdotiese herinneringsbundel bring hy kernagtig hulde aan 137 “tydgenote van verskillende generasies wat reeds deur die Byl uit ons bos gekap is”.
Soms word slegs ’n paragrafie as staaltjie opgeroep. En sommige herinnerings, soos dié aan die Wit Terroris, Dries Kriel, wat Van Deventer se lewe as verligte redakteur lank vergal het, is ook nie “teer” nie. Die skrywer het egter nie kwade bedoelings nie, al is hy soms uitgesproke.
Daar is nege kategorieë herinnerings/huldeblyke. Gou merk die leser dat dit nie sentimentele, persoonlike herinnerings is nie.
In sy geslypte, akkurate dog heerlik gesellige styl skryf Van Deventer oor verskeie openbare persoonlikhede wat in die tweede helfte van die vorige eeu dikwels in koerante vermeld is.
Treffend is sy aanhaling uit Hamlet oor prof. Wynand Mouton, UV-rektor en SAUK-voorsitter: “We shall not look upon his like again” (p. 8).
Die skrywer se eie pa, Seun, is dood toe hy maar vyf was. “Nou het ek van Seun van Deventer maar bloedmin oor. Geen herinnering aan ’n stem nie, aan hande of aan ’n aanraking nie” (p. 25).
Die versoeking is sterk om die skrywer se kostelike staaltjies te vertel oor 16 “leiers en/of verleiers” van die volk, onder andere Hendrik Verwoerd, John Vorster, P.W. Botha, Piet Koornhof, Helen Suzman, Andries Treurnicht en Jim Fouché.
Die helfte van sy 68 lewensjare het hy in die perswese deurgebring. Daarom vertel hy besonder onderhoudend van 36 persmanne: van kolosse soos Schalk Pienaar en Piet Cillié tot minder bekendes soos Eddie du Plessis, ’n nag-subredakteur wat vir ’n berig oor swak weermagstewels die volgende opskrif geskryf het: “Die sool is die kous nie werd nie”. Aandag aan minder bekendes soos dié gee geloofwaardigheid aan die bundel.
C.R. Swart het twee maande as redakteur van Die Volksblad waargeneem.
Die oomblik toe dié lang man in 1936 ’n hoofartikel begin tik, tref ’n aardbewing die koerantgebou!
In hierdie deel, maar ook elders, verskyn inligting wat moontlik nog nie tevore bekend gemaak is nie.
Dit is duidelik dat Van Deventer joernalis gebly het.
Hy skryf gesaghebbend, objektief en akkuraat, soos ’n gesoute joernalis, maar ook lesersvriendelik, gesellig en humoristies soos ’n goeie skrywer. Etlike kere vertel hy staaltjies ten koste van homself. Dit is reeds sy 14de boek.
Altesaam 48 foto’s help om die mense oor wie geskryf word, aan die vergetelheid te ontruk.
Die onthou-paadjies wat die leser saam met Hennie van Deventer in die bundel kan bewandel, is interessante paadjies. Goeie joernalistieke gids wat hy is, beskryf hy dit humoristies, insiggewend en boeiend. Stap gerus saam deur sy bos in hierdie uitstekende geskenkboek. Dit is ’n belewenis.
– Stoffel Cilliers, vryskutresensent
Jan 2, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
“Gevaarlike vlakke van ongemak” word in hierdie tye taamlik gereeld deur die Weerburo in Bloemfontein vir die Laeveld voorspel. En dit raak geniepsig warm, hoor, hoewel buie en briesies uitkoms bring.
Ewenwel, “gevaarlike vlakke van ongemak” word nie net weergewyse deur ons hier in die Laeveld beleef nie. Ek skat daardie woorde som presies die gemoedstoestand van ons brose Protea-kolflysie op as die manne so in- (en uit)stap om die geniepsige Engelse boulaanval te trotseer!
Van die “ongemaklike” Proteas gepraat: By al die oujaarslyste uit alle oorde was vanjaar ook ‘n lys van “Beste grappe van 2009 – deel een”. Deel twee was seker daardie patetiese kolfvertoning in Durban toe die paaltjies soos spaanders gespat het!
ADVIES:
Goeie advies as jy jou motor ‘n dag of drie op die Mpumalanga/Krugerlughawe parkeer. Beroof eers ‘n muntoutomaat! Hier moet jy in silwer munte opdok, ou maat! In ons geval was dit ‘n hardlopery van ‘n ander wêreld om R98,00 se kleingeld in die hande te kry – op ‘n Saterdagaand ná die laaste vlug!
En, dreig die simpele masjien op die koop toe, net om sout in die wonde te vryf: hy gee nie kleingeld nie.
NUWEJAARSWENS:
My hoop vir almal vir die sokkerjaar 2010 is dat julle baie “doele” sal verwesenlik.
BULLETIN:
Die internet is in hierdie geweste op ‘n sloerstaking. Hierdie is die laaste frustrerende poging om ‘n blog op te sit tot ná my terugkeer in die Kaap op 11 Januarie. (HvD)
Dec 30, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
Vir die Nuwejaars-uittog na Sabiepark het Tokkie met sorg en toewyding kosse geselekteer en voorberei.
Buiten die tjops, wors en hoender vir die rooster was daar skaapboud vir die Weber, spek en speksnippers, gaar beesstert, ‘n blok kaas, groenteskottels, allerlei nageregte en nog wat.
Ons sou nie ons huweliksherdenking Oujaarsaand of Nuwejaarsdag of my verjaardag op 3 Januarie of met die besoek van studentemaats, Cas Jacobs van Centurion en Piet Henning van Chiredzi/Louis Trichardt, en hul gades, Nella en Moraig, kort kom nie.
Toe tref ‘n paar teenspoede op ‘n ry.
Vlug SA 334 uit Kaapstad na O.R. Tambo word vertraag. Ons kom net-net betyds aan vir SA Express se woer-woer-vliegtuigie na Krugerpark/Mpumalanga.
Die meisie by die hek (E4) raadpleeg die rekenaar en lig my in al my bagasie is op die konneksievlug gelaai – groot verligting oweral! – maar toe ons by Kruger afklim, blyk dit sy en haar rekenaar was in die ongelyk.
Een van ons vier stukkie bagasie beland amper laaste op die band. Die ander drie bly weg. Dit sluit die twee koskaste in.
Kom nog ‘n vlug? Nee. Eers die volgende dag, Sondag, kom hulle van 10:00 af in. Ek boer op die telefoon. Die eerste lewer niks op nie. Die tweede … wag net ‘n bietjie … ja, hier is die vermiste stukke.
Tekens bestaan egter dat met een gelol is en dat van die kos begin ontdooi.
Gelukkig is Sabieparkvriende om die een of ander rede in Nelspruit. Hulle sal dit sommer saambring, maar rapporteer met hoorbare kommer die omvang van die skade.
Wel, uiteindelik is die kos hier, en die staat van ontdooiing nog nie juis ‘n faktor nie. Maar iemand het feesgevier – dis duidelik. Hier is sy/haar/hulle spyskaart: spinasie-en-fetatertjies, speksnippers, beesstert, skaaptjops (grotes), gerookte hoenderborsies en klappertert: ‘n dis duisend vir ‘n vertraagde Kersete, met tot voor- en nagereg ewe bedagsaam verskaf.
Die koms van ons kos (hoewel aansienlik uitgedun) laat die Van Deventers sommer strate beter voel as die vorige aan toe bek-af in die “bloedige hitte” oor die verlies gesit en treur is. Die wolke gaan terselfdertyd oop en bring verfrissende, verkoelende buie.
My vrou glimlag selfs toe sy opmerk: “Ek hoop darem hulle het gebid vir die hande wat die kos voorberei het!” (HvD)