Apr 6, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Om Barnie Human van Bloemfontein kon altyd met smaak vertel van die ou wat so ‘n ekspert was op die smaak van drank. Gee vir hom enige eksotiese ding om te proe, en die ding se naam rol dadelik van sy tong.
Moeg om elke keer getroef te word, gee hulle hom ten einde laaste ‘n glas water. Hy proe … trek ‘n vies gesig … proe weer. “Nee, julle het my,” kom sy antwoord toe. “Ek het nie n idee wat dit kan wees nie. Maar een ding kan ek vir julle sê: Dit gaan nie verkoop nie!”
Vra julle my my oordeel oor die nuwe 50/50 wat gisteraand met groot fanfare op TV2 geloods is, moet ek ongelukkig dieselfde sê: “Dit gaan nie verkoop nie.”
Ai, as ‘n mens darem dink aan hoe natuurliefhebbers voor die ou 50/50 vasgenael gesit het. Maar telkens was daar die een of ander wysneus wat beter geweet het. Gesigte het gekom en gegaan, en program-inhoud is gedurig “vernuwe”
Met elke modernisering is die essensie vermurwe. Mettertyd het 50/50 al hoe minder vir hierdie kyker noodsaaklike kykstof geword.
Die doodskoot was die breekspul met Johan Botha se span, wat – ironies genoeg – nadat hy al onder die valbyl gekom het, nog pryse ingeryg het. Eers het ons gehoor die durabele Botha het opdrag gekry om “weer te gaan dink” oor die program. Daarna is hy, klaarblyklik gesteurd, oor Kyknet toe. Sy span is sak en pak agterna.
Nou sit ons met so ‘n byderwetse glans-en-glinster-konkoksie. In die liggewig- aanbiedersgeledere is, behoede dit, onder andere selfs ‘n Amerikaner, wat klaarblyklik ‘n masjien-verknogte is. Ken daardie jappie die reuk van die veld?
Toe ‘n sesjarige kleinkind (wat spesiaal wakker gebly het) vra: “Maar, oupa, hoekom wys hulle dan motors op ‘n diereprogram?” was die koeël klaar deur die kerk. Hy en hope ander jong kykers sou liewer dadelik wou terug “dierekanaal” toe. Nie lank daarna nie, was ek ook aan die gaap.
Een klik en die skerm was donker.
Dalk het ek die beste deel van die program gemis. Ek wonder egter. Het hulle werklik iets nuuts oor die myne in die wynland gehad?
Nee wat, die groenes het oorgevat met hul eie defenisie van ‘n natuur- of omgewingsprogram wat klaarblyklik so wyd is soos die Heer se genade. My hart is nie geraak nie. As ek ‘n projeksie moet maak oor wat in die toekoms wag, is dit met wanhoop.
Pleks dat hulle die naam 50/50 ook maar argief toe stuur. Ek assosieer dit met iets van ‘n ander stoffasie. (HvD)
Apr 5, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More op Melkbos
In die onstuimge 80’s – tot in die 90’s – was drie oud-leerlinge van my skool, Potchefstroom-Volkies, sterk op die voorgrond in die intense Afrikanerpolitiek.
Van links na regs kan ‘n mens maar sê, was hulle Pik Botha (hoewel hy die bynaam Pikkewyn eers gekry as as intervarsitydirigent van Tukkies in die vroeë 50’s), Ferdi Hartzenberg en Eugene Terre’Blanche wat Saterdag op sy plaas by Ventersdorp vermoor is.
Gegewe die ligging van daardie stoere skool in die ou Wes-Transvaal, is dit amper vanselfsprekend dat al drie sterk gevolge onder ander oud-Volkies opgebou het. Dit kon tot ietwat ingewikkelde situasies lei.
Een was toe Volkies in die 90’s met die tradisie van wildsfeeste begin het, waar vir fondsinsameling, vriende en tydgenote by verskillende lapa’s saamkuier.
Om die tradisie skouspelagtig te verewig, is besluit om ‘n tamaaie feesvuur simbolies te laat aansteek deur iemand wat ook ‘n paar gevleuelde woorde kon spreek.
Maar wie? As die keuse vir Groot Gees van die Aand op een van die prominente politici sou val, sou dit vanselfsprekend aanstoot gee aan ondersteuners van die ander twee.
Skoolhoof Arrie van Rensburg kry toe ‘n blink ingewing – trek ‘n regter nader!
My matriekmaat regter Willie Hartzenberg was die ideale kandidaat –
politiek onbesproke, spitsvondig en van hoë aansien. Hy en sy vrou, Irna, self ‘n oud-Volkie wat uit eie reg haar merk gemaak het as president van die SAVF, ry toe uit Pretoria oor vir die aand.
Die kuier was al mooi op dreef en skemer het begin daal toe die klomp feesvuur se kant toe staan. Dit sou ‘n vuur duisend wees. Net toe bemerk iemand egter onraad. Vrolike vlammetjies knetter prematuur.
Nadere ondersoek bring aan die lig dat niemand vir Jim, die “boiler boy” , mooi gemaak verstaan het waar sy verantwoordelikhede daardie aand ophou nie. Nadat hy oudergewoonte die hout gekap en die vuur gepak het, gaan hy toe getrou oor na stap drie, en trek ‘n vuurhoutjie.
Dat dit ‘n mooi vuur was, is nie oor te redekawel nie. Dat die Groot Opening heelwat van sy kleur verloor het, is egter ook waar. Maar dan aan die ander kant: ‘n stewige bedrag is ingesamel sonder om op politieke tone te trap (HvD
Apr 3, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Sit maar twee K’s by die KKNK, en wel vir die kuns-koeterwaals wat die kunstenaars-garde van tyd tot tyd daar praat.
Op TV-Nuus verduidelik ‘n nooientjie gisteraand doodenstig van ‘n foto-uitstalling waaar die foto’s met die tegniek van “story telling” stories vertel.
Om ‘n storie te vertel deur stories te vertel – klink vir hierdie ou wat net vir die plesier sy kamera laat klik, nie na ‘n buitengewone kunsvorm om onder die knie te kry nie.
Of bestaan ‘n ander manier om ‘n storie te vertel as om dit te vertel? (HvD)
Apr 1, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die ou vlag – diepe hartsaak wat hy was – is, wat hierdie ou gryskop betref, finaal gestryk, opgevou en in kas agter slot en grendel geplaas.
Ek het nie die drang om hom daar te gaan uitgrawe, iewers te hys of rond te swaai nie.
Ek hys hom wel, simbolies, vandag in hierdie blogruimte omdat ene Sarie in Die Burger se SMS-kolommetjie nogal ‘n kolskoot-vraag stel.
Sarie wil weet: vryheidsliedere en die ou vlag – wat is die verskil?
Dit sou insiggewend wees om mense soos Gwede Mantashe en Julius Malema se filosofiese bokspronge hieroor te hoor.
Een verskil, volgens hierdie waarnemer, is dat die vryheidsliedere groepe aggressie, selfs moord, aanmoedig. Vertoning van die die vlag kan dalk as uitdagend ervaar word, maar dit is klaarblyklike tog vreedsaam.
Goeie rede tot twyfel bestaan egter of dit die verskil is wat die boerehaters sal wil uitwys! (HvD)
Mar 31, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Hoe meer dae hoe meer dinge. Dat bogenoemde woorde ooit bo ‘n HvD-blog sou verskyn, was, om dit sag te stel, tot dusver uiters onwaarskynlik.
Vanoggend het ek egter aan my vriend, Jacko Maree, ‘n deurlugtige oud-
Matie op die Atlantic Beach-gholflandgoed hier naby, ‘n briefie gestuur, wat dinge verander het.
So lui daardie briefie:
Beste Jacko
Nou laas nadat die Maroentruie die arme Tukkies in die Varsitybeker so liederlik op hul herrie gegee het, het ek oorweeg om jou met ‘n skitterende sege op die rugbyveld geluk te wens.
Die versoeking het gelukkig gou oorgewaai. Grootmoedigheid het sy perke, jy weet.
Na die aankondiging van die skoonskip in die Stellenbosch-raadsverkiesing van mense met harte vir Afrikaans het ek geen gewetenswroeging om ‘n buiging na jou kant te maak nie.
Trouens, as jy ‘n gedruis hier van Penguin Place se kant hoor kom, is dit hierdie lojale Tukkie wat die eerste keer in sy lewe saam deklameer: “Rom, rom, rom, Stellenbosch kom!”
Felisitasies – dit was ‘n eervolle stryd wat bekwaam gestry is.
HvD
Mar 30, 2010 | Hennie van Deventer se Blog


More uit Melkbos
Nie net nat agter sy ore nie, maar van kop tot tone.
Dit beskryf die eenjarige Christopher toe hy agter sy boeties, Jacob en Thomas (amper 6) aan op ‘n ontdekkingstog die Atlantiese oseaan in is.
Doel van die ondersoek: om proefondervindelik vas te stel of Melkbos se water werklik so koud is soos mense glo.
Bevinding: wat praat jy man!
Voetnota: moet rapporteer, nie sonder grootvaderlike trots nie, dat die see vir die kordate Christopher klaarblyklik nie vrese inhou nie. Die branders kan maar kom – dis eerder water op sy meul.
Toe die eerste brander sy vet beentjies onder hom uitvat, het Tokkie gestorm soos n wafferse lid van die Seereddingsinstituut. Christopher het proesende kop bo water gekry en dadelik dieper gebeur.
Toe die swem-avontuurtjie verby was, was dit ‘n omstrede besluit. Die pro-faksie moes voet inboor in die nat sand.
Wat die anti-faksie aan gewig ontbnreek het, is met volume ingehaal.
Hoop maar die water is vandag weer so verfrissend. Dan maak selfs oupa graag weer sy enkels nat. (HvD)