Apr 15, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Absa het vandag aan die werk gespring vir ‘n vale aan die geheimsinnige adres waarheen hy van my goeters pos (kyk vorige blog).
E-posse het heen en weer gevlieg. Daar is onderlangs vir mekaar gegrom.
Flussies kry ek ‘n oproep. Die skuilplek waar daardie verkeerde adres (a la Osana Bin laden) al die tyd weggekruip het, is opgespoor – iewers in ‘n diep, diep binne-aar van die “stelsel”.
Die verdekselse adres is.. boem! .. die lug ingeblaas. Dis weg.
“Raak rustig, mnr. Van Deventer. Daardie adres is weg soos in permanent. Hy sal jou nie weer vergal nie.”
Valse hoop? Ek dink nie eers nie aan die somber moontlikheid nie.
Gapsa, Blapsa … Aitsa, Absa? (HvD)
Apr 14, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Ek is een van daardie een-bank-, een-party-, een- kerk-, een-rugbyspan-, een-vrou-mense. As ek my lojaliteit gegee het, het ek dit gegee.
Vandag wil ek nie oor rugby of my vrou of oor my oorlede politieke party (veral nie oor laasgenoemde!) praat nie. Ek praat oor banke. Oor my bank – eers Volkskas, later herdoop tot Absa.
Volkskas was ook bekend as die ploegbank weens die logo van ‘n ploeg, wat – meen ek – die boodskap van arbeidsaamheid moes tuisbring. Nadat dit Absa geword het, het die logo te nuwerwets geword om daaruit ‘n bynaam, soos ploegbank, af te lei.
My swaer Fanie van Wyk het, as gevolg van die immer stygende bankkoste, ewe vindingryk die naam Gapsa geskep.
Natuurlik sou dit onbillik wees om net Absa oor koste te blameer, soos ek in die volgende hekelversie in my bundeltjie “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” geredelik erken:
Standard, Ee-en-Bee of Absa/elke bank raak nou ‘n Gapsa/ hou hul hande vir jou rande/gee net sente vir jou rente.
Ewe onbillik sal dit wees om te kenne te gee dat een bank noodwendig meer droogmaak as ‘n ander. My ervaring is egter beperk tot Absa. Ek ken sy goed en sy sleg. En, jammer om te sê, in my boekie heet hy deesdae Blapsa.
Drie jaar lank, nee langer, spook ek vergeefs om ‘n adres wat nie meer bestaan nie, by Blapsa verander te kry. Elke jaar as ‘n bepaalde belastingdokument vir my gepos word, gaan dit na daardie adres.
Hoeveel kere ek al perd opgesaal en afgesit het bank toe om die verkeerde adres te probeer nek-om draai, kan ek nie onthou nie. Elke keer kry ek die waarborg: “Nee, meneer, daardie adres is nou ORAL verwyder. Jy sal NOOIT weer daar pos kry nie.”
Vanjaar, waaragtig – daar gaan die dokument weer na die verkeerde adres. In wanhoop bel ek Absa en probeer ‘n amptelike klag registreer. Maar dit lol. Die mense kan of wil net nie verstaan nie. Op hul stelsel is my adres reg, en basta.
Uiteindelik beland ek ny ‘n nooi met klaarblyklik meer as die gemiddelde begrip. Nadat ek stadig en mooi verduidelik het, belowe sy dis nou naby die die einde van my pyn. Ek kry selfs ‘n verwysingsnommer as kwitansie vir my moeite en verdriet.
Nou anderdag is ek nie tuis nie toe die een of ander iemand hoog op in “kliënteverhoudinge” my vrou bel. Die man drup van skeptisisme – aldus my vrou, en ek aanvaar haar geloofwaardigheid nie net uit lojaliteit nie.
“Mevrou, daardie adres bestaan nie op ons stelsel nie – wat is die datum van die laaste brief met daardie adres?” wil hy ‘n troefkaart speel.
Toe sy hom inlig 28 Februarie 2010, hoor sy hoe hy sy asem vinnig intrek.
Nou moet ek liewer self bel, is sy opdrag. Maar hy is klaarblyklik n besige man – selde op kantoor. Ek bel en bel, los boodskappe en dreig.
Na dae kom ek eers by hom uit. Die ondersoek is afgehandel, hoor ek. “Nêrens op die stelsel” kom daardie adres voor nie.
“En die brief van 28 Frebruarie 2010 dan waarmee ek hier voor my sit?
Vir daardie raaisel het hy geen antwoord nie. Faks die brief, versoek hy. Toe faks ek hom.
Die Groot Stilte het daarna weer neergedaal. Netnou toe ek bel, was hy nie op kantoor nie.
Arnold, my vriend, ek hoop Blapsa betaal jou ‘n goeie salaris. Om so besig te wees, en dan nog sulke yslike probleme te moet oplos, kan geen grap wees nie! (HvD)
Apr 13, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
En die stoksielalleen spatseltjie rooi tussen Melkbos se duine?
Dis die kleine Christopher Claassens wat met die Groot Wereld daarbuite kennis maak – en daarvan hou.
Die kleinkinders is Sondag huis toe – na twee weke. Die huis is stil. (HvD)
Apr 12, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die bruidjie staan voor die kansel met rooi gehuilde oë oor haar onklaar “droomrok” wat met spelde en gebede bo gehou word. By die onthaal word die rokmaker plegtig bedank vir sy of haar “biesondere” bydrae tot die bruid se “mooiste dag”.
Dis seker ietwat van ‘n ekstreme voorbeeld. As iemand só aangejaag het met, van alle dinge, die trourok, sal die mens wat die bedankings doen, hopelik ‘n wenk kry om daardie bedanking maar liewer oor te slaan.
Dikwels word mense egter entoesiasties bedank, wat werklik geen spesiale bedanking verdien nie – veral by troues (en begrafnisse!) waar die lys tradisionele bedankings dikwels dreig om ellelank te word.
Selfs waar iemand deur sy nek vir iets betaal het, bly die dankie nie uit nie.
My vrou, Tokkie, het ‘n sterk beginselbeskouing dat iemand wat vir ‘n prys ‘n diens lewer, bo en behalwe die tjek (of deesdae se internetoorplasing!) nie nog boonop vir insluiting op die bedankingslys kwalifiseer nie.
Hoekom bedank jy – in die geval van ‘n troue – dan nie ook die winkel waar jy jou skoene, G-string of konfetti gekoop het nie?
Natuurlik word soms deur ‘n diensverskaffer buitengewoon moeite gedoen, spesiaal uit die pad gegaan, groot geldelike tegemoetkomendheid aan die dag gelê of so iets. Dan is dit natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur. Maar wat doodgewone klante-situasies betref, kry jy my vrou nie van haar standpunt af nie.
Sy het dalk iets beet, moet ek toegee, veral nadat sy my aandag begin vestig het op klaarblyklike droogmakers wat, kom wat wil, ‘n dankwoord kry terwyl hulle eintlik ‘n skrobbering of ‘n klap teen die ore verdien.
Die rok is sigbaar afgejaag, soos in my voorbeeld hierbo; die blomme
hang, die eetgoedjies is smaak- en verbeeldingloos, die seremoniemeester was vervelig en ongeskik, maar uit gewoonte kom ‘n buiging na hulle kant toe. Hou maar dop.
Werklike staatmakers kan wel wonder hoe hoog hul opoffering en harde werk aangeslaan word as hulle ook maar net items op dieselfde formele lysie saam met die ander is.
Tokkie se pleidooi is dat bedankings uit die hart sal kom, eg sal wees, en ‘n bietjie meer onderskeidende dinkwerk verg as om net vinnig ‘n lysie name neer te pen, omdat dit “so hoort”. Sy is nie altyd verkeerd nie. (HvD)
Apr 10, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Een grondwaarheid troon soos ‘n obelisk uit bo al hierdie week se miljuisende woorde oor die moord op Eugene Terre’blanche, Afrikanerwoede, Julius Malema se onbesonnhede, Jacob Zuma se katvoet-lopery en wat nog. Dit is dat donker dae op Suid-Afrika wag as verdere verwydering tussen die rasse ons voorland is.
As Suid-Afrika sou brand, is al sy inwoners – swart en wit, militantes en vreedsames, opruiers en versoeners – immers saam in die verloorkamp. Dit behoort elke verstandige mens tog te besef.
Gelukkig was al die uitsprake in hierdie week van waansin darem nie ontmoedigend nie.
Prof. Andreas van Wyk, oud-rektor van die Maties, se kort en kragtige antwoord op Litnet op die vraag oor watter reperkussies hy op die moord op die AWB se “Groot Karwats” voorsien, was werklik bemoedigend.
Sy verwagting – en hoop – “is dat dit die middelgrond in ons samelewing sal versterk en sal bydra tot die marginalisering van die ekstremiste”.
Hierdie marginalisering het, volgens hom, reeds grotendeels ten opsigte van die ver-regse groeperinge plaasgevind. Hy verwag dit sal toenemend ook aan die linkerkant begin gebeur, waar mense nog onder die “struggle”-vlag bymekaar gehou is, ook al deel hulle nie die oortuigings van die Malemas van ons land nie.
“Dit skep geleenthede vir sterk leierskap binne en buite die ANC.”
Prof. Andreas, ter wille van ons land hoop ek van harte jy lees die tekens reg.
Mag die ANC se skerp verklaring aan “kameraad Malema” se adres ‘n nuwe seisoen van sterker leierskap uit daardie oord inlui.
Maar mag ons almal tot nugterheid gedwing word en twee keer dink oor ons eie bydrae tot versoening – of polarisasie (HvD)
Apr 6, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Om Barnie Human van Bloemfontein kon altyd met smaak vertel van die ou wat so ‘n ekspert was op die smaak van drank. Gee vir hom enige eksotiese ding om te proe, en die ding se naam rol dadelik van sy tong.
Moeg om elke keer getroef te word, gee hulle hom ten einde laaste ‘n glas water. Hy proe … trek ‘n vies gesig … proe weer. “Nee, julle het my,” kom sy antwoord toe. “Ek het nie n idee wat dit kan wees nie. Maar een ding kan ek vir julle sê: Dit gaan nie verkoop nie!”
Vra julle my my oordeel oor die nuwe 50/50 wat gisteraand met groot fanfare op TV2 geloods is, moet ek ongelukkig dieselfde sê: “Dit gaan nie verkoop nie.”
Ai, as ‘n mens darem dink aan hoe natuurliefhebbers voor die ou 50/50 vasgenael gesit het. Maar telkens was daar die een of ander wysneus wat beter geweet het. Gesigte het gekom en gegaan, en program-inhoud is gedurig “vernuwe”
Met elke modernisering is die essensie vermurwe. Mettertyd het 50/50 al hoe minder vir hierdie kyker noodsaaklike kykstof geword.
Die doodskoot was die breekspul met Johan Botha se span, wat – ironies genoeg – nadat hy al onder die valbyl gekom het, nog pryse ingeryg het. Eers het ons gehoor die durabele Botha het opdrag gekry om “weer te gaan dink” oor die program. Daarna is hy, klaarblyklik gesteurd, oor Kyknet toe. Sy span is sak en pak agterna.
Nou sit ons met so ‘n byderwetse glans-en-glinster-konkoksie. In die liggewig- aanbiedersgeledere is, behoede dit, onder andere selfs ‘n Amerikaner, wat klaarblyklik ‘n masjien-verknogte is. Ken daardie jappie die reuk van die veld?
Toe ‘n sesjarige kleinkind (wat spesiaal wakker gebly het) vra: “Maar, oupa, hoekom wys hulle dan motors op ‘n diereprogram?” was die koeël klaar deur die kerk. Hy en hope ander jong kykers sou liewer dadelik wou terug “dierekanaal” toe. Nie lank daarna nie, was ek ook aan die gaap.
Een klik en die skerm was donker.
Dalk het ek die beste deel van die program gemis. Ek wonder egter. Het hulle werklik iets nuuts oor die myne in die wynland gehad?
Nee wat, die groenes het oorgevat met hul eie defenisie van ‘n natuur- of omgewingsprogram wat klaarblyklik so wyd is soos die Heer se genade. My hart is nie geraak nie. As ek ‘n projeksie moet maak oor wat in die toekoms wag, is dit met wanhoop.
Pleks dat hulle die naam 50/50 ook maar argief toe stuur. Ek assosieer dit met iets van ‘n ander stoffasie. (HvD)