Mar 29, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Drie kuiergassies vereer my en Tokkie hierdie Aprilvakansie met hul teenwoordigheid hier op Melkbos. Pa. Brent, en Ma, Marisa, kuier sorgeloos in Sabiepark.
Hier sit die drie, Jacob en Thomas, wat vat-vat aan ses, en Christopher, wat so skuins verby een is, vir Oupa en poseer of botter nie in hul mond kan smelt nie.
Wel .. botter kan!
Christopher se ambisies om in alles met die ouer boeties kers vas te hou, beproef by geleentheid hul geduld en wek by die jongste die frustrasie van verydeling. Die reaksie weerspieël die magteloosheid van ‘n eenjarige wat in kommunikasie en mededingendheid by amper-sesjariges afsteek.
Gistermiddag al begin ek wonder oor die beskikbaarheid in hierdie tyd en dae van ‘n gesogte tradisie uit die “goeie ou dae”. Dit word beskryf met ‘n koppelwoord wat met “kinder” begin, maar waarvan die agtervoegsel politiek te inkorrek is om op skrif gesit te word.
In Europa noem hulle mense wat plus-minus dieselfde funksies verrig, “au pairs”. Ek dink tog die Suid-Afrikaanse weergawe was beter.
Die rol wat dit in my eie prille jeug gespeel het, was volgens my oorlede ma nogal betekenisvol, nie net om my te leer hoe om poetoepap met my vingers te rol as ek so saam-saam uit ‘n groot swart pot sit en eet nie, maar om vir my ‘n Zoeloewoordeskat aan te leer wat aanvanklik my Afrikaanse woordeskat aansienlik oortref het.
Dit het my boonop onder moedersvoete uitgehou, en ek was glo maar ‘n lastige ou babatjie met my kroepborsie en al sulke dinge.
Dit is met daardie binnekennis dat ek bereid is om beter as markverwante vergoeding, plus byvoordele, aan te bied.
Tokkie huldig egter die ontnugterende opvatting dat ek drome droom en gesigte sien. “Jy yl, meneer van Deventer, jy yl. Waar sal ons so enetjie uitkrap? Nie in Rietvlei se bos nie.”
Altyd ‘n optimis, plaas ek my versugting desondanks my vrou se bedenkinge tog maar hier op my bloggie.
Iemand weet nie dalk waar so ‘n goeie outydse variasie op die tema van ‘n byderwetse “au pairtjie” in die hande gekry kan word nie?
Die vergoeding wat ek aanbied, groei met die uur! (HvD)
Mar 27, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Diegene met lang genoeg geheues om Haasdas se nuuskas te onthou (asook Heidi en die Brady Bunch), behoort dadelik die sensasie van herkenning te gewaar as ek praat van Petrocelli en Petrocelli se huis.
Tony Petrocelli was in die begindae van TV in Suid-Afrika ‘n gewilde televisie-advokaat wat van Boston na die platteland uitgewyk het. Hy het die kuns geken om waar alles verlore lyk, die kastaiings vir sy kliënte uit die vuur te krap. Sy ryding was ‘n gedaan ou bakkie en hy was aan’t bou aan ‘n huis wat nooit kon klaarkry nie.
Die huis op die foto noem ons Petrocelli se huis. Dis nie oor enige ooreenkoms in voorkoms nie. Hierdie een, reg oorkant my in Penguin Place, Melkbos, is van ‘n ander stoffasie. Maar dit kon eenvoudig ook nie klaarkom nie. Na vier of vyf jaar staan dit nou se einde kant toe. Die bure is uit hul vel van verligting.
Petrocelli se TV-huis is iewers in Arizona in die Nevadawoestyn opgerig. Die konstruksie van hierdie gele het ook eindelose sandstorms veroorsaak. As die suidoos opsteek, kom die seesand in vlae na die arme bure aangerol. En sementsakke. En ander gemors. Dan is dit uit met die kruiwaens en grawe om op jou werf orde te herstel.
Hoekom die bouery so lank geduur het, is ‘n bitter lang storie waarin oortreding van omtrent elke bouregulasie onder die son ter sprake was. Die oorspronklike eienaar, ene Baragwanath, ‘n afstammeling van die man na wie die Baragwanath-hospitaal genoem is, is al lankal langboompies toe.
Na ‘n lang tussenfase waarin niks gebeur het nie, het die nuwe eienaar op die toneel gekom. Hy het die plek op ‘n veiling gekoop, en moes heelwat herbou om onder meer binne hoogtegrense te kom. ‘n Laer nuwe vlak moes onder meer bygevoeg word om die gemiddelde hoogte af te bring.
Maar dis nie al nie. Die jong eienaar het as ‘t ware die “stooskrapers” ingestuur. Kaste, vloere, muurteëls en wat nog is voor die voet gestroop en vragte vol weggery. Van daardie huis waarin nog nooit iemand gewoon het nie, was uiteindelik net die buitedop oor. Selfs binnemure het links en regs gewaai soos vertrekke groter of kleiner gemaak is.
Een van Tokkie se roetinetakies van die laaste jare was om gereeld by ons voordeur te gaan inspeksie doen watter onaansienlikheid die wind daar aangerig het. Dan stoom sy oor om werksmense aan hul ore te gaan naderpluk en te eis: “Maak skoon!”
Sy wonder of die stormwaterdreinering gaan voldoende wees, vra sy nou die dag. Ek bespeur in haar stem amper ‘n hoopvolheid dat ‘n nuwe probleem wag om na vore te kom – anders kan dit vir iemand met so ‘n rustelose gees soos my gade buitengewoon vervelig word, vrees ek.
Gelukkig vir haar is hoër op in die straat darem ook nog ‘n bouery aan die gang wat belofte toon om ‘n uitgerekte besigheid te word.
Want dis nou maar een ding van Penguin Place wat hom onderskei van alle ander strate waarin ek al gewoon het – van ons dertien jaar gelede hier ingetrek het, was hy nog nooit sonder sy kwota messelaars, pleisteraars en annerlike soorte konstrukisietipes nie.
Ons sal waaragtig nie weet wat ons getref het as stabiliteit en rustigheid in onse straat moet neerdaal nie. (HvD)
Mar 26, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die Britte raak minder stywebolip, lees ek in die koerant.
Wonder of ‘n ou nou al met n leerbaadjie aan mag gaan brekfis eet in die East India and Devonshire Club naby Piccadilly Circus in Londen. Sou daardie ou nasie nog ‘n bibberasie kry as jy ongedas en in ‘n kortmouhemp in die voorportaal van die klub opduik?
Met daardie weleerwaarde klub in die Wes-Einde het die uwe in die 80’s kennis gemaak danksy die wederkerigheidsbeginsel toe hy – hoogste van hoge ere! – die eerste redakteur van Die Volksblad was wat die portale van die Bloemfontein-klub as lid kon betree.
Die ou kamertjies was maar piepklein, maar die “smoking room” met sy leermeubels en mure tot heelbo uitgevoer met kreunende boekrakke het jou nogal vernaam laat voel as jy daar jou Van Rhijntjie aansteek.
Nog ‘n plesier was ‘n lang Ingelse brekfis in die ornate eetkamer met sy swaar silwer eetgerei waar die Britse edeles saam met hul roosterbrood, gebakte eiers en varkworsies aandagtig die Times of die Telegraph van hoek tot kant sit en belees.
Een oggend daag ek vir ontbyt op in my netjiese swart leerbaadjie. Dadelik word ek voorgekeer. “You have to wear a jacket, sir” – klem op die sir.
“ I am wearing a jacket.”
“Rules require a decent jacket, sir.”
Ek moes mooitjies my spoggerige baadjie met sy vier knope en vier sakke op die voorpante gaan verruil vir die eenvoudige baadjie van die enigste pak klere in my bagasie.
“Thank you, sir.”
Op dieselfde besoek klim die kwik tot ongekende vlakke. Ek wil die dag “toeris-toeris” speel en daag op my pad uit in die voorportaal op met kortmoue en sonder ‘n das.
“Sorry, sir, not allowed.”
Op die foto kan die resultaat gesien word van die improvisasie om my behoorlik genoeg te kry om by die voordeur uit te glip. Tokkie het my tot die onmiskenbare wrewel van die deurwag in sy swaelstert so op die trappies van die East India and Devonshire afgeneem. (HvD)
Mar 25, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
Opskrifte soos dié sal sekerlik op 1 April opduik, meen my oud-kollega Herman le Roux n.a.v. my Gekkedag-blog:
Julius Malema in Zuma se kabinet opgeneem
Mugabe stel Malema in hoë pos aan
Julius Malema kuier by Eugene Terreblanche
Onthulling: Julius Malema is Zuma se kind!
Julius Malema koop drie SA goudmyne
Julius Malema koop persgroep
Julius Malema SABC se nuwe grootbaas
Julius Malema verhuis na Nigerië
Julius Malema vlug in nag. Dalk reeds in Europa
Julius en Caster voor kansel
Julius bring nag in sel deur
Enigiemand anders wat wil saamspeel? (HvD)
Mar 21, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uir Melkbos
Net een kyk na die voorblad moet die leser laat uitroep: “O magtig!” Dan weet jy jy het ‘n goeie koerant. In hierdie advies van ‘n Britse koerantbaas skuil nogal ‘n stuk waarheid.
Dink net hoe die krete van “o magtig” sal vlieg vir ‘n voorblad met die volgende berigte:
Spesiale permitte nodig vir veisbraaivuurtjies:
Pretorias se “volksvreemde” jakarandas gaan waai;
Bloemfontein se Naval Hill gaan platgestoot word om Kimberley se Groot Gat op te vul;
Alle Afrikaners met die vanne Verwoerd, Vorster, Malan en Botha moet dit verander tot Zuma, Malema, Sexwale of Ramaphosa;
Die KKNK verskuif na Australië;
Die Springbok-embleem word twee gekruisde assegaaie.
Sulke “berigte” is wel al gepubliseer of uitgesaai. Liggelowiges het dit vir soetkoek opgeëet. Hulle het warm om die boordjie of in wanhoop gereageer. Later moes hulle skaapagtig geglimlag as hulle agterkom hulle is met Aprilgek-stories uitgevang.
Gekkedag word op 1 April omtrent oor die aardbol gevier – van die ooste tot die weste. Sefs in die humorlose Rusland. Mense word poetse gebak, vir die gek gehou of in die algemeen perdebolle vir vye gevoer. Die doel is om die slagoffers soos sotte te laat voel.
Koerante, radiostasies en wat nog speel lustig saam, dikwels met prominente berigte wat só aangebied word dat dit meer as net ‘n skyn van geloofwaardigheid vertoon. Ook vriende stel mekaar strikke, familie vang mekaar uit.
Die oorsprong is só oud soos die berge – volgens een weergawe selfs só oud soos toe die berge in die Sondvloed met water bedek was. Die dag sou dan ontstaan het toe Noag – glo op die eerste dag van die Hebreeuse maand wat met April ooreenstem – die duif te vroeg uit die ark gestuur het. Daar is egter hope ander verklarings.
Tokkie het in ons gesin nogal konsternasie veroorsaak met haar mededeling een 1 April dat sy swanger is met ‘n bitter laat laatlammetjie. ‘n Niggie het net voortgegaan om verbete haar naels te vyl toe sy die nuus hoor, en koeltjies opgemerk: “Hoe interessant”.
Ek was op Groot Brak om ‘n heildronk by ‘n goue bruilof in te stel toe ons dogter, Marisa, een middag bel: hulle trek sak en pak (klein tweeling en al) iewers in donker Afrika in. Om die kleinkinders te sien gaan, was allesbehalwe ‘n aangename vooruitsig. Die telefone tussen my en Tokkie by die huis is vuurwarm gebel.
Toe bel Marisa weer en vra vroom: “Watter dag is dit vandag?”
Dêmmit! Om te dink ek het my stortbad opgeoffer om op Tokkie se skouer te huil en by ingeligtes dringende navrae te doen oor mediese geriewe en dies meer in die land van hul bestemming. Maar dit was glo ‘n manier om hul ma terug te kry oor die swangerskap-storie.
Nou’s ons aan die vooraand van 1 April. Kreatiewe geeste is seker al aan’t planne maak vir Gekkedag 2010.
Oor die groot sokker sou ‘n koerant of radiostasie dalk ‘n lekker relevante liegstorie kon opdis. Maar ek dink ek stem saam met Tokkie: Tema Nommer Een moet Julius Malema wees. Min ander onderwerpe kan soveel blou woede ontlok! (HvD)
Mar 19, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Uit Melkbos
Uit Manie se laai (vorige blog) kom ook foto’s van studentemaats wat – ai, hoe treurig stem dit ‘n mens – reeds langboompies toe is.
Een van hulle is die lang, rateltaai Hennie Smit op wie se skouers die uwe hier so uitgelate sit, en ‘n ander, Piet Lategan (met die blou hemp). Die foto is na ‘n la-a-a-a-ang braai by Orkney-Vaal langs die roosters geneem.
Oor Hennie (die Hoenderboer) en Piet (Gandhi) skryf ek albei in my boek “Byl in my bos” waarin ek persoonlike herinneringe opdiep van bome wat al uit my bos gekap is.
Oor Hennie, vertel ek van die kombuiskaste wat hy sukkel-sukkel op een been vir sy vrou, Lettie, na haar dood voltooi het om sy belofte aan haar na te kom.
Piet se storie is nogal humoristies – hoe hy een aand deur ‘n blondine wat hy by ‘n rugbywedstryd opgetel het, in die inryteater van sy beursie be-vry is.
Manie se liewe vrou, Sannie, is ook al oorlede en figureer ook in “Byl”: as ‘n model-ouma.
Tempus fugit – ja, die tyd vlieg. (HvD)