LANGS DIE SABIERIVIER

More uit Sabiepark

Raak ons wild min weens onbeheersde stropery? Vind ‘n ander onheiligheid dalk in die Wildtuin plaas, soos georganiseerde jag?

Sulke kampvuurdebatte is in die Kruger-wildtuin nie nuut nie, het die laaste jare in intensiteit toegeneem, en is vanjaar besonder lewendig.

Party Wildtuinebesoekers het hierde winter al vele kilometers agter die blad sonder om iets noemenswaardigs te sien. Ook die uwe was al gefrustreerd.

Op die staatmakerpad tussen Skukuza en Onder-Sabie was ons egter Maandag gelukkig. Twee luiperds vlakvoor ons, ‘n renoster wat by die rivier staan en drink, drie troppe olifante en ‘n buffel in die water het vir genoeg opwinding gesorg. Slegs koning leeu het ontbreek om die Vyf Grotes op een oggend vol te maak.

Naby Onder-Sabie het ons selfs ‘n eland onder ‘n boom sien koelte soek. Ja, ‘n eland! Wat hy daar kom soek het, weet ek nie.

Die een olifant-trop was meer as 30. Hulle het die verkeer geruime tyd belemmer.

Die eerste luiperd het ons die oggend tussen die Nkuhlu-piekniekplek en Onder-Sabie gesien. Hy het voor ons oor die pad gestap. Die tweede het ons die middag naby die Krugerhek raakgeloop.

Hy was klaarblyklik op jag. ‘n Troppie rooibokkies het trillend hul besef van die gevaarlike teenwoordigheid te kenne gegee.

Die foto hierbo is van nommer twee. Nommer een sou bepaald ‘n beter foto opgelewer het, maar om die een of ander rede het ek nie my Canon uitgehaal nie.

Spyt kom altyd te laat! (HvD)

VOEL DIT – DIS HIER OOK!

More uit Sabiepark

Verbeel ek my of skop die kameelperde vanjaar doel-gerigter? Hoe klink die geween van die hiënas dan of dit van die Mbombela-stadion (met sy indrukwekkende kameelperd-dakpilare) se kant aangesweef kom?

Natuurlik, dis Sokkerjaar 2010, en ons voel dit ook hier in die wyke van die Wildtuin. Wanneer ek wild, soek wapper ‘n vlaggie bo die Honda se dak. In die Skukuzawinkel word selfs vuvuzelas verkoop – maar gelukkig mag jy dit darem nie binne die Wildtuin blaas nie.

Die leeu se brul oorheers darem nog.

Die lowerryke bos is ‘n verrassing – die resultaat van April-reëns soos min (223 mmm teenoor 10 mm in 2009). Maar, o wee, net een ligte dwarreltjie, en die swembadjie lyk of ‘n storm dit getref het.

Ons sien heelwat wild rondom die huis en op pad piekniekplek toe. Een middag was kameelperde, sebras, rooibokkies en bobbejane aan’t saamkuier op een kol. Tuisgekom, het die sekelsterte in die agterste lapa op ons gewag. Gelukkig het ons hierdie keer skadeliker attensies vrygespring.

By die eerte teken van bobbejane laat die tweeling, Jacob en Thomas (6) die ketties sing. Jacob se ammunisie is klippies. Thomas het vir daardie doel ‘n sak vol koedoe-bolletjies opgetel.

Gewilde besoekers by die huis is ‘n vlakvark-gesin van sewe. Jacob en Thomas het hul gunsteling “Waffie” gedoop – omdat die ander “lelik is” met hom. Die hiena veroorsaak, soos altyd, opwinding. Drie nagapies het by die nok ingetrek.

By die piekniekplek was ons beste waarneming ses olifante. ‘n Visarend het vlakvoor ons kom sit. Maar jy moet stip kyk – die riete staan hoog. In die Wildtuin sien ons ook heelwat olifante, maar nog geen katte in die eerste week.

Jacob en Thomas word oral herken en met die vreugde van weersiens verwelkom – ook deur die motorwag wat nog die dag onthou toe ‘n verwese Jacob in die verkeerde voertuig geklim het.

Danksy ‘n gestoei wat rof begin raak het, het Thomas, ongeskeduleerd, ‘n vyfde tand gewissel. Vir die “tande-veldmuis” was dit ‘n groot toets. Hy is per sms teen die gevare van die hiëna, die slang, die skerpioen en die donker gewaarsku. Moderne tegnologie!

Veldmuis het die toets geslaag, Die tandjie in die skoene is met n R20-noot vervang. (HvD)

VAKANSIE VAN LUIPERD IN BOOM

More uit Melkbos

Die jaar is nog jonk. In hierdie stadium is 2010 egter onteenseglik die Jaar van Groot Sokker, hoewel sekere rugbymense seker sal verkies om daaraan te dink as die Jaar van die Orlando-stadion, of wat praat ek alles?

Interessant nie waar nie, hoe elke tydvak gedefinieer word deur een of ander oorheersende gebeurtenis, ook in elkeen se eie lewe. Dink maar aan die Baby Boomer-generasie. Die titel van Engemi Ferreira se roerende boek skiet my ook te binne: Die jaar toe my ma begin sing het.

Die jaar 2010 word natuurlik nie net gedefinieer deur die hier en nou nie –ook deur goed wat doer in die verre verskiet gebeur het, en vanjaar ‘n baken-herdenking beleef.

Die Unie van SA het presies ‘n eeu gelede in 1910 tot stand gekom. Ons ou landjie is 100 jaar oud!

Die nylonkous se 70ste verjaardag word gevier en die eerste kredeietkaart van Diners Club se 60ste. Ook vanjaar 60 jaar oud is die versoekprogram U eie keuse (nou aangebied deur Willem Pelser) – die oudste program op die SAUK.

Die Pil (en die seksuele revolusie van die 60’s) is 50 jaar oud. Alfred Hitchcock het die riller Psycho met sy beroemde stortmoord-toneel is ook ‘n produk van 1960. En die musiekgroep die Beatles is in 1960 in Liverpool gestig.

Die jaar 1970 was die jaar van die supersoniese Concord en die jaar van rock-musiek. Die grootste rock-fees ooit is op die Isle of Wight gehou met 600 000 mense teenwoordig.

Dertig jaar gelede, in 1980, het die rekenaar oor private huise se voordeurdrumpels gekom. PC’s maak hul verskyning in studeerkamers.

In 1990, 20 jaar gelede, het Nelson Mandela uit die tronk gestap. Koebaai, ou Suid-Afrika!

Die jaar 2000, net 10 jaar gelede, was die Millenniumjaar. Y2K, onthou u? Onthou u ook al die voorspooksels van die ellendes wat ons te wagte kon wees: rekenaars wat sou “oppak”, vliegtuie wat sou val, selfs die “einde van die wereld soos ons dit ken” (die sogenaamde Teotwawki)?

Jammer vir die lang aanloop. Dit is eintlik maar net om daarby uit te kom dat ek en Tokkie (en die tweeling Jacob en Thomas) Sondag Sabiepark toe vertrek vir ons 26ste bosvakansie in 12 jaar. Elkeen van daardie vakansies het sy eie etiket, bv. Jaar van die Olifante, Jaar van die Leeus, ens.

Ons Januarie-vakansie was die Vakansie van die Luiperd in die Jakkalsbessie.

Wonder wat vanjaar se sewe weke gaan oplewer wat so spesiaal gaan wees dat dit die vakansie oorheers. (HvD)

Naskrif: Tot wederom! Of ek uit Sabiepark gaan blog, sal deels deur die kwaliteit van die sein bepaal word.

MET SPOT BED TOE

More uit Melkbos

Om die spot met iemand te dryf, is geregverdigde sosiale kommentaar. Dis dikwels ook deksels doeltreffend as politieke wapen.

Veral spotprentekenaars kan stekies uitdeel wat, tot groot vermaak van koerantlesers, wie of wat ookal die teiken is, dodelik tref.

Een voorbeeld is Zapiro, wie se spotprente (veral oor Jacob Zuma) deesdae só gewild is. Ek kry gedurig op my rekenaar e-posse van die kenmerkende Zapiro-humor.

Kyk, dié man is vrek goed – soos ander andere ook Fred Mouton van Die Burger ‘n uitblinker is.

Soms is die stekies van die ridders van die spotprent subtiel, soms ietwat grof. Persoonlik sou ek, as ‘n gewese redakteur, byvoorbeeld huiwerig gewees het om met my koerant se spotprente op geloofstone te trap.

In Afrikaans bestaan immers ‘n minder bekende spreekwoord wat lui: Met spot gaan jy na bed. Dit beteken eenvoudig: Dit waarmee jy spot, kan jou dalk tref.

Dit kan, met ander woorde, sleg boemerang.

Dit is daardie boemerang-risiko waarop nie alle spotdrywers, volgens hierdie ou gryse, altyd voldoende ag slaan nie.

Kom ons los maar die Zapiro-Moslem-debat, en fokus op ’n ander vorm van spot wat deesdae uiters populêr is. Ek verwys na prentjies en dinge wat e-pos-korrespondente vir mekaar heen en weer flits.

Een wat in die jongste tyd vier of vyf keer op my skerm opgeduik het, is oor Bafana-Bafana. Dis konsuis van Suid-Afrika se sokkerspan aan’t oefen op ‘n geheime oefenterrein.

In werklikheid is dit ‘n foto van ‘n trop bobbejane (rêrige, harige sekelsterte) in formasie in die veld.

Op die redes sal ek liefs nie nou ingaan nie, maar verwysings na Adoons is in sekere kulture rede tot groot aanstoot, soos ons al in die Parlement ook beleef het. Ek dink daarom dis onsensitief en uittartend om die Bafanas as bobbejane uit te beeld, en voel ongemaklik as sulke uitbeeldings op my skerm oopgaan.

Sou die verspreiders nie daaraan dink nie dat hul “grappies” onvermydelik ook ‘n wyer gehoor sal bereik – spesifiek uit daardie kultuurgroepe by wie dit as geweldig vernederend beleef kan word, of gee hulle doodeenvoudig nie om nie?

Omdat ek die mense wat vir my e-pos stuur as my vriende ag (meesal) verkies ek om te glo hulle is nie kwaadwillig nie, net onnadenkend.

Asseblief, laat ons tog maar twee keer dink hoe dit kan boemerang as ons blindelings op brose verhoudinge bly trap.

Moenie dat ons “met spot bed toe gaan nie”.

Dit geld ook nie net spot nie. In die laaste paar dae het ek ‘n e-pos gekry wat, met waardering, die positiewe uitsprake oor Botha, Hertzog en Smuts deur ‘n swart vryskutskrywer, Meshack Mabogoane, in die koerant Business Day sirkuleer.

Die opskrif is … wag daarvoor …: “ They’re not all stupid, greedy and corrupt.”

Goeie aarde, dis mos rou rassisme op die omgekeerde Malema-patroon. Op hoeveel skerms is daardie opskrif nie met diepe ontsteltenis en wrewel gelees nie? (HvD)

VAT HULLE – HULLE’S JOUNE!

More uit Melkbos

Dis nog 211 dae voor Kersfees, maar hier is my Kersgeskenk aan iemand wat lus is vir ‘n uitdaging.

Ek gee ses kaartjies weg vir die Groot Sokker, gratis en verniet.

Al vereiste: wurg my 12 kaartjies uit Fifa – ses vir jou en ses vir my.
Die kaartjie is vir die wedstryde op Nelspruit op 20/23/25 Junie. Hulle is gekoop en betaal en gereserveer op my naam.

Wel … nie heeltemal op my naam nie.

Eintlik is hulle op my seun se naam. Hy is nou op George – iets wat ons nie geweet het toe ons verlede jaar om die kaartjies aansoek gedoen het nie.

Volgens die vereistes van Fifa moet hy als op George los en Kaap toe ry om die kaartjies te kom haal. Dis buite die kwessie.

Ten tweede moet hy self die wedstryde bywoon. Hy mag dit nie eens vir my gee, uit wie se bankrekening die geld gekom het nie! Dis nog meer buite die kwessie.

Hoekom verkoop ek dan nie die kaartjies nie?
Hier is die rede:

“In accordance with the Sales Regulations and General Terms and Conditions that each ticket holder agreed to in connection with the ticket application process, ticket holders may not sell, offer for sale, resell, donate or otherwise transfer their ticket in any way, without the specific prior written approval of FIFA.”

Mag ek regtig nie eienaarskap van my eie kaartjies by hom oorneem nie? Lees self:

“No, Ticket Applicants are not permitted to transfer the Ticket allocated to the Ticket Applicant himself. If the Ticket Applicant is unable to attend the match for which he has purchased Tickets, then he may submit all of his Tickets for possible resale under the Ticket Resale programme.”

Hoekom probeer ek nie van die kaartjies ontslae raak deur die sogenaamde Ticket Resale Programm nie? Hier’s die rede:

“Any Tickets that are offered for resale will be entered back into the General Public Ticket allocation and will be sold on a first-come-first-served basis. There is no guarantee that demand for Tickets will result in the Tickets being resold. ”

Wie’s lus om die magtige Fifia aan te vat? Niemand nie? Dan sê ek maar koebaai en “so long” vir my kaartjies en my geld.

Liewe Fifa, dan het julle die bewerasie oor die moontlikheid van leë paviljoene! (HvD)

VREES VIR DIE VAAD’RE

More uit Melkbos

Ex Africa semper aliquid novi … Inderdaad nuut en onheilspellend kreatief is om vrees vir die voorvadergeeste deel te maak van die partypolitiek in ‘n moderne “demokratiese” bestel.

Geluk, Jacob Zuma, met jou oorspronklikheid en vernuftige intimidasie. Derduisende Suid-Afrikaners klappertand seker van vrees oor die nare siektes wat hulle kan oorval as hulle sou durf om dislojaal aan die ANC te raak.

En dis geen grap nie. Vir baie Suid-Afrikaners is respek vir voorvadergeeste immers ’n belangrike faset van geloofslewe. Om die voorvadergeeste kwaad te maak is eenvoudig ondenkbaar.

Waarskynlik ook vreemd vir mense wat nie so goed weet hoe die vurk in die hef steek in ons liewe vaderlandjie nie, is die deurmekaarklitsery van sulke vreesaanjaery met die voorvaders en Christelike gebed.

Een dag gaan jy op jou knieë en smeek die Here se seën op die Wêreldbekertoernooi af. Die volgende dag uiters jy sulke duistere dreigemente. Hoe dan?

Maar in Afrika leef die goed mos maar hand aan hand. Tokkie het gaan grawe en vir my ‘n wonderlike, insiggewende vers van Henk Malan van Potchefstroom uitgehaal. Die naam is Drie Gode, dit is na aanleiding van Lukas 17:6 (oor geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie) en word opgedra aan Henk se huishulp:

Met skelrooi bloes en kraakwit kraag
Doen sy Sondae haar kruistoggang
– Waar Jesus aan die kruishout hang –
Om hom te loof met kreungesang.

Vanaand sal sy voor haar ysterbed
– Drie-baksteen bo die beesmisvloer –
Prewelend, beangs iemand vra
Dat die Tokkelos haar nie moet pla.

More sal sy met gesuiwerde siel
Op die kombuisvloer seer-knie kniel
Om so ‘n ander god te dien,
Wat haar maand’liks van haar loon voorsien.

Godvresend sal sy deur die lewe gaan –
Al het sy die “drie-enig” God nie mooi verstaan.

(HvD)