Jul 12, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Sabiepark
Sewe wildehonde het my angstig my horlosie laat dophou terwyl die Honda Saterdagmiddag op die Doispanepad in die Kruger-wildtuin minstens ‘n kwartier lank agter hulle aankruie.
Die Wildtuin se hekke sluit om 17:30, en dis ernstige sake as jy laat opdaag. Maar hierdie ouens was duidelik op jag – iets wat die besoeker nie elke dag te beurt val nie.
Die Van Deventers, plus Philip en Nance van Rensburg, het ná die slae teen die All Blacks in Auckland ietsie gaan braai in Pretoriuskop. Die braai het langer geduur as wat dit moet moes. Die terugrit was dus onvermydelik effens haastig.
Uit ‘n diere-oogpunt was dit stillerig. Toe skielik die laatmiddag-opgewondenheid!
Die wildehonde het doelgerig by die uitdraai na die N’waswitshaka -watergat (die S65) in die pad gedraf, baie naby aan die vrugbare rivierbedding met die mooi leeus enkele dae tevore.
In die ondergaande son het die bont lywe al kopswaaiend in formasie in die rigting van die Skukuzapad bly draf, kilometers ver. Die benoude spronge van die rooibokkies in die omgewing het verklap dat hulle beslis nie onbewus van die gevaar was nie.
Ons was die ne hartkloppens en ons kameras het aanhoudend geflits.
Van tyd tot tyd is een, twee of meer van die jagters hoopvol die veld in, maar ‘n prooi het hulle telkens ontwyk.
Dalk het hulle later reggekom – ek dink hulle was honger en sou nie sommer tou opgooi nie. Maar die horlosie se wysers het onheilspellend bly aanstap 17:30 toe.
Ons moes maar traag die span honde verbysteek en hek toe mik – ook net betyds.
Dieselfe wildehonde (vermoedelik) het ons en die tweeling Jacob en Thomas aan die begin van hul vakansie vroeg in Junie op plus-minus dieselfde plek raakgeloop. Toe het hulle soos beelde langs die pad gelê.
Dieselfde wildehonde of nie, twee waarnemings van hierdie skaars diere in een vakansie is nogal iets om oor huis toe te skryf.

En om die wildehond-prentjie vir die wintervakansie van 2010 te voltooi, hang in ons woonkamer ook nou ‘n afdruk van ‘n besonderse wildehond-skildery deur die begaafde Maré Bruwer van Melkbosstrand, wat altyd ons kerk so mooi skilder vir die kerkalmanak.
Dankie, Maré vir die groot geskenk – dit lyk spiekeries teen Tarlehoet se muur. (HvD)
Jul 9, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
Toe die onaardse lawaai nou die aand losbars, vloog die SMS’e deur Sabiepark: “Hoor die leeus”. Die “ou hande” het besef dit is nie leeus nie – wel seekoeie wat veg.
Seekoeie is vernietigende vegters onder mekaar. Word die dominante bul in ’n trop uitgedaag, veg hy vir sy status – en die erotiese byvoordele wat dit behels! – soos ’n besetene. Só ’n skermutseling word ’n worstelstryd wat met ’n bloedstollende lawaai gepaard gaan.
Seekoeie se geluide herinner my aan trombone wat voor die begin van ‘n simfoniekonsert ingestel word. Die klank van daardie “trombone” trek in ’n gevegsituasie so ver dat dit klink of reuseklankversterkers
dit uitdra.
Van die hewigste gevegte vind op die grond plaas. Soms gryp die vegtendes mekaar egter in die water, net onder die oppervlak. In water is ’n seekoei in elk geval so tuis soos die spreekwoordelike vis. Swem is vir hom tweede natuur.
Boonop kan hy op die rivierbedding vinnig oor die weg kom. Hy hardloop onder water so vinnig soos ’n mens kan loop. En hy’t ’n lang asem. ’n Seekoei kan tot ses minute onder die water bly.
Hou maar dop vir daardie allemintige “gape” waarin die bekke tot 120 sentimeter gerek kan word. Dikwels toon dit aggressie. Die vegtendes wys vir mekaar hul massiewe tande as ’n vorm van intimidasie. En hul byt is erger as hul gaap. As die tande toeklap, stroom die bloed.
Met die lawaai wat tydens gevegte opklink – veldkenners glo dit is
die ergste denkbare lawaai in die bos – kan ’n mens jou maklik misgis. Een skemeraand enkele jare geelede het ek en Tokkie ook die wêreld vol SMS’e gestuur oor die verskriklike leeugebrul” aan ons poorte.
Ek dag die “leeus” hou ’n vleisfees op Tarlehoet se stoep. Die volgende oggend hoor ons by wyle Sipho, destydse opsigter by die piekniekplek,
dit was glad nie leeus nie. ’n Seekoeigeveg het vlakvoor hom op ’n sandbank losgebars. Na ’n gewelddadige onderonsie het die verloorder weggehardloop.
Later die dag gewaar ek en Tokkie ’n donker lyf oorkant die rivier van die
uitkykplatform af. Tokkie reken eers dis ’n renoster. Toe sien ons dis ’n eensame seekoei. Hy stap moeisaam ’n ver ent met die S3 ooswaarts en swenk toe in rivier se kant toe waar hy agter bosse wegraak. Deur die verkyker sien ons die rou wonde aan die kop en skof. Min twyfel dat hy in die vorige aand se geveg die verloorder was.
Gelukkig darem vir ’n seekoei met ’n eina: daardie spesiale sonroom van hom is terselfdertyd ’n wondersalf. Selfs in die vuilste water word
selde smetterige wonde ontwikkel.
Daardie nag is die kabaal eens so erg en langdurig. Die bos word oorverdowend op horings geneem. Dit hou eenvoudig nie op nie. Lank voor sonop is ek en Tokkie in ons kombi, die “Bosbus” wat nou lank ‘n ander eienaar het, in Wildevylaan op en af op soek na die oorsprong van
die verskriklike gegrom en gesnork.
Al het ons 24 uur gelede met die rumoerige klanke van ’n seekoeigeveg kennis gemaak, was ons tog onseker. Was dit nie hierdie keer dalk tog leeus nie? Maar leeus was dit nie; wel weer seekoeie.
So het ons dit op Sipho se gesag. Die onttroonde leier het vermoedelik geweier om te aanvaar dat hy deur ’n jonger uitdager oorwin, verneder en uitgeskop is. Net ’n dag lank het hy sy wonde gelek. Toe dwing sy trots hom terug om die stryd om sy eer en belange te hervat. Tokkie vermoed die tweede was ’n geveg tot die dood. Van die geluide was vir haar “soos die doodskrete van ’n dier wat pynlik sy laaste asem uitblaas”.
Die verslane alleenloper het ons daarna nie weer gesien nie. (HvD)
Jul 5, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
Die Vyf Grotes (of die Groot Vyf, as u wil) op een slag – dit is die ietwat ambisieuse Wildtuin-wens van die tweeling-keinkinders Jacob en Thomas Claassens (6).
Hulle sal moet opskud. Die beste wat hulle nog gevaar het, is twee op een slag (renoster en buffel). Ek en Tokkie het ook al olifante en buffels (al twee mooi troppe so saam-saam) en ‘n keer ‘n buffel en ‘n saalbekooievaar (een van die Vyf Grotes van die voëlryk) op een slag gesien.
Die Vyf Grotes op een dag is hoogs haalbaar met ‘n bietjie geluk aan jou kant. Dit kan ons uit persoonlike ervaring getuig.
Jare gelede is die piekniekplek Hlanguleni in die Wildtuin deur ‘n Parkeraad-amptenaar (nou Sanparke-amptenaar) by my aanbeveel met twee oorredende motiverings: sy aardse, afgesonderde karakter en die feit dat die pad daarheen gereeld die Vyf Grotes oplewer – “tot twee maal op een dag”.
Ons is gek na Hlanguleni. Só ‘n gelukkie het ons egter nog nie oorgekom nie.
Soms sukkel ‘n mens maar om die Vyf Grotes-legkaart te voltooi. Die laaste stukkie of twee bly jou ontwyk. Vanjaar was daardie stukkie wat die Van Deventers net nie kon raakvat nie, die koning van die bos, panthera leo, of te wel die leeu.
In drie weke het ons hope olifante gesien, baie buffels, drie renosters, twee luiperds vlakvoor ons op die pad – g’n leeu van ‘n dag oud nie.
Tot Vrydagmiddag. ‘n Vinnige draaitjie by die Krugerhek in bring ons vinnig by ‘n verkeersknoop. Iewers, hoor ons, lê ‘n luiperd laag op die grond. Die mense in ‘n CL-Mercedes het glo ‘n onversperde uitsig, maar dié beskerm hulle asof hulle lewens daarvan afhang. Die Merc beweeg nie.
Gefrustreerd, ry ons verder. Op die Doispanepad dam motors weer op. Tokkie sien eerste die swartkraagmannetjie langs die pad. Toe kom ‘n tweede uit die bos. Hulle swaai en swenk tussen die motors deur, en ek kry pragtige foto’s.
Later vestig ‘n mede-Sabieparker ons aandag op nege welpies in die rivierbedding – jy sien net koppe en oortjies. Dis ‘n bietjie ver maar die Canon se lang lens maak dit net-net.

‘n Wenk: as jy op die Doispanepad ry, bekyk gerus daardie rivierbedding oorkant die uitdraaipad na die N’waswitshaka -watergat (die S65) deeglik. Rek maar die nekke. Dis nie verniet nie bekend as ‘n Vyf Grote-uithangplek.
Deur die jare het ons self ook al leeus (meer as een keer), olifante (dikwels) en buffels in daardie bedding gesien. Renoster en luiperd is nie ver daarvandaan nie raakgeloop.
En om die Vyf Grotes op jou lysie af te tik – dit bly darem maar ‘n adrenalien-opwekker soos min. (HvD)
Jun 28, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

DAWIE STRYDOM BY SABIEPARK SE PIEKNIEKPLEK
More uit Sabiepark
Dawie Strydom, my ou Sabieparkmaat van erf 333, Rustig, in Apiesdoringlaan het enkele jare gelede die ewige heldeverering van ‘n duiker-ooitjie verdien toe hy ‘n luislang met ‘n stok pak om haar lammertjie te red.
Die reptiel was besig om by Dawie-hulle se huis die laaste asem uit die duikertjie se gekneusde lyfie te forseer. Dawie druk toe die stok in die slang se keelgat, gryp die lammertjie en voer hom suikerwater totdat hy wankelrig orent kom.
Hy is dus ‘n man van daad, soos jy van ‘n Springbok in die hengelkuns sou verwag. Hy is egter ook ‘n man met ‘n klein hartjie.
Die dag toe ek die gesoute Sabieparker leer ken het, 12, 13 jaar gelede, wou hy by ‘n jaarvergadering van Sabiepark vertel hoe twee swart personeellede, Sipho en Elvis, hom ná ‘n hartoperasie met ‘n stukkie uit die Tsonga-Bybel en ‘n gebed tuis kom verwelkom het.
Dié diep Christen-mens was in trane lank voor die einde van sy storie.
Hy is ‘n man van die boer-maak-‘n-plan-soort. By Rustig is onder meer ‘n spitbraai wat met ‘n fietsketting werk, en sonpanele wat jy al agter die son aan kan skarnier – alles sy eie prakseersels.
Hy is, by alles, ‘n man wat ‘n mondfluitjie kan laat sing.
Wanneer Dawie sy mondfluitjie uithaal en “God sy met u tot ons weer ontmoet” in die helder volmaan, by die flikkerende skaduwees van die laaste hardekool-vlammetjies, eerbiediglik opklink, kry ‘n uurtjie om ‘n vuurtjie ‘n ewigheidsdimensie.
Aanstaande Saterdag (3 Julie) hou Sabiepark sy 28ste jaarvergadering. Die vorige 27 het Dawie en sy vrou, Annatjie, op ‘n paar na almal bygewoon. In ‘n kwarteeu het Dawie die plek waaraan hy so innig verknog is, in liefde gedien. Hy was in die komitee, het waargeneem as bestuurder, het heinings gespan, bruggies gebou, planke geslaan…
Gee hom enige stuk gereedskap. Sy hande staan vir niks verkeerd nie en ‘n lui haar groei nie op die Strydom-kop nie.
Saterdag sal die Strydoms se plek leeg wees.
Daardie skêmerwereld van min onthou maar baie vergeet, van weet en ook nie meer nie weet nie, het hom oplaas ingehaal. Onomkeerbaar.
Iemand anders sal die goedkeuring van die notule moet voorstel.
By die tradisionele agternabraai met reusepotte pap en “sheba” (‘n voortreflike plaaslike tamatie-en-uiesmoor) sal ons vir seker ‘n nostalgiese heildronkie op die wellewende Strydoms by hul huis op die verre Outeniekwastrand drink, en die goeie tye saam onthou.
Met Cellar Cask se wit Johannisberger Select – hul gunsteling. (HvD)
Jun 24, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Sabiepark
Die eerste ses, sewe jaar van ons Sabieparklewe het nagapies alleen geheers op Tarlehoet se stoep. Saans was alle aandag op hulle; alle gekerfde piesangstukkies ‘n kado’tjie vir hulle.
Toe gewaar Brent en Marisa, ons skoonseun en dogter, enkele jare gelede die vreemde dikstert-dier met die knewel-hande in die gewone pendoringboom by die swembadjie. Hulle bel dadelik Melkbos toe vir ‘n identifikasie, maar hul beskrywing slaan my dronk.
Dalk die muskeljaatkatjie? waag ek.
Later bel hulle terug: Nee, nie ‘n muskeljaatkat nie, volgens die boek is dit ‘n bosnagaap.
Skielik het die groter en forser bosnagape met die spoggerige sterte dus ook die piesangroete na Tarlehoet ontdek. Tot vier bosnagape daag op een slag op. Laasnag was daar, te oordeel na die gille en die hoop mis vanoggend, heelwat meer as vier!
Die wedywering tussen die twee faksies is geweldig. Die “moholi’s” weet hulle moet roer. Anders is dit neusie verby. Ná die bosnagape se verskyning op die toneel is drie piesangs die aand die norm. Ons het al tot R3 ‘n piesang in Skukuza moes betaal. Dit is nogal ‘n aansienlik belegging in die kulinere behoeftes van my vrou se gunsteling-diertjies!
Hoe die kleintjies, soos wafferse akrobate, teen die growwe baksteenmuur op- en afklouter sonder om gereeld op die grond te beland? Hulle piepie eenvoudig op hul handjies. Dit is ‘n buitengewoon taai en klewerige vloeistof.
Maar ‘n seisoen van nagapie-neerstortings breek wel tog een winter aan. Elke dag moet Tokkie kleintjies red. Een krul hom op in een van my gehawende ou Green Cross-sandale, wat Jan Scholtz van Bloemfontein verbeeldingryk “Journey’s end” gedoop het. Die apie pas presies in die holte vir die toon.
Gisteraand kom een ou ‘n ysliker verleentheid oor as om net grond te proe. Hy het blykbaar sleg gekorrel, en beland kerplaks! in die swembadjie. Toe ek hom bemerk, is hy besig om met sterk hale vir sy lewe te swem.
Hy haal die kant veilig, skud die ysige, nat, lyfie woes en mik, nog kroeserig, vir die piesangtafel.
Nou weet ons: nagapies kan swem. Een ding minder waaroor Tokkie haar hoef te bekommer! (HvD)
Jun 19, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Sabiepark
Met die rekord-kwiktuimelings van die Vrystaat se Villiers en Deneysville, en selfs met dié van kouerige plekke soos Klerksdorp en Potchefstroom, kan ons in Sabiepark nie saampraat nie. Die Lebomboberge lê nie wit nie. Ons bibber egter ook, hoor!
Veterane praat van Woensdagnag as die koudste in dertig jaar in onse park. As die temperatuur dwarsdeur die nag bo vriespunt gebly het, was dit seker ook maar net-net – met die dikte van ‘n piesangskil, in die plaaslike idioom.
Donderdag ná sononder was dit kwalik warmer.
Tamaaie vure elke aand is ons redding. HvD brand hout soos sy kinders nie sal glo nie. Al is hy lief vir ‘n vuurtjie is hy maar konserwatiewerig as dit by houtverbruik kom.
Op die foto’s soek die tweeling Jacob en Thomas hitte op die Sabiepark-manier.
Oupa kon gelukkig die weldadigheid van ‘n goeie vuur met die weldadigheid van ‘n Skotse watertjie en ‘n goeie oesjaar ondersteun. Dit help! (HvD)