May 24, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Flitsberig: Die Wêreldbeker is gesteel! Stel jou voor die histerie, die chaos, die angs, die woede, die verwarring, die verwyte, die verslaenheid, die frustrasie …
Bedink die groot swart letters op die koerantvoorblaaie, die uitasem-nuusbulletins op TV en radio, die in-diepte-indelwery deur Carte Blanche, Freek Robinson, Fokus, Loslip…
Verbeel jou die die onderhoude met Zuma, Cele, Blatter. Falcke, Helen Zille, Danny Jordaan … Julius Malema, wat almal die bose daad ten seerste betreur en die diewe verdoem.
Is so iets te verregaande om eens aan te dink?
Wel in 1966 het dit werklik gebeur – en dit in die beskaafde Londen, nie in GP (“Gangster’s paradise”) nie!
Die diefstal is op Sondag 26 Maart ontdek in die goed bewaakte saal waar die Goue Trofee van 30 000 pond sterling (destyds) saam met waardevolle versamelings seëls uitgestal is, aan die vooraand van 1966 se Wêreldbekertoernooi in die Britse hoofstad.
Die deur na die vertrek was afgebreek. Die swaar slot aan die uitstalkabinet oopgedwing.
Elke bobbie en die ganske mag polisiehonde het onmiddellik Londen begin fynkam vir die kosbare trofee van soliede goud.
Dae lank kon geen spoor gevind word nie. Toe daag die eis om ‘n losprys op: betaal dadelik 15 pond of julle sien daardie beker nooit weer nie – ons smelt hom op.
In ‘n stadium dag Scotland Yard: “Ons het ons man”. Toe’s dit net ‘n kansvatter.
Uiteindelik gebeur ‘n ding waarvan ek in my hondeboekie, ‘n Vriend vir altyd (Human en Rousseau, 2000), in die hoofstuk Skote, Ou Pote! vertel.
‘n Jong basterhondjie Pickles (1) steek al die uniformdraers die loef af. Sy snuffel die beker in ‘n heining in n woonbuurt in die suide van Londen uit, sommer vinnig en bra slordig in koerantpapier toegedraai.
Verligting oweral. Pickles word oornag ‘n held. Later speel sy saam met June Whitfield in die rolprent, The spy with a cold nose.
Engeland wen daardie jaar die beker wat so amper voete gekry het, maar in 1970 word dit permanent aan Brasilië gegee nadat daardie land die toernooi die derde keer gewen het. (HvD)
May 24, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Que Sera Sera en Tammy is nie die enigste onthou-liedjies uit flieks van my jong dae nie (vorige blogs).
Hope rolprent-temas van toeka het treffers geword het. Hier’s 15-stuks wat die uwe in sy kop gestoor het, en wat hom telkens laat tintel as hy een oor die radio of waar ook al hoor opklink:
1956: True Love uit High Society
1957: April Love uit April Love
1957: River Kwai-mars uit The bridge on the river Kwai
1958: Around the world uit Around the world in eighty days
1960: Theme from a summer place uit A summer place
1960: Never on a Sunday uit Never on a Sunday
1960: The green leaves of summer uit The Alamo
1961: Moon river uit Breakfast at Tiffany’s
1966: Strangers in the night uit A man could get killed
1963: More uit Monda Cane
1965: Zorba’s dance uit Zorba the Greek
1970: Raindrop keep fallin’ on my head uit Butch Cassidy and the Sundance Kid
1970: Theme from Love Story uit Love Story
1973: The way we were uit The way we were
1974: The Entertainer uit The sting
Ek pen hulle maar chronologies neer – te skrikkerig om my geheue te vertrou met ‘n voorkeurlysie van een tot vyftien.
Opvallend, né, dat in drie titels die woord “love” voorkom.
Vir Love Story met Alli MacGraw en Ryan O’Neal het ek ‘n ereplekkie in my hart. Die rolprent speel hom af op die pragtige kampus van die Harvard-universiteit in Cambridge. Massachusetts, waar ek bevoorreg was om in 1976/77 as Nieman Fellow rond te loop.
Hoop iemand is lus om saam te gesels oor my keuses. (HvD)
May 21, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
En oubaas Alfred Hitchcock, die sogenaamde “Master of Suspense”, self? Wat het van hom geword? Hy is al op 29 April 1980 (ouderdom 80) in Kalifornië oorlede.
Onder sy 50-stuks vollengte prente is, naas Psycho (hierbo genoem) verskeie meesterstukke wat my vasgenael gehou het, soos Dial M for murder, Rear window, Vertigo, Noth by Northwest en The Birds.
Die beeldskone Grace Kelly was in minstens drie (o.m. in Rear window saam met James Stewart) die heldin – toe gaan staan sy en trou met prins Rainier van Monaco. Wat ‘n onherstelbare verlies vir die silwerdoek!
Hitchcock het gehou van mooi mense in sy rolprente. My generasie se meisiekinders was gek na die aantreklike Cary Grant. Grace was ook nie die enigste mooi vrou in ‘n Hitchcock-fliek nie. In Vertigo was daar Kim Novak wat die mans se harte warm laat klop het.
In The man who knew too much (nog ‘n Hitchcock-treffer) sing die oulike rabbedoe Doris Day die temaliedjie, Que Sera Sera, wat ‘n groot treffer geword het:
Que sera, sera
Whatever will be will be
The future is not our’s to see,
que sera, sera ….
Die liedjie het in 1956 (‘n uitstekende oesjaar vir die rolprentbedryf) die Oscar gewen vir rolprentmusiek.
Wat baie mense nie weet nie, is dat oubaas Hitchcock in Londen gebore is en sy loopbaan as rolprentmaker in Brittanje begin het. Trouens, hy het eers in 1956 (die jaar van Rear window en vier jaar voor Psycho) ook ‘n Amerikaanse burger geword.
Hitchcock word algemeen beskou as die grootste Britse rolprentmaker, en is heelbo aan die lys geplaas in ‘n peiling van rolprentkritici deur die Londense koerant Daily Telegraph in 2007.
Volgens die Telegraph is hy “unquestionably the greatest filmmaker to emerge from these islands, Hitchcock did more than any director to shape modern cinema, which would be utterly different without him. His flair was for narrative, cruelly withholding crucial information (from his characters and from us) and engaging the emotions of the audience like no one else.”
Die tydskrif MovieMaker het hom genoem: The most influential filmmaker of all time.”
Sy vaardighede as riller-koning, sy skoktegnieke en skitterende kameratruuks, demonstreer hoekom ek so ‘n sagte plekkie vir Britse rolprentmakers het. (HvD)
May 20, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Jong Janet Leigh
More uit Melkbos
My onvleiende verwysing na die gewese Franse sekskat Brigitte Bardot (75) as “uitermate beplooi”, het my laat wonder oor Janet Leigh, die fyn blondekoppie wat onder die stort in die legendariese Hitchcock-riller Psycho (1960) met ‘n mes doodgekap is (vorige blog).
Leef sy vyftig jaar later nog en hoe oud sou sy nou wees?
Me. Leigh leef, helaas, nie meer nie. Sy is op 3 Oktober 2004 op ouderdom 77 in haar slaap oorlede weens vaskulêre probleme. Die Byl kap oral.

Ouer Janet
Na Psycho het sy dus nog 44 jaar geleef, en na haar rol as Marion Crane in Psycho nog verskeie goeie rolle vertolk, onder meer in The Manchurian candidate and Touch of evil. Sy het uiteindelik in 60 rolprente gespeel, onder andere teenoor Robert Mitchum, Ezio Pinza, James Stewart, Dean Martin, Jerry Lewis, Frank Sinatra, John Wayne en Dick Van Dyke.
Die storttoneel in die Bates Motel in Psycho was egter die hoogtepunt van Janet se loopbaan. Dit het vir haar ‘n Golden Globe en ‘n Oscar-benoeming verwerf as die beste ondersteunende aktrise, en het tot drie opvolg-rolprente gelei. Sy het later selfs ‘n boek oor Psycho geskryf.
Daarin het sy die geheimpies uitgelap dat sy vir die verfilming van die storttoneel persoonlik sewe dae lank in die stort was, en dat sy daarna, soos vele fliekgangers, nooit weer van stort wou weet nie.
Ek het al vergeet dat sy in ‘n stadium getroud was met Tony Curtis. Gelukkige Tony! ‘n Dogter uit hul huwelik, Jamie Lee Curtis, het ‘n ster uit eie reg geword, maar haar sprankelende ma was mooier.

Anthony Perkins
Anthony Perkins, wat die rol van die moorddadige moteleienaar in Psycho gespeel het, is al in 1992 op 60 oorlede aan komplikasies wat
veroorsaak is deur die HI-virus.
Perkins is in 1956 vir ‘n Oscar benoem vir sy ondersteunende spel in Friendly Persuasion, waarin hy saam met Gary Cooper verskyn het.
Ook in sy geval was dit egter Psycho wat hom en sy karakter Norman Bates rolprentlegendes gemaak het.

Doris Day
* Twee van my gunsteling-“meisies” van daardie dae wat nog leef, is Doris Day (86) en Debbie Reynolds (78). Doris se trefferliedjie Que Sera Sera (Whatever will be will be) laat nou nog my bloed tintel. Op Debbie in die titelrol van Tammy in die rolprent Tammy and the bachelor (1957) het die uwe smoorverlief geraak
“Tammy, Tammy, I am in love”! (HvD).

Debbie Reynolds
May 19, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Die rolprenttoneel wat mense laat ophou stort het. Só is verwys na die bloedstollende stortmoord in die Alfred Hitchcock-riller Psycho wat in 1960 die silwerdoek met ‘n skok getref het.
Vir die wye stort-fobie wat daardie toneel sou veroorsaak het, kan ek nie instaan nie, maar dit was woes. Dit het rillings langs die ruggraat afgestuur. Fliekgehore het asems opgetrek en gilletjies het oral in die donkerte opgeklink. As dit fynbesnaarde mense afgeskrik het van stort, sal dit my nie verbaas nie.
Dié vreesaanjaende moord in die stort is een van die onvergeetlike fliektonele wat dadelik by my opkom as ek begin lysie maak van dié wat my deur die jare besonderlik getref het.
In Psycho speel Anthony Perkins die rol van ‘n reeksmoordenaar, Norman Bates. Die mooie Janet Leigh speel ‘n sekretaresse, Marion Crane, wat in ‘n motel wegkruip nadat sy haar baas bedrieg het. Dit is in daardie motel waar sy haar einde in die stort teenkom.
Die toneel word as uniek beskou omdat die kamera as ‘t ware die mes word waarmee Marion doodgesteek word terwyl die water op haar neergiet. Dit duur net ‘n minuut of drie op die skerm, maar het sewe dae geneem om te verfilm. Die arme me. Leigh (op die foto) was glo die hele tyd self in die stort.
‘n Ander beroemde toneel wat die asems laat jaag het, is natuurlik die meer onlangs kruising van bene deur Sharon Stone in die rolprent Basic Instinct (1992) saam met Michael Douglas. Die speurders wat haar ondervra oor ‘n moord, sien me. Stone se slanke bene tot doer bo, en dis nie al wat hulle sien nie!
Vir erotika is ‘n ander, heelwat ouer, toneel egter steeds top in my boekie – dit is die seduksie op die poeltafel in Roger Vadim se And God created woman, wat ek in 1959, my tweede jaar op Tukkies, in die Monte Carlo-bioskoop in Hatfield gesien het.
In die rolprent was die Franse sekskatjie Brigitte Bardot – nou ‘n uitermate beplooide 75. Maar toe was sy fraai en begeerlik en het sy ons Kollegemanne die Monte Carlo laat vol pak in die hoop op ‘n glimpsie geheime lyf.
In And God Created Woman is ‘n kaal bolyf inderdaad vlugtig uitdagend na die kamera gedraai. My eerste. Ai, ai. ‘n Opgewonde fluistering het deur die bioskoop getrek. “Liewe Here!” het iemand oorstelp uitgeroep.
‘n Toneel wat my (seker maar weens ‘n ongelukkige Chauvinistiese streep) behae gegee het, was in David O’Selznick se Gone with the wind van 1939, ‘n epiese rolprent wat handel oor die Amerikaanse burgeroorlog.
In dié tipiese Amerikaanse “road show”, wat hom in die deelstaat Atlanta in die Amerikaanse suide afspeel, was wonderlike sterre soos Clark Gable, Vivien Leigh, Leslie Howard en Olivia de Havilland.
My gunstelingtoneel was waar Clark Gable as Rhett Butler vir Vivien Leigh as Scarlett O’Hara snedig toevoeg: “Frankly, my dear, I don’t give a damn.”
‘n Snaakse rolprent met vele uiters snaakse toneeltjies was The Fast Lady, ‘n Britse komedie van 1962, met gewilde Carry On-sterre soos Stanley Baxter, Leslie Phillips en James Robertson Justice. Ene Julie Christie het daarin haar debuut gemaak – en wat ‘n loopbaan!
Die Fast Lady is egter nie me Christie nie – dis ‘n swierige Bentleymotor. Ek wou in die gangetjie rol van die lag vir ‘n toneel waarin twee ambulansmanne ‘n pasiënt, toegewikkel in verbande, op ‘n draagbaar oor die straat dra. Dan kom die Bentley oop en toe aan met ‘n onbeholpe Stanley Baxter agter die stuur.
Die manne in uniform sit die draagbaar neer en laat spaander. Die pasiënt beur pynlik stadig orent en begin uit die pad van die aanstormende kar hinkepink – net-net betyds.
Heerlike fliekmoment! (HvD)
May 18, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Van die Morawiese nedersetting Mamre, naby Darling, het ek onlangs die mooi beskrywing gelees dat dit ‘n mens aan ‘n outydse plaaswerf laat dink.
Outydse plaaswerf inderdaad. Die wit gekalkte sendingkerk en omringende geboue, die watermeule, die koeltes van die reuse-akkerbome, die groen kloof – alles pas perfek in daardie prentjie.
Gister het ek die eerste keer ingedraai nadat ek al hoeveel keer by Mamre verby gery het. Die voorneme is om terug te gaan en meer tyd te bestee. Ek wil deeglik gaan kyk na die orrel en die kerkklok waarvan ek al so baie gehoor het.
Maar ek wil ook sommer net weer die rustigheid van die omgewing geniet. Die rustigheid en netheid – dit tref ‘n mens diep as jy die versteekte dorpie opweeg teen die ONrustigheid en ONnetheid wat soveel Kaapse buurte ontsier.
Oor die netheid het ek pas teenoor Tokkie ‘n opmerking gemaak toe uit ‘n bakkie voor ons reg voor die dorpie ‘n sigaretdosie trek … daarna lemoenskille, papiere, koffiebekertjies en wat nog.
Seker ‘n kilometer ver het die morsery geduur.
Die bakkie se registrasienommer is CA 670-084. Die naam van die firma waaraan dit behoort, is Tomeez Hire.
Skaam julle, julle morsjorse! En dit, ironies genoeg, by die ingang tot so ‘n mooi skoon dorpie. (HvD)