Sep 28, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Dit is 1970 Loftus Versfeld. Die Springbokke teen die All Blacks.
Syd Nomis, Springbokvleuel, onderskep en sit af doellyn toe.
“Syddie! …. Syddie! … Syddie! …” jubel Gerhard Viviers hees van aandoening oor tienduisende radio’s in Suid-Afrika.
In ‘n onderhoud met my vir die rubriek “Onder Vier Oê” in die dagblad “Beeld” in die jare 70 het Gerhard verleë gegrinnik oor hierdie beroemde moment uit sy uitsaailoopbaan.
Toe hy by die huis kom en sy vrou hom vertel hoe hy geskreeu het, wou hy haar nie glo nie, het hy erken. Toe gaan luister hy na die band – iets wat hy nooit gedoen het nie – en hoor hy toe met sy eie ore hoe hy “te kere gegaan” het.
Jare later as Syd Gerhard aan iemand voorstel, was sy woorde: “He’s the man who made me famous.”
Gerhard Viviers, die “goue stem” is op 15 Desember 1998 aan keelkanker oorlede. Nou, amper tien jaar later, is Syd Nomis, die blitsige vleuel, se been in Switserland weens bloedklonte ge-amputeer.
Die wiele van die tyd maal meedoënloos. (HvD)
(Hierdie is ‘n kort uittreksel uit “Byl in my bos” wat verlede jaar deur Griffel Media gepubliseer is.)
Sep 27, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
By woorde waarvan ek niks hou nie, soos “gemorskos” (kos kan nooit gemors wees nie – punt) en “liefdeskind” (vir ‘n passiekind) kan ek die smalende “vanity publishing” voeg. Naspers se Koos Bekker gebruik dit gister in Rapport in sy huldeblyk aan wyle S.J.A. (Ina) de Villiers, skepper van die ikoon-kookboek “Kook en Geniet”.
Uitgewers wou niks van haar manuskrip weet nie. Toe gee sy en haar man dit ten einde raad maar self uit … en verkoop ‘n miljoen – die nommer-twee-boek in Afrikaans naas die Bybel. Nogal nie sleg nie vir ‘n stuk “vanity publishing”!
Tot Koos se verdediging: hy gebruik “vanity publishing” nie smalend nie; eerder ironies, juis om die welslae van “Kook en Geniet” in konteks te plaas. Hy sit dus die eintlike hovaardige gebruikers van die woord subtiel op hul plek.
Ditsem, Koos! Verreweg nie alle “vanity publishing” is immers uit misplaaste ydelheid nie. “Frustrasie-publikasie” is in gevalle dalk nader aan die kol. Outeurs raak eenvoudig moeg om bloutjies te loop. Dan duik hulle maar self aan die diepkant in – soos mev. De V.
Waar ek wel van Koos verskil, is as hy beweer: “Nou is dit ‘n wet van die Mede en Perse dat boeke wat skrywers self uitgee, altyd (my kursivering) in trane eindig.” Altyd, Koos? Ek gaan my weerhou van lysie maak, want ek is bang dat ek belangrikes vergeet, maar “Kook en Geniet” was darem bepaald nie die enigste geslaagde selfpublikasie tot dusver in Afrikaans nie, of was dit? Vra o.a. vir Gert Sarrisam (“Vonke uit ‘n koeroeklip” e.a.).
Die moeilikheid is natuurlik dat die uitgee van ‘n boek/nie-uitgee van ‘n boek op feilbare menslike oordele berus. Party manuskripte is klaarblyklik juwele. Ander is duidelik oorambisieus. Tussenin is ‘n grys gebied waarin juwele soms misgevat (en prulle soms gepubliseer) word.
Koos Bekker sonder in sy huldeblyk o.a. Stephen King en J.J. Rowling as massaverkopers uit. Maar King se eersteling, “Carrie”, is self deur 30 uitgewers verwerp en Rowling se “Sorcerer’s Stone” deur 12. Dit is ‘n bekende storie dat ‘n kleinerige uitgewer se dogter hom oorreed het ons die kans met Harry Potter te waag nadat die grotes dit almal beleefd van die hand gewys het.
Voeg by hiedie twee name ander “aspoestertjies” soos William Golding, wie se “Lord of the Flies” deur 20 uitgewers verwerp is, John le Carre (die nimlike) , Anne Frank, George Orwell, William Faulkner en Thor Heyderdahl (die lys kan oneindig langer) – dan raak dit duidelik dat oordele soms skeef en krom is.
Van die afwysende kommentare is nogal pikant. Een van die pikantste kom van die ou wat Orwell se “Animal Farm” nie wou publiseer nie: “It is impossible to sell animal stories in the USA!”
“Gone with the wind” van Margaret Mitchell is deur nie minder nie as 38 uitgewers afgekeur. Toe word dit ‘n nogal magtige wind wat vele fliekrekords weggewaai het. ‘n Rosyntjie oor daardie epiese fliek is dat Gary Cooper die hoofrol van die hand gewys het met die volgende kommentaar: “I’m just glad that it will be Clark Gable falling on his face and not Gary Cooper.” Nie net uitgewers kry eier op die gesig nie!
Ek skryf hierdie blog as iemand van wie boekies deur Tafelberg, Human en Rousseau, Protea en Griffel uitgegee is (dankie, julle!). My eie uitgewerytjie, Tarlehoet, is soms ook deur my ingespan. Van laasgenoemde se produkte is bepaald die neerslag van “frustrasie-publikasie”, o.a. “Buurman van die Wildtuin”, wat nogal goed verkoop het, al moet dit self se.
‘n Faktor wat nie uit die oog verloor moet word nie, is die arbeidsgenot vir sommige amateur-boekmakers om hul eie ding te doen – al moet jy toegee dat betrokkenheid van ‘n buite-uitgewer altyd vir die aansien van die skrywer en van die boek voordelig is. Dit bly die eerste prys.
Hoe ookal, “vanity publishing” is nie ‘n vriendelike woord nie, Soms is dit gewoon laf om ‘n boek daardie etiket te gee. (HvD)
Sep 25, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Hier volg die pragtige vers oor die Swartland van M.M. Walters wat naamloos die begrafnisbrief versier van sy mede-Swartlander Ela Slabber wat op 25 Augustus 2006 op 93 jaar oorlede is:
Die Swartland is my Tuisland
Die Swartland is my tuisdland, soet land wat verrys
uit die wye verlate heuwels van my herinnering,
land van my kindwees waarheen ek moeg en grys
terugkeer aan die einde van my reis.
Groen land van my winter, vaal somerverdriet,
blink land van my drome, ster wat nooit verskiet –
net één land wat my die laaste vreugde kan bied
en dit is die Swartland, die land van my lied!
Ai, om darem so oor jou kontrei te kan sing!
In my vorige blog (waarin ek o.m. van hierdie befgrafnisvers vertel) kom ek M.M. Walters te na, blyk dit. Ek noem hom ‘n man met ‘n slag vir satire. Letterkundige kenners noem hom die voorste satirikus in Afrikaans.
Wel, nou waardeer ek sy vlymskerpe pen des te meer! (HvD)
Naskrif: M.M. Walters is vanjaar 80. Nou eers begin ek sy verse lees. Swak Piketberg!
Sep 23, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
M.M. het lank vir my net een naam in herinnering geroep: Marilyn Monroe, die skattige, blonde, pruilmond-aktrise wat ‘n Amerikaanse president (John F. Kennedy) verlei het, en saam met Tony Curtis en Jack Lemmon in die skreeusnaakse 1959-rolprent “Some Like It Hot” gespeel het.
Algaande leert men. Hoor ek M.M., dink ek deesdae ook aan Mattys Michielse Walters, Swartlander, met ‘n slag vir satire, wat heerlike verse geskep het – ook dramas en essays (Mooi foto hierbo deur Philip de Vos).

Twee jaar gelede, op 26 Oktober 2008, het ek hier oor “ontdekkings” geskryf. Op my letterkundige lysie was onder meer ‘n heerlike stuk humor deur André P. Brink met die titel “‘n Reël is ‘n reël” en die tweede ‘n treffende Audrey Blignault-essay oor Pretoria se jakarandas, met die titel “ ‘n Vrolike lied”, asook herontdekkings soos Ayn Rand se “Fountainhead” en “Paul Gallico” se The Snow Goose, wat in 1957 in matriek voorgeskryf was.
Musiek-ontdekkings (en -herontdekkings) het ‘n wye spektrum omvat – van trefferdeuntjies uit my jeug (Elvis, Pat Boone, Perry Como, Debbie Reynolds Doris Day…) tot die grootse operakore en –arias van Guiseppe Verdi, my gunstelingkomponis vir baie jare, en alle Mozart-musiek. Dit egter net terloops.
My storie gaan eintlik oor my ontdekking van M.M. Walters. Op my bedkassie lê op die oomblik sy versebundel, “ Apocrypha”, wat reeds in 1969 verskyn het. Daarin is tydlose verse oor o.m. ‘n bruilof (“Ek was ook op die bruilof te Kana”), modes (“Die jonges dra rokkies wat konstateer” en “Toe Eva haar tussen die vyebome aantrek”), asook die vrou (“Ek het haar oop mond gesien” en “En sou ook graag wou skryf”.)
Laasgenoemde handel oor sy eie vrou, en die slotwoorde is magistraal: “ A, my vrou is koningsdogter! Maar sy verstaan Afrikaans en sal nie toelaat dat ek stuitig raak nie.”)
My vriend Thys Slabber van Melkbos het “Aprocrypha” vir my vir R7,95 by ‘n winkel vir tweedehandse boeke op Clanwilliam gekoop. Vriende, hou julle oë oop vir n eksemplaar as julle weer tussen ou boeke rondkrap! Betaal ook maar gerus meer as R7,95 as dit moet!
Hoekom Thys juis hierdie bundeltjie vir my gekoop het? Dis nou ook weer ‘n ander storie, wat begin by sy ma se begrafnis enkele jare gelede hier op Melkbos. Op die begrafnisbrief, voor en agter, was twee wonderlike verse. Albei was sonder “erkenning”.
Toe ons uitstap vir toebroodjies en tee, vra ek Thys na die onbekende digter. “M.M. Walters”, antwoord hy toe, “wag dat ek jou voorstel”.
Presies wat die Swartlandse konneksie was, kan ek nie meer mooi onthou nie, maar dit is wat hierdie begaafde skrywer (sy lewe lank onderwyser en dosent in Afrikaans) daardie twee gedigte laat skryf, en hom na die begrafnis gebring het.
Dit was sy keuse dat sy naam nie gepubliseer word nie, omdat hy geredeneer het die kollig moet nie op hom kom nie, wel op die oorledene wie se begrafnis dit was.
Begaafd .. en dan nog beskeie ook.
Nietemin, ek het skielik die vrees dat veral daardie prag-gedig oor “Swartland se grond” op die voorblad van daardie begrafnisbrief verlore kan raak, en dat niemand later sal weet dit is ‘n klein M.M. Walters-meesterstuk nie. Wag, laat ek sommer nou oorry na Thys toe en gaan kyk of hy nog vir my ene het …. (HvD)
Sep 21, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Laat my vandag weer die kleed van bemarker aantrek, wat ietwat ongemaklik is omdat dit baie persoonlik is en dus as onbeskeie of ydel gebrandmerk kan word (gebrandmerk SAL word in sekere kringe, ongetwyfeld … dit is maar altyd die geval as ‘n mens jou eie basuin blaas, wat ook al die omstandighede).
Hier’s my storie: my humorboekie “Praat-praat in Tamatiestraat” is uiteindelik aan’t roere nadat verskeie vertragings opgeduik het. Griffel Media (ook uitgewer van “Byl in my bos”) is vasebeslote dat hy ‘n Oktoberbaba moet wees (wel, dalk met so ‘n paar dae speling na die verkeerde kant toe, soos dikwels die geval ook by mensebabatjies is).
In Tamatiestraat is’ n seleksie van (hopelik) humoristiese blogs/stories uit die HvD-stal, wat in die laaste jaar of drie hier, op my eie webwerf, www.hennievandeventer.com/hvdblog of op MyBeeld en in Huisgenoot verskyn het.
‘n Arme drommel wil ‘n einde maak aan alles – toe word sy “sterfbed” onder hom uit gekaap. Ouma se rooi nagrok verdwyn geheimsinnig uit die outehuis op romantiese uitstappies. ‘n Entoesiastiese dame sonder ‘n draad storm met ‘n oorlogskreet op haar lippe swembad toe – en ontdek, tot in haar siel geskok, ‘n onverwagte toeskouer.
Stories soos hierdie, dalk onthou julle.
Van die temas wat ontgin word, is die stuitighede by begrafnisse; die vuur en avontuur van opwindende laat liefdes; krom en skewe kommunikasie; dikvellige kuiergaste; mediese moleste, betjoinste boetebessies … noem maar op.
Griffel noem dit ‘n “plesierige storiebunde” wat allerlei verleenthede, skades en skandes weerspieël wat die uwe in sy omswerwinge slagoffers sien en hoor oorkom het, of, helaas, self oorgekom het.
Oor daardie”self oorgekom het”, trek ek hier liewer die sluier – koop die blerrie boek, soos Nataniël altyd sê. Maar daar is nogal ‘n paar dingetjies waaroor ek bloos!
Ek hou van humor, en my eerste skryfwerk, onder meer “Scoops en Skandes”, “Flaters en Kraters” en “Oos, Wes – Reismoles!” val ook in daardie kader.
Ek weet hierdie skoot is dalk prematuur – sal nader aan die tyd weer die basuin afstof – maar ek is so bang ‘n vriend of iemand wil ‘n lagboekie as ‘n Kersgeskenk aanskaf, en koop sommer ‘n oue op ‘n rommeltafel omdat hy onbewus is van “Tamatiestraat” se koms! (HvD)
Sep 20, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Met almal wat gereeld navraag doen oor die welstand van klein Migael wat as pleegkindjie van Johan en Mariza in ons lewens gekom het, en nou nog net op sy ID-boek wag voordat hy amptelik Migael Cornelius van Deventer word, deel ek graag hierdie opgeruimde foto.
As hy en sy ouma Tokkie aan’t ‘speel raak, is die vrolikheid volop.
Die foto is ‘n week gelede op George geneem. (HvD)