Oct 6, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die brigade natneus-speurders op Kaapstad se lughawe gaan ‘n nuwe vuis teen misdaad bykry, lees ek in Die Burger.
Viervoete wat renosterhoring kan uitsnuffel, gaan hulle binnekort voeg by Percy die Duitse herdershond en Ziggy die labrador wat op plofstof spesialiseer, en Cola die springer-spanjoel wat ‘n dwelm-doring is.
Ditsem! Dis juis gedugte honde soos die voormeldes en koerante se voorliefde om stories oor “die mens se beste vriend” te publiseer, wat gelei het tot die publikasie tien jaar gelede van my hondeboekie, ‘n Vriend vir altyd (Human & Rousseau, 2000).
‘n Uitruikstorie in daardie boekie wat my behae verskaf het – wel, al die stories het eintlik! – was van Angus, tweejarige bloedhond, wat altyd sy baas, Nick Harrison van Londen, se rooi pantoffels gaan haal het (getroue ou honne!).
Een Kersfees koop mev. Sue Harrison vir haar man ‘n paar nuwes – baie deftig met ‘n geruite patroon soos ‘n Skotse rokkie.
Die ou paar word in ‘n vullisblik weggegooi, vier kilometer van hul huis af. Maar toe Nick daarna voor die TV skoene wil uitskop, wil Angus niks van die geruite pantoffels weet nie.
Hy verdwyn stilletjies, en loop al agter sy neus aan, oor oop stukke grond, ‘n besige pad en ‘n nywerheidsgebied.
Ure later is hy terug. Die ou staatmakers word, soos voorheen, met voldoening voor Nick neergesit! (HvD)
Oct 4, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
Van papsmere en dies meer weet hierdie ou – soos die meeste mans, sou ek raai – niks, maar helemaal niks.
Die grappie hierbo wat my vandag per e-pos bereik, herinner my egter aan ‘n storie wat eintlik te goed is om nie oor te vertel nie.
Dit gaan oor Tokkie, my vrou. Sy is nie juis ‘n selfoon-aanhanger nie. Hare is meesal af. Haar eie nommer ken sy ook nie, omdat, soos sy dit stel, sy mos nooit nodig het om haarself te bel nie.
Myne ken sy wel. As sy ‘n selfoonnommer moet verstrek, is dit altyd myne, nie hare nie.
Op ‘n dag loop ons twee in ‘n winkelsentrum. Trieng-trieng-trieng, kondig my selfoon ‘n boodskap aan.
Ek delf die instrument uit ‘n baadjiesak en druk die knoppie vir “messages”.
Toe ek die boodskap oopmaak, lui dit kort en kragtig: “Papsmeer normaal”.
“Wat’s dit?” verneem sy nuuskierig.
“Weet nie,” antwoord ek, “iets oor een of ander pap-besigheid – maar klink darem na goeie nuus!”
Om ons het mense verbaas opgekyk toe sy skielik vrolik uitbars van die lag. (HvD)
Oct 3, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
My liewe Rapport
Geluk met jul “scoop” van vanoggend (3 Oktober) oor die Shosholoza Meijl wat slegs op twee roetes in Suid-Afrika nog loop – en ook slegs in sy duur, weeldeformaat, Die Premier Classe.
Ander koerante, die TV, die radio, nuustydskrifte en wat nie al nie, swyg hieroor soos die graf, hoewel duisende der duisende treinreisigers die laaste twee maande al (korrek!) deur die trein-fiasko ontwrig word.
Dit sluit honderde buitelandse toeriste in, honderde Suid-Afrikaners wat ten duurste pakkette gekoop het waarin ‘n reis of reise met die Premier Classe tussen Kaapstad en Port Elizabeth ‘n sleutelelement was, maar veral duisende, dalk tienduisende, gewone treinreisigers, wit en swart, wat doodgewoon van punt tot punt B met die trein wou/sou reis.
Hoeveel mense sonder werk sit en tande tel weens die wiele wat nie meer draai nie, sal ek nie eens probeer raai nie. Hoe die padverkeer toegeneem het van swaar busse wat al hoe meer slaggate in die teer ry, is ook nogal ‘n vraag.
Ek haal die woordjie “scoop” aan, omdat ek bedoel om sarkasties te wees. Op hierdie nimlike blog het ek al op 13 Augustus oor die gemors op ons land se spoorlyne geskryf. Dis nie ‘n nuwe storie nie.
Ek, liewe Rapport, het in daardie stadium self gesit met R3 000 se kaartjies op die Premier Classe van Kaapstad na George en terug vir my en Tokkie – vir “a journey that will live in your memory long after the trip has ended”, aldus die (peperduur) glansbrosjure. Ons moes maar inderhaas alternatiewe reisplanne maak.
Om die een of ander rede het die land se media die storie bly misvat. Geen fotograaf en verslaggewer was ooit, soos ‘n mens sou verwag, op ‘n stasie om met woord en beeld oor die verslaenheid van gefrustreerde reisigers te berig nie. Geen inligting is ooit, soos ‘n mens sou verwag, verstrek oor watter treine loop en watter almal staan nie. Geen ontleding het ooit, soos ‘n mens sou verwag, verskyn van die geldkrisis, en die hondegeveg tussen Transnet en Prasa, wat die kern van die saak is nie.
Slegs klein, verwarrende beriggies het hier en daar opgeduik, wat oningeligte lesers laat vra het: “Is die ‘staking’ dan nog nie verby nie?”
Dit is asof die land se media oor hierdie groot storie – een wat dae op die voorblad kon geloop het – met ‘n blindheid en hardhorendheid geslaan is.
Nee, maar op 3 Oktober ontdek Rapport darem dat net die Premier Classe-roetes tussen Kaapstad en Jhannesburg en Durban en Johannesburg op die oomblik operasioneel is (na ‘n onderbreking).
Die beriggie is ook maar flenterig, met amper meer klem op die gesukkel om inligting te bekom as op die feite, omvang en implikasies. Sou dit nie dalk gehelp het om ‘n reisagentskap te nader nie?
Liewe land, as jy ‘n gryse, afgetredene is, moet jy liewer maar jou bek hou oor hoe dinge nou in koerante gedoen word. Oor die skreiende misvat van Suid-Afrika se groot treinstorie van 2010 sal die klippe dit egter uitroep as almal sou bly swyg terwyl die miljarde, as ‘t, ware in rook opgaan. (HvD)
Oct 2, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Bring die mediatribunaal dat ons die bokkers kan vasvat wat persvryheid so misbruik! Dis Sewende Laan se Hillside Times wat ‘n mens amper van die spoor af dwing om so te voel.
Soos Sanjay en Linda darem al saamgesweer, gespioeneer, onder vals name gevaar en gelieg en -bedrieg het om Bright Star aan die pen te laat ry maak van koerantetiek ‘n grap. (Linda is natuurlik nou weer holderstebolder terug Kaap toe, maar die stoere Sanjay bly vreesloos sy ding doen.)
Nou kyk, Bright Star (en Gita) is sonder twyfel skuldig soos die houtjie van die galg. Maar daar is maniere en maniere van ‘n storie oopkrap. Respektabele koerantmense is nie ‘n spul bedrieers nie.
In my loopbaan was ek gelukkig genoeg om ondersoekende joernaliste soos Jack Viviers, Freek Swart, Harry Shaw, Max du Preez, Tim du Plessis, Mike van Rooyen en vele meer aan my kant te he. As jy soggend by die kantoor instap en jy sien een van hulle agter sy tikmasjien was die gevoel altyd: Laat vandag gebeur wat wil gebeur, my koerant is reg vir enigiets.
Ek was ook ongelukkig om van my eerste dae by Die Volksblad teen sulke gedugte teenstanders soos Kitt Katzin (The Friend en later The Sunday Express) te werk. As jy kleitrap met ‘n storie sou hy jou gou rede gee om spyt te wees oor jou gesukkel.
Maar hierdie kollegas was sierade vir hul beroep – g’n jakkalse nie.
Wel, Sewende Laan is seepskuim – alles sommer storietjies wat uit die duim gesuig is. Maar is dit regtig nodig om koerantmense so kommin en onderduims (en in die algemeen maar uiters onprofessioneel) uit te beeld?
Meen te se, ou Aggie is omtrent die beste van die vrotsige lot! (HvD)
Sep 30, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Om hulpvaardig barmhartig te wees of om hardvogtig armhartig te wees?
As jy volgens die Bybel wil leef, is dit ‘n gekke vraag. Gebrek aan barmhartigheid is ‘n gruwel – punt.
Wat die die regte ding is om te doen, weet ‘n mens egter nie aldag so mooi nie. Faktore soos vrees vir veiligheid kan ‘n deurslaggewende faktor word of jy uiteindelik ‘n Samaritaanse voet voorsit of nie.
Dan sluip ras ook ongelukkig in, want persepsies is diep gewortel oor uit watter oorde die grootste gevaar vandaan kom – ondanks daardie bose klomp wit skandemaker-stropers van die Bosveld.
Gister het ek ‘n geleentheid tot barmhartigheid doelbewus gesystap. Die vraag wat my daarna kwel: was ek doodgewoon armhartig of was ek dalk net versigtig en verstandig?
Die feite:
Ek, ‘n 69-jarige gryse, my vrou, Tokkie (64), en ons tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas (6), ry van Welgemoed na Melkbos. Naby die Durbanville Hills-kelder, daar waar jy links draai N7 se kant toe (nie ver van Dunoon af nie), staan ‘n motortjie langs die pad.
‘n Jong man (van ‘n herkoms wat raspersepsies na vore laat kom) spring half voor my in en swaai woes met die arms. Die indruk is dat hy hoog in die nood is. Vir ‘n oomblik aarsel ek. Toe wys ek met my hand na die slapende kinders op die agtersitplek en ry verby.
My vraag is of ‘n skuldige gewete aangewese is of nie. As dit ‘n lokval was, sou ek my seker blootgestel het aan die verwyt van onverstandigheid .
“Het die dwase ou man dan nie gedink aan sy weerlose vrou en kleinkinders in die motor nie?”
As daardie man werklik diep in die nood was, het hy egter die agterkant van die silwer Honda bepaald nie met ‘n goeie gesindheid agterna gestaar nie. Dan het ek nie net my Christelike plig versaak nie, maar ook tot verdere polarisasie bygedra.
Ek is werklik gepla, want dit kon ek gewees het wat wanhopig met my arms staan en swaai het. Maar dan ook: het al wat leef en beef dan nie vandag selfone nie? Ten tweede: was dit nie juis op die N7 dat ‘n Melkbosse dominee hom laat skemer in gietende reen in ‘n lokval vasgery het nie?
Een meneer het daardie aand met sy bolyf op die teer gele; sy gewapende makkers het in die bosse geskuil. Die ongelukkige einde van die abortiewe rooftog was dat die waaghals in die pad nie betyds voor die aankomende motorligte kon padgee nie.
‘n Mens sidder oor wat met die dominee en sy vrou kon gebeur het. Maar daar is bepaald ook hope stories met ‘n ander, gelukkige einde. Die slotsom: ek weet werklik nie. (HvD)
Sep 29, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Om die geskiedenisboeke te haal met die een of ander onvergeetlike flater is ‘n spesiale soort kuns. Gister, eergister had ek dit oor uitgewers wat internasionale trefferboeke van die hand gewys het. Minstens een van die allerbeste mistastings is egter op die rekening van ‘n koerantman. Laat my dit maar erken.
Hy was die beriggewer van die New York Times op wie ‘n prototipe van TV by 1939 se Wêreldhandeltentoonstelling geen indruk gemaak het nie. “Die probleem met TV,” het hy geskryf, “is dat mense moet sit met hul oë vasgenael op ‘n skerm; die gemiddelde Amerikaanse gesin het nie daarvoor tyd nie.”
Hier’s nog ‘n persoonlike gunsteling: “Ons hou nie van hul klank nie, en kitaarmusiek is buitendien op pad uit.” – die Decca Recording Co. toe hy die Beatles in 1962 die deur gewys het.
Die volgende paar loeloes gee ek sommer in die oorspronklike Engels weer – dan spaar dit my die moeite om te vertaal, en dit klink boonop meer outentiek.
This ‘telephone’ has too many shortcomings to be seriously considered as a means of communication. The device is inherently of no value to us.” — Western Union internal memo, 1876.
“The wireless music box has no imaginable commercial value. Who would pay for a message sent to nobody in particular?” — David Sarnoff’s associates in response to his urgings for investment in the radio in the 1920s.
“Who the h*** wants to hear actors talk?” — H.M. Warner, Warner Brothers, 1927
“Heavier-than-air flying machines are impossible.” — Lord Kelvin, president, Royal Society, 1895.
“Drill for oil? You mean drill into the ground to try and find oil? You’re crazy.” — Drillers whom Edwin L. Drake tried to enlist in his project to drill for oil in 1859.
“Airplanes are interesting toys but of no military value.” — Marechal Ferdinand Foch, Professor of Strategy, Ecole Superieure de Guerre.
“Everything that can be invented has been invented.” — Charles H. Duell, Commissioner, U.S. Office of Patents, 1899.
“Louis Pasteur’s theory of germs is ridiculous fiction”. — Pierre Pachet, Professor of Physiology at Toulouse, 1872
“The abdomen, the chest, and the brain will forever be shut from the intrusion of the wise and humane surgeon”. — Sir John Eric Ericksen, British surgeon, appointed Surgeon-Extraordinary to Queen Victoria 1873.
“No flying machine will ever fly from New York to Paris.” — Orville Wright.
Nou-ja, ‘n mens kan darem ook nie altyd reg wees nie, kan jy? (HvD)