Oct 13, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Van slange gepraat. Ek deel graag ‘n versie uit my hekelboekie, Polisie, Polisie, Ons Reenboog Is Geroof:
‘n Groot krokodil die maak my ril,
‘n spinnekop trek my maag op ‘n knop;
maar, mens, waar skrik ek my bevange
vir Mpumalange se gevaarlike slange!
(HvD)
Oct 12, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Tokkie vang slange in Sabiepark
Middag uit Melkbos
Vir die drie vreeslike s’e van die bos, slang, skerpioen en spinnekop, het ek ‘n ingebore skuheid. Van al drie se teenwoordigheid raak ons in ons bosplek in Sabiepark, waarheen ons juis Desember weer op pad is, gereeld bewus op wyses wat nie die vrese besweer.
As jy in die bad klim, kan jy jou maar klaarmaak vir twee of meer arige, harige spinnekoppe wat vanuit die verskyn niet om die verrigtinge te monitor. Ek is oortuig die motief is om die weerlose, bleek lyf in die water te intimideer.
Een het hom in die badkamerskaal ingewurm. Daar sit hy nou soos ‘n museumstuk permanent agter die glas verewig in die omstreke van die liga waarin my massa val – nie juis ‘n aanmoediging om gereeld te monitor wat die uitwerking van elke aand se braaivleis en Kaapse “kultuur” by die groot maat is nie.
Buitelug-spinnekoppe versondig jou siel op ‘n ander manier. Hulle span hul webbe op gesighoogte van boom tot boom, selfs oor strate — sonder inagneming van die onplesierigheid wat dit vir stappers kan veroorsaak as die draderigheid in hul monde en hare beland. Tokkie noem dit Sabiepark se eie “internet” (of S-web). Een verskil: hier is geen keuse van webwerf nie….
Skerpioene het ook die nare gewoonte om die badkamer saam met jou te besoek. Miskien besef hulle jy’s in bepaalde badkamersituasies redelik onparaat.
Met daardie geniepsige kalante had ons veral een vakansie oor Kersfees en Nuwejaar meer insdente as tevore. Ek kan aan minstens tien uitgevrete lummels dink wat net-net misgevat of misgetrap is. Brrr!
Tog, toe ons wegpak, haal die uwe ewe onbehoedsaam ’n geblokte foto van die stoep-braai se skoorsteen. Ek deins terug toe ’n vet skerpioen op die een punt vir my sit en gluur, oorgehaal vir aksie.
“Daar’s twee,” kondig Tokkie aan. Jou waarlik. Op die ander punt teen die donker klinkermuur sit klaarblyklik Mev. Skerpioen met haar vrag van wriemelende skerpioen-telgies spierwit 65 op haar rug ingeryg. HvD kon sy vingers lelik verbrand het.
Om skuifdeure toe te hou, is een van die basiese boswette. Voordat jy kan sê mes, glip ’n opportunistiese slang binne. Tokkie bewe nou nog oor die ene wat op pad swembad toe uit die skuifdeur se gleuf op haar kaal skouer neergedaal het.
‘n Slang so dik soos ‘n pofadder (bedoelende daardie lekkerny wat jy braai: ‘n geurige wors met lewer, niertjies, vet, afval en ander lekker goed in ‘n dikderm gestop) het my my boeglam laat skrik. Die lummel het skemeraand glibberig uit die gras te voorskyn gekom en geruisloos voor my voete oor die lapa se baksteenvloer gewoerts. Trippe-trappe-trone, slang snuif aan my tone!
In die flou lig van twee flitse het Tokkie later ‘n regte, egte pofadder voor die pakkamer die ewigheid ingehelp. Brent Claassens, my skoonseun uit die Kaap, het in ‘n heldhaftige oomblik sy aversie vir slange oorwin, en ‘n Oostelike tierslang met die braaitang behendig tot oorgawe gedwing.
Kort daarna gewaar my oplettende vrou twee “groenetjies” in die riffies van die huis se bakstene. By die geringste stoornis, wurm hulle hulle dan blitsvinnig in die kleinste gaatjie onder die grasdak in. Dadelik tower my verbeelding skrik-scenarios op van wriemelende reptiele wat in die nag uit die dak op die slapende Van Deventers neerstort.
Ons gaan leen by die kantoor die “slangstok” – ‘n lange van so twee meter met ‘n lussie aan die punt. Dit moet om die slang se kop gegooi word. Dan trek jy dit net styf. Siedaar, jy het jou slang!
Tokkie paradeer stok oor die skouer al om die huis en oefen. Blaartjies en takkies, hoog en laag, kry sy met die slangstok beet. Die slangetjies bly egter buite bereik. Sy dreig later: sy gaan Doom Fogger koop en die “boggers” uit die dak “fogger!”
Sy besluit tog om eers hul skuilplekke met gewone Doom aan te val. Dit werk met die kleinste slangetjie. Dié swig met ‘n blitsende tong voor die aanslag. Die kantoor se vangstok, ruime aanwending van die “geheime wapen” en ‘n paar kaphoue met die graaf beteken sy einde. Die groter “loseerder” kom weg. Ongelukkig.
Dit spyt my om te rapporteer dat die uwe met die graaf bewapen was toe hy grond vat. My reaksies was, helaas, hopeloos te stadig. Dat hy sy as afgeskrik het – seker vir Tokkie se Doom – is egter ‘n feit. Hy het nie teruggekom nie.
Een middag keer ons terug van ’n uitstappie en tref Lucy, die huishulp, grootoog aan. “A snake, a big one,” is hier om die huis van die huilboerboon se kant af vorentoe. Hy’t hier langs die swembadjie af verby die haak-en-steek ge-“walk” en ge-“walk” en hy skuil nou in die wilde katjiepiering ’n entjie van die voorstoep. Gelukkig het ons paaie ook nie weer gekruis nie.
Toe ons in Julie daar weg is, was ‘n nuwe enetjie egter in ‘n gaatjie in die muur. Sy koppie het geblink as die son op hom skyn. Sy “trousers” – Lucy se woord vir die vel wat in die vervelling agtergelaat is – hang in ‘n dakbalk.
Of die “Pest Magic” jou van sulke ongemaklikhede kan vrywaar, soos iemand op Litnet n.a.v. die vorige blog hoopvol verneem, twyfel ek – buiten miskien in die geval van die spinnekoppe. Al sou dit ook sou dit egter op Sabiepark niks help nie – vir ultra-soniese beskerming het jy elektrisiteit nodig! (HvD)
Naskrif: Deesdae is dit wet in Sabiepark: geen slang word doodgemaak nie; roep asseblief die kantoor.
Oct 11, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die sogenaamde Pest Magic se reputasie as gedugte klaarspeler met alle peste onder die son het ons via Langebaan bereik.
Ons vriendin Rina Koen van daardie mooi Weskus-dorp aan die meer glo daaraan. As sy in die Kaap kom, koop sy ‘n voorraad, onder meer vir Langebaanse restaurants wat sy gereeld besoek. Van ‘n vlieg tot ‘n ek-weet-nie-wat nie swig glo voor die wondertoestelletjie, wat jy in ‘n muurprop druk.
Soos ek dit verstaan, werk dit ultrasonies, d.w.s via die huis se bedrading versprei dit ‘n sein wat die senuweestelsels van die meeste peste en plae so irriteer dat hulle die wyk neem.
Wel die trae lente van 2010 is op pad (soms wonder ek of dit nie vir altyd gaan wegbly nie), en met die lente kom ongewenste dinge wat zoem, vlieg, op jou neerdaal, in jou wyn val en in die algemeen ‘n oorlas van hulleself maak.
Omdat ons nie in ons huis nie enige knaagdier-verwante troeteldiere soos marmotjies of hamsters (selfs bobbejaanspinnekoppe!) aanhou nie, is ons kandidate vir die Pest Magic-resep.
Tokkie gaan koop een – R200 nogal, maar dan kry jy darem ene present.
Voordat sy haar kredietkaart oorhandig, wil sy ‘n laaste bedenking uit die weg ruim.
“Is jy seker dit werk met alle peste?” wil sy weet.
“Alte seker, mevrou,” antwoord die verkoopman vol selfvertroue. “Gee hom net ‘n maand dan is die hele lot weg.”
“My man ook?” vra Tokkie.
Die arme man stotter en begin beduie dat mans gelukkig (of ongelukkig) Pest Magic-bestand is. Toe bars die rakpakker uit van die lag en red die stomme man van sy verleentheid.
Ek dink ek het rede om geaffronteerd te voel. Maar nou ken ek my vrolike vrou. (HvD)
Oct 8, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Hubert de V. Coetzee
More uit Melkbos
Onthou julle die knock-knock-speletjie?
Knock-knock, kom dit van die een.
Who’s there? vra die ander.
Hendrik.
Hendrik who?
Hen druk en daar le die eier,
of
Hen druk maar die eier wil nie uitkom nie.
Na die verkrummeling van John Vorster se politieke loopbaan, was een weergawe:
Knock, knock.
Who’s there?
John.
John who?
In ‘n nabootsing van Oom John se kenmerkende diep stem: Het julle my dan so gou vergeet?
Wyle Hubert Coetzee, vermaarde oud-grootbaas van die Nasionale Pers, sou dit wel vanoggend ook kon vra: Het julle my dan so gou vergeet.
Die Burger, van alle mense!
In ‘n berig oor Alba Bouwer (‘n mens is dankbaar dat sy darem onthou word) word gemeld sy was voorheen met Hubert Coetzee getroud.
Hubert wie?
Die Burger verswyg dat Hubert de V. Coetzee een van die blink diamante van die Nasionale Pers was: besturende direkteur van 1966 tot met sy dood in 1969. In daardie kort tyd het hy veel vermag, en sy dood was vir die Pers ‘n pynlike verlies. (Moet byvoeg dat hy ook voorheen ‘n buitengewoon knap redakteur van Die Volksblad was.)
Een van die top-pryse in die Pers waarom die huidige geslag nog ywerig meeding, dra o.a. sy naam.
As ek vandag die redakteur van Die Burger, Bun Booyens, was, het ek iemand uit die venster gesmyt by die Perssentrum in die Heerengracht, Kaapstad. Dalk het ek sommer uit radeloosheid self gespring! (HvD)
Oct 7, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Moenie poer-poer nie. Dis geen nuwe les nie. ‘n Seldsame moordwalvis (orca) by Melkbos het my dit gister egter opnuut geleer.
Skuins na 15:00 het die foto hierbo van die ou grote van buurvrou Una Beukman op my skerm gekom. Hy/sy het naby Slabbert se klippe uitgespoel.
Toe begin ek die foto rondstuur vir vriende en bly met allerlei besig tot 17:00 voordat ons gaan soek. Niks gekry nie, maar vanoggend lees ons in Die Burger die verwydering was omstreeks 16:30. Ons moet net-net te laat gewees het.
Tokkie het moord in haar hart. Sy wou nog altyd ‘n walvis op die strand sien. Toe is hierdie eerste kans wat opduik boonop geen gewone walvis nie. Die vorige orca wat in Kaapse waters op terra firma beland het, was in die jare 60 – ook aldus DB.
My rekenaar-betotteldheid kry die skuld vir die gepoer-poer, en ‘n kans van ‘n leeftyd wat deur die vingers laat glip is. Mea culpa. ‘Skuus, my vrou.
Op Melkbos is ‘n lekker vis-eetplek met die naam Orca. Ek en my vriend Chris Moolman het Dinsdagmiddag daar aan blouneus en silwervis gesmul, terwyl die Atlantiese Oseaan lui-lui aan die wit sand lek.
Toe spoel die orca gister ‘n hanetree van Orca af uit!
Tokkie se luim het later verbeter. ‘n Stuk of vyf walvisse – noorkappers, het ons aanvaar – het teen skemer in die waters voor ons huis le en skommel, hul sterte geswaai en geblaas.
Dit was maar die tweede lente-aand dat ons buite kon sit met my koue wyntjie en T. se whiskey op ys. So windstil was dit dat jy ‘n stuk voeltjiedons op die heining kon neersit. Dit sou net daar bly le het.
Gelukkig het die “idiote in hul bote” gisteraand ook weggebly. Die verbete, indringerige walviskykers is nie juis groter vriende van die natuur nie as die spul wat so ‘n skrikbewind onder die land se renosters voer. (HvD)