Oct 21, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

FOTO 1
More uit Melkbos
Dat ‘n mens nooit te oud word om te leer nie, is ‘n waarheid wat hierdie gryse amper-70-jarige steeds van tyd tot tyd (soms pynlik) van bewus gemaak word. Dat die prikkel tot nuwe kennis soms verrassend kan wees, kan hy eweseer van getuig.
Tot gister was die Gestalt-teorie vir my Grieks, en het die begeerte om meer daarvan te wete te kom, nie juis verterend in my boesem gebrand nie. Toe herinner ‘n illustrasie in Buite-Burger my egter aan iets uit my studentejare, en sit dit ‘n proses op tou wat my by (vir my) ‘n interessante ontdekking bring.

FOTO 2
Die illustrasie in Buite-Burger was by die rubriek Fotowenke hierby (foto 2): ‘n skets van twee gesigte aan weerskante en ‘n skynbare kelkie in die middel.
Dadelik maak my geheue ‘n sprong terug na 1959, meer as ‘n halfeeu gelede, en die voorblad van my Tukkie-koshuis, die een en enigste Kollegetehuis, se huisdinee op 12 September van daardie jaar. Ek en my vriend Piet Henning van Louis Trichard was vir die spyskaart verantwoordelik.
Ek het my en Piet se produk gaan uitgrawe, en – kan jy glo? – die voorblad is feitlik identies aan die skets by die Buite-Burger se rubriek. Kyk foto 1 hierbo.
Die ooreenkoms is merkwaardig – die kelkies is feitlik eenders, buiten dat die huisdinee s’n vol vrolike borrels is; die gesigte kom ook baie ooreen, buiten dat laasgenoemde oë en ore het, en die een se hare verklap dat sy ‘n meisie is (‘n mooie daarby).
In sy rubriek in Buite-Burger wil die fotograaf Johan van Tonder weet: wat sien jy as fotograaf wanneer jy na daardie skets kyk – sien jy die kelkie of die gesigte? Die skets, voeg hy by, is een van die bekendste voorbeelde van die Gestalt-teorie, wat probeer verduidelik hoe die brein verskillende afsonderlike voorwerpe in ‘n verstaanbare geheel saamvoeg – as ek hom reg verstaan.
Maar die omslag van die huisdinee se spyskaart dan? Die sleutel moet klaarblyklik opgesluit wees in die Gestalt-teorie, waarvan ek (en ek glo ook Piet, ‘n boerseun wat regte kom swot het) bepaald doerie tyd minder geweet het as ‘n kat van saffraan.
Die nuuskierigheid was nou geprikkel, en ek doen toe wat ‘n mens deesdae doen om sulke raaisels op te klaar: ek tik die woord Gestalt in op Google.
Nou weet ek! Die Gestalt-teorie is al die tyd al van 1890 af ‘n hoeksteen van grafiese ontwerp – die kuns om uit los elemente ‘n eenheid te skep, wat die geheel aantrekliker maak as die afsonderlike deeltjies waaruit dit saamgestel is.
Toe onthou ek terselfdertyd waar ek en Piet ons voorbladskets vandaan gekry het – ons het ‘n kreatiewe argitektuurstudent, Tantor Coetzee, se arm gedraai. “And then,” soos die Engelse sê, “the penny dropped”.
Natuurlik was grafiese ontwerp deel van Tantor se studieveld.
Die omslag van ons dinee se spyskaart is sowaar by Gestalt gegaps. Hoogs intellektueel. En ek ontdek dit nou eers. Bid jou dit. (HvD)
Oct 20, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die pad van ‘n redakteur is nie met rose besaai nie.
Ná ‘n uitputtende potjie met ‘n neurotiese tannie, en later ook met haar ewe neurotiese vriendinne, oor die afwesigheid van nuus in sy blad oor ‘n kleindorpse hondeskou het ‘n Amerikaanse redakteur by die mashoof van sy koerant die raaiselagtige anagram THWTB begin plaas.
Op navraag oor die betekenis was sy verduideliking: The hard way is the best. Later is onthul die eintlike betekenis was: To hell with the bastards!
Ja, lesers kan uitmergelend wees.
Party redakteurs kies die lafaard se pad en slaan op vlug. In my boekie Praat-praat in Tamatiestraat wat op pad is, vertel ek van so ‘n ou uit n vorige generasie – toe ons nog so half Hollands gepraat het in hierdie land. Hy had ‘n nagmerrie waarin lesers hom verskreeu oor allerlei, van groot pampoene tot die sleep van ‘n trourok. “De volgende morre,” eindig die storie dan lakoniek, “het hij sijn ampt bedankt!”
Ek het hierdie stories en ander gaan opgrawe in my boekie Flaters en Kraters (hierbo) wat in 1996 verskyn het, n.a.v. die nuus dat die redakteur van die te stigte pro-ANC koerant, New Age, Vuyo Mvoko ‘n dag voor die eerste uitgawe bedank het.
In sy geval kon veeleisende lesers nie ‘n rol gespeel het nie. Daar was dan nog nie lesers nie. Miskien moet ons die rede vir sy bedanking soek in ‘n ander storie in FenK: die pittige aanhaling van ene Robert McHugh.
McHugh verklaar dat almal glo ‘n koerant moet onverskrokke sy sê sê, en, as bewys daarvan, elke dag ‘n redaksionele opinie moet uitspreek. “Klaarblyklik neem hierdie benadering nie die embarrasserende moontlikheid in ag nie dat daar dae kan wees dat selfs die mees ingeligte redakteur sonder ‘n sinryke idee sal wees wat die moeite werd is om uit te spreek.”
Ek wil nou nie ligsinnig wees nie, maar dalk het mnr. Mvoko in sy eerste uitgawe ”mvôkol” te se gehad!
Nietemin, sy bedanking die dag voor verskyning moet die een of ander rekord wees. Tot dusver was die kortste redakteurskap aan die uwe bekend (dis ook in FenK) dié van Ken Owen, eerste redakteur van Business Day. Dié latere suksesvolle redakteur van o.a. die Sunday Times het ná net vier dae ‘n ander pos gekry.
Voorheen is die rekord gehou deur Martin Spring wat 17 dae lank die redakteur van The Citizen was.
Ns. Flaters en Kraters is al lank nie meer op die rak nie. Hierdie is dus nie ‘n verskuilde bemarkingspoging vir hom nie. Tamatiestraat is nog nie op die mark nie … (HvD)
Oct 19, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
‘n Satussimbool verklaar die HAT, is “ ‘n uiterlike beeld van ‘n persoon se vernaamheid, bv. ‘n swierige motor, deftige kantoortapyt.”
Die swierigheid van jou huis weerspieël gewis jou stand (of ten minste die stand van jou bankrekening). Ook jou gholfklub. Jou horlosie. Die handelsmerke van jou klere en skoene.
Selfs jou vrou (die sogenaamde “trofeevrou”), of die koffiewinkels waar jy of sy rondhang.
As jy baie ryk is, is die fabrikaat van jou private vliegtuig sekerlik ‘n simbool van jou status – en as jy net welvarend is, die feit of jy eerste klas vlieg of “net” besigheidsklas.
Maar moenie dink dis net ryk mense wat statusbewus is nie. In armer gemeenskappe is die besit van ‘n selfoon dikwels die groot onderskeid tussen “hetters (haves)” en “nie-hetters (have nots). Agtergeblewenes in lande soos Rusland en China heg groot waarde aan ‘n beskeie pakkie Marlboro-sigarette.
In die 80’s was ‘n pakkie Marlboro in Rusland ‘n omkoopgeskenk duisend. Dit het vir ‘n mens (ook vir die uwe) byvoorbeeld toegang verkry tot restaurants waar jy sekondes tevore by ‘n toe deur bot weggewys is.
My swaer Fanie wat in ‘n aftree-oord woon, het agtergekom dat jy in daardie wyke aan ‘n eie stel maatstawwe gemeet word. Hoeveel hartomleidings jy al gehad het, bepaal onder meer of jy byhou by die Vannermerwes (“keep up with the Jones’s”) of nie. Ook hoe groot jou skoonseun se plaas is. En in hoeveel lande jy al voet gesit het.
Die slegte nuus uit Penguin Place 11 is dat HvD geskeduleer is vir n heupvervanging. Die proses om daarby uit te kom, het my met nuwe statussimbole laat kennis maak. Die kritieke vrae is “watter dokter”, “watter hospitaal”, “watter tegniek” (word dit “ingekap” of nie)?
Ek het altyd geglo die beste hospitaal vir jou, soos die beste skool vir jou kinders, is die een die naaste aan jou huis. Aikona. Jy kan bors uitstoot as die regte man met die regte tegniek in die regte hospitaal in jou geval die skalpel gaan hanteer, al moet jy ook daarvoor lang togte aandurf … en dubbel betaal.
Ja-nee, jy voel die status deesdae as’ t ware aan jou bas!
Die groot nee-nee is om ‘n knie-man jou heup te laat vervang of ‘n heup-man aan jou skouer te laat opereer. Pleeg jy so ‘n dwaasheid moet jy maar jou bek hou waar oor dokters, hospitale en snytegnieke gepraat word. Jy is eenvoudig nie in tel nie. Arme sot. (HvD)
Oct 18, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
SEEKOEIE ken die kuns om lui te lyk. Dis ‘n feit soos ‘n (see)-koei.
‘n Pragtige kuil naby Sabiepark se piekniekplek kan deesdae direk uit die S3 bereik word (wonder hoeveel mense het dit al ontdek). Sewestuks van die luiste lui lummels in daardie kuil het die inspirasie vir die volgende bosversie verskaf:
Oupa oefen kliphard om wydbek te gaap,
sy dikvriend lê ure aan’t skommel en slaap;
wat’s jul kwaal, jul luie donders?
Wrintiewaar…..dis hippo-konders!
(HvD)
Oct 16, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Wel, agteros kom ook in die kraal. Hierdie ou-ou waarheid geld veral goeie boeke, wat jy aanvanklik by jou laat verbygaan het, maar tog later optel.
Die veel bekroonde The Curious Incident of the Dog in the Night-Time is so ‘n boek. Dit het in 2003 verskyn uit die pen van die Britse skrywer Mark Haddon, en is met verskeie top-pryse beloon. Die vreemde titel is ‘n aanhaling van ‘n opmerking deur Sherlock Holmes, Arthur Conan Doyle se beroemde speurder-karakter, wat nogal hier, daar en oral in die boek opduik.
Weens die een en die ander het eers Tokkie en toe ek, op haar sterk aanbeveling, nou eers by “curious incident” uitgekom. Op die omslag is aanhalings uit resensies. Dit wemel van woorde soos “remarkable, exceptional, superb, brilliant, outstanding, stunning” en nog wat. Hiperbolies? Moenie glo nie. Koop een, leen een, gaps een .. en maak jou klaar vir ‘n pakkende leeservaring!
Die storie word in die eerste persoon vertel deur ‘n 15-jarige seun met elemente van outisme, Christopher John Francis Boone. Simptone van die asperger-sindroom (onthou Daantjie Dinamiet van Noot-vir-Noot-faam) en savant-sindroom kom ook by Christopher voor. Hy is wiskundig briljant, maar sukkel om emosioneel en sosiaal sy plek te vind, met ritse fobies, vrese, steurnisse, weerspannighede en eienaardighede. Hy haat byvoorbeeld enige fisieke aanraking, pes alles wat bruin en geel is, en eet nie kosse wat op die bord aan mekaar geraak het nie.
Christopher ontdek in die eerste hoofstuk die karkas van bure se hond wat met ‘n tuinvurk uit die lewe gehelp is, en sit ‘n speurtog, a la Sherlock Holmes, op tou. Dit word ‘n missie wat in vele opsigte ontreddederend is, en sy beskutte lewetjie aan flarde ruk, ook in gesinsverband. Jou hart krimp ineen vir die stomme, wêreldvreemde kind, en die ontnugterings op sy kronkelpad, maar kry darem ook kans om saam met hom te lag en te juig, byvoorbeeld oor sy verwerwing van matriek-wiskunde in die A-graad met ‘n A-simbool.
Sy avonture – soos om die eerste keer alleen (net met sy troetelrot, Toby) ‘n trein na die grote Londen te haal om na sy wegloop-ma te gaan soek, wat volgens ‘n witleuen van sy pa aan ‘n hartaanval beswyk het – teken hy op in ‘n eiesoortige “speur-roman”, wat ook ten diepste insiggewend is in sy soms verwronge denke. Dit is denke wat ook verstommend kan wees, soos wanneer hy ingewikkelde wiskundige formules as ontvlugtingsmaneuvers aanwend.
Haddon ontken dat hy ‘n kenner van outisme, die asperger-sindroom of die avant-sindroom is. Ek het egter nog nooit ‘n boek gelees waarin die skrywer so volkome in sy karakter se kop gekom het soos dié nie. Om dit te vermag, verrig hy ‘n kragtoer in die vertelkuns.
As ek nie iemand lus gemaak het om “curious incident” te lees nie, het hierdie blog klaaglik misluk. Jammer dan, mnr. Mark Haddon, en jammer, Christopher Booth, vir die abortiewe poging. (HvD)
Oct 15, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
Nog ‘n versie oor een van die bos se vreeslike s’e:
Sjoe-eina-hel, sy skeermes-soen,
‘n folter-vuur skuil in jou skoen;
pas op die leed wat ta kan doen,
daai satanskind – die skerpioen.
(HvD)