Dec 21, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Vir die energieke, entoesiastiese en kundige kelner wat so mooi Afrikaans praat by die Hussar Grill in Willowbridge sal die fees-seisoen (wat ook uiteet-seisoen is) hopelik ‘n sakvol fooitjies meebring. Mense, moenie skaam wees om ‘n ruim persentasietjie by te sit vir iemand wat plesier aan sy werk het en ook vir ander plesier verskaf met die bekwame wyse waarop hy sy taak (of sy haar taak) met lekkerkry klaarkry nie.
Teenoor die knaap by Durbanville Hills se wynlandgoed voel ek minder welwillend. Dit is nogal ontnugterend as ‘n kelner nie weet watter soort vis die dag se lynvis is nie. Die basiese navraag is met so ’n botte stilte begroet, dat ons vir ‘n moedswillige oomblik wou wonder of hy hoegenaamd weet wat lynvis is. Arrie-nee. Hoe beloon jy iemand wie se bedenklike koskennis duidelik op dieselfde vlak as sy kennis van Afrikaans en sy arbeidsgenot is?
My vriend Theuns Otto van Mtunzini glo die woordjie “tip” staan vir “To Improve Performance”. Selfs ‘n sukkelaar is dus, volgens hom, sy fooitjie waardig, soos een aand by die gewilde Orca op Melkbos (wat nou, na my wete, ‘n flink span het.) Ja, jy kry vrot kelners soos elke ander beroepsvertakking sy swart skape het (jy kry selfs vrot dokters!). Theuns het hom daardie aand in ‘n buitengewoon vrotte vasgeloop.
My gewoonlik uiters mensliewende en geduldige vriend (allesbehalwe ‘n vrot dokter) het nie nagelaat om sy verklaring van die woord sonder omhaal en met beklemtonende misnoegde handgebare en al by Orca se onderpresterende kelner tuis te bring nie.
Theuns se teorie staan egter op wankelende bene. Goeie ou Google noem dat verskeie sulke akronieme (soos “To Improve Performance”) verkeerdelik met die fooitjiekultuur in verband gebring word. Ander is o.m. “To Insure Prompt Service”, “To Insure Proper Service”, “To Inspire Promptness” of “To Insure Promptness.”
Aldus die Oxford English Dictionary het “tip” as slêngwoord ontwikkel. Dit kom waarskynlik al van die 16de eeu af. Die huidige betekenis word sedert die 18de eeu daaraan geheg. Maar waarom ons oor dinge soos historiese herkoms moeg maak? Feit is: dis ‘n kultuur wat in die hede diep ingegrawe is. In sekere lande kan fooitjie-etiket nogal rigied wees. As jy kort van die norm presteer, moet jy keer vir jou “wickets”, boeta! Jy loop jy die risiko om jou skamele munstukkies met mening in jou rug teruggeslinger te kry of ‘n stywe skrobbering op die lyf te loop.
‘n Bostonse taxibestuurder (vroulik) was nie juis geimponeer met hierdie oorblufte passasier se aangebode paar “quarter”-tjies nie. Een vuil kyk. Toe: “Well fuck you, mister!”
Kom ons eindig op ‘n positiewe, hoopvolle noot. Wanneer oor kelners gesels word, roep ek telkens die aand in herinnering toe ‘n vriend (met baie pitte in sy beursie, maar ietwat ongeraffineerd) in die VS van A met ‘n gedugte spyskaart gekonfronteer word. Hy skrutineer die uitvoerige dokument fronsend. Toe verhelder sy gesig: “Steak tartare well done, please.”
Die kelner met sy strikdas en wit servet op die arm het geen oog verroer nie. “For well done I’ll rather recommend our excellent sirloin, sir.” Die dalk net oordrewe klem op die aanspreekvorm “sir” het waarskynlik sy lag verberg.
Soveel takt, diplomasie, teenwoordigheid van gees en humorsin onderskei die vyfster-kelner van die gewone ou. “Well done, sir!” Gee daai man nie net ‘n allemintige fooitjie nie – gee hom ‘n vet bonus …. en sommer ‘n dubbel Bell’s!
(HvD)
Dec 20, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Vasbyt, liewe vrinne
wat in die groot-eet-tye
die skaal moet dien
met aartappels en uie!
(HvD – wat drie weke lank gaan eet en drink wat hy wil!)
Dec 19, 2011 | Hennie van Deventer se Blog


More uit Melkbos
Die grootste menseverskuiwing van elke jaar is in volle gang. Dit lewe in vakansie-oorde, die branders is swart gespikkel van die mensekoppe, eetplekke sit kant en wal, vuurtjies flikker oral, romanses floreer.
Een wat baie soene kry, hierdie soen-seisoen, is die mannetjie met die kurkhoedjie. Herinner my skielik aan my Latyn 1, prof. H.L. Gonin: Da mihi mille basia (Virgilius/ Vergilius). Onvergezetsynde: Gee my ‘n duisend soene!
V. had die ware Jakob in gedagte. Ons mag die advies seker na die produk van die wingerd oorplant? Doen dit net matig en verantwoordelik en NOOIT voordat jy die pad vat nie, maar geniet dit – rooietjie, wittetjie, kouetjie, skroefprop, kurkprop, boks ….
Sien juis die lank vermaledyde boks raak al hoe tuiser in goeie geselskap. Maar dis ‘n ander onderwerp vir ‘n ander dag.
Die volgende vrolikheidjie was al hier op my blog. Dit maak ‘n relevante herverskyning in die lig van heersende omstandighede:
Here’s to the corkscrew!
The key to unlock
The storehouse of wit!
The treasury of laughter!
The front door of fellowship!
And the gate of pleasant folly!
Hier’s ook enetjie vir die wynsnob (uit die uwe se Polisie, Polisie, ons reenboog is geroof):
As die prys reg is,
Glo hy
Dat die wyn sleg is.
Gesondheid in die rondheid!!
(HvD)
Dec 16, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Elkeen het maar ‘n hunkering na ‘n heimat. Nie almal kan dit só beeldryk verwoord nie:
Hy wat sy dors by die pomp geles het,
sal terugkom vir ‘n tweede keer:
die brak gaan in die bloed sit
en die sout dors weer en weer.
Hy wat snags sy geklop gehoor het,
sal die stilte nooit só weer hoor,
sal altyd soek of hy iets verloor het
en terugloop op sy spoor.
Die digter is M.M. Walters, die Swartland se beroemdste woordkunstenaar, na my wete.
Ek loop die vers raak in Walters se uitsonderlike reisboek Die Swartland is my Tuisland, wat in 1990 deur Perskor uitgegee is. Thys Slabber van Melkbos, boer van die Swartland en seun van die Slabber na wie Slabber se Klippe op Melkbos se strand genoem is, het dit vir my geleen. Hy ken my voorliefde vir dié lang Swartlander se werk.
Die subtitel van die boek is: ‘n Nostalgiese reis deur M.M. Walters. Die boek is, soos op die agterflap gemeld, ‘n historiese reis deur die Swartland se vroegste geskiedenis, asook ‘n geografiese reis, en, derdens, ‘n reis in die verbeelding, ‘n nostalgiese terugkeer, vol heimwee, na die Swartland van sy jeug in woord en beeld.
Van die Swartland wis ek so plus-minus niks totdat ons in 1997 hier op Melkbos kom nesskrop het. Toe word Malmesbury, minder as 40 kilometer ver, skielik vir ons ‘n soort “hoofdorp” waar veral amptelike besigheid – ID-boeke, paspoorte, rybewyse en dies meer – flink afgehandel kan word. Vele Melkbossers ry met CK-registrasienommers.
Skielik ontdek ons toe, op ons voorstoep as’ t ware, die skoonheid van golwende groen koringlande, glimmend in die son; van heuwels oortrek met wingerd, ruie bossieveld, troppe beeste en vetstertskape, ‘n taal van sy eie – niemand “bgei” mos soos ‘n Swartlander nie – en die hemelse seereuk wat sommer diep in die binneland inreik as die winde reg waai en die getye saamspeel.*
Die Swartland se koring noem Walters die streek se “goue kroon” – en gespikkel met lappe ganola-geel maak daardie kroon ‘n uitstappie deur die Swartland se agterpaaie hier kort duskant oestyd in die vroegsomer inderdaad koninklik. Ná dorstyd, as die koringlande gestroop lê van hul winterglorie, breek die wingerd se malse groen deur. Waarlik ‘n plek vir elke seisoen!
Die Swartland is my Hartland, sou my persoonlike keuse vir die titel gewees het (ek hou van rym), maar dit is seker te voorspelbaar. Buitendien: Tuisland en Thys se land (Walters se voorname is Matthys Michielse) speel mooi op mekaar in.
Lees egter weer die vers hierbo. Die emosie is mos nie geografies ingeperk nie. Nee, dit gaan oor grense heen om elke tuisland (of hartland) in herinnering te roep: daardie spesiale hartsplek wat elkeen “altyd bly soek of hy iets verloor het” en waarheen hy altyd “terugloop op sy spoor” – of die water nou brak of soet is.
My geboortekontrei, Babanango in noordelike Kwazulu-Natal, is vir my so ‘n plek. Pretoria waar ek vyf goue jare lank op Tukkies was, is ook een. Bloemfontein is, ná twee gelukkige skofte van 12 jaar elk in die Rosestad, ‘n derde een. Hul waters roep my.
Maar Melkbos en die Swartland op sy drumpel – dié het in die afgelope 13 jaar ook vir my goed laat verstaan waarom M.M. Walters sy hart oor dié streek en die bekoring van koring só digterlik kan uitstort.
* Oor die kenmerkende verfrissende Melkbos-seereuk, hoor ek by ons een dominee, Francois Hanekom, ‘n wonderlike teorie. ‘n Oseanograaf het aan hom verduidelik die koue see ruik hier só sterk omdat dit soveel suurstof genereer. Melkbossers is só gesond omdat hulle só gesond asemhaal!
Kom nou, bemarkers, hier is jul kans om ons sjarmante Weskusdorpie (Koeberg en al) opnuut op die kaart te sit! (HvD)
Dec 15, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Wat die Engelse ‘n “sneak preview” noem, is volgens Pharos se Groot Woordeboek ‘n geheime voorvertoning. Geheim? Wel, hierna geen geheim meer nie oor wat ek op ons aanstaande Wildtuinbesoek (van 26 Desember tot 10 Januarie) die heel graagste wil sien.
Die foto hierbo lig die sluier oor my “wildste wildtuin-geheim”. Ja, die grootste begeerte in hierdie ou se hart is cheetahs (of jagluiperds) wat draal sodat ‘n mens hulle uit elke hoek en kant kan afneem.
Hierdie treffende foto is een van ‘n reeks wat Vic D’Oliveira net twee kilometer van Krokodilbrug af op die vrugbare Onder-Sabiepad geneem het. Dit verskyn in die jongste uitgawe van die Wildkaart-tydskrif, Wild.
Toe Vic stilhou om roetes te oorweeg, stap die drie doodluiters uit die bos en begin poseer. Twee is naderhand bo-op die padpredikant. Hul strek hul lenige lywe sodat ‘n mens hul liggaaamsbou fyn kan bestudeer.
As jy hierdie foto goed bekyk het, sal jy darem seker nie weer luiperds en jagluiperds met mekaar verwar soos soveel besoekers aan die Wildtuin nie. Dis omtrent soos wit- en swartrenosters. Vir vele mense is ‘n renoster ‘n renoster, kant en klaar. So is ‘n luiperd vir baie eenvoudig ‘n luiperd.
Nog iets wat natuurlik dadelik verklap die “luiperd” op jou foto is eintlik ‘n jagluiperd is die swart “traankol” op die wang. Help glo om die son weg te skaats as hierdie jagters per excellence oor die aarde heen skeer teen ‘n verstommende snelheid.
Luiperds is bonkiger diere, nader aan die aarde weens korter bene, en daardie swartkol is totentaal afwesig. Geen rede om te twyfel oor identiteit nie.
Luiperds het ons op ons tientalle Wildtuinbesoeke oor die jare nogal redelik dikwels oral in die Wildtuin gesien – ook luiperds met hul prooi in die tak van ‘n boom, ‘n bek-af luiperd nadat ‘n leeu sy rooibokkie voor hom weggegaps het, ‘n luiperd oomblikke na sy slagtande in die rooibokkie se nek ingeslaan het, ens. Baie van die waarnemings was ‘n klipgooi van die Krugerhek langs die Sabierivier. Ook in Sabiepark self – lees Duisend Dae Langs Die Sabie deur ene Hennie van Deventer.
Van ons jagluiperd-besigtigings het ek en Tokkie vanoggend in die bed ‘n vinnige rekensommetjie gemaak. (Die Burger was teen 07:00 nog nie hier nie – swak Piketberg!) Ons tel ‘n stuk of ses gelukkies.
Die meeste op ‘n slag was vier onder ‘n koelteboom op die Phabenipad. Hulle was deksels ver die veld in en op my langlens-foto is skaars meer as vae gedaantes herkenbaar. Daardie selfde vakansie het die gesin Parsons van die Suidkus, ook Sabieparkers, ses of sewe in die Phabenipad (Doispanepad) sien speel. Gelukkige bokkers!
Een keer het ‘n cheetah regoor die hek van Satara uit die bos gehardloop, in ‘n omgevalle boom gespring en ‘n oomblik vir die kamera gegrynslag. Dankie, ou grote, jy’t gesorg vir my beste jagluiperdfoto.
‘n Keer het ons kinders Brent en Marisa Claassens in Sabiepark kom kuier. Ons het hulle op die lughawe gaan haal, en by die Malelanehek ingegaan. Toe kry ons ‘n jagluiperd met sy prooi langs die pad onder ‘n boom. Og, die motoropeenhoping!
In elk geval, só manjifiek, soos Vic D’Oliveira, het ek nog nie die voorreg of gelukkie gehad om jagluiperds te sien nie.
Hulle is, wat my betref, bitter skaars. Amper só skaars soos ratels, wat ek in al die jare nog net twee keer gesien het. (My vriend wyle Louis Botha het ‘n keer urelank ‘n geveg tussen ‘n ratel en ‘n luislang naby Satara sit en dophou. Hy was meegevoer deur die ratel se knaendheid. Taai soos ‘n ratel, né!)
Leeus? Ja, die “koning van die oerwoud” is altyd ‘n yslike trofee vir ‘n kamerajagter. Maar leeus is eintlik relatief volop, na my ervaring. As ek die vakansie nie leeus gesien het nie, voel ek daar’s fout aan my kant.
Wildehonde? Ek weet hulle word as ‘n buitengewoon skaars spesie geag. Almal raak opgewonde om van die bont-dierasies op ‘n snuffeldraffie te sien (ek ook).
Maar as ek moet kies, gee my ‘n cheetah, elke dag. Vic, ek ry hierdie vakansietjie spesiaal Krokodilbrug toe. Dalk stap daardie symste drie weer op die symste plek uit die symste bos en klouter op die symste padpredikant. Dalk sommer al drie saam.
Sal vir jou ‘n HvDfoto stuur!
(HvD)
Dec 14, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Dat die vere tog wel in ‘n sekere sin die voël maak, was in die ou dae nogal ‘n klerenorm. Eksentrisiteit in aantrek is nie juis aangemoedig nie. Deesdae ruk by ‘n formele aandgeleentheid mans op met aandpakke en mans met blink bont Afrika-syhemde wat oor die broek hang. Party vroue se waaghalsigheid (nie net t.o.v. halslyn nie) gee jou skoon jakopeweroë.
My eie oë het al uitgepeul by ‘n jeugdiens toe die diaken oorbuig om die kollektesakkie te oorhandig. Ek was gereed om te vang wat val! By dieselfde kerk het ‘n dame wat graag haar eie ding doen, op ‘n Kersoggend met ‘n pelsjassie en visnetkouse opgedraf.
A wel, modes verander. Dit is geen nuwe ding nie. Tog wel is relatiewe eenvormigheid in ‘n stadium so nagestreef dat jy “uit” gevoel het as jy “verkeerd aangetrek” is. Dit het ook vir stranddrag gegeld.
Sarel Venter van Bloemfontein – hy word nou wat koerante ‘n gereelde medewerker noem – laat weet my verwysing na die swembroekie uit ‘n meelsakkie (vorige blog) laat hom aan ‘n storie dink wat die kultuurman Oom Gannie Viljoen glo vertel het.
Hy en Oom Barnie Human, motormagnaat, was groot vriende. Een somer is die Viljoens toe na die Humans se strandhuis op Ramsgate. (Ek en Tokkie was selwers ook al daar in die kothuis as gaste van die Humans.) Elke oggend op ‘n afgesproke tyd kry Barnie en Gannie mekaar iewers buite en stap strand toe. Gannie elke oggend geklee in dieselfde swart of donkerblou swembroekie en Barnie elke oggend in ‘n ander swierige swembroek.
Toe sê Gannie glo aan Barnie: “Jy moet nie dink hierdie is my enigste swembroek nie, ek het nog ses wat presies so lyk; een vir elke dag van die week.”
Herinner my op my beurt aan my paar hemelsbou lang kouse wat ek in standard nege rond gekoop het met my verdienste as Volkies se korrespondent vir die SAUK-jeugprogram “Ons Roep Die Jeug”. My blou kouse was van die bas in die was en dan dadelik terug aan die bas. Joe, jy moet baie blou sokkies hê, het van die meisies opgemerk. Ek het hulle nie reggehelp nie.
Oor mooi aantrek bestaan in die politiek ‘n oorlewering wat glo taamlik waar is. ‘n Agbare minister van die jare 50 was bekend as stylvol uitgevat, maar ook vir sy dwalende oog. Een sekretaresse sê toe vir haar jong kollega: “Ons minister trek darem mooi aan.” Die ander ene, ewe onskuldig: “Ja en so vinnig!”
‘n Storie wat darem seker apokrief moet wees, is van die ou wat alleen kerk toe is – vroutjie had hoofpyn of iets – en terugkom met twee blou oë. “En nou?” Nee, vertel hy, toe hulle opstaan vir die loflied, bemerk hy die tante voor hom se rok sit tussen haar boude vas. Uit pure hulpvaardigheid gee hy dit ‘n plukkie. Sy swaai toe om en klap hom dat hy sterre sien. Hy dag sy verkies haar rok presies net so in die gleufie, en druk dit versigtig terug om die status quo te herstel. Toe klap sy hom weer. Hierdie keer harder.
Dan bestaan die beroemde storie van die meisie wat die bus wou bestyg in haar stywe jannas. Aikona, werk nie. Elke mislukte poging werskaf sy agter haar rug en trek die rits ‘n entjie laer af. Die ou agter haar gee haar later ‘n stootjie onder die boudjies om haar op te help. Woedend sis sy: “Meneer, hoe kan jy sommer aan ‘n wildvreemde so vat?” Hy: “Ekskuus, dametjie, ek dag ons ken mekaar teen die tyd. Jy het al twee keer my rits laat sak!”
Ek lees iewers van die ou wat in ‘n woonstelblok se waskamer instap. Daar staan ‘n blondine in haar geboortepakkie voor die masjiene. Hy skeur sy oë weg. Toe sien hy die (misleidende) nota teen die muur bo die wasmasjien: “Verwyder asseblief al u klere as die rooi liggie doodgaan.” Wetsgehoorsame meisie!
(Snaaks, het in geen jare daaraan gedink nie. Nou onthou ek ‘n advertensie in my kinderdae se “Brandwag” van ‘n welbedeelde meisie in haar bra op ‘n bus. Die opskrif was iets soos: “Ek droom ek ry in ‘n bus in my Maidenform–buustelyfie.” Sal iemand vandag nog twee keer opkyk vir ‘n meisie sans hempie? )
(HvD)