Dec 13, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die skielike ontdekking dat iets aan kou klere skort, kan ontsenuend wees. ‘n Prysetiket het dalk weens ‘n oorsig op ‘n strategiese plek bly sit. Nou word aan almal uitgeblaker teen watter afgekibbelde prys jou klerekas by die Oosterse basaar vernuwe is.
Kollega Sarel Venter van Bloemfontein onthou ‘n insident toe Mike de Vries in so ‘n klerepenarie was, na aanleiding van my herinneringe aan ‘n heuglike Oostenrykse reis in my vorige blog.
In 1976, sy parlementjaar, was Sarel en Liesbeth een aand in Stellenbosch se stadsaal vir ‘n opvoering van Ipi Tombi. Hulle had komplimentêre kaartjies, verskaf deur ‘n buurman in Uniepark (Stellenbosch), prof. Roux de Villiers, destyds vise-rektor van Maties.
So sit hulle toe langs die rektorspaar, Mike De Vries en Renéé, ‘n dogter van die Pers se voormalige grootbaas Phil Weber.
Sarel vertel:
“Liesbeth sit toe regs van Mike, en in die skemerlig sien ek, as ek links kyk, kort-kort iets wit beweeg anderkant mý gade. Toe ek mooi kyk sien ek dit is ‘n prysetiket aan Mike se (nuwe) aandpak se linkermou, net bokant die hand.
“Toe ontdek Mike dit ook en begin dit diskreet lostorring. Hoogs geamuseer was ons aandag ‘n hele ruk lank nie juis by wat op die verhoog aangaan nie.
“Jare later, by ‘n dinee in Bloemfontein, dalk was dit met ‘n Volksblad-viering, sit ons toe saam met die De Vriese aan tafel. Hoe het ek nie gebrand om vir hom te vertel van daardie aand in Stellenbosch nie!”
Soos ek die gemoedelike Mike geken het, kon jy gerus maar vertel het, Sarel.
Soms kom ‘n element van moedswilligheid in so ‘n scenario na vore. Een van ons Melkbosse leraars, Francois Hanekom, kom op huisbesoek agter die lidmate betrag hom vraend. Riana het stilletjies agter op sy baadjie ‘n etiket geplak wat van ‘n nuwe kombuispot kom: “slow cooker”.
Herinner my aan een van Rykie van Reenen se stories wat telkens in nuwe gedaante afgestof word vir ‘n nuwe generasie. Dis van die oubasie wat in oorlogstyd op Durban se strand kerjakker met ‘n baaipakkie uit ou meelsakkies vervaardig. Voorlangs, op ‘n ongemaklike plek, word verkondig: “self raising”. (Agter was ook ‘n dubbelsinnige mededeling – kan om die dood nie onthou wat nie.)
Van ‘n dame is nie so lank gelede nie op die nimlike Durbanse strand ‘n vreemde foto geneem en wyd op die internet versprei. Haar baaipak was agterstevoor. Die rug was nogal laag gesny. Twee wippende dubbel D’s ontbloot in die branders!
Gé Korsten het my vertel van ‘n verleentheid op die Aula se verhoog in Pretoria. Hy en Mimi Coertze was in ‘n hartstogtelike toneel in ‘n opera. Hy kom agter onse Mimi loer-loer so suidwaarts van sy naeltjie en maak sulke betekenisvolle kopknikkies. Toe hy afyk, sien hy net die wit pant van sy hemp soos ‘n vlag by sy oop rits uitsteek.
Hy het eenvoudig rug gegee en die rits opgepluk – tot groot vermaak van die gehoor. Geen regisseur kon Verdi se sonore musiek met so ‘n spontane plesiertjie afwissel nie! (HvD)
Dec 11, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
Ek wil ‘n e-pos stuur, maar is onseker oor die adres. Moontlik sal ek die teiken tref met iets soos mikedevries@hemel.co.heelal.
Mike de Vries was rektor van Maties en direksielid van Naspers in die 90’s. Toe ek in 1994 die 47ste wêreldkongres van koerante in Wenen, Oostenryk, gaan bywoon het, het Mike vir my en Tokkie ‘n toerplan in fyne detail uitgewerk.
Ons is via die Romantische Strasse in Duitsland (met tradisionele dorpies soos Rothenburg) na die wonderskone Salzkammergut in Oostenryk. In Traunkirchen was ons tuis in die Seepension Zimmermann. Mike het vir ons presies beduie hoe om daar te kom.
Draai hier links, hier regs …
Hy het ook die naam van ons gasheer verskaf, en groete gestuur, wat met welaangename verrassing ontvang is. “O, herr De Vries … “
Oostenryk was Mike se geliefkoosde reiswêreld. Hy het dit soos sy handpalm geken.
Ek is aan die 1994-reis (met ‘n geleende Audi wat ek by die fabriek in Ingolstadt gaan optel het) herinner deur ‘n e-pos van my oud-kollega Goëthe (Ollie) Olwagen met 28 pragfoto’s uit Oostenryk terwyl die innige klanke van Quand le soleil dit bonjour aux montagnes (As die son die berge groet) die siel voed.
Ek kon Tokkie n.a.v. ‘n spyskaart in my foto-album nommer 39 herinner aan wat ons die aand van 30 Mei 1994 in die Hotel Inter-Continental in Wenen vir aandete gehad het. Die beesvleis was “Girardi Style” en die pannekoekies is met suurkersies opgedis. Ek kon haar ook herinner aan ‘n swierige dinee in Wenen se beroemde Rathaus, meesleurende Strauss-konserte en wat nog.
Ek sou haar kon herinner aan ons middernag-kaalbas-kaperjolle in die binnenshuise swembad van ons gasthaus in Zell-am-See. Ons was toe amper twee dekades jonger … Die volgende oggend is ons oor ‘n besneeude Grossglocknerpas in die Alpe, verby duiselingwekkende hoogtes en noutes soos die Hexenküche – gebruik maar die verbeelding.
Van die dorpies op ons roete had onvergeetlike name soos Heiligenblut. Die natuur was onbeskryflik groots.
Waar was ons nie oral nie? Ook in Inssbruck, onthou ek, en natuurlik Salzburg – die stad van Mozart. Oral het Mike paadjies, kuierplekke en oornagplekke in besonderhede aanbeveel.
Hemel, Mike, vanaand is ek opnuut dankbaar. Hoop maar waar jy is, is vir jou ewe sielsaangrypend as die Oostenryk wat jy so lief gehad het en so volledig aan my en Tokkie bekend gestel het. (HvD)
Dec 9, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
Musiek met vlerke. Dit sou die naam kon wees van ‘n versameling liedere met die tema voëls: van die gevleueldes se grasie tot hul skoonheid of hul klokhelder sang.
Uit die operaskat, uit klassieke werke, uit trefferdeuntjies – ook immergroen Afrikaanse gunstelinge – uit gospelmusiek, uit elke denkbare oord kan ‘n mens “musiek met vlerke” put. Soos skilders en digters deur die eeue heen is ook komponiste deur die “reënboognasie van die natuur” geïnspireer.
Veral oor die duif – spesifiek die wit duif – is die liedere legio, met La paloma ‘n sterk persoonlike gunsteling oor lange jare, al van Plate-aande af by Volkskool op Potchefstroom. Julio Iglesias sing La paloma voortreflik. Ook Freddy en Heino. O la paloma blanca was George Baker se grootste globale treffer. Op gospel-terrein swaai Ferlin Husky se Wings of a snow white dove die septer.
Cu Cu Ruu Cu Cu Paloma van Nancy Ames is bekoorlik (soos die blonde sangeres self). Tortelduif (Gé Korsten) verheerlik ook strelende duiwegekoer met sag-op-die-oor-klanke.
Swaeltjies, en hul kom en gaan saam met die seisoene, figureer wyd in liedjies. Pat Boone se When the swallows come back to Capistrano (met die beierende kerkklokke) was in my jeug ‘n treffer. Uit my nog my nog priller jeug dateer Die Swaeltjie (O swaeltjie draai) deur Jurie Ferreira. Deesdae bestaan ‘n mooi opname deur die Phantom André Schwarz.
Terwyl ons by swaeltjies is: geen verwysing na swaeltjie-liedere kan mos volledig wees sonder die Griekse nooi Nana Mouskouri se La Golondrina (bron van ons eie Die Swaeltjie) nie.
Seemeeue dra dikwels ‘n boodskap van liefde en verlange (selfs hartseer) oor. Möwe, du fliegst in in die heimat van Magda Hain kom ook uit my plate-aand-dae by Volkies. Moderner seemeeu-liedere (ewe stemmingsvol) is o.m. Anneli van Rooyen se Seemeeu en Rina Hugo se Soos ‘n seemeeu.
Waar seemeeue verlange weerspieël, weerspieël ‘n blousangvoël loutere geluk. Jan Peerce se Blue bird of happiness is ‘n tipiese voorbeeld. In Over the rainbow (ek hou veral van Judy Garland en Louis Armstrong s’n – maak jou keuse ) is dit die nimlike blousangvoëltjie wat so begeerlik hoog bokant die reënboog vlieg.
Liedjies bestaan oor voëls van allerlei vere – buiten blou, onder meer ook geel (Yellow bird) en bruin (A bown bird singing). Van eersgenoemde is ‘n relatief onbekende maar onvergeetlike opname een deur ons eie Gert Potgieter. Die bruin voëltjie word besing deur John McCormack.
Die piepkleine pepermossie kom voor (Pepermossie*, Laurika Rauch), maar ook die arend met sy indrukwekkende vlerkspan (Sweef soos ‘n arend, wat ons eie Melkbosse dominee Marius Falck baie besonders op ‘n CD verewig het).
Grasie is nie tot die lug beperk nie. Swane-grasie word o.m. besing in Swaan uit Karnaval van die diere (Saint-Saens), Europese Filharmoniese orkes, en die Wals uit Swanemeer (Tsjaikofski), Russiese Staatsimfonie-orkes.
Klassieke voëlmusiek, soos bogenoemde, kry ons ook in die ouverture tot Die skelm ekster (Thieving magpie) van Rossini. ‘n Opname wat die bloed laat bruis, is van die Weense Neujahrskonzert 1991 met Claudio Abbado wat die stokkie swaai.
Individuele voëlsang wat in liedjies verewig is, wissel van die nagtegaal se spreekwoordelike soet sang (A nightingale sang in Berkeley Square,Vera Lynn) tot die skor kreet van die kolgans wat sy maatjie verloor het (Kolgans, Janita Claassen).
Kollektiewe voëlsang kry ons in Bird song at eventide (Richard Tauber), Aandlied van die voëls, fluitende aan ons gebring deur die Fluitende predikantsvrou (Ryne de Beer) en And the birds were singing van die Sweet People (werklike gekwetter en getjilp). In Mockin’ bird Hill (Patti Page) hoor ons die “mockin’ bird” (dassievoël?) se melodieuse mengsel van nagebootste voëlsang.
Die tema van die treffer-TV-reeks The Thornbirds van Mancini (Patricia Spero op die harp) is werklik treffend. Maar wat is ‘n “thorn bird”? In werklikheid bestaan hy nie. Op Google lees ek: “The title refers to a mythical bird that searches for thorn trees from the day it is hatched. When it finds the perfect thorn, it impales itself, and sings the most beautiful song ever heard as it dies. ”
Van die pragtige Bosveldvoëls waaroor ek, jammer genoeg, geen liedere kon opspoor nie, is die koninklike bloukuifloerie, die pers troupant, die goudgeel swartkop-wielewaal, die flambojante kuifkopvisvanger en die elegante saalbekooievaar, hierbo op die Doispanepad in die Krugerwildtuin afgeneem. Hulle verdien elkeen ‘n eie liedjie.
(‘n Pepermossie is aan my onbekend. Wou vandag vir Lina Spies vra by die Kaapse roudiens vir Hendrik Venter van Griffel Media. Die geleentheid het hom ongelukkig nooit voorgedoen nie.) (HvD)
Dec 6, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Gloria in excelsis deo, Gloria in excelsis deo, Gloria in excelsis deo.
Met dié lofprysing, so aanhoudend herhaal, het die kleinerige Melkbosse kerkkoor ons jaarlikse Kerssangdiens op ‘n hoogtepunt met ‘n kragvertoning afgesluit. Die woorde het ‘n element van dringendheid oorgedra wat die gemeente geboei in hul plekke laat talm het. Dit was asof hulle die roerende oomblik wou vasgryp.
My laaste indrukke van die sielsverheffende diens toe ek uiteindelik by die kerkdeur uitstap, was van die drie soliste en die koorleidster in ‘n klein intieme gesinsgroepie wat bly sing en dirigeer, sing en dirigeer: Marius Falck, leraar met die goue stem, sy twee dogters, Terina en Magdaleen, en koorleidster, Wilna Falck, die pastoriemoeder met ‘n musiektalent wat haar man se stem ewenaar, indien nie oortref nie.
Glorie aan die Van Trapp-gesin van Melkbos – so het my gelukwensing gelui.
Die ou-ou lied se naam het ek later by Wilna verneem: Í will sing to the glory of the King. Stukkies daarvan herinner aan Joan Baez se onvergeetlike Khumbaya my lord. Ons wag nou reikhalsend vir die DVD wat deur die alomteenwoordige koster, Izak van der Walt, vervaardig is. Gaan dit nog voor Kersfees voos speel. Weet sommer.
Op Facebook is ‘n groepie jong vriende wat die wonderlikste musiek by wyse van webskakels met mekaar deel. Ek wens werklik ek kon van daardie koorwerk ‘n skakel opsit – op Facebook en waar nie oral nie – sodat almal in daardie glorieryke musiekbelewenis kon deel.
Met dié onhaalbare wens in gedagte, begin ek uit ons ander pak Kersmusiek – CD’s en ou langspelers – gunstelinge uitsoek. Mense, as dit hoegenaamd moontlik moontlik was, was hier nou skakels op hierdie blog na die volgende meevoerende liedere:
Uit die private Kersprogram vir 1992 van ons vriendin Nella Jacobs van Centurion: Benedictus uit A mass for peace deur die Londense Filharmoniese orkes onder leiding van Karl Jenkins.
Uit ‘n stel langspelers A country style Christmas: O holy night deur George Beverly Shea (meesterlik!), O little town of Bethlehem (Burl Ives) en I heard the bells on Christmas day (Johnny Cash).
Uit ‘n geskenkplaat van Lufthansa rondom 1970: Stille nacht deur die Bielefelder Kinderchor.
Uit die CD Christmas in Vienna (opgeneem in die Rathaus, Wenen, op 23 Desember 1992): Amazing Grace (Diana Ross op haar allerbeste) en Wiegenlied (Placido Domingo).
Uit die CD A Christmas collection: Little drummer boy (Vera Lynn) en Adeste Fideles (Nat King Cole).
Uit die Afrikaanse versamelaarsitem 30 Grootste Kersfeestreffers: Koos du Plessis se Somerkersfees (hoe dan anders?) deur Piet Smit.
Uit die CD Kersfees vir altyd deur die nimlike Marius Falck: Hierdie kind.
As hierdie musiek jou nie in ‘n gewyde Kersstemming kry nie, sal niks dit kan doen nie. Gaan luister dan maar na Jingle Bells in die opgetooide winkels.
Enkele notas:
*Die platestel van Amerikaanse Kersmusiek op die country-styl het ek en Tokkie saamgebring uit Boston na ons jaar by Harvard in 1976/77. Ek hou steeds vol dat ‘n Amerikaanse wit Kersfees jou nader aan jou Skepper laat voel as enige anders Kersfees wat ek al deurgebring het.
*Die Lufthansaplaat was ‘n korporatiewe geskenk deur die Duitse lugredery aan mediamense. Ek het myne gekry as nuusredakteur van Die Volksblad in Bloemfontein.
*Om ‘n keuse van net een enkele Stille Nag te maak, was amper onmoontlik. Die drie finaliste was die wenner hierbo (Bielefelder Kinderchor) en twee ander uiters sterk candidate, een (ook Duits) deur Placido Domingo, Diana Ross en José Carreras en die country-weergawe deur Carl Smith.
Skielik wil-wil ek twyfel of ek reg gekies het. Maar as ek nou aan een van my keuses verander, stort my hele kaartehuis (van stylvolle ou Kerskaarte uit die jare toet) in duie. (HvD)
Dec 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Naand uit Melkbos
Was kant en klaar
om te verklaar:
windstilste aand
van hierdie jaar
… toe roer ‘n blaar.
(HvD)
Dec 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Hierdie smaaklose stukkie “humor” oor ‘n soettand-beetjie is gisteraand vinnig van Facebook verwyder nadat ek dit ernstig bevraagteken het. Dalk was ek te skerp …
Maar verstaan mooi, ons gesin ken nogal diabetes na die intieme saam leef met die siekte vir 40 jaar. Ons seun, Johan, is op ses maande met “diabetes mellitus” gediagnoseer. Geen dag van sy lewe het daarna verbygegaan sonder sy insulienspuitjie nie. Dis geen grap nie. Ons vind dus geen diabeet-grappie oulik of snaaks nie.
Hierdie is geen mediese blog nie. Oor die implikasies en komplikasies van daardie slopende siekte wil ek dus nie hier probeer uitwei nie. Die statistieke vertel hul eie verhaal. Diabetes hardloop voor saam met allerlei kankers, HIV-vigs, hartvatsiektes en ander sogenaamde “killer diseases” as ‘n oorsaak van dood wêrelwyd. Google gerus “diabetes mellitus”, as julle dink ek vat sommer kanse.
Met Kobus Galloway se sogenaamde “Idees vol vrees” het ek in die algemeen vrede. Vir elke diertjie sy plesiertjie, en van sy sketsies is heel oulik. Met daardie enetjie het hy, helaas, oor die tou getrap. Ai, mnr. Galloway , oor ontelbaar ander dinge kan slim grappies gemaak word – kom ons los tog maar spitsvondighede oor siektes wat vir andere pyn, leed en ellende bring eenkant, asseblief.
Let wel, ek praat in die meervoud van siektes. Verstaan my betoog dus asseblief nie net as een net ter wille van diabete omdat ek diabetes se donker kant ken nie. Elke siekte het immers sy donker kante. Elke lewensbedreigende siekte het kwalik enige ander kant as donker kante vir slagoffers en hul geliefdes.
Wees dus tog maar bedag, liewe humoriste, komediante, grapjaste en dies meer, oor die potensiële seer wat jul grappies vir geteisterdes inhou.
Iemand wou my op Facebook die lessie leer dat “humor groter is as die individu” , en was vinnig om my van “oorgevoeligheid” te beskuldig. Die kort antwoord op sulke verwyte is natuurlik: sou ‘n grappie oor ‘n diabeet vir iemand snaaks gewees het as hy self ‘n kind op insulien moes groot maak?
Sou daardie grappie hom laat giggel het as ‘n geliefde, soos een van my vriende, pas agt weke lank in die hospital in ‘n stryd gewikkel was om sy been van amputasie te red, of as hy, soos ‘n vriendin, in dieselfde tyd langs die graf moes staan van ‘n diabeet-broer wie se toon geamputeer is?
Sou Galloway se beetjie iemand geamuseer het wat self besig was om blind te word weens diabetes?
Ek beskuldig mnr. Galloway en sy bewonderaars nie van kwade wil nie, hoogstens van onkundigheid, ongevoeligheid en selektiewe moraliteit. Oor kanker sal hy byvoorbeeld nie so maklik ‘n karikatuur teken nie – arrie nee, dis tog ‘n taboe! Almal vrees die groot K. Ook nie oor vigs nie, want politiek korrektes sou vinnig hul stem dik maak as hy daardie vigs-strikkie iets onbehoorliks sou laat aanvang.
Maar diabetes – dis mos sommer ouens wat nie suiker mag eet nie? En Alzheimer – nog ‘n teiken van grapmakers waaroor ek iets meer wil kwytraak – dis mos ouens wat so maklik vergeet? Sulke oppervlakkige persepsies het ongelukkig diep ingeburger geraak, en mislei mense om onnadenkend siek grappies (siek in meer as een opsig) te maak.
Hemel, ek weet van ‘n predikant met ‘n Alzheimerkliniek in sy blok, wat kans sien om van die kansel af Alzheimerkwinkslae te maak. Dan moet die geliefdes van die bejammerenswaardige pasiënte in hul doeke, gestroop van alle menswaardigheid en veilig agter slot en grendel toegesluit, maar verleë saamgrinnik.
Sulke dikvelligheid oor diepe menslike leed van ‘n in elk opsig goeie, liewe man vind ek eenvoudig verstommend.
Ek verwag om gekap te word oor my “humorloosheid”. Ek glo egter mense waag slegs grappies oor hongersnood as hulle self kos op die tafel het, oor gestremde kindertjies as hulle met ‘n normale kroos geseën is of oor siekte as hulle self blakend gesond is. Om my tot ander insigte te bring, sal kritici my moet oortuig dat hulle nie uit die geledere van daardie bevoorregtes kom nie. (HvD)