RESEP VIR HOOP

More uit Melkbos

Die eerste maand van die jaar 2012 het pas verby sy halfpadmerk gehuppel. Wonder hoeveel nuwe sogenaamde “Nuwejaarsvoornemens” (of uitgestelde spertye vir ou voornemens), hetsy formeel of speel-speel, het teen hierdie tyd al gesneuwel. Die ongeluk is dat sulke voornemens hoofsaaklik rigiede dissiplines vereis. En die vlees is, helaas, min kere opgewasse vir die wense van die gees.

Self geen uitblinker met die afdwing van eie dissiplines nie – het ek in die 80’s nie omtrent 13 keer opgehou rook nie! – hou ek gewoonlik maar verby as mense hul programme vir ‘n nuwe jaar uiteensit. Makliker om in ou spore te bly stap!

Met een vaste (Nuwejaars-)voorneme het ek egter op 1 Januarie uit die kerkie op Skukuza gekom. Dit is om voortaan positiewer te probeer dink en doen in hierdie dierbare land van ons waarin so baie dinge die laaste twee dekades so ingrypend op hul kop omgekeer is.

Ds Gerrie Doyer van Witrivier het daardie oggend vir ‘n handjie vol kerkgangers uit Jeremia 29:11 ‘n inspirerende boodskap gebring. Ek wil dit sommer ook die credo probeer maak vir my eie nuwe lewensjaar – nommer 72 – wat op 3 Januarie begin het. Dit verg só min. ‘n Mens moet eintlik maar net die Here op sy woord vat.

Jeremia 29:11 behels ‘n aangrypende belofte aan ‘n verskeurde volk nadat hulle onder dwingelandy van Nebukadneser na die vreemde land Babel toe weggevoer is. “Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” (Nuwe vertaling, 1983).

In “Die Boodskap” (die Bybel in hedendaagse Afrikaans) wat ek graag raadpleeg vir bevatlike formuleringe klee Jan van der Watt en Stephan Joubert daardie aangrypende boodskap in die volgende woorde: “Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.”

Hoop vir die toekoms! Ai, ons mense is darem so dikwels platgeslaan, só reddeloos terneergedruk oor wat die dag van more kan inhou. Die Here sê egter: “Ek gaan uitkoms bring, sê nie wanneer nie.”

Trouens, in die brief van Jeremia uit Jerusalem aan allerlei groot geeste word nie net vaagweg getroos en bemoedig dat beter dae eendag weer gaan aanbreek nie. ‘n Vaste resep word ook gegee vir ‘n konstruktiewe, vrugbare voluit-lewe in die nuwe omstandighede waarin ander die septer soms hard en genadeloos oor jou swaai.

“Bou vir julle huis en bewoon dit,” laat weet die Here vir hulle, “lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring.” Ook: “Bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.”

“Die Boodskap” se vertaling lui: “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad …… As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”

In hierdie groot woorde, versteek in ‘n soms vergete deel van die Ou Testament is inderdaad vir ons tyd ‘n betekenis en relevansie soos min opgesluit.

Enersyds: Skud die stof van moedverloor se vlakte nou van julle af!

Andersyds: Steek die hand uit die mou! Slaan die hand aan die ploeg! Arbei en bou! Help skep ‘n beter Suid-Afrika! Help skep só jul eie toekoms!

Wens ek kon met klinkende simbale ds. Gerrie Doyer se oproep tot in verre uithoeke help versprei, tot by almal van wie die hoop wankel. Hoop veral ook dat ekself nie more, oormore al weer gaan vergeet wat Jeremia 29:11 so glashelder uitspel nie.

“Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” Kom ons glo dit, dink dit, doen dit dit in die jaar 2012. ‘n Ander pad na ‘n eie Kanaän bestaan nie. (HvD)

OLYFIES, HIER KOM EK – VIA BLOEM!

More uit Melkbos

Met die wondere van die nuwe tegnologie kry ek deesdae in Sabiepark gereeld wenke oor waarnemings van die Groot Vyf in die Krugerwildtuin. Caroline Pols van Heerhugowaard in Nederland, ook ‘n Sabieparker, word op die hoogte gehou op haar Blackberry en “forward” vir ‘n vale. Dankbaar het ek vir haar ná die jongste vakansie laat weet: Dit werk, hoor!

Heerhugowaard, Sabiepark, Kruger-wildtuin – dis ‘n lang, lang ompad, maar nou-ja, ons leef in ‘n nuwe wêreld. Eweneens met so ‘n lang ompad ken ek nou die roete na die Goedgedacht-olyfplaas teen die hange van die Kasteelberg.

Amanda Groenewald van Naln in Bloemfontein het my blog raakgelees oor die spesiale olyfboom wat Ou Mutual op my verjaardag geplant het, en my ingenome versugting om my boom te gaan opsoek – as ek net die presiese ligging kan bepaal.

Bloemfonteinse meisies laat nie gras onder hul voete laat groei nie. Amanda laat weet: “Ek het dadelik op Google gaan kyk of ek die plaas kon opspoor. Kon dit nie via Google.maps kry nie, maar die gewone Google vir soektogte het wonderlike resultate opgelewer. Die plaas is aan die Riebeeckrivier, Malmesbury-distrik (sommer op ons drumpel dus!), geleë. Klik net op die onderstaande skakel vir volledige verwysing (ook in Afrikaans) na die plaas. Dit bevat ook die GPS-koördinate:

http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=13&Itemid=31

Die plaas se kontakbesonderhede kan hier gevind word: http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_contact&Itemid=3.

“Let net op dat die plaas se telefoonlyne gesteel is (die plaas is beslis in die Nuwe Suid-Afrika geleë – ha, ha!). Die plaas kan nou slegs per e-pos of selfoon bereik word.

“Allerlei ander interessanthede is op die plaas se webblad te siene: www.goedgedacht.org.za. Gaan kyk gerus.”

Amanda vestig die aandag daarop dat hulle ook ander projekte het, o.a. “Wonderbags”, wat deur knap naaldwerksters gemaak word. Die “Wonderbag” is ’n ronde, groterige sak, gesny uit twee materiaalsirkels. Die sirkels word gevul met polistireenkorrels en heel bo met ’n toutjie toegetrek. ’n Mens kook eers vir sowat 10 minute jou kos op ’n stoof of vuur en plaas daarna die pot in ’n Wonderbag. Sit die sak se hoed op, trek die toutjie toe en laat staan alles vir so ’n paar uur. Jou kos word in hierdie tyd op ’n baie omgewingsvriendelike wyse gaar sonder enige verdere elektrisiteit, hout, paraffien of wat ook al.

“Die sak is net die ding vir kampeerders, selfs vir reisigers,” meen Amanda. “As ’n mens na ’n lang rit by jou bestemming kom, is jou kos al gaar. Dink net aan ’n Sabiepark-besoek. Na ’n rit deur die wildtuin is almal seker lekker honger. Mev. Van Deventer hoef nie nog in die kombuis rond te spring en vir almal iets te ete te maak nie, want die kos al klaar gaar as julle weer terug is by Wildevylaan.

“Die ‘Wonderbags’ is veral van groot nut vir arm gemeenskappe, wat van vuur en paraffienstofies gebruik maak om kos te maak. Dink net hoeveel bome word in die proses gespaar. ’n Mens kan ook via Goedgedacht se webblad geld aan ’n arm gesin skenk sodat hulle ’n ‘Wonderbag” kan kry.

“Goedgedacht beweer dat as ’n mens hierdie sak drie keer per week gebruik, kan jy sowat 13 kWh per week spaar, òf 1.6 liter paraffien én dat dit slegs 500 g koolstofdioksied per jaar vrystel. Laasgenoemde wil gedoen wees!

“O ja, die pot moet verkieslik van aluminium wees. Geen gietysterpotte en potte met ’n koperboom nie omdat hulle die Wonderbags sal brand. Kyk gerus op hierdie skakel (onderaan is daar ook ’n Afrikaanse brosjure om af te laai):

http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=54&Itemid=172

“Die plaas het inderdaad wonderlike projekte, nie net olywe nie.”

Dankie, Amanda, die ou gryse staan as ‘t ware voet in die stiebeul Grootgedacht toe. Gaan beslis nie net olywe en olyfolie koop met die Goedgedacht-eitiket op nie, maar bring ook ‘n “Wonderbag” saam tuis toe. Om met minder moeite steeds lekker te eet in die liewe Sabiepark! (HvD)

MY EIE-EIE OLYFBOOM

More uit Melkbos

Hier by die punt van die pyl, op ‘n pragtige ou Kaaps-Hollandse plaas, geleë teen die hange van Kasteelberg, slegs 87 km noordwes van Kaapstad, het Ou Mutual op 3 Januarie vir die uwe ‘n olyfboom geplant ter ere van sy verjaardag.

Die frustrasie: ek weet nie presies waar die plaas Goedgedacht, en derhalwe ook my boom, is nie. Moet naby Riebeeck-Kasteel wees. As ek hoopvol op die skakel “kaart” klik op Ou Mutual se mededeling om die presiese ligging te bepaal, kry ek egter net ‘n herhaling van die foto.

En ek wil ry en gaan kyk. Lyk na ‘n spesiale plek. En moet sommer net ‘n klipgooi van Melkbos wees.

Natuurlik besef ek dis geen unieke eerbetoon wat my skielik hier op die bereiking van my 71ste lewensjaar te beurt geval het nie. Trouens, Ou Mutual plant elke dag van die jaar ‘n boom, wat elkeen van sy kliënte op sy/haar verjaardag verteenwoordig.

Maar, mense, gun dit my nou maar om ingenome met my boom te wees. Soos Ou Mutual dit stel sal my boom, soos al die ander Ou Mutualmense s’n, mettertyd “’n nalatenskap ter ere van my verjaardag” word. Reken, my kleinkinders kan ry en na Oupa se boom gaan kyk. Dan boonop nog vir ‘n goeie saak.

Goedgedacht is nie sommer enige hierjy-plasie nie, maar deesdae ‘n besige gemeenskapsontwikkelingsentrum waar, aldus Ou Mutual, ‘n “doelgerigte poging aangewend word om ‘n wesenlike bydrae te lewer tot die verligting van die ergste probleme waarmee ons almal te kampe het… armoede en klimaatsverandering”.

Goedgedacht was een van die eerste plase wat in 1704 aan die “Vryburgers” toegeken is en is gehul in die geskiedenis van die ou Kaapse Kolonie, lees ek. Ek glo van my stamvaders uit die verre Deventer het in die jare her as Vryburgers ‘n boom of wat daar rond geplant. Tulbagh figureer in die Van Deventer-familiegeskiedenis, as ek dit nie mis het nie.

‘n Trust is in 1993 gestig om op Goedgedacht tot voordeel van die gemeenskap te woeker. Met die stigting van die Trust het die trustees maniere gesoek om die ontwikkelingswerk volhoubaar te maak. Die pragtige ou Kaaps-Hollandse geboue is gerestoureer en in ‘n baie besonderse vergaderplek vir konferensies, werksessies, troues en wegbreeksessies omskep, met slaapplek vir 67 mense.

Terselfdertyd is olyfbome geplant. In die olyfboorde word olywe organies gekweek en hetsy gebottel of tot topgehalte ekstra suiwer olyfolie verwerk, en onder die Goedgedacht-etiket bemark.

Die Trust se filosofie is “om mense te ontwikkel, die gemeenskap te versterk en demokrasie te bevorder”. Dit is strewes waarmee ek my van harte kan vereenselwig.

Koop dus gerus ‘n botteltjie Goedgedacht-olywe of –olyfolie en gedenk aan my, Hennie van Deventer, gebore op 3 Januarie 1941 op Babanango, Noord-Natal, uit een van die Vryburger-families wat mettertyd hul tentpenne in die Kolonie opgetrek en diep-diep die onbekende binneland in koers gekies het.

En laat weet tog maar asseblief vir die ou man waar dit is as een van julle sy olyfboom op “sy plaas” opspoor!

Ns. Die betrokke Ou Mutual-lewenspolis is verpligtend uitgeneem toe ek in 1957 matriek slaag en ‘n Volksblad-beurs verwerf om my op Tukkies as joernalis te gaan bekwaam. Ek dink dit was ‘n polis van een duisend pond – dit was voor die dae van Daan Desimaal. Deesdae is die polisie so R70 000/ R80 000 werd. Ek betaal getrou maandeliks my premie van R3,52 per debietorder.
(HvD)

IN HAND EN OOG EN HART

3 Januarie 2012, Sabiepark

More uit Melkbos

Om 71 te word met jou eerste ervarings van die dag twee 7-jarige seuntjies wat by Oupa in die kooi kom klim en ‘n bobbejaanmannetjie wat buite die slaapkamervenster op die swembadmuurtjie sy tande ontbloot, is nogal iets om oor huis toe te skryf.

Huis toe skryf daaroor kon ek egter nie, want die internet-konneksie uit die bos was vanjaar pieperiger as ooit. Om ‘n blog in die bos op te laai met HvD se toestelle en geriewe word toenemend ‘n uitdaging. Die enigste enetjie wat wel die paal gehaal het, was net te veel van ‘n gesukkel.

(Jammer, sommer in dieselfde asem, aan almal wat so geswoeg het om die verjaardagman per selfoon raak te bel met MTN-seine wat hoofsaaklik tussen nul en twee op en af spring en jou telkens, met gepaardgaande bosluis-gevaar, die veld in laat storm om ‘n oproep te neem!)

Die laaste dag of drie van die vakansie het die Sabiepark Wi-Fi klopdisselboom gewerk (moet dit erken), maar toe’s die ou man se program ongelukkig weer ietwat aan die vollerige kant. ‘n Verslag dus van HvD71 agt dae nadat dit gekom en gegaan het. Nou stryk ek aan 72 toe, dan 73, dan 74 …. Aarde!

In ieder geval, die verjaardagfeestelikheid het ook behels “roomys in die boomhuis”. Vir daardie doel het Jacob en Thomas hul beursies te voorskyn gebring, Oupa kon na hartelus kies uit die yskas by die Protea-hotel by die Krugerbrug, maar, wyslik, darem met ‘n plafon wat die prys betref.

Sien, Oupa het die vakansie as’t ware roomys herontdek, en die seuns was teen daardie tyd bedug op die moontlik skade wat hierdie nuwe liefde van hul gryse grootvader vir hul sakke kon inhou (soos vir sy gewigsbeheer!).

Die “boomhuis” is gawe klein “losies” in ‘n reuse-jakkalsbessie aan die Sabie wat deur en deur ‘n kuier werd is – met die kleingoed of met iets sterkers in die hand saam met vriende. Protea betaal my niks, maar ek beveel daardie gerief van harte aan by almal wat in daardie omgewing kom.

Die aand is ‘n fris filet in die Weber op Tarlehoet se stoep gaar gemaak saam met die Philip van Rensburgs van Die Plasie, erf 62, Wildevy, wat, terloops, nou spog met ‘n salige dek waar ‘n mens ‘n hond uit die bos kan kuier. Dié het ons ‘n week tevore behoorlik ingewy.

Die seuns het elke denkbare drywende kersie uitgedelf en vir Oupa ‘n verskeidenheid liggie-skepies te water gelaat. Die fakkels om die lapa het lustig geflikker. Die bosnagaap moes die aand spesiaal welkom gevoel het!

Oupa is ook afgeneem met ‘n “sparkle” in sy hand. Julle weet mos: daardie stokkies uit ‘n vorige era wat ‘n mens aan die een punt aan die brand steek. Dan gooi hy sterretjies totdat hy uitgebrand is. Het waarskynlik as kind laas ene vasgehou, maar Ouma het die goed iewers in ‘n winkel op Melkbos/Blouberg raakgeloop en ‘n voorraadjie vir die seuns saamgevat.

Almal wat by Tarlehoet kom kuier het, was ingenome met dié jeug-herinnering van outydse oujaarsaande en so. Maar niemand was so ingenome soos Oupa nie. Die “sparkle” was op 3 Januarie in sy hand EN in sy oog EN in sy hart.

Die seuns sit in elk geval altyd ‘n glinstering daar … stokkie of te nie!
(HvD)

SEeN VAN REeN

More uit Sabiepark

Ons ontwaak in die lowergroen Desemberbos met die welluidende geroep in ons ore van somerbesoekers soos die bosveldvisvanger en die piet-my-vrou, ook die ou bekende kok-kok-kok van die bloukuifloerie, geheimsinnige lang fluit van die spookvoël en doe-doe-doe van die groenvlekduifie.

Al vlugtige glimpsie van hierdie ere-gevleueldes in Tarlehoet se bome sedert 26 Desember was die enkele verskyning kort voor skemer van die bloukuifloerie. Die skugter piet-my-vrou en spookvoël speel oustryk wegkruipertjie. Ook die bosveldvisvanger en die groenvlekduif raak weg in die blareweelde. Eersgenoemde se geroep werp darem gou vrugte af.

Met sy kenmerkende “trrp-trrr, trp-trrr” roep die bosveldvinger die reën, word hierlangs geglo. As die vleiloerie hoopvol inval, kan jy maar begin dophou hoe die wolkies opbou. Inderdaad. Weldra groei die wolkestapel in die weste. Dit word donkerder en donkerder. Die eerste druppels spat-spat geïsoleerd neer. Skaars twee minute later sak die grys gordyn. Dit sjor in die bos… honde en katte. Veraf rammel die donderweer, en die water begin voortjies maak in die dankbare grond.

Een van die somervreugdes van die bos tref ons binne 24 uur. Die kinders, Jacob en Thomas (nou al 7), dans op die swembad se rand voor Oupa se kamera met sambrele wyd oop. Die Canon klik, klik, klik – foto op foto (die swembadjie werk, terloops, oortyd, en die water spat van vroeg tot laat in boë soos die tweeling “splash”!).

Uiteindelik wys my reënmeter, verrassend, net 10 mm. Saam met die soliede 125 mm van voorheen in die maand voed die kort, harde bui egter die veld mildadig. Met die reuk van die nat bos in ons neuse en die gekwaak van ‘n opgewekte paddakoor as agtergrondmusiek, kry ons met die nat houtjies tog wel ‘n vuurtjie aan die gang vir ‘n skaaptjoppie of twee. Die sonnetjie breek net voor ete floutjies deur.

Toemaar, sal nie weer iets kwytraak oor my skeptiese Kaapse vriende wat so sidder vir die Laeveldse somerhitte nie. Hoe iemand koppig kan bly twyfel aan die bos as ‘n goeie somerbestemming word egter vir my elke jaar ‘n groter raaisel. Vrydag 30 Desember was dit lank grys bewolk. Oujaarsdag was die sonnetjie ook maar skamerig. Vir my en Tokkie was ons 45ste troudag bepaald nie naastenby so verwoed warm soos die ware Jakob op 31 Desember 1966 op Bultfontein in die goeie ou OVS nie.

Nuwejaarsdag het die kwik, soos dusver op ons kuier, nie verby die lae 30’s geskuif nie. Die kerk was binne so koel dat ons van sitplek verander het! Salige vakansieweer, veral as die braaivleisvuurtjie se rokie so regop boontoe trek.

Ons Wildtuin-uitstappies het nog minnerig opgelewer – darem, na vyf dae, al die Vyf Grotes. Gedenkwaardigste van hierdie waarnemings was ‘n maanhaar naby Skukuza. Hy het indrukwekkend vir ons staan en brul. Die luiperd was eintlik maar net ‘n bondel kolle in ‘n maroela op die rivierpad.

Donderdag was “reierdag” by Lake Panic: reuse-reiers, ‘n wit reier, ‘n groenrug-reier en ‘n ralreier, die bleke. ‘n Reuse-visvanger en vyf bont visvangers in ‘n boom, asook die gewone aanbod van grootlangtone, riethane en bontkiewiete het die koffietjie daar goed laat afgaan. Die res van die dag was bokkiedag. Die nuwe oes van oulike rooibokkies is nou so ses weke oud … windmaker-spelerig.

“Duisend Dae” het sy verskyning op die Parkwinkels se boekrakke gemaak. Altyd lekker om daar tussen al die natuurboeke te gaan poseer met ‘n eie bos-produk.

André du Plessis van Jakkalsbessie 129 het vir my ‘n boks boeke uit die Kaap saamgebring. Toe ek dit gaan haal, deel hy my mee: “Die bobbejane was agter jou boeke aan.” Ek dag hy grap. “Bewys ten minste hulle is bobbejane met goeie smaak,” waag ek ‘n kwinkslag.

Dit is egter geen grap nie. Die bobbejane was in sy huis en het die boks bygedam. Twee faktore was in die boks se guns: Tokkie speel nie as sy iets verpak nie, en die openinge in André se Trellidor is te klein vir die grootmenere met die slagtande wat kan skade aanrig. Net die een hoekie van my boks is weggeknibbel en die boeke self is ongeskonde. Verligting. (HvD)

ONDER-DIE-KERSBOOM.COM

More uit Melkbos

Almal het altyd ‘n stuiwer in die armbeurs gegooi omdat my verjaardag, 3 Januarie, so kort op die hakke van Kersfees volg. Siestog, jy kry seker net een geskenk, was die algemene kommentaar, kloekend uitgespreek.

Soos ek dit onthou, was die enkel-geskenk-opvatting nie verkeerd nie. Bepaald was nooit in my Kerskous ‘n pakkie en dan ‘n week later, weggesteek agter ‘n potplant of die hangkas, ‘n geskenk merk 2 met my naam op nie.

Trouens, hier tik ek aan die vooraand van my 70ste Kersfees op Moederaarde my laaste storie vir my blog voor die Groot Dag. Ek onthou bloedmin spesiale Kersgeskenke (en/of verjaardaggeskenke). Klink dalk koddig, maar dis die heilige waarheid, hoor. Wel, verbeel ek my, ek het op my 21ste van my ouers ‘n spoggerige elektriese skeermes gekry. Silwer en slank en met ‘n naam van formaat… ‘n Philishave.

Die vrou (‘n mev. Horak) by wie ek doerie tyd in Welkom geloseer het – ek het in die Goudveld vakansiewerk vir Die Volksblad gedoen – het die oggend van my mondigwording vir my ‘n omelette voorgesit waarop sy, ewe kreatief, 21 met Marmite geskryf het. Memorabel! Mnr. Horak (‘n oud-landdros wat myne toe is vir meer geld) het die aand vir my ‘n dop by die mynklub gaan koop.

Ongelukkig onthou ek ook maar min ander Kers-insidente. As familie – die Visser-susters van Perdeberg en hul aanhangsels – was ons klomp se Kerdag-bestemming tradisioneel die Fonteine. Verkenners is vroeg uitgestuur om ‘n goeie boom te reserveer. Piekniek met o.m. waatlemoen, frikkadelletjies en gemmerbier was ons voorland.

Een dag wou niggie Elise Smith opsluit agterop neef Bertus du Plessis, latere APK-predikant – se motorfiets Fonteine toe ry. Dit was die dae van die klokrompe en jaartse, jaartse stywe gaatjiesmateriaal om die onderrok voldoende te laat uitpof dat dit so wieg as jy loop.

Daardie spul lap het in die agterwiel van Bertus se motorfiets verstrik geraak. Elize se Kersmondering is brutaal van haar jong lyf gepluk. Trane. Penarie.

Ek skryf eintlik oor Kersgeskenke. Dalk is my indruk verkeerd. Ek wil-wil egter vermoed Kersgeskenke het in die algemeen maar ‘n beperkte lewensduur. Selfs die duur, tegnologies gevorderde, simbole van hul tyd in die eeu van i-ditte en i-datte bly nie vir ewig diensbaar of in die mode nie.

Goeters met wiele soos fietse, driewiele, popwaentjies, trekkers, vragmotors, brandweerwaens en karre begin later roes of metaalmoeg raak, of die plastiek versplinter in die son.

‘n Sekere kategorie klein karretjies, fraai poppies en goetertjies het die nuk om met die eerste hardhandige hantering te knak. Wonder hoeveel gifte en gawes wat “Kersvaders” aangepiekel het, onder Kersbome in bont pakkies versier was, per bosbestelling uit die “Noodpool” aangekom het of wat ook al, oorleef dalk nie nie eens tot Nuwejaar nie.

Lank voordat “ongelukkiges” soos HvD as’t ware in tandem met Kersfees verjaar, is die behoefte aan ‘n nuwe, heel geskenk dalk al weer sterk.

Ek ken ‘n Oupa en Ouma, verstandige mense, wat glo die waarde van ‘n geskenk is nie opgesluit in die prysetiket nie, maar in die potensiaal om dekades lank plesier te verskaf. Vereistes is dat dit nie moet kan breek of gesteel of andersins verlore kan raak of deur nuwe tegnologie tot die ashoop gereduseer moet word soos Doris Brasch se Lappop nie … maar julle is seker te jonk om daardie liedjie te onthou?

Nietemin, vir hul kleinste kleinkind (‘n tedere drie jaartjies oud) gee wyse Oupa en wyse Ouma vanjaar ‘n domeinregistrasie. Syne, eksklusief net syne, is die web-adres www.klasiekoekemoer.co.za voortaan. Dis vir altyd – sonder enige vervaldatum.

Dit kos hulle net R145,00 om die domein te registreer en deur die betrokke diensverskaffer op ys te laat hou. Klasie kan in jare om te kom self besluit wanneer en hoe om te aktiveer.

Dalk word www.klasiekoekemoer.co.za nog een van die beroemdste e-adresse in die land, waarop die volwasse Klasie letterkundige juweeltjies pleeg, trefferliedjies plaas voordat hulle die trefferlyste oorrompel, gewigtige kommentaar lewer oor alles en nog wat of sake doen vir ‘n vale – selfs ‘n troumaat ontmoet.

Hoop Klasie sal onthou sy versiende Oupa en Ouma is eintlik sy lewenslange “webmeesters”, nie die een of ander dotnet of iets nie. (HvD)