Apr 2, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Sing mense nog van die tien outjies op die muur? Een val af, toe’s daar nege. Nog een, toe’s daar agt. Ensovoorts. Ensovoorts.
Daardie outjies was, soos ons die liedjie geken het, in die moderne idioom bekend as agtergeblewenes. In die onderhawige geval is hulle “oorgeblewenes”.
Dit is nie my vindingryke woord nie, maar my klasmaats Wol Steyn s’n.
Wol het vir my na Saterdag se matriek-plus-55- re-unie by Volkies op Potchefstroom (in die personeelkamer nie die onthaalvertrek nie omdat die trappe vir die oues van dae as te steil geag is) ‘n kort bulletin gestuur.
Aangeheg was die blad hierbo. Dit is die laaste blad van my blog van 25 Maart met daaronder twaalf handtekeninge.
“En hier is ons almal,” was Wol se lakonieke kommentaar.
In daardie vorige re-unie-blog het ek gewonder hoeveel Saterdag sou opdaag. Dit is ‘n ope vraag, het ek geskryf, want die wiel bly draai; die Byl bly kap in ons bos…. “ek skat ‘n kwart van ons klas van 81 – of meer – is al lang boompies toe”.
Maar net 12? Die “tien outjies op die muur” het vinniger minder geword as wat ek verwag het. Vyf jaar gelede was ons seker nog 30. Dalk meer.
Verrassende afwesighede staan soos seer vingers uit.
Dis oor daardie 12 getroues wat wel opgedaag het en almal HvD se boodskappie onderteken het dat ek skoon aangedaan voel oor hierdie dokumentjie.
Al waarop ons kan hoop, is dat die klasmaats in 2017 – wanneer ons matriek-plus-60 gedenk – weer in groter getalle die bedevaart sal onderneem – mits ons natuurlik die kragte behou, en die Byl nie intussen te kwaai kap nie.
(HvD)
Apr 2, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
‘n Koerantman behoort te weet as ‘n storie roep vir ‘n foto om dit net daardie ontbrekende ekstra dimensie te gee.
Om oor Johan van Wyk en sy Gold Wing te skryf sonder ‘n foto van die dramatis personae (man en fiets) was ergerlik onbevredigend. Maar, soos ek verskoning gesoek het, die Strand is nie net anderkant die bult nie.
Boonop had ek die vrees dat dit heelwat oortuigingswerk sou verg om die nodige foto uit die “Oom”” te wurg. Die manne van Kafferrivier se kontrei (boonop ‘n Calvinianer van geboorte) kan koppig wees as hulle wil.
Toe kom Tobie Wiese, reisgenoot op vele avontuurlike tweewiel-togte, tot my redding. Hy stuur stilletjies ‘n paar foto’s aan.
Bo is ‘n foto van Johan van Wyk en sy Honda by ‘n rusplek langs die pad in die Robinsonpas naby Oudsthoorn. Die sigaretjie in sy hand is ‘n periodieke verleiding. Hoop nie dit verskaf vir hom komplikasies by Zandra of sy artse nie.
Betekenisvoller is daardie ruim pakplek vir padkos agter op. As Johan van Wyk oor padkos begin vertel, boeta, dan water jou mond eers …. (hvd)
Apr 1, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Johan van Wyk en Mammie (Zandra) se gedenkwaardige motorfiets-togte – sy as klouende passasier agter op die Honda Gold Wing 1100 GL – het ek in die vorige blog oor hom en Jacko Maree en hul fietse ligweg aangeroer. Albei is oor die 70 – Jacko trouens al 75.
In een van die kommentare bevel ene Laserstraal aan: “Vra vir Johan van Wyk om te vertel hoe sy swaar Gold Wing met hom en Zandra voor Lambertsbaai se hotel stadig omgekantel het en hulle onwaardig op die straat neergesit het. Terwyl mense op die hotelstoep dit aanskou.”
Dis ‘n storie wat ek nie ken nie, en waaroor ek Johan nog nie kan vra nie. Intussen het sy eie pen by my ‘n beeldryke vertelling aangekom oor sy en Zandra se epiese reise, wat nie sonder trane – soms emmersvol trane – verloop het nie.
Ploeg nie graag met anderman se kalwers nie. Gaan wel hierdie storie by Johan gaps en hier aanbied – in daardie raconteur par excellence se eie woorde (net ietwat verkort). Hoop nie jy gee om nie, kollega!
Johan skryf: “Vreemd, ja, maar motorfietsryers huil ook soms. Meer bepaald, hul passasiers. Veral vroue. Laat ons dit nou maar erken: selfs op die gerieflikste toerfiets is dit nie juis gemaklik agter op ‘n motorfiets nie.
“Elke keer as ek jong meisies, hulle boudjies in styfgespanne jeans doer in die lug, knieë opgetrek tot amper onder die ken, agter hulle kêrels se rug op die smal, harde sitplek van n super-fiets vir lewe en dood sien klou, kry ek hulle innig jammer. Dit moet n marteling wees.
“Ek dink hulle huil elke honderd kilometer. My vrou het darem beter gevaar op ‘n veel gemakliker Honda Gold Wing 1100 GL. Op landwye toere het sy net elke 500 kilometer gehuil.
“Maar wanneer ek weer ‘n padkaart nader trek en oor ver horisonne en interessante plekke begin droom, het haar oë geblink en het sy dadelik n nuwe jean gaan koop.
“‘n Huilende vrou agter op n motorfiets is nie n plesier nie. In hul droefheid versteur hulle jou balans deur na die verkeerde kant te leun om draaie. Wanneer hulle boudjies begin brand, skuif hulle rond, en as ‘n donderbui skielik uitsak, slaan hulle soos n nat kat hulle naels in jou lieste.
“As jy ooptrek en die naald op 180 begin bewe, verstyf hulle en tik waarskuwend met n vinger teen jou valhelm. Die ergste is wanneer hulle dreig om in die ry af te klim. (Dit kan ’ n aanloklike versoeking word!)
“Ter wille van die vrede en liefde hou jy maar uit, maar dis nie maklik nie. Jy wonder telkens hoekom jy haar nie by die huis gelos het nie.
“My persoonlike strategie om jou Mammie so minsaam as moontlik te hou, is maklik: Voer haar elke honderd kilometer roomys, sjokolade en koek. Op n toer deur Namibië het dit my duur te staan gekom, maar dit was die geld werd. Sy het net hier en daar liggies geween.
“Baie trane het egter voorgelê. Toe ons die oggend op Keetmanshoop wegtrek vir die lang terugreis Bloemfontein toe, in twee skofte oor Karasburg, Ariamsvlei, Nakop, Upington en Kimberley, besluit ek stilletjies om eerder deur te steek Kaap toe en swaai af Vioolsdrif toe vir die N7 deur Namakwaland, die Sandveld en die Swartland.
“Dis n mooi, helder herfsdag en die Gold Wing sing soos n gelukkige kanarie. Ek sing saam. Maar Mammie weet van niks. Gesus deur die fiets se sang, het sy agter my skouer ingesluimer en eers wakker geword toe ons oor die Oranje trek.
“Toe sy onthuts wou weet wat nou, het ek vet gegee en gesê: “Byt vas, vanaand slaap ons in die Kaap ! Sy het die heelpad, 899 kilometer afgery in ‘n dag se tyd, gehuil. Toe ons laatmiddag onder Tafelberg intrek was sy horingdroog.
“Vandag verkneukel ons ons daarin wanneer ons deur albums met foto’s van daardie onvergeetlike reis blaai. Dit was een van die beste dae van ons lewe … trane ten spyt.”
Weet nie waar die stuk al gepubliseer is, en of dit dalk nog gepubliseer moet word nie. Al wat ek weet, is dat ek daaraan groot plesier het.
Johan skryf voorts: “Jacko se besluit (om ook vir hom ‘n Gold Wing te koop) beteken dat hy nou 20 van sy 76 jaar kan aftrek. Dis wat met my gebeur elke keer as ek opsaal. Ná 42 jaar op drie motorfietse gebeur dit steeds.
“Soos vanoggend weer toe ek 250 km op die N2 en deur die Overberg se agterpaaie gery het. Ek ry minstens tweekeer per week. Jy moet om wakker en “bike fit” te bly. ‘n Maand gelede het ek en Tobie Wiese oor twee dae meer as 1 000 km deur die Suid-Kaap en die Klein Karoo gery.
“In Mei gaan ons deur die Oos-Kaap toer. Ons kan hom nooi om saam te ry. Dis eers op die ver paaie dat ‘n 1800cc-Gold Wing soos sy nuwe tot sy reg kom. Dis ‘n swaar toerfiets (400kg) en nie geskik om in verkeer tussen onnosel motorryers en rondom die stad mee te poer-poer nie.
“Terloops: ‘n Johannesburgse grysaard van 85 ry steeds syne. Dit het glo al meer as n miljoen kilometer gedoen. Jou kop moet net oopbly.”
(HvD)
Mar 31, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Onder die verrassend baie Ridders van die Ysterperd wat ek ken, tel nou twee 70-plussers met kragtige Honda Gold Wings in hul motorhuise.
Nuut in die orde van motorfiets-entoesiaste is Jacko Maree van Melkbosstrand. Die oud-L.V. vir Kliprivier is nie net 70 nie, maar al verby 75. Dat hy blom oor sy indrukwekkende glimswarte, spiksplinternuwe Gold Wing is egter gewis.
Hy voeg hom by Johan van Wyk, ook stewig verby die 70, gerekende rubriek- en artikelskrywer met die glimlag in sy rekenaar. Johan ry al jare sy Gold Wing, was al op solo-reise op ver paaie, en soms met Mammie (Zandra) agterop met gedenkwaardige vakansies. Hy pak gereeld groep-uitstappies aan saam met oud-kollegas en andere wie se name omtrent almal in Tobie Wiese se “Bikeboek” opduik. Soos die internasionale naam in spanningsverhale Deon Meyer. Van hulle was verskeie ook al gaste in my huis.
Een van Johan se beroemde motorfietsuitsprake is opgeteken in “Praat-praat in Tamatiestraat”, my humorboekie (Griffel, 2010). Sy eksotiese, avontuurlike na-doodse ambisie is naamlik dat sy asse uit ‘n valhelm in die Karoo (of is dit Bainskloof?) geskud word terwyl die Harley-Davidsons, BMW’s, Hondas, Kawasaki’s en wat nog volspoed bly voortdreun, en Nat King Cole sing: “There goes my everything”.
Op die saamgestelde foto is Jacko en sy trots in sy motorhuis in Atlantic Beach-gholflandgoed, Melkbos. Die Man en sy Motorfiets. Jammer ek het nie ook so ‘n foto van die “Oom” van Stop van Myne nie. Die gholflandgoed Greenways in die die Strand is ‘n bietjie ver vir my langlens.
Jacko meen vermelding in hierdie spasie is ietwat prematuur, want op die oomblik is hy nog hard aan die oefen om al die kontroles en dinge outomaties, uit refleks, te gebruik. Op die oomblik verg dit nog konsentrasie. Hy oefen op ‘n kleiner fiets op Atlantic Beach se strate met al die hobbels (vir gholfkarretjies) en sirkels. En sê nou hy maak dit nie?
Daardie bose gedagte verwerp hy egter self vinnig. Nee, hy wil en hy moet … al is hy uit sy rugbydae as heelagter vir Maties se eerste en tweede spanne in die 50’s al gebrandmerk as ‘n versigtige ou wat nie onnodig, soos die kommentators dit stel, sy lyf op die spel plaas nie.
Die gogga het Jacko gebyt ná die dood van sy geliefde Barbi twee maande gelede. Hy is na ‘n instrukteur en was, soos verwag kan word, die oudste in sy klas. Die vorige oudste, het die instrukteur hom meegedeel, was 72. “Op 75 is die meeste motorfietsryers se aftree-ouderdom,” het die instrukteur meewarig bygevoeg.
Saam met Jacko in die klas was ‘n bloedjong dametjie met ‘n parmantige wippie in haar stap en vol sêgoed, asook ‘n jeugdige abandonering van inhibisies. Toe hulle die eerste keer, ná ‘n paar kort instruksies, die opdrag kry “fietse toe” neem sy die gryse Jacko in haar vertroue: “Fok, Oom, nou gaan ons ons gatte sien!”
Die een en ander in Jacko se intieme familie- en vriendekring is nie so vreeslik ingenome met sy nuwe gier nie. Van hulle vrees daardie meisie se woorde kan dalk op die ou einde van die dag (ekskuus, Naas) profeties uitdraai. Tot dusver is al wat Jacko egter sien, visioene van romantiese reise en nuwe ontdekkings terwyl die wind om sy valhelm swiep. Laat waai, Meraai!
(HvD)
Mar 30, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Wol Steyn, TvD en HvD in die Arend in 2007.
More uit Melkbos
More trek die Volkie-matrieks van 1957 op Potjiesdorp saam – in die personeelkamer, verneem ek by een van die geesdriftige re-uniegangers, Wol Steyn. Glo omdat gereken word van die oues van dae sal nie meer die trappe kan bestyg na die lekker onthaalkamer, Die Arend, nie.
Wol is verontwaardig. Wouter (dis sy regte naam) klouter nog elke dag op en af van die bak van ‘n 10-ton-vragmotor, snork hy.
Wol, als goed en wel en ek’s bly om te hoor van jou volgehoue ratsheid, maar ek het darem al die vorige keer, in 2007 (50 jaar na matriek), gesien hoe party van ons ou tydgenote bra mankerig swoeg en beur om die Arend te bereik.
Tokkie het toe al opgemerk die volgende re-unie is “take-aways” ons voorland!
Nie meer die Trap der Jeugd vir ons klomp nie – nou die Trap der Ouderdom.
Die harde waarheid is: party van onse kalwers kan nog net die trappe van vergelyking bestyg: sukkelend, sukkelender, sukkelendste! (HvD)
Mar 29, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die Amerikaanse herfs van 1976.
Hierdie blare kom van Lake Winnipesauke in New Hampshire, waar ons een naweek die skouspelagtige New Englandse “Fall” gaan indrink het.
Lake Winnipesaukee is New Hampshire se grootste meer en een van die grootste natuurlike mere in die VSA wat geheelenal binne die grense van een staat val.
Ons praat van ‘n kuslyn van 183 myl (nie kilometer nie) en ‘n oppervlak van 72 vk. myl, mense. Dis baie water – omsoom met bome wat goudgeel, bruin, rooi en oranje verkleur. Nogal ‘n gesig.
Ons het die nag in die Hack-Ma-Taxk-kampterrein oornag. Dit is op U.S. Route 3 by Weir’s Beach. Die staanplek vir ons Corona Merk II-stasiewa (ons het agterin geslaap, opgekrul soos sardientjies) het ons $4,50 gekos.
Die blare is deur ons kinders, Johan (5) en Marisa (3), in ‘n stewige kiesa-tjie onder die digte boomweelde langs U.S. Route 3 opgetel. Ek bewaar dit sedertdien in ‘n album met hope ander foto’s van die “Fall”.
Dink net, hierdie blare is al 36 jaar oud en nog so mooi behoue agter die sellofaan.
Jammer dat ek julle met Amerika beteister, maar die vorige blog oor herfs en so het die ou man skoon nostalgies gemaak.