Mar 28, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Karnallie tussen die kornoelies. Lente in Shenandoah.

Herfs in New England
More uit Melkbos
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan….
‘n Skilderagtige jaargety is herfs inderdaad, en skilderagtiger kan niemand die natuur hierdie tyd van die jaar in woorde omsit nie as N.P. van Wyk Louw.
Ekself kan maar net die meester se wonderlike waarnemings woordeloos beaam: die goue akkerblare, die wingerd wat verbruin, die witter lug, die klare son, kaal bleek takke van die lang populiere – ons sien die eerste tekens om ons heen. Herfs is op ons.
In Amerika raak dit natuurlik nie nou herfs nie. Oral in die noordelike halfrond bars die lente vrolik uit. In Amerika blom die legendariese dogwood (regtig kornoelie, soos die woordeboek beduie?) van Florida af in die suide tot diep in New England.
Ons was bevoorreg om in die lente van 1995 per motor van New Orleans via Florida Boston toe te ry. Die manjifieke dogwood was oral, veral in Noord-Carolina en Virginia, waar dit die nasionale blom is, Atlanta waar hulle ‘n reuse-dogwoodfees hou, en in die wonderskone nasionale Shenandoah-park. Die sogenaamde Skyline Drive deur die park Washington toe was ‘n prentjie.
Washington DC self is natuurlik kersiebloeisel-wêreld – daar is in die lente ‘n “cherry blossom festival”. Kan ook nie woorde kry om hierdie historiese stad in sy lentekleed te beskryf nie.
Eintlik is ek tog met hierdie skrywe op pad na die Amerikaanse herfs, wat in September kleurryk aanbreek. Veral in New England – waar die bome vroeg September in Maine en Vermont begin verkleur, dan in New Hampshire en Massachusetts en uiteindelik ook op die suidpunt van die komplilasie van state, in Rhode Island en Connecticut aan die einde van Oktober.
Wie nog nie die Amerikaanse “Fall” beleef het nie, mis iets skoupelagtig. Die gewone skakerings van groen, so volop in die oostelike state, raak ‘n dieprooi, helder geel, bruin en oranje. Van sekere punte is die hele landskap, so ver die oog kan sien, soos ‘n palet waarop die kleure deur ‘n reusehand deurmekaar geskommel is. Aangrypend mooi.
In ons Amerikaanse jaar, 1976/77, het ons die herfs ingedrink in naweek-uitstappie op naweek-uitstappie met my Toyota Corona-stasiewa, met sy matrassies agterin waarop die Van Deventers hulle in ‘n verskeidenheid “trailer camps” kon uitstrek. In albums van daardie tyd is verdroogde blare, blare, blare en hope foto’s van die kinders, Johan (toe 5) en Marisa (3), wat onder reusebome in ‘n uitgestrekte, ritselende bont mat sit en blare opskep.
Wonder of N.P. van Wyk Louw ooit gesien hoe die jaar in daardie geografiese regterskouer van daardie groot land “ryp word”. Slegs ‘n woordkunstenaar soos hy sou die woorde kon vind om dit te beskryf soos ek dit graag aan lesers van hierdie blog sou wou skets. Die foto hierby is mooi. Die werklikheid is mooier.
(HvD)
Mar 25, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Ons matrieks van 1957 – wel, diegene wat oor is en diegene wat kan – trek Saterdag op Potchefstroom saam vir ons goue jubileum plus vyf. Dis nou 55 jaar sedert ons, soos Volkies se skoollied lui, “die wêreld in” ge-”swerf” het.
Ek is ‘n getroue reünieganger. Tokkie beweer ek sal die reünie van my voorskoolse speelgroepie nie mis nie. Hierdie keer is ek egter afwesig. Melkbos is eenvoudig te ver van Potchefstroom. Reiskoste is te duur. Ander redes bestaan ook, maar hulle was seker makliker oorbrugbaar.
Hoeveel van die 57-klas gaan opdaag, is ‘n ope vraag. Die wiel bly draai. Die Byl bly kap in ons bos. Minstens twee van die stralende gesigte op die omslag van ons jubileumblad in 2007 is nie meer daar nie – albei in die laaste vyf jaar in motorongelukke heen, eienaardig genoeg. Ek skat ‘n kwart van ons klas van 81 – of meer – is al langboompies toe.
Van ons maats sukkel met hul gesondheid. Party verwerk slegte nuus wat onlangs oor hul pad gekom het.
Nie amal het ewe veel materiële voorspoed beleef nie.
Nietemin, in die gees sal ek wel Saterdag met die res saamlag, saamgesels en saam sentimentele herinneringe opdiep. Ek gaan die ginnegapery van die 70-plussers mis: “Onthou jy nog dit? Onthou jy nog dat?” Natuurlik gaan ek my stilletjies verknies terwyl ek, wyntjie in die hand, ver daarvandaan oor die Atlantiese Oseaan staar.
Ná 55 jaar bestaan, wat Volkies betref, immers steeds een groot waarheid in my lewe, soos die skoollied ook verkondig: “‘n Brokkie van my hart bly hier.” ‘n Brokkie van my hart is in die 50’s tussen die rotskoppies van die Hoëveld verloor. Vir so lank ek leef sal dit daar vasgemessel wees. Tussen die rooibakstene van die waardige ou hoofgebou. Dit is goed so.
Deesdae neig ek om na die Volkie-era nie net as ‘n snoer van los gebeure en en allerlei staaltjies te dink nie. My benadering het vanself meer filosofies geraak. Ek wil aan die vyftigs ‘n oorkoepelende tema probeer haak. Dalk was dit die laaste jare van die Groot Onskuld? As jy lees en hoor van moderne kinders se flirtasies met seks, dwelms en drank skud jy jou kop.
Ons was regte ouderwetse bloedjies – bra oppervlakkige vryers wat handjies gehou, briefies uitgeruil en periodiek ‘n soentjie gegaps het (of verraai ek met die belydenis net my eie naïwiteit?) Eers in die volgende vyfjaarsiklus het skoolmeisies, na my ervaring, “in die moeilikheid” begin raak. En het ek toe ook eers begin agterkom dat nie alle seksuele oriëntasies so eenvoudig soos my eie is nie.
Ons matrieks het heerlik vir “stout” kwinkslae gegiggel soos dat die meisies nie harder kan sing nie “omdat hul borsies te klein is” (nie heeltemal waar nie te oordeel aan bepaalde lywe in die klas!) of dat een van die seuns “’n opgestopte voël” het (hy had wel die een of ander ornitologiese eksemplaar in sy kamer). In vrymoediger taal sou ons egter nie waag om met die ander geslag te kommunikeer nie.
Klink dit vervelig? Mense, ons het tog wel ook ‘n Tyd van Ontdekking beleef. Ons het die ekstase van eerste liefdes leer ken. Die “Young love” waarvan Tab Hunter so mooi gesing het: “Young love, first love, it’s filled with true emotion….” Daardie liedjie was, interessant genoeg, ook, soos ons, ‘n 1957-model.
Ons het die opwinding van mededinging op die sportveld ervaar; die bruising van adrenalien in ons are, die soet smaak van wen en presteer, die stimulering van selfgelding (al was dit soms in plein dwarsheid) …
Ons het ook die waarde van vriendskap en hegte verhoudings leer ken – soos in die offerdaad van ‘n betraande ou wat ‘n meisie plegtig vir sy kamermaat teruggee omdat “sy vir jou liewer is”.
Lewenswaardes is by ons vasgemessel wat nou nog bakens is. Skitterende onderwysers, stabiele ouerhuise, ‘n lewende naelstring met die Kerk, ingedrilde dissipline, selfs die lat op sy tyd, het ons help vorm.
Hoe bevoorreg was ons nie! Tussen al die lag, die kwinkslae, die uitruil van staaltjies, die verlange na afwesige maats, behoort dalk by so ‘n reünie ook ‘n sessie ingeruim te word om net in stilte opreg dankbaar te wees – of is die ou gryse nou sommer verspot?
Mar 24, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Nie sonder bymotief nie, glo ek, word in Die Burger meermale in die daaglikse terugblik op dag en datum 50 jaar gelede ‘n brokkie uit die sogenaamde “Persoonlik”-kolom uitgelig.
Dit word ongetwyfeld met ‘n meewarige glimlag gedoen. Dit lyk inderdaad ietwat verspot om in hierdie “global village” waarin ons in die moderne tyd woon, te moet lees van dese en gene wat met vakansie is of sakebesoek iewers aflê of dalk onwel is.
Om met die Oranjesnel in die Kaap aan te kom, was vir verskeie pilare van die gemeenskap al klaar ‘n vrypas tot ‘n stukkie in “Persoonlik”. Die Bloutrein het die deure wyd oopgegooi: sommer iedereen wat op daardie deftige manier gereis het, het vir gepaardgaande publisiteit gekwalifiseer.
Gister in die terugblik op Die Burger van 23 Maart 1962 is die “Persoonlik” aangehaal van “mnr. En mev. Dawie van Wyk van Goodwood en hul dogter Elsabe en hul kleinseun Kobus wat met die Windsor Castle na Durban” is. Nou toe nou!
Die rapport oor die gesinnetjie se ekspedisie herinner my dat ons in ons eie tyd darem ook by geleentheid vir ‘n “Persoonlik” (verleë?) geglimlag het. Nie omdat ons sulke indringende verslaggewing op voetsoolvlak geminag het nie, maar oor die “ligte mistykies” wat maklik kon insluip.
Ek het die storie al vertel, maar vandag weer ter sake is die korrespondent van Die Volksblad wat ná ‘n vermaning om duur telekskoste te bespaar, besluit het om, uit ekonomiese oorwegings, twee brokkies saam te voeg.
Hy berig toe: Mnr. Kosie Venter van die plaas Braklaagte en mev. Annatjie Louw van die plaas Mooifontein is al geruime tyd in die bed. Hul toestand is nie na wens nie.”
‘n Korrespondent berig oor bekendes in die distrik wat in die huwelik bevestig is, en van die bruidjie wat van tabberd verwissel het vir die wittebroodsreis. “Albei is in die omgewing goed bekend.”
Nog ‘n huweliksaankondiging: “ Jannie Koekemoer en Sannie Poggenpoel is Saterdag getroud. Dit beëindig ‘n lang vriendskap wat op skool begin het.”
Die Burger het in ‘n “Persoonlik” berig oor die eggenote van ‘wyle’ mnr. Marais Viljoen, oud-president, se ongesteldheid. Hy bel toe en kla: “Lyk my julle wil my dood hê.”
Die Burger maak sy fout reg, plus ‘n verskoning: “Mnr. Viljoen is nie dood nie. Ons is jammer.”
“Persoonlik” kon wel nuus oplewer – sommer groot nuus. In die dae toe die legendariese Skakel Kriek vir “Persoonlik” in Die Burger, Ronnie King, bontstaan, met die oproep van ‘n beswaarde omdat die koerant dan, strydig met sy onderneming, die naam van ‘n skenker in ‘n hartoorplanting gepubliseer het.
King het ten enemale ontken dat sy koerant woord gebreek het.
“Man, moenie vir my bog vertel nie. Hier staan dit op bladsy 21.” Ronnie blaai na pagina 21. Op daardie blad pryk Oom Skakel se “Persoonlik”. Derde van bo: Mnr. So-en-so het in die Groot Schuur-hospitaal ‘n nuwe hart gekry. Die skenker was mej. ……..” en hy noem die meisiekind se naam wat die familie graag geheim wou hou.
Verduidelik so ‘n ingewikkelde saak nou aan iemand wat nie ‘n koerant se binnewerkinge ken nie!
Mar 23, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Dr. Francois Hanekom laat sy Melkbosse gemeente soms nogal regop sit met sy onortodokse formulering van preektemas. ‘n Week gelede het ons nog regopper as gewoonlik gesit toe ons die tema verneem: “Geniet jy ‘n ‘strip-tease’?”
Natuurlik laat so ‘n buitengewone tema lidmate wonder: wat voer onse leraar dié keer in die skild?
Aan die orde was die storie van Noag, die wynboer, wat te diep in die bottel gekyk het. In Genesis lees ons hoe hy kaal in sy tent sy roes gaan afslaap het, en van sy seuns Sem, Gam en Jafet, se verskillende reaksies op hul pa se verleentheid. Gaan lees gerus maar in Genesis 9: 20 -29 hoe Gam se onverskilligheid hom duur te staan gekom het. ‘n Klassieke voorbeeld van my Ouma Visser se geliefkoosde vermaning: “Van lag kom huil!”
In ieder geval, dr. Francois had nog ‘n “verrassinkie” vir sy gemeente. Terwyl almal nog ongemaklik rondskuif oor wat die “strip-tease“-preek kan oplewer, toor hy ‘n rooi bra en ‘n wit mansonderbroek onder die kansel uit. Njannies. Jy kon as’t ware hoor hoe na asems gesnak word.
Maar dit was sommer net oëverblindery. Klaar geterg, neem die preek ‘n geheel ander wending. Die gemeente luister aandagtig na ‘n oproep om nie mense verbaal kaal te stroop deur hul oomblikke van swakhede vir openbare sensasie te ontbloot nie. Hy haak aan by 1 Korintiers 13 oor die liefde wat alles bedek, en moedig ons aan om in liefde ook so ‘n bedekkende “dak” op te sit oor ander se skades en skandes.
Als in als ‘n mooi, positiewe en verrykende preek.
Oor die amperse misverstand wat die aankondiging van die preektema in die Nuusbrief en elders gewek het, het ek ‘n speelse versie geskryf wat ek, tot sy plesier, vir Francois gestuur het:
Doomnie stel vir ons ‘n wip,
Vra vir ons: Hou jy van ‘strip’?
Ek dink: O wee, hoe sê mens nee?
Toe lei hy ons op ander weë.
Lyk of ‘n nuwe versieskryf-seisoen by HvD aangebreek het. Gisteraand net voordat ek die ligte afsit, kry ek ‘n nuwe “inspirasie” – oor die Noag-stukkie self. Hier’s my Noag-versie vir wat dit werd is:
Gam dag nog hy kan maar lag;
Toe ontwaak No-ag met nuwe krag.
Verdoem, in ‘n felle donderslag,
Meteens Gam’s ganse nageslag.
Hoop ek tas met die kortpad wat dié versie vat, nie eksegeties te ver mis nie!
Mar 21, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Johan van Wyk, Johan Uys en Hennie van Deventer hang uit by die rooster.
More uit Melkbos
In n dekade van hard werk en hard speel in Bloemfontein – die dekade 80 – was Johan Uys, Vrystaatse streekbestuurder van die SA Vervoerdienste – een van die groot geeste. Waar vrolikheid was, was Johan nooit ver te soek nie.
‘n Manier van trakteer met die Uys-stempel was om ‘n groepie gaste per selfaangedrewe trolliewa na ‘n stasie iewers te bring. Dan kom die piekniekmandjies uit vir ‘n eersteklas-kuier. Die stasie Olifantskop, tussen Bloemfontein en Kimberley, was veral ‘n besonderse kuierplek. Sy mooi tuin was ‘n gereelde pryswenner. Dit is (was) seker ook die enigste stasie met ‘n “trein” wat deur die stasiemuur bars – darem nie ‘n regte, egte trein nie, maar die replika van ‘n outydse stoomlokomotief.
Ek onthou haltetjies met romantiese name soos Vispan en Bosvark waar ons klikke-klak met Johan se trollie verby is. Seker ook al toegegroei onder die gras.
In die 80’s het die sogenaamde Skoutrein ontstaan. Die gaste is in ‘n skommelende eetwa van die Sentrale skouterrein na Brandfort en terug: ‘n reis met lekker geselskap, ‘n gawe spyskaart en uitstekende wyn. Johan was een van die vaders van die idee.
Ek en hy was spanmaats in die krieket-uitnodingspan “Colin se Kallers”. Ons het jaarliks teen “Bill se Bulle” kragte meet. Colin was Colin Hickling, Bloemfontein se burgemeester; Bill was Bill Odendaal, Welkom se eerste burger. Die “Bulle” het die “Kallers” in ons eerste wedstryd in 1986 met 40 lopies afgeransel. Van Deventer en Uys was teen die einde van ons sukkelbeurt in ‘n hardnekkige maar vrugtelose vasskop-vennootskap betrokke.
Ons was dieselfde jaar ook spanmaats in die Hennie van Deventer-braaispan teen ‘n span van Ewald Fichardt en Flip Barnard, boer van Dewetsdorp. In my span was, buiten Johan Uys, ook Johan van Wyk, die nimlike Oom van Stop van Myne, en Piet Theron, ‘n kollega en braaier van faam.
In ‘n epiese stryd by die rooster op ‘n perfekte aand in laat April in die pragtuin van Job en Alida Pretorius in Besselsenstraat, Universitas, het vleis van die beste gehalte op die kole van doringhoutstompies gesis: biefstuk, tjops, wors en lewer in netvet. Die HvD-span het alles ingewerp om sy neus voor te kry , o.m. met bykosse soos ‘n unieke groentepotjie van die Oom en les bes ‘n geurige paptert van Petro Theron, wat, volgens Van Wyk, “Maximes van Parys se hong-pelong na ‘n mietpaai sou laat smaak”.
Uiteindelik het die beoordelaars onder aanvoering van prof. Hennie Heyns, vleisekspert van die Vrystaatse Universiteit, net-net ten gunste van ons teenstanders beslis. Ons was gekrenk, maar het nie omgegee om ‘n paar stewige vonkelwyntjies in blink glase saam met ons oorwinnaars te klink nie!
In my huis op Melkbos het ek twee soeweniers uit die Johan Uys-stal waarop ek nogal ‘n ogie sou hê indien ek my eie ‘n erfgenaam kon wees. Albei dra ‘n Spoorweg-etiket uit ‘n verbygegane era. Een is ‘n koper-lokomotieffluit, gemonteer op ‘n stuk soliede dwarslêer. Stoomtrein-entoesiaste se hande sal seker begin bewe as hulle dié versamelstuk sou sien. Die tweede is ‘n koffietafel. Die blad is van ryk kiaat wat uit dwarslêers herwin is. Dit rus op pote van rowwe, onafgewerkte hout. Die bonkige boute is van die sort waarmee treinspore vasgewoel is.
Johan Uys het lank, te lank, van my radarskerm verdwyn. Gister kry ek uit Bloemfontein die nuus dat hy oorlede is. Die gewer van daardie twee geskenke na aan my hart – amper vyf jaar jonger as ek – se hart en lewer was kapoet. Hy word vandag langs sy eerste vrou, die dierbare Lettie wat begin 90’s oorlede is, in die familiebegraafplaas op Elandskraal, distrik Mooinooi, begrawe.
Daarmee is nog ‘n skakel na ‘n goue verlede, helaas, daarmee heen.
Ek salueer my spanmaat met ‘n versie uit die Joan Baez-weergawe van “Freight train, freight train going so fast”:
“When I’m dead and in my grave
No more good times shall I pray,
Place a stone at my head and feet,
Tell the world that I’ve gone to sleep;
Place a stone at my head and feet,
Tell the world that I’ve gone to sleep.”
“Slaap” rustig, ou vriend.
Naskrif: Een van ons destydse maats, wat ons ongelukkig halfpad deur die dekade ontval het, was Carel Leonhartdt, fyn beskaafde streekbestuurder van die SAUK. Gister, kort ná die nuus van Johan Uys se dood, kom ‘n poskaart van Joan Leonhardt om te rapporteer: als wel aan daardie kant. Sulke periodieke skrywetjies skerp die herinneringe verder in oor die netwerk van vriendskap wat in die 80’s in die Vrystaatse hoofstad oor so ‘n breë spektrum ons almal se lewens verryk het. (HvD)
Mar 20, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkos
Deur hoeveel onderskrifte vir foto’s ek persoonlik in my koerantdae in wrewel ‘n woeste streep getrek het oor een en dieselfde, vervelige rede, weet ek nie eens naastenby nie.
Daardie lot het elkeen te beurt geval wat begin het met: ”Spieeltjie, spieeltjie aan die wand, wie’s die mooiste in die land? ”, of die een of ander variasie daarop. By ‘n foto van mooi meisies, mooi honde, mooi hoenderhane noem maar op, sovele joernaliste het gemeen ‘n oulike onderskrif sou een wees wat met daardie grys-van-die baard spieëltjie-uitdrukking begin.
Hoe oorspronklik en kreatief kan ‘n joernalis nie wees nie – of ‘n koerant/tydskrif? Party “spieeltjie, spieëltjie aan die wand” eenvoudig onstuitbaar voort of dit ‘n baie spesiale persoonlike slimmigheid is wat eksklusief deur hulle uitgedink is. Julle onderrok van lui joernalistiek hang uit, liewe mense!
‘n Ander bekende spieeltjie-uitdrukking (minder geraffineerd) is die vermaning dat jy – as jy nie versigtig is nie – jou gat sonder ‘n spieeltjie sal sien. Die meeste van ons het al seker daardie akrobatiese toertjie reggekry – dikwels sonder veel moeite!
Dit is geen aangename gesig nie.
‘n Oorspronklike variasie op laasgenoemde het ek Saterdag gehoor by die dubbele viering van Van Wyk en Letricia van Niekerk van Melkbos se 44ste troudag en haar 70ste verjaardag by ‘n noenmaal om oor huis toe te skryf (met genoeg KWV se sauvignon blanc vir hierdie dors gas na ‘n week se onthouding).
Chris Mostert van Mosselbaai het by die viering van die twee mylpale by die spog-wynplaas Nitida, die heildronk ingestel. Hy het jare her as student by die Van Niekerks begin werk daar in die Perdeberg-omgewing waar hulle as voorste boere en entrepreneurs vele bakens geplant het, en ken dié twee wellewende mense klaarblyklik soos sy hand.
Hy haal toe die mooi storie op wat Van Wyk vir hom vertel het. Dié het dit op sy beurt by sy pa gehoor. Oorspronklik kom dit glo van ‘n ou oom wat mnr. Van Niekerk senior geken het.
Waarop dit neerkom, is dat ‘n jong man na sy studies met ‘n klomp slim planne op die plaas opdaag om die boerdery van A tot Z te moderniseer. Dit moet uitgekap word, dit moet gebou word, hierdie nuwe implemente is onontbeerlik, ens.
Sy pa het aandagtig geluister. Sy eerste woorde was: “Maar wat sal alles kos, ou seun?”
Sy seun het sy sommetjies gedoen en antwoord dadelik: “So R100 000, pa. ” (Deesdae seker al ‘n paar miljoen!)
Die pa haal daarop ‘n eenrand-munt uit sy sak en gee dit vir sy geleerde seun.
“En dié nou, Pa?”
“ Vat dit, ry na die winkeltjie daar langs die grootpad en koop vir jou ‘n spieëltjie. Dis beter om jou gat vir ‘n rand te sien as vir R100 000!”
Die wysheid van die grysheid darem!
Letricia (wat al die jare die egpaar se minister van finansies was) fluister in my oor sy kan verstaan hoekom sy pa vir Van Wyk hierdie spieëltjiestorie vertel het. Hy was van jongs af baie innoverend en het altyd die waagmoed gehad om nuwe dinge aan te pak. Hy was bv. die eerste boer wat pere in die Perdeberg-area vir die uitvoermark geplant het, terwyl dit n tradisionele tafeldruiwe-gebied was.
Maar Van Wyk het kennelik nooit in so ‘n spieël hoef te kyk nie!
Die mooi toto is Van Wyk en Letricia op hul troudag en haar 26ste verjaardag op 16 Maart 1968. Toe was hulle nog jonk en mooi; nou’s hulle net mooi. Maar jinne, Hennie, nou raak jy self darem bitter voorspelbaar en onoorspronklik!
(HvD)