Oct 6, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Na aanleiding van vanoggend se artikel in “By” oor die moontlike Amerikaanse wortels van die Afrikaanse heldeverhaal van die Voortrekkermeisie Racheltjie de Beer herhaal ek hier my blog van 2 Augustus 2010 oor ‘n vorige “Made in the USA”-ontnugtering. Laat ons dan nie vergeet dat “Sarie Marais” ook ‘n Amerikaanse rokkie dra nie!
PERD VAN ‘N ANDER KLEUR
“Jippie-jippie jip, ou pêhert!” Ek dag altyd Chris Blignaut se immergroen liedjie “Ou Ryperd” (deur Dozi nuwe lewe ingeblaas) is só Afrikaans soos koesisters. Een van die musikale ontnugterings van my amper 70 (nou amper 72) jaar op aarde was toe ek verneem dit dra eintlik die stempel “Made in the U.S.A.”
“Ou Ryperd” is inderdaad ? vrye vertaling/interpretasie van die VSA se “Old Faithful we roam the range together”. Ja, ‘n perd nie net van ‘n ander kleur nie, maar ook van ‘n ander taal, land en kultuur. Gaan luister maar – Amerika se “Old Faithful” en ons Boere se “”Ou Ryperd” is vinkel en koljander.
Wat opval uit die lirieke is dat die perd in die Amerikaanse weergawe ‘n naam het en die nooi nie. In Afrikaans is dit andersom. Is die Amerikaners liewer vir hul perde en ons vir ons meisies?
Só sing Chris Blignaut en Dozi:
Ou Ryperd, ons ry die pad tesame
Ou Ryperd, so deur die lewensbane
Wanneer jou rydag oor is,
Gaan jou ou lyf lekker rus
Jy, ou Ryperd van my.
Jaag maar aan ou maat
Die maan skyn helder (heller!) vanaand
Jaag maar aan ou maat
My nooientjie sy wag vir my vanaand
O hoor hoe tjank die jakkals op die rivier se brug
En dra my op jou lekker ou rug
Jaag maar aan ou maat,
want my nooientjie sy wag daar vanaand.
KOOR:
Jippie Jippie Jip (x2)
My ou perd
Daar is voer en rus
En jy doen jou bes my ou perd
Dra my oor die rivier se brug
Dra my op jou lekke ou rug
Na my nooi Sannie
Die dogter van Tant Annie op die plaas.
En hier is die lirieke van “Old Faithful”:
Old Faithful, we roam the range together
Old Faithful in any kind of weather,
When the round up days are over,
And the boulevard’s white with clover,
For you old faithful pal of mine.
Giddy up old fella cos the moon is yellow tonight,
Giddy up old fella cos the moon is mellow & bright,
There’s a coyote crying at the moon above,
Carry me back to the one I love,
And you, old Faithful pal of mine.
Nog iets wat ek nie geweet het nie (ek lees dit op die internet) is dat die Tukkies in ‘n stadium (wanneer?) daarvan ‘n patriotiese intervarsity-lied gemaak het:
“Stad van die noorde, O ek verlang na jouhou/ Stad van die noorde, die jakarandas is weer blou-ou/ Al my lief en leed het ek daar aanskou/ op jou wil ek my toekoms bou? Voortrekkerstad, ou Pretoria/ Elke ou Tukkie verlang na jou/ Ons Alma Mater sal ons nooit vergeet nie/ Ou Pretoria …”
Is ek dan die enigste vreemdeling in Jerusalem wat hierdie goeters nie geweet het nie?
(hvd)
Oct 6, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Met drie seuntjies om 06:30 saam in die kooi het nie eens die boeiende Racheltjie de Beer-storie uit die bekwame penne van gewaardeerde oud-kollegas Ollie en Leo vanoggend in die VanD-huis op Melkbos die aftrek gekry wat dit verdien nie. Maar ek het iets op die hart daaroor. Hou gerus hierdie ruimte dop…
Ek het ook nog iets op die hart oor oumense wie se koppe verreweg nog nie raas nie (Vorige blog: My liewe jong vriend …). Sal ook daarby uitkom.
By die pas ontwaakte Oupa met die verwaaide hare is van links Jacob, Thomas en Christopher Claassens van Welgemoed. Jacob en Thomas is 8. Vra jy Christopher hoe oud hy is, steek hy drie vingertjies in die lug. Slim kind – aardjie na sy Ouvaartjie. (hvd)
Oct 5, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die wysheid van die grysheid word bekroon met die verowering van ‘n reuse-geldprys deur Desmond Tutu vir sy lewenslange, konstante en vreeslose verkondiging van die waarheid. Hy is 81 jaar oud. My behae is groot, want ek stik steeds oor die private opmerking van ‘n prominente jonger leier wat die opinies van ‘n sekere groep afskiet omdat hulle “almal 65, 70 jaar oud is”.
Bid jou dit aan. Sonder dat ek ‘n studie gedoen het, kan ek ‘n lang lys name neerpen van mense van ver ouer as 65,70 wat juis met hul skerpe intellek die toon aangegee het of dit nog doen. Onder hulle tel presidente, premiers, Nobelpryswenners, regters, skrywers, uitvinders, wetenskaplikes …. noem maar op.
Een van my rolmodel-bejaardes is Benjamin Franklin wat sommer skrywer, uitvinder, diplomaat, politieke leier en wetenskaplike in een was. Op 78 het hy die bi-fokale bril gelewer. Op 81 was hy ‘n grondlegger van die grondwet van ‘n onafhanklike Amerika. En toe hy sy oë uitvee, is hy as president verkies. In sy laaste jare – hy is op 84 oorlede – het hy ‘n leunstoel ontwerp met ‘n ingeboude trapleer om sy boeke op die boonste rakke by te kom. Lees, het hy bly lees; enduit het hy kennis gesoek en geskep.
Golda Meir het op 70 die premierskap in Israel oorgeneem; ons eie dr. D.F. Malan het op 74 premier geword en dit gebly tot op 79. Ronald Reagan was 78. Nelson Mandela het op 71 afgetree. Koning Lodwyk 14 van Frankryk, die Sonkoning, was tot aan die einde van sy lewe, op 77, die regerende vors. Dit was in die jare 1700 – minder brille en pille was beskikbaar as vandag!
In Amerika het regter Wesley Ernst Brown tot op 104 sake verhoor – al was hy aan suurstof gekoppel. My Sabieparkvriend Gustav Hoexter (nou 88) was op 73 voorsitter van die Hoexterkommissie wat ingrypende regshervormings aanbeveel het. My matriek-klasmaat Ferdinand Preller is ‘n fikse en dinamiese 72-jarige regter in Pretoria. Hy word as ‘n “jong regter” geag en hou graag skivakansies.
Audrey Blignault het met haar skryfwerk tot diep in die 80’s die lewe vierkant bly aandurf. Leon Rousseau woeker op 81. Ds. A.F. Louw het ‘n boek geskryf: “My eerste 90 jaar”! Myra Scheepers het pas op 80 gedebuteer met “Om die Ngunivure”. My vriend Sarel Venter se swaer Lategan Bredenkamp het op ouer as 80 drie boeke die lig laat sien en gloeiende resensies gekry.
Gryses laat te dikwels toe dat gespot word met hul “senior oomblikke”. Die sangeres Julie Andrews van “Sound of Music-faam” is op 70 minute lank oorverdowend toegejuig ná ‘n konsert in New York se se Music Radio Hall. Die reusegehoor was op hul voete. Was daardie oomblik van glorie nie eerder ‘n “senior oomblik” as ‘n ongemaklike of ‘n verleë oomblik nie? Ek vra maar net.
Ek wil nie vervelig raak nie … kom ons los die “name dropping” daar. My punt is hopelik gemaak. Nie verniet nie word van Bybelse dae by die ouer garde groter insig en ryper oordeel raakgesien en geëer. In lande soos Amerika en Japan word die aftree-ouderdomme opgeskuif om nie die versamelde kundigheid en vermoëns van ‘n kernkorps te vroeg verlore te laat gaan nie.
Dan kom neerbuigende jongeres en verklaar ons almal wat in die 40’s of vroeër gebore is tot gistermense wie se standpunte en insigte op grond van hul “gevorderde jare” verwerp moet word. My liewe jong vriend – jou koker moet dolleeg wees as jy met sulke ligsinnighede verstandige argumente wil afskiet.
Naskrif: Joernaliste brand gouerig uit. Miskien lewe ons te voluit in ‘n te vinnige baan. Een uitsondering is my eerste nuusredakteur by “Die Volksblad”, Gert Terblanche. Die oud-koerantman, -politikus en – diplomaat was gister 90. Hy laat hom steeds geld in briewe aan die pers, diens aan die kerk en op ander terreine. Hy klink, praat en doen soos iemand wat dekades jonger is. Geluk, Oom Gert, uit Melkbos – laat ons gerus vir jong Slimjanne ‘n kollektiewe tong uitsteek!
(hvd)
Oct 4, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die HAT maak voorsiening vir die begrip “vername bousels”. Vir my beteken ‘n bousel egter iets wat sommer saamgeflans is. Die meeste bousels is brousels. Hulle kan nie vernaam wees nie al wil hulle.
Die Kaap wil oorlog verklaar, sien ek, teen allerlei agterplaas-argitekte wat eenvoudig eers aanbou, boulyne en ander vereistes of te not, en dan munisipale goedkeuring kom soek.
My oorlog is teen die estetiese – eerder die tragiese afwesigheid daarvan -in die meeste “huisverbeterings” wat ek in my omswerwinge opmerk. Hoef ook nie ver te soek nie. Selfs my geliefde Melkbos is nogal ‘n vesting van ongelukkige aanbousels (aan-brousels).
Sierstene wat hemelsbreed verskil in kleur en tekstuur, dakteëls wat ten hemele teen mekaar skree, aangelapte puisies (soms karbonkels) op die vreemdste plekke, toesmeerdery met slordige pleisterwerk, vensters en deure op die verkeerdste plekke – vir ‘n navorsingsprojek oor wat om nie te doen as jy aanbou nie, beveel ek ‘n toertjie in enige middelklas-woonbuurt aan.
Mense met genoeg geld om hul huise groter te maak maar te min smaak om dit stylvol te doen, skep lustig hul monstruositeite; wanstaligtige en gedrogtelike strukture wat geen eenheid met die bestaande vorm nie; dit hoegenaamd nie komplementeer nie en eintlik vir niemand anders as die “trotse” eienaars plesier kan verskaf nie.
As ek ‘n argitek was, sou ek mense graag wou dagvaar vir pyn en lyding as hulle ‘n sorgsame ontwerp op my tekenbord so verfomfaai. Dalk eerder vir naamskending. “Wie het hierdie lelike gedoente ontwerp?” “Ek dink die argitek se naam is Hennie van Deventer!” Berge bedek die arme drommel!
Ouens met geld soek gereeld iets om te borg. Selfs morsighede soos kompetisies vir oorvretery – tien, twintig hamburgers in ‘n halfuur! – kry ‘n gewillige pa-staner wat die beursie daarvoor sal skud. Hier’s ‘n kans vir ‘n kreatiewe borg om sy merk te maak: stuur ‘n kompetisie van stapel om die afskuwelikste “huisverbetering” te bekroon.
Net een praktiese probleempie: die kandidate sal so talryk wees dat die arme beoordelaars nie gaan weet waar om te begin nie – soos muskiete in ‘n nudistekamp.
Naskrif: Voorgestelde pryse: vir die naaswenner ‘n week vakansie in ‘n plakkerskamp; vir die gelukkige wenner drie weke vakansie op dieselfde plek. (hvd)
Sep 30, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
My eerste kierie is een wat my seun Johan vir my laat maak het uit die geldjies wat hy as koerantseuntjie in Bloemfontein verdien het: ‘n swarthout-kêrel wat nou so dertig jaar oud is en heelwat littekens op sy kersftok het. Johan het hom spesiaal by ‘n meubelmaker laat draai. Hy lê nog na aan my hart.
Trouens, op Melkbos is hy my nommer een-kierie, hoewel ek wandelinge op die strand deesdae liewer aandurf met ‘n moderne, verstelbare wandelstok uit aluminium – ‘n sogenaamde Scout First Ascent. ‘n Rooie nogal. Sy slim ontwerp met ‘n ronde skermpie onder naby die punt sorg dat hy nie in sagte sand wegsak en sy afhanklike op daardie manier tot fisieke struikeling bring nie.
Dis die regte “kierie” – net wat die dokter ge-order het as ‘t ware – vir ‘n ou wat van ‘n vroeë lid van die kieriekommando intusen tot ‘n hinkepinker agteruitgegaan het: heupe verslyt maar oweral rondom my ook bra vinnig.
Op Sabiepark is my gunsteling-kierie ‘n meesterstuk uit Transvaalse kiaat met ‘n spoggerige blink vlakvarktand as handvatsel. Die dag toe my kollega Jan Scholtz met sy onblusbare liefde vir hout en sy uitsonderlike skrynwerkers-vakmanskap die erfstuk te voorskyn bring, kon ek net oorstelp dankie prewel en Tokkie roep om die kamera te bring.
Die oorhandigingsfoto is hierbo. Die plegtigheid is daardie aand afgerond met die tradisionele vuurtjie, tjoppies en wors en ruim aanwending van Kaapse kultuur in blanc de blanc-vorm. Jan is ‘n groot Namakwaman; ek hou van my Perdeberg, Boland of Bonnies (KWV se Bonne Esperance wat jy waaragtig ook deesdae in ‘n netjiese drieliter-boks kan koop). Saam kan ons ‘n bottel of twee seermaak.
Daardie kierie word agter slot en grendel bewaar as ek en Tokkie nie in residensie is nie. Een keer het ek dit so goed weggesteek dat ek ses maande later dag die vlakvarktand het dalk ook moeti-moontlikhede soos renosterhoring en is om daardie rede uit Wildevy 154 verduister.
Ek het al hier vertel hoe enorm my dankbaarheid was toe ek hom in die klerekas se donker hoekie agter baadjies en goeters versteek kry. Tokkie wou toe by my weet: “Sal jy ook so bly wees as ek sou wegraak en jy my weer vind?” Het haar ‘n antwoord skuldig gebly!
Ek het in Sabiepark ‘n hele verskeidenheid kieries, onder meer ook ene wat my studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai by die kraampies op pad na die Krugerhek van die Wildtuin vir my gekoop het – ‘n ruwer knaap, maar met ‘n Bosveldkarakter soos min.
Party ouens met kierieversamelings wat die Guiness Book of Records kan haal, sal nou nie juis oor die omvang van die HvD-kierieversameling kortasem raak nie, maar nietemin. Ek wou maar net die punt maak dat ek al van my jare mid-veertig ‘n kierieliefde in my binneste vertroetel, en dat ek in enige geselskap – selfs die geselskap van trippelende jong meisiekinders – onbeskaamd en onverleë met ‘n kierie sal “aanstap Rooies”.
In daardie opsig verskil mense ook maar geweldig, soos in ander opsigte. Ek het ‘n neef – ‘n goeie vier jaar ouer as ek en by wie hartversaking lastige afmetings begin aanneem – wat botweg weier om met ‘n kierie te loop. Sukkel eenvoudig hyg-hyg en staan-staan voort, maar hy is “nog nie so oud nie”.
My aarde, Ben. As jy maar kon weet hoe gerieflik ‘n kierie is. Ek meen jy met jou lang lenige lyf en wit hare kan nogal elegant lyk met ‘n kierie soos Oupa Visser s’n!
(hvd)
Sep 28, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die keuse van musiek by ‘n geleentheid kan nogal insiggewend wees van die geaardheid, voorkeure en gesindhede van mense.
By ‘n bruilof kan die dansbaan geopen word met ‘n Strauss-wals of “A Little Bit of Monica”. By ‘n begrafnis kan Frank Sinatra se “My Way” opklink of die somber gemeente prewelend sing: “O Heer, my God, as ek in eerbied wonder …”
By die bobbejaanmoles op die foto hierbo het die slagoffer sy kitaar uitgepluk en losgetrek met “Bobbejaan maak amok …” So lees ek in “Radio Tygerberg” se oulike tydskrif “Indruk”.
Ek is nie verras nie. Die slagoffer was Sedrick Taljaard, ‘n oud-Persman wat hom nou by “Radio Tygerberg” bevind, en wat aan my bekend is as ‘n gemoedelike, joviale, lewensblye mens. Hy hou van sy kitaar en sing graag. By ‘n kerkkonsert het hy ‘n keer ‘n gesimuleerde rendisie gelewer van Nicolis Louw se “Ek soek my baby vanaand” (as ek die titel reg onthou). Die konsertgangers het vreugdevolle applous uitgebars.
Ten tweede lyk daardie kombuis op Bettiesbaai bra chaoties, maar sien ek geen strukturele skade nie. So liggies kom Sabiepark-eienaars nie sommer af nie. “Ons” bobbejane is ‘n nare lot. Hulle breek gewelddadig by huise in en plunder op n groot skaal. Met my vorige vakansie (in Julie/Augustus) is minstens drie huise so verwoes dat bouers, skrynwerkers en verwers ingeroep moes word vir die herstelwerk.
Skuifdeure is uit hul spore geruk en kaste uit die mure. Mure is besmeer met onwelriekende “visitekaartjies” waarteen gewone seep en water nie opgewasse is nie. Boonop is breekgoed versplinter en meubels met hul lelike geel slagtande geskeur en andersins beskadig.
In “Die Burger” lees ek agt kese is in die laaste drie maande ingevolge twee “protokolle” van die gras af gemaak: een vir bobbejane wat “gewoond geraak het aan mense en herhaaldelik huise stroop”. Ons soek daai “protokol” in Sabiepark met ‘n seer hart!.
Intussen sing ons Sabieparkers nie “Bobbejaan maak amok” nie. Ons sing saam met Jacob Zuma “Umshini wam” (bring my masjiengeweer)! Wam, wam – klaar met kees!
(hvd)